Die groot vraag vir beide die kerkman en die sondares

Predikant: 
Ds AJ de Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-11-25
Teks: 
Lukas 7
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van die Here Jesus Christus

Die evangelis Lukas vertel vir ons die merkwaardige geskiedenis van 'n ontmoeting van die Here Jesus met twee mense wat baie uiteenlopend is: 'n Fariseër met die naam Simon, en 'n vrou van wie ons die naam nie weet nie.

Die optrede van die vrou is 'n verleentheid vir almal, behalwe vir die Here Jesus.

Simon, 'n belangrike man in kerk en volk, is iemand met wie ons baie makliker kan identifiseer, maar juis hy word deur die Here tereggewys.

In hierdie geskiedenis sien ons hoe ons Heiland die evangelie bring aan hierdie twee mense, maar elkeen kry die evangelie op 'n manier wat toegepas word op sy of haar eie persoonlike situasie.

Die sentrale vraag blyk te wees: Hoe voel jy oor Jesus Christus? Wat glo jy van Hom? Het jy Jesus van Nasaret lief?

Dit is dan ook die vraag wat deur hierdie teks na ons toe kom!

Tema: Die groot vraag vir beide die kerkman en die sondares…

Kom ons begin by die begin. Die evangelis Lukas neem ons na 'n onbekende stad iewers in Israël, en hy stel 'n sekere Fariseër aan ons voor met die naam Simon.

Hierdie Simon, brs en srs, is nogal iemand met wie 'n mens jou kan vereenselwig.

Hy is nie soos baie ander Fariseërs wat Jesus haat nie. Hy is nie so verkramp soos sommige kollega’s wat meen dat 'n mens niks met Jesus van Nasaret te doen mag hê nie.

Binne die groep van die Fariseërs is Simon sekerlik 'n simpatieke persoon. Hy is ruimdenkend. Hy is oopkop.

Simon reken soos volg: Jesus is 'n populêre prediker en dit kan tog nie ontken word dat Hy wonderdade doen nie. Of hy werklik 'n profeet is, is 'n ander vraag, maar die beste manier om uit te vind is om Jesus self te ontmoet.

Simon reken dit sal nie kwaad doen om Jesus vir ete te nooi nie. Van sy kollega’s sal hom miskien kritiseer daaroor, maar Simon is iemand wat glo dat 'n oop en eerlike gesprek beter is as om agter Jesus se rug om oor hom te skinder. Bowendien sal hy aan sy kollega’s kan verduidelik dat hy nie 'n volgeling van Jesus geword het nie. Hy sal Jesus nooi en Hom ontvang in sy huis, maar tegelyk ook die nodige afstand bewaar.

So word ons Heiland dan ontvang in die huis van Simon in 'n atmosfeer wat as hoflik en tegelyk afstandelik getipeer kan word. Hy word verwelkom met die gewone gasvryheid maar dit is duidelik dat Simon nie uit sy pad gaan om Jesus te ontvang as 'n besonderse gas nie. Daar is geen water vir Jesus om sy voete te was nie. Simon ontvang Hom ook nie met die gebruiklike Joodse omarming en soengroet nie, en Jesus kry ook nie 'n bietjie olie om homself te verfris nie. Op hierdie manier handhaaf Simon 'n fyn balans tussen te veel en te min gasvryheid betoon.

Laat ons daarop let dat die Here Jesus die uitnodiging van Simon aanneem. Wat dink u is aangenamer vir die Here: om te eet met tollenaars en sondaars, of om te eet met Fariseërs? Die antwoord is nie moeilik nie. Tollenaars en sondaars is eerlik, hulle het nie verborge agenda’s nie, en hulle is deurgaans dankbaar teenoor die Here Jesus. Hy ontvang liefde en waardering by hulle. Maar by Fariseërs is daar ondanks die uiterlike hoflikheid 'n verborge afstand, 'n houding van beoordeling en dikwels veroordeling. 'n Mens moet oppas wat jy sê as jy in hulle geselskap is!

Nogtans soek die Here Jesus ook die redding van Fariseërs. Hy is bereid om homself in die onaangename situasie te begewe en die implisiete vernedering te ondergaan. Hy soek die goeie ook vir hulle. Ook uit die groep van die Fariseërs is daar sommige wat deur Hom gekies is en gekies sal word om sy eiendom te wees.

So gebeur dit dan dat die Here Jesus 'n gas is in Simon se huis. Dit is 'n deftige geleentheid. Die gaste lê op tipies Joodse wyse op rusbanke rondom die tafel. Waarskynlik was daar 'n aantal van Simon se kollega’s ook teenwoordig. Dienaars beweeg in en uit om die gaste van die nodige kos en drank te voorsien. Die gesprek kom op gang. Simon is tevrede. Dit lyk asof die ontmoeting 'n sukses gaan wees.

Na 'n rukkie voel Simon dat die tyd ryp is om Jesus 'n bietjie te toets en 'n moeilike teologiese kwessie op die tafel te plaas. Skielik word die rus egter versteur. 'n Vrou kom in die eetsaal in en gaan staan by die rusbank waarop Jesus lê. Tot sy afgryse moet Simon konstateer dat hy hierdie vrou herken. Sy staan in die stad bekend as 'n sondares, en as dit so omskryf word, dan mag ons maar aflei dat sy 'n publieke vrou was, 'n prostituut. Hierdie vrou kom staan by Jesus se voete en dit is duidelik dat sy in 'n emosionele toestand is. Sy kan nie ophou huil nie, met haar trane maak sy Jesus se voete nat. Dan droog sy Jesus se voete af met die hare van haar kop, sy soen sy voete en salf dit met 'n lekkerruik-olie wat sy saamgebring het in 'n albaste botteltjie.

Die gaste skuif ongemaklik rond op hulle sitplekke. Die optrede van hierdie vrou is 'n verleentheid. Die manier waarop sy optree is nie normale eerbetoon nie. Dit is buite alle proporsies! Simon bekyk die gebeure en wonder of hy moet optree. Moet hy dalk een van sy dienare roep om die vrou te verwyder en haar miskien na 'n waskamer te vat dat sy tot haar sinne kan kom? Hy sien egter dat Jesus glad nie verleë is oor die optrede van die vrou nie. Dit lyk asof Hy selfs waardering het vir wat sy doen.

Ja, die Here Jesus weet wat Simon nie weet nie. Die Here weet dat hierdie vrou 'n sondares was, maar dat sy tot bekering gekom het deur sy prediking van die evangelie. Die Here sien in hierdie vrou twee dinge wat Hy geweldig waardeer.

In die eerste plek sien Hy die diepe berou wat sy het oor haar sondes. Haar trane spreek boekdele, meer as wat woorde sou gedoen het. Die Here Jesus sien in hierdie vrou die gebroke gees, die verslae hart waarvan Dawid gepraat het na sy sonde met die vrou van Uria (Ps. 51:19). As die hemelse Vader dit nie verag nie, hoe sou Jesus dit dan kon verag?

Die tweede wat Jesus sien, is haar liefde vir Hom. Dit is wat Hy later ook sê vir Simon: "Sy het baie liefgehad" (vs. 47). Dit is nie erotiese liefde nie. Dit het niks te doen met die liefde wat sy jarelank aan die mans van die stad verkoop het nie. Haar liefde vir Jesus is dankbaarheid. Hier is 'n vrou wat jarelank gevoel het sy is niks werd in die oë van die mense en van God. En nou het Jesus haar laat besef en laat glo dat daar ook vir haar vergewing is by God. Miskien besef sy nog nie presies wie Jesus is nie, maar een ding weet sy vir seker: Sy het versoening met God ontvang. Daarom het sy Jesus hartlik lief. En al toon sy dan haar liefde op 'n manier wat vir die ander mense 'n verleentheid is, vir die Here Jesus is dit nie 'n probleem nie. Hier is iemand wat aan Hom behoort. Hierdie vrou is een van sy skape. Hoe sou Hy haar kon wegwys?

Intussen het die gasheer Simon die gebeure deurgekyk en sy konklusie getrek. Dit is vir hom duidelik dat Jesus nie besef wat hier gebeur nie. Jesus besef blykbaar nie dat hierdie vrou die stad se sondares is nie. Dit is die beste bewys dat Jesus nie die profeet is wat baie mense glo Hy is nie. As Jesus 'n profeet was sou Hy immers afstand bewaar het t.o.v. hierdie sondares?

Dan hoor Simon egter hoe Jesus met hom begin praat. "Simon, ek het iets om vir jou te sê." Die Here Jesus laat nie die geleentheid verbygaan om die sondige hart van Simon die Fariseër te soek nie. Die Here Jesus doen wat die Heilige Gees ook doen, naamlik om te oortuig van sonde (Joh. 16:8-9), om mense aan hulle sonde te ontdek sodat hulle tot insig en tot bekering kan kom.

Daarby is die Jesus die Seun van God wat in staat is om die harte te deursien. Waar ons geneig is om te veroordeel, kan Hy onverwags barmhartigheid toon. Waar ons geneig is om begrip te hê, kan Hy onverwags skerp wees. Hy sien meer as ons, en Hy is ook moediger as ons.

Die Here spreek Simon aan en die Fariseër is gewillig om te luister: "Meester, spreek." Ons moenie te veel in die aanspraak ‘Meester’ lees nie. Dit is maar die hoflike trant van die gesprekvoering wat Simon hanteer. In hierdie stadium is Simon nog in die kamp van die wat sê ‘Here, Here’ maar wat nie sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie omdat hulle nie die wil van God doen nie (Mat. 7:21).

Ons kom nou by die kern van die teks. Ons sien nou die Here Jesus terwyl Hy in hierdie situasie Homself as die Heiland van hierdie mense bewys. Hy rig Homself eers tot Simon die Fariseër, en daarna praat Hy ook met die vrou.

As Hy met Simon praat, moet ons daarop let dat dit vir die Here nie daaroor gaan om sy optrede t.o.v. die vrou te regverdig nie. Dit is miskien 'n onderdeel daarvan, maar dit gaan vir die Heiland veel meer daaroor om die Fariseër te laat ontdek hoekom sy houding teenoor Jesus verkeerd is. Dit is tog die groot vraag wat telkens gestel word: "Wat glo jy van die Christus? Wie sê julle is Ek?" (Mat. 16)

Wat die Here Jesus aan Simon sê, is in kort die volgende: Dit is waar dat hierdie vrou 'n sondares was, maar sy was 'n sondares. Sy het vergewing ontvang en 'n mens mag veronderstel dat sy berou het oor haar sondes. Wat sy gedoen het t.o.v. Jesus, was 'n uitdrukking van haar groot liefde teenoor haar Verlosser. As sy vergewing ontvang het – sy wat so 'n groot sondaar was – dan was dit te wagte dat sy haar Verlosser meer sou liefhê as ander mense en dat dit ook duideliker sou blyk. Daarom het Jesus haar bewys van dankbare liefde nie geweier nie maar aangeneem.

Daar is egter nog iets wat Jesus by Simon wil tuisbring. Simon dink dat Jesus nie ‘n profeet is nie. Maar in werklikheid is Jesus meer as 'n profeet! Hy het mag ontvang om sondes te vergewe. In plaas van om Jesus te probeer beoordeel, moet Simon so ver kom om homself aan Jesus oor te gee as sy Verlosser. Beoordeling moet verander na oorgawe.

Om hierdie boodskap by Simon tuis te bring, begin die Here Jesus deur 'n gelykenis aan hom te vertel.

'n Man het twee mense gehad wat hom geld skuld; die een 500 pennings, die ander 50. Terloops, 'n penning (Grieks: denarius) was omtrent die dagloon van 'n arbeider. As ons dit in vandag se terme wil vertaal, kan ons sê dat die een man hom 'n bedrag geskuld het wat gelyk staan aan twee jaar se salaris. Die ander man het hom ongeveer twee maande se salaris geskuld, wat ook 'n aardige bedrag is maar natuurlik nie vergelyk kan word met die eerste man se skuld nie. Dit blyk toe dat nie een van die twee in staat is om die geld terug te betaal nie, en die skuldeiser besluit om altwee se skuld af te skryf.

Natuurlik was hulle altwee baie bly daaroor, maar wie van die twee sal die meeste bly gewees het? Natuurlik die een wat die meeste skuld gehad het, sê Simon, en hy is reg.

Nou, voordat ons by die les kom wat die Here daaruit trek vir Simon, is dit goed om 'n oomblik stil te staan by die gelykenis en wat ons daaruit leer. Die ou Skrifkenner Matthew Henry noem vyf dinge in hierdie verband:

Hierdie gelykenis leer vir ons dat sonde 'n skuld is. As sondaars het ons 'n skuld by God. Ons was verplig om Hom bo alles lief te hê. Ons was ook verplig om die ander mens lief te hê soos ons onsself, maar ons het nie een van die twee gedoen nie. Daarom het ons 'n skuld voor God en daarom, as skuldenaars, staar ons 'n straf in die gesig.

Ons leer verder dat sommiges 'n groter skuld by God het as ander. Die een skuld 500, die ander 50 pennings. Die Fariseër se skuld was kleiner, maar tog was ook hy 'n skuldenaar. Die probleem met mense wat nie baie skuld het nie, is dat hulle die gevaar loop om baie goed te voel omdat hulle minder skuld het as ander. In ernstige gevalle kan dit daartoe lei dat skuldbesef verdwyn en dat 'n mens glo dat jy goed kan klaarkom sonder 'n verlosser.

Daarom is dit goed dat die gelykenis aandui dat niemand in staat is om sy skuld te betaal nie, nog die man van 500 pennings, nog die een van 50. Selfs die allerheiligste mense, sê die Kategismus, het slegs 'n klein begin van die gehoorsaamheid. Selfs hulle maak hulle skuld nog elke dag groter.

Die skuldeiser vergewe sowel die groot as die klein skuldenaar. Dit leer ons dat die heilige God en Vader ons graag ons sondes vergewe, of hulle nou groot was of klein. Dit is inderdaad hoe die Bybel vir ons die Here beskryf: "Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid" (Ps. 103:8). "So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons" (Ps. 103:12).

Die gelykenis leer ons ook dat diegene wie se skuld afgeskryf is, diegene wie se sondes vergewe is, liefde behoort te betoon aan die persoon wat hulle begenadig het. Dit toon ook dat hoe meer daar vergewe is, hoe groter die dankbaarheid sal wees. Paulus, wat die gemeente van Christus vervolg en verwoes het, het na sy bekering harder gewerk as enigiemand om die evangelie van Jesus Christus aan die heidene te verkondig.

Nou pas die Here hierdie gelykenis toe op die situasie in die huis van Simon die Fariseër. Ons moet naamlik in gedagte hou dat Simon geen probleem het met die gelykenis van die twee skuldenaars nie. Simon sal ook nie 'n probleem hê om te glo dat iemand wat groter sondes gedoen het, meer dankbaar sal wees oor die vergewing wat hy ontvang, as iemand wat kleiner sondes gedoen het. Ons mag veronderstel dat Simon ook dankbaar was teenoor God omdat sy eie sondes hom vergewe is. Die probleem met Simon is nie dat hy dink dat hy sonder sonde is nie, alhoewel hy sekerlik sal dink dat sy sondes nie so erg is soos die van hierdie vrou nie.

Wat is dan Simon se probleem? Die probleem is dat hy nie insien dat hierdie einste Jesus wat aan sy tafel sit, die persoon is wat sondes vergewe nie. Dit is die groot verskil tussen die vrou en Simon. Die sondares glo dat sy vergewing van sondes ontvang het deur Jesus, en daarvoor het sy Hom hartlik lief. Simon die Fariseër glo ook wel in die vergewing van sondes, maar hy verbind dit nie aan die persoon van Jesus nie.

Jesus maak dit aan hom duidelik deur die optrede van die sondares te vergelyk met die optrede van Simon.

Hy sê: Jy, Simon, het my nie water gegee om my voete te was nie. Hierdie vrou het met haar trane my voete natgemaak.

Jy, Simon, het my nie eers 'n soen gegee om my te groet nie. Hierdie vrou het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie.

Jy, Simon, het nie my hoof met olie gesalf nie. Hierdie vrou het selfs my voete met kosbare olie gesalf.

Die konklusie wat die Here dan trek, is die volgende: Hierdie vrou het baie liefde betoon, en dit beteken dat haar sondes, wat baie is, haar vergewe is. Wie waarlik vergewing van sondes ontvang het, kan nie anders nie as om dankbaar te wees nie. Wie waarlik met God versoen is, kan nie anders nie as om die Here Jesus hartlik lief te hê.

Wat Simon self betref, gee die Here nie 'n oordeel nie. Maar die vraag hang duidelik in die lug. Simon het nie juis liefde betoon aan Jesus nie. Die vraag is dus of die vergewing van sondes in sy lewe 'n werklikheid is…

Die Here Jesus doen hier iets wat implisiet is. Hy impliseer, sonder om dit met soveel woorde te stel, dat liefde betoon aan Hom dieselfde is as liefde betoon aan God. Die vrou het baie liefde betoon aan Jesus, en wat beteken dit? Dat baie sondes vir haar vergewe is. Simon het nie juis liefde betoon aan Jesus nie, en wat beteken dit? Dit beteken dat Hy die van God gestuurde Verlosser van sondes nie aanvaar het nie!

Dit is duidelik dat hierdie woorde van Jesus geweldige weerstand kan oproep. As 'n mens nie glo dat Jesus die Seun van God is nie, kan jy nie anders nie as om jou vreeslik te vererg oor die implisiete manier waarop Jesus homself as die verlosser presenteer nie. As 'n mens egter wel glo dat Jesus die Heiland is, kan jy nie anders nie as om in groot dankbaarheid jouself aan Hom oor te gee en net soos die vrou aan sy voete neer te val.

Die verhaal eindig wat Simon betref met 'n vraagteken. Ons weet nie of Simon tot geloof in Jesus gekom het nie. Miskien nie op daardie oomblik nie. Miskien later. Miskien nooit nie. Dit is blykbaar nie vir ons belangrik om dit te weet nie.

Wat wel belangrik is, is om onsself te ondersoek. Hierdie verhaal leer vir ons dat dit moontlik is dat verskillende mense saam met Jesus verkeer, terwyl sommiges Hom hartlik liefhet as hulle Heiland, en ander hulle vererg oor Hom.

Dit laat my dink aan 'n uitspraak van een van ons professore by die teologiese skool: "Iemand kan verveeld raak onder dieselfde preek wat iemand anders tot bekering bring." Inderdaad, twee mense kan in die kerkbanke langs mekaar sit: vir die een is die preek 'n boodskap van lewe wat hom na Christus lei, vir die ander een is dieselfde preek niksseggend.

Die verhaal van Simon die Fariseër staan in die konteks van die skeiding wat besig is om onder die volk plaas te vind. Sommiges glo in Jesus. Ander, en daar is baie Fariseërs onder hulle, weier om in Hom te glo en neem aanstoot aan Hom.

As ons dan na Simon kyk, dan sien ons iemand wat geïnteresseerd is maar tog afstand t.o.v. Jesus wil behou. Hy speel die rol van 'n toeskouer, iemand wat beoordeel. Hy is nie iemand wat oorgee nie. Mag dit wees dat sy ontmoeting met die Here Jesus sy lewe so verander het dat hy tot die geloof gekom het dat Jesus die Christus is!

Brs en srs, na aanleiding van die verhaal van Simon behoort ons onsself te toets.

Bespeur ek by myself toewyding en oorgawe aan Christus, of altans die begeerte om dit te doen? Of bespeur ek by myself 'n teësinnigheid om myself oor te gee aan Jesus Christus?

Die kenmerk van ware geloof is nog altyd dieselfde, nl. 'n hartlike liefde vir die persoon van Jesus Christus.

Dit is tog ook die groot gebod? Jy sal die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, en al jou krag. Daardie gebod staan nog steeds! En nadat God sy eie Seun na die wêreld gestuur het om vir ons sondes te sterf, sluit dit ook in dat ons die opgestane Heiland, Jesus Christus, met hart en siel liefhet.

Ondersoek uself, brs en srs. Is u soos die welmenende maar afstandelike Simon wat eerder beoordeel as om homself oor te gee aan Jesus Christus? Of is u meer soos die vrou wat so vol dankbaarheid is dat haar liefde vir Jesus Christus ooglopend in haar dade uitkom?

Die verhaal eindig nie met Simon nie.
Die fokus skuif nog 'n keer na die vrou.
Vir die eerste maal in die teks hoor ons dat die Here Jesus Hom regstreeks tot die vrou wend.
Hy sê vir haar: "Jou sondes is vergewe."

Watter bemoediging moes dit vir hierdie vrou gewees het! Dit was alreeds 'n waagstuk vir haar om in die huis van die Fariseër in te dring. En sy het ongetwyfeld aangevoel wat die meerderheid van die gaste van haar gedink het. Sy het stellig gevoel dat hulle wou hê dat sy liewer so gou as moontlik moet padgee uit die huis uit. Maar sy was reg om haar vertroue in Jesus Christus te stel. Hy stuur haar nie weg nie. Hy bemoedig haar. Hy verseker aan haar persoonlik wat sy eerder in sy prediking gehoor het: Haar sondes is vergewe, hoe veel dit ook al was, en hoe groot dit ook al was.

Die woorde van Jesus veroorsaak 'n opskudding onder die gaste. Wie is hierdie man, vra hulle, dat hy self sondes vergewe? Jesus ken hierdie tipe gemor. Elke keer as Hy aan iemand sê dat sy sondes vergewe is, is daar kritiek onder die mense. Hulle beskuldig Hom van godslastering as Hy dit doen.

Maar Jesus is die Seun van God en Hy vergewe graag. Hy sê dit nog 'n keer vir die vrou: "Jou geloof het jou gered; gaan in vrede." So gaan die vrou dan huistoe met 'n dubbele versekering van die vergewing van sondes. God het haar aangeneem, dit weet sy nou dubbel seker. En daarom is haar lewe nou verder ‘vrede’.

Vrede en versoening met God.
So het ons dan twee mense gesien wat Jesus ontmoet.
Die een is die gepolyste kerkman wat Jesus wil uitkyk maar wat nou self voor die keuse gestel is of Hy Jesus gaan aanvaar as sy Verlosser of nie.
Die ander een is die sondares wat vir die mense 'n verleentheid is maar wat deur Jesus aanvaar word as iemand wat aan Hom behoort.

Ons is vandag nie in dieselfde situasie soos hierdie twee mense nie.
Tog bly die basiese vraag dieselfde: Wat doen jy met die persoon van Christus? Wil jy soos Simon afstand behou, of is jy lief vir Christus Jesus?

Al is jy 'n gepolyste lidmaat van die kerk, al is jy dalk 'n steunpilaar van die gemeente, al is jou teologiese kennis indrukwekkend, nogtans vra Jesus vir jou hierdie vraag: Kan jy eerlik sê dat jy Jesus Christus liefhet? Dit is die groot vraag!

Dit is dieselfde vraag wat Jesus later aan daardie ander Simon gestel het: "Simon, het jy my waarlik lief?"

As jy enigsins twyfel oor waar jy staan, dan vra ek jou om tenminste twee dinge te besef:

Besef eerstens hoe die Here Jesus al twee hierdie mense gesoek het, sowel die Fariseër as die vrou. Jesus het op al twee se toenadering gereageer, ook al was die agterliggende redes totaal verskillend. Hy het vir die vrou die troos en die bemoediging gegee wat sy nodig gehad het. Hy het die Fariseër die teregwysing gegee wat hy nodig gehad het om gered te word.

Tweedens, die beste middel om liefde vir Christus in ons harte te wek, is om te sien hoe groot Jesus se liefde vir ons was.
Hy het ons liefgehad toe ons nog sondaars was.
Hy het vir ons sy lewe gegee terwyl ons nie eers belanggestel het dat Hy dit sou doen nie.
Hy werk nog elke dag in ons lewe, terwyl ons Hom dikwels teëstaan en ons skuld nog elke dag groter maak.
Watter groot liefde is dit waarmee Christus ons liefgehad het en nog steeds liefhet!
Sal daardie liefde nie wederliefde in ons harte opwek nie?

AMEN

Liturgie: 

Lukas 7:36-50
ds. A.J. de Visser - Sondag 25 November 2001
Lees: Lukas 7:36-50.
Sing: Ps 105:1-3; Ps 143:1,2,6; Ps 143:7-9; Ps 25:5-6.
Tema: Die groot vraag vir beide die kerkman en die sondares…