God soek die natuurlike lewensverbande op: die kinders van gelowiges is geroepe heiliges.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-02-24
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 27
Preek Inhoud: 

Sondag 27, Vraag & Antwoord 74

Ds C Kleyn - Sondag 24 Februarie 2002

Lees:

Handelinge 2:29-40; Sondag 27, Vraag & Antwoord 74.
Sing: Ps 100:1,2; Ps 100:3,4; Ps 105:5; SB 14:1,2; Ps 71:4,10,12; Ps 103:1.

Tema:


God soek die natuurlike lewensverbande op: die kinders van gelowiges is
geroepe heiliges.

  1. Hulle is in Christus geheilig;
  2. Hulle leef onder die klem van God se roeping.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Nou nou mog ons getuies wees van die doop van Ruan. ’n Geweldige saak.
Niemand minder as God die drie-enige self was daar in aksie. Hy het sy liefde
verklaar. Hy het hierdie kind so te sê aangehaal. Hy het hom simbolies in sy
gemeenskap opgeneem. Ruan is mos gedoop in of tot die naam van die drie-enige
God. Ons kleintjies mag by Hom behoort. Hulle mag sy kinders en erfgename wees.

Ja, gemeente, in die verbond, in die kerk, behoort die kinders daarby. Jy
hoef jou kinders nie buite die kerk te laat nie. Hulle mag met jou saam binne
die kerk wees. God wil nie slegs ’n God vir volwassenes wees nie. Hy wil ook
die God van kinders en jonge mense wees. Hy wil beslag lê op die lewe van jonk
en oud. God stel nie slegs belang in ywerige volwassenes of jongeres nie, maar
ook in spelende kinders. Hy wil geniet van die ryk gevarieerde lewe van sy
skepsels. Hy wil sy pragtige skepping red.

God se werk in die verbond sluit dus aan by God se werk in die natuur.
Wanneer God met sy genadeverbond kom, dan negeer Hy nie skielik sy skepping, sy
skeppingsstrukture nie. God het die huwelik gegee. Hy het dit geskep. God gee
ook die kinderseën. Wanneer God na die mens kom, met hom omgaan, dan hou hy
rekening met die lewensverbande wat Hy self geskep het. Ja, meer nog, Hy skakel
die natuurlike verbande in. In sy verlossingswerk gebruik Hy die huwelik.
Gebruik Hy die kinderseën. Dit is vir Hom dierbaar. Hy wil dit in sy genade
herstel. So soek die God van die verbond die heiliging van die natuurlike
lewensverbande. Hy lê beslag op die gesinssamelewing van sy kinders. Die
gesinne is van Hom en voor Hom.

So wil ek vir u verkondig: God soek die natuurlike lewensverbande op: die
kinders van gelowiges is geroepe heiliges.

  1. Hulle is in Christus geheilig
  2. Hulle leef onder die klem van God se roeping

In die eerste doopvraag word aan die ouers gevra: Bely u dat ons kinders,
hoewel hulle in sondes ontvang en gebore is, nogtans in Christus geheilig is?

Wat beteken dit dat ons kinders in Christus geheilig is? Sien dit op
innerlike heiligheid? Beteken dit dat ons kinders reeds ’n bietjie anders en
beter as die ander kinders is? Dat God reeds in hul harte gewerk het? Hulle
harte vernuwe het? Ook al sou dit slegs in beginsel wees? Daar is mense wat so
gedink het.

Maar is dit waaraan ons moet dink by die doop van ons kinders? Wat bedoel die
Skrif daarmee as dit vir ons sê dat die kinders heilig is?

Die Bybel noem God se volk baie kere heilig. Ons lees bv in Deut 7:6
"Want jy is ’n volk heilig aan die Here jou God; jou het die Here jou God
uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te
wees." En 1 Pt 2:9 word dit herhaal vir die Nuwe Testamentiese gemeente:
"Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n
heilige nasie, ’n volk as eiendom verkry." In 1 Kor 7:14 word die kinders
van ’n gelowige man of vrou heilig genoem.

Wat bedoel die Skrif daarmee wanneer dit ons en ons kinders heiliges noem?
Kry ons ’n pluimpie omdat ons so goed en voorbeeldig is? Word daarmee die
stand van ons geestelike lewe aangeprys? Word daarmee die gemeente gewaardeer na
die vroomheid van die lidmate?

Dit sal duidelik wees dat die erenaam van die gemeente nie so verstaan moet
word nie. Hoe dikwels het God sy heilige volk nie moet bestraf nie? Die
innerlike vroomheid was dikwels ver soek. Tog bly die Here hulle sy heilige volk
noem. Van die kind wat nou nou gedoop is, kan jy ook moeilik volhou dat hy beter
is as die kinders wat nie gedoop is nie, hoe lief die kind ook mag wees. Die
woord heilig sê dus niks van die innerlike gesteldheid van hulle wat heilig
genoem word nie.

In die geskiedenis van die kerk was daar mense wat dit wel so opgevat het.
Hulle het hul dan gerig op die innerlike vroomheid van die individuele lidmate.
Dit gevolg was dat daar ’n kerkie in die kerk ontstaan het. Net hulle wat sou
kan getuig van hul innerlike heiligheid sou werklik tot die verbond en kerk
behoort. Die erenaam wat God vir sy hele volk gegee het, word so ’n breekyster
binne die een volk van God. Slegs ’n klein uitverkore groepie binne die kerk
sou heiliges genoem mag word.

Waarom noem God sy volk heilig? Waarom word die kinders heilig genoem?
Werklik nie omdat hulle uitblink in innerlike vroomheid nie. Hulle is soos ander
kinders in sonde ontvang en gebore. Die Here noem hulle heilig omdat Hy hulle
’n besondere plek gee. Die woord heilig sien op ons bevoorregte posisie. Die
Here het ons afgesonder om met Hom te lewe. Alle mense word in sonde ontvang en
gebore. Verlore in sonde en skuld. Aan die ewige oordeel onderworpe. Maar nou
kom God na u en u kinders toe. Hy haal u uit die verlore mensheid uit. Hy
verbind Homself aan u en u kinders. Wat ’n wonder van genade! God wil met u
deur die lewe gaan. U mag met Hom deur die lewe gaan.

Gemeente, as u die heiligheid van die gemeente en van ons kinders goed wil
verstaan, dan moet u let op God se werk. God kies mense tot sy bondgenote. Mense
wat van nature sy vyande is. Hy haal ons na Hom toe. Hy neem ons saam op sy pad.
Op die pad van die verbond. By die doopvont moet u dus nie in die eerste plek
let op die kind nie. By die doop moet u bowenal let op God se optrede. Hy haal
die kind aan. Haal die kind uit die verlore menslike geslag uit. Omdat Hy ook
met hierdie kind ’n pad wil loop, na die heerlike toekoms toe.

Net soos die volwassenes, word ook die kinders heiliges genoem. Wanneer God
die volwassenes na hom trek, trek Hy ook hulle kinders saam. In 1 Kor 1: 2 noem
Paulus die gemeente van Korinte geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe
heiliges. Sewe hoofstukke later noem Paulus ook die kinders heilig. God lê
beslag op die lewensverbande van sy volk. Selfs as daar maar een ouer is wat tot
geloof kom, tel die kinders mee. Hulle behoort by God se verbond en by sy
gemeente. Ook die kinders is geroepe heiliges. Indien mense tot geloof kom, dan
word ook hul kinders saam met hul ouers aangeneem. So het Paulus die huisgesin
van Stefanas gedoop (1 Kor 1:16). Cornelius kry die opdrag om Petrus te laat
haal omdat hy woorde tot jou sal spreek waardeur jy en jou hele huis
gered sal word (Hand 11:14). Ons lees in Hand 16:15 dat Lidia die
purperverkoopster van Thiatire gedoop is, sy en haar huisgesin. Dieselfde
word gesê van die tronkbewaarder van Filippi. Paulus en Silas sê vir hom: glo
in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin
(Hand 16:31).

Die belofte van die verbond is ook vir die kinders. Die belofte van die
vergewing van sondes en die Heilige Gees wat die lewe vernuwe. In sy
Pinksterpreek roep Petrus die mense op: "Bekeer julle, en laat elkeen van
julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en
julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe
en julle kinders" (Hand 2:38,39). Watter belofte? Ook die belofte van die
Heilige Gees. Die grootste geskenk van die nuwe verbond kom julle toe en julle
kinders. Ook op die Pinksterdag en daarna sien God gesinne in ontferming aan.
God bly trou aan Homself. Trou aan sy skeppingsverbande. Hy wil die
lewensverbande heilig. Elkeen wat in die gesinne ’n vaste plek inneem,
verklaar hy heilig. Dit was reeds so in Abraham se tente. Abraham se gesin was
heilig vir die Here. Bloedeie kinders maar ook slawe wat gekoop is. Alle seuns
en manne moes besny word. Moes die teken van die verbond dra. God lê beslag op
Abraham se hele huis. God het nie verander in sy werkwyse nie. Ook nie na
Pinkster nie. God bly die natuurlike lewensverbande opsoek.

Dit word, broeders en susters, vergeet deur mense wat die kinderdoop afwys.
Individualisme maak hom vandag sterk teen die kinderdoop. Mense sien slegs die
individu, die mens los van sy verbande, die enkeling. Elkeen sou eers vir
homself die persoonlike beslissing moet neem, voordat hy of sy ’n plek in die
verbond sou mag kry. Die individualisme het geen oog vir God se werk in die
geskiedenis nie. Daarom het dit ook geen oog vir God se werk in die geslagte
nie.

Dikwels is die weerstand teen die kinderdoop ’n reaksie op die misbruik van
die doop in die groot gevestigde kerke. Daar kan dit gebeur dat elk kind
outomaties gedoop word, maak nie saak of die ouers hul geloof wys of nie, of dat
die ouers verder kerk toegaan of nie. Teenoor die verkeerde gebruik van die doop
wys mense dan op die noodsaak van die persoonlike beslissing as voorwaarde vir
die doop.

Maar, gemeente, so verdwyn die baba met die badwater. Van verkeerd gebruik
word dit geen gebruik van die kinderdoop nie. Die kind word aan die kant
geskuif. Mense verloor die sig op God se werkwyse in die verbond. Dat God juis
die lewensverbande wat Hy self geskep het, wil red. Laat ons bly wees dat God
beslag wil lê op hele gesinne. Wat ’n voorreg vir die kinders. Hulle mag
heilig genoem word, afgesonder vir die Here. God wil met hulle optrek. Daarom
laat hy hulle grootword met sy woorde. Daarom plaas Hy hulle onder die klem van
sy roeping.

So kom ons by die tweede gedagte. In die eerste punt het ons gesien dat die
kinders in Christus geheilig is. Nou wil ons daarop let dat die kinders onder
die klem van God se roeping lewe.

Om gedoop te wees is geen gewone, vanselfsprekende saak nie. Dit is ’n
teken dat God tot jou verlossing ingegryp het. Daarin sien en hoor jy God se
roeping. Uit jouself is jy dood in sonde en skuld. Aan die ewige oordeel
onderworpe. Van nature verkeer ons almal in die duisternis. Maar God het ons
lewe binnegekom. Hy het as ’n roepende God ons hart opgesoek. Ons hart wat van
nature teen Hom gekeer is.

Wanneer God roep, gebeur dinge. Dan moet die duisternis wyk. En die lig
opgaan. God roep mos uit die duisternis na sy wonderbare lig. Hy plaas die lewe
van jou en jou kinders in die lig. In die lig van sy genade en trou. Op daardie
manier wil Hy ons lewens nuut maak. Die dood moet wyk. God maak die dooies
lewend. Deur sy woord, sy roepstem. Wanneer die Here spreek, dan gebeur dinge.
Net soos by die skepping. God roep dinge wat daar nog nie is nie, tot stand.
Sondaars, vyande word verander in liewe kinders en erfgename.

Hoe kom ’n mens dan in die verbond? Uit die krag of weens jou geboorte?
Nee! Jou geboorte, selfs uit gelowige ouers, het in homself geen krag nie. ’n
Mens kom slegs in die verbond deur God se kragdadige roeping. Dink maar aan wat
Petrus op die Pinksterdag gesê het: "want die belofte kom julle toe en
julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here ons God na Hom sal
roep." Beslissend is God se roeping. By die doopvont roem ons nie op die
heerlikheid van die natuurlike ouerskap nie. Ons besing eerder die heerlikheid
van die roepende God. Ons roem in God wat, ondanks alle sondes en gebreke by ons
en ons kinders, tog die huwelik en geboorte diensbaar wil maak aan sy
verlossingswerk.

Vanweë die sonde is die verwekking en geboorte van ’n kind op homself vir
God onbruikbaar. Tog maak God dit tot ’n bruikbare instrument vir die
voortgang van sy verlossingswerk. So plaas God kinders op sy heilsweg. Hul
geboorte uit gelowige ouers is ’n sterk middel in God se hand om hulle vanaf
die begin onder die klem van sy roeping te plaas. Daarom neem ons as ouers die
kinders saam, omdat God hulle aan ons hand wil saamneem. Ja, in werklikheid is
dit God se hande wat na hulle uitreik. Hulle is mos sy kinders, geroepe
heiliges.

So is julle, seuns en dogters, geroepe heiliges. So is Ruan ’n geroepe
heilige. God het julle, het Ruan geroep. Hy bly julle roep. Soos julle nou sien
by Ruan het dit reeds by die begin van jul lewe begin. God het sy naam oor julle
uitgeroep. Ook al kon julle toe nog niks verstaan nie, het God by jul doop
woorde van lewe en lig oor julle uitgespreek. Hy roep daar by die doop uit die
duisternis na sy wonderbare lig. Hy plaas ons op die pad wat na die lewe lei. Hy
onderskei ons daar van die kinders van die ongelowiges. Met die water op ons
voorhoof. ’n Teken van verlossing en vernuwing. Die water is mos ’n teken
van die afwassing van die sondes. Ons gaan deur die lewe met ’n teken en seël
van verlossing in Jesus Christus. Julle ouers lei julle van stap tot stap verder
op die pad van verlossing. Dmv hul christelike opvoeding. So bly God vir julle
roep. So gaan Hy met julle deur die lewe met sy lewende en kragtige woord,
waardeur Hy dooies lewend maak. So soek Hy julle hart en lewe, om dit te
vernuwe.

Daarom is, broeders en susters, die christelike opvoeding so belangrik. Die
laaste doopvraag is nie slegs vir die sier nie. Die vraag: "Belowe u en
neem u dit op u om hierdie kind wanneer hy dit kan verstaan, in die genoemde
leer na u vermoë te onderrig en te laat onderrig?" Op sy weg van
verlossing skakel die roepende God ons as ouers in. Hy wil ons monde en hande
gebruik om in te gryp in die lewe van ons kinders. Sodat hulle met die evangelie
grootword. Sodat hulle onder die invloed en krag van sy woord gevorm word. Ja,
sodat die Here ook werklik met hulle deur die lewe gaan.

As ek as ouer geen erns maak met hierdie onderrig in die christelike leer
nie, dan maak ek die verbond niksseggend. As ek die doop nie opvolg met ’n
christelike opvoeding, dan ruk ek die doop los van die beslag wat God op die
lewe van my kind wil hê. My kind groei dan op sonder God, in die duisternis. Ek
het as ouer dan niks verstaan van die verbond en doop nie. Die roepende God kom
mos die lewe van ons kinders binne op ’n baie konkrete manier. Nie langs
misterieuse paaie nie. Maar baie konkreet dmv ons as ouers. Via ons as ouers wil
Hy ons kinders met sy evangelie bly roep. Om hulle hart en lewe te vernuwe. Om
hulle te verlos. Die geroepe heiliges moet hul heilige roeping leer verstaan. En
as heiliges gaan lewe.

Ja, gemeente, in die verbond gebeur niks outomaties nie. God haal sy kinders
na homself toe. Hy plaas hulle op sy pad van verlossing. Maar nou moet die
kinders ook self leer om op die pad te stap. Dit gebeur nie vanself nie.
Daarvoor is die Heilige Gees nodig. En hoe werk die Heilige Gees? Dmv die
christelike opvoeding en onderrig. Dan eers trek God en die mens saam op, in
wederkerige liefde. Die geroepe heiliges gaan hulle as heiliges gedra. Daarin
bereik die verbond sy hoogtepunt. Dit bly dan nie by God se roeping nie. Dan
word die antwoord ook gehoor, die antwoord van die geloof.

Broeders en susters, dit sal duidelik wees dat die doop nooit op homself kan
bly staan nie. Dit is geen toormiddel nie. Waardeur jy of jou kind outomaties
gered word nie. Ek kan nooit sê: ek, of my kind, is gedoop, dus is alles in
orde. Of, dus sal hulle uiteindelik gered word. Wanneer God die doop die
afwassing van die sonde noem, dan moet ons goed besef dat dit ’n sakramenteel
spreekwyse is. God wil ons daarmee op die hart bind dat sy beloftes van
verlossing waar en seker is. Jy kan daarop staatmaak. So seker as jy die water
op jou voorhoof ontvang het, so seker wil Christus jou sondes met sy bloed en
Gees was. Maar dan moet jy dit wel aanneem. As jy, of jou kind, dit nie aanneem
nie, dan kies julle vir die duisternis en dood. Wanneer jy dit in geloof
aanneem, dan mag jy egter seker wees van die vergewing van sondes en van die
ewige lewe, maak nie saak watter gemors jy van jou lewe gemaak het nie. Jy kan
nooit te sleg wees om weer tot God te mag vlug en ook metterdaad vergewing te
ontvang nie. God het dit belowe en verseker by jou doop. Ja, God bevestig dit
voortdurend in sy woord en in die bediening daarvan. Hy bly dit herhaal. In die
lewende en kragtige woord waarmee hy bly inwerk op jou lewe.

Wanneer jy dan sy stem in woord en sakrament hoor, neem dit aan in geloof.
Gryp vas God se beloftes. Uitgebeeld en verseël in jou doop. Wat is jy, wat is
jou kinders ryk. Geroepe heiliges. Uit die verlore menslike geslag gehaal om te
kan lewe. Om te lewe met God. Hy wil met jou en jou kinders deur die lewe gaan.
Jy mag met Hom deur die lewe gaan. Jy is van Hom en vir Hom.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)