Die Psalm van die sewe donderslae

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-09-01
Teks: 
Psalm 29
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 29

 

As die Here wil, gaan ons binnekort weer die seisoen betree van onweer en weerlig en swaar dreigende wolke wat bo die landskap en bo die stad saampak.

Ons kyk almal afwagtend uit na daardie eerste somerreënbui.

Mense het allerlei teorieë wanneer dit die beste tyd is om te begin reën.

Die ou mense het altyd gesê, as die somerreëns voor 10 Oktober begin, dit was vroeër ‘n vakansiedag ter ere van president Kruger se geboortedag, dan voorspel dit nie ‘n goeie reënseisoen nie.

Maar as die somerreëns eers na 10 Oktober begin, word dit ‘n goeie seisoen met baie reën.

Hierdie uitsprake was seker gebaseer op jare se ervaring.

Vandag werk die weerburo’s met gesofistikeerde modelle, statistieke gebaseer op die data van al die veranderlikes wat in kragtige rekenaars ingevoer word, waarmee dan prognoses gemaak word.

Soms is die prognoses reg.

Ander kere nie.

Soms word ten tye van ‘n droogte voorspel dat dit nog jare gaan vat voor die damme weer sal volloop, en dan stroom die damme ‘n paar maande later oor.

Al met al, daar is min dinge so onvoorspelbaar as die weer.

Terwyl dit ‘n feit is dat ons aardse welvaart daarvan afhanklik is.

Hoe graag sou die mensheid nie meer grip wil kry op die weerpatrone nie.

 

Tema: Die Psalm van die sewe donderslae

  • Erken die stem van die HERE
  • Ontvang die vrede van die HERE

 

  • Erken die stem van die HERE

Hoe graag sou die mensheid nie meer grip wil kry op die weerpatrone nie.

Vroeër was dit ook al so.

Psalm 29 is daarvan ‘n voorbeeld.

In die Bybelse tyd in Israel het die hoeveelheid reën die ekonomie ook gemaak of gebreek.

Toe wou die mense ook so graag meer beheer oor die weer kry.

Ook in Israel was dit maar soos hier in ons land, dat die son te warm en die reën te skaars is.

Die heidene wat rondom God se volk in die beloofde land gewoon het, het allerlei maniere uitgedink om meer beheer oor die reën te kry.

Aan die einde van die dag was die grootste deel van hulle afgodsdiens daaraan gewy.

Hulle het geglo dat die afgod Baäl in beheer van die reën was.

As jy daarom ‘n vriend van Baäl kon bly, as jy hom selfs kon verwen, dan sou hy in ruil daarvoor sorg dat jou landerye genoeg reën kry.

Die donderslae was volgens hulle die stem van Baäl.

Die weerligte was die pyle wat hy afgeskiet het.

Ja onweer en weerlig was sy spesialiteit.

Die heidense boere in Kanaän het die wisseling van die seisoene toegeskryf aan hulle gode.

In Palestina is die reënseisoen tydens die wintermaande, van eind Oktober to April.

Die reën en die oes het hulle beskou as die vrug van Baäl en sy eggenoot Astarte se seksuele lewe.

Maar van Mei tot Oktober is dit egter die droë seisoen.

Alles het verdor in die somerhitte (Psalm 32:4).

Volgens die Kanaänitiese bygeloof het in hierdie seisoen Baäl se vyand, die god Môt, geregeer.

Die god Môt was die god van die dood.

Hy het in hierdie periode vir Baäl na die onderwêreld verbann.

In die najaar het Astarte dit egter weer reggekry om Môt te oorwin, en kon haar man Baäl weer uit die onderwêreld terugkeer.

Kort daarna het dit weer begin te reën, bewys dat Baäl weer opgestaan het.

Nou kon die gemeenskap tussen Baäl en Astarte weer begin, met die gevolg dat daar ‘n vrugbare saaityd aangebreek het.

 

Hierdie afgodsdiens het deur die eeue baie aantrekkingskrag op die Israeliete uitgeoefen.

Hierdie afgodsdiens kan verklaar word vanuit die mense se behoefte aan reën.

Geen reën het vir die mense geen lewe beteken.

Die verering van Baäl en Astarte was vir die Kanaänitiese boer onderdeel van sy landboumetode.

En hierdie verering het gedraai rondom die tema van vrugbaarheid.

Die heidene het geglo dat hulle die paar van Baäl en Astarte kon aanwakker, deur self ook vrugbaarheidsrituele uit te voer.

Ook Israeliete het hulle daaraan oorgegee.

Dikwels hoor mens die profete kla oor hoe die Israeliete op elke hoë heuwel (waar hulle vir hulle gevoel nader aan die gode was) en onder elke groen boom (symbool van lewe) ontug bedryf het (bv. Jer 2:20).

Almal het met almal seksuele gemeenskap gehad.

By die tempels van Baäl en Astarte was daar ook tempelprostitute, manlik en vroulik, wat hulle liggame vir rituele ontug beskikbaar gestel het (Deut 23:17; Es 16, 23; Hos 2:1; 1 Kon 15:12; 2 Kon 9:22).

By opgrawings in Palestina is daar baie afgodsbeeldjies van Astarte en Baäl opgegrawe.

Hierdie afgodsbeeldjies is, ironies genoeg, ook opgegrawe in Israelitiese huise.

Die tipiese beeldjie vir Astarte was ‘n kaal vrou met oordrewe geslagsdele.

En die tipiese beeldjie van Baäl was ‘n man wat ‘n weerligstraal in sy hand vasgehou het.

Dis nie net in ons tyd met al sy internetpornografie ‘n uitdaging nie, vroeër was dit presies dieselfde.

Vandag en vroeër het die stryd ewe intens gewoed onder God se volk, om hulle self rein van die afgode te bewaar.

 

Dawid neem in hierdie Psalm buitengewoon sterk standpunt in.

Dis nie Baäl se stem wat weerklink nie, maar die stem die HERE – Jahweh.

Tot sewe maal toe klink die refrein: Die stem van die HERE, die stem van die HERE, die stem van die HERE ...

Hierdie Psalm is ‘n lofpsalm vir die HERE.

Hierdie Psalm is terselfdertyd ‘n harde kritiek op die wêreldse gees onder God se volk.

Sewevoudig roep Dawid die kinders van die verbond op.

Soos donderslae wat dreunend afkom, die een na die ander.

Dawid roep spesifiek die hooggeplaastes op, vers 1 – hemelinge.

Hier staan letterlik: seuns van die hemel.

Sommiges vertaal dit met engele, soos ook ons Psalmberyming.

Maar ‘n beter vertaling is om dit met hooggeplaastes te vertaal.

Net soos in Psalm 82 moet ons dit verstaan as hooggeplaastes – konings, maghebbers en regters.

Hulle word deur Dawid primêr opgeroep om die HERE die eer te gee wat Hom toekom.

Om in al hulle planne wat hulle maak, te erken dat die reën, die onweer en weerlig, van die HERE af kom.

As dit bo hulle koppe te kere gaan, moet hulle neerbuig, kniel.

Hulle moet daarin die heilige verskyning van die HERE raaksien.

Die noodweer kom van Hom, dis Hy wat sy stem laat hoor.

 

Ja sewe keer laat Jahweh sy stem hoor in hierdie Psalm.

Hierdie Psalm staan ook wel bekend as die lied van die sewe donderslae.

Die eerste donderslag is in vers 3.

Dawid beskryf hoe stormweer vanuit die Middellandse See landinwaarts beweeg.

“Groot waters” in vers 3 verwys na die Middellandse See ten weste van Kanaän.

Hier in Pretoria weet ons nie hoe dit lyk as grou donderwolke oor die see nader kom nie.

Maar die wat al in die Kaap gewoon het, weet waarskynlik hoe dit lyk as ‘n front vanuit die Noordweste oor die Atlantiese Oseaan nader kom.

Van oor die groot waters kom die echo van die donderweer aangerol.

 

Die tweede en derde donderslag is in vers 4.

Dit beskryf die krag, selfs heerlikheid, van daardie geluid bo ons koppe.

Ek dink elkeen wat al op ‘n oop veld was as noodweer naderkom, weet hoe skrikwekkend maar ook indrukwekkend dit klink.

En onthou, die donderslag waaroor Dawid hier skryf is die stem van die HERE.

Dit is wat hier staan.

 

Dan kom die vierde donderslag, vers 5.

Die stem van die HERE breek die seders van die Libanon.

Soos wat die bui landinwaarts dryf, beweeg dit eers na die noorde.

Daar is die berg Libanon, bekend vir sy geweldige groot seders.

Bome wat tot 35 meter hoog word, met stamme so dik as 2 meter.

Die seders van die Libanon is in die Bybel ‘n beeld van die hoogmoedige trots van die mens (Jes 2:13).

Maar in ‘n splitsekonde breek die stem van die HERE hulle soos ‘n vuurhoutjie.

Soos ‘n kalf wat snaakse spronge maak, so lyk die seders as hulle uit die hoogte neerstort.

 

Daarna beweeg die donderbui ooswaarts, rigting die berg Sirjon.

Sirjon is ‘n ander naam vir die berg Hermon.

Hermon is soos die Jode dit genoem het.

Sirjon was hoe die Kanaäniete die berg genoem het.

Dawid gebruik hier bewus die heidense naam

Want vir die Kanaäniete was dit ‘n heilige berg, waarop hulle gode gewoon het.

Maar die stem van die HERE laat hierdie berg ook rare bokkespronge maak.

 

Met die vyfde donderslag, vers 7, vestig Dawid die aandag op die weerlig.

Saam met die stem van die HERE kom daar vuurvlamme.

 

Met die sesde donderslag, vers 8, trek die bui nou na die suide, rigting die woestyn Kades.

Die woestynlandskap bewe soos wat die onheilspellende wolke met ‘n vaart oordryf.

So beskryf Dawid hoe die stem van die HERE die hele land laat sidder,

soos wat dit uit die weste aankom, dan na die noorde, dan na die ooste en ten slotte na die suide.

 

Die sewende donderslag, vers 9, beskryf hoe die skepping, fauna en flora, reageer op die HERE se stem.

Dit maak die bosse kaal – dink aan ‘n halebui wat alle blare van die bome stroop.

Dit is so indrukwekkend, dit laat die takbokke lam.

(Soms word hierdie sinsnede ook anders vertaal: dit splyt die eikebome.)

Die stem van die HERE is nie net indrukwekkend nie, ook belowend.

Want as die eerste donderbui, na ‘n lang droë somer, uitgesak het, het dit die belofte van nuwe groei ingehou.

Net soos hier in Suid-Afrika diere soos die rooibokkies of springbokkies begin lam na die eerste reëns.

Die eerste reëns kondig die nuwe seisoen aan.

 

So weerklink daar sewe magtige donderslae in hierdie Psalm.

Dan beweeg Dawid se aandag na die HERE se paleis.

Ons kan hier dink sowel aan sy hemelse paleis, maar ook aan sy huis hier op aarde, waar Hy onder sy volk wil woon.

Ook hier word daar met eerbiedige blik na die onweerslug gekyk.

En hier klink dan ‘n loflied op: eer en heerlikheid aan die HERE!

Dit is sy stem wat weerklink!

Hierdie reëns is aan Hom te danke.

En so maak ons nog steeds tot vandag toe in God se huis.

Ook in die reënseisoen waarop ons nou so gretig wag.

As dit aanbreek, dalk voor 10 Oktober, of dalk na 10 Oktober, dan gaan ons die HERE hartlik dank.

Ons gaan Hom die eer en heerlikheid daarvoor gee.

Want dit is sy stem wat weerklink!

God se stem in die natuur dryf sy kinders na sy huis, om Hom daar te dank en te eer.

En in sy huis hoor hulle ook sy stem op ‘n ander toon.

In sy huis hoor ons sy stem wat troos, soos toe Christus die storm tot bedaring gebring het.

 

Die boodskap van hierdie psalm is duidelik.

Nie net omdat ons ook in ‘n land lewe waar die son te warm en die reën te skaars is nie.

Maar ook omdat ons in ‘n samelewing leef wat nie aan die HERE die eer gee vir die reën nie.

Wat nie meer die stem van die HERE hoor in die onweer nie.

Ja ons weet deesdae al baie feite oor die reën.

Ons weet van lae- en hoëdrukgebiede.

Ons weet van die elektriese geladenheid van die wolke, en hoe dit met ‘n weerligstraal ontlaai.

Donderslae wat luglae is wat bots.

Ons weet van El Nino en El Nanno.

Ons weet van ‘global warming´.

Ensovoorts ensovoorts.

Maar dit alles neem nie weg dat dit steeds die werk van die HERE is – die stem van die HERE.

Die noodweer kom van Hom, dis Hy wat sy stem laat hoor.

Dis nie ‘n teenstrydigheid met ons teenswoordige metereologiese kennis nie.

 

En eintlik, moet ons toegee, eintlik weet ons nog maar so min!

Ja in ons tyd is die aarde besig om warmer te word.

Die ys by die Noordpool en op Groenland is besig om te smelt.

Maar waardeur dit veroorsaak word, as ons heel eerlik is, dit kan ons nog nie alles verklaar nie.

Ons weet nog maar so min.

As ons na die geskiedenis kyk, dan wil dit voorkom of daar in die verlede ook al tydperke was waartydens daar geen ys by die Noordpool was nie, byvoorbeeld in die Middeleeue.

Hoekom nie?

Het die mense toe ook al te veel CO2 verbrand?

Die hele ding van ‘global warming’ het ‘n politieke speelbal geword.

En soos so dikwels die geval is in die politiek, dit is juis daar waar die waarheid sneuwel.

Hierdie psalm is veral ook ‘n oproep aan alle hooggeplaastes, om die HERE die eer te gee wat Hom toekom.

Om in al hulle planne wat hulle maak, te erken dat die reën, die onweer en weerlig, van Hom af kom.

Om in hulle toekomsscenario’s met Hom rekening te hou!

 

Ons as kinders van die HERE hoef nie paniekerig te raak oor die doemscenario’s wat deesdae so dikwels met die praatjies oor global warming gepaard gaan nie.

Terselfdertyd roep die Skrif ons op om rentmeesters op aarde te wees, ons wat as God se onderkonings aangestel is.

Ons moet hierdie aarde verantwoordelik gebruik en beheer.

Dit is ‘n sonde om God se skepping vir ons eie materiële gewin uit te buit.

As sy skepping, diere of plante of gebiede sou skade ly as gevolg van ons lewensstyl.

As biodiversiteit vernietig word weens die mens se ongebreidelde hebsug.

So ja, ons het die taak om hierdie aarde op te pas.

Maar dit is met ‘n ander motivering as die van die sogenaamde ‘environmentalists’ met hulle doemscenario’s, waarin mens geen woord oor God se voorsienigheid hoor nie, wat geen enkele erkenning laat staan eer gee aan die stem van die HERE wat oor die aarde weerklink nie!

 

  • Ontvang die vrede van die HERE

Die Psalm sluit af met ‘n magtige belydenis:

Die HERE het gesit oor die watervloed.

Ja bo al hierdie tonne en tonne reëns wat oor die aarde uitgestort is, bo daardie geweldige vloed, sit die HERE.

Dis Hy wat al hierdie waters in die lug beheer en stuur na waar Hy dit wil laat val.

Die woord wat in vers 10 vir watervloed gebruik word, is dieselfde woord wat die Bybel vir die sondvloed gebruik – ‘n bewuste sinspeëling van Dawid op die groot vloed.

Nog nooit weer het daar soveel water uit die lug geval as toe nie.

En bo al daardie massas en massas water, troon die HERE.

Hy sit as Koning tot in ewigheid.

Laat sy gunsvolk dit veral erken!

Laat hulle Hom veral aanbid!

In hierdie psalm gaan Dawid lynreg teen die Baälverering in.

Dis nie die stem van Baäl nie, maar die stem van die HERE!

Dawid gebruik steeds God se verbondsnaam: HERE – Jahweh.

Die hele psalm is ‘n aaneenryging van dinge wat die HERE se stem veroorsaak op aarde.

Tot sewe keer toe! – die volmaakte getal – die Psalm van die sewe donderslae.

 

Die laaste vers, vers 11, skets die vrede wat daar heers na ‘n onweersbui.

Die sublieme atmosfeer, as mens die gerommel van die donderweer hoor wegsterf aan die horison, as mens die vars lug inasem, as die hele skepping begin juig.

Die swaar reëns het die gelaat van die aarde verander, dit gee presies wat plant en boom en dier nodig het om op te leef.

So beskryf Dawid wat die stem van die HERE vir sy volk doen.

Dit gee sy volk sterkte, dit seën hulle met vrede.

 

Vrede, sjaloom, dis die woord waarmee die Psalm eindig.

As ons die stem van die HERE hoor, herken en erken, as ons die afgode uit ons midde verwyder, as ons die HERE die eer gee vir die seën wat Hy uitstort, dan sal daar vrede heers.

Die rus en stilte en vredigheid, daardie toestand na ‘n hewige donderbui, dit staan hier simbool vir die ewige vrede wat die HERE aan sy kinders skenk.

Sy stem wat nie net die reën stuur nie.

Sy stem wat ook uit die hemel geroep het: Dit is my geliefde Seun, luister na Hom.

Sy stem wat ook die dood oorwin het, toe Hy sy Seun uit die graf opgewek het.

Sy stem wat weer sal klink op die jongste dag, en ook ons grafte sal oopbreek.

Sy herskeppende stem, wat die ewige vrede sal laat aanbreek.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 68:3,4 

Wet

Ps 32:1,2 

Gebed

Skriflesing: Psalm 29

Ps 29:1,2

Teks: Psalm 29

Preek

Ps 29:3-5

Gebed

Kollekte

Sb 34:1,2 

Seën