Let op hoe jy luister na die woord, ja, luister met jou hart en lewe.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-02-17
Teks: 
Dordtse Leerreëls 3
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerrëels Hoofstuk 3/4, Art 9
(Matthéüs 13:3-7, 18-23)

Ds C Kleyn - Sondag 17 Februarie 2002

Lees:

Matthéüs 13:1-23; Dordtse Leerrëels Hoofstuk 3/4, Art 9.
Sing: Ps 113:1,2; Ps 75:1,4; Ps 126:3; Ps 119:5,7; SB 43:4,5,6.

Tema: Let op hoe jy luister na die woord, ja, luister met jou hart en
lewe.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Gelykenisse is ’n belangrike deel van Christus se onderrig. ’n Mens kan
baie daarvan leer vanweë hul eenvoud en duidelikheid. Hulle spreek ons
voorstellingsvermoë aan.

Tog sien baie mense nie deur die illustrasies van die Here heen nie. Hulle
sien nie waaroor dit gaan nie. Hulle glo nie in die Meester Jesus Christus nie.

In daardie tyd het baie mense nie in Jesus geglo nie. Hulle het baie gesien
en gehoor, maar nie geglo nie. Om die onderskeid tussen hulle wat werklik
luister en hulle wat dit nie doen nie te laat uitkom, spreek Christus in
gelykenisse. Gelykenisse lyk eenvoudig, maar om agter die ware betekenis te kom,
moet ’n mens hom inspan. Dan moet jy die woord tot jou laat deurdring, dan
moet jy daaroor nadink. So kry jy die onderskeid tussen ware hoorders en
oppervlakkige hoorders.

Dis opvallend dat Jesus sy gelykenisse juis met die gelykenis van die woord
en die hoorders begin. Die punt van die gelykenis is: om te luister is nie
genoeg nie. Jy moet werklik luister en die woord opvolg. Ons kan dit ook sê met
die woorde van die teks: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor, laat hom werklik
hoor en dit opvolg. Broeders en susters, elkeen van julle is nou hoorders van
die woord. Watter tipe hoorder is u, is jy? Let op hoe jy luister. Laat die
woorde deurdring tot in jou hart en lewe.

Ons kan die tema van die preek dan ook soos volg formuleer: Let op hoe jy
luister na die woord, ja, luister met jou hart en lewe.

Ons kry ’n tekening van ’n tradisionele boer wat besig is om die saad met
die hand te saai. Die land is verdeel in relatief klein erwe wat deur paaie van
mekaar geskei is. Die pad word gebruik om die landbouwerktuie op die land te kan
bring en om van die een stuk land na die ander te stap. In die herfs, wanneer
die saailand gereed is, bind die boer ’n oop buidel om sy midde wat hy met
saad vul. Terwyl hy oor die saailand stap, steek hy voortdurend sy hand in die
buidel, neem ’n handvol saad en versprei dit oor die geploegde grond.

Jesus vertel ons dat die saad die woord van God is. Dis die woord wat vir
julle verkondig word. Hierdie beeld is in die Bybel nie ongebruikelik nie. Die
apostel Petrus skryf in 1 Pt 1:23-25: "Want julle is wedergebore nie uit
verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat
tot in ewigheid bly. Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die
mens soos ’n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die
woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle
verkondig is."

Hierdie saad van die woord van God is lewende saad. Elke goeie saad dra die
beginsel van lewe in homself. Tog sal die saad net tot lewe kom, groei en vrug
dra indien dit in die voorbereide aarde gesaai word. So is dit met die woord van
God. Die woord is lewend en kragtig. Hoekom? Omdat dit die woord is van die
lewende en almagtige God self.

Die saaier in die gelykenis is die Here Christus. Hy is besig om sy evangelie
te verkondig. Vandag word die evangelie deur ander mense verkondig; deur
predikante. Tog bly Christus is prinsipe die saaier, ook vandag. Hy is besig om
sy saad te saai.

Die land waarin die saad gesaai word sien op die harte van hulle wat die
woord hoor, u en my. Elkeen van ons hoor die prediking. Maar ons reageer
verskillend. Die vier verskillende grondsoorte verwys na 4 verskillende harte
van hulle wat die evangelie hoor. Ons is almal hoorders. Maar wat maak ek met
dit wat ek hoor? Jesus wys dat die hoor van die evangelie ’n goeie begin is,
maar slegs ’n begin. Dit moet opgevolg word. Daar moet groei wees en die dra
van vrugte.

Die eerste klasse hoorders word beskryf deur die saad wat langs die pad val.
Die grond langs die pad is platgeloop. Daardeur kan die saad nie in die grond
indring nie. Die voëls sien dit lê, kom daarop af en eet dit op.

Die Here beskryf die hoorders as hulle wat die evangelie wel hoor, maar Satan
kom en roof die woord van hulle weg. Hierdie tipe hoorder hoor dus wat in die
prediking gesê word. Nie slegs met sy oor nie. Hy weet ook wat gesê word. Maar
hy verstaan die woord nie. In die verband is dit onwaarskynlik dat dit slegs dui
op ’n verstaan met die verstand. Die saak is dat hierdie persoon sy of haar
hart vir die evangelie toesluit. Jy verhard dan jou hart, jy laat die woord nie
deurdring nie. Die probleem is nie dat die predikant in ’n onverstaanbare taal
praat nie of dat die predikant se preke te diep of te swaar is nie. In daardie
geval sou die oorsaak by die prediker of die prediking lê. Maar Christus
benadruk juis die verantwoordelikheid van die hoorders. Ek is verantwoordelik
vir my reaksie op die prediking.

Christus dink hier aan die tipe mense wat geen belangstelling vir die
prediking het nie. Ek het dan wel belangstelling vir allerlei ander sake van
hierdie wêreld. Ek het dan meer belangstelling vir my werk, my finansiele en
maatskaplike vooruitgang, die genietinge van die lewe, die koers van die rand
ens. Miskien het ek hier in die kerk meer belangstelling vir die ou of vir die
meisjie wat voor my of naas my sit. Vir die nuutste mode of vir die treffer film
of lied. Maar daar is geen ware belangstelling in die woord nie. Ek is nie
werklik geinteresseerd in die koninkryk van God nie, of in die waarheid van die
evangelie.

Satan slaan dan toe en neem die woord weg, onmiddelik nadat dit verkondig is.
Ek laat satan dan in my hart kom en die woord uit my gedagte wegpik. Die woord
gaan letterlik die een oor in en die ander uit.

Wel gemeente, sulke hoorders kan gevind word in enige gemeenskap waar die
woord verkondig word. Is jy dalk een van hulle? Sulke hoorders is verveel onder
die prediking. Jy kan dit amper verdra om 30 minute te luister nie. Jy is met
jou gedagtes allerlei ander dinge. Moontlik gaan jy selfs sit en slaap. Jy gee
satan die volle geleentheid om te kom en die woord weg te neem. As iemand jou
onmiddellik na die diens sou vra waaroor die preek gegaan het, kan jy dit nie
vertel nie. Die woorde het verdwyn voordat die slotsang gesing is. Miskien was
daar wel ’n woord dat jou gewete geprikkel het, net vir ’n oomblik, maar jy
het dit afgewys en satan dit laat wegneem.

Broeders en susters, waar die kerk vergader, daar kom ook die voëls saam om
enige saad wat hulle kan vind weg te neem. So kry jy mense wat kerk toe gaan en
weer huis toe gaan asof hulle nie in die kerk was nie, asof niks gebeur het nie.
Hulle is nog ewe vol van allerlei aardse dinge. Hulle het die evangelie gehoor,
maar hulle harte nie oopgestel daarvoor nie. Hulle het Satan ’n plek gegee,
hom die woord laat wegneem sodat hulle nog ewe wêrelds is as voorheen.

Hoe anders is dit met elkeen van julle wie se harte ontvanklik is vir die
evangelie. Die Here vertel ons dat ’n ander deel van die saad op die goeie
grond val. Tussen die goeie saad is daar ook nog verskil, een gedeelte is meer
vrugbaar as die ander. Die gevolg is dat die een deel honderd-, die ander
sestig- en die ander dertigvoudig vrug oplewer.

Blykbaar is daar verskil tussen die ware gelowiges. Daar is sommiges waarin
die woord oorvloedige vrug dra. Daar is egter ook gelowiges waarin die woord nie
sulke oorvloedige vrugte voortbring nie. Dit het ongetwyfeld te make met die
geestelike toestand van die hoorders. Sommiges is baie geestelik, ander is
geestelik swak. Sommige luister gretig na die woord en pas dit graag toe in hul
lewens. Ander is minder gretig en dit ontbreek hulle aan die wysheid om die
woord toe te pas.

In feite kan die verskeie geestelike toestande wat Jesus beskryf ook toegepas
word op dieselfde christen in verskillende tye van sy lewe. Ons in nie altyd ewe
ontvanklik vir die woord nie. Daar is tye waarin ek baie gretig is om die woord
te hoor. Daar is egter ook tye waarin my geloof swak is, wanneer ek nie so
ontvanklik is nie en wanneer dit so maklik is om satan toe te laat om die saad
weg te pik. Daar is tye waarin die vrug honderdvoudig is. Maar daar is ook tye
wanneer die vrug slegs dertigvoudig is. Hoe belangrik is dit dan om toe te sien
dat jy ore het wat werklik hoor. Hoe belangrik is dit dan om ontvanklik vir die
evangelie te wees. Om die woord jou te laat vul, dit in jou hart te laat indring
en dit jou lewe te laat verander. Dan sal die vrugte sigbaar word, oorvloedige
vrugte van God se woord en Gees.

Die tweede tipe slegte grond waarin die saad val, word beskryf as rotsagtige
grond. Die Here dink hier nie aan grond wat baie gruis en klippies bevat nie. Hy
dink eerder aan ’n dun laag grond wat bo ’n groot klip lê.

Hierdie tipe grond is eers lekker warm en vogtig omdat die groot klip
daaronder warmte en vog vashou. Die gevolg is dat die saad wat daar gesaai word,
vinnig opskiet. Die probleem is dat die tenger plant nooit ’n goeie wortel
sisteem kan ontwikkel nie. Daar is geen ruimte vir die wortel om diep af te
steek nie. Dit voorspel probleme vir die toekoms. Wanneer die son sterker begin
te skyn en daar vir ’n rukkie geen reen val nie, dan droog die grond vinnig
uit en die plant verwelk.

Daar is sekere hoorders wat lyk op hierdie tipe saad. Hierdie mense is maklik
geraak deur ’n indringende prediking of prediker. Hulle hoor die evangelie en
dit beweeg hulle amper onmiddellik om God te loof en hul hart aan die Here te
gee. Dit lyk asof hulle bekeerd is. ’n Mens vind hierdie tipe persone dikwels
by groot opwekkingssamekomste. Hulle hoor die boodskap en hardloop vorentoe om
hul geloof bekend te maak.

Tog is dit ook slegte grond hoorders. Hulle harte is nie werklik gereed vir
die Here nie. Die woord het nog nie werklik in hul lewe wortel geskiet nie.
Daarom hou hulle dit maar n korte tyd vol. Sodra daar verdrukking of vervolging
kom ter wille van die woord, is hulle verlore. En verdrukking of moeites sal
kom. Satan weet, dalk beter as baie kerklede, dat die woord van God ’n krag is
tot redding vir elkeen wat glo. In sy haat teen God probeer hy altyd die kerk te
verwoes en haar van die woord weg te trek. Daarom bring hy ook lyding oor die
kerk.

Die lyding is nie altyd so swaar as in tye van verskriklike vervolging en
marteling nie. Daar is tye wanneer dit lyk asof die kerk relatiewe rus en vrede
het. Maar selfs dan kan dit bv gebeur dat jy bepaalde werk nie kan kry of behou
nie omdat jy jou christelike prinsipes wil uitleef. Dit kan dit gebeur dat jy
bespot en verstoot word vanwee jou belydenis en lewenswandel. Mense lag jou uit
vanwee jou trou aan die Woord van God. Jy is nie "cool" nie; jy is
’n "heilige boontjie." Daar is egter ook tye wanneer die satan die
volle swaarte van vervolging oor God se volk bring. Dit het gebeur in die tyd
van die vroeg christelike kerk. Dit het gebeur tydens die groot Hervorming. Dit
het gebeur onder kommunisme. Dit gebeur vandag nog in sekere Islamietiese lande.

Hierdie lyding is vergelykbaar met die hitte van die son in die gelykenis.
Die vurige hitte van vervolging kom oor hierdie mense en die geloof wat so
entoesiasties begin het, verwelk. Na ’n rukkie keer jy die kerk die rug toe,
verlaat jy die waarheid en wil jy niks meer met die prediking te make hê nie.
Dit het geen wortel gehad.

Geliefdes, hoe anders is dit met die vrugbare grond hoorders. Die saad van
die woord skiet dan diepe wortels in jou harte. Die wortels is in Christus. Jy
trek jou krag en lewe uit Christus. Daarom, selfs wanneer vervolging kom ter
wille van die woord, dra jy vrug. Jou reaksie op die woord is nie slegs
emosioneel nie. Ja, dit ook. Ons glo mos met ons hele persoon, met ons hele
hart, siel en verstand. Jou reaksie op die woord is nie oppervlakkig nie, iets
wat slegs ontstaan uit ’n emosionele aanraking. Jy luister na die woord soos
dit vir jou die kennis van God in Christus oordra. Met verligte verstand,
verstaan jy die woord. Met ’n wil wat versag is, ontvang jy die woord. Jy weet
en verstaan die volle waarheid. Die waarheid oor jou sonde en ellende, maar ook
die waarheid van verlossing daarvan in Christus. Daarom is jou emosionele
reaksie op God se woord nie ’n oorhaastige reaksie nie. Dit het vir jou meer
diepte en inhoud. Jy omhels die volle evangelie van ellende, verlossing en
dankbaarheid.

Wanneer moeite of vervolging kom, verwelk jy nie. Lyding met sy vlammende
hitte en verskroeiende krag lei vir jou daartoe dat jy jou wortels nog dieper
laat skiet in Jesus Christus. Dan verloën jy nie jou geloof nie ter wille van
jou werk of posisie en aansien in die maatskappy nie. Jy is dan nie verleë met
jou geloof vanwee die bespotting en haat van die wêreld nie. Jy verloën nie
jou geloof uit vrees vir vervolging of dat jy deur die groep verstoot word nie.
Vervolging het die teenoorgestelde effek. Dit leer jou om jou wortels nog dieper
in Christus te steek. Uit Christus, die fontein van lewe, put jy jou lewe en
krag. Dit maak nie saak wat die ongelowiges vir jou wil doen nie. Dít is die
vrug wat jy dan dra.

Daar is nog ’n ander tipe grond wat Christus noem. Dit is die doringagtige
grond. Rondom hierdie saad is daar ander sade, die saad van dorings en distels.
Hulle groei saam op, maar uiteindelik oorwoeker die doringstruike die goeie
plant en verstik dit, voordat dit vrug kan dra.

Hierdie dorings is volgens Christus die sorg van hierdie wêreld en die
verleiding van die rykdom. Die sorg van hierdie wêreld sien op die dinge in die
huidige lewe wat spanning veroorsaak, waaaroor mense hulle kwel.

Jy kan jou kwel oor jou werk; sal jy werk kry of jou werk kan behou? Miskien
is jy bekommerd oor jou finansiele situasie. Sal jy vir jou gesin kan bly sorg.
Sal jy jou huidige stand van lewe, met sy moderne geriewe, kan handhaaf? Sal jy
die verband vir jou huis en/of kar kan bly betaal?

Vervolgens word die verleiding van die rykdom genoem. Dit kan ook ’n doring
in die hart wees. Die uitdrukking is ’n sterke uitdrukking. Die Here wil sê
dat die rykdom altyd verleidelik is. Dit verlei omdat dit lyk asof dit geluk,
sekuriteit en vryheid van sorg en spanning belowe. Die verleiding is so subtiel
dat amper almal daarvoor val, selfs dikwels die kinders van God. Dis natuurlik
nie waar nie. Die rykes is nie noodwendig gelukkiger en veiliger as die armes
nie. Hulle is almal kwesbaar. Hul kwel hul almal oor sekere dinge; hulle is
almal bevrees. Hulle weet almal dat siekte en lyding nie deur rykdom voorkom kan
word nie. Hulle weet almal dat die dood nie oorwin kan word deur baie geld of
besittings nie.

Maar dit is die verleiding van rykdom: as jy maar genoeg het, dan sal al jou
probleme verdwyn. So begeer mense om ryk te wees. Hulle jaag daarna, hulle werk
en veg daarvoor. Dit word die hoofdoel van die lewe en sterwe.

Hierdie dorings kan stadig in jou hart groei. Dan is daar min ruimte vir die
saad om te groei nie. Ja, jy hoor die woord nog wel en verstaan dit selfs. Jy
kan dit selfs oordink en nou en dan met ander bespreek. Wanneer mense jou wys op
jou wêreldse gesindheid, dan gaan jy miskien selfs so ver om verandering van
jou lewe te belowe. Maar die dorings verstik die woord. Dit gebeur reeds in die
kerk. Jy sit in die kerk, maar jou gedagtes is by die werk, by jou besigheid, by
jou finansiele teenslae ens. Jy word maklik afgelei deur gedagtes oor die
genietings of sorge van die lewe. Jy kan selfs tydens die diens droom oor wat jy
sou doen indien jy slegs die groot som geld sou hê. En na die diens laat jy jou
weer heeltemal beheers deur die wêreldse bekommernisse en doelstellings. Jy lei
’n dubbele lewe. Sondag is jy ’n christen en in die week leef jy as ’n
nie-christen. Die gevolg is dat die woord van God verstik word en geen vrug dra
nie.

Gemeente, wat ons tot nou toe gesê het, klink bekend. Of nie? God se kinders
word ook dikwels afgelei deur die sorg van hierdie lewe en die verleiding van
die rykdom. Dit is te dikwels waar in ons lewe. Daarom kom die ernstige
vermaning na ons toe: wie ore het om te hoor, laat hom hoor!

Wat doen die ware gelowige? Wanneer die sorg van die lewe jou neerdruk, dan
werp jy al jou bekommernisse op die Here (1 Pet 5:7). Jy weet dat Hy vir jou
sorg. Jy laat jou nie verlei deur die rykdom nie. Jy kyk na dinge in die lig van
die Skrif. Daarmee plaas jy die rykdom weer in sy regte perspektief. Jy weet dat
die skatte van God se koninkryk oneindig groter is as al die skatte van die wêreld.
Jy weet dat die aardse dinge slegs middele is om jou te help om hier en nou op
die ewige pad te stap. Jy soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid.
Dan kry die dorings geen kans om die woord te verstik nie.

Geliefdes, julle het die beskrywing van die 4 tipe hoorders gehoor: die harde
grond hoorders, die rotsagtige grond hoorders, die doringagtige grond hoorders
en die goeie grond hoorders. Waar pas U/jy in? Die woord van God kom in alle
erns na elkeen van julle toe. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor! Let op hoe
jy luister. Jy is verantwoordelik vir die manier waarop jy luister. Om met jou
ore te luister is nie genoeg nie. Luister met ’n ontvanklike hart. Laat die
woorde van God deurdring in jou hart en lewe. Volg dit op. Wees daders van die
woord. En die vrugte sal sigbaar wees.

Daarom: let goed op hoe jy na die woord luister. Ja, luister met jou hart en
lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)