‘n Môrelied van dank vir God se beskerming

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-07-21
Teks: 
Psalm 3
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 3

 

‘n Mens kan soms jaloers wees op ‘n klein babatjie, wat rustig kan lê en slaap, en geen idee het wat rondom haar aangaan nie.

Nog salig onbewus van alle ellende op aarde.

En as sy wakker word in die nag en sy huil, is dit omdat sy honger is.

Die persoon wat ons in Psalm 3 ontmoet, die digter Dawid, se omstandighede was seker die omgekeerde.

As daar iemand was wat permanent slapelose nagte moes hê, was dit Dawid.

Behalwe al die verantwoordelikhede op sy skouers as koning oor die volk, was daar al die drama in sy eie familie.

Selfs tot die punt dat een van sy eie seuns hom probeer doodmaak het.

Dit is die historiese omstandighede van Psalm 3.

Maar tog, ten spyte van dit alles, lees ons in hierdie psalm dat Dawid rustig kon gaan slaap en uitgerus kon wakker word.

Hoe op aarde was dit moontlik?

Dit is die geheim waarna ons in hierdie psalm gaan kyk.

 

Tema: ‘n Môrelied van dank vir God se beskerming

  • Dawid word oorweldig deur probleme
  • Dawid ervaar desondanks die vrede wat alle verstand te bowe gaan

 

  • Dawid word oorweldig deur probleme

Voordat ons dieper ingaan op hierdie psalm en watter boodskap dit vir ons het, eers kortliks iets oor sy struktuur.

Dit begin met ‘n opskrif, waarna Dawid die omstandighede skets waarin hy hom bevind het, vers 1-3.

Daarna volg ‘n belydenis, vers 4-5, waarin Dawid bely wie die HERE vir hom is.

Dan vind ons woorde van gerusstelling, vers 6-7, dis die konkrete uitwerking van die belydenis wie God vir hom is, watter impak dit op sy lewe, spesifiek die benarde omstandighede waarin hy toe was, gehad het.

Die psalm sluit af met ‘n oproep aan die HERE, ‘n oproep tot aksie, waarna ‘n konklusie volg, weereens ‘n versekering.

 

Noudat ons oor die struktuur praat, dalk het die woordjie Sela u ook opgeval.

Tot drie keer toe staan die woordjie Sela in hierdie psalm.

Ons is gewoond om vinnig oor die woordjie heen te lees, soms dit nie eers te lees nie.

Maar noudat dit so prominent in hierdie psalm voorkom, is dit dalk die aangewese geleentheid om kortliks daarop in te gaan.

Deur die eeue is daar al baie geskryf oor hierdie woordjie, maar tot op hede bly sy betekenis en funksie nie werklik duidelik nie.

Sela kom 71 keer in die  Bybel voor, die oorgrote meerderheid in die Psalmboek, en daarnaas ook nog drie keer in die boek Habakuk, in die psalm van Habakuk.

Verklarings wat daar al vir die woord gegee is, is onder meer dat dit ‘n musikale term was, ‘n aanduiding vir hoe die psalm gesing moes word, en hoe die musikale begeleiding moes wees.

Sommiges het gemeen dit is ‘n woord wat aandui waar daar ‘n musikale tussenspel moes wees.

In die vroeë kerk het sommiges gemeen dit is ‘n aanduiding vir die koor, dat op die plek waar Sela staan, die koor ‘n soort refrein moes sing.

Ander het gemeen dat dit ‘n aanduiding is dat daar harder gesing moes word, vergelykbaar met die woord forte of fortissimo wat ons deesdae gebruik.

Ander het weer gemeen die woord het verband gehou met die erediens by die tempel, en dat dit as ‘n aanduiding gedien het waar die mense vooroor moes buig en op die grond gaan lê.

Maar al met al, die werklike betekenis van hierdie woord bly tot vandag toe nog onduidelik, met die gevolg dat Bybelvertalers dit meestal onvertaald laat.

Die meeste verklarings dui egter in die rigting van dat dit ‘n musikale of liturgiese term was.

Tot sover iets oor die woordjie Sela.

 

Psalm 3 staan van oudsher af bekend as ‘n môrelied, ‘n môregebed.

Toe Dawid wakker word, het hy tot sy verbasing agtergekom dat hy goed geslaap het.

Dat hy uitgerus was.

‘n Gevoel van dankbaarheid het by hom binnegestroom, en ‘n môrelied het in sy hart opgekom.

‘n Besef dat God oor hom waggehou het, toe hy geslaap het.

 

Is dit nie ook soms met u so nie?

Dat al die probleme, al die gevare, al die spannings van die lewe jou so oorweldig, dat jy nie aan die slaap kan raak nie?

Dat jou gedagtes en jou gees net nie rustig kan raak nie?

Dat jy die hele nag wakker lê en tob en rondrol oor ‘n saak?

 

Dawid het baie gehad om oor onrustig te voel.

Die opskrif bo die psalm vertel vir ons wat sy omstandighede was.

Dit was die tyd toe Dawid vir sy seun Absalom moes gevlug het.

Ons het ‘n gedeelte daarvan gelees.

Dit is eintlik ‘n groot skande, dat sulke dinge in God se eie verbondsvolk kan gebeur.

Dat sy kinders hulleself in sulke omstandighede kan inwerk.

Want laat dit duidelik wees, in hierdie benarde situasie waarin Dawid nou is, was hy nie net slagoffer nie.

Dit was vir ‘n groot deel deur homself veroorsaak.

Die feit dat daar een groot familierusie in sy gesin uitgebreek het.

Die feit dat sy kinders hom verag het.

Die feit dat sy seun Absalom nou selfs probeer het om hom dood te maak.

Die Skrif openbaar aan ons dat al hierdie ellende ‘n straf was oor Dawid se sondes.

Soos Calvyn in sy kommentaar op hierdie psalm skryf: geen ding waaronder ons ly, het ons nie self verdien nie.

Dawid se opvoeding van Absalom het bietjie skeefgeloop.

Absalom was op ‘n manier Dawid se oogappel, met die gevolg dat hy sy misstappe nie aangespreek het nie.

Absalom het op ‘n stadium een van sy broers doodgemaak, en Dawid het dit deur die vingers gesien.

Ouers wat hulle kinders se sondes, se humeuruitbarstings goedpraat, dis iets van alle tye.

Al met al, Dawid se opvoeding van sy seun Absalom was ‘n mislukking.

Verder moet ons ook terugdink aan wat die profeet Natan vir Dawid gesê het, nadat Dawid self owerspel en moord gepleeg het.

2 Samuël 12:9-11 “Waarom het jy die woord van die HERE verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Uria, die Hetiet, het jy met die swaard verslaan, en sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, nadat jy hom deur die swaard van die kinders van Ammon vermoor het. En nou sal die swaard vir ewig van jou huis nie wyk nie, omrede dat jy My verag het en die vrou van Uria, die Hetiet, geneem het om jou vrou te wees. So sê die HERE: Kyk, Ek sal uit jou huis onheil oor jou verwek, en jou vroue voor jou oë neem en aan jou naaste gee, sodat hy by jou vroue sal slaap voor die oog van hierdie son.”

Hierdie profesie van die profeet Natan was nou besig om waar te word.

Oor ‘n tydperk van ongeveer vier jaar het Absalom aktief en baie hipokriet homself by die volk aangeprys, en sy pa aktief probeer diskrediteer.

Min dinge is so pynlik as wanneer iemand doelbewus leuens rondstrooi, karaktermoord word dit deesdae genoem.

Dis waarmee Absalom besig was.

Sy doel was om sy pa te onttroon en self op die troon te kom.

Absalom het sy pa met die swaard uit Jerusalem verdryf.

Absalom het by sy pa se byvroue gaan slaap.

In kort, Dawid se huis, sy gesin, gaan gebuk onder die swaard, onder haat en nyd, onversoenlikheid.

En as daar iemand was om te blameer vir die feit dat sy familie nie gefunksioneer het soos dit veronderstel was om te doen nie, dan was dit in die eerste plek Dawid self.

Mens het in leedvermaak na hom begin kyk.

Kry vir jou, dis jou verdiende loon.

Vir jou is daar geen heil by God meer nie, het die mense in vers 3 gesmaal.

 

So treurig was die situasie onder God se eie kinders.

Hulle wat sy wet ontvang het, sy leefreëls, hulle wat so goed onderrig is, hulle wat so goed geweet het wat ‘n goeie lewe behoort te wees.

En soos dit destyds was, so is dit vandag nog steeds, ook onder God se kinders.

Hoeveel keer gebeur dit nie dat daar onopgeloste konflikte heers in families in die kerk.

So besoek die HERE sy kinders met sy straf.

As verbondskinders die pad byster raak, moet verbondsouers self eers hand in eie boesem steek.

Hoe het ek aanleiding gegee vir hierdie optrede van my kinders?

Hoe het my sondes skade berokken aan die kerk van Christus?

Dawid se sondes het groot skade berokken aan God se volk.

Maar deur die HERE se onpeilbare genade het Hy sy Gees nie van Dawid weggeneem nie.

Sy Gees het Dawid oortuig van sonde (Joh 16:8).

Die vrug van sy Gees se werk in Dawid se lewe was groot pyn en diepe verootmoediging oor sy eie sondes.

Daar is verskeie psalms wat dit aan ons openbaar, waarvan Psalm 51 een van die bekendstes is.

God se goeie Gees het Dawid op die knieë gebring.

Hy het onvoorwaardelik sy sondes bely.

En God het hom dit toe ook vergewe.

God het Dawid se oortredinge weggeneem, so ver as die ooste verwyderd is van die weste (Psalm 103).

Wel moes Dawid nog steeds in hierdie lewe die straf, die bitter gevolge van sy sondes, dra.

Dawid se sondige leefstyl het afgevryf op sy kinders, en daaronder het Dawid nou gebuk gegaan.

Absalom het sy lewe nag gemaak.

 

Maar ten spyte hiervan, te midde van dit alles, is dit duidelik, soos ‘n paal bo water, dat Dawid se verhouding met sy God weer reg was.

Dawid het skuld bely, hy het vergewing ontvang, hy was bevry.

En hierdie gevoel van bevryding spreek uit Psalm 3.

Gelukkig was Dawid nie meer vir die HERE aan die vlug nie.

Hy kon rustig sy lewe in God se hande lê.

Beseffende dat die HERE sy skild is, kon hy gaan lê en aan die slaap raak.

Dawid het vasgeklou aan God se belofte.

Hy het verhoring verwag vanaf sy heilige berg, daar waar die ark gestaan het.

 

  • Dawid ervaar desondanks die vrede wat alle verstand te bowe gaan

Geliefde gemeente, so is Psalm 3 ‘n toonbeeld van die wonder van vergewing.

Van dit wat vergewing doen aan ‘n mens se lewe.

Dawid se probleme was oorweldigend.

Tienduisende was op jag na sy lewe.

Maar desnieteenstaande, omdat sy verhouding met die HERE skoon was, kon daar rustigheid wees in sy hart.

Omdat Dawid na die HERE gestaar het, kon hy sy vyande relativeer.

Sodra jy net op die vyand fokus, word die vyand vir jou al hoe groter.

Toe Israel net op die vyand gefokus het, het hulle soos reuse, Enakiete, geword, onverslaanbaar (Deut 1:28).

Maar, het Moses die volk op die hart gebind: Fokus op die HERE, Hy sal vir julle stry (Deut 1:29-30).

Wie heeltyd net op die gevare let, raak nooit rustig nie.

Kyk na die HERE, fokus op Hom, dit bring rus.

Hy is jou skild.

 

Soos ek reeds genoem het, ook vandag word God se kinders oorweldig met probleme, wat hulle slapelose nagte kan besorg.

En dan dink ek nie net aan die geweld in ons land, en alle boewe wat ons deur ons alarminstallasies en gewapende reaksie op ‘n afstand probeer hou nie.

Tussen hakies, hierdie psalm leer ons ook dat ons nie ons vertroue daarop kan stel nie.

Maar daar is meer dinge wat slapelose nagte veroorsaak.

Ook in die kerk vandag is daar versteurde verhoudings, konflikte tussen ouers en kinders, om maar net een ding te noem.

Ook vandag besoek die HERE die sondes van die vaders aan die kinders (Ex 20).

Ook vandag straf God ons vir ons sondes.

Maar ook vandag is daar vergewing.

Op sy heilige berg skenk God die moontlikheid tot versoening.

Daar het Christus gely, daar is Hy gekruisig, daar het versoening tot stand gekom!

In Getsemane het Christus ‘n slapelose nag gehad, omdat Hy al ons moeites en probleme op sy skouers gelaai het.

En op Golgota het Hy die las van al ons sondes gedra.

Daardeur het Hy vir ons vrede en versoening gebring.

Danksy Golgota kan ons nou rustig slaap.

In sy genade neem Christus sy Gees nie heeltemal weg nie.

Sy Gees werk in ons droefheid oor ons sondes, verootmoediging, en bevryding.

So dat ons al ons probleme op ons Heiland kan laai.

Kom na My, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal vir julle rus gee.

Christus maak ons hart rustig.

Soos Augustinus ‘n keer gesê het: die hart van elke mens bly onrustig, totdat dit rus vind in God.

As jy jou dag afsluit met ‘n opregte gebed tot Jesus Christus, in sy Naam vergewing vra van al jou sondes, dan kan jy rustig gaan slaap.

Met die wete dat God jou skild is.

Sy skild beskerm jou teen jou doodsvyande.

Nie net die duiwel en die sondige en gewelddadige wêreld daarbuite nie, maar ook jou eie sondige ou mens daarbinne.

Hy sal geliefde kind bewaar.

En dan kan jy verfris opstaan, met dankbaarheid terugkyk na die nagrus.

Dat God jou inderdaad bewaar het, en dat Hy jou ook in die nuwe dag sal bewaar.

 

Die nuwe dag sal weer sy uitdagings bring.

Toe die son opkom, moes Dawid weer sy probleme in die gesig staar.

Daar was ‘n hele leër, onder leiding van sy seun Absalom, wat sy bloed gesoek het.

Maar in afhanklikheid van die HERE het Dawid die dag ingegaan, staatmakende op sy trou.

Vrymoedig maak hy staat op die HERE, en roep hy Hom op:

Staan op HERE, verlos my, my God!

Slaan u my vyande op die kakebeen.

Breek u die goddelose stukkend.

Die oorwinning en die heil behoort aan die HERE.

Solank jy maar net sorg dat jy naby die HERE skuil, en dat die HERE se saak jou saak is, dat jy nie teen die HERE veg nie, maar agter Hom aangaan.

Dan is jou toekoms ook veilig.

Hierdie oproep van Dawid in vers 8, “Staan op HERE!” herinner aan die woorde wat Moses elke keer geroep het tydens die woestynreis, sodra die volk verder getrek het agter die ark aan:

“Staan op, HERE, dat u vyande verstrooi kan word ...” (Num 10:35)

Die volk moes net fokus op die ark, die feit dat die HERE voor hulle uittrek.

Dit sou hulle rustig maak tydens die woestynreis.

So besef Dawid: Solank ek op die HERE bly staar, solank ek fokus op sy heilige berg, waar sy verbondsark is, sal ek my en sy vyande kan trotseer.

 

Om af te sluit, wat is die boodskap van Psalm 3? Wat kan ons uit hierdie psalm leer?

Eerstens dat gelowiges se lewe op aarde nie rooskleurig is nie.

Daar is geen belofte in die Bybel dat Christene gegarandeerd ‘n rustige en lekker lewe op aarde kry nie.

Inteendeel, soos die apostel Paulus skryf: “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” (2 Tim 3:12)

Deur die eeue het dit dieselfde gebly, die stryd tussen goed en kwaad.

Die stryd waar nie net owerhede, buitelandse vyande nie, maar soms ook mense uit jou eie familie vyande word.

Tweedens egter, te midde van alle sorge, verdriet en probleme in hierdie lewe, waarvoor gelowiges dikwels ook self skuldig is, soos die geval was by Dawid, skenk God tog aan hulle ‘n rus wat alle verstand te bowe gaan.

Ware gelowiges ervaar hoe Christus hulle las oorneem, hulle voel die bevryding.

Hulle kan rustig, in vertroue, gaan slaap en weer wakker word.

Vanuit die onwankelbare besef dat die heil aan die HERE behoort, en dat alles dus sal goedkom.

Dit gee rus te midde van alle probleme.

Dat die HERE se seën bestendig sal wees oor hulle wat by Hom skuil.

Dit is die bede waarmee Dawid sy psalm afsluit.

‘n Bede nie net vir homself nie, maar vir almal wat by die HERE skuil.

HERE, laat u seën wees oor u volk!

 

In Filippense 4 lees ons die pragtige woorde:

“Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” (vers 6-7)

Gemeente, namens Christus roep ek u op:

Sorg dat u elke dag begin met ’n môrelied soos Psalm 3, ’n lied van dank vir God se beskerming.

Dit sal jou fokus regkry aan die begin van elke dag.

Ek roep u op om so elke dag op te staan.

Christus het dit vir u moontlik gemaak om elke dag met ’n môrelied te kan begin!

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 103:1,2

Wet

Ps 51:2,5

Gebed

Skriflesing: 2 Samuël 15:1-16

Ps 51:6

Teks: Psalm 3

Preek

Ps 3:1,2

Gebed

Kollekte

Ps 103:6,9

Seën