Die Here Jesus roep Petrus vir die tweede maal

Predikant: 
Ds AJ de Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1999-10-24
Teks: 
Lukas 5
Preek Inhoud: 

Lukas 5:1-11

ds. A.J. de Visser - Sondag 24 Oktober
1999

Lees: Lukas 5:1-11.
Sing: Ps 107:1,17,18 ; Ps 51:5; Ps 43:3; Ps 32:1,3;
Ps 99.

Tema: Die Here Jesus roep Petrus vir die tweede maal.

  1. Verootmoediging; en
  2. Bemoediging.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

Ek wil begin met 'n vraag: Sou dit vir ons makliker gewees het
om te glo in die Here Jesus as ons – net soos Simon Petrus-hulle
– die hele tyd in sy nabyheid kon wees? Mense voel partykeer
so: "ek wens ek het in die tyd gelewe toe Jesus op aarde was,
dat ek kon sien hoe Hy mense genees, dat ek kon luister na sy
verkondiging"

Om te verlang na die Here se nabyheid is nie ‘n slegte
ding nie, maar of dit vir ons makliker sou gewees het om in Hom
te glo, is ‘n ander saak. Die Here was op aarde in "die
staat van vernedering". Na sy opstanding en hemelvaart was
dit ‘n ander saak. Toe die apostel Johannes in ‘n
visioen die Here Jesus tussen die sewe kandelaars (Openb. 1), was
sy glorie so indrukwekkend dat Johannes soos ‘n dooie aan sy
voete neergeval het. Maar toe die Here Jesus nog tydens sy tyd
van vernedering op aarde tussen die mense rondbeweeg het, was Hy
‘n gewone Joodse man, weliswaar ‘n verbasingwekkende
prediker en wonderdoener, maar dit was nie ooglopend dat Hy die
beloofde Verlosser was nie. Hy het in ‘n gewone huisgesin
grootgeword, hy het broers en susters gehad, gewone klere
aangehad, sy pa gehelp met houtwerk, ensovoorts. Om in Hom te glo,
om te glo dat Hy die Verlosser was, daarvoor was die werk v.d.
Gees nodig… net so goed soos vir ons vandag.

Vergelyk Simon Petrus. Die verhaal wat ons in Lukas 5 lees,
sou ons "die tweede roeping van Petrus" kon noem. In
Markus 1:16-20 lees ons dat Petrus reeds geroep was: "Kom
agter My aan, en Ek sal maak dat julle vissers van mense word"
(vs. 17). Hulle het hulle nette laat staan en Jesus gevolg (vs.
18). Tog het Simon en sy vriende blykbaar nie voltydse dissipels
van die Here geword nie. Hulle was wel die heeltyd in sy nabyheid,
hulle het sy prediking gehoor, hulle het sy wonders gesien,
Petrus was selfs getuie van die genesing van sy skoonma wat in sy
eie huis gebly het, maar tog kry ons hom in Lukas 5 weer dat hy
saam met Johannes en Jakobus besig is om vis te vang.
Verstaanbaar, nie waar nie? Die vrou en die kinders moet eet.
Klere moet gekoop word, skoolgeld moet betaal word. Moet ons
Petrus kwalik neem dat hy nog met sy gewone arbeid besig is en
dat hy nie voltyds by die Here Jesus is nie? Die Bybel veroordeel
Petrus nie, so laat ons dit ook nie doen nie.

Wat wel duidelik is, is die volgende: dat Petrus nog nie
regtig ‘n voltydse dissipel van Christus geword het nie, is
‘n gevolg van die feit dat hy nog nie die ‘ware Jesus’
ontmoet het nie. Hy het nog nie besef wie Jesus in werklikheid is
nie. Waarskynlik is Jesus vir hom nog soiets soos ‘n baie
inspirerende dominee, bowendien iemand wat die gawe van genesing
besit. Maar daar was meer genesers in daardie tyd en daar was
meer goeie predikers. Waarskynlik was Jesus vir Simon Petrus die
beste predikant in die land, selfs ook sy persoonlike ‘rabbi’
(leermeester) maar nog nie meer as dit nie.

In ons teks van vanoggend hoor ons nou hoe die Jesus vir Simon
Petrus ‘n tweede roeping gee, ‘n opvolgroeping as
‘t ware, ‘n roeping wat meer van hom gaan vra as sy
eerste roeping. Die Here wil medewerkers gebruik om die evangelie
van die koninkryk aan die hele volk, en later selfs aan die hele
wêreld te verkondig. In Lukas 5, ons teksgedeelte, lees ons hoe
die Here vir Petrus gereedmaak om sy roeping nou regtig voltyds
te gaan uitvoer.

Tema: Die Here Jesus roep Petrus vir die tweede maal.

Twee punte:

  1. Verootmoediging
  2. Bemoediging

1.

Die plek is die meer Gennesaret (ook genoem ‘die see van
Galilea’). Mense wat al daardie omgewing besoek het, sê dit
is pragtig daar. ‘n Groot meer, omring deur groen bome en
heuwels en ou vissersdorpies.

Petrus en sy kollegas het die hele nag gewerk, hulle het niks
gevang nie, hulle is moeg en gefrustreerd, maak nette skoon, wil
net huis toe gaan en slaap.

Dan kom Jesus daar aan! Mense drom saam. Waar Jesus is, is
daar mense! Die mense is so baie dat dit ‘n probleem word.

Jesus klim in een v.d. skuite, die een van Simon, en vra Hom
om ‘n entjie van die kant af weg te vaar. Jesus gaan sit en
leer die mense van die water af, Simon saam met hom daar in die
skuit.

Na die ‘amen’ gaan Jesus nie terug na die wal toe
nie. Daar klink ‘n vreemde opdrag: "Petrus, vaar uit na
waar dit diep is en laat julle nette sak om vis te vang."
Malligheid! Dit is nou al warm, dit is middag, daar is geen visse
om te vang nie. Selfs in die nag was daar nie visse nie, hoeveel
te minder in die dag. Petrus besef: as hy dit doen, is daar
‘n groot kans dat hy vir die res van sy lewe uitgelag gaan
word deur sy mede-vissermanne. Enige visserman weet dat dit
dwaasheid is om in die middag te gaan visvang.

Petrus kon dus begin argumenteer het: maar, Jesus, wat daarvan
as ons vanaand weer gaan visvang…? Tog, daar klink die
antwoord: "Meester". Petrus erken Jesus as sy meerdere,
sy opdraggewer. "Meester, ons het die hele nag deur hard
gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat
sak."

Petrus gaan laai sy pas skoongespoelde nette weer in, neem
helpers saam en hulle gaan uit na die diep water. Of Jesus ook in
die skuit saamgegaan het of op die wal bly staan het, weet ons
nie. Hulle gooi die nette uit. Verbasing! ‘n Groot menigte
visse. Die nette wil skeur. Hulle roep die tweede skuit: kom help!
Hulle kom help, die twee skuite raak altwee vol, sink amper.
Vreugde orals, skittering in die oë, die wete: kos vir die
kinders, ‘n mooi rok vir die vrou, skoolgeld kan weer betaal
word…

As die vangs gebêre is, kry Petrus kans om tot sy sinne te
kom. As ‘n beroepsvisserman besef hy baie goed wat hier
gebeur het. Hierdie geweldige skool visse het nie maar toevallig
in sy nette ingeswem nie. Soiets het nog nooit in die middel v.d.
dag gebeur nie. Miskien kan ‘n mens nog ‘n enkele
vissie hier of daar vang, maar so ‘n geweldige groot klomp
visse op hierdie tyd v.d. dag…. Daar is slegs een verklaring.
Jesus van Nasaret het blykbaar die visse beveel om in Petrus se
nette in te swem. Jesus het blykbaar die mag om bevele uit te
vaardig in die ryk van die natuur. Dit is niks minder nie as
goddelike mag!

En dan gebeur die merkwaardige: Petrus val neer aan die knieë
van Jesus, daar tussen die stank van die visse, en hy sê: "Gaan
weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man!" Ek dink
baie mense sou gesê het: Jesus, baie dankie, jy het ons vreeslik
baie gehelp. Moet asseblief nie weggaan nie. Bly hier by ons.
Maar Petrus sê: Asseblief, gaan weg van my af, ek is ‘n
sondige man.

As Petrus nie besef het dat Jesus die Seun van God is nie, sou
hy nie dit gesê het nie. Hy sou ook vir Jesus omhels het en gesê
het: Vreeslik baie dankie, Jesus, jy het my gehelp, en moet
asseblief nie weggaan nie, bly hier by ons, ons het jou nodig…

Maar nou dat Petrus besef wie Jesus in werklikheid is, sien hy
ook die waarheid omtrent homself raak. Dit is soos Calvyn in die
heel eerste hoofstuk van die Institusie opmerk: ware Godskennis
en ware selfkennis is onlosmaaklik met mekaar verbind (‘n
aanhaling:) "Mense wat in die afwesigheid van God rustig vas
bly staan, word so geskok en verward wanneer Hy sy heerlikheid
aan hulle openbaar dat hulle van doodsvrees inmekaar stort."

Dit is inderdaad wat hier met Petrus gebeur en wat ook met
ander dienaars van die Here gebeur het. ‘n Mens dink hier
vanselfsprekend aan die roepingsvisioen van Jesaja (hfst. 6:1-5)
waar Jesaja die heerlikheid van God in die hemel sien, met engele
wat roep ‘Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare’,
met drumpelposte wat bewe den rook wat die huis vervul. Dan sê
Jesaja: "Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man
onrein van lippe en ek woon onder ‘n volk wat onrein van
lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare
gesien." ‘n Mens kan ook dink aan die visioen van
Johannes op Patmos (Openb. 1) wat ek reeds in die inleiding
genoem het waar Johannes soos ‘n dooie man voor die Here
Jesus neerval.

Dit is veelseggend dat Jesus nou dieselfde ontsag by Petrus
bewerkstellig as wat God by ‘n profeet soos Jesaja opgewek
het. Ontsagwekkend!! So is God, so is ook Jesus van Nasaret. Hy
is op aarde aanwesig in sy vernederde staat, maar diegene aan wie
dit geopenbaar word, sien sy heerlikheid raak. Johannes skryf
later: "Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon
– en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n
heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom
– vol van genade en waarheid" (Joh. 1:14). Petrus self
skryf dit later ook in sy tweede brief: "Ons het nie kunstig
verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse
Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was
aanskouers van sy majesteit!" (2 Petr 1:16)

Petrus was een van die eerste mense wat hierdie heerlikheid
van die Here Jesus gesien het. Daarom bewys hy goddelike eer aan
Jesus. Hy gaan op sy knieë voor Jesus en hy bely dat hy nie
waardig is om ‘n dienskneg van Jesus te wees nie. Wat ons
hier by Petrus sien is ware skriftuurlike verootmoediging. "Gaan
weg van my, Here, want ek is ‘n sondige mens." Dit is
asof Petrus sê: Hier is Johannes en Jakobus, laat hulle maar
liewer u dissipels wees, maar ek is te sondig om dit te kan doen.

Hoe leer ‘n mens jou sondes ken? Die Kategismus leer vir
ons: "uit die wet van God" (Sondag 2). Dit is waar,
maar daar is iets wat nog baie sterker is om ‘n mens sy
sondes te laat besef, en dit is ‘n persoonlike ontmoeting
met die Here God. As ‘n mens skielik in die lig staan van
God se heiligheid, dan is dit asof daardie lig dwarsdeur jou skyn,
soos X-strale, en dat die kleinste ongeregtighede sigbaar gemaak
word.

En laat niemand van ons dan nou sê: goed, vir Petrus was dit
maklik om tot hierdie belydenis te kom, want hy het die Here in
eie persoon ontmoet. Maar hoeveel mense het voor die Here kom
neerkniel daar by die meer van Gennesaret? Die meeste mense daar
was wel verbaas oor die wonderlike visvangs, maar daar het slegs
een persoon kom neerkniel voor die Here en dit was Petrus. Dit
was nog nie die tyd van aanskoue nie maar die tyd van geloof. En
ook ons lewe nog nie in die tyd van aanskoue nie, maar in die tyd
van geloof. Ons kyk deur die oë van Johannes op Patmos en ons
sien die Here Jesus in sy hemelse heerlikheid. Maar dit vra
geloof. Ons ontmoet die Here Jesus persoonlik by die Nagmaal. As
die dominee vir die tekens van brood en wyn uitdeel, weet ons dat
die Here Jesus self aanwesig is, maar dit vra geloof. En slegs in
die geloof kan ‘n mens kom tot ware verootmoediging: Here,
ek is nie werd om te kom aansit aan hierdie tafel nie, ek is
‘n sondige mens.

Maar dit is juis hierdie belydenis wat nodig is om ‘n
dienaar en ‘n volgeling van Jesus Christus te kan wees.
Gelukkig is jy, wanneer die Here Jesus in sy genade jou lewe so
lei dat jy Hom ontmoet, dat jy tot die besef kom ‘ek lewe
‘coram Deo’, voor God se aangesig… Gelukkig is jy
wanneer die Here Jesus in sy genade jou lewe so lei dat jy tot
opregte verootmoediging kan kom. En as die Here besig is, om dit
in jou lewe te doen, moenie weier om voor Hom te kniel nie, want
eendag sal die Here Jesus terugkom en dan is daar nie meer geloof
nodig om sy heerlikheid te kan sien nie. Dan is dit vir almal
sigbaar en dan is die tyd vir verootmoediging verby.

2.

Kom ons gaan terug na die meer van Gennesaret en luister wat
gebeur nadat Petrus neergekniel het voor die Here. Wat is Jesus
se antwoord op Petrus se woorde "Gaan weg van my, Here, want
ek is ‘n sondige man!"

Wat sê die Here vir Petrus?
Wat kon die Here gesê het?
Hy kon gesê het: Goed, as jy wil hê ek moet gaan, dan sal Ek
gaan.
Hy kon gesê het: bely jou sondes een vir een, dan is die pad na
vergewing oop.

Wat Hy in werklikheid sê, is weereens ‘n bewys dat Jesus
van Nasaret die Seun van God is. Want slegs God kan so praat:
"Vrees nie, van nou af sal jy mense vang."

Dit is twee dinge in een sin: (1) Hy betuig aan Petrus
vergewing van sondes, (2) Hy gee vir Petrus ‘n roeping.

Daarmee is Jesus geheel en al in die styl van God die Vader.
Dink terug aan die roepingsvisioen van Jesaja. Toe Jesaja gesê
het ‘wee my, ek is verlore, want ek is ‘n man onrein
van lippe’, toe kom daar ‘n engel wat sy tong met
‘n gloeiende kool aanraak en sê: jou skuld is weg en jou
sonde versoen. En dan kry Jesaja sy roeping, nl. om te spreek tot
die volk van God. Twee dinge dus: vergewing, roeping.

Dieselfde gebeur in Openbaring 1 as Johannes op Patmos soos
‘n dooie neerval voor die voete van die Here. Toe Johannes
dit doen lê die Here sy regterhand op hom en sê: "Moenie
vrees nie" (daar is dit: vergewing) en dan: "Skryf die
dinge op wat jy gesien het" (daar is dit: die roeping).

So tree Jesus nou ook op teenoor Petrus. Hy weet dat Petrus se
verootmoediging opreg is, Hy weet ook oor watter sondes dit gaan,
en Hy ag dit onnodig om nog verder daaroor te praat. Hy verkondig
aan Petrus die vergewing van sy sondes. "Moenie vrees nie!"
Dit lyk amper asof die Here Petrus se sonde-belydenis ignoreer.
Maar wat Hy eintlik doen is om vir Petrus te sê: jou sondelas is
nie vir my teveel van ‘n moeite nie. Los dit maar vir my. Ek
sal sorg dat jou sondes versoen word. En dan gee die Here vir
Petrus sy opdrag wat tegelyk ‘n belofte is: "van nou af
sal jy mense vang".

Ons leer hier ook, brs. en srs., dat ‘n mens nie oor jou
sondes moet bly aankarring nie. Daar is ‘n tendens in
sommige kringe om geweldige klem te lê op verootmoediging en die
skuldbelydenis. ‘n Mens moet verbroke wees, jy moet deur
‘n diep dal gegaan het, voordat jy regtig mag kom tot die
geloof dat jou sondes vergewe is. Daarteenoor is dit opvallend
hoe (ek sou amper sê, hoe…) maklik die Here vergewing
belowe as iemand homself verootmoedig. Dit tref ‘n mens
altyd in die verhaal van Dawid en Batseba: Die Here stuur Natan
na Dawid toe om hom sy sonde te laat insien, Dawid luister en kom
tot berou: "Ek het gesondig teen die Here!" En dan gaan
dit soos volg verder: "En Natan sê vir Dawid: So het die
HERE dan ook u sonde vergewe." Spontane verootmoediging word
gevolg deur spontane vergewing. So ook by Petrus: "Here, ek
is ‘n sondige man, gaan weg van my…" Die antwoord:
"Moenie vrees nie, van nou af sal jy mense vang."

Dit is evangelie.

En daar is nog meer. Want die evangelie is nie net ‘vergewing
van sondes’ nie, maar ook herstel. Dit is ook in-diens-neming.
Almal wat ware gelowiges is, ontvang die Heilige Gees en dan kry
hulle nuwe verantwoordelikhede in die koninkryk van God. Petrus
kry die opdrag en die belofte "van nou af sal jy mense vang".
Dit is nie die opdrag wat ons kry nie. Petrus was eenmalig. Maar
die Here wil ons wel almal gebruik. Miskien sê hy vir jou:
"jy sal my skape oppas". Miskien sê hy vir jou slegs:
"leen vir my jou skuit sodat ek kan preek". Maar dit is
die doel wat die Here het. Hy wil mense gebruik in sy diens,
daartoe openbaar Hy homself eers aan ons, bring Hy hulle ons tot
verootmoediging, daarna betuig Hy aan ons sy genade en dan ons is
reg om gebruik te word.

Nog twee opmerkings om mee af te sluit, een oor Petrus, een
oor die Here Jesus.

Petrus: hierdie pragtige uitspraak van hom ‘gaan weg van
my, Here, want ek is ‘n sondige man’ is tiperend
vir Petrus; dis die tipe persoon wat hy is; spontaan, emosioneel,
‘n man van uiterstes; hy slaan ‘n man se oor af om sy
Heiland te beskerm; dieselfde aand verloën hy sy Here; kort
daarna bars hy in trane uit omdat hy insien wat hy gedoen het.

Petrus is ook ‘n man van alles of niks; as dit nie alles
is nie, dan is dit niks. Die een oomblik is dit ‘Here, bly
vir altyd by my’. Die volgende oomblik is dit ‘gaan weg
van my Here, want ek is ‘n sondige man’. Vgl. ook die
verhaal van die voetwassing (Joh. 13). Eers sê Petrus vir die
Here: "U sal in der ewigheid my voete nie was nie";
maar as die Here hom oortuig dat dit wel noodsaaklik is, draai hy
heeltemal om en sê: "Here, nie net my voete nie, maar was
asb. ook my hande en my kop" So is Petrus, ‘n kostelike
karakter.

Hoekom sê ek dit? Omdat dit goed is om te onthou dat daar in
Petrus se spontane verootmoediging voor die Here iets sit wat
tiperend vir Petrus is (en wat ons nie noodwendig hoef na te volg
nie) en ook iets wat tiperend is vir elke gelowige (wat ons wel
behoort na te volg). Die bedoeling van hierdie teks is nie dat
ons onsself almal voor die Here moet verootmoedig op presies
dieselfde emosionele manier soos wat Petrus dit gedoen het nie (al
sou dit nie ‘n slegte ding wees as daar meer Petrusse onder
ons was nie: sterk manne wat in trane kan uitbars oor hulle
sondes…).

Die bedoeling van hierdie teks is wel dat ons leer dat ons die
Here nie kan dien as ons nie weet wat verootmoediging is nie. Om
‘n predikant te kan wees, is daar meer nodig as ‘n
graad in teologie. Om ‘n ouderling te kan wees, is daar meer
nodig as ‘n ‘n goeie Bybelkennis en ‘n paar
leierseienskappe. Om ‘n goeie pa te kan wees vir jou kinders,
of ‘n goeie ma, ‘n goeie vriend, ‘n goeie
lewensmaat, is daar meer nodig as ‘n paar opvoedingstegnieke
of relasie-kursusse. Wat nodig is, is veral dat ‘n mens
sover kan kom om voor die Here neer te kniel en te bely: Here, ek
kan dit nie doen nie. Ek is nie in staat om ‘n predikant te
wees nie. Ek is nie in staat om ‘n ouderling te wees nie. Ek
is nie in staat om my kinders so op te voed dat hulle by die kerk
bly nie. Here, ek is te egoïsties, ek is nie toegewyd genoeg nie,
ek het te min liefde…

Pragtig. Verneem dan die woord van die Here: Moenie vrees nie.
So kan ek jou in diens neem. Van nou af sal jy my skape wei. Van
nou sal jy my kinders opvoed. Van nou af sal jy… (wat ook al)

Dit is die kern van vandag se teks. Dat Petrus hom voor die
Here verootmoedig, en dat die Here hom dan bemoedig en hom in
diens neem. Laat dit ons ook bemoedig, veral die van ons wat nou
nie juis die selfbeeld het dat hulle taamlik geskik is om die
Here se dissipel te wees nie. Daar het ook soms mense by die Here
gekom wat vir Hom ‘n baie goeie CV gewys het: vgl. b.v. die
ryk jongman: "ek het al die gebooie van God nagevolg van my
jeug af tot nou toe". ‘n Pragtige staat van diens!
‘n CV om trots op te wees. Vir sulke mense het Jesus gesê:
daar is nog iets wat ontbreek. Jy is nog nie geskik nie. Maar vir
die persoon wat van homself gesê het ‘ek kan nie’, ek
is ‘n man onrein van lippe, ek is ‘n sondaar, vir hom sê
die Here: moenie bang wees nie, ek kan jou gebruik en jy sal vrug
sien op jou werk.

Daarmee kom ek by die laaste opmerking, nl. oor die Here Jesus
en die koninklike woordjie ‘sal’. "Moenie vrees
nie; van nou af SAL jy mense vang." Dit is meer as ‘n
opdrag. Dit is ‘n belofte.

Dit is die koninklike ‘sal’ van die Hoof van die
kerk. Of die kerk groei hang nie van Petrus af nie. Hy moet wel
sy nette uitgooi, maar Christus self sal sorg dat die visse in
die net inswem. Of die sendingsgemeente groei, hang nie van ons
af nie. Ons moet wel die evangelie verkondig, maar Christus self
sal sy gemeente bou. Dit mag partykeer baie sleg gaan in die kerk.
Die kerk kan baie klein word en dit mag lyk asof die kerk tot
niet gaan (vgl. art 27 NGB). Tog sal daar altyd weer nuwe mense
uit alle volke toegevoeg word aan die getal van diegene wat
uitverkore is tot die ewige lewe. Die VGKSA mag klein word, selfs
tot niet gaan, maar die kerk van Christus sal nooit tot niet gaan
nie.

Hierdie woordjie ‘sal’ wat ‘n betroubare
belofte inhou, is kenmerkend vir die Here Jesus wanneer Hy oor sy
gemeente praat. Vgl. Mat. 16:18 "Ek sê vir jou: Jy is
Petrus, en op hierdie rots SAL EK my gemeente bou, en die poorte
v.d. doderyk sal dit nie oorweldig nie." Vgl. ook Hand. 1:8
"julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle
kom, en julle SAL my getuies wees in Jerusalem sowel as in die
hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste v.d. aarde."

Ons leef al soveel eeue nadat Christus so met sy dissipels
gepraat het, en ons mag reeds sien wat Petrus nog moes glo. Die
kerk het gegroei en oor die hele wêreld uitgebrei. En nog elke
week word daar mense toegevoeg aan die getal van diegene wat
verlos is. Daarom kan ons die toekoms met vertroue tegemoetgaan.
Laat die woorde van die Here Jesus met ons saamgaan: "Moenie
vrees nie." Laat die beloftes van die Here in ons harte leef:

"Wat die kerk betref, die poorte van die doderyk sal dit
nie oorweldig nie." (Mat. 16)

"Wat my skape betref, nie een sal uit my hand geroof word
nie." (Joh. 10)

"Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te
vergeld soos sy werk sal wees. Ek is die Alfa en die Omega, die
begin en die einde, die eerste en die laaste. Salig is die wat sy
gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en
ingaan deur die poorte in die stad." (Openb. 22) "Die
genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal!"

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. A.J. De Visser.

Liturgie: 

(kyk in preek)