God se kragdadige roeping waardeur Hy geloof en bekering skenk.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-03-03
Teks: 
Dordtse Leerreëls 3
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3/4 Art 10,11

Ds C Kleyn - Sondag 3 Maart 2002

Lees:

Jesaja 55; Matthéüs 22:1-14; 1 Petrus 2;1-10; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3/4 Art 10,11.
Sing: Ps 27:1,2; Ps 26:1,2,3; Ps 146:1,8; Ps 33:5,6; Ps 115: 1,8.

Tema: God se kragdadige roeping waardeur Hy geloof en bekering skenk.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Twee persone besoek ’n bybelstudie oor die Godheid van Jesus Christus. Een
dink, dis geweldig. Die ander dink egter: dis twak. Twee mense sit saam in die
kerk. Hulle luister na ’n duidelike en indringende preek oor die woorde van
Jesus Christus: ek is die weg, die waarheid en die lewe. Een glo, die ander nie.
Twee seuns ontvang die teken van die verbond. Hulle is tweelinge. Hulle groei op
in dieselfde gesin, in die gesin van ’n gelowige. Hulle ontvang dieselfde
godsdienstige opvoeding. Die een het God lief, die ander haat Hom.. Hulle name
is Jakob en Esau.

Dis ’n ingrypende werklikheid wat hier in die gemeente, ja, wat in ons eie
gesinne kan plaasvind: Een kind glo, die ander glo nie. Hulle is albei gedoop.
Hulle het dieselfde verbondsbeloftes ontvang. Hulle het dieselfde opvoeding
gehad. Hulle het albei christelike onderwys ontvang, saam katkisasie en
bybelstudieverenigings toegegaan. Maar die een glo, terwyl die ander nie glo
nie.

Waarom? Waarom reageer twee mense wat in presies dieselfde omstandighede
verkeer, op teenoorgestelde maniere? Waarom glo die een persoon, terwyl die
ander Christus verwerp?

Die vorige keer het ons gefokus op die vraag waarom sekere persone nie glo
nie. Kom ons lees weereens paragraaf 9. Die skuld vir ongeloof lê dus by die
mens self. God het die persoon in alle erns met sy evangelie geroep, maar hy of
sy wou nie luister nie.

Die gelykenis van die bruilof wat ons nou nou gelees het onderstreep dit.
Baie mense is genooi tot die bruilof maar slegs min behoort tot die gelukkiges
wat die bruilof ook werklik vier. Waarom? Lê dit aan God se roeping? Was die
uitnodiging tot die fees nie opreg nie? Die gelykenis maak duidelik dat God se
roeping ernstig en opreg is. God wil werklik die geroepenes op die fees hê. Hy
keur die geroepenes waardig vir die fees. Ook al is hulle in hulleself allermins
waardig. Waarom dan soveel wat nie deelneem aan die fees nie? Baie geroepenes
maak geen erns met hul roeping nie. Hulle weier gewoon om die uitnodiging op te
volg. Hulle vind hul eie sake belangriker. Of hulle laat hulle nie afstem op die
fees nie deur die feeskleed wat die koning elke gas aanbied te weier. Baie maak
hulle onwaardig vir die fees deur onwil en eiewilligheid. Hulle vind hulleself
belangriker as hul heer.

Maar nou die ander kant van die saak. Die mens is self ten volle
verantwoordelik vir sy ongeloof. Hy of sy weier eenvoudig om volhardend te glo.
Hoekom is dit dan dat ander mense wel glo? As ek wel glo, kan ek dan myself ’n
pluimpie gee omdat ek beter as die ander is, meer gewillig en gehoorsaam? Dit
lyk amper ’n logiese gevolg van die voorgaande. As ek die skuld is van my
ongeloof, het ek die geloof dan ook nie aan myself te danke nie? So word veelal
gedink. Maar die Skrif leer ons om op ons knieë te gaan. Wanneer ek glo dan
moet ek God die eer gee. Die geloof is ’n gawe van God. Iets wat God deur sy
Gees in my bewerk het. God het my kragdadig geroep en my geloof en bekering
geskenk.

Hier het ons te doen met die leer van die kragdadige en effektiewe roeping
van God. Daaroor wil ons vanoggend God se woord verkondig. Die tema is God se
kragdadige roeping waardeur Hy geloof en bekering skenk.

Vir die gelowiges is dit ’n geweldige leer. Dit hou die majesteit van God
hoog en die hart van mense klein. Daarom vorm dit vir baie ’n struikelblok.
Baie mense wil met hierdie leer stry, ja, met God self stry. God spreek
duidelike taal. In 2 Tim 1:9 verwys Paulus na die kragdadige roeping van God
wanneer hy praat van God "wat ons gered en geroep het met ’n heilige
roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat
ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is." Dieselfde lees ons in
Rom 8:30: "Die wat Hy vantevore verordineer het, die het Hy ook geroep; en
die wat Hy geroep het, die het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig
het, die het Hy ook verheerlik."

Gemeente, ons moet onderskeid maak tussen die algemene roeping wat uitgaan
wanneer die evangelie verkondig word en die kragdadige, effektiewe roeping. Die
algemene roeping kom in alle erns na die mense toe. God hou elke individu
persoonlik verantwoordelik vir sy sonde. Maar hoe getrou die roeping van die
evangelie ook al mag uitgaan, dit val op dowe ore. Dit bevestig slegs die leer
dat mense van nature geestelik dood is. Die onbekeerde mens verkies die
duisternis bo die lig. Hy hoor liewer die leuen as die waarheid.

Maar dan is daar ook die spesifieke, kragdadige roeping wat deur die Gees van
God ons hart en verstand oopbreek. Hierdie roeping is baie persoonlik. Daarmee
word ons nie slegs uit die duisternis tot die lig van Christus geroep nie.
Daarmee word ons ook geroep tot ’n lewe van groter gehoorsaamheid en
heiligheid. Met die verkondiging van die evangelie is daar dan die werk van die
Heilige Gees wat ons menslike hart voorberei om te hoor, om te ontvang en te
glo. Neem byvoorbeeld Lidia die purperverkoopster. Ons lees in Hand 16:14 dat
die Here haar hart geopen het om ag te gee op wat deur Paulus gesê is. Dit is
die herskeppende werk van die Heilige Gees wat geestelik lewend maak.

Gemeente, die wonder van die evangelie is nie slegs dat dit die goeie nuus
van verlossing verkondig nie. Die wonder is ook dat die evangelie mense wat eers
onwillig was, gewillig maak. Gewillig om te hoor en om te glo. Dit is die groot
triomf van die evangelie. Hoewel dit nie die mense gewillig vind nie, maak dit
mense gewillig. Daarom kan ons praat van ’n tweevoudige roeping. Jesus
Christus het dit gevat in die woorde: want baie is geroep, maar min uitverkies.
Baie het die algemene ernstige oproep van die evangelie gehoor, maar min deel in
die voorreg van die fees self. ’n Mens het ’n besondere hulp van God nodig
om die roeping nie af te wys nie.

Dit is een van die vernederende waarhede van die Skrif waardeur ons die almag
van God leer sien en aanbid. Deur die hele bybel heen ontdek ons die waarheid
dat wanneer God spreek, dit gebeur. Wanneer God spreek, dan gebeur dit. Kyk maar
na die skepping. Hoe het die wêreld tot stand gekom? Deur die woord van God.
God het gesê: laat daar lig wees. En daar was lig. God het gesê: laat die
waters onder die hemel hulle op een plek versamel, sodat die droë grond sigbaar
word. En dit was so. Ens ens. Dis die woord van God wat alles tot stand bring.
So het Hy die wêreld uit niks geskep. Deur die krag van die woord. God spreek
en dit gebeur.

Nog twee ander illustrasies. Jesus was met sy dissipels by die see van
Galilea. ’n Groot stormwind het opgekom. Jesus het die wind bestraf en vir die
see gesê: swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het ’n groot
stilte gekom. Die storm het geen alternatief gehad as om die stem van Jesus
Christus gehoorsaam te wees nie.

Jesus het buite die graf van Lasarus gestaan en met ’n groot stem geroep:
Lasarus, kom uit. En die dooie liggaam van Lasarus, wat al verskeie dae in die
graf was, het geen keuse gehad as om op te staan en uit die graf uit te kom.

Verstaan u wat ons bedoel met die kragdadige roeping van God? God spreek en
dit gebeur. Hierdie roeping van God is altyd effektief. Dis onweerstaanbaar.
Omdat dit ’n uitdrukking van sy onweerstaanbare genade is. Dit beteken:
wanneer God sy reddende genade in die hart van die sondaar toepas, dan kan die
sondaar dit nie weerstaan nie. Die grootste weerstand smelt weg. Die grootste
hindernisse verdwyn. Selfs die mees onwillige persoon word gewillig gemaak.

Gemeente, die roeping kom altyd deur die woord van God. Wanneer God deur sy
woord spreek, dan gebeur dit altyd volgens sy plan. Jesaja wys ons daarop. Hy
skryf: "Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen
nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en
uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal my woord wees
wat uit my mond uitgaan; dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My
behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur." (Jes 55:10,11).
Daar is geen maar of miskien nie. Wanneer die woord van God uitgaan dan sal dit
doen wat God behaag en slegs dit wat God behaag.

Dis belangrik om die verband waarin die vers staan te sien. Vers 6 van die
hoofstuk praat van die algemene roeping: "Soek die Here terwyl Hy nog te
vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en
die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer." Waarom
spreek God daarna van die verskil tussen sy gedagtes en ons gedagtes? "Want
my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek
die Here." God kwalifiseer die algemene roeping deur te sê: Julle word
geroep om My te soek, om julle weg te verlaat, om julle tot die Here te bekeer.
Maar Ek weet dat jy dit nie wil en kan doen nie. Want my gedagtes is nie julle
gedagtes nie, my weë is nie julle weë nie. My gedagtes en my weë is baie hoër
as julle weë. Julle kan dit nooit bereik nie. Daarom vervolg Hy: "Soos die
reën en die sneeu van die hemel neerdaal…so is my woord wat uit my mond
uitgaan. Dit sal doen wat My behaag." Daar is geen plek in die Skrif waarin
die leer van die effektiewe roeping duideliker geformuleer is as in Jes 55 nie.

Ek herhaal: wanneer die woord van God getrou verkondig word dan is daar geen
maar of miskien nie. God sal dit laat bewerk wat Hy daarmee beoog, wat Hom
behaag. Die effektiwiteit van die woord van God hang dan nie af van die man wat
dit verkondig nie. Dit hang nie af van sy welsprekendheid of gebrek aan
welsprekendheid nie. Die effektiwiteit van die woord hang nie af van die man of
vrou wat dit hoor nie. Dit hang nie af van die geestelike toestand van hul harte
nie. Die effektiwiteit van die woord hang net af van God wat besig is om sy
ewige plan van verlossing uit te voer. Dis God die Heilige Gees wat die gesproke
woord neem en dit laat werk in die harte van manne en vroue, seuns en dogters.
Die woord van God wat so verkondig word is altyd effektief om te bereik wat God
wil bereik.

Maar op watter manier doen die Heilige Gees dan sy werk in die gelowiges? Die
Heilige Gees verlig ons verstand in die kennis van Christus. Dit gebeur altyd
deur die woord van God. Dis iets wat Paulus duidelik maak in Rom 10: "Hoe
kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor
sonder een wat preek?…Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur
die woord van God." (Rom 10:14,17).

Die prediking is deur God aangewys as die middel waardeur sy woord geopen en
aan mense verkondig moet word. Daarom staan die preekstoel ook sentraal in
hierdie kerkgebou. Dit benadruk die sentrale plek van die prediking. Die
prediking is nie daar om te vermaak nie. Die prediking is daar om ons verstand
te verlig. Bekering kom nooit deur ’n emosionele ervaring nie. Bekering kom
nie deur een of ander mistiese ervaring nie, waarby jou verstand nie nodig is
nie. Die Heilige Gees verlig ons verstand in die kennis van Christus.

Die prediking hou ons die wet van God voor as die norm waaraan alles en almal
gemeet moet word. Dit leer ons om te verstaan dat ons wetsoortreders is. So
oortuig die Heilige Gees ons van ons sonde en ellende. Die oortuiging is meer as
die besef dat ons teen God gesondig het. Die oortuiging dra die gewig van
oordeel en verdoemenis. Die oortuiging is baie meer as ’n erkenning van ons
emosionele onsekerheid. Meer as die erkenning van ’n persoonlike nood waarvan
ek glo dat slegs Christus dit kan vul. Dis meer as om te glo dat jy ’n
probleem het wat net Christus kan oplos. Die oortuiging van sonde omvat die
volle gewig van God se oordeel. Jy word oorweldig deur die ellende van die
sonde. Hoe anders is dit as die oppervlakkige reaksie op die evangelie wat
vandag aan baie mense voorgehou word. Asof dit die maklikste saak in die wêreld
sou wees om jou te bekeer en Christus aan te neem, om vir Hom te kies.

Die prediking is dus prediking van die wet van God. Dit oortuig ’n mens van
sy sonde en ellende. Die prediking is ook prediking van genade. Dit laat ons
verstaan wat die genade beteken. Genade waardeur God die regverdige eise van die
wet vir ons vervul. Deur vir ons ’n offer te gee, ’n lam sonder gebrek tot
volkome versoening van ons sondes. Die prediking bevat ook die eis tot nuwe
gehoorsaamheid. Die Heilige Gees wil ons verstand met hierdie kennis verlig.
Anders kan geen bekering plaasvind nie.

Die Heilige Gees vernuwe ook ons wil. Sommige mense wat die leer van die
verkiesing en van die kragdadige roeping afwys, haal graag tekste aan soos: o
almal wat dors het, kom en laat hom wat wil, kom. Maar wat gemaak met al die
mense wat onwillig is om te kom? En dis die werklikheid. Van nature is ons almal
onwillig om te kom. Die sondaar verkies die duisternis bo die lig, die leuen bo
die waarheid. Die sondaar volg liewer sy eie pad en nie God se pad nie. Om
eerlik te wees: die sondaar – en dit is ons almal van nature – is volkome
onwillig om te kom. Daarom moet ons gewillig gemaak word. En die enigste manier
om gewillig gemaak te word, is deur die werk van God. Ons lees daarom in Fil 2:
"dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy
welbehae."

Broeders en susters, waar ons die kragdadige roeping van God ook al raakloop,
dit is altyd na God se welbehae. Die Heilige Gees stel my in staat om Jesus
Christus, wat in die evangelie na my toekom, te omhels. Ek omhels nie in die
eerste plek ’n boek nie. Ek omhels nie in die eerste plek ’n bepaalde leer
nie, of ’n bepaalde kerk nie. Ek omhels ’n persoon, Jesus Christus wat mens
geword het, gekruisig is, opgestaan en opgevaar het, met heerlikheid gekroon is.
’n Lewende Verlosser word deur die woord aan ons geopenbaar. Ons kom onder die
oortuigende krag van die Heilige Gees om Hom te omhels, omdat Hy eers ons omhels
het. So gryp ons hom vas en Hom alleen tot ons verlossing. God red my vir die
volle 100%. Alles wat ek is en het, het ek aan God te danke.

God roep. Wanneer Hy in sy persoonlike, spesifieke en kragdadige manier roep,
dan moet ek wel antwoord gee. My antwoord kom nie uit my eie oortuiging nie. Dit
kom nie uit my eie kennis en insigte nie. Dit kom van sy Heilige Gees. Van die
Gees wat geestelik dooies, lewend maak, wat onwilliges gewillig maak en
ongehoorsames, gehoorsaam. Daarom wil ons die geweldige verlossing vier, ja die
geweldige Verlosser aanbid. Uit Hom, deur Hom en tot Hom is alle dinge. God
roep, ons antwoord. Ons prys sy onweerstaanbare genade. Sonder die genade sou ek
vandag nog dood in my sondes wees, onbekeerd, verlore.

Broeders en susters, ’n laaste waarskuwing is op sy plek. Dis waar dat
niemand sonder die onweerstaanbare genade van God gered word nie. Maar moenie in
die rasionalistiese slaggat val om daaruit te konkludeer dat hy dan niks hoef te
doen nie. Laat niemand redeneer: aangesien alles van die Heilige Gees afhang,
hoef ek nie te glo nie. Oftewel: hoef ek slegs te wag vir die Heilige Gees om my
te bekeer. Ek hoef self heeltemal niks te doen nie.

Ek wil geen oomblik die waarheid van God se kragdadige roeping en van sy
onweerstaanbare genade ontken nie. Tog is dit duidelik dat die Bybel nie wil hê
dat ons so redeneer nie, asof ons net op die Heilige Gees moet wag. Die Bybel
laat dit nie toe nie. Die Bybel kom met slegs een bevel: glo in die Here Jesus
Christus en jy sal gered word. Wanneer jy dan glo, dan leer jy uit die res van
die bybel dat dit is omdat God in jou gewerk het om te wil sowel as om te werk.
Daarom glo! God gebied jou om dit te doen. Maar wanneer jy glo, dank God, wat
jou laat glo het.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)