God se woord oor die wedergeboorte.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-03-24
Teks: 
Dordtse Leerreëls 3
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls 3/4 Art 12,13

Ds C Kleyn - Sondag 24 Maart 2002

Lees:

Johannes 3:1-21; Titus 3:1-11; Dordtse Leerreëls 3/4 Art 12,13.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 25:2,4; SB 14; Ps 40:4,8.

Tema: God se woord oor die wedergeboorte.

  1. Waarom is die wedergeboorte nodig?
  2. Wat is wedergeboorte?
  3. Hoe weet ek dat ek wedergebore is?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Op ’n dag loop jy in ’n bekende winkelsentrum. Skielik staan ’n jong
man voor jou en spreek jou aan. Hy wil met jou oor die geloof praat. Jy wil
liewer nie met hom daaroor praat nie. "Ek glo reeds en ek gaan kerk toe,
los my maar uit." Maar die ander bly aandring. Jy kan wel kerk toe gaan,
maar is jy ook opnuut gebore? Wat moet jy daarmee maak? Is ek opnuut gebore? Ja,
daar het ek eintlik nie baie oor nagedink nie. Ek voel my ongemaklik met die
vraag. Ek is mos ’n lewende lidmaat van die kerk. Ek glo mos. Wat wil ’n
mens nog meer hê? Die jong man los my egter nie sommer uit nie. Hy herhaal: is
jy wedergebore? Het jy die Gees in jou hart ontvang?

Dis inderdaad vrae wat ons soms ongemaklik laat voel. Word onder ons wel
voldoende daaroor gepraat? Besef ons wel waaroor dit gaan sodat ons met blydskap
en verwondering daaroor kan praat?

Vanaand wil ek dan God se woord oor die wedergeboorte verkondig. Ek wil let
op drie dinge:

  1. waarom is die wedergeboorte nodig?
  2. wat is wedergeboorte? en
  3. hoe weet ek dat ek wedergebore is?

Ek het in die verbond en kerk grootgeword. Ontslaan dit my van die noodsaak
van die wedergeboorte? Luister maar na wat Christus tot Nikodemus sê:
"Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan
hy die koninkryk van God nie sien nie." Vir wie sê die Here Jesus dit? Vir
’n heiden? Nee, vir Nikodemus. ’n Man wat in die verbond en in die kerk
grootgeword het, soos u en ek. Meer nog, ’n leraar van God se volk. ’n
Gerespekteerde skrifgeleerde, iemand wat sy Bybel goed geken het. ’n Lid van
die ortodokse joodse party, die Fariseërs. Ook iemand met ’n behoorlike gesag
onder God se volk: lid van die Sanhedrin en as sodanig een van die prominente
geestelike en politieke leiers. Die Here Jesus sê vir hom: jy moet opnuut
gebore word. Indien ’n man van Nikodemus se statuur opnuut gebore moet word,
dan tog seker ook u en ek?

Ja, Jesus sluit niemand uit nie: heel nadruklik sê Hy: voorwaar, voorwaar ek
sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God
nie sien nie. ’n Ernstige saak wat niemand kan negeer nie. Die reël geld vir
enigiemand. As jy die koninkryk van God wil binnegaan, dan sal jy opnuut gebore
moet word, van bo gebore moet word, van God. Die reg om God se ryk binne te gaan
is mos nie aangebore nie. Daarvoor is ’n nuwe geboorte nodig, ’n geboorte
van bo. Dit moet jou vanuit die hemel gegee word.

Hiermee sluit Jesus aan by die prediking van Joh die Doper. Joh het duidelik
verkondig dat gebore Jode nie outomaties burgers van God se ryk is nie. Jy kan
na die vlees ’n kind van Abraham wees, ’n kind van God se verbondsvolk. Dit
waarborg egter nie die toegang tot die hemel nie. Dit word mos nie bepaal deur
’n natuurlike geboorte nie, maar deur ’n goddelike geboorte.

In vers 5 herhaal Christus die toelatingseis. "Voorwaar, voorwaar Ek sê
vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die
koninkryk van God nie ingaan nie." Daarmee stel Hy duidelik die geboorte
van bo gelyk aan ’n geboorte uit water en Gees. Water is ’n verwysing na die
doop soos Johannes dit by die Jordaan bedien het. Die doop van bekering tot
vergifnis van sondes. Die reinigende water. Daarby het Joh ook verwys na iemand
wat met die Heilige Gees sou doop. Jesus Christus op wie die lewendmakende Gees
rus. Iemand wat hom laat doop en in Christus glo, mag deur Christus se Gees ’n
nuwe lewe begin. Dis die wonderlike geboorte uit water en Gees wat die profeet
Esegiël reeds aangekondig het. Die reiniging deur water moet saamgaan met die
vernuwing deur die Gees. So word ’n mens as kind van God verwek. So kan ’n
mens begin om van bo af te lewe en die ryk van God ingaan.

In vers 6 vervolg Christus: wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit
die Gees gebore is, is gees. Elk mensekind is vlees: deur sy vader verwek en
deur sy moeder gebaar. Daarom word ons menslike bestaan veral bepaal deur
erflikheid en sterflikheid. Ek kan as mens nooit bo myself uitstyg na die hemel
nie. Daarom kan my geboorte uit gelowige ouers, my nie salig maak nie. Die feit
dat ek gedoop is en in die kerk grootgeword het, kan my nie red nie. Dink maar
aan die Jode en aan Nikodemus. Om bo die erflike en sterflike bestaan uit te
kom, is ’n geboorte uit die Gees nodig. Dan word jou lewe van bo af bepaal.
Daardeur sal die lewe ’n hemelse stempel gaan dra. Duursaam wees.

Jesus proe die verwondering van Nikodemus. Daarom sê hy in vers 7: Moenie
jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. Dit
word nou vir elkeen as absolute eis geformuleer: julle moet weer gebore word. So
bepaal God dit. Dis absoluut noodsaaklik vir verlossing. Julle moet weer gebore
word. Let daarop dat Jesus nie sê: julle moet dit self doen nie. Maar: iets
moet met julle gebeur. Julle moet weer gebore word. Die geboorte van bo val
buite die bereik van ons menslike moontlikhede. Dit lyk dus asof Christus ’n
onmoontlike eis stel. Dan kan mos niemand gered word nie. Maar wat by die mense
onmoontlik is, is moontlik by God. Hy werk nie slegs via die natuurlike geboorte
nie. Hy laat mense ook uit sy Heilige Gees gebore word. Moenie vir onmoontlik
hou wat u nie kan verklaar nie. Verwonder u liewer oor die werk van God se Gees.

So kom ons by die tweede gedagte van die preek: wat is wedergeboorte?
Ooreenkomstig die Skrif sê ons belydenis pragtige dinge oor die wedergeboorte.
"Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en
die lewendmaking, waarvan die Skrif so heerlik spreek, wat God sonder ons in ons
werk." Oor die wedergeboorte het ons reeds nav Joh 3 gesien dat dit ’n
geboorte van bo is. ’n Geboorte uit die Gees. Iets wat ’n mens nie self kan
doen nie. Iets wat vir jou gedoen moet word. Dit geld tog vir elke geboorte?
’n Baba besluit nooit self om verwek en gebore te word nie. In die hele proses
van konsepsie tot geboorte is jy as baba volkome passief. Jy kan jou geboorte
nie bepaal nie. So kan ek my geestelike geboorte nie self bepaal nie. Ons moet
deur die Gees van God verwek word.

Die ander woorde wat die wedergeboorte aandui wys in dieselfde rigting. Daar
word gepraat van ’n nuwe skepping. Dink aan die bekende woorde van 2 Kor 5:17:
"Daarom as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het
verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword." Of Ef 2:10: "Want ons is
sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke." As ek in Christus
is, dan is ek ’n nuwe skepping, geskape in Christus Jesus tot goeie werke.
Niemand kan homself skep nie. Dit wat geskep word is altyd passief. Dit word vir
hom gedoen. So kan ons nooit onsself tot ’n nuwe skepping in Christus maak
nie. Dit moet vir ons gedoen word.

Ja, wat wil dit sê om in Christus ’n nuwe skepping te wees? Dit wil sê
dat daar buite die skeppingsdaad van ons natuurlike verwekking en geboorte daar
nog ’n skeppingsdaad van ons geestelike verwekking en geboorte is. Daardeur
word ons hele bestaan vernuwe. God se almag moes daaraan te pas kom. Soos Hy
deur sy mag die hele wêreld tot stand gebring het, so het Hy deur dieselfde
krag ook nuwe lewe in ons tot stand gebring. Dis sy werk. Sy werk alleen. Geen
skepsel kon dit doen nie. Ons ouers nie, ons vriende nie, ons leraars nie.
Hoeseer God hulle ook kan gebruik om sy werk in en aan ons te doen, dit bly tog
altyd sy werk.

’n Nuwe skepping. Paulus werk dit nader uit wanneer hy skryf: die ou dinge
het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. Die ou mens, die mens van die
sonde, die mag van die sonde is gebreek. Die ou leefwyse is verby. Wie in
Christus is, is in beginsel reeds ’n nuwe skepping. Dit wil nie sê dat ons
nou reeds van alle sonde bevry sou wees nie. Paulus weet wel beter. Maar in
Christus is ons in God se oë reeds ’n nuwe skepping. Daar is reeds ’n nuwe
beginsel in ons wat kragtig werk, ja, die Gees in ons. Daardeur word wat in
prinsipe reeds aanwesig is, in die praktyk uitgewerk. Ons lewe word steeds meer
en meer vernuwe na God se beeld.

Die Skrif praat verder van ’n opwekking uit die dood en ’n lewendmaking.
Ons lees in Rom 6:4 waar dit gaan oor die eenheid tussen Christus en die
gelowiges: "Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood,
sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die
Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel." Iets verder (in vers 13)
noem Paulus die gelowiges mense wat uit die dode lewend geword het. Ef 2 is ook
heel duidelik op hierdie gebied. "En julle het Hy lewend gemaak, wat dood
was deur die misdade en die sondes." En: "God wat ryk is in
barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde … ook toe ons dood was deur die
misdade, lewend gemaak saam met Christus." (Ef 2:1,5). Ons was van nature
dood, geestelik dood. Ons kon niks doen om tot die lewe terug te keer nie. In sy
groot genade het God ingegryp en ons lewend gemaak.

Uit hierdie aanhalings is dit duidelik dat die wedergeboorte wys op die begin
van die nuwe lewe, dat ons deur die Gees tot nuwe lewe verwek, geskep word. Die
nadruk val dan op die feit dat God buite ons medewerking sy herskeppende werk
verrig. Tog word die woorde wat die wedergeboorte beskryf nie beperk tot die
allereerste begin van die nuwe lewe nie. Dit omvat ook die verdere ontplooiing
van die nuwe lewe in die heiligmaking. Wat ons in prinsipe in Christus het, moet
volle werklikheid in ons lewe word. Dit wys op ’n proses van vernuwing wat ons
hele lewe omvat. Die daaglikse vernuwing van ons lewe. Net soos Christus uit die
dode opgewek is, so kan ons ook in ’n nuwe lewe wandel (Rom 6:4).

Die proses het natuurlik ’n begin. Maar dit bly nie by die begin nie. Dit
gaan voort tot ons volkome verheerliking. Die Skrif spreek dan ook van ’n
heiligmaking wat ons reeds in Christus besit en van ’n heiligmaking waarin ons
meer en meer moet groei. Die eerste is die gevolg van Christus se werk vir ons.
Die tweede is ’n gevolg van die werk van die Heilige Gees in ons. Die eerste
is volmaak en kompleet en is ons s’n sodra die Gees die nuwe lewe verwek. Die
tweede is progressief en inkompleet solank as ons hier op aarde lewe. Dink aan
wat ons lees in Hebr 10 vers 10,14. Ons lees in vers 10: "Deur hierdie wil
van God is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net
een maal." Let op die voltooide tyd: is ons geheilig. In vers 14 lees ons:
"Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word."
Let op die laaste woorde: die wat geheilig word. Dit wys op ons progressiewe
heiligmaking. Maar die teks wys ook op ons voltooide, objektiewe heiligmaking in
Christus wanneer daar staan: Hy het vir altyd volmaak.

Daarom broeders en susters, aan die een kant is ons reeds heilig, nuut vanweë
die heiligheid wat van Christus ons toegereken word. Aan die ander kant word ons
van dag tot dag nog heilig gemaak, vernuwe deur die Heilige Gees. Daarom kan
Paulus ook in Col 3:9,10 skryf dat ons die oue mens afgelê het en ons met die
nuwe mens beklee het, wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper.
Let daarop, die verandering het reeds plaasgevind. Tog moet die nuwe mens nog
voortdurend vernuwe word. Terwyl Paulus in Ef 4 die aflegging van die oue mens
en die bekleding met die nuwe mens beskryf as iets wat nog steeds moet
plaasvind. Dit is een en die ander. God se Gees het ’n begin gemaak in die
wedergeboorte. Maar dit moet voortgaan in die daaglikse vernuwing tot die volle
heerlikheid na hierdie lewe bereik word.

Gemeente, ons belydenis wys daarop dat die wedergeboorte iets feesteliks is.
"Dit is ’n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename,
wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van
die Skrif is dit in sy krag nie minder of geringer as die skepping of as die
opwekking van die dooies nie." Is dit hoe u dit beleef wanneer daar oor die
wedergeboorte praat? Waarom is daar die verleentheid? Dis tog ’n geweldige
saak, waarvoor ons God nooit genoeg kan prys nie? ’n Mens juig oor God se
wonderbaarlike werk in sy lewe. Wedergeboorte, ’n nuwe skepping, ’n
opwekking uit die dood en ’n lewendmaking. Terwyl ek dood en verlore was in
sonde en skuld. Laat ons nog wel voldoende blyk dat ons die geweldige
werklikheid ken? Dank ons God wel vir so ’n groot geskenk, ja, so ’n groot
wonderwerk in ons lewe?

Die apostel Petrus gaan ons voor in die lof op God wanneer hy sy eerste brief
begin met die woorde: "Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus
Christus wat ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die
opstanding van Jesus Christus uit die dode." Petrus raak daaroor nie
uitgepraat nie. Hy weet dit nog goed. Wat ’n verrassing: Jesus se opstanding
uit die dode! Hoe het hulle hoop verdwyn. Toe Jesus gekruisig is, gesterf het en
begrawe is. Hulle het geen uitsig meer gehad nie. Totdat Christus self lewend
weer in hul midde verskyn het. Toe het hulle weer opgeleef. "Geseënd is
die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons
die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop."

Elkeen wat glo mag in die hoop deel. Danksy Pase word jy nie meer gebore om
te sterf nie, maar mag jy seker wees van ’n onverganklike lewe. Geen wonder
dat Petrus so uitbundig oor God se geskenk van die wedergeboorte skryf. Hoe die
Here mense laat deel in die nuwe lewe. Letterlik skryf Petrus dat God ons opnuut
verwek het tot ’n lewende hoop. So kom nog sterker uit dat dit by die
wedergeboorte gaan oor iets wat God self doen.

By elke doopsbediening hoor ons in die formuliergebed dat die lewe wat ons
van pa en ma ontvang het uiteindelik niks anders as ’n voortdurende sterwe is
nie. Danksy Pase is dit nie die enigste wat ons vir mekaar kan sê nie. Die dood
het nie die laaste woord nie. Vader in die hemel gee deel aan ’n lewe wat bly.
’n Lewe wat nie meer en meer aftakel nie, maar wat juis meer en meer groei tot
volkomenheid.

"Wedergeboorte" is so ’n feestelike en veelbelowende woord.
Jammer dat die woord dikwels misverstaan word. Dit gebeur veral wanneer jy
vergeet dat dit by die wedergeboorte gaan oor iets wat God doen. Nie oor iets
van ons mense nie. Laat staan oor iets wat van ons mense geëis sou word. In die
Bybel lees jy nêrens die oproep: ‘sorg dat jy wedergebore word’ of selfs
die vraag: ‘is jy wedergebore?’ Wedergeboorte word wel as ’n voorwaarde
genoem, maar nie as ’n eis waaraan ons self kan voldoen nie.

Maar hoe weet ons dan of ons wedergebore is? Nie deur binne onsself te kyk na
bepaalde ervarings of tekens nie. Nie deur te let op ervarings van ander en jou
daaraan af te meet nie. Ons word geroep om te let op Christus. Die oproep wat
ons wel voortdurend in die Skrif lees is: glo in die Here Jesus Christus en jy
sal gered word. Slegs Christus en sy woord gee sekerheid. Wanneer ek dit in
geloof aanneem, mag en moet ek God prys vir sy werk van wedergeboorte. Dis
opvallend dat Joh 3 wat die noodsaak van die wedergeboorte so nadruklik noem,
ook die duidelikste uitsprake doen oor verlossing deur geloof alleen. Kom ons
lees die verse 15-18. Elkeen wat in Christus glo, sal nie verlore gaan nie. Aan
hulle wat glo sal God alles gee wat hulle vir hul heil nodig het. God is besig
om in almal wat glo die nuwe lewe te skep. Ja, jou geloof is die duidelikste
bewys dat jy opnuut gebore is. Hoe anders kon jy wat dood was deur jou sondes
weer lewe vir God?

Aan die begin van die preek het ek die vraag genoem: is u wedergebore? Die
vraag hoef op homself nie verkeerd te wees nie. Dis belangrik dat elkeen hom
eerlik oor die vraag besin. As ek nie wedergebore is nie, kan ek nie in die
koninkryk van God ingaan nie. So ernstig is hierdie saak! Ons moet egter oppas
dat ons die vraag nie op ’n verkeerde, subjektiewe manier hanteer nie, sodat
ons ons subjektiewe gevoelens en ervarings sentraal stel. Ons moet die vraag
christo-sentries hanteer, dws gefokus op Christus. Met die sentrale vraag: glo
jy in Jesus Christus? Aanvaar jy van harte die beloftes van die evangelie wat in
jou doop vir jou verseël is en wat weekliks aan jou verkondig word? Die
belangrikste is nie my ervaring nie, maar my Here Jesus en dat ek Hom in geloof
omhels.

Of ek kan wys op ’n besondere ervaring van wedergeboorte is nie belangrik
nie. Daar is baie christene wat geen enkele herinnering aan die begin van God se
werk in hulle het nie. Dalk omdat die Gees geleidelik gewerk het via die
christelike opvoeding. Belangriker as die vraag: is jy wedergebore? is die
vraag: leef jy as ’n wedergeborene, wys jy die vrug van die Gees in jou lewe,
ken jy die Here Jesus en leef jy vir Hom? Nie die herinnering aan jou geboorte,
maar die ervaring dat jou hart klop, maak jou daarvan bewus dat jy lewe. So is
dit ook met die tweede geboorte. Die feit dat jy by jouself ontdek dat jy van
harte glo en Jesus Christus as jou Verlosser liefhet, dit laat jou besef dat jou
lewe opnuut begin het. Dan sal jy in verwondering oor jou wedergeboorte praat en
God daarvoor prys.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)