Wie wys is let op die goedertierenhede van die Here.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-03-17
Teks: 
Psalms 107
Preek Inhoud: 

Psalm 107:43

Ds C Kleyn - Sondag 17 Maart 2002

Lees:

Psalm 107.
Sing: Ps 136:1,2,3; Ps 11:5; Ps 100:2,4; Ps 107:1,2,3; Ps 68:9; Ps 136:19,20.

Tema: Wie wys is let op die goedertierenhede van die Here.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons gaan weer dank vir gewas en arbeid, vir God se sorg en bewaring, vir
gesondheid en vryheid, vir die kragte tot die arbeid en vir die vrug van die
arbeid. Die Here het weer baie moontlikheid gegee. Hy het ons voorsien in dit
wat nodig was.

Om so te dank is nie altyd ewe maklik nie. Nog in voorspoed, nog in
teenspoed. God het in ons land reën en sonskyn gegee. In die algemeen verwag
die boere ’n redelike goeie oes. Moontlik gaan daar sekere tekorte wees. Dit
sal dan geïmporteer moet word. Wat die voedsel pryse verder omhoog sal stoot.
Veral gesien die huidige wisselkoers van die rand. In die sakewêreld kry ons
nog steeds nie die groei van werkgeleentheid waarop ons hoop. Die werkloosheid
het eerder toegeneem. Die groot val van die rand in die laaste maande van die
vorige jaar het ons laat skrik. Dinge het ’n maand gelede iets beter lyk gaan,
maar nou knou die situasie in Zimbabwe opnuut die vertroue in ons land en
geldeenheid. Dis onseker watter gevolge die chaos en onreg in Zimbabwe vir ons
land nog gaan hê. Dit belowe in ieder geval nie veel goeds vir ons land nie.
Die lewenskoste in ons land het die laaste maande baie omhoog gegaan. Ons het
reeds soveel armes in ons land. Hul situasie word daardeur alleen maar erger.
Steeds meer individue en gesinne kry swaar.

Kan ons in so ’n situasie nog wel dank vir gewas en arbeid? Is elkeen wel
daartoe in staat? Ook hulle wat bekommerd is of swaarkry? U begryp wel dat ’n
mens nie vanself daartoe kom om te dank nie. As ons ons menslike gevoelens laat
spreek, dan sou verskillende persone nie aan die danklied toekom nie.
Teleurstellings, moeites, onsekerheid, sorge beïnvloed ons stemming, beïnvloed
ons rykuns op die pad van die lewe.

Daarom moet ons steeds weer bevry word van ’n benewelde blik, waardeur die
sig op ons God belemmer word. God self neem daartoe die nodige maatreëls. Hy
spoor ons aan om Hom voor oë te hou en sy lof te vermeld. Hy wil ons bewus maak
van sy goedertierenhede. Daarom ook ons teks: Wie wys is, laat hy op hierdie
dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenhede van die Here.

In die teks gaan dit dus oor die tema: wie wys is let op die goedertierenhede
van die Here.

Gemeente, die vraag: wie is wys, is ’n vraag wat elkeen van ons moet
beantwoord. Wie van al die leerlinge en studente is werklik wys? Is dit hulle
wat maklik leer en baie onderskeidings kry? Dieselfde kan gevra word betreffende
politieke leiers, ondernemers, werkers. Wie is wys? Is dit die politieke leiers
wat slim is en ander oortroef in die politieke spel? Is die ondernemer wys wat
op ’n kundige manier sy bedryf beheer en selfs uitbrei terwyl ander hul bedryf
moet afskaal of hul personeel moet inkrimp? In ons tyd word vindingrykheid en
slimheid dikwels as wysheid aangeprys. Om die kop bo water te hou moet ’n mens
slim wees, word gesê. Jy moet alles doen wat tot jou voordeel is, ook al gaan
dit ten koste van die waarheid of van ander mense.

Wie is werklik wys? Die Psalmis gee op die vraag ’n antwoord. ’n Antwoord
wat baie vanpas is ook vandag. Wie is wys, laat hy op hierdie dinge ag gee. U is
wys wanneer u op hierdie dinge ag gee.

Wat word bedoel met hierdie dinge? Hierdie dinge wys op die dinge wat in die
Psalm genoem word: die dade van die Here. U is eers wys wanneer u ag gee op die
werke van die Here.

Die psalmis skryf eerstens vir voormalige ballinge. Hulle het groot moeite
ondervind, hulle is swaar beproef. Maar die Here het hulle uit hul nood gered.
Die Psalmis laat sien dat ons geskiedenis nie op homself staan nie. Dis geen
noodlot nie. Nee, wat u en ander mense meemaak in hul lewe is in sekere sin dade
van die Here. So word God se voorsienigheid onder ons aandag gebring en geprys.

Ons ontvang verskeie voorbeelde van menslike nood en God se redding daaruit:

Daar was mense wat in die woestyn amper van honger en dors vergaan het. Toe
het hulle die Here aangeroep en Hy het hulle uit hul angste gered.

Daar was mense wat in ballingskap en gevangenskap verkeer het. Daar was mense
wat so siek was dat hulle byna daaraan gesterf het. Daar was mense wat byna
skipbreuk gely het en in die see verdrink het.

Let daarop: in al die krisisse was die Here aktief betrokke. Hy het dit te
voorskyn geroep. Hy het gespreek en ’n stormwind laat opsteek. Hy het riviere
’n woestyn gemaak en waterfonteine ’n dorsland, vrugbare land ’n brak
aarde (verse 33,34).

Die Here bepaal nie slegs die nood nie. Hy is ook die Redder uit die nood.
Herhaaldelik hoor ons die woorde: uit hul angste het Hy hulle gered. Hy het
hulle gelei op ’n regte pad. Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat
uitgaan en hulle bande verbreek. Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon
gesond maak en hulle uit hul kuile red. Hy het die storm ’n gesuis gemaak en
hulle golwe het stil geword. Hy het die woestyn ’n waterplas gemaak en die dor
land waterfonteine; en Hy het hongeriges daar laat bly, en hulle het ’n stad
gestig om in te woon. En hulle het lande gesaai en wingerde geplant wat vrugte
as opbrings verskaf het. Hy het hulle geseën, sodat hulle sterk vermenigvuldig
het, en hulle vee het Hy nie min gemaak nie.

Gee daarom goed ag op God se werke in die geskiedenis van mense en volke. God
is nie ’n passiewe toeskouer nie. Ons omstandighede vang Hom nie onkant nie.
Nee, alles kom van Hom, teenspoed en voorspoed. Wie wys is laat hy op hierdie
dinge ag gee. Die wyse let op God se werke waarmee Hy mense verneder en verhoog,
waarmee Hy in die krisis bring en uit die krisis verlos. Wanneer jy wys is, dan
hou jy altyd rekening met God, die almagtige Skepper en Heerser.

Die dwaas laat God buite die prentjie. Miskien is jy wel baie intelligent,
’n suksesvolle ondernemer of politikus. Maar as jy God nie meer sien en erken
nie, dan is jy dwaas. Jy negeer dan die belangrikste in die lewe. Jy herken dan
nie die dominerende krag in jou lewe en in die ontwikkeling van die geskiedenis
nie: naamlik die almagtige en alomteenwoordige krag van God. Met al jou menslike
wysheid is jy dan dwaas, verblind, kortsigtig. Jy ken nie die ware en volle
werklikheid nie.

Wie is wys? Jy is wys wanneer jy in alle dinge God in rekening bring. Wanneer
jy Hom ernstig neem. Dan sal jy jou nie blind staar op die teleurstellende
aardse werklikheid nie, asof dit op homself staan, asof dit alles is wat daar
is. Nee, dan het jy ’n breë en verre uitkyk. Jy sien dan agter en bo die
wolke die Here jou Skepper en Verlosser wat alles regeer en onderhou.

Dan sal jy ook jou moeites en beproewings in ander lig sien. Dis nie net
toeval nie. Dis nie so dat jy net ongelukkig is nie. Nee, die Here is in beheer.
Hy bepaal nie slegs voorspoed nie, maar ook teenspoed.

Waarom dan die teenspoed? Die Psalmis noem ’n direkte verband tussen sonde
en teenspoed. Kyk maar na vers 11: " omdat hulle wederstrewig was teen die
woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het, het Hy hulle hart
deur moeite verneder." Of vers 17: "Die wat dwase was vanweë die weg
van hulle oortreding en weens hulle ongeregtighede gepynig is." In hierdie
voorbeelde word duidelik gesê dat God besig is om sy volk vir hul sondes te
straf. Die verband tussen sonde en moeite word hier uitdruklik genoem.

Beteken dit dat daar altyd so ’n direkte verband tussen sonde en nood is?
Moet ons armoede, siekte, finansiële probleme, ’n tuimelende rand,
werkloosheid, onreg en verdrukking (soos dit in Zimbabwe plaasvind), ja elke
nood en krisis as straf van God sien? Die verleiding is daar om dit so te sien.
Dit kan verwarring en wanhoop veroorsaak. Maar geliefdes, so ’n algemene
konklusie doen geen reg aan die hele woord van God nie. In Ps 107 vertel God
self dat daar ’n direkte verband was tussen sonde en die spesifieke nood. Dit
beteken nie dat daar altyd so ’n direkte verband is nie. Dink aan Asaf se
situasie in Ps 73. Die goddelose is daar voorspoedig terwyl die getroues moeite
ondervind. Die regverdiges moet dikwels ook ly. Die geskiedenis gee voldoende
bewys daarvan. Dink aan Job en die martelare van die kerk. Teenslag, nood is nie
altyd ’n straf op persoonlike sondes nie. God het die lyding van die
regverdiges voorspel.

Wie wys is gee ag op die dade van God. Jy gee ag op God se dade ook wanneer
jy deur ’n krisis gaan. Jy weet dat Hy in beheer is. En dat Hy ’n doel met
alles het. Soos ons dit bely met Rom 8: Ons weet dat vir hulle wat God liefhet,
alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is." Ja, alles
ten goede meewerk. Ook siekte, verdriet, ook ’n krisis wat jy persoonlik of
wat ons as gemeenskap of land deurmaak. God is besig om ons op die proef te
stel, besig om ons geloof te skaaf. Om ons tot groter trou te bring. Daarom, wie
wys is, sal homself nie laat onderkry deur die moeites nie. Wanneer ek wys is,
dan vertrou ek myself toe aan die Here my God. Dan beproef ek myself, of daar
soms geen sonde is wat my groei verhinder nie. Ek vlug van sonde weg. Ek vlug na
God toe. Ek weet dan dat ek in veilige hande is, hoe donker die wolke ook al mag
wees.

Daarom, geliefdes, het ons geen rede om jaloers te wees op die voorspoed van
die goddeloses nie. Die Here beskik alles na sy wyse raad. En die goddeloses,
die dwases sal met al hul voorspoed bedroë uitkom. Hulle hou geen rekening met
God nie. Hulle leef en werk volgens hul eie kortsigtige begeertes. Daarmee grawe
hulle hul eie graf. In Ps 73 verwys Asaf na hul einde en sê: "Waarlik, U
stel hulle op gladde plekke; U laat hulle in puin val. Hoe word hulle in ’n
oomblik ’n voorwerp van verbasing, vergaan hulle, raak hulle tot niet deur
verskrikkinge. Soos ’n droom nadat ’n mens wakker word, o Here, so verag U,
as U opwaak, hulle beeld."

Alle goddeloosheid en alle goddeloses loop dood. Alle Mugabes bv loop dood,
hulle jaag hul ondergang tegemoet, tensy hulle hulle bekeer. ’n Mens sien dit
dikwels reeds tydens hierdie lewe. Kyk maar na die ellende wat die sonde in die
lewe van die sondaar veroorsaak. Getuig dit van ware geluk dat ’n man soos
Mugabe deur onreg en geweld mense onder bedwang moet hou en ’n stemming moet
wen? Dis slegs ’n teken van bangheid. Hy het iets om te vrees. Nie slegs sy
tydelike ondergang nie, maar sy ewige ondergang. Wanneer die goddeloses sterf en
wanneer Christus terugkom dan sal dit ten volle werklikheid word.

Indien ek noukeurig op God se werke ag gee, dan sal ek ook anders praat oor
wat in my eie lewe en land gebeur. Hoewel daar nie altyd ’n direkte
persoonlike verband is tussen sonde en teenspoed nie, is daar wel ’n verband
in algemene sin. Elke moeite of gebrokenheid is ’n gevolg van die sondeval. As
mense dan in sonde bly lewe, dan is dit vir hulle ’n tydelike straf van God.
God is besig om mense te konfronteer met hul eie dwaasheid. Wanneer ’n volk
weier om na Hom te luister dan ontvang hulle wat hulle verdien. In die sin kan
’n mens sê dat ons in Suid Afrika ontvang wat ons verdien. Laat ons daarom
nie kla oor die devaluasie van die rand of oor die armoede nie. Laat ons eerder
kla oor die sonde van ons volk, oor die dwaasheid wat ook onder ons geestelike
en politieke leiers sigbaar is. By alle gebrek aan uitsig, ontbreek daar ’n
sig op God. Dit is die ellende van ons volk. Dis wat die wyse so verdrietig
maak. Die ergste is nie die werkloosheid en armoede nie, hoe verdrietig dit ook
al is. Dit ergste is die vervreemding van God, ons skepper en verlosser wat
alles nog onderhou en regeer.

Is u wys? Het u u blik deur God laat verruim? Gee ag op God se werke van
vernedering en verhoging. Wie wys is sal dan ook alle rede hê om die Here te
dank vir sy goedertierenhede. Jy sal die goedertierenhede dan herken en prys.

Ja, dis so maklik om die goedertierenhede te vergeet. Ons sien eerder die
donker wolke in ons lewe of in die lewe van ons land. En dan vergeet ons dat
agter die wolke die son skyn. Tog moet ons beter weet. Dis eintlik so eenvoudig.
Ons hoef slegs terug te kyk. Dan sien ons ’n helder hemel. God het vroeëre
storms gestil. Hy het uit die grootste nood gered. Ja, as ’n christen moet ek
terugkyk. Want God wil nie slegs my smeekbede hoor nie. Hy wil ook gedank word.

Daarom moet u terug gaan sover as Golgota. Wanneer u dit doen, dan sal u
opnuut die talryke gunsbewyse van die Here herken, goedertierenhede wat Christus
vir ons gewone lewe verkry het. Dan bly jy nie steek in wat jy vandag moet mis
nie. Maar jy sien deur alles heen die gunsbewyse van God. Die feit dat ek nog
lewe, dat ek nog kos, klere en behuising het – hoe moeilik my omstandighede
ook al mag wees – is goedertierenhede van die Here. In sy Klaagliedere hoor
ons Jeremia sing: "Dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nie
omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre
nuut; u trou is groot" (Klaagl 3:22,23). Ek het niks van dit alles verdien
nie. Sondaar wat ek is. Ek het die ewige oordeel verdien. Maar sien daar die
kruis van Christus. En die vrugte van Christus se lyding. Wat ’n gunsbewyse.
God gee my lewe en soveel meer. Ontelbare genadegawes.

In die ontwikkelings in ons eie lewe en land sien ons ons Skepper as Vader
van ons Here Jesus Christus. Hy bly ons getroue Vader. Sou Hy hulle wat deur
’n ware geloof aan sy Seun verbind is, in hul ellende los? Hy het Hom
voortdurend bewys as die Verbondsgod op wie jy kan staatmaak. In die Skrif het
ons oorvloedige bewyse daarvan. Ja, selfs in ons eie lewe. Kyk maar terug. Hy
laat hulle wat aan Hom behoort nie los nie. Hy laat juis alles meewerk ten
goede. Hy kom ons te hulp. In die geloof is dit ’n seker wete. Die uitkoms is
nie altyd soos ons dit verwag en op die tyd waarop ons dit verwag nie. Maar ons
ken die Here ons almagtige en getroue Verbondsgod. By alles wat ons moet mis is
sy goedertierenhede nog steeds oorvloedig. Ons bly in vertroue op Hom sien. Met
geduld en ootmoed. Hy sal sorg. Solank Hy my hier nodig het. Op watter manier
ook al. Moontlik langs weë waar ons nie op gereken het nie, of langs weë wat
ons nie sou verkies het nie. Maar Hy sorg. Alles wat ek vandag is en het is
gunsbewyse van die Here.

Het ons dan nie ryke stof tot lof nie. Tel u baie seëninge. Tel hulle een
vir een. Sien wat God gedoen het. Vertrou op Hom alleen.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)