God roep in alle erns deur sy evangelie.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-02-10
Teks: 
Dordtse Leerreëls 3
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3/4 Art 8

Ds C Kleyn - Sondag 10 Februarie 2002

Lees:

Jesaja 55; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3/4 Art 8
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 84:3; Ps 84:6; SB 18:5-8; Ps 40:8.

Tema: God roep in alle erns deur sy evangelie.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dis die wil van God dat die evangelie aan alle volke verkondig word. Christus
self het vir sy apostels gesê dat bekering en vergewing van sondes in sy Naam
verkondig moet word aan alle volke (Lk 24:47). Let daarop dat daar nie slegs van
bekering gepraat word nie, maar ook van vergewing. Aan elkeen moet bekering en
vergewing van sondes verkondig word. Elkeen wat die woord hoor moet ook hoor van
die versoening wat daar is in Jesus Christus. "Laat hom wat dors het, kom;
en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet." (Openb 22:17).
"Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want ek is
God en daar is geen ander nie." (Jes 15:22).

So word die evangelie op hierdie oomblik ook aan elkeen van ons verkondig.
Aan elkeen word Christus voorgehou as die versoening van ons sondes. Jong en
oud. Ja, ook aan ons kinders en jong mense. Elkeen is mos gedoop. En die doop
getuig van die afwassing van die sondes deur Jesus Christus. Vir elkeen wat
gedoop is getuig die Here Jesus: Ek wil jou sondes vergewe en jou lewe vernuwe.

Maar nou die ander kant van die saak. Christus sê ook: baie is geroep maar
min uitverkies (Mt 22:14). Jakob en Esau was albei besny. Hulle het albei die
verbondsbeloftes ontvang. Tog sê die Here: Jakob het ek liefgehad en Esau
gehaat. Die feit dat ek by die verbond behoort, beteken dus nie outomaties dat
ek ook uitverkies is nie of dat ek gered sal word nie. Vir wie het Christus mos
gesterf? Vir sy skape. En wie is sy skape? Die wat die Vader in sy verkiesende
liefde aan Hom gegee het. Ons bely met die tweede hoofstuk van die dordtse
leerreels dat die versoening beperk is, dws dat dit vir ’n beperkte aantal
mense bestem is. Ja, dat dit slegs bestem is vir die uitverkorenes. Van hulle sê
Christus: Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My
toekom, nooit uitwerp nie. Elkeen wat in My glo mag die ewige lewe hê en Ek sal
hom opwek in die laaste dag.

Maar hoe kom ek daar daartoe om in Christus te glo? Ons het ook gesien dat
ons nie uit onsself tot die geloof kan kom nie. Dit moet ons van bo gegee word.
Ons glo mos in die totale verdorwenheid van die mens. Van nature kan ons nie die
goeie doen nie, kan ons die goeie nie verstaan nie, en wat nog erger is: kan ons
die goeie nie eers begeer of soek nie. Soos Christus sê: sonder My kan jy niks
nie. Alles is afhanklik van die vrye welbehae van God.

Wel, gemeente, lyk die twee dinge wat ons genoem het nie met mekaar in stryd
nie? Aan die een kant die verkondiging van bekering en versoening aan alle
mense, aan die ander kant die verlossing van slegs die uitverkorenes. Is dit nie
met mekaar in stryd nie? Kan ons nog wel opreg en met klem die evangelie vir
alle mense verkondig as ons weet dat slegs die uitverkorenes tot geloof sal kan
kom en gered sal word? As alles van die vrye welbehae van God afhanklik is, is
dit nie huigelagtig van God om tog tot alle mense te kom met die evangelie van
bekering en versoening nie? Is dit wel eerlik van God om aan die nie
uitverkorenes sy evangelie aan te bied, ja selfs Christus aan te bied? Hoe kan
God iemand ernstig tot geloof oproep as Hy weet dat die persoon nie die mag het
om aan die roeping gehoor te gee nie en as Hy nie van plan is om die geloof aan
die persoon te gee nie?

Ja, gemeente ons ervaar ’n spanning tussen die twee dinge: die universele
aanbieding van die evangelie en die beperkte versoening deur Christus. Watter
verhouding is daar tussen die twee? Kan ’n mens die twee wel by mekaar
uitbring? Daar is baie mense wat sê dat daar geen enkele verhouding tussen die
twee is nie. Hulle beweer dat die twee nie albei waar kan wees nie. Dis die een
óf die ander, nie die een en die ander nie. So ontstaan daar twee verklarings.
Eers is daar mense wat fokus op die universele aanbieding van die heil en van
daaruit die beperkte verlossing ontken. Hulle beweer dat die heil vir alle mense
bestem is. Christus het vir almal gesterf en nou hang dit van die mens met sy
vrye wil af of hy daarvan gebruik maak of nie. Aan die ander kant is daar mense
wat fokus op die beperkte verlossing en van daaruit die universele aanbieding
van die heil verloën. Hulle stel dat die heil slegs aan die uitverkorenes
aangebied word. Omdat ons nie weet wie uitverkies is nie, moet ons die evangelie
in die teenwoordigheid van almal verkondig, maar dit is slegs vir die
uitverkorenes bestem.

Wat is fout met hierdie twee verklarings? Hulle probeer om te verklaar wat
die Skrif self nie verklaar nie. Daarmee ontken hulle sekere waarhede wat God
geopenbaar het. Die leer van die universele aanbieding van die heil en die leer
van beperkte versoening is albei bybelse waarhede. Hulle is albei waar, ook al
kan ons dit nie met ons beperkte en sondige menslike verstand verstaan nie.
Hulle is albei waar omdat God dit duidelik so gesê het en God die waarheid self
is. Daarom moet ons nie wyser as God wil wees nie en een van die waarhede ten
koste van die ander verklaar nie. Ons moet albei laat staan soos dit daar staan.
Anders ontkrag ons die klem en rykdom van God se evangelie.

Kyk maar na die universele aanbieding van die heil. As ek dit benader en
inkleur vanuit my verstaan van die leer van die beperkte versoening dan sou ek
’n kragtelose prediker word. Om die evangelie oortuigend te kan preek, moet ek
seker daarvan wees dat God in alle erns mense wil oproep om na Christus te kom.
Om met klem te kan preek, moet ek weet dat God ook in alle erns verlossing
belowe aan elkeen wat na Christus kom.

Maar, gemeente, indien Christus se dood vir ’n definitiewe aantal mense
bestem is, kan God dan nog wel in volle erns alle mense tot geloof in Christus
bly oproep? Wat sê die Skrif self daaroor? Ons het reeds verwys na die woorde
van Christus dat bekering en vergewing van sondes in sy Naam aan al die nasies
verkondig moet word (Lk 24:47). Sou God wanneer Hy mense oproep tot bekering en
die belofte van vergewing daaraan verbind, dit nie werklik meen nie? Wanneer God
in Jes 45:22 sê: "wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die
aarde" sou die Here dan nie werklik wil hê dat hulle tot Hom kom om hulle
te laat red nie? Om dit te suggereer sou reeds Godslasterlik wees. God is mos
die waarheid self. Terwyl alle mense leuenagtig is, is Hy volkome waaragtig en
betroubaar.

Neem ook Ez 33:11. Daar sê die Here: "So waar as Ek leef, spreek die
Here Here, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar
daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer
julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van
Israel?" Meen God ernstig wat Hy hier sê óf hou hy die Israeliete vir die
gek? Niemand wat dit lees kan verdedig dat God dit nie so bedoel nie. Dis juis
’n bewoë en indringende oproep van die Here. God roep my nie op om my te
bekeer om daarna te sê: "jammer, ek het jou nie uitverkies nie. Dis was
net bedoel vir die uitverkorenes." Wanneer God met herhaling en dus met
klem sê: bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë, dan bedoel Hy dit
presies so. Hy het mos geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin
dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe.

Hoe dringend klink die oproep van Jes 55:1:"O almal wat dors het, kom na
die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder
geld en sonder prys, wyn en melk." Dit word herhaal in Op 22:17: "Laat
hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem,
verniet." Sou God die uitnodiging nie ernstig meen nie? Indien God my
uitnooi om te kom en om die water van die lewe te neem, wie is ek om dan daaraan
te twyfel of Hy dit ook werklik meen? In Jes 55 sê die Here verder ook:
"Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.
Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom
tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy
vergeef menigvuldig." (Jes 55:6,7). Die Here sê dit nie slegs vir die
uitverkorenes nie, maar vir elke goddelose en kwaaddoener. Hy wil hê dat elkeen
Hom soek, terwyl Hy te vinde is en dat elkeen hom tot die Here bekeer. God kom
nie slegs in alle erns met sy oproep nie, maar ook met sy belofte. "Laat
hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees, want Hy vergeef
menigvuldig."

Gemeente, dat God in alle erns ook al die gedooptes, almal wat in die verbond
opgroei, soek en roep blyk uit die bewoë woorde van Christus van Mt 23:37:
"Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig die wat na jou
gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar
kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie." Christus is diep
bewoë wanneer hy Jerusalem, die tempelvolk en stad sien. Ek wou alles vir julle
doen, maar julle wou nie. Hoe dikwels wou ek julle nie in tere liefde vergader,
beskerm en onderhou nie, net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke
bymekaarmaak. Maar julle wou nie.

Christus laat ook op ander plekke blyk dat Hy oor sy volk innig bewoë is.
Ons lees bv in Mt 9:36 "Toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel
vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het
nie." Christus roep die skare later dan ook op: "Kom na My toe, almal
wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer
van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir
julle siele" (Mt 11:28,29). Christus se houding bewys die erns waarmee God
die heil van sy volk soek. God is opreg daarin. Laat ons dit nooit kleineer nie,
bv deur die oorbeklemtoning van die verkiesing.

Gemeente, dis ’n werklikheid ook vandag in ons midde. God is bewoë oor
almal wat in die verbond grootword. Hy is bewoë oor almal wat die evangelie
hoor. Hy roep elkeen van julle met alle erns op tot geloof en bekering. Hy
belowe elkeen van julle vergewing van sondes en ewige lewe. Elkeen wat glo sal
gered word. Wend julle tot My en laat julle red. Kom na My toe en Ek sal julle
rus gee. Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word (Hand 16:31). Dis
hoe die Here ons in alle erns aanspreek. Met sy beloftes en eise. Met sy
evangelie van bekering en vergewing van sondes.

Laat ons oppas dat ons die erns van die woorde nie ondermyn deur die leer van
die beperkte versoening te oorbeklemtoon nie. Daardie leer het ook sy eie
legitieme plek wat ons moet respekteer, maar dit is nie bedoel om die klem van
die prediking te ontkrag nie. Asof die woorde slegs vir die uitverkorenes bestem
sou wees. Nee, elkeen van julle word met klem en volle erns opgeroep tot geloof
en bekering. En julle word ook in alle erns gewys op die verlossing in Jesus
Christus. Gaan dan nie julle beroem op julle doop nie met die gedagte dat alles
dan outomaties in orde is nie. Die verbond is nie identiek met die verkiesing
nie. Dat jy gedoop is beteken nie outomaties dat jy uitverkies is en gered sal
word nie. Nee, die verbond kom met beloftes en eise. Met die eis: glo in Jesus
Christus. En die belofte: en jy sal gered word. Niemand kan die dringende oproep
van die evangelie ontwyk met ’n beroep op die verbond nie. Die Jode kon dit
ook nie doen nie. Baie van hulle het verlore gegaan, ook al was hulle na die
vlees kinders van Abraham, ook al het hulle tot God se verbondsvolk behoort. Van
Israel sê die Here: Die hele dag het Ek my hande uitgebrei na ’n ongehoorsame
en teësprekende volk (Rom 10:21).

Maar watter plek neem dan die leer van die beperkte versoening in? Nie ’n
vooraanstaande plek nie. In sekere sin kan ’n mens sê dat die leer vir die
ongelowiges nie relevant is nie. Dis nie wat hulle as eerste moet hoor nie.
Hulle sou dit nie verstaan nie. Wat hulle wel moet hoor is die klemmende oproep
tot geloof en bekering. Die leer van die beperkte versoening maak ons wel
versigtig in die manier waarop ons die evangelie aanbied, maar dit mag niks van
die klem van die evangelie wegneem nie. Ons boodskap sal dan bv nie wees:
Christus het vir jou persoonlik gesterf en jou gered nie. Die boodskap sal
eerder wees: Christus het vir sondaars gesterf. Glo in Hom en jy sal gered word.
Of om dit met die woorde van 2 Kor 5:20 te sê: Ons bid julle om Christus wil:
Laat julle met God versoen. Nie: versoen julleself met God nie. Maar in die
passiewe vorm: laat julle met God versoen. Aanvaar die offer van versoening wat
Christus gebring het. Aanvaar Jesus Christus.

Watter plek neem dan die leer van die beperkte versoening in? Dis so te sê
relevant en baie ryk vir die gelowiges. Dit laat ons die rykdom en diepte van
ons verlossing sien. Wanneer ek glo, dan kan ek in verwondering God se besondere
liefde herken. Dit gaan terug tot voor die skepping. Die liefde is nie op gang
geset deur my liefde vir God nie. Nee, die liefde het daaraan voorafgegaan. Die
liefde is juis die bron van my liefde. En niks en niemand kan my van die liefde
van God skei nie.

Gemeente, laat ons dan ten volle erns maak met die universele aanbieding van
die heil. Dit is die uitgangspunt van die verkondiging. Niemand kan ontkom aan
die klem van God se roeping nie. Christus word voorgestel as die enigste
versoeningsmiddel, met die bevel van geloof en bekering. En as ek my dan bekeer,
dan loop dit uit op die lof op die God van my verkiesing.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)