Christus in sy heerlikheid stel homself voor.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-03-31
Teks: 
Openbaring 1
Preek Inhoud: 

Openbaring 1:17,18

Ds C Kleyn - Sondag 31 Maart 2002

Lees:

Openbaring 1:9-20.
Sing: SB27; Ps97:1,2; SB 39:1-5; Ps 98:1,2.

Tema:


Christus in sy heerlikheid stel homself voor

  1. as die lewende God;
  2. as diegene wat dood was en weer leef; en
  3. as diegene wat oor die dood beskik.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wanneer die evangeliste oor Pase skryf, dan begin hulle almal met ’n
tydsbepaling. Die opstanding van Christus word gedateer. Dit het gebeur na die
Sabbat op die eerste dag van die week. Hierdie tydsbepaling is nie sonder
betekenis nie. Dit wys op ’n keerpunt in die geskiedenis van die kerk.
Christus het die Ou Testamentiese sabbat vervul. Jy hoef nie meer 6 dae te werk
om tot die rus van die sewende dag te kom nie. Christus het God se eise vervul.
Hy het op die kruis uitgeroep: dit is volbring. Christus het oorwin. Nou mag
elkeen van ons die week met ’n feesdag begin, ’n rusdag. Voordat julle jul
daaglikse werk toe gaan, mag julle Christus se oorwinning vier en in Hom jul eie
oorwinning.

Deur sy opstanding is die eerste dag van die week geheilig. Dit word voortaan
dan ook die dag van die Here genoem. Dat dag wat deur die Here gekenmerk word.
Dat dit die bedoeling is, wys Christus deur juis op die eerste dag van die week
vir sy vergaderde dissipels te verskyn, 2 Sondae na mekaar. Die eerste dag word
gedoop tot die dag van die publieke samekoms, die dag van die besondere
ontmoeting tussen die Here en sy volk. Daarom is ons as gemeente ook juis op
hierdie eerste dag van die week in erediens by mekaar.

Dis ook juis op hierdie nuwe testamentiese rusdag, die dag van die Here, dat
die verheerlikte Christus aan Joh op Patmos verskyn. Joh is nie in die
geleentheid om die samekoms van God se gemeente by te woon nie. Hy is na die
eiland Patmos verban vanweë sy getroue prediking van Christus. Hy is verstoke
van die gemeenskap van die heiliges. Hy is egter nie alleen nie. Sy Opdraggewer
Jesus Christus - dink aan die woorde wat Jesus op die eerste Paasaand vir sy
dissipels gesê het: Soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle ook – sy
Opdraggewer is by hom en praat opnuut met hom. Op die dag van die Here raak Joh
in geestesvervoering. In die gees sien en hoor hy dinge wat gewoonlik buite die
bereik van ons sintuie val.

Joh hoor iemand agter hom met ’n groot stem, soos van ’n basuin. Wanneer
hy hom omdraai dan sien hy sewe goue kandelaars en tussen die sewe kandelaars
Een soos die Seun van die mens met ’n lang kleed aan – die gewaad van ’n
koning of hoëpriester – en met ’n goue gordel, met oë soos ’n vuurvlam
en voete soos blink koper. Uit sy mond gaan ’n skerp tweesnydende swaard. Sy
hele verskyning is soos die son wat skyn in sy krag.

Broeders en susters, is dit vreemd dat Joh soos ’n dooie aan sy voete val?
Watter sondige mens kan so ’n heerlikheid verdra? Wie kan die majesteit van
die lewende God sien en leef? Ons mense met ons skuldige gewetens, met ons
sondes, word bang wanneer ons iets sien van die goddelike heerlikheid. Ons kan
dit nie verdra nie.

Maar dan hoor ons die goeie nuus. Ons verheerlikte Here lê sy regterhand op
Joh. Joh hoef nie te vrees nie. Christus stel Joh gerus. Soos ouers hul kinders
soms gerusstel. ’n Kind kan soms baie bedreig of bang voel. Dan beteken dit
baie vir die kind om die hand van pa of ma weer te voel. Dit gee weer vertroue.
Die kind voel hom weer veilig en rustig.

So lê die verheerlikte Christus sy hand op die hoof van die verskrikte
apostel. Joh mag gerus sy hoof ophef en sy Meester in die oë kyk. Want dit wat
Christus se verskyning so skrikwekkend maak is nie teen hom of teen die kerk
gerig nie, maar juis vir hom en teen Christus se vyande gerig. Sy getroue
diensknegte hoef tog nie bang te wees nie? Christus verjaag die vrees. Hy help
Joh weer op sy voete. Joh kan voor God bestaan. Dis reg tussen God en hom.
Daarom voeg Christus die woord by die daad: Moenie vrees nie. Laat al jou vrees
vaar. Jy mag God sien en lewe.

Broeders en susters, ons herken hierdie vertroostende woorde uit die
Paasgeskiedenis. Die engel van die Here het in hemelse lig, ja soos weerlig,
neergedaal en die steen van Jesus se graf weggerol. Die wagte het toe gebewe en
soos dooies geword. Maar die engel het tot die vroue gesê: Moenie vrees nie.
Later herhaal Jesus self die woorde: moenie vrees nie. Ons verheerlikte Here bly
dit vir sy volk vir u en my sê: moenie vrees nie. Ek het julle skuld versoen.
Dink aan Goeie Vrydag. Ek het oorwin: dink aan Pase. Jy mag God sien en lewe.

Dit word vir Joh duidelik gemaak wanneer Christus homself aan Joh voorstel.
Christus maak Homself bekend op ’n manier wat vertroue wek. Christus sy
handoplegging en sy woord van bemoediging word onderstreep deur sy
selfopenbaring. Laat ons dan nader let op die selfopenbaring van Christus.

Ek verkondig vir u: Christus in sy heerlikheid stel homself voor

  1. as die lewende God;
  2. as diegene wat dood was en weer leef; en
  3. as diegene wat oor die dood beskik.

Ons verheerlikte Christus bemoedig ons deur aandag te vestig op Homself: Ek
is die eerste en die laaste. Dis dieselfde as die alfa en die omega, die griekse
a en z. ’n Naam wat in vers 8 vir die Here God gebruik word. Christus noem
homself met ’n naam wat slegs aan God behoort. Hy kan dit doen, want Hy is
ware God. Hy is die Here ons geregtigheid. Hy doen ook wat God alleen kan doen.
In Jes 44:6 lees ons: "So sê die Here, die Koning van Israel en sy Losser,
die Here van die leërskare: Ek is die Eerste en Ek is die Laaste, en buite My
is daar geen God nie."

Christus sê nou dat Hy die eerste en die laaste is. Hy is die Koning en
Verlosser van Israel, die Here van die leërskare. Afgode kan niks maak nie. God
alleen is magtig. Joh, verban op Patmos, en ons mag weet: Moenie vrees nie, die
afgode van hierdie wêreld kan niks nie. Hulle probeer miskien om julle klein te
kry deur bespotting of geweld en imponerende dade. Hulle probeer miskien om
julle mee te sleur deur hul bedrieglike woorde. Maar moenie vrees nie. Ek Jesus
Christus is magtig. Ek is die eerste. Ek gaan alles vooraf. Voor My was daar
niemand nie. Ek is die Oorsprong, die Skepper van alles en almal. Niks en
niemand bestaan sonder My nie. En Ek maak met die inwoners van die aarde wat Ek
self wil.

Ek is ook die laaste. Ek oorleef alles en almal. Ek het geen opvolger nodig
nie. As straks alle mense uitgedien is, is Ek nog daar. As die wêreldgeskiedenis
voltooi is, dan is ek nog steeds dieselfde, die eerste en die laaste. Ek is die
ewige, van ewigheid tot ewigheid, sonder begin en sonder einde.

Toe jou lewe begin het, selfs voor jou geboorte, was Ek aanwesig. Ek bepaal
die gang van jou lewe. Dis nie jou teenstanders of satan wat dit bepaal nie. En
as jou tyd hier op aarde verby is, dan is Ek nog steeds daar om vir alles te
sorg, om jou in my hemelse woning op te neem en om jou te laat deel in my
heerlikheid. Wat ’n troos vir die kerk en die gelowiges wat verneder en verag
of vervolg word vanweë hulle trou aan Christus en sy woord.

Christus het nog meer om oor Homself te sê: Ek is die eerste en die laaste
en die lewende. Opnuut ’n goddelike titel. Christus verwys hier nog nie na die
feit dat hy dood was en weer lewend geword het nie. Nee, wanneer Hy homself die
lewende noem, dan verwys hy na sy goddelike natuur. Hy is die lewe self. Hy kan
nie sterwe nie. Hy leef van ewigheid tot ewigheid. Hy kan hierdie titel vir
homself gebruik omdat hy God is, God uit God, lig uit lig, ware God uit ware
God.

Die bede wat Christus kort voor sy sterwe gebid het, is verhoor. Terwyl hy
die helse benoudheid en pyn in die gesig gestaar het, het Christus gebid:
"Vader, … Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het
om te doen, het Ek volbring. En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die
heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was" (Joh 17:1-5).
Nou het Hy inderdaad die heerlikheid wat Hy gehad het voordat die wêreld was.

Joh sien en hoor dit. Ons mag dit sien en hoor. Die laaste bybelboek, die
Openbaring van Jesus Christus, is daar vol van. Niemand kan dit ontken nie. Die
saak staan vas. Die mens Jesus Christus is nie slegs mens nie. Hy is ook ware en
ewige God. Hy het die heerlikheid van God. As jy Hom gesien het, dan het jy God
gesien. In Jesus Christus ontmoet jy die lewende God. ’n Verterende vuur vir
hulle wat Hom nie wil aanvaar nie. Maar ’n beskermende vuur vir hulle wat Hom
in die geloof aanhang. Indien jy Hom as jou lewende God aanvaar, dan is jy
veilig: Hy wat tussen die sewe kandelaars, tussen die kerke, stap, die koning
van die kerk, is die eerste en die laaste en die lewende.

Geliefdes, ons kan verstaan dat Joh verskrik was toe hy Jesus Christus gesien
het. Die verskyning van Jesus Christus is mos die verskyning van die lewende
God. Maar Joh mag opstaan en sy vrees laat vaar: die verskyning van Jesus
Christus is mos ook die verskyning van Hom wat dood was en weer leef. Dit bring
ons by die tweede gedagte van die preek: Ons verheerlikte Here stel homself voor
as diegene wat dood was en weer leef.

Die verheerlikte Here identifiseer homself. Ek is Jesus van Nasaret. Ek is
inderdaad diegene wat in Palestina rondgestap het en die koninkryk van God
verkondig het. Ek het dieselfde liggaam wat eens aan die kruis gehang het. Ek is
diegene wat my sterflike liggaam ’n lyk laat word het. Ek het my gees aan my
Vader oorgegee. Vrywillig het Ek my lewe afgelê. Ek het gesterwe. Een van die
soldate by die kruis het bewys dat Ek dood was. Hy het ’n spies in my sy
gesteek en dadelik het daar bloed en water uitgekom. Die apostel Joh het dit
gesien en daarvan getuig. Ek was dood. Die feit dat Ek begrawe was, het dit
bevestig.

Gemeente, is dit geen wonderlike saak nie? Die goddelike Persoon wat homself
voorstel as die lewende God, wat van ewigheid tot ewigheid leef, die goddelike
persoon kan tog nie dood gewees het? Inderdaad, die ewige en lewende God kan nie
sterwe nie. Maar hier het u die groot misterie van u verlossing: die ewige Seun
van God het in die tyd ook mens geword. Naas sy godheid het Hy ook ons menslike
natuur aangeneem, selfs ons sterflike liggaam.

Dis iets wat ons nie kan begryp nie. Tog bly dit ’n geweldig realiteit: die
goddelike persoon wat homself in sy heerlikheid aan Joh voorstel, het mens
geword en het gesterwe. Moenie vrees nie. Staan op, kyk na my. Ek is ’n mens
soos jy. En terwille van jou het Ek gesterwe. Ek het my lewe gegee tot ’n
versoening vir jou sondes.

Maar kyk, en dit is die wonder van Pase, as mens leef ek nou tot in alle
ewigheid. My sterflike liggaam het onsterflik geword. Ek het die werk gedoen wat
ek moes doen. As loon het Ek die onsterflikheid ontvang. Ek het die dood
verslaan en die lewe gekry. En niemand kan die lewe weer van my wegneem nie. Ek
het die volle prys daarvoor betaal. Ek leef om nooit weer te sterwe nie.

Broeders en susters, Pase verkondig ons die goeie nuus dat Jesus Christus nie
slegs die hel meegemaak het nie, maar ook die doderyk. Hy het die dood oorwin.
Nie slegs die tweede dood, die hel nie, maar ook die eerste dood, die afsterwing
van die liggaam. Hy het die angel van die eerste dood, naamlik die sonde,
weggeneem. Hy het vir ons die onverganklike lewe gebring. Sodat die sterflike
deur die lewe verslind kan word. Sodat die lewe, en nie die dood die laaste
woord het nie.

Wat ’n groot troos: u Here was dood en leef tot in alle ewigheid. Dis nou
nog die geval dat ons almal nog moet sterwe en tot stof terugkeer. Dit bly ’n
verskriklike werklikheid waarmee elkeen van ons rekening moet hou. Nie slegs as
ons oud is nie, maar ook as ons nog jonk is.

Maar geliefdes, as u in Jesus Christus as die Seun van God en die seun van
Maria, as God en mens in een persoon, glo, dan mag u weet: deur sy offer van
versoening het Hy die angel van die dood weggeneem. Daardeur kan die dood u nie
meer skaad nie. Jesus Christus het hom wat die mag oor die dood het, die duiwel
onttroon. Daardeur kan u neerdaling in die graf nooit ’n neerdaling in die hel
wees nie. By u dood mag u u siel in die hande van die Vader oorgee. En u liggaam
in die graf laat lê in die verwagting van die heerlike opstanding.

Is dit nie geweldig, gemeente, dat ons Middelaar reeds leef tot in alle
ewigheid nie? Daar is ’n mens, een van ons, wat reeds die onsterflikheid
besit. Ons vlees het opgestaan om nooit weer te sterwe nie. Christus het uit die
dood opgestaan as die eersteling van hulle wat ontslaap het. En ‘eersteling’
wil sê dat meer gaan volg. ’n Groot menigte sal volg. Wie sou nog durf om te
twyfel aan die opstanding van die liggaam? Kyk maar na Jesus Christus wat
gesterf het as een van ons en wat nou leef tot in alle ewigheid. Jesus Christus
waarborg jou opstanding. In Hom ontvang ook jy onsterflikheid. Die sterflike
word deur die lewe verslind.

Gemeente, omdat Christus die dood oorwin het, het Hy ook die mag oor die dood
ontvang. Daarom sê die verheerlikte Christus ten slotte: En Ek het die sleutels
van die doderyk en van die dood. Dis die derde gedagte: Christus stel homself
voor as diegene wat oor die dood beskik.

Die persoon wat die sleutels het, kan oopmaak of toesluit. Hy kan beskik oor
dit waarvan hy die sleutels dra. Soos Christus die sleutels van die koninkryk
van die hemel dra, so het hy ook die beskikking oor die dood.

Die doderyk en die dood word voorgestel soos ’n sterke burg met poorte.
Jesus Christus het die sleutels om die poorte van die dood te open of te sluit.
Ons opgestane Here is die Heer van lewe en dood. Hy kan skielik tot ’n
begrafnis roep. Hy het die sleutels van die dood en die graf. Die dood is nie
soos ’n afskrikwekkende monster wat na beliewe sy mond oopmaak om mense op te
sluk nie. Die dood het geen eie bevoegdheid of mag nie.

Ons vyande het ook geen mag oor die dood nie. Dalk lyk dit so en dink hulle
dat hulle lewe en dood in hul mag het. Maar u mag beter weet. Joh op die eiland
Patmos ervaar die mag van sy vyande. Hy sien die vervolging van die kerk. Hoe
christene selfs as martelare sterwe. Maar Joh mag ’n blik in die hemel werp en
hy hoor Christus sê: Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood. Hoe
sterk en magtig mense ook al mag wees, sonder My kan hulle niks maak nie, hulle
het nie die sleutels nie. Hulle kan die poort van die dood nie na hul beliewe
oopmaak nie. Ek julle verheerlikte Vors het die sleutels. Ek bepaal die dag van
jou sterwe. Ek, en nie mense of ander magte nie. Ook al gebruik Ek hulle om my
planne uit te voer. Dis ook nie ’n kwessie van ongelukkig wees nie. Nee, Ek,
jul opgestane Heiland, maak die poort van die dood oop. Op my tyd, nie vroeër
en nie later nie. As Ek oopmaak kan niemand sluit nie en as Ek sluit kan niemand
oopmaak nie. Ek is diegene wat tot ’n begrafnis roep. Moenie vrees nie, Ek is
mos jul Here wat dood was en weer leef. Ek kan die grafte ook weer oopmaak.

Tydens Goeie Vrydag en Pase het Ek dit reeds gewys. Toe Ek op die kruis
gesterf het, het die aarde gebewe en die rotse geskeur. Die grafte het oopgegaan
en die liggame van die ontslape heiliges het opgestaan (sien Mt 27:51-53).
Onmiddellik na my offer van versoening het die eerste vrugte van my dood te
voorskyn gekom: baie heiliges het opgestaan. En na my opstanding het hulle die
heilige stad ingekom en aan baie verskyn. ’n Sigbare bewys van my oorwinning.

Dit is ’n voorspel op wat op die laaste dag gaan gebeur. Dan sal dit baie
indrukwekkender wees. Dan sal alle grafte van die heiliges oopgaan en alle
liggame van die heiliges sal opgewek word. Dan sal die dood en die doderyk te
niet gedoen word. Alle grafte gaan oop. En alle dooies sal voor My verskyn.

Broeders en susters, hoe vier u nou Pase? Dink u slegs aan die mens Jesus wat
hier op aarde geleef het, wat gesterf en opgestaan het? U moet goed weet, en dis
die erns van Pase, dat u opgestane Vors God is en bly. Daarom is die verskyning
van Jesus Christus die verskyning van God self. ’n Verterende vuur vir almal
wat nie werklik in Hom glo nie en wat Hom nie wil dien nie. As ek nie my lewe
buite myself in Jesus Christus soek nie, dan sal ek die verskyning van die
opgestane Here nooit kan verdra nie. As ek die Heilige Gees nie my lewe laat
vernuwe nie, dan sal ek uiteindelik ’n verterende vuur ontmoet.

Maar geliefdes, wanneer u opreg in die opgestane Here glo as u God en
Verlosser dan mag u opstaan en God reg in die oë kyk. Want die verskyning van
die lewende God is die verskyning van Jesus Christus, wat dood was en nou leef
tot in alle ewigheid. Hy het vir u sondes betaal. Die eerste vrug is reeds
aanwesig, die eersgeborene uit die dode. Die res sal volg. U sal volg. Wie Pase
op so ’n manier vier, die kan die Paasvors sien en lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)