Die opgestane Christus sorg vir twee getuies van sy opstanding.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-03-31
Teks: 
Johannes 20
Preek Inhoud: 

Johannes 20:1-10

Ds C Kleyn - Sondag 31 Maart 2002

Lees:

Johannes 20:1-23; 1 Korinthiërs 15:12-34.
Sing: Ps 118:7,8; Ps 118;11,12; SB 7:8-10; Ps 21:1-4; Ps 118:13,14.

Tema:

Die opgestane Christus sorg vir twee getuies van sy
opstanding.

  1. Hy dryf hulle na sy oop graf; en
  2. Hy wys hulle op sy leë graf.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat ’n teleurstelling, sou jy kan dink, as jy Joh se beskrywing van Pase
lees. Die Paasfees begin so anders as wat ons sou wil sien. Op die Paassondag
het tog iets geweldigs gebeur? Ons Here Jesus het opgestaan. Christus het die
bande van die dood verbreek as eersteling van hulle wat ontslaap is. ’n Nuwe wêreld
gaan oop. Daar is dus alle rede om fees te vier. Maar waar bly die feesvreugde?
Waar bly die juigende menigte wat die koning, wat opgestaan het, aanbid? Daar is
wel baie bedrywigheid op die vroeë more. Mense stap heen en weer tussen
Jerusalem en die graf. Maar ons ontdek niks van vrolike harte nie. Vroue gaan
met bedroefde gelaat met hul speserye na die graf toe. Maria Magdalena sien die
oop graf. Heeltemal oorstuur hardloop sy na die twee dissipels Petrus en Joh.
Geskok deur die berig hardloop die dissipels vervolgens na die graf. Waar is die
feesvreugde?

En Jesus Christus self, waar bly Hy? Ons lees wel oor vroue en manne wat na
die graf gaan, maar nie oor Christus wat uit die graf uitgaan nie. Die Bybel
swyg oor die wonder van die opstanding self. Ons hoor niks oor hoe Christus uit
die dood na die lewe teruggekeer het nie. Ons hoor slegs hoe mense tot die
geloof in die opstanding beweeg word.

Tog moet u, broeders en susters, in hierdie beskrywing Christus bly raaksien.
Op die agtergrond staan die Paasvors wat onmiddellik besig is om sy skape byeen
te bring. Dit is Christus self wat sy volgelinge na die leë graf lei. Hy wil sy
dissipels tot die geloof in sy opstanding bring. Hy wil vir Homself getuies
formeer. Sodat deur hul getuienis die Paasvreugde in baie harte ’n plek mag
kry. Sodat die paasvreugde nooit uit u harte sou verdwyn nie.

Ek verkondig vir u: die opgestane Christus sorg vir twee getuies van sy
opstanding

  1. Hy dryf hulle na sy oop graf; en
  2. Hy wys hulle op sy leë graf.

Op die vroeë more, voordat dit lig is, gaan verskillende vroue reeds die
graf toe. Joh vestig ons aandag in die besonder op Maria Magdalena. Sy wil haar
Meester haar laaste eer bewys. Daarom neem sy speserye saam vir die versorging
van sy liggaam. Sy dink slegs in terme van ’n dooie liggaam. Daarom is haar
skok groot wanneer sy sien dat die steen van die graf weggerol is. Vir haar is
slegs een konklusie moontlik: Mense het die liggaam van haar heer weggeneem. Weg
is die liggaam van haar Meester. Die liggaam wat sy wil versorg as laaste
eerbewys vir haar Meester.

Maria is so seker van haar gevolgtrekking dat sy onmiddellik na Petrus en Joh
hardloop om hulle daarvan in kennis te stel. Die twee dissipels moet dit weet.
Miskien kan hulle iets doen. So hardloop sy Jerusalem toe. En vertel vir die
twee dissipels haar skokkende konklusie: "Hulle het die Here uit die graf
weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie." Hierdie
skokkende berig bring Petrus en Joh in beweging die graf toe.

Onthou, broeders en susters, Christus is in beheer op hierdie Paasmore. Hy
lok die twee dissipels na sy graf dmv die ontstelde Maria. Maria tree op as
Christus se bode. Die dissipels, voormanne onder die apostels, moet die graf
toe. Hulle moet die tekens van die wonder van Pase sien. Hulle moet sy getuies
wees. Ja, hulle moet saam kom. Sodat in die mond van twee getuies die Paasfeite
sou vasstaan vir die kerk van alle tye, vir u en vir my.

Die twee getuies kom dus in beweging deur die alarmerende berig van Maria.
Hulle word deur Christus na sy oop graf gedrywe. Hulle moet na die graf toe. Is
dit werklik noodsaaklik? Christus sou tog onmiddellik aan hulle as die lewende
vors kon verskyn het? Dit sou tog voldoende bewys van sy opstanding wees? Waarom
laat Hy hulle dan eers heen en weer hardloop na en van die graf?

Dis die wysheid en geduld van Christus met hulle en met ons. Dit is nie
maklik om die volle werklikheid van Pase te verstaan en te glo nie. ’n Lewende
Christus wat skielik voor jou verskyn, is natuurlik ’n geweldige belewenis.
Maar ons moet wel goed onthou dat Hy eers gesterf het. En dat Hyself die bande
van die dood gebreek het. Indien Jesus onmiddellik vir sy dissipels verskyn sou
het, dan sou die gevaar groot wees dat sy lyding, sy dood en sy graf snel
vergeet sou word. Soos ’n bose droom wat ’n mens liefs so gou as moontlik
vergeet. Dan sou die eenheid van Golgota en Pase, van dood en opstanding maklik
vergeet kan word. Dan sou die Paasfees nie werklik verstaan word nie. Die
dissipels sou bly wees om weer met hul Here verenig te wees, sonder om die volle
werklikheid van die opstandig te verstaan.

Die kruis en die graf was vir hulle mos ’n onverteerbare saak. Al hul
verwagtings het daarop stukkend geloop. Hulle kan tog niks van ’n dooie
Heiland verwag nie? Alles het vir hulle daar doodgeloop. Die kruisiging en dood
was vir hulle die einde, ’n teken van mislukking. Wel, gemeente, om sy getuies
tot geloof te bring lei Christus hulle eers na die punt waar alles doodgeloop
het. Hy wil daar met hulle begin. Hulle moet oor die dooie punt heen gehelp
word. Hulle moet insien dat die graf van Christus geen eindpunt is nie, maar
juis ’n noodsaaklike onderdeel van sy pad na heerlikheid. Deur hulle sy oop
graf te laat sien, wil Christus hulle gedagtes op gang sit. Hulle moet gaan
nadink oor alles wat gebeur het. Hulle moet tot die ontdekking kom dat Golgota
nie ’n mislukking is nie, maar ’n oorwinning. Hulle moet leer insien dat
Christus juis as oorwinnaar sy dood ingegaan het. Die Goeie Vrydag moet deur
Pase gevolg word. Uit die graf kom ’n nuwe begin. Wat hulle as eindpunt gesien
het, is in wese ’n beginpunt. Dat Christus gely het, gesterf het en begrawe is
en weer opgestaan het is alles deel van sy een verlossingswerk. Ons moet die lyn
deurtrek van Golgota na Pase, van dood na opstanding.

So drywe Christus hulle na die oop graf. So vinnig as moontlik hardloop hulle
graf toe. Met sulke groot dinge wat op hierdie dag gebeur, is daar geen tyd om
te verloor nie. Joh vermeld selfs die besonderheid dat hyself vinniger as Petrus
was en dat hy as eerste by die graf aangekom het. Hy kan hierdie geskiedenis nog
goed onthou. Dis was werklik geen droom of inbeelding nie. Dis is geen fabel
nie, maar historiese werklikheid. Joh weet nog presies hoe dit verloop het.
Waarom Petrus wat agterop kom, weet ons nie. Allerlei moontlike verklarings word
gegee. Maar die Here ag dit nie belangrik om vir ons te vertel nie. Watter rede
daar ook mag wees, die feit dat Joh hierdie besonderhede noem, laat des te
duideliker uitkom dat dit ’n historiese beskrywing is van iets wat werklik
gebeur het.

Joh kom as eerste by die graf aan. Hy buig hom vooroor om deur die noue
ingang die grafkelder in te kyk. Hy sien die doeke lê, die kleed waarin die lyk
toegedraai was. Hy gaan egter nie in die graf self nie. Waarom gaan hy nie
verder nie? Sommige verklaarders sê dat hy dit nie doen omdat hy onmiddellik
sien dat Maria gelyk het. Hy sien mos slegs die doeke. Maar wat weerhou hom dan
om nader ondersoek in te stel, as hy dink dat die liggaam inderdaad weggeneem
is?

Ons sal ’n ander verklaring moet gee. Wanneer Joh in die skemer van die
grafkelder die doeke sien lê, dan mag ons aanneem dat Joh juis gerusgestel is.
Die liggaam van Jesus is blykbaar tog nie weggeneem nie. ’n Lyk word mos altyd
met die lykswade weggeneem. Niemand sou die moeite doen om die lyk uit die stywe
windsels en bande los te wikkel nie. Die grafdoeke was mos deurdrenk met ’n
mengsel van mirre en alewee van omtrent 100 pond gewig, lees ons in Joh 19:39.
Ruim 30 kilo. Die mirre is eintlik ’n soort hars wat op doeke dieselfde
uitwerking as kleefstof het. Dit was dus ’n stewige pak. ’n Mens kan dit
ongeveer vergelyk met ’n been in gips. Dit is ’n harde omhulsel. Iemand wat
die liggaam sou wou wegneem sou nie die moeite doen om die lyk uit die stywe
windsels te haal nie.

Verontrus dit Joh dan nie dat hy slegs die doeke sien nie? Waarom sou dit hom
verontrus? Hy kan in die halfdonkere grafkelder die windsels onderskei. Meer as
die doeke sien jy normaal nie van ’n dooie wat volgens oosterse gewoonte
toegewikkel is. Joh was deur onrus opgejaag tot aan die graf toe. Maar nou sien
hy die doeke daar in die graf lê. Niks opvallends nie. Vanweë die mirre en
alewee sal die doeke waarskynlik nog die vorm van die liggaam aangehou het.
Wanneer Joh so op die eerste gesig die windsels sien, het hy alle rede om
gerusgestel te wees. Hy mag veronderstel dat Jesus se liggaam nog in die doeke
aanwesig is. Daarom gaan Joh nie onmiddellik verder nie. Hy skep verlig asem.

Petrus gaan egter wel verder. Hy wil dit nader ondersoek. Het woord wat in
vers 6 vir sien gebruik word is ’n ander woord as wat in vers 5 staan. Dit
gaan in vers 6 daaroor dat Petrus skerp toesien, die sake noukeurig bekyk.
Petrus sien nie net die doeke nie, hy besien dit van naby, hy bekyk dit van alle
kante.

So word die twee getuies nie slegs na Christus se oop graf gedryf nie, maar
hulle ontdek ook dat dit ’n leë graf is. Dis die tweede gedagte van die
preek.

Binne die grafkelder is daar iets wat Petrus se aandag trek, iets wat Joh op
die afstand van buite af nie kon sien nie. Petrus sien naamlik dat die doek wat
oor die hoof van Jesus gelê het, nie by die ander doeke lê nie. Normaal vorm
die doeke een geheel, sluit hulle by mekaar aan. Die hoof en die liggaam sluit
mos by mekaar aan. Maar nou ontdek Petrus dat dit nie die geval is nie, die doek
wat oor Jesus se hoof gelê het sluit nie aan by die ander doeke wat om sy
liggaam gewikkel was nie. Dit lê op ’n ander plek afsonderlik.

Die evangelis noteer hierby dat die doek opgerol was. Dikwels het mense
hieruit afgelei dat die hoofdoek en so ook die ander doeke keurig opgevou was.
Die netheid en orde in Jesus se graf sou dan bewys dat daar geen lykroof kon
gewees het nie, maar dat Jesus opgestaan het.

Tog word hier nie ’n woord gebruik wat praat van netjies opvou nie. Die
woord wat gebruik word wys eerder op inwikkeling. Dieselfde woord word gebruik
in Mt 27 en Lk 23. Daar word dit gebruik om te beskryf die toedraaiing van Jesus
se liggaam in skoon linne. Dit is dan aanneemlik dat ons die woord in die teks
so moet verstaan dat die hoofdoek nog toegedraai is. Dws soos op die Goeie
Vrydag die liggaam van Jesus in die linne toegedraai is, so sien Petrus daar die
doek lê. Die hoofdoek, in ronde vorm, as ’n bal toegedraai. En die windsels
van het liggaam los daarvan, iets daarvandaan. Ook nog presies so: toegedraai,
asof dit nog ’n liggaam omsluit. Alles lê nog in die vorm wat Josef se hande
daaraan gegee het.

Laat ons egter nie teveel nadruk op hierdie besonderheid lê nie. Waar dit in
vers 7 veral oor gaan is dat die hoofdoek nie by die windsels lê nie, maar
tersyde op ’n ander plek. Dit is die beslissende detail. Die kleine
besonderheid maak die situasie totaal anders as ’n mens op die eerste gesig
sou verwag het. Toe Joh die lykswade van buite af gesien het, was hy
gerusgestel. Maar nou ontdek Petrus dat die hoofdoek nie meer by die lykswade
aansluit nie. Die geheel is uiteengeskuif. Die huls is leeg. ’n Oop kokon lê
agter. Jesus liggaam is daaruit weg.

Joh gaan ook kyk. Die twee getuies moet die duidelike tekens van wat in
daardie nag gebeur het, sien. Dis onmoontlik dat iemand die liggaam weggehaal
het. ’n Mens kan mos onmoontlik ’n lyk uit die lykswade en hoofdoek haal,
sonder om dit te skeur of te beskadig. Iemand wat die lyk sou wil wegneem sou
die liggaam saam met die lykswade wegneem.

’n Skyndood is ook uitgesluit. Die windsels het nog die vorm van die
liggaam. Daar is geen tekens van ’n geweldige worsteling om uit die windsels
uit te kom nie. Die doeke is nog heeltemal intak, onbeskadig.

Tog is Jesus nie meer daar nie. Daar is slegs een konklusie moontlik: ’n
groot wonder moet gebeur het. Christus is opgestaan. Die tekens getuig van die
wonder dat Jesus alle windsels van die dood soewerein verlaat het. Die bande van
die dood kon Hom nie vashou nie.

Nou begin die insig by Joh deur te breek. Hy sien dit en glo, lees ons. Joh
begin om iets daarvan te verstaan. Het die Here nie voorheen gesê dat Hy
volgens die Skrifte opgewek sou word nie? Wanneer hy die stille tekens sien dan
kom die Skrif eindelik voor sy gees te staan.

Beskamend en eerlik bely Joh jare later die skuld van sy ongeloof. "Want
hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dode moes opstaan nie."
Die twee was so traag om te glo, omdat hulle die Skrifwoorde nog nie werklik
verstaan het nie. Christus het hulle herhaaldelik op sy dood en opstanding
voorberei. Die woorde van Christus het egter afgestuit op hul onbegrip en
onverstand. Hulle het die Skrifte nie verstaan nie, die Skrifte wat aangekondig
het dat Christus moes sterwe en opstaan. Verskillende Psalms spreek tog
duidelike taal? Dink bv aan Ps 16 en Ps 21. En wat dink u van die profesie van
die lydende kneg van die Here uit Jes 53? Daar lees ons mos: "as sy siel
’n skuldoffer aangebied het, sal Hy ’n nakroos sien; Hy sal die dae verleng,
en die welbehae van die Here sal deur sy hand voorspoedig wees."

Hoe kon hulle, hoe kan ons dan bly steek in die werklikheid van die dood en
die graf? Moes Christus nie Homself as ’n skuldoffer aanbied om juis daardeur
nakroos te sien nie en ’n lang lewe te hê nie? Moes op hierdie manier nie die
welbehae van die Here voorspoedig wees nie?

Joh erken die skuld van die ongeloof: "Want hulle het nog nie die Skrif
verstaan dat Hy uit die dode moes opstaan nie." So sien ons Petrus en Joh
aan die slot van die teks weer huis toe gaan. Petrus nog nie begrypend, vol
verwondering oor wat gebeur het, volgens Lk 24. En Joh, hy begin om te glo. Iets
begin om by hom te daag. Maar ook hy gaan huis toe. Hulle is nog nie gereed vir
’n loflied tot eer van die Opgestane nie. Hulle is nog nie gereed vir die
Paasfees nie. Hulle swyg nog. In kleingeloof.

Gemeente, om hulle vir die fees te bekwaam, moet eers die Skrifte vir hulle
oopgaan. Deur die sien van die wonderlike tekens van die opstanding is hulle in
ieder geval klaargemaak vir die heerlike prediking van Christus se opstanding
later die dag. Ons het daarvan gelees in die verse 19 e.v. Hoe die Opgestane
Here eers saans self in Jerusalem verskyn het. Toe het Christus volgens Lk 24
hulle verstand geopen om die Skrifte te verstaan. So wys die Here u die een pad
na die sekerheid. Hy lei u van die leë graf na die geopende skrif. Die tekens
van Christus se opstanding gaan eers werklik skitter in die lig van die Woord.
Die woord wat vol van die lewende Christus is.

Neem dan die bewys van Christus se opstanding aan, volgens die woord wat vir
u verkondig is. Die twee apostels het dit vir u gesien. Hulle moes dit vir u en
my sien. Hulle het daarvan getuig. Christus is opgestaan. Nie soos Lasarus wat
tydelik aan die dood ontruk is nie. Wat so te sê aan hierdie kant van die graf
opgewek is. Nee, Christus het die windsels van die dood vir goed verbreek, as
oorwinnaar van die dood. Vir u en vir my. Om te bevry van die bande van die
dood. ’n Bevryding waarvan u seker mag wees. Wat het u mos in die graf gesien.
Doeke wat nog heeltemal intak was. So magtig is u Opgestane Heiland. Soveel
sterker as die dood.

Salig is jy as jy hul getuienis aanvaar. Jou hele lewe en toekoms hang
daaraan vas. Dit ontsluit vir jou ’n toekoms. Jy kan daardeur nou reeds
opstaan tot ’n nuwe lewe. Waardeer tog Christus se goeie sorg op die Paasmore
tot u behoud. Daar is geen twyfel meer moontlik. Die opgestane Christus het
immers gesorg vir twee getuies van sy opstanding. Hy het hulle na die oop graf
gedryf. Hy het hulle op sy leë graf gewys. Dit kan nie anders nie, Christus het
gesterf: sien tog daar die windsels wat nog die vorm van sy liggaam het. En, wat
nog meer is: Christus het opgestaan: sien daar die leë windsels, met die
hoofdoek iets tersyde.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)