Uit genade is julle gered

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-08-12
Teks: 
Efésiërs 2:8a
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Is julle blye Christene, dankbare Christene? Hoe kan ons blye en dankbare Christene wees? Hoe kan ons die nagmaal met vreugde en dankbaarheid vier? Dis slegs moontlik as jy besef wie jy is, hoe ryk jy is, wat met jou gebeur het. Daarom moet ons steeds weer aan ons agtergrond en posisie herinner word. Wat is dan ons posisie en agtergrond? Ons kan dit omskryf met die woorde van die teks: uit genade is julle gered.

Waarom skenk God u redding? Wat is sy motief? Die Skrif benadruk: uit genade is julle gered. Genade is hier die sleutelwoord. Die woord genade dreig ’n cliché te word. In ons kring word dit dikwels gebruik. En dan slyt dit so maklik. Weet u nog wel wat die woord beteken? Aan die begin van hierdie diens het u die seëngroet ontvang: genade vir u en vrede. Het u toe ook die diepe inhoud van die woord ‘genade’ besef? Want die woord beteken baie.

Om dit te verstaan moet u weet wat die lewe sonder genade is. Hoe was ons lewe voor God se genadige ingryping, voor ons bekering? Die apostel tipeer die lewe as : dood deur misdade en sondes. Dit is nogal wat. Julle was dood deur julle misdade en sondes, sê Paulus tot die Christene te Efese. Wie in sonde leef, met sy rug na God gekeer, is dood. So is die onbekeerdes, die ongelowiges nog steeds dood, dood in die diepste sin van die woord, geestelik dood.

Dis werklik verskriklik. Ons vind die liggaamlike dood reeds verskriklik. Tereg. Dit is ’n vyand. Maar die geestelik dood is veel erger. Jy leef dan sonder God en sonder hoop. Besef u wel voldoende hoe verskriklik dit is? Nee, dis nie onmiddellik sigbaar nie. Die ongelowiges kan in hierdie wêreld ’n baie onbesorg lewe lei. Dit lyk soms asof hulle beter af is as die gelowige. En ons wil graag dinge kan sien en voel. Daarom is ons bv meer onder die indruk van dwelmsverslaafdes wat hul lewe verwoes, as van puur ongelowiges. By dwelmverslaafdes kan ’n mens mos die verskriklike lewensverwoesting sien. En dit sien jy nie by die ongelowige nie.

Tog is die situasie van die ongelowige baie ernstiger. En vergeet nie: so was ook u situasie voor u tot bekering gekom het. En so is u situasie as u nie glo nie. Wie nie glo nie, verwoes sy lewe in die diepste sin van die woord. Jy is dan geestelik dood. Die dood is so verraderlik. Jy besef nie eers dat jy dood is nie. Jy dink dat jy lewe. Maar in werklikheid is jy wel deeglik dood. En van ’n dooie kan ’n mens niks verwag nie. Uit jouself kan jy dan niks doen om tot die lewe terug te keer nie. So radikaal is hierdie dood, dat jy niks anders wil en niks anders kan doen nie. Jy wil nie na God – die lewe - gaan nie en jy kan nie na God gaan nie.

So is u, broeders en susters, van nature. Dood deur die misdade en sondes. U is mos in sonde ontvang en gebore. Die sonde was u natuurlike element. En wie in sonde leef, is dood. Dit lyk dan asof jy jou eie gang kan gaan. Jy volg mos die begeertes van die vlees, van jou sondige bestaan, jy doen wat jy lus is om te doen. Maar jy is in feite slaaf van satan, in die greep van die mag van die duisternis.

Gemeente, teen hierdie donker agtergrond moet u wel verwonderd wees oor God se genade in u lewe. Want hoe is u lewe nou? Wat het met u gebeur? ’n Ongelooflike wonder. U was dood in die diepste sin van die woord. Daar was by u geen moontlikhede om na God te gaan nie. En wat erger was: uit uself wou u dit nie eers nie. Tog het u die grootste en heerlikste oorgang gemaak wat denkbaar is: die oorgang van die dood na die lewe.

Dit word so pragtig weergegee in die verse 4-6. "Maar God wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus – uit genade is julle gered – en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus."

Indien God nie self ingegryp het nie, dan was daar geen ontkoming aan sy toorn nie. God het dit gelukkig wel gedoen. Wat ’n wonder van genade. Paulus raak daaroor opgewonde. Ineens, tussen sy uiteensetting in, roep hy vol verwondering uit: uit genade is julle gered. Hoe bestaan dit: dooies ontvang die lewe.

Ja, so is die Here u God. Hy is geen koue, onbewoë God nie. Hy is nie hard nie sodat hy nie omgee wat met u gebeur nie. Inteendeel. Hy is ’n God met ’n groot, warm hart. Sy hart is so groot dat Hy selfs mense wat dood was deur hul misdade tog nog liefhet. Dis danksy sy liefde dat Hy u, dooie sondaars, saam met Christus lewend gemaak het.

Broeders en susters, dit kan vir u nou wel duidelik wees wat genade is. Genade is dit dat God in ontferming na ons, verlore sondaars, uitreik om ons te red. Dis verbeurde guns. Dis God se vriendelike aangesig oor ons. Soos u dit hoor in die bekende priesterlike seën. "Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees." God se vriendelike aangesig gee vrolikheid en lig, vir die opregte harte. Wat die son met haar lig en warmte vir die plante, diere en mense is, dit is God se genade vir die gelowiges. God se genade is die bron van alle goeie dinge vir tyd en ewigheid.

Genade wil sê: jy dank alles aan God. Jy staan self met leë hande voor God. Jy kon selfs nie die kleinste bydrae lewer nie. ’n Dooie kan mos niks bydra nie? Die hele oorweldigende pakket van jou verlossing is ’n geskenk van God.

’n Geskenk is iets wat jy sommerso kry. Jy hoef niks daarvoor te doen nie. Jy kon niks daarvoor doen nie. Ons verkeer in hierdie opsig in dieselfde situasie as ’n lewenslang veroordeelde wat grasie ontvang. So ’n veroordeelde kan geen enkele bydrae aan sy vrylating lewer nie. Hy kan dit nie verdien nie. Hy kry dit gewoon. So is ons verlossing ’n geskenk van God.

Let daarop, die genade van God is onvoorwaardelik. God stel geen voorwaarde vooraf nie. Hy sê nie: as jy dit of dat doen, dan neem ek jou wel aan. By God is dit nie: ek hou veel van jou, maar dan moet jy wel eers jouself verander. Nee, God het ons aanvaar soos ons is, met al ons sondes en gebreke. God het dus nie eers ’n belofte van verbetering gevra nie. Hoe sou God dit kan vra van dooies. God het Hom oor ons ontferm toe ons nog vyande was. Dis grondelose ontferming, dis genade ryk en vry. God skenk redding en beskerming, skenk dit aan sondaars, skenk dit ook aan my.

Wie sou nie verbaas wees nie. U is gered. Nie omdat u sulke beste, brawe mense is nie. Nie omdat u soveel goeie dinge vir God en vir ander doen nie. Nee, u is gered slegs uit genade. Dis die motief van u redding.

Maar hoe kry ek deel aan die redding? Deur geloof.

U weet almal wel wat God gedoen het om ons te red. Eers moes die dood oorwin word. Daarvoor het God sy eie Seun oorgelewer. Wie maak nou so vir dooie sondaars?

Om aan dooie sondaars nuwe lewe te gee, het Christus die dood ondergaan en oorwin. Glo u dit? Dan mag u seker weet: Christus het u saamgeneem, die graf in. Ja, meer nog: Christus het u saamgeneem uit die graf uit, na die lewe, die lewe in gemeenskap met die Here God, as nuwe skepsels.

Dit klink baie vreemd. Ons was nog nie eers gebore toe Christus op die Paasmore uit die graf uitgegaan het. Hoe kan ons dan sê dat Hy ons saamgeneem het? Dit kan ons slegs sê omdat God self dit sê. Die evangelie leer ons: Deur die geloof is ek een met Christus. Deur die geloof is ek so nou aan my Heiland verbind dat niks en niemand my van Hom kan losmaak nie. Hy het opgestaan. Deur die geloof het ek met Hom opgestaan. Deur die geloof is ek saam met Hom in nuwe mens. Deur die geloof kan ek sê: sy lewe is my lewe. Deur die geloof kan ek nog meer sê: sy werk is my werk. Dis baie belangrik. Wanneer ek na my lewe kyk dan stel dit nie baie voor nie. Wanneer ek na my werke kyk dan beteken dit ook nie baie nie. My beste werke is met sonde bevlek, stukwerk. Maar, loof God, wanneer ek Jesus Christus as my Verlosser aanvaar, dan tel my sondige dade nie meer mee nie. My skuld word nie meer in rekening gebring nie. My sondes is betaal.

Wat dan oorbly is Christus se lewe en Christus se werk, sy gehoorsaamheid. Dit tel. Dit is die enigste wat God in rekening bring. Deur die geloof is Christus se lewe, my lewe, is sy werk, my werk. So kyk God na elkeen wat glo. Daarom het Hy u gegroet met die woorde: genade vir julle en vrede. Daarom verklaar Hy ook met die woorde van die teks: uit genade is julle gered, deur die geloof. U het oorgegaan van die dood na die lewe. Glo in Jesus Christus. Aanvaar sy lewenswerk. Dis hoe julle blye en dankbare Christene kan wees. Dis ook hoe julle die Heilige Nagmaal met vreugde en dankbaarheid kan vier.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

 

Liturgie: 

Lees: Efésiërs 2:1-10; Efésiërs 2:11-16 (1ste Nagmaalstafel); Efésiërs 2:17-22 (2de Nt); Efésiërs 3:14-21 (3de Nt).
Sing: Ps 27:1,2; Ps 119:1,2; Ps 89:1,7; Ps 22:11 (1ste Nt); Ps 22:12 (2de Nt); Ps 68:9 (3de Nt); Ps 21:1-3.