Die gelykenis van die vyf verstandige en die vyf dwase meisies.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-03-10
Teks: 
Matthéüs 25
Preek Inhoud: 

Matthéüs 25:1-13

Ds C Kleyn - Sondag 10 Maart 2002

Lees:

Matthéüs 24:36-25:13.
Sing: Ps 113:1,2; Ps 85:1,3; Ps 96:1,8; Ps 130:3,4; SB 29:6-9.

Tema:


Die gelykenis van die vyf verstandige en die vyf dwase meisies.

Deur die gelykenis leer Christus ons

  1. dat dit nie voldoende is om Hom te verwag nie; en
  2. dat ons onsself ook werklik vir Hom moet klaarmaak.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Sal elkeen van ons ook deelneem aan die bruilof van die Lam? Dis die vraag
waaroor Christus ons laat nadink in die gelykenis. ’n Ernstige vraag! Sal ek
daarby wees? Waarom so ’n vraag? Ons is tog lidmate van die kerk? Ons vier tog
die nagmaal as ’n voorsmaak op die bruilof van die Lam? Ons sien tog ook uit
na die wederkoms van die Here? Ja, ons is as gemeente tog bruid van Christus? En
die bruid sal tog daar op die bruilof van die Lam present wees? Die laaste is
waar. Maar dat alle lidmate van die kerk ook metterdaad die bruilof sal deelneem
is nie vanselfsprekend nie. Die teks waarsku ons teen alle vanselfsprekendheid.
Ek verkondig vir u:

Die gelykenis van die vyf verstandige en die vyf dwase meisies.

Deur die gelykenis leer Christus ons

  1. dat dit nie voldoende is om Hom te verwag nie; en
  2. dat ons onsself ook werklik vir Hom moet klaarmaak.

Vooraf moet ek u waarsku om nie teveel in die teks in te wil lees nie. By so
’n gelykenis moet ’n mens goed bly let op die strekking en doel daarvan.
Moenie teveel nadruk op alle onderdele wil lê nie. Die onderdele van ons
gelykenis bv die olie in die lampe is ondergeskik aan die geheel. Dit dien slegs
om die verhaal kompleet te maak, sonder dat daar ’n besondere en diepere
waarde aan geheg word.

Wat is dan die strekking van die gelykenis? Christus self gee daarop antwoord
wanneer hy aan die slot sê: "waak dan, omdat julle die dag en die uur nie
weet waarop die Seun van die mens kom nie." In die gelykenis gaan Christus
verder met die tema van waaksaamheid. Daarmee het Hy in die voorgaande hoofstuk
reeds begin. Reeds in hoofstuk 24:42 lees u dieselfde woorde: "waak dan,
omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie. Aan die hand van enkele
gelykenisse illustreer Christus wat dit prakties beteken om te waak. So sluit
ons gelykenis nou aan by die voorgaande. Christus wil daardeur een bepaalde
aspek van die waaksaamheid aan die lig bring.

Die koms van die koninkryk van die hemel word met die koms van ’n bruidegom
vergelyk. Dat die Here die beeld van die bruidegom gebruik hoef ons nie te
verbaas nie. Reeds in hoofstuk 22 word die wederkoms van Christus afgebeeld in
die vorm van ’n bruilof, ’n bruilof tussen Christus die bruidegom en die
gemeente as bruid. Christus wys homself meermale aan as die bruidegom. In Openb
19 kry ons dieselfde beeld as daar gepraat word van die bruilof van die Lam.
Christus se wederkoms word vir ons as ’n bruilofsfees voorgestel.

By die wederkoms sal dit dan gaan soos dit met die 10 meisies gegaan het, sê
Jesus. Vyf is dwaas en vyf is verstandig. Die vyf verstandige meisies word
aangeneem, die 5 dwase word buitegesluit. Slegs die 5 wyses mag aansit aan die
bruilofsmaal van die Lam.

Wat beteken dit, gemeente? Moet ons hieruit konkludeer dat die helfte van
alle mense gered sal word en dat die ander helfte verlore gaan? Nee, dit nie.
Want alle 10 meisies wag op die koms van die bruidegom. Alle tien is feesgangers
wat daarop uittrek die bruidegom tegemoet. En dit kan nie van alle mense op
aarde gesê word nie. Die ongelowiges wag allermins op die koms van Christus die
bruidegom. Dit gaan hier dus nie oor die skeiding in die wêreld tussen alle
mense nie.

Nee, dit gaan hier oor die kerk, oor die skeiding binne die adventsgemeente.
’n Mens kan die 5 dwase meisies dan ook vergelyk met mense wat die teken van
die verbond ontvang het. Mense wat gereeld hier in die kerk onder die
verkondiging van die evangelie sit. Dit is mense wat die koms van die Here
verwag. Hulle wil dan ook deelhê aan die fees. Dalk vier hulle ook reëlmatig
die Heilige Nagmaal. Die toekomsverwagting word tog juis daar aan die tafel van
die Here bely? Voor die oog is daar niks wat hulle onderskei van die ander
gelowiges nie. Hulle behoort gewoon by die gemeente. Daar is geen mens wat
daaraan dink dat hulle weleens buitegesluit sou kan word nie. In ieder geval hou
hulleself daar geen rekening mee nie. Dit spreek vir hulle vanself dat hulle aan
die einde daarby sal wees.

Maar wat sien ons? Wat ’n groot ontnugtering wanneer die bruidegom kom. Wat
’n skok! Vyf word aangeneem. Vyf word buitegesluit. Beteken dit dat die
gemeente by Christus se wederkoms presies in twee helfte uiteen sal val?
Impliseer dit dat slegs die helfte van alle kerkmense gered sal word? Nee, dit
nie. Juis om geen persentasie te noem nie is daar in twee gelyke helfte gedeel.
God alleen weet hoeveel kerkmense gered sal word en hoeveel nie. Die Here Jesus
wil met die verdeling sê: ook as volgeling van My kan jy of gered word of
verlore gaan. Die skeiding loop dwars deur die groep heen. Dit spreek nie
vanself dat jy gered word nie. Daar is geen meerderheid waaragter jy kan skuil
nie. Elkeen is persoonlik verantwoordelik.

Maar hoe kan dit nou in die kerk so wees? Waarom nie alle tien of nege van
die tien gered nie? Is vyf-vyf nou die troos wat ons as gemeente nodig het? Ons
sien tog almal uit na die dag van Christus? Ons verwag tog almal Christus se
wederkoms in heerlikheid?

In die gelykenis maak die Here duidelik dat dit nie voldoende is om Jesus
Christus te verwag nie. Die 5 dwase meisies verwag ook die koms van die
bruidegom. Hulle het nie verniet uitgegaan met hul lampe nie. Hulle is genooi na
die bruilof. Hulle is vriendinne van die bruid. Hulle het na die huis van die
bruid gegaan. Daar sou waarskynlik die bruilof gehou word. Daar het hulle dus
eers na toegegaan. Hulle moet die bruidegom, wanneer hy die huis van sy bruid
nader, feestelik inhaal. Dis mos gebruiklik dat die bruidegom deur die
bruidsmeisies feestelik ingehaal word. Die 5 dwase meisies het nie verniet daar
gewag tot die koms van die bruidegom nie. En tog word hulle buitegesluit. Daar
is dus meer nodig as om Hom enkel te verwag. Ek moet myself ook werklik
klaarmaak vir sy verskyning. Dit die tweede gedagte van die teks.

Waarom is die 5 dwase meisies uiteindelik tog nie tot die fees toegelaat nie?
Hulle het onvoldoende voorbereidings getref voor die koms van die bruidegom.
Wanneer die bruidegom na ’n lange wag tog eindelik aankom, besef hulle dat
hulle geen reserwe olie saamgeneem het nie. Hulle kan hulle nie voeg by die
feesstoet nie.. Hulle kan die bruidegom nie feestelik inhaal nie. Hulle het nie
die nodige olie om hul feeslampe brandende te hou nie. Hulle lampe gaan uit. En
sonder brandende feeslampe kan hulle hul onmoontlik voeg by die feeststoet. Dit
sou ’n skande wees. Hulle is juis die bruidsmeisies wat vir feestelike
verligting moet sorg dra, en die bruidegom feestelik moet inhaal. Maar hulle het
hul tyd verby laat gaan. En nou is dit te laat. Wanneer die bruidegom kom, dan
moet hulle hulle onmiddellik by Hom voeg. Anders kan dit nie meer nie. Daar is
geen tyd meer om dit of dat nog te doen nie. Dit is nou of nooit nie. Sodra die
bruidegom met die feesstoet die bruilofssaal binnegaan, word die deur definitief
gesluit. Die les is duidelik: sorg daarvoor dat jy op tyd gereed is om die
bruidegom feestelik te begroet, wanneer Hy kom.

Maar gemeente, is dit die nalatigheid van die 5 dwase meisies werklik so
ernstig? Kan dit vir hulle nie vergewe word nie? Besef ons wel goed wat hul
nalatigheid eintlik inhou? Hulle moes uitgaan om die bruidegom feestelik binne
te haal. Soos die gelowiges Christus feestelik moet binne haal wanneer hulle hom
tegemoet gaan in die lug. Al die aandag moes op die bruidegom gerig wees. Dit
gaan oor Hom en sy fees. Daarom moes hulle ook alles doen om dit vir hom
feestelik te maak. Hom alle eer bewys.

Maar wat doen die dwase meisies? Hulle dink wel aan die bruidegom, ja seker.
Maar die bruidegom beteken nie baie vir hulle nie. Hulle let blykbaar nie op die
eer van die bruidegom nie. Ja, ’n lamp hoort daar natuurlik wel by. Die lamp
is maklik en vinnig saamgeneem. Maar vir die res. Nee, as hulle maar daarby
behoort. As hulle maar plesier op die fees kan hê. Blykens hul nalatigheid gaan
dit vir hulle nie om die bruidegom nie, maar om hulleself. Hulle wil daarby
wees. Vinnig hulle aansluit by die stoet, maar vir die res… Daarom kan die
bruidegom ook later wanneer hulle aanklop sê: Ek ken julle nie. Julle was nie
werklik in my of my fees geïnteresseer nie. Julle het slegs in julleself
belanggestel. Daarom behoort julle ook nie by my feesgangers nie. Ek het geen
baad aan julle nie. Vir sulke vreemdes maak ek, die bruidegom, die deur nie oop
nie.

Gemeente, so word die betekenis van die gelykenis vir ons vandag ook
duidelik. Ons leef in die verwagting van die wederkoms van Christus. Ons verwag
die koms van die bruidegom van die kerk. Maar hoe verwag u hom? Gaan dit werklik
in die eerste plek oor Hom of gaan dit eintlik oor uself? Gaan dit u daaroor dat
u salig word of gaan dit oor sy heerlikheid? Ja, broeders en susters, ons wil
daar almal by wees wanneer die fees begin. Anders sou ons hier nie sit nie. Maar
die verlange moet wil suiwer wees. Nie vol selfsug nie. En hoe blyk die suiwere
verlange? Tog uit die voorbereidings wat u tref.

Wat is dan die voorbereidings wat gemaak moet word? Hoe moet u uself
klaarmaak vir die feestelike ontmoeting met ons Here? Let maar op wat van die
bruilof van die Lam gesê word. Die voorbereiding daarop blyk te bestaan in die
regverdige dade van die heiliges. Wie hom voorberei op die bruidegom, moet hom
wel tooi met blink fyn linne. Jy moet jou onbesmet van die sonde bewaar. U
voorbereiding op die bruilof hou dus in dat u u lewe met goeie werke sier, dat u
metterdaad die sonde bestry en nalaat. Laat die regverdige nog regverdiger word,
en laat die heilige nog heiliger word skryf Joh in Openb 22. Die bruid wat die
naam werd is, wil so mooi as moontlik vir die bruidegom vir die dag kom. Sodat
die bruidegom deur ’n stralende bruid omring word. Wat sal dit vir Hom ’n
fees wees.

Gemeente, dat dit ons voorbereiding is, blyk ook uit ander gedeeltes van die
Skrif. Jesus het reeds eerder gepraat oor die ingaan in die koninkryk van die
hemele. Toe het Hy o.a. gesê: "Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here sal
ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my
Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here Here, het
ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam
kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie.
Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk." (Mt 7:21-23). Hier
hoor u dieselfde huiweringwekkende woorde oor hulle wat buitegesluit word. Dit
het gelyk asof hulle die Here tydens hul lewe gedien het. Maar uiteindelik word
hulle afgewys as werkers van ongeregtigheid. Ondanks al hul godsdienstigheid
blyk hulle tog vas te sit in hul sondes.

So word ons ook gewaarsku. Jy kan lidmaat van die kerk wees, ’n
nagmaalsganger. Jy kan dalk verwag dat met jou alles reg is, soos ook die 5
meisies dit gedoen het. Maar as jy nie werklik gereed is wanneer Hy kom, dan sê
die Here heel nadruklik: Ek ken jou nie. Ek het geen band aan jou nie.

Maar gemeente, bly dit dan vir ons onseker hoe dit uiteindelik met ons sal
afloop? Is daar dan geen houvas meer nie, geen volharding van die heiliges nie?

Wel, gemeente, ook hierdie woorde is geskryf met die oog op u heil. Sodat
daar geen valse gerustheid sal wees en sorgloosheid. Dit was die fout van die 5
meisies. Hulle het lange tyd die kans gehad om hulle klaar te maak. Maar hulle
het toe geen aandag daarvoor gehad nie. Hulle was mos reg en klaar? God gee ook
u nog die tyd. Maak dan goed gebruik van die tyd. Kerkgangers, nagmaalsgangers
kom nie outomaties aan die bruilof van die Lam nie. Daar moet voorbereidings
getref word. Dis nie voldoende dat u lidmaat van die kerk is nie. Dis nie
voldoende dat u belydenis van u geloof afgelê het nie, en dat u die kerkdienste
besoek en nagmaal vier nie. Word u/jou belydenis ook versier met ’n
godvresende en nougesette lewenswandel? U lewe moet steeds meer getooi word met
goeie werke tot eer van u bruidegom. Daar is geen tyd om te verloor nie. Dis nou
nog die tyd van genade. Straks kan dit te laat wees. Dan is daar geen pad terug
nie. Hoe verdrietig u dit dan ook al vind. Laat ons daar nou ernstige rekening
mee hou. Sonder om dit voor ons uit te skuif. Die skeiding tussen die dwase en
verstandige in die kerk sal aan die lig kom.

Iemand het eens ’n leraar die vra gestel: wanneer moet ’n mens hom bekeer
tot ’n nuwe, godvresende lewe? Die leraar se antwoord was: op die laaste dag
van jou lewe. Verwonderd het sy leerlinge vir hom gevra: Maar ons weet tog nie
wanneer dit die laaste dag sal wees nie? Daarop antwoord die leraar: bekeer u
dus vandag, dan is u klaar as die Here kom en u tot hom roep.

Wees dus altyd waaksaam en gereed. Asof Christus vandag terug kan kom of u
kan kom haal. U is op pad na Christus se fees! Gaan dan na die diens nie
onmiddellik oor tot die orde van die dag nie. Laat u lewe nie sommer voortgang
soos dit was nie. Ondanks alle goeie voornemens. Werk metterdaad aan u
heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie.

Is dit ’n onmoontlike opdrag? Wat sê die Here in Openb 19 van die
bruidskleed? "En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn
linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges." Die
trourok word aan die bruid gegee. Sy hoef dit slegs aan te trek. So hoef u slegs
aan te neem wat Jesus Christus u skenk. Wanneer jy met verlange uitsien na
Christus se verskyning in heerlikheid, dan is die aantrek van die trourok tog
enkel vreugde. Jy verwag tog jou bruidegom. Jy wil tog bruid wees? Dan is dit
alles vir jou.

Daarom durf jy alleen te staan in die samelewing. Uit die toon te val met jou
trourok. Daarom staan jy steeds weer vir Hom op in die maatskaplike en sosiale
lewe. Daarom wil jy vir Hom lewe, wat die mense ook al daarvan sê. Ook as die
teenstellings skerper word. Die verskerping moet daar kom. Ons leef mos onder
die klem van ’n ultimatum soos Openb daarvan spreek. "Wie onreg doen,
laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word"
Maar ook: "laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige
nog heiliger word." (Openb 22:11).

Die mensewêreld moet ryp word vir die koms van Christus, ook die sogenaamde
Christelike wêreld. Dit moet ryp word vir heerlikheid en oordeel. Niemand kan
’n keuse ontwyk nie. Voor of teen die Christus; voor of teen die sonde. Ons
kan die verskerping van die teenstellings ook nie ontkom nie. Dit moet blyk
waarvoor jy lewe, vir wie jy lewe. Meelopers, huigelaars, mense wat hulleself
mooi voordoen terwyl hulle in wese nog in duisternis lewe, loop die fees mis. En
onthou: dit kom daarop aan dat u persoonlik klaar is om die bruidegom vreugdevol
te ontmoet. Die verhaal maak duidelik dat jy op daardie dag nie meer deur ander
gehelp kan word nie. Jy kan nie agter ander mense skuil nie. Jy moet self gereed
wees.

Maak u, broeders en susters, daarom gereed vir die groot fees. Dis nie
voldoende om die Here te verwag nie. U moet u ook werklik gereedmaak vir Hom.
Tooi u as bruid vir u bruidegom. Tooi u met goeie werke tot eer van Hom. Leef
vir Hom. Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie
manier besig sal vind.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)