Paulus se gebed vir ons heiligmaking.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-11-04
Teks: 
I Thessalonicense 5
Preek Inhoud: 

1 Thessalonicense 5:23,24

Ds C Kleyn - Sondag 4 November 2001

Lees: 1 Thessalonicense 4:1-8; 5.
Sing: Ps 95:1,4; Ps 119:1,2; Ps 119:3,4; Ps 138:1,4; Ps 89:6,7; Ps 73:11,12.

Tema: Paulus se gebed vir ons heiligmaking.

  1. die verband van die gebed;
  2. die inhoud van die gebed; en
  3. die vervulling van die gebed.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanoggend het ons die voorreg om twee jong lidmate in die gemeente te verwelkom en om 7 jongmense te hê wat hul geloof wil bely. Ons loof God vir sy genade en Gees. Sonder sy genade en Gees sou hulle nooit sover gekom het nie. Hierdie jong mense wil hul lewens aan die Here toewy as lewende lidmate van sy kerk. Hulle neem hulle voor om aan God en sy woord trou te bly tot die einde van hulle lewe. ’n Geweldige voorneme. Verstrekkend. Veral vir jong mense wat nog so te sê aan die begin van die volle lewe staan. As jong mens staan jy nog voor allerlei uitdagings, moet jy nog allerlei beslissings neem wat jou toekoms ingrypend kan verander. Wie weet hoe julle lewe in 10 jaar se tyd sal wees en waar julle dan sal wees. Tog maak julle beloftes wat vir jul hele lewe geld.

Wel, gemeente, wat kan ons op hierdie oomblik beter doen as om mekaar aan God se sorg toevertrou. Die omstandighede kan drasties verander, maar God bly dieselfde tot in ewigheid.

Paulus beveel die Christene van Thessalonika aan aan die God van die vrede. ’n Mooi titel. Die God van die vrede. Vrede tipeer Hom. Hy bring die vrede tot stand en gee die vrede. Vrede met Homself. Vrede met jou naaste. Vrede met jouself. Vrede met jou omgewing. Harmonie in alle verhoudings. Waar jy die vrede geniet, daar bloei die lewe weer.

Laat ons dan nader let op ons teks. Ek verkondig vir u:

Paulus se gebed vir ons heiligmaking.

  1. die verband van die gebed;
  2. die inhoud van die gebed; en
  3. die vervulling van die gebed.

Waarom bid Paulus vir ons heiligmaking? Dit hang saam met sy oproep tot heiligmaking. Die oproep tot heiligmaking is ’n sentrale tema van Paulus se brief. Dink maar aan wat ons in hoofstuk 4 gelees het. Paulus het sy lesers geleer hoe hulle moet wandel en God behaag. Hulle het hul geloof bely en vir die Here begin lewe. Maar nou roep Paulus hulle op om daarin nog oorvloediger te wees. As jy eenmaal jou lewe aan die Here toewy, is jy nog nie klaar nie. Daar moet ook verdere groei wees in die toewyding en in die christelike lewe. Jy moet jou toewyding meer en meer gaan wys.

Iets verder skryf Paulus: "Want dit is die wil van God: julle heiligmaking." En: "God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking."

Maar wat beteken die heiligmaking? Dit beteken dat jy vernuwe word, dat jy vir die Here gaan leef, na sy wil en tot sy eer. Jy is heilig. Dis jou amptelike status. God het jou afgesonder vir homself. Jy behoort aan Hom. Maar nou moet jy ook as ’n heilige gaan leef, dws as ’n persoon wat aan God behoort. Deur jouself op so ’n manier te gedra dat dit God behaag. Deur ’n lewenstyl wat pas by jou heilige God. Soos ons elders lees: wees heilig, want Ek is heilig.

In 1 Thess 4 en 5 wys Paulus wat dit beteken om heilig te leef. Laat ek uit hoofstuk 5 aanhaal. "Erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan. Bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk" (verse 12,13). Moet jy hulle wat jou vermaan die hoogste agting bewys? Laat ons eerlik wees, niemand hou daarvan om vermaan te word nie. As iemand jou aanspreek op verkeerde dinge in jou lewe, wek dit nie eerder irritasie en boosheid op nie? Dalk weet jy dat jy verkeerd is, maar jy wil nie hê dat iemand anders jou daarop wys nie.

Jy moet jou nie met ander mense se sake bemoei nie, word vandag geleer. Jy bemoei jou slegs met jou eie sake. As iemand kies om ure voor die televisie te sit en te kyk na Big Brother of ander God en mens onterende series, dan moet hy dit self weet. As ’n mens sy vrye tyd in ’n wêreldse omgewing en met wêreldse vermaak wil deurbring, dan moet hy vry wees om dit te doen. Niemand mag inmeng in jou persoonlike keuses en lewenstyl nie. Laat staan dat hy jou daaroor sou vermaan. As iemand dit wel durf dan word hy eerder verag of genegeer as dat mens hom hoogag. Tog sê Paulus in die naam van die Here: Bewys hulle wat onder julle arbei en julle vermaan die hoogste agting.

Paulus vervolg: Hou vrede onder mekaar. Opnuut ’n moeilike opgawe. Ja, ons is bereid om mekaar met rus te laat. Dit pas by ons individualistiese samelewing. As jy iets teen ’n persoon het, dan ignoreer jy hom gewoon, dan keer jy hom jou rug toe. Maar Paulus sê: leef in vrede met mekaar. Dis iets anders. Dit vereis selfverloëning, ’n bewuste inspanning. Jy wil dan alles doen sodat dit reg is tussen jou en jou naaste, sodat hy of sy so goed as moontlik kan funksioneer.

Daarom vervolg Paulus: "Vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal. Sorg dat niemand ’n ander kwaad vir kwaad vergeld nie; maar jaag altyd na wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal."

Julle mag mekaar dus nie negeer nie. Julle moet eerder iets vir mekaar gee, iets opbouend vir mekaar sê. Julle moet vir mekaar omgee en mekaar help. Dit is ’n gevoelige saak in ons huidige samelewing. Ons is geneig om hierin tekort te skiet. Ook binne die gemeente. Wat doen ons teenoor hulle wat dreig om af te dwaal van die Here en sy diens? Wat doen ons teenoor die kleinmoediges, die swakkes? Is ons daar om hulle terug te roep, te bemoedig en te ondersteun? Of laat ons hulle gewoon aan hul lot oor? Of dink ons: laat hulle dit self maar uitsorteer. Ek wil hê dat mense my uitlos, dus ek los hulle ook uit.

In die verse 16-22 vervolg Paulus met die vermanings: "Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar. Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë (wat nou in die Bybel vasgelê is) nie. Beproef alle dinge; behou die goeie. Onthou julle van elke vorm van kwaad."

Met ander woorde: wees heilig, leef heilige lewens.

Maar, broeders en susters, waarom al die vermanings? Moet ons altyd met God se wet aankom? Ons leef tog onder die genade? Dan is dit tog nie so belangrik meer hoe jy leef nie? Beslissend is tog dat jy in Jesus Christus glo? Op hierdie manier haal sommiges geloof en gedrag uit mekaar uit. So verdwyn die christelike lewenstyl. Dit lyk asof amper alles toegestaan, aanvaarbaar is. Hoe jy leef word nie so belangrik geag nie. Dis ’n persoonlike saak. So lank as jy maar glo.

Maar, gemeente, Paulus praat anders. Hy sê: dit is die wil van God: julle heiligmaking. En : God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Genade maak jou nie onverskillig of wêrelds nie. Inteendeel, genade laat ’n mens anders lewe, vir die Here lewe. Die nuwe lewenstyl is juis die bewys van God se genade. Dit wys dat God jou verlos het. God verlos my sodat ek werklik vry kan wees. Vry van die slawerny van die sonde, vry van sedeloosheid, vry van ewig verderf. God wil blye en dankbare kinders hê wat weer leef soos dit behoort.

Daarom ontvang ons al die vermanings van Paulus wat eindig met die woorde: onthou julle van elke vorm van kwaad. Bly weg van elke vorm van sonde. Rig jou lewe op God. Wees heilig, soos God heilig is. In alles wat jy sê en doen, in die kerk en daarbuite. Dis baie moeilik. Onmoontlik. Wie kan so ’n heiligheid bereik? Uit onsself is ons nie in staat nie. Daarom rig Paulus hom na bo en bid hy vir ons heiligmaking. "Mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus."

Laat ons nou kyk na die inhoud van die gebed, die tweede punt.

Paulus kom nie slegs met vermanings nie. Hy wys ook na Hom wat kragte wil gee om te gehoorsaam. Nadruk word gelê op God self: Mag Hy, God self, julle heilig maak. Julle het Hom nodig. Ek kan julle oproep om allerlei dinge te doen, maar slegs in sy krag kan julle dit doen.

Om heilig te kan lewe is julle afhanklik van die God van die vrede. Mag die God wat volkome harmonie met Homself, met jou naaste, met jouself, met jou omgewing tot stand bring en gee, julle volkome heilig maak. Mag Hy julle lewens na sy beeld vernuwe. Sodat julle weer kan wees wat julle behoort te wees. God se meesterstuk. Sy beeld. Mag Hy dit volkome, volmaak doen. Die woord wat Paulus gebruik wys daarop dat jy jou bestemde doel bereik, die doel waartoe God jou gemaak het.

Gemeente, uit hierdie gebed is dit duidelik dat julle heiligmaking nie iets negatiefs is nie. Dit neem nie julle vreugde uit die lewe weg nie. Dit maak julle lewe nie saai nie. Dit hinder nie julle ontwikkeling nie. Inteendeel! Julle heiligmaking beteken ware ontwikkeling en vreugde. Dis mos die God van die vrede wat dit wil werk. Die God wat ware harmonie in die lewe soek en tot stand bring. Dis werklik die beste vir julle. Teenoor die vrede is daar die sonde, die gebrek aan harmonie. Onenigheid, gebroke verhoudings. Armoede. Ellende. Hoe geweldig is dit dan om die God van die vrede te mag ken. En om jou deur Hom te laat heilig maak. So alleen gaan jou lewe weer bloei.

Broeders en susters, hierdie heiligmaking is so belangrik dat Paulus dit in sy gebed met ander woorde herhaal. "Mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus."

Paulus benadruk dat ons hele persoon betrokke is. Daarom noem hy gees, siel en liggaam. Nie om ons te leer hoe ons saamgestel is nie, dat ons uit drie dele sou bestaan nie. Paulus is besig om te bid. Hy wil daarmee benadruk dat ons heiligmaking allesomvattend is. Ons hele persoon moet heilig wees. Nie slegs ’n deel van ons nie. Ek kan nooit sê: God is vir my hart, maar wat ek met my liggaam doen is my saak. Nee, alles behoort aan die Here en moet aan Hom gewy word. Ook my liggaam. God wil ook my liggaam verlos, heilig maak. Hy wil daarvan ’n tempel maak, ’n tempel van die Heilige Gees. Hy wil oor my hele persoon beheer hê. Eers dan kan my liggaam aan sy doel beantwoord, gesond wees.

Paulus bid dat ons hele persoon onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus. Onberispelik, sonder fout wees, dis nie niks nie. En dit by die wederkoms van onse Here Jesus Christus. As jy hier onder mense verkeer, dan kan jy maklik goed van jouself dink. Nee, ek is nie heeltemal foutloos nie, maar daar is min wat mense teen my kan inbring. So dink jy dan. Maar hoe sal dit wees wanneer Christus terugkom? Op die oordeelsdag? Wanneer die volle lig van God op my val en my deurskyn? Sal ek onberispelik wees? Nee, dit kan nie waar wees nie. Hoe meer ek God se woord verstaan, des te meer besef ek hoe sondig en skuldig ek is. Ek skiet in baie dinge tekort. My heiligmaking is hier slegs ten dele.

Tog praat Paulus van onberispelik wees. En dit voor God. God bly die hoogste standaard eis. Volmaaktheid. Ons moet slegs heilige lewens lei, onberispelik wees. Sou dit ’n mens nie moedeloos maak nie, wanhopig? Daar is geen kans dat ek die standaard kan haal nie. Tog bly dit die doel. Hoekom? Ek kan dit tog nooit behaal nie. Inderdaad, op aarde sal ek dit nooit behaal nie. Hier het ek slegs ’n begin van die nuwe gehoorsaamheid. Hier is dit ’n saak van hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug. Hier is dit ’n saak van bid en werk. Jaag na die volmaaktheid.

Paulus laat ons egter weet dat die doel een dag bereik sal word. Na hierdie lewe. Dan sal jou heiligmaking kompleet wees. 100%. Dan sal daar geen sonde meer wees nie. Maar volmaakte heerlikheid. Wat ’n uitsig! Dan sal jy voor Christus kan verskyn sonder vrees, onberispelik. Hoekom? Dit kan slegs verklaar word vanuit die band met Christus. Jy het in Hom geglo. Jy het jou saligheid buite jouself in Jesus Christus gesoek. Jy behoort aan Hom. Hy wil dan jou sondes en swakhede dek met sy lyding en dood. Dan sal jy onskuldig verklaar word, onberispelik. Die regter Jesus Christus is mos jou Verlosser.

Maar, broeders en susters, wat kan jy nou daarmee maak? Dis nou nog nie sover nie. En voordat die tyd aanbreek, moet nog baie gebeur. Ook in ons heiligmaking hier en nou. Staan ons nie vir ’n onmoontlike taak in die hede nie. My lewe moet afgestem wees op die dag van Christus. Paulus het daarvoor gebid. Mag die God van die vrede julle volkome heilig maak. Maar wat nou?

Wel, laat dit aan God oor, sê Paulus. "Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen." So kom ons by die derde gedagte: die vervulling van die gebed vir heiligmaking.

God moet dit doen en God sal dit doen. Hy sal die gebede van sy gelowiges verhoor. Jy kan nie op jou eie voornemens of prestasies bou nie. Jy kan slegs bou op God se trou. Hy wat julle roep is getrou.

Ja, God kom julle lewe binne as die een wat roep. Hy is voortdurend besig om julle te roep. Om julle te roep uit die duisternis tot sy wonderbare lig. Om julle weg te roep van die werke van die duisternis weg na ’n lewe in die lig. So is Hy ook nou besig om julle te roep.

Wel, hierdie God wat roep is getrou. Jy kan altyd op Hom staatmaak. Hy vervul sy beloftes. Hy doen wat Hy sê. Daarom: Hy sal dit ook doen. Hy roep nie slegs nie. Hy gryp ook aktief in. Hy doen wat Hy beveel. Hy voltooi die werk wat Hy begin.

Wat ’n geweldige bemoediging nou dat julle geroep word om heilig te lewe. Jy mag weet: beslissend is uiteindelik nie my swak greep op God nie, maar sy sterk greep op my. Deur God se trou kan julle volhard. Dis iets waarop julle kan bou. Julle lewe as Christene is vas gegrond in God se trou. Dit sal reg kom. Danksy God wat nie slegs roep nie, maar ook dit doen. God maak dit wat by mense onmoontlik is, moontlik. Dis die belofte waarop julle julle mag beroep.

Maar, geliefdes, maak dit alles nie veel te maklik nie? Maak dit jou nie passief nie? As God alles doen, dan hoef jy self tog niks meer te doen nie?

Julle sal verstaan dat dit nie God se bedoeling is nie. Hy waarsku voortdurend teen ’n valse gerustheid. God wil inderdaad volharding gee, ’n lewe in goeie werke. Maar dit gebeur nie outomaties nie. Dan moet jy jouself wel aan die belofte van God toevertrou. Dan moet jy God wel toelaat om jou te vernuwe. Dan moet jy God wel sy gang laat gaan in jou lewe. Ja, dis wat geloof is: jy laat God se gang gaan in jou lewe. As jy werklik in God glo, dan wil jy Hom nie met al jou inisiatiewe in die pad staan nie. Jy laat Hom in en deur jou werk. Dan gebeur daar en verander daar werklik iets. God se krag word sigbaar in jou swakheid. Jy begin meer en meer om ’n heilige lewe te lei. Wat jy beskou het as onmoontlik, word moontlik omdat jy jou oorgee aan jou almagtige en troue God.

Op hierdie manier word dit moontlik om te doen wat die apostel van jou vra. God se belofte dood nie die eie aktiwiteit nie. Inteendeel. Dit stimuleer jou juis. Jy begin om die wil van die Vader te doen.

Broeders en susters, seuns en meisies, dis inderdaad nie maklik om te doen wat God behaag nie. Veral as mense rondom jou anders handel en vrylik hulle uitleef in allerlei sondige praktyke. Laat jouself nie weglok deur hul sogenaamde vryheid nie. Dis is feite slawerny. Christus wil jou vrymaak. Sê nie: dis onmoontlik om die wil van God in ons tyd te doen nie. Fokus op Hom wat julle roep. Bid en werk. Hy is getrou. Hy sal dit ook doen. Vertrou jouself toe aan sy leierskap. Laat Hom doen wat Hy wil hê dat jy sal doen. Jy hoef dit nie in eie kragte te doen nie. God wil sy vernieuende krag in jou lewens wys. Verhinder hom nie deur jou kortsigtige of humanistiese gedagtes nie. Laat Hom sy gang gaan in jou lewe. Daarom, aarsel nie, maar doen gewoon wat God van jou vra, in geloof.

Dan word dit moontlik om gehoor te gee aan Paulus se oproep om heilig te lewe. Al die vermanings kom binne jou bereik: bv Hou vrede onder mekaar. Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar. Blus die Gees nie uit nie. Beproef alle dinge, behou die goeie. Onthou julle van elke vorm van kwaad. Is dit nog ’n onmoontlike taak? Ja, as jy dit van jouself verwag, wel. Dan sal dit nooit luk nie. Maar is dit onmoontlik as jy dit verlang en verwag van God wat jou roep? Het Hy nie beloof dat Hy dit ook sal doen?

Volg Hom in geloof. Doen gewoon wat Hy sê. Laat Hom jou vernuwe. Laat hom jou lewe mooi maak met goeie werke. Dan sal Paulus se gebed vervul word. Jy sal dan onberispelik bewaar word by die wederkoms van Jesus Christus. Jy sal vryuit gaan omdat jy die komende Regter as jou Verlosser ken.

In Christus ontvang jy werklik alles.

As ek dit uit myself moes doen,
sou ek nooit begin het nie.
As ek in eie kragte sou moet stry,
sou ek nooit vorder nie.
As ek op my eie dit moet behaal,
sou ek nooit klaarmaak nie.

Maar Hy het begin.
Hy sal voortsit.
En Hy sal voltooi.
Sy werk van verlossing.
Ook vir my.

Hy het dit belowe.

Van oorsprong ’n verloorder,
is ek meer as oorwinnaar.
In Christus alleen.
Gee vir God die eer.

 

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)