Wat is goeie werke?

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-12-02
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 33 vraag en antwoord 91
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 33 v/a 91

As ‘n mens aan willekeurige persone op straat, of in die winkelsentrum, die vraag sou vra: Het jy die afgelope week iets goeds gedoen? Dan dink ek dat die meeste mense ja sal antwoord. Hulle het dalk geld aan ’n bedelaar geskenk. Hulle het dalk ’n ou familielid versorg. Hulle het dalk iemand gehelp wat ’n pap wiel gehad het. Hulle het, noem maar op. Vanaand kyk ons na wat goeie werke is. Sondag 33, vraag en antwoord 91 gee ’n Skriftuurlike definisie daarvan. As mens hierdie definisie toepas, dan kom die vraag op ons af: Is dit wat mense, en ook: is dit wat onsself dikwels as ’n goeie daad beskou, ook werklik goed vanuit Bybelse oogpunt? Watter maatstaf lê die Bybel vir wat goed is?

Kom ons kyk vanaand na goeie werke. Gevoed en verkwik aan die nagmaal, mag ons gretig hierdie week ingaan, gewillig en bereid om goeie werke te doen.

Tema: Wat is goeie werke?

1 Twee namaak boustene

2 Drie egte boustene

Daar is verskillende Bybelgedeeltes wat ons gaan lees.

By elke bousteen sal aangedui word wat gelees gaan word.

1 Twee namaak boustene

1.1 Goeie werke wat op ons goeddunke berus

In verband met hierdie namaak bousteen wil ek met u Jesaja 29:13-16 lees:

“Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ‘n aangeleerde mensegebod is, daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil. Wee hulle wat planne diep verberg vir die HERE, wie se werk in duisternis plaasvind; en hulle sê: Wie sien ons en wie ken ons? o Julle verkeerdheid! Of moet die pottebakker beskou word as klei, dat die maaksel van sy maker kan sê: Hy het my nie gemaak nie, en die vormsel van sy vormer kan sê: Hy het geen verstand nie?”

Wat die HERE hier aan sy volk deur Jesaja sê, moet ons ook ter harte neem.

Het ons, soos God se volk destyds, deur die jare ’n kultuur geskep, ’n bepaalde manier van God dien, wat, nader beskou, nie meer heeltemaal in ooreenstemming met God se wil is nie? Wat aan die einde van die dag nie meer is as ’n mensegebod nie? Dan moet ons ons denke en lewenswyse hervorm. Want ons goeie werke moet nie op ons eie goeddunke gebaseer wees nie. Dink aan koning Saul. Volgens sy eie mening was hy vrygewig na God toe. Hy het genoeg offers gebring. Maar sy eie mening het wel die botoon gevoer. God het dus vir hom gesê: Gehoorsaamheid is beter as slagoffers. Om te luister is beter as die vet van ramme. Ook vandag redeneer mense soms so. God verstaan my wel. God keur dit wel goed.

En dan kan dit oor uiteenlopende dinge gaan. Huwelik, egskeiding, Sondagsheiliging, geldbesteding, tydsbesteding, gesondheid, noem maar op.

So elkeen moet homself elke keer weer afvra: Is my goeie werke gebaseer op God se wet, of op my eie mening? Die profeet Jesaja waarsku ons: Durf jy jou eie mening op een lyn te stel met God se wil? Is jy so vermetel om te meen dat God jou wel sal verstaan en jou gedrag wel sal goedkeur? Dan begin die klei homself gelykstel aan die pottebakker. Pas dus op vir die namaak bousteen van jou eie goeddunke. Dit was die eerste namaak bousteen.

Dan is daar nog ’n tweede, volgens v/a 91: 1.2 Goeie werke is nie op oorgelewerde gebruike van mense gegrond nie

In verband hiermee lees ons Esegiël 20:18-19: “Maar Ek het aan hulle kinders in die woestyn gesê: Wandel nie in die insettinge van julle vaders nie en onderhou nie hulle verordeninge nie en verontreinig julle nie met hulle drekgode nie. Ek is die HERE julle God; wandel in my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit.”

Hierdie teks waarsku ons om nie te dink dat vroeër alles beter was nie. Iets wat al lank in gebruik is, is nie daarom per sé goed nie. Iets wat jou oupa en ouma gewoond was om te doen, is nie daarom ’n goeie werk nie. Oorgelewerde gebruike op sig is nie ’n maatstaf of iets ’n goeie werk is nie.

Die Here Jesus het ons ook hiervoor gewaarsku, Mattheüs 15:8-9: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”  

In elke kerk is dit ’n dwaling wat op die loer lê: Dat ons begin dink dat oorgelewerde gewoontes op sig goed is. Laat elke generasie egter die tradisies, wat daar ook in die kerk is, toets aan die wil van God soos dit in sy Woord na ons toekom. In die kerk erf die nuwe generasie die gewoontes van die voorgeslag. Maar dit is hulle taak om dit aan die Skrif te toets.

Skriftuurlike gewoontes en tradisies moet bly. Enigiets meer mag nie verhef word asof dit skriftuurlik is, net omdat die voorgeslag dit gedoen het nie.

2 Drie egte boustene

2.1 Goeie werke kom voort uit ’n ware geloof

In Romeine 14:23 staan daar: “Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.”

Die boodskap wat uit hierdie teks tot ons kom, is dat ons hele lewe in beslag geneem moet word deur die geloof. Enigiets wat nie uit geloof gedoen word nie, is sonde. Geloof is nie net dit wat jy op Sondag doen nie. Dis ook die manier hoe jy jou kinders opvoed. Die manier hoe jy lewe met jou eggenoot. Die manier hoe jy met jou ouers omgaan. Die manier hoe jy met jou bure omgaan. Die manier hoe jy met die natuur omgaan. Jou koopgedrag. Alles uit geloof. ’n Daad wat nie uit geloof gedoen is nie, is dus nie die benaming ‘goeie werk’ werd nie. Die definisie van wat ’n goeie werk lê dus op ’n baie hoë vlak. Sonder geloof is daar geen goeie werke nie.

Nog ’n teks wat in hierdie verband relevant is, is Efesiërs 2:10: “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”

Hierdie teks leer ons dat ons nie ons saligheid met goeie werke verdien nie. Die feit dat ons goeie werke doen, daaraan gaan ’n verhaal vooraf. Dit mag ons nooit uit die oog verloor nie. Dit is die verhaal dat God jou eerste opgesoek het. Hy het jou in sy kerk geplaas. Hy het jou leer glo. Daarom skryf Paulus: Die goeie werke wat ons doen, dit het God eintlik al lank gelede in ons voorberei. Dus, hoewel ons dankbaar mag raaksien en erken: ons is in staat om goeie werke te doen, sê ons direk daarby: alles is genade!

Uit onsself sou ons nooit sover gekom het nie. Dit is die genade van God!  Juis dit is ’n ware geloof, as jy vanuit jou hart besef en bely: Alles is genade! Soos Calvyn ’n keer gesê het: Dit is genade alleen, maar genade bly nie alleen nie. Dit wil sê, hy aan wie genade bewys is, gaan uit dankbaarheid oor tot die doen van goeie werke.

Ons kom nou by die tweede egte bousteen:

2.2 Goeie werke is in ooreenstemming met die wet van God

Ons lees in 1 Samuël 15:22: “Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.”

As mense is ons baie goed daarmee om net selektief te luister. As ’n pa byvoorbeeld vir sy seun sê: Wil jy vandag asseblief al die blare rondom die huis opvee. En die seun is nou nie so lus om dit te doen nie, en hy doen die werkie maar so half half. Hy vee die blare so bietjie in die deddings in, en gaan gooi dit nie op die komposhoop nie. En as sy pa terugkom by die huis en vra hoekom die werkie nog nie klaar is nie, dan antwoord sy seun: Ek het blare gevee! Maar die seun weet baie goed dat sy pa meer verwag het.

So iemand was koning Saul ook. Hy het net half geluister, selektief, soos dit hom gepas het. Aan die een kant was hy heel vroom en skynheilig. Maar hy het nie ag gegee op die bedoeling van God se woorde nie. Goeie werke moet altyd in ooreenstemming met God se wil wees. God se wil vind ons in sy Woord, soos dit kort en bondig saamgevat is in sy wet. ’n Goeie werk moet altyd in ooreenstemming wees met sy wet. Ons kom later weer by God se wet terug. Eers nou die derde bousteen:

2.3 Goeie werke is altyd tot God se eer

Ons lees in 1 Korinthiërs 10:31: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”

Hierdie is die derde vereiste vir ’n goeie werk. Ek herhaal net weer:

1) Uit geloof

2) Volgens God se wet

3) Tot eer van God.

Laat ek ’n voorbeeld noem. ’n Bekende sanger kondig aan dat hy al die opbrengste van ’n konsert wat hy gaan hou, dat hy dit sal skenk vir ’n weeshuis. Is dit nie ’n edele daad nie? Jaseker, maar kan mens dit ’n goeie werk noem? Dan moet ons dus ook die vraag vra: Doen die persoon dit tot eer van God? Of doen hy dit veral ter wille van sy eie reputasie? As ’n daad tog uiteindelik net om jouelf draai, en dit word nie gedoen tot eer van God nie, dan is dit nog nie ’n goeie werk in Bybelse sin nie. Christus leer ons in sy Woord dat ons voor alles God moet liefhê, en daarna ons naaste soos onsself. As dit nie jou dryfveer is nie, dan is jou dade nie aangenaam voor God nie. Sommige mense neem deel aan die lotery, en as jy hulle vra of dit reg is wat hulle doen, sal hulle vir jou sê: Ja maar die lotery skenk ook ’n deel van die geld aan goeie doele. Is dit daarom geregverdig om aan die lotery deel te neem? Sondag 33 help ons om hierdie beter te verstaan: As jy geld skenk, nie tot eer van God, nie uit liefde vir God en jou naaste nie, maar uiteindelik om self beter daarvan te wil word, dan kan dit nie ’n goeie werk genoem word nie. Deelneem aan die lotery is gemik op jou eie geluk. Die feit dat die lotery ’n bietjie geld gee aan goeie doele, verander niks daaraan nie. Waar is jou persoonlike betrokkenheid by liefdadigheidsorganisasies, as jy sogenaamd via die lotery geld skenk? Die lotery is eiebelang, dis nie liefde vir God en jou naaste nie.

Dinge, selfs goeie dinge, wat uit selfsug gedoen word, behaal uiteindelik die omgekeerde resultaat. Paulus noem so ’n voorbeeld in sy brief aan die Korinthiërs:  “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” (1 Kor 10:31) Waaroor praat Paulus hier? In Korinthe was daar ’n diskussie in die kerk oor die eet van offervleis. In daardie tyd was dit baie gewoon vir die bevolking om elke week ’n offer aan die gode te bring. Die mense in Korinthe het na een van die vele tempels gegaan en ’n offer gebring: ’n bees of skaap, hoender, duif, noem maar op. Die dier is daar volgens die regte rituele geoffer. Hierdie offers was egter nie brandoffers, wat die vleis verbrand het nie. Die vleis is gaargemaak, en die mense mog dit vervolgens self opeet. Van die vleis wat oorgebly het, is ook verder by die slaghuise verkoop.

Nou was daar ’n diskussie in die kerk in Korinthe, of Christene daardie vleis mog eet. Mog die gelowiges, wat dus nie meer by die tempels offers gebring het nie, mog hulle wel sulke oorgeblewe offervleis koop en saam huis toe vat om dit daar te eet? As hulle in die slaghuis was, moes hulle eers navraag doen of iets offervleis was, wat van die tempel af gekom het? Of was dit nie nodig nie? Hieroor het daar verdeeldheid in die kerk van Korinthe ontstaan. Sommiges het gesê: Mens moet ver van sulke offervleis af wegbly.

Dit is sondig om vleis wat op die altaar van ’n afgod gelê het, te eet. Maar daar was ook gemeentelede wat anders gedink het. Hulle het, volgens hulle eie mening, ’n sterker geloof gehad. Hulle het selfs ’n Bybelvers gebruik vir hulle argument. Want, het hulle gesê, aan die einde van die dag bly dit tog gewoon vleis? Dink aan wat daar in Psalm 24 staan: “Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan” (vers 1). Daar is maar een God, die ware God. Afgode bestaan nie. Dus, vleis wat aan afgode geoffer is, kan mens rustig eet. Dit is tog ook vleis wat deur die enige ware God geskape is! Mens mag dus daarvan gebruik maak.

Wat was die apostel Paulus se antwoord hierop? Het Paulus kant gekies in hierdie diskussie? Natuurlik, het Paulus geskryf, die een groep is reg, daardie groep wat meen hulle het so ’n sterk geloof. Natuurlik behoort die hele aarde aan die HERE. En natuurlik het niks aan die offervleis verander nie, want die afgode bestaan nie. Maar, het Paulus vir hulle gevra: Hoekom eet julle eintlik daardie vleis? Hoekom spog julle dat julle dit eet, hoekom vertel julle dit vir almal? Is dit om God te eer? Of is dit om die ander te beïndruk met julle sterk geloof? Doen jy dit om te pog, of word jy gedryf deur liefde vir God en jou naaste? Want wie sy naaste liefhet, sal nie aanstoot wil gee nie. Laat ons nie, skryf Paulus in vers 33, ons eie belange en voordeel soek nie. Maar laat ons dryfveer wees om ook ander te red.

Gemeente, verstaan u wat hierdie derde vereiste vir ’n goeie werk is? Dit moet wees tot eer van God. ’n Sanger wat baie geld skenk aan ’n weeshuis, natuurlik baat ’n weeshuis daarby. Maar in Bybelse sin kan mens dit nog nie ’n goeie werk noem nie. Dit is naamlik nie tot eer van God gedoen nie.

In Sondag 9 van die Kategismus bely ons dat God by magte is om selfs die kwaad te laat meewerk ten goede. Dus, God kan dinge, wat met verkeerde motiewe gedoen is, tot gebruik en sorg dat dit ’n goeie uitwerking het. Maar dit neem nie weg dat God die verkeerde houding afkeur. Want op die lang  duur bou ’n verkeerde houding nie op nie. Dit is die gevaar wat Paulus ook in Korinthe raakgesien het. Mense wat in volle geloofsversekerdheid offervleis geëet het. Maar ondertussen het hulle optrede wel veroorsaak dat ander twyfels begin kry het. In ons kerklike lewe kan ons ook hiervan leer. Laat ons oog hê vir die swakkes. Laat ons sorg dra dat hulle nie struikel as gevolg van ons optrede nie.

Ons het vanaand gekyk na twee namaak, en drie egte boustene vir ’n goeie werk. Die norm vir goeie werke is die wet van God. Die bron van goeie werke is ’n egte deurleefde geloof. Die bron van geloof is Christus. Wie op Hom ingeplant is, doen goeie werke. Die doel van goeie werke is die eer van God, die welsyn van ons naaste en God se skepping.

Alles is genade. Elkeen aan wie genade bewys is, begin vrug dra. So mag ons, aan wie genade bewys is, ons wat vandag gevoed en verkwik is deur Christus, met blydskap en dankbaarheid die nuwe week ingaan, van harte gewillig en bereid gemaak om voortaan vir Hom te lewe!

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 24:1

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Ps 24:2

1e tafel: Skriflesing: 1 Korinthiërs 10:14-33; Ps 24:3

Danksegging

Gebed

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 33 v/a 91

Preek

Ps 15:1-5

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 50:11

Kollekte

Ps 116:7-10

Seën