God se onveranderlikheid is ‘n vaste baken vir alle tye

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-07-28
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1b
Preek Inhoud: 

Preek: Nederlandse Geloofsbelydenis art. 1 (God is onveranderlik)

 

Wie is God vir jou?

Watter beeld het jy van God?

Geliefde gemeente, in die leerpreke aan die hand van die Nederlandse Geloofsbelydenis kry ons tans die geleentheid om nader kennis te maak met pragtige en wesenlike karaktereienskappe van God.

Verlede week het ons in die Skrif gedelf, spesifiek om meer te leer oor God se ewigheid.

Vandag gaan ons verder in ons soektog in die skatkis van God se Woord.

Vandag fokus ons op nog ‘n karaktereienskap van God wat in NGB art. 1 genoem word, naamlik sy onveranderlikheid.

 

Tema: God se onveranderlikheid is ‘n vaste baken vir alle tye

Onveranderlik beteken:

- betroubaar

- eerlik

- standvastig

- konsekwent

- en laastens: ook sy Woord is onveranderlik

 

Ons gaan in hierdie preek ook na verskillende Bybelgedeeltes kyk, en die vraag vra:

Hoekom is God onveranderlik?

Wat is die implikasie daarvan?

Wat beteken dit vir ons dat Hy onveranderlik is?

Deesdae hoor mens dikwels ‘n spreekwoord wat sê in Engels: adapt or die.

Verander, pas aan, of gaan ten onder.

Geld dit ook vir God?

Is God ewig, juis omdat Hy die heeltyd verander?

Of is Hy ewig, omdat Hy altyd dieselfde bly?

Kom ons luister na wat die Skrif oor God se onveranderlikheid openbaar.

 

Betroubaar

Ons begin met die gedeelte wat ons saam gelees het.

In Exodus 3:14 verduidelik God aan Moses wat sy Naam beteken.

 “En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.”

Jahweh staan vir: Ek is wat Ek is.

Dit dui op God se onveranderlikheid en daarom ook sy betroubaarheid.

Die omgekeerde van betroubaarheid is wisselvalligheid.

‘n Mens kan jou toekoms nie bou op iets wat wisselvallig is nie.

‘n Wisselvallige geldeenheid is nie aantreklik vir langtermyn beleggers nie.

Dieselfde geld vir ‘n wisselvallige god.

‘n Mens wil graag sy god kan vertrou.

Die gode van die heidene, ook die afgode in Egipte, was wisselvallig.

En die volk Israel het ook so oor die God van hulle vaders begin dink.

Ooit, 400 jaar gelede, was daar ‘n God wat aan hulle voorvader Abraham verskyn het.

Hy het hom laat wegtrek uit sy huis en familie na ‘n beloofde maar onbekende land.

In daardie land het hy, en ook sy kinders en kleinkinders, rondgeswerf sonder dat hulle dit in besit kon neem.

Toe daar ‘n ernstige hongersnood kom, is die hele familie Egipte toe.

Deur ‘n wonderbaarlike sameloop van omstandighede het een van Abraham se kleinseuns, Josef, onderkoning in Egipte geword.

Maar sedertdien het dit stadig maar seker bergafwaarts gegaan met die Jode in Egipte.

Tot sover dat hulle nou slawe geword het, en in hulle bestaan bedreig is.

Die vertroue op die God van hulle voorvaders het tot ‘n nulpunt gedaal.

Dit is op hierdie oomblik dat die HERE dus aan Moses verskyn met hierdie Naam:

Ek is wat Ek is!

As ek in julle voorvaders se tyd ‘n God van wonders was, is Ek dit vandag nog steeds!

Ek is onveranderlik!

Die implikasie van onveranderlik is dat Hy betroubaar is.

Ook julle vandag kan op Hom staatmaak!

 

Dit is belangrik, gemeente, om te besef dat dit die betekenis, die implikasie, van God se onveranderlikheid is.

Die woord onveranderlik is ook al wel in die verlede baie filosofies uitgelê as synde: onbeweeglik.

Dan dink mens eerder aan iets wat leweloos is.

Mense kyk soms na die hemelliggame: maan en sterre, die planete, as onveranderlik.

Of klippe, rotse, wat onbeweeglik en onveranderlik altyd op dieselfde plek bly lê.

Hulle lyk altyd dieselfde.

Hulle bly altyd dieselfde.

As mens so ‘n beeld van God het, maak dit nie sin nie.

God is nie soos ‘n dooie stuk materie wat altyd op dieselfde plek bly lê nie.

En, tussen hakies, mens maak dan ook die denkfout asof planete en sterre, rotse en klippe, onveranderlik is.

Dit is glad nie so nie.

Wat ons in verlede week se preek gehoor het, geld ook vir klippe en rotse: hulle sal soos ‘n kleed verslyt.

Alles in die skepping, ook die hardste materiale, is aan slytasie onderhewig.

Niks bly ooit dieselfde nie.

Niks nie, behalwe God.

Sy onveranderlikheid gaan ons verstand te bowe.

Die feit dat Hy onveranderlik is, beteken dat Hy betroubaar is.

 

Eerlik

Dit bring ons by ‘n volgende Bybelteks: Numeri 23:19.

U is welkom om dit op te soek, Numeri 23:19:

“God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?”

Nou hierdie woorde kom uit die mond van Bileam.

Maar dit is woorde wat God self daarin gelê het.

Tot Balak se groot onsteltenis het Bileam die volk Israel begin seën in plaas van vloek.

Dit was nie waarvoor hy Bileam ingehuur het nie!

Balak het hom toe na ‘n ander plek, ‘n ander berg geneem, met die hoop dat Bileam van daar af wel die volk sou vervloek.

En dis toe dat Bileam hierdie woorde uitspreek: “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie.”

Die implikasie: Moenie dink jy kan God omkoop sodat Hy nou iets anders gaan sê nie.

God is onveranderlik!

Ons sien in hierdie teks ‘n verband tussen God se onveranderlikheid en sy eerlikheid.

Dit is inderaad kenmerkend aan ‘n eerlike persoon dat hy onveranderlik is.

Ook al probeer jy hom omkoop, ook al dreig jy hom, wat jy ook doen, ‘n eerlike persoon sal nie die waarheid buig nie.

So is God dus.

Hy het ‘n belofte aan sy volk gemaak, dat Hy hulle tydens die woestynreis sou bewaar en in die beloofde land sou bring.

En nou hou Hy Homself aan daardie belofte.

Bileam het homself in die pad van hierdie belofte opgestel.

God bly egter by sy Woord.

 

Gemeente, hierdie is dus ook ‘n baie belangrike aspek van God se onveranderlikheid: die feit dat Hy eerlik is.

In sy wet wat God aan Moses gegee het, kom dit telkemale na vore.

Sy wet is soos Hyself: Hy laat nie toe dat die reg gebuig word nie.

Almal, ryk en arm, belangrik en onbelangrik, val onder dieselfde reg.

Hy is die een wat die regsaak van die wees en weduwee sal verdedig.

Moenie in sy pad kom, deurdat jy die reg probeer buig nie.

Hy is onveranderlik.

Hy bly eerlik.

Dit is ‘n groot troos van wie by Hom skuil.

Die lewe is soos die deinings van die see.

In ons land, maar net so in ander lande in die wêreld, nêrens is die reg onveranderlik, onbuigbaar, nie.

So dikwels gebeur dit dat mag en geld die reg buig.

So dikwels sien mens dat die weg van die minste weerstand gekies word, pleks van die reg te laat seëvier.

Die deinings van die wêreldsee maak mens dronk, dit bied geen vastigheid nie.

Kyk op na God, hou vas aan Hom.

Hy is onveranderlik in sy eerlikheid.

Daar is ‘n ou spreekwoord wat sê: Al is die leuen hoe vinnig, die waarheid sal hom een of ander tyd inhaal.

Eerlikheid duur die langste.

Kyk op tot God, Hy is die bron van alle eerlikheid.

Hy hou sy beloftes.

Dit het Hy in Christus bo alle twyfel bewys!

Wie by Hom skuil, word nie in die steek gelaat nie.

 

Standvastig

“Die raad van die HERE bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag”.

So sing ons in Psalm 33:11.

“Die HEER se raad word nooit gekeer nie.

Dit sal bestaan in ewigheid.” (Ps 33:6 – berymd)

Dit is in teenstelling tot die raad van die nasies, die gedagtes van die volke.

Die ou mense onder ons sal kan vertel hoe wisselvallig die raad van die nasies is.

Dit wat vir die nasies op aarde belangrik was, vyftig jaar gelede, dit is nou byna vergete.

Nou is daar nuwe onderwerpe wat die nasies besig hou.

Maar oor vyftig jaar gaan die nasies weer hulle kop skud oor wat die mense vandag besig gehou het, waardeur mense vandag op hol gejaag is.

Moenie jou kompas afstel op dit wat die nasies belangrik vind nie.

Rig jou kompas op die onveranderlike God!

“Salig wie tevore deur Hom is verkore ...”

Ja in Christus weet ons verseker dat Hy ons voor die grondlegging van die wêreld uitverkies het.

En omdat Hy onveranderlik is, weet ons dat Hy sy voorneme ook sal uitvoer!

 

“Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van ons God hou stand in ewigheid.”

Dit is die trooswoord wat Jesaja namens die HERE aan sy volk mog oordra, Jesaja 40:8.

Laat Israel nie moedeloos wees nie.

Alles om hulle heen sal blyk verganklik te wees.

Nie net die gras en die blom, wat seisoensgebonde is nie.

Selfs die tempel sal nie vir ewig vas bly staan nie.

Dit was die wrede ontnugtering wat God se volk aan die begin van die ballingskap sou ondergaan.

Dat selfs die woonplek wat God uitverkies het, nie onveranderlik, maar verganklik was.

Dit is ‘n ontnugtering wat ons in ons tyd ook kan meemaak.

Vir baie van ons is die kerk waarin ons grootgeword het, ons steun en toeverlaat.

Sommiges van ons is nog in Nederland gebore, en het daar die turbulente tyd van die Vrymaking meegemaak, vanjaar 75 jaar gelede.

Maar wie van die vrygemaakte kerk sy steunpilaar gemaak het, kom nou bedroë uit.

Die kerk het geblyk dat dit nie onveranderlik was nie.

Onder ons is daar ook hulle wat in ‘n ander kerk grootgeword het, soos byvoorbeeld die NG Kerk.

Dis ook ‘n kerk wat deur die loop van die jare ‘n ware metamorfose ondergaan het.

God se volk in die Ou Testament moes die dure les leer dat hulle nie op die tempel kon vertrou nie.

Hulle nasionalisme met tempel, stad en vaderland is van hulle weggevat.

In die ballingskap moes hulle leer om weer op te kyk boontoe, en alles te verwag van die Onveranderlike, ja die enigste Een wat onveranderlik is, en dus betroubaar, eerlik en standvastig.

Geen fondament op aarde is tot in ewigheid standvastig nie.

Maar, skryf Jesaja, die woord van ons God hou stand in ewigheid.

Deur die eeue kom en gaan kerke.

Dit is vir ons pynlik om dit ook in ons tyd agter te kom.

Hulle wat vol vlam en vuur was vir die diens aan die Here in die dekades na die Vrymaking, hulle is dit nie altyd meer vandag nie, en dikwels ook nie hulle kinders en kleinkinders nie.

Maar dit moet ons nie laat wanhoop nie.

Christus is ‘n ewige Koning wat nooit sonder onderdane sal wees nie, skryf Guido de Brès in art. 27 van die NGB.

Hy sal sorg dat in elke geslag daar die sewe duisend sal wees, wat nie die knie voor Baäl buig nie.

Sewe duisend is ‘n simboliese getal, wat dui op ‘n baie groot aantal.

Wat ‘n troos gemeente, u mag opkyk na Christus, u het sy Woord in u hand.

Dit is die konstante, die standvastige, die onveranderlike in u lewe, die anker van hoop! (Hebr 6:19)

 

Konsekwent

Rigting die einde van die Ou Testament, na die ballingskap, sê die HERE deur die profeet Maleagi vir sy volk:

“Want Ek, die HERE, het nie verander nie” – Maleagi 3:6.

Die HERE sê dit hier na aanleiding van die aankondiging van die dag van die HERE.

Wie kan die dag van sy koms verdra?

Wie kan standhou as Hy verskyn?

Die HERE sê dit in die kader van die verbond wat Hy met sy volk gesluit het.

In sy verbond het Hy gewaarborg dat Hy van sy kant trou, dit is onveranderlik, sal wees.

Sy belofte sal Hy hou.

Ook sy bedreiging.

En Maleagi verwys hier met name na God se verbondsdreiging.

Nadat die volk so oorvloedig deur hulle God geseën is, en hulle kom tog nie die verbondseis na nie ...

Nadat God hule in staat gestel het om goed te doen, maar hulle doen dit tog nie ...

Dan moet hulle nie dink dat God dit nie raaksien nie, of dat Hy dit deur die vingers sien nie.

God is ook onveranderlik in die straf wat Hy destyds aangekondig het.

Omdat hulle God beroof deurdat hulle nie hulle tiendes betaal nie, daarom sal die HERE vir hulle wees soos die vuur van ‘n smelter, soos die loog van ‘n wasser.

God se onveranderlikheid moet ook ontsag by ons inboesem.

God se geheue is soos van ‘n olifant, nee nog oneindig beter.

Laat ons Hom daarom vrees, laat ons oppas om Hom te bedroef, om teen sy wil in te gaan.

 

Ook sy Woord is onveranderlik

Nou het ons tot dusver slegs tekste uit die Ou Testament behandel.

En daar is nog baie meer wat ek sal kan noem, as dit oor God se onveranderlikheid gaan.

Maar ook in die Nuwe Testament is daar ‘n keur aan tekste.

Soos Jesus se opmerking in sy profetiese rede: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.” - Markus 13:31.

Christus se Woord is onveranderlik.

Ek het ‘n tydjie terug ‘n boek gelees uit die 1800’s, waarin die skrywer voorspel dat die Bybel binnekort ‘n vergete boek sou word, en dat kerke sou ophou bestaan.

Dit was in die tyd van die industriële rewolusie, en die groot tegnologiese ontwikkelings wat daaruit voortgekom het.

Ons is nou alweer twee honderd jaar verder, en niks daarvan het waar geword nie.

Die Woord van Christus is nog steeds die mees verkoopte boek op aarde.

En Christus se kerk is nog steeds daar.

Die aantal Christene neem nog steeds toe, al het kerk wel sterk agteruitgegaan in die Westerse kultuur.

Ons hoef nie aan Christus se profetiese woord te twyfel nie.

Sy Woord is so onveranderlik as Hyself.

 

Paulus skryf in Titus 1:2 dat ons hierdie lewe mag lei met die hoop op die ewige lewe.

God kan nie lieg nie, skryf hy.

Hy het dit van ewigheid af beloof, en so bly dit.

God se onveranderlikheid beteken dat Hy eerlik is, dat Hy nie kan lieg nie.

Die Hebreërskrywer verwys terug na Psalm 102 as hy skryf:

Hemel en aarde “sal vergaan, maar U bly; en hulle sal almal soos ‘n kleed verslyt, en soos ‘n mantel sal U hulle toerol, en hulle sal verander word, maar U is dieselfde, en u jare het geen einde nie.” (Hebreërs 1:11-12)

God se ewigheid en onveranderlikheid gaan hand in hand.

Soos ek aan die begin genoem het, daar is so ‘n spreekwoord wat deesdae baie gebruik word, in Engels: adapt or die.

Dis ‘n spreekwoord wat lewensbeskoulik volgens my uit die ewolusionisme voortkom.

Dis in elk geval ‘n spreekwoord wat nie op God van toepassing is nie.

Sy ewigheid hou juis in dat Hy onveranderlik is.

En die krag van sy Woord is juis ook dat dit onveranderlik is.

As die Bybel deur die loop van die jare steeds aangepas sou gewees het, sou dit beslis nie vandag so ‘n bekende en beroemde boek gewees het nie.

Sy krag lê juis in sy onveranderlikheid.

Soos die Here is, so is sy Woord ook!

En so mag sy kerk ook wees.

Die kerk se oorlewing lê nie in aanpassing nie.

Die kerk se oorlewing lê nie daarin dat sy by die wêreld moet aanpas nie.

Die kerk oorleef, meer nog, floreer, as sy bly by Christus se onwankelbare Woord.

Niks minder, maar ook niks meer!

So kan die kerk ‘n baken wees in die tyd, te midde van alles wat wankel en vergaan.

Al moet ons onthou dat ons aan die einde van die dag nie ons vertroue op die kerk moet stel nie, maar op die Here van die kerk.

Hy, Jesus Christus, is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid – Hebreërs 13:8.

Laat ons bly opkyk na Hom, waar Hy regeer aan die Vader se regterhand.

“Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.” (Jakobus 1:17)

Christus was God se grootste Geskenk aan die kerk.

Hy is die Alfa en die Omega (Openbaring 22:13).

Hy bly getrou, en sy Woord hou stand tot in ewigheid!

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 119:33

Gebed

Skriflesing: Exodus 2:23-3:15

Ps 102:5,10,11

Skriflesing: Hebreërs 1

Sb 15:4-7

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1 (God is onveranderlik)

Preek

Ps 119:51,52

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 33:6,11

Seën