Die rykdom in Christus ken geen grense

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-06-16
Teks: 
Handelinge 4:32-37
Preek Inhoud: 

Preek: Handelinge 4:32-37

 

Op hierdie Sondag waarop ons gedeel het in Christus se rykdom, is vandag se teks baie van toepassing.

Net soos ons nagmaal gevier het, het die eerste gemeente ook al nagmaal gevier, brood gebreek (Hand 2:42) en Christus se kruisdood herdenk.

Hulle het egter nie net in sy rykdom gedeel nie, hulle het die rykdom wat hulle ontvang het, ook met ander gedeel.

 

Tema: Die rykdom in Christus ken geen grense

 

In ons teks beskryf Lukas hoe daar in die eerste gemeente met besit omgegaan is.

Dit vorm die agtergrond van die twee episodes wat hy vervolgens beskryf, een wat betref Joses Barnabas, en die volgende een wat betref Ananias en Saffira.

Reeds in hoofstuk 2 het Lukas al genoem dat die eerste gemeente alles gemeenskaplik besit het.

Hiermee het Lukas nie ‘n soort kommunisme bedoel nie – hy was nie teen eiendomsreg nie – maar dat die gelowiges hulle besittings en kapitaal vrylik beskikbaar gestel het vir gemeenskaplike gebruik, tot bevordering van die Evangelie.

Die feit dat Lukas nou weer daaroor skryf, bewys dat hierdie gesindheid nie net ‘n kort opwelling van goedwillendheid na Pinksterdag was nie, maar deel van die gemeente se ‘DNA’.

Ook nou, nou dat daar teenstand van die kant van die owerhede gekom het, met die risiko van gevanggeneming en vervolging, het hierdie welwillende houding voortgeduur!

 

Met die aanduiding “een van hart en siel” dui Lukas aan dat die beskikbaarstel van besit, huise en grond, nie gedwonge gehoorsaamheid was nie, maar spontane betrokkenheid.

Die opbrengs van die verkoop van grond of huise is aan die voete van die apostels neergelê.

Hierdie uitdrukking – aan die voete van die apostels – wil sê dat dit volledig ter beskikking van die apostels gestel is, sodat die apostels daarmee die behoeftiges kon help.

Dat daar behoeftiges was, weet ons uit byvoorbeeld hoofstuk 6, waar ons lees dat die weduwees daaglikse versorging ontvang het (Hand 6:1).

 

Hierdie vrygewigheid, en die voorbeeld van Joses Barnabas, vorm die agtergrond vir die langer uitweiding oor Ananias en Saffira wat ons na ons teks lees.

Hoewel verkoop van onroerende goed nie verplig was nie, was dit in hierdie eerste gemeente wel ‘n trend.

Die vorm van die werkwoord wat gebruik word, en die woord ‘almal’ in vers 34, dui daarop dat Joses Barnabas se optrede nie insidenteel was nie.

Ananias en Saffira het op ‘n manier die sosiale druk ervaar om ook daaraan mee te doen.

Maar dit word Ananias en Saffira nie kwalik geneem dat hulle iets vir hulleself gehou het nie.

Hulle het onder geen verpligting gestaan om grond te verkoop nie.

Wat hulle kwalik geneem word, is die feit dat hulle gelieg het.

 

Wat opval is hoe baie name die Joses het, oor wie ons in ons teks lees.

Dan bedoel ek nie dat in sommige manuskripte hy Josef in plaas van Joses genoem word nie.

Baie Engelse vertalings, en ook die nuwe Afrikaanse vertaling, noem hom Josef.

Dit is omdat daar verskillende oorspronklike Griekse manuskripte gebruik is by die vertaling.

Sommiges skryf Joses, ander skryf Josef.

Maar behalwe vir dit, wat opval is al die byname wat hierdie Joses gehad het.

Nou elke bynaam het ‘n betekenis gehad.

Maar vir ons as hedendaagse lesers kan dit soms ontgaan.

Daarom is dit goed om daarby stil te staan, aangesien vir die oorspronklike lesers dit wel veelseggend was.

By sy eerste bynaam word die verklaring wel nog bygevoeg:

Joses het naamlik onder die apostels bekendgestaan onder die bynaam Barnabas.

En, skryf Lukas, dit beteken: seun van vertroosting.

Ongetwyfel sou Joses hierdie bynaam nie toevallig gehad het nie …

Ons gaan later in die boek Handelinge nog meer oor Barnabas lees, oor hoe hy saam met Paulus op sendingsreis vertrek het.

Later in Handelinge word uitsluitlik sy bynaam gebruik.

‘Seun van vertroosting’ noem Lukas waarskynlik as ‘n aanduiding van sy karakter.

Die feit dat ‘n Leviet homself by die gemeente gevoeg het, was op sig al besonder, want daar was maar weinig vanuit die geledere van die Leviete en Sadduseërs wat dit gedoen het.

Sy optrede deur van sy rykdom met die gemeente te deel, is ook as vertroostend ervaar.

 

Joses Barnabas was dus ‘n Leviet.

Hy was afkomstig uit die stam van Levi.

Nou mag hierdie aanduiding verwarrend klink, in die lig van dit wat ons oor die stam Levi weet uit die Ou Testament.

Die stam Levi het naamlik nie van die Here ‘n eie grondgebied in die beloofde land ontvang, soos die ander stamme nie.

Die Leviete moes tussen al die ander stamme woon, en hulle taak was om die volk te onderrig.

Met dit in gedagte, klink dit dus vreemd as ons teks sê dat juis hierdie Joses, wat ‘n Leviet was, wel ‘n stuk grond gehad het.

Maar, hier moet ons dan die spesifieke historiese omstandighede van daardie tyd in ag neem.

In die eerste plek, na die terugkeer van ‘n deel van God se volk uit die ballingskap, het die oorblyfsel uit elke stam nie meer in hulle eie grondgebied gewoon nie, maar almal het deurmekaar gewoon.

Die Leviete het egter wel hulle take wat betref onderrig van die volk en die tempeldiens bly voortsit.

En in die loop van die jare onder Griekse en Romeinse oorheersing, het die tempel al hoe meer uitgegroei tot die sentrale bank van die Jode.

Daar het die Jode nie net hulle offers nie, maar ook hulle tiendes gebring.

En die Leviete het al daardie geld beheer.

Hulle het in die sin bankiers geword.

Dit is bekend dat in die tyd toe Jesus op aarde was, die Leviete eintlik skatryk geword het.

Die party van die Sadduseërs was ook uit die stam van Levi, en hulle het die hele finansiële stelsel by die tempel beheer.

Die naam Sadduseërs stam etimologies af van Sadok, die hoë-priester uit koning Dawid se tyd, oor wie ons in die Ou Testament lees (bv. 2 Sam 15).

Hulle het die hele stelsel van die tempelmunt ingevoer.

Dit was ‘n aparte geldeenheid wat net by die tempel gebruik is.

As die Jode die tempel besoek het, en hulle ‘n offer wou bring, moes hulle eers ‘n ritueel goedgekeurde dier by die Sadduseërs koop.

Om dit te kon koop, moes hulle eers hulle gewone geld omwissel vir tempelmunt.

Uit al hierdie transaksies het die Leviete hulle winste gemaak, en so het hulle skatryk geword.

Hulle was die bankiers en geldwisselaars.

Met dit in gedagte, verbaas dit dus nie dat hierdie Joses waarvan ons in ons teks lees, wat ‘n Leviet was, dus wel oor ‘n stuk grond beskik het nie.

In die historiese omstandighede van daardie tyd het dit baie sin gemaak, aangesien die Leviete in daardie tyd juis dikwels groot grondbesitters was.

Die lesers van Handelinge sou nie verbaas opgekyk het by hierdie vermelding nie.

Leviete, dit was in daardie tyd dikwels ryk mense met baie grond.

 

Ons ken nie baie details oor Joses Barnabas se lewe nie.

Maar was ons wel weet, is dat hy by die eerste gemeente in Jersualem aangesluit het, en dat hy, wat waarskynlik dus ‘n vermoënde man was, gewillig sy kapitaal gedeel het met die behoeftiges in die gemeente en vir die verdere uitbreiding van die Evangelie.

 

Dan is daar nog ‘n laaste detail wat oor Joses gegee word, naamlik dat hy van geboorte uit Ciprus afkomstig was.

Ook dit hoef nie te verbaas nie, want in daardie tyd het daar baie Jode op die eiland Ciprus gewoon.

Toe Paulus en Barnabas op hulle eerste sendingsreis vanuit Antiochië vertrek het, was dit nie toevallig dat hulle eerste na Ciprus gekoers het nie.

Dit is waar Joses Barnabas se ‘roots’, sy wortels, gelê het.

Daar op Ciprus het hulle in elke stad eerste die sinagoge besoek.

Op die eiland het hulle ook in kontak gekom met die Romeinse goewerneur, wat nadat hy die wonderteken wat Paulus verrig het gesien het, en sy prediking gehoor het, tot bekering gekom het.

Daarom dat die eiland Ciprus hulle tot vandag toe daarop beroem dat hulle die eerste land was met ‘n Christelike regering.

 

So het Joses Barnabas se offerbereidheid die voortgang van die Evangelie ten goede gekom.

Dit word hier eksplisiet deur Lukas vermeld.

Hierdie gesindheid van Joses Barnabas en van die eerste gemeente was in ooreenstemming met God se wet, soos ons dit in Deuteronomium 15 lees.

Vers 4: “Maar daar moet geen arme by jou wees nie”.

Niemand onder hulle was behoeftig nie.

In hierdie gehoorsaamheid aan God se wet was hierdie eerste gemeente ‘n voorbeeld om na te volg.

Hulle het daardeur geïllustreer dat hulle geen enkele jota of tittel afgeskaf het van God se wette aan Moses nie.

Dit terwyl daar onder die Joodse volk self in daardie tyd wel baie armes, bedelaars en verskriklike ellende was.

Geen wonder dat die eerste gemeente in guns by die hele volk was (Hand 2:47), en dat die volk hulle geëer het nie (Hand 5:13).

Hierdie vrygewigheid het verder ook nie geëindig by die gemeente se grense nie.

Ons kan dink aan die oproepe wat ons later in die Nuwe Testament lees.

Byvoorbeeld Paulus se oproepe aan gemeentes om vir mekaar te kollekteer.

Juis vir die gemeente in Jerusalem.

Want waar dit nou lyk of die gemeente nog welvarend was, het dinge drasties verander na die vervolging wat na Stefanus se steniging uitgebreek het.

Toe het Jerusalem juis ‘n armlastige gemeente geword.

Vir ‘n gemeente kan dinge onverwags verander.

Maar die Nuwe Testament roep die gelowiges op om saam die laste te dra.

Dink aan die mooi teks uit Galasiërs 6:10:

“Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.”

 

Nou is dit nie moeilik om ons teks op vandag toe te pas nie.

En ek dink dat elkeen wat aandagtig na die preek geluister het, geen moeite daarmee sal hê nie.

Dat ons ook as gemeente bekend mag staan as seuns van vertroosting.

Dat ons ook as gemeente bekend mag staan vir ons vrygewigheid, ons hulpvaardigheid.

Ook onder ons is daar wat grond en huise besit, dikwels meerdere huise en grond.

Maar soos ons weet, alles behoort aan die HERE, en ons kry dit net in bruikleen, tot die uitbreiding van sy koninkryk.

Laat dit ook van ons gemeente gesê kan word, en van ons kerkverband, dat daar niemand onder ons behoeftig was nie.

So laat ons wat so oorvloedig deel in Christus se rykdom, dieselfde doen, in navolging nie net van Joses Barnabas nie, maar primêr van ons Heiland en Saligmaker, Jesus Christus self, wat na die aarde gekom het om ons ryk te maak.

Aan Hom behoort alle dinge, in hemel en op aarde.

Alles is onder sy voete gestel, aan sy voete neergelê.

Ook ons, ons lewens, ons tyd, ons besit.

Neem met lewe, neem my besit, Heer, laat dit U gewy wees meer en meer.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 24:1,2

Wet

Ps 15:1,2,5

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e tafel: Skriflesing: Handelinge 2:37-47 & 4:32-35; Sb 27:5

2e tafel: Skriflesing: Handelinge 4:36-5:16; Ps 116:7,8

3e tafel: Lofverheffing; Ps 116:9,10

Dankgebed

Teks: Handelinge 4:32-37

Preek

Ps 72:2

Gebed

Kollekte

Ps 72:6,8

Seën