Christus leef in my.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-02-10
Teks: 
Galásiërs 2
Preek Inhoud: 

Galásiërs 2:20a

Ds C Kleyn - Sondag 10 Februarie 2002

Lees:

Galásiërs 2;15-21; Galásiërs 3:10-14 (1ste tafel); Galásiërs 4:1-7 (2de tafel); Galásiërs 5:1-6 (3de tafel).
Sing: Ps 81:1,2; Ps 81:9,10,12; SB 14:1,2; Ps 85:3 (voor Heilige Nagmaal); Ps 107:1 (1ste tafel); Ps 107:3 (2de tafel); Ps 107:10 (3de tafel); Ps 106:20.

Tema: Christus leef in my.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Raaiselagtige woorde: Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie,
maar Christus leef in my. Wanneer jy kyk na wat die teks letterlik sê dan is
dit nog meer raaiselagtig: "ek is met Christus gekruisig, tog leef ek dws
nie meer ek nie, maar Christus leef in my." Dit lyk onmoontlik. Ek kan tog
nie leef sonder dat ek self die subjek daarvan is nie? Tog sê Paulus: ek is
gekruisig, dws doodgemaak, tog leef ek, nie ek nie, maar Christus leef in my.

Waaroor gaan dit? Broeders en susters, ons praat dikwels oor Christus se dood
om ons sondaars te red. Aan die HN word ons weer daaraan herinner. Ons weet dit
almal wel, met ons verstand. Maar dis nie genoeg nie. Paulus identifiseer
homself met die gekruisigde Christus. Dit maak die kruisiging volle werklikheid
in sy lewe. Ek self is met Christus gekruisig. Is dit hoe werklik die kruisiging
vir u is? Durf u te sê: ek is met Christus gekruisig? Ek was met Christus
verenig toe hy die las van die sonde aan die kruis gedra het. Daarom is my
skuldige verlede uitgewis. My ou lewe is verby.

Ek is nie slegs met Christus verenig is sy dood nie. Ek is ook met Hom
verenig is sy opstanding. Daarom het ek opgestaan in ’n nuwe lewe. Is dit hoe
u uself sien? Dood vir die sonde maar lewend vir God? Dis die nuwe identiteit
van elke ware christen.

Daarom kan Paulus van homself sê: die lewe wat ek nou leef word in beginsel
nie meer deur my geleef nie, maar deur Christus in my. Ja, ek leef, maar nie ek,
die self voldane Fariseër, wat geprobeer het om homself deur die stipte
nalewing van die wet te red nie.

Wanneer ek deur die wet leef, leef ek in feite vir myself. Ek is dan
voortdurend oor myself bekommerd: wat kan ek doen? Hoe ver het ek gekom? Wat het
ek bereik? Hoe kan ek eer en heil verwerf? Wanneer ek dit van my eie werke
verwag, kan ek nie vir God lewe nie. Ek plaas dan myself in die middelpunt,
pleks van God.

Paulus sê: dit is vir my verby. Ek het dit agter my gelaat. Ek het die
beheer oor my lewe oorgegee. Dit het nie outomaties gebeur nie. Christus moes
daartoe hardhandig ingryp op die pad na Damaskus. Want ek wou die beheer in eie
hande hou. Ek wou in beheer van my eie toekoms wees. Eindelik het ek die
dwaasheid van die eie geregtigheid ontdek. Christus het te sterk vir my geword.
Ek moes dit los en van die troon afklim om plek te gee vir Jesus Christus op die
troon, in beheer van my lewe.

Daarmee het ek nie ’n slaaf geword nie. Inteendeel. Hy wat my plek op die
troon ingeneem het, het dit as my Redder gedoen. Hy het al die eise van God se
wet teen my op homself geneem. Toe ek die beheer van my lewe aan Hom oorgegee
het, is ek van ’n ondraaglike las bevry. Hy het die volle verantwoordelikheid
vir die las wat besig was om my dood te maak, aanvaar. Hy het dit op Golgota
gedra. So het Hy dit vergoed weggeneem. Ek hoef nie meer met ’n skuld kompleks
rond te stap nie, met die ondraaglike las van die sonde of van die onmoontlike
pogings om God se guns te wen. Christus het my vergoed vrygemaak.

Daarom kan ek my daarin verheug dat ek leef, nie meer ek nie, maar Christus
in my. Dis ’n bevrydende werklikheid. Die nuwe gesagvoerder word met gejuig
begroet. Christus het my van slawerny bevry om my die vryheid van die kinders
van God te gee. Nie meer ’n slaaf nie, maar ’n kind van God.

Is dit hoe u dit beleef? Is dit wat u wil? Om die beheer volledig aan
Christus oor te gee? Van nature is dit nie wat ons wil nie. Dit beteken dat ek
myself moet verloën en my ou natuur moet kruisig. Ja, dit beteken volkome
oorgawe. Jy gee jou hele persoon as ’n lewende offer aan die Here oor. Dis
meer as om jouself aan die Here te verbind. Jy gee jouself totaal oor aan
Christus. Jy laat Hom beheer hê oor jou lewe en toekoms.

Christus wil in my hart woning maak. Hy woon nie slegs in die hemel nie. Hy
woon ook in my deur sy Woord en Gees. Hy wil die middelpunt van my lewe wees. Hy
wil die rigting van my lewe bepaal.

Christus in my, dit beteken dat ek nie slegs van buite af hoor wat Christus
wil hê nie. Nee, Hy skryf sy wil in my hart. Hy bring my daartoe om sy wil te
doen. Hy is ’n bron van lewe in my. Dan is die doen van goeie werke nie ’n
saak van uitwendige gedrag nie, ’n saak van uiterlik doen wat mense van my
verwag nie. Nee, my goeie werke is dan ’n natuurlike respons op God se liefde.
Dit kom dan werklik van die hart. Christus leef en werk in my.

Dikwels bid ons dat God ons wil help om bepaalde dinge te doen. Ons wil dan hê
dat hy ons wat hulp bied terwyl ons dit nog self doen. Maar onthou, Christus het
nie slegs gekom om my te help om God te dien nie. Hy het gekom om in my te woon
en deur my te werk. Om deur die geloof te leef is om in volkome afhanklikheid
van Christus te leef.

Waar kom die krag om God te dien dan vandaan?

Jesus het ’n duidelike beeld gebruik om ons lewe in Hom te beskryf.
"Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra
veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie." (Joh 15:5).

Jesus sê dat Hy die wynstok is en ons die lote. Dink aan die plek van die
lote. Produseer die lote vrugte? Nee. Die lote dra slegs vrugte. Wat gebeur as
jy die lote van die wynstok afhaal? Dit gaan dood en die vrugte sterf af. Die
lote het geen krag uit hulleself om vrug te produseer nie, hulle is slegs vrug
draers. ’n Loot kan egter baie vrug dra deur dit te doen waarvoor dit geskep
is, deur in die wynstok te bly en deur die sappe van die wynstok deur haar te
laat stroom.

Wat sê dit oor die christelike lewe? U en ek is nie in staat om die
christelike lewe te produseer nie. Net Christus kan dit produseer. Ons
verantwoordelikheid is om ’n afhanklike en ontvangende houding te handhaaf.
Dan sal Christus die vrug van sy lewe in ons produseer. Dit kom deur die houding
wat sê: Here, ek kan nie, maar u kan en wil dit doen.

Gemeente, dis ook die boodskap van die HN. Luister maar na wat die formulier
sê: "Ons kom nie na die nagmaal om daarmee te kenne te gee dat ons in
onsself volmaak en regverdig is nie. Inteendeel, ons erken juis noudat ons ons
lewe buite onsself in Christus soek, dat ons midde in die dood lê." Sonder
die wynstok is ons lote dood, en kan ons niks doen nie.

Voor die nagmaal bid ons: "Laat hierdeur ons belaste en verslae harte
met sy liggaam en bloed, ja, met Hom gevoed word. Onderhou ons ook so deur u
Heilige Gees met die ware brood uit die hemel. Gee hierdeur ook dat ons nie meer
in ons sonde lewe nie, maar Hy in ons en ons in Hom." Christus in ons en
ons in Hom. Vergelyk Joh 15:5 "Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel
vrug."

Christus wil hê dat jy weet: Ek is jou bron van lewe en krag. Bly in My. Bly
die lewendmakende sappe uit my trek. Leef deur geloof. Vier aan die nagmaal jou
eenheid met My. Eet en drink tot My gedagtenis. Ervaar en onderhou jul nuwe
lewe: Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef
in my.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)