Daar is geen onreg by God wanneer Hy die een uitverkies en die ander verbygaan nie.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-05-14
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 16
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 16

Ds C Kleijn - Sondag 14 Mei 2006

Lees: Romeine 8:28-39; Romeine 9:6-33;
Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 16.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 89:1; Ps
89:6,7 (by Heilige Nagmaal); Ps 33:1,6; SB 24:1,2,3; SB 24:6,7.

Tema: Daar is geen onreg by God wanneer Hy
die een uitverkies en die ander verbygaan nie.

Let maar op God se bemoeienis

  1. met Israel; en
  2. met Farao

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Deur die sonde van die eerste mens is die hele menslike geslag
in die verderf en ondergang gestort. Dis die uitgangspunt van ons
artikel. Daarby sluit ons artikel aan by die voorgaande artikels.
In Adam het alle mense gesondig en hulleself in die verderf
gestort. Dood deur die misdade en sondes, dit tipeer van nature
elke menslike wese. En van ’n dooie kan jy nie verwag dat Hy
God uit homself sal soek en dien nie. Die mens het mos teen God
gekies? Hulle het vriende van Satan geword en vyande van God.

Wat doen God in daardie troostelose situasie, sonder hoop en
sonder uitsig? God draai nie sy rug om elders ’n nuwe begin
te maak nie. God gryp in. Hy betoon Hom as die barmhartige en
regverdige God. Omdat Hy barmhartig is kies Hy sommige mense in
Jesus Christus uit en trek en verlos hulle daardeur uit hulle
verderf. As regverdige God laat Hy ander mense in die verderf
waarin hulleself gewerp het. So sien ons dat God voortdurend
skeiding tussen die mense maak. Dit begin al in die gesin van
Adam en Eva. “Die Here het vir Abel en sy offer aangeneem,
maar nie vir Kain en sy offer nie” (Gen 4:4,5). Dis
opvallend dat daar van Kain gesê word dat hy nie geglo het nie,
dat hy aan die Bose behoort het en sy dade sleg was. In Romeine 9
sien ons dat God selfs onder die verbondsvolk onderskeid maak.
Daar is die skeiding tussen Ismael en Isak en Jakob en Esau. Nie
elkeen wat in die verbond grootword kom tot geloof nie. Sommiges
verwerp die verbondsbeloftes. Nie elkeen word gered nie. Net
hulle wat deur God se kragdadige beloftewoord tot geloof gebring
word, word gered, net hulle wat God in sy soewereine welbehae
uitverkies het.

Geliefdes, die vraag kan opkom: is dit eerlik dat God so
’n onderskeid onder die mense maak, dat Hy sommiges kies en
ander verbygaan? Is dit eerlik dat God, soos ons lees in Romeine
9 barmhartig is oor wie Hy wil en verhard wie Hy wil? Is alle
mense nie ewe sondig nie? Tog behandel God hulle verskillend. Hy
is barmhartigheid oor sommiges en Hy verhard ander, net omdat Hy
dit so kies. Is God dan nie onregverdig nie?

Geliefdes, hierdie vraag kan net in die geloof beantwoord word,
as jy jou nederig aan God se woord onderwerp. Dan laat jy jou nie
lei deur jou sondige, menslike verstand en gevoelens nie om dan
God daarvolgens van onreg te aan te kla nie. Dan laat jy jou deur
God self lei, God wat volkome regverdig is in al sy weg en werk.
So wil ons dan luister na wat die Here vir ons sê in Romeine 9.

Ek verkondig vir julle: daar is geen onreg by God wanneer Hy
die een uitverkies en die ander verbygaan nie. Let maar op God se
bemoeienis met Israel en met Farao.

Paulus is duidelik daaroor. In antwoord op die vraag: Is daar
miskien onreg by God? Skryf Paulus: Nee, stellig nie! Dit is
absoluut onmoontlik. Sonder enige twyfel kan gesê word: as God
sy kinders kies en ander verbygaan is daar geen sprake van onreg
by God nie.

Paulus laat dit nie daarby nie. Hy bewys dat dit waar is dat
God geen Israel veronreg het nie. Paulus doen dit deur daarop te
wys hoe God Hom aan Moses bekendgemaak het. Die Here het hom so
bekendgemaak: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil
wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. Die Here het Moses
laat weet dat alles van sy ontferming afhang.

Maar hoe kan jy daaruit konkludeer dat daar by God geen onreg
is nie? God is barmhartig oor wie Hy barmhartig wil wees. Maar
dis presies ons probleem. Gee dit nie die indruk dat God nie
eerlik is nie deur sommige barmhartig te wees en ander nie?

Maar geliefdes, God se selfopenbaring aan Moses bewys terdeë
dat daar geen onreg by God is nie, ook wanneer Hy volgens sy eie
keuse sommiges roep en ander verbygaan. Om dit te sien moet jy
besef wanneer God hierdie woorde gespreek het. God het die woorde
gespreek onmiddellik nadat die Israeliete ernstig gesondig het
deur die goue kalf te maak. God het sy volk met ’n magtige
arm uit Egipte uitgelei. Hy het hulle by die berg Sinaï gebring.
Daar het Hy hulle sy tien gebooie gegee en sy verbond met Israel
bevestig.

Na al die gunsbewyse het die volk God se liefde afgewys. Hulle
het teen die Here en sy woord gekies. Deur die goue kalf te maak
en te aanbid. Aanvanklik het die Here gesê dat Hy sy volk wou
uitroei. Maar Moses het vir hulle gepleit en die Here het na
Moses geluister en sy volk gespaar. Maar die Here wou nie in eie
Persoon met hulle saamgaan Kanaän toe. Vanweë hulle sondes sou
hulle God daartoe bring om hulle asnog te vernietig. Toe het
Moses opnuut vir sy volk gepleit. Sonder die Here se
teenwoordigheid sou dit sinloos wees om verder te gaan. Toe
gebeur daar iets wonderliks. Die Here staan die versoek toe. Dit
wat onmoontlik was gebeur: die heilige God vernietig nie sy volk
nie. Hy gaan weer saam met sy sondige volk, sonder dat hulle deur
sy heiligheid verteer word.

Hoe is dit moontlik? Die Here vertel hoe dit moontlik is deur
sy naam bekend te maak: Ek sal genadig wees vir wie Ek genadig
wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm (Ex 33:19). Dis
die naam waarmee die Here in die toekoms bekend wil wees. Dis hoe
Hy saam met sy volk wil gaan as die God wat genadig sal wees vir
wie Hy genadig wil wees. In daardie naam onthul God die geheim
van sy teenwoordigheid. Dis omdat Hy so is dat Hy met sy sondige
volk kan saamgaan sonder om hulle te verteer vanweë hul sondes.
In daardie naam wys die Here: net deur my genade is die
onmoontlike moontlik. Dis ’n onverdiende guns. Daar is niks
aan Israel se kant wat God daartoe verplig nie. Inteendeel! as
dit van hulle afgehang het sou God hulle met reg uitgewis het.

Ek sal genadig wees vir wie Ek genadig wil wees. Dit beteken:
as kind van God dank jy jou bestaan aan God se genade. Jou
posisie en voorregte is net ’n gevolg van die genade wat God
vrylik gekies het om te gee. Net so gebeur die onmoontlike: God
se volk kan met sy God verder gaan. Omdat God besluit het om vir
hulle genadig te wees.

Geliefdes dit is vandag nog so. In Romeine 9:16 sê Paulus:
“So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een
wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.” Dalk wil jy
van alles doen om God se seën te verkry. Hard werk en goeie
dinge kies. Maar dit hang nie daarvan af nie. Ook al is dit
natuurlik wel belangrik dat jy dit doen, goeie keuses maak en
hard werk. Die Here vra dit van jou. Hy wil hê dat ek my redding
wys deur goeie werke te doen. Daarvoor het Hy my mos verkies en
verlos, sodat jy voor Hom in liefde heilig sou lewe.

Maar ook al moet ek goeie werke doen, ek kan nooit by die Here
spesiale regte opeis nie. die Israeliete kon dit nie doen nie. Ek
kan nooit maak asof God my sy guns skuld, asof God my Christus
skuld vanweë my goeie keuse of goeie werke. Die keuse om my te
red is heeltemal God se keuse. Puur genade. God is dit op geen
enkel manier aan iemand verplig nie. Hy is volkome vry daarin om
barmhartigheid te wys oor wie Hy barmhartigheid wil bewys. Na die
sondeval het geen enkele mens reg daarop nie. Ons staan mos almal
skuldig voor God aan die ewige oordeel onderworpe. Daarom sou God
niemand veronreg het as dit sy wil was om die hele menslike
geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die
sonde te veroordeel nie. Wie durf dan God van onreg te beskuldig?
Wie durf dan om dit oneerlik te vind wanneer God vir sommiges wat
die ewige dood verdien het, genadig is?

God se keuse hang heeltemal af van God se genade. Dit blyk ook
uit God se bemoeienis met Farao. Dis die tweede gedagte.

Paulus vervolg:”Want die Skrif sê aan Farao: Juis
hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon
en dat my Naam verkondig kan word op die aarde.” Dis wat
Moses vir Farao moes sê nadat God Egipte reeds met 6 plae
gestraf het. ondanks die 6 plae het Farao aan die mag gebly. Hy
het geweier om na God te luister en Israel te laat gaan. Farao
moet egter nie dink dat dit vanweë sy eie krag is dat hy dit so
lank volgehou het nie. Voordat die Here die laaste plae stuur
bevry Hy Farao van die waan. Hy laat Moses vir Farao sê: moenie
dink dat jy nog leef en regeer omdat Ek die Here jou nie kan
oormeester nie. As ek dit wou hê, sou ek jou lank al vernietig
het. dat jy dit tot nou toe volgehou het, is net omdat ek dit so
wou hê. Ek alleen het jou lewe en mag gegee. Ek het dit vir
’n spesiale doel gedoen. Omdat Ek my mag wou toon. Ek wou
dit gebruik om vir die hele wêreld my groot krag te wys.
“Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat ek in jou my krag
kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde.”

Broers en susters, uit die geskiedenis wat gevolg het weet
julle hoe God dit gedoen het. die Here het sy almagtige krag
getoon deur uiteindelik Farao se hardnekkige teenstand te breek.
Hy het dit gedoen deur elke eersgeborene in Egipte dood te maak
en deur Farao se hele leer in die Skelfsee te laat verdrink.
Daardeur het God bereik dat Hy vir Homself ’n Naam gemaak
het deur die hele wêreld. Die nuus het versprei. Die volke het
daarvan gepraat. En die inwoners van Kanaän, Moab en Edom het
gesidder. Dis wat die Here wou bereik. Daarom het Hy Farao
aanvanklik sy gang laat gaan as sy teenstander. Daarom word selfs
gesê dat God Farao se hart verhard het. God het hom heeltemal
laat verstrik in sy hardnekkige verset sodat hy nie na die Here
wou luister nie. So kon God uiteindelik sy mag des te skerper
toon.

Maar geliefdes, was dit reg van die Here? Het Hy Farao nie tot
’n onskuldige slagoffer van sy planne gemaak nie, deur dit
vir hom onmoontlik te maak om na sy woord te luister? Die Here
het inderdaad Farao se hart verhard. Die Here was in beheer.
Tegelykertyd sê die Bybel dat Farao sy hart verhard het. dit was
ook sy eie daad waarvoor hy verantwoordelik was. Dit was dus
beide die werk van die Here en Farao se eie werk waarvoor hy
verantwoordelik is. Dis iets wat ons moeilik kan verstaan. Hoe
kan dit beide God se werk en Farao se werk wees? Dis omdat God
God is, die almagtige Skepper en Regeerder. En Farao is mens,
’n skepsel van God. God het sy skepsel so gemaak dat Hy om
kan laat doen wat Hy wil. Maar God doen dit op so ’n manier
dat dit nog die werk van die skepsel bly waarvoor hy
verantwoordelik is. God se almag is hier ruimte skeppend van aard.
Hy laat sy teenstanders doen wat hulle ten diepste self wil doen.
Hy laat hulle volgens hul sondige aard optree net solank en sover
as wat Hy bepaal.

Laat dit duidelik wees dat Farao beslis geen onskuldige en
tragiese slagoffer is nie. God het hom werklik nie teen sy eie
wil laat gebruik nie. God het hom nie misbruik vir sy eie
doeleindes nie. Farao se verharding bly sy eie sonde. Hy wou nie
anders nie. Farao is dan ook gestraf vanweë sy eie sondes. God
was volkome regverdig.

Luister na wat Paulus in die verse 19 ev sê: Jy sal vir my
sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan? As
dit waar is dat niemand God se wil kan weerstaan nie – en
dit is waar – dan kan God Farao en ander tog nie blameer vir
wat hulle doen nie? dit lyk logies. Maar dit ontken dat God God
is en die mens mens. dit ontken dat God in die uitvoering van sy
planne altyd die mens se eie verantwoordelikheid inskakel. Mense
bly verantwoordelik vir hul dade.

Paulus se reaksie op die beswaar van vers 19 waarom verwyt God
dan nog as niemand sy wil kan weerstaan nie, is opvallend. Paulus
gee nie ’n direkte antwoord nie. al wat hy doen is om jou a
mens op jou plek te sit. Hy sê: wanneer jy so praat dan ken jy
jou plek nie. dan dink jy beter as God dit weet. Dan suggereer jy
dat jy ’n swakheid of fout by God kan vind in sy bemoeienis
met mense. Hierdie fout naamlik dat God ten onregte mense nog
verantwoordelik hou. Maar as jy dink dat jy beter as God weet dan
vergeet jy wie jy is. Dan ken jy nie jou eie plek nie, dat jy net
’n onbeduidende en sondige skepsel is teenoor die almagtige
en volmaak wyse Skepper. Dink jy dat jy onreg in God se optrede
kan aanwys? Jy klein en onbeduidende skepsel, wie is jy eintlik
dat jy teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker
sê: Waarom het u my so gemaak nie? Paulus vergelyk ons dan met
’n erdepot. Die pottebakker is vry om uit sy klomp klei te
maak wat hy wil. Kan jy ’n kleipot voorstel wat teen sy
pottebakker antwoord? Dis absurd. Dieselfde geld in die
verhouding tussen God en die mens. wanneer jy teen God antwoord
dan het jy vergeet wie jy is. Dan het jy vergeet dat jy net
’n skepsel is en wel ’n sondige skepsel, wat die ewige
dood verdien het. God sou niemand veronreg het nie as hy elke
mens as voorwerpe tot oneer gemaak het, as voorwerpe van sy toorn,
toeberei vir die verderf. Dis mos presies wat elke sondige mens
verdien het?

As jy teen God antwoord dan ignoreer jy nie net wie jy is nie,
maar ook wie God is, dat Hy die almagtige en regverdige God is,
wat met sy sondige skepsels kan doen wat Hy wil. Dan wys jy dat
jy nie bereid is om jou eie plek te aanvaar nie. Feitelik wil jy
soos God wees. Dit was die sonde in die paradys. Die mens was nie
tevrede met sy posisie nie. ja, wie is jy dat jy teen God sou
antwoord.

Gemeente, uit God se bemoeienis met Farao kan julle sien hoe
vry God is in sy barmhartigheid. Jy kan ook sien wat ’n
ongelooflike voorreg dit is wanneer God wel genade vir jou wys.
God sou alle reg het om my die genade te onthou. Hy is dit aan
niemand verplig nie. Hy het alle reg om elke mense hart te
verhard, om elkeen ongevoelig vir die evangelie te laat. uit
hulleself is sulke mense niks slegter as die gelowiges nie. hulle
word nie verwerp omdat hulle sondiger sou wees nie. want dan sou
God se genade van die mens se dade afhanklik wees. Maar God se
keuse hang net af van God self. Hy is barmhartig oor wie Hy wil
en Hy verhard wie Hy wil.

Tog kan geen mens hom oor iets aankla nie. wanneer God iemand
verwerp, laat Hy in feite so ’n persoon in sy eie sonde
waarvoor hy gekies het en waarvoor hy verantwoordelik bly.
Wanneer God mens straf, straf Hy altyd vir hul eie sondes.
’n Mens word verwerp vanweë sy eie sondes. Hy kry wat hy
verdien. Soos die Jode wat Christus verwerp het gekry het wat
hulle verdien. Hulle wou nie deur geloof die lewe ontvang nie,
maar hulle wou dit deur eie prestasie verdien.

Geliefdes, teen hierdie agtergrond word dit duidelik hoe
bevoorreg jy is wanneer God oor jou barmhartig is. Hy is dit op
geen enkele manier verplig. Hy was volkome vry om jou in jou
sonde en ellende te los. Indien Hy dit sou gedoen het was Hy
volkome regverdig. Soos alle ander mense het ek mos die doodstraf
verdien. Maar uit sy vrye wil het God gekies om my in Christus te
red.

Wanneer jy dit besef praat jy nie van onreg by God nie. Nee,
al wat jy kan en wil doen is jou voor God buig in eerbied en
ontsag. Al wat jy wil doen is God aanbid as jou barmhartige en
regverdige Verlosser.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)