Die nagmaalsviering is ’n sigbare preek oor ons verlossing.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1998-11-08
Teks: 
I Korinthiërs 11
Preek Inhoud: 

1 Korinthiërs 11:26

Ds C Kleyn - Sondag 8 November 1998

Lees: 1 Korinthiërs 11:17-34; by nagmaals tafels: Openb. 5:1-8; Openb. 5:9-14; Openb. 7:9-17.
Sing: Ps 61: 1,3; Ps 19:4; Ps 96:1,2; Ps 105:1,2; Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 105:3; SB 8:1;2;4;5.

Tema: Die nagmaalsviering is ’n sigbare preek oor ons verlossing.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die tafel van die Here staan weer vir ons gereed. Dit sal nie lang meer duur nie of die sentrum van aandag word verwissel van die kansel na die tafel. Die bediening van die heilige evangelie sal plekmaak vir die viering van die heilige nagmaal. Die woord staan terug vir die sakrament, wat dan in die middelpunt sal staan. En dit beteken dat die predikant met sy besondere amp, plek maak vir die mondige gemeente met haar algemene Christelike amp. Julle word as mondige lede van die gemeente nou self opgeroep tot aktiwiteit. As mondige lid van Christus se gemeente mag jy ’n plek gaan inneem aan Sy tafel. Jy mag die gebreekte brood uit die hand van die dienaar ontvang en eet. Jy mag drink uit die drinkbeker van die Here. Dit gaan in hierdie diens dus nie net om te luister nie, maar dit gaan nou ook om dit self doen, om aktief deel te neem. Want jy mag in hierdie diens self gaan preek. Daar praat ons teks van.

Paulus rig homself in ons teks nie net tot die ampsdraers maar hy rig hom tot die gemeente as hy sê: Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. Dit is die gemeente wat gaan verkondig in hierdie diens. Dit is dus nie heeltemaal reg om te sê dat die verkondiging van die evangelie nie plaasvind as daar net die heilige nagmaal gevier word nie. Want ons nagmaalsviering is ’n sigbare preek oor ons verlossing. Die sakrament mag die sigbare evangelie genoem word. Ons sien voor ons oë hoe die brood gebreek word, ja hoe Christus Sy liggaam vir ons gegee het. Ons sien hoe die wyn vloei, ja hoe Christus se bloed vir ons gevloei het. En ons mag hierdie brood en hierdie beker ontvang uit die hand van die dienaar. Ons mag dit tot ons neem. Dit is alles sigbare gebare. Dit is ’n sigbare prediking. In plaas van die preek van die dominee tree die preek van die feesvierende gemeente op die voorgrond.

En in julle verkondiging kyk julle as gemeente eers agtertoe. ’n Mens kyk eers terug na die voltooide heilsfeit in die middelpunt van die wêreldgeskiedenis. Die woorde van ons teks vorm ’n soort beskrywing van die voorafgaande verse. Daar word vir ons gesê dat Jesus beveel het om die brood te eet en die beker te drink tot Sy gedagtenis. Hierdie laaste woorde: tot My gedagtenis, word uitgewerk in ons teks. Wat is gedenk? Jy kan jouself allerlei dinge herinner sonder dat hulle ’n funksie in jou lewe vervul en sonder dat jy anders word daarvan. Met gedenk is dit anders. In die Skrif wil hierdie woord sê: wat God of Christus gedoen het in die verlede, moet jy na jou toehaal en dit ’n lewende werklikheid laat wees in jou lewe nou, sodat jou lewe vandag deur die groot dade van God uit die verlede, gestempel en beheers word.

Die Pasga het ook dieselfde funksie van gedagtenismaal gehad. Soos die Pasga bedoel was om die verlossing uit die slawerny van Egipte, tot ’n allesbeheersende werklikheid in die lewe van Israel te laat wees, so is die doel van die nagmaal om die verlossing uit die slawerny van die sonde voortdurend as ’n lewende werklikheid in ons lewe te laat funksioneer.

Daarom, so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here. So dikwels as u dit ookal doen, haal u Jesus se dood na u toe, as ’n allesbeheersende werklikheid. Sy dood word uitgebeeld en vertoon. Christus se dood, en daarmee saam Sy hele heilswerk, kom deur hierdie eet en drink as ’n aanwesige heilswerklikheid in die sentrum van die gemeente staan. U plaas daardeur ander mense voor die voldonge heilsfeite wat deur Christus gebeur het. U roep dit uit as ’n boodskapper van God. U vertel dit verder aan ander mense. U konfronteer die wêreld met hierdie sentrale heilsgebeure sodat die mense dit sal sien en hulle hul bekeer. Met die daad van eet en drink verkondig u die dood van die Here aan almal.

Ja, seuns en dogters, as julle ouers netnou aan tafel mag kom en mag gaan eet en drink dan is hulle daarin predikers van die evangelie. Dan verkondig hulle ook aan julle dat Christus se dood sentraal in hul lewens staan en dan roep hulle ook julle op om die dood van Christus te aanvaar as allesbeheersend in julle lewens.

Die tafel is hier gedek in ’n middelmatige kerkgebou, midde in ’n groot wêreld. Maar die viering van hierdie heilige nagmaal is ’n proklamasie aan die wêreld. Daar gaan ’n geroep vanuit. Vir die hele wêreld word Christus se dood gewys as die allerbelangrikste in ons lewe.

Is dit nie ’n vreemde saak dat ons so ’n feit verkondig nie? Dat ons orals die dood van Christus uitroep. Pas daar by hierdie dood nie soberheid nie? Sou ons nie liewers alles donker maak nie. Sou jy nie eerder verwag dat die vensters toegemaak moet word by so ’n geleentheid nie, dan dat dit wyd oopgegooi word na die wêreld toe? Pas so ’n openbaring en bekendmaking wel by die dood?

Gemeente, hierdie openlike verkondiging van die dood van Christus is volledig in styl, omdat dit gaan om die dood van Christus wat nou lewe. Dit is die dood van die Here wat ons verkondig. En "Here" wys op die opgestane en verhoogde Heiland. Ons maak die dood bekend van Hom wat nou leef in ewigheid, en in heerlikheid sit op Sy troon. Sy dood was nie die einde nie. Dit was die weg na die lewe. Hy het die dood aanvaar om aan ons die lewe te gee. Daarom preek ons die lewe, as ons die dood van die Here verkondig. In Sy dood lê die lewe. Dit moet elkeen sien en hoor. Sy dood is juis lig in die wêreld. Daarby pas geen geslote vensters om alles maar somber en duister te maak nie, maar daarby pas wyd-oopgegooide vensters waardeur daardie lig kan skyn in die donker wêreld. Ons het iets om te vier en te verkondig.

Gemeente, by die eet van hierdie brood en die drink van hierdie beker kyk ons dus nie alleen agtertoe, na die dood van die Here nie. Ons kyk ook naar die hede. Ons hef ons harte op na die hemel waar Jesus Christus as Here troon aan die regterhand van sy hemelse Vader. Ons geniet van die gemeenskap met Hom, ons lewende Here. Die tafel is die tafel van die Here. Hy is die gasheer, wat ons deur die werking van die Heilige Gees met sy liggaam en bloed vir die ewige lewe voed en verkwik.

By die viering van die heilige nagmaal kyk ons ook naar vorentoe. Ons sien vooruit na die nuwe lewe. Ons sien met verlange uit na die wederkoms van ons lewende Here, wat dan alle dinge nuut sal maak. Die tyd tussen Christus se dood en Sy wederkoms moet oorbrug word deur die lewende verkondiging van die evangelie. So moet ook die heilige nagmaal gereeld gevier word om Christus se dood as die allesbeheersende werklikheid voor te stel. Ons roep dit uit: Christus se dood, die middelpunt van die wêreldgeskiedenis. Almal wat dit mag saamvier roep uit sodat die wêreld dit mag sien en glo.

En daarmee roep ons Christus ook terug. As hierdie evangelie sy gang deur die wêreld voltooi het, dan eers sal Hy terugkom. Wanneer die Here Self kom, dan hoef Hy nie meer langer verkondig te word nie, want dan is Hy self aanwesig, sigbaar aan almal as die Here van die heerlikheid. En dan mag die kerk as Sy bruid aansit aan die bruilof van die Lam.

Broeders en susters, as julle dan netnou mag deelneem aan die maaltyd van die Here, verkondig dan die dood van die verheerlikte Here as julle lewe. Vier die dood van ons lewende Here met die oog op Sy wederkoms in heerlikheid. Laat ons dan fees vier en vreugde bedrywe want die bruilof van die Lam kom.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)