Alle dinge is moontlik vir hom wat glo. Daarom aarsel nie, maar doen dit, in geloof.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-02-03
Teks: 
Lukas 17
Preek Inhoud: 

Lukas 17:5,6

Ds C Kleyn - Pretoria: Sondag 3 Februarie 2002
Johannesburg: Sondag 24 Februarie 2002

Lees:

Matthéüs 17:14-21; Lukas 17:1-10.
Sing: Pretoria: Ps 111:1,2; Ps 111:4,5; Ps 18:14; Ps 18:1,15,16; SB 24:1,2 (na belydenis); SB 24:6,7.
Johannesburg: Ps 111:1,2; Ps 111:4,5; Ps 18:14; Ps 18:1,15,16; SB 24:1,6,7.

Tema:


Alle dinge is moontlik vir hom wat glo. Daarom aarsel nie, maar doen dit, in geloof.

  1. Die vraag van die apostels: hulle bly vassteek in hulleself; en
  2. Die antwoord van Christus: Hy wys op die krag van die geloof.

 

Pretoria Inleiding:

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Nou nou hoop Andries Zeevaart sy geloof openlik te bely. Daarmee wil hy hom voeg by die kerk, die vergadering van gelowiges. Ons mag in hierdie diens ons tewens voorberei op die viering van die Heilige Nagmaal. Volgende week sal, as die Here wil, die tafel van die Here weer vir die gelowiges gereed staan. En dan word u uitgenooi om aan te gaan. Van U word ’n bewuste geloofsdaad gevra. U word gevra om in geloof aan te gaan, om in geloof te eet en te drink om so die dood van die Here te verkondig.

Die Here het die HN vir die gelowiges ingestel. Ware gelowiges mag aangaan. Maar wie is ’n ware gelowige?. Waaruit blyk dit dat u ’n gelowige is? Ja, wat is geloof?

Daar is altyd mense wat met groot skroom aan die tafel van die Here aangaan. Ek sien dan my sondes skerp voor my. Wie is ek om as gas by die Here aan die tafel te sit? Ek ervaar dat ek nog maar min geloof het. Ek is so swak, ek kom maar nie vooruit nie. Kon ek maar meer geloof hê.

Daar is ook mense wat geen enkele moeite het om aan te gaan nie. Dit lyk vir hulle die gewoonste saak van die wêreld. In hierdie gevestigde gemeente, waar gewoonlik elke belydende lidmaat indien moontlik aansit aan die tafel, is die laaste gevaar nie denkbeeldig nie. Om die nagmaal te vier kan dan so vanselfsprekend wees dat ons daar amper of heeltemal nie by stil staan nie. Pasop dat dit nie by u die geval is nie. Die gasheer, ons Here Jesus Christus nooi gelowiges uit, ware gelowiges, mense met ’n lewende en daadkragtige geloof.

Is u almal dan ook metterdaad ware gelowiges? Waaruit blyk dit? Blyk dit ook uit die dade en vrugte van die geloof? Doen u in u daaglikse lewe werklik wat van die geloof verwag word? Of vind u dit heel gewoon om u in u daaglikse lewe af te stem op wat vir mense haalbaar geag word? Waarby dan die geloof maar vir die geleentheid buite spel gelaat word, as iets wat op daardie oomblik onbruikbaar is?

****

Johannesburg Inleiding:

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe ervaar u u geloof? Daar is mense wat ’n gebrek aan vertroue ervaar en aarsel. Ek sien dan my sondes skerp voor my. Wie is ek om in Christus ingelyf te wees deur die geloof? Ek ervaar dat ek nog maar min geloof het. Ek is nog so swak, ek kom maar nie vooruit nie. Kon ek maar meer geloof hê.

Daar is ook mense wat geen enkele met hul geloof ervaar nie.. Dis vir hulle die gewoonste saak van die wêreld. Dis so vanselfsprekend dat hulle daar amper of heeltemal nie by stil staan nie. Hulle glo mos!

Is u almal dan ook metterdaad ware gelowiges? Waaruit blyk dit? Blyk dit ook uit die dade en vrugte van die geloof? Doen u in u daaglikse lewe werklik wat van die geloof verwag word? Of vind u dit heel gewoon om u in u daaglikse lewe af te stem op wat vir mense haalbaar geag word? Waarby dan die geloof maar vir die geleentheid buite spel gelaat word, as iets wat op daardie oomblik onbruikbaar is?

****

Gemeente, laat ons altyd onsself op ons geloof beproef. Daartoe wil ek vir u die woorde van die teks verkondig. Ek vat die boodskap as volg saam:

Alle dinge is moontlik vir hom wat glo. Daarom aarsel nie, maar doen dit, in geloof.

  1. Die vraag van die apostels: hulle bly vassteek in hulleself.
  2. Die antwoord van Christus: Hy wys op die krag van die geloof.

Die 12 dissipels kom by die Here Jesus met die vraag: Gee ons meer geloof.

Waarom die vraag? Ons kan dit nie met sekerheid sê nie. Miskien hou hul vraag verband met die woorde wat aan die teks voorafgaan. Daar roep die Here ’n wee uit oor hom wat ander tot sonde verlei. Die dissipels moet oppas dat hulle nie ’n struikelblok vir ander word nie, sodat die ander daardeur in sonde val. Christus kom dan met die skerp woorde: Dit is beter vir hom as ’n meulsteen aan sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie kleintjies sou laat struikel.

Daarna roep die Here die dissipels op tot vergewensgesindheid: selfs as jou broeder sewe maal op ’n dag teen jou sondig en sewe maal op ’n dag na jou terugkom en sê: ek het berou, moet jy hom vergewe.

Miskien dat die dissipels hul vraag stel vanweë die gewig van daardie woorde. Wat Christus vra is mos geen kleinigheid nie. Hoe maklik is dit nie om dmv my eie houding, woorde of dade vir ander ’n struikelblok te wees nie, sodat die ander gaan sondig. En as iemand my seergemaak het, hoe moeilik is dit dan nie om hom te vergewe nie. Jesus praat selfs van iemand wat sewe maal op ’n dag teen jou sondig. Om dan ook sewe maal op die dag hom te vergewe, sou jy dit doen?. Wie is daartoe in staat? In die lig van hierdie woorde van Christus sal die dissipels hul eie swakheid ervaar het. Miskien dat hulle daardeur gekom het tot die vraag om meer geloof.

Dis ook moontlik dat die vraag ’n ander aanleiding het. Bv, dit kan wees dat hulle die vraag gestel het nadat hulle bepaalde genesings en wonders nie kon verrig nie. Soos ons daarvan lees in Mt 17. Daar blyk dat hulle nie die maansiek seun kon genees nie. Terwyl hulle tot bevestiging van die evangelie wel die bevoegdheid om wonders te doen ontvang het. Kyk maar na Luk 9:1,2. Daar lees ons: "En Hy het sy twaalf dissipels saamgeroep en aan hulle mag en gesag gegee oor al die duiwels en om siektes te genees. En Hy het hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak." Tog kon hulle die maansiek seun nie genees nie. Waarom nie? Dalk dink hulle dat dit is omdat hulle nie voldoende geloof het nie. Daarom stel hulle moontlik die vraag: Gee ons meer geloof. Sodat ons die genesings kan verrig waartoe ons geroep is.

Broeders en susters, ons hoef nie uit die bogenoemde motiewe ’n keuse te maak nie. Naamlik hul swakheid teenoor Christus se swaar eise, en hul onmag om bepaalde wonders te verrig. Waar dit in elk geval oor gaan is die gewig van hul roeping. Dis naamlik opvallend dat hulle in ons teks skielik apostels genoem word. Die naam apostel dui letterlik op hul sending, hul roeping. Hulle is naamlik deur die Here uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak (Lk 9:2). Hierdie apostels het moeite met hul roeping. Hul verantwoordelikhede in woord en daad word deur hulle as swaar ervaar. Daarom die vraag: gee ons meer geloof.

Die apostels dink blykbaar dat hulle te min geloof het om hul verantwoordelike taak te kan vervul. Hul geloof sou nie toereikend wees vir hul roeping nie. Hulle vind dat hulle oorvra word. Ivm hul klein geloof sou Christus te veel van hulle eis.

Die apostels gaan blykbaar daarvan uit dat die vervulling van ’n bepaalde roeping afhang van die maat van jou geloof. Hulle dink in terme van meer en minder. Dit sou afhang van die hoeveelheid of grootte van die geloof. As hulle iets wat hulle moet doen nie kan doen nie, dan sou dit lê aan die geringheid van die geloof wat hulle gekry het.

Hulle is geroep om sekere take te doen. Hulle vra dan: is my geloof wel groot en sterk genoeg om die werk waartoe God my roep te verrig? Hulle kyk dan na hulleself. Daarom aarsel hulle. Hulle sien hul natuurlike swakheid en deins terug vir die wonderbaarlike dinge waartoe Christus hulle roep. Sou so ’n swak en sondige mensekind in staat wees om die dinge waartoe God roep te doen? God moet eers maar meer geloof gee.

Broeders en susters, so ’n reaksie is vir ons mense nie vreemd nie. Ons is nie soos die apostels tot die doen van wonders geroep nie. Tog lyk dit ook vir ons dikwels asof God onmoontlike dinge van ons vra.

Pretoria:

Dink maar aan die 4de vraag wat nou nou vir Andries gevra sal word. "Is dit jou voorneme om … in hierdie leer tot die einde van jou lewe standvastig te volhard … God in gehoorsaamheid aan sy Woord te dien, van die wêreld en sy begeerlikhede af te sien en jou lewe en saligheid buite jouself in Christus te soek?"

Johannesburg:

God vra van ons dat ons in die leer van die Skrif tot die einde van ons lewe standvastig sal volhard. God var dat ons Hom in gehoorsaamheid aan sy Woord dien, van die wêreld en sy begeerlikhede af sien en ons lewe en saligheid buite onsself in Christus soek.

Kan dit wel: om tot die einde van my lewe standvastig in die leer van die Skrif te volhard? Kan dit wel om van die wêreld en sy begeerlikhede af te sien? Ons leef tog in die wêreld. Ons wil tog ook meetel en geniet van wat die wêreld bied? Om as jong persoon altyd die Here te gehoorsaam, ja, om konsekwent voor Hom te leef, daardeur val ons tog heeltemal uit die toon in ons tyd? En ons wil tog nie graag aan die kant staan en ’n spelbreker wees nie? Oorvra die Here ons nie?

Om my lewe altyd buite myself in Christus te soek, is dit ook nie teveel gevra nie? Moet ek om hier op aarde te kan lewe tog ook nie, in elk geval ’n bietjie, op myself vertrou nie, op my kundigheid, my ywer of kragte nie? Om vir my lewensonderhoud alles van God te verwag, is dit nie onmoontlik in ons moderne, tegnologiese samelewing nie? Ons moet ons toekoms tog ook self maak?

Om altyd werklik in die Here bly te wees, kan dit wel? Om selfs vanuit n siek en sterfbed die Here groot te maak, is dit wel realisties? Soms lyk dit asof God onmenslike dinge van ons vra. Gestel dat jy deur siekte of om ander redes die mooie dinge van hierdie lewe, bv jou werk en jou besittings waaraan jy verknog is moet loslaat. Gestel dat jy alleen agterbly sonder man of vrou. Gestel dat jy deur siekte of geweld met ’n gestremde liggaam verder moet. Kan God dan wel oproep om geduldig te wees en om selfs by die grootste moeite te sê: soos die Here dit beskik, so is dit goed. Die Naam van die Here sy geloof? Dit kan tog nie? Daarvoor is my geloof nog veel te swak en klein.

Ja, sulke gedagte kom maklik by ons op. En dan gly die woorde van bemoediging en vermaan gewoon langs ons heen. Die woorde word ervaar as onrealisties en onprakties. Die br of sr kan maklik praat. Hy is gesond en welvarend. Hy moet maar eers in dieselfde skuitjie vaar. Dan sou hy wel anders praat. Of hy hou geen rekening met my geringe geloof nie.

Geliefdes, wat gebeur by al die voorbeelde? Ons stel die duidelike roeping van die Here aan die kant omdat ons die roeping sien as iets wat buite ons kragte is. Dit lyk buite ons bereik. Ons is mos slegs swak mensekinders wat hier op aarde nog moet lewe. Ons geloof sou nie toereikend wees nie. Daardeur het ons die gevoel dat ons oorvra word. Ja, in feite kry God die skuld: Hy sou ons nie voldoende geloof gegee het nie. Hy sou ons bo ons kragte roep.

So reageer die mens wat in homself bly vassteek. Christus gee op die vraag van die apostels, en so ook op ons vrae, antwoord. Hy wys op die krag van die geloof. Dis die tweede gedagte van die teks. Die antwoord van Christus: Hy wys op die krag van die geloof.

In sy antwoord gaan Christus nie direk in op die vraag van die apostels nie. Hy sê nie: julle het reeds voldoende geloof of ek sal julle meer geloof gee nie. Dit kan ons verwonder omdat die bybel heel reëel praat van meer of minder geloof. Christus self praat verskillende kere van ’n klein of ’n groot geloof. Dink aan die hoofman van Kapernaüm. Christus sê oor hom: selfs in Israel het Ek so ’n groot geloof nie gevind nie (Mt 8:10). Dis op homself nie verkeerd om van meer of minder geloof te praat nie. God ken ons as mense wat op die een oomblik ’n groot geloof kan hê, om dan op ’n ander oomblik te verslap en deur ongeloof aangeveg te word. Ons geloof is nie konstant/gelykmaatig nie. Dit gaan op en neer.

Christus gaan dus nie direk in op die vraag van die apostels nie. Waarom nie? Dit hang saam met die bedoeling van hul vraag. Hulle dink dat hulle nie in staat is om hul sware roeping te vervul nie, omdat hulle nie genoeg geloof het nie. Christus laat dan sien dat dit nie afhang van die grootte van die geloof nie. God vra nie bo ons vermoë nie. Dit hang af van die geloof self.

In die geskiedenis van Mt 17:14-21 vra die dissipels aan Jesus waarom hulle die maansiek seun nie kon genees nie. Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof. In die bepaalde situasie glo hulle nie, vertrou hulle hulleself nie toe aan God se beloftes nie. By die vervulling van hul roeping is dit nie ’n kwessie van meer of minder geloof nie, van die hoeveelheid geloof nie. Dis ’n saak van die geloof self.

Christus wys daarop wanneer hy sê: as julle geloof gehad het soos ’n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: word ontwortel en in die see geplant – en hy sou julle gehoorsaam wees.

’n Mosterdsaad word gesien as een van die kleinste saadjies. Dis onvoorstelbaar klein. Wel, so ’n piepklein geloof is in staat om ’n moerbeiboom te ontwortel en in die see te plant. Terwyl die moerbeiboom normaal juis stewig in die grond gewortel is. Christus sê dus: selfs met die geringste geloof sou jy in staat wees om ’n sterk gewortelde boom na die see te verplaas. Probeer eers om die voor te stel. Om teen ’n stewig gewortelde boom te sê: verplaas jou, en hy sou met wortel en al hom na die see verplaas. Dis onvoorstelbaar! Christus wil daarmee duidelik maak dat niks vir die geloof onmoontlik is nie. Christus wil sê: glo net en alles wat jy moet doen sal geluk.

Beteken dit, broeders en susters, dat ons in geloof dan allerlei dinge tot stand kan bring, selfs die mees wonderbaarlike dinge? Moet ons dan deur die geloof allerlei wonders gaan verrig? En as ons die wonders nie kan verrig nie, beteken dit dat ons geen geloof het nie?

Gemeente, geloof het niks met willekeur te make nie. Die geloof soek nie wat opvallend is of wat ons nodig ag nie. Die geloof rig hom juis op God en sy beloftes. Die geloof gryp juis die beloftes vas. Ons stap dan nie buite ons grense deur dit te soek in dinge wat God vir ons as te wonderbaar gelaat het nie.

Aan die ander kant, waar God ons wel iets beloof het, daar moet ons nie in ongeloof aarsel nie. Dis wat die apostels gedoen het. Hulle was uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en om die siekes gesond te maak. Hulle het mag en gesag ontvang oor al die duiwels en om siektes te genees (Lk 9:1,2). Maar hulle het dit nie gedurf nie. Hulle het hulle nie aan God se beloftes toevertrou nie. Wat God vir hulle beloof het was so onvoorstelbaar groot en heerlik dat hulle dit nie kon glo nie. Hulle het na hulleself gekyk. Hulle het hulle blind gestaar op hulle eie swakheid en sonde. Hulle het gedink dat hulle dit self sou moet doen, pleks dat hulle na God gekyk het. Hy het beloof om dit te sal doen.

Dit kom aan op geloof. En om te glo is om amen te sê op God se woord. Jy lewer jou uit aan die Here. Jy vertrou op Hom, sowel in sy almag as in sy wysheid en liefde. Jy laat die Here sy gang gaan in jou lewe. Wanneer ek in God glo, dan plaas ek niks voor God in die pad nie. Dan loop ek God nie voor die voete nie met my eie inisiatiewe nie. Wanneer ek in Hom glo, dan volg ek sy inisiatiewe en laat ek Hom deur en in my werk. Dan word God se krag sigbaar in my lewe. In eie krag kan ek niks nie, maar as ek God se krag in my laat werk, dan kan ek alles doen waartoe God my roep. Aan God se mag is mos geen grens nie. Alle dinge is moontlik vir hom wat glo, daarom aarsel nie, maar doen dit in geloof. Leef op die vlak van God se beloftes. Dan is jy ook op die hoogte van jou roeping.

Die geloof blyk ’n dinamiese krag te hê. Soos die piepklein mosterdsaadjie. Wanneer dit eenmaal ontkiem dan groei dit kragtig en onweerstaanbaar uit tot ’n boom. So het die geloof ’n geweldige krag. Die geloof blyk lewend en kragdadig te wees. In staat om die dinge te bereik waartoe God roep, hoe onmoontlik of onbereikbaar die roeping ook al lyk na menslike maatstawwe.

En gemeente, langs die pad van gewoon doen, bereik jy tewens dit wat jy so graag wil ontvang, naamlik ’n vermeerdering van jou geloof. Om jou geloof te beoefen werp rype vrugte af, ook vir jouself. Jy word versterk in die geloof wat jy as swak en gering beskou het. Die geloof klim saam met die geloofswerke omhoog.

Broeders en susters, dit is die pad wat Christus julle wys om jul roeping te kan vervul. Dit is tewens die pad waarlangs julle bevestig word in julle geloof. Wanneer God jou roep om konsekwent in gehoorsaamheid aan sy woord te lewe, sê dan nie: dit kan nie, dit kan niemand in hierdie tyd volhou nie. Kyk eerder na Hom wat julle daartoe roep. Hy wat julle roep, gee met die roeping ook die kragte. Jy hoef dit nie in eie kragte te doen nie. God wil sy kragte in jou openbaar. Verhinder hom daarin nie deur al jou menslike oorwegings nie. Laat Hom sy gang gaan in jou lewe. Glo, vertrou op Hom. Aarsel daarom nie, doen gewoon wat Hy vra, in geloof. Ook al kom jy aan die kant te staan, ook al word jy as spelbreker uitgeskel. En dit sal luk. Tewens sal jy ontdek dat hoe meer jy gewoon doen wat God vra, hoe makliker dit steeds word, hoe sekerder en sterker jy jou in jou geloof sal voel.

As jy geroep word om God se lof te vermeld ook vanuit ’n siek of sterfbed, sê dan nie onmiddellik: dit kan nie. Vir God, dus vir die geloof wat hom op God vertrou, is niks onmoontlik nie. Glo net. Laat God in jou lewe wys dat dit kan deur gewoon die dinge te doen waartoe Hy jou roep. Dan bly jy nie in jouself vassteek nie, in jou teleurstelling en verdriet nie. Maar dan rig jy jou op jou roeping wat God hier en nou vir jou gee. En dan ontdek jy dat die geloof nooit te veel verwag nie en dat die geloof jou in staat stel om dinge te doen wat jy by jouself nooit moontlik geag het nie. Jou lewe bloei daarvan op. Immers deur nie te aarsel maar dit gewoon in geloof te doen, ervaar jy dat jy steeds sterker word.

Gemeente, laat die geloof julle beheers [ook as julle volgende week aan die tafel van die Here wil aangaan, ook as julle daarmee julle lewe opnuut aan die Here wy.] Dit kom nie aan op meer of minder geloof nie. Die kom daarop aan dat jy glo, dat jy jouself toevertrou aan die Here jou God. Tydens hierdie lewe word die geloof nog aangeveg en bly dit nog onvolkome. Maar selfs die klein geloof van jou mag in staat wees om geloofswerke te verrig. Selfs die klein geloof verrig wonders.

Laat daarom elkeen vir homself nagaan: glo ek werklik en verrig ek ook werklik geloofswerke?. As selfs die piepklein geloof in staat is om vir God werke te verrig, dan sal die geloofswerke tog moet blyk in die lewe van elke ware gelowige. As dit nie die geval is nie, dan het ek op hierdie oomblik blykbaar geen geloof nie. Blykbaar vertrou ek dan nie die Here nie. Ek laat die Here nie in my lewe werk nie.

Laat ons dan [volgende week in opregte geloof gehoor gee aan die uitnodiging van Christus. Ja, laat ons] almal in ware geloof leef en werk. Daarmee gryp ons nie te hoog nie. Dit is die Here wat dit wil doen. Dit is ook geen ligvaardige saak nie. Die Here wil dit ook werklik doen.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)