Jesus Christus is God se lig.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-01-13
Teks: 
Lukas 2
Preek Inhoud: 

Lukas 2:32

Ds C Kleyn - Sondag 13 Januarie 2002

Lees:

Jesaja 60; Lukas 2:25-35.
Sing: Ps 27:1,2; Ps 27:4; Ps 105:5; SB 3; Ps 87; SB 23.

Tema:

Jesus Christus is God se lig

God wil daardeur

  1. Die volke verlig
  2. Israel verheerlik

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Simeon mag die Here Jesus in die tempel verwelkom. Hy mag die Christus opwag. Vol vreugde neem hy die kind Jesus ’n sy arms en sing hy God se lof. Deur die geloof herken hy in die oënskynlik gewone kind Jesus God se heil. Nou kan hy in vrede sterwe. Sy taak as wagter is voltooi. Sy skoonste wens en God se spesiale belofte vir hom is vervul. Hy het die Christus gesien en in Hom God se heil.

So sing hy van die heil wat God berei het voor die oë van al die volke. Die heil is nie slegs vir die Jode nie. Dis bestem vir alle volke. Daarom word dit voor die oë van al die volke berei. Die hele wêreld moet dit sien en hoor.

In ons teks wei Simeon uit oor God se heil. Die heil, ja, die Heiland, word ’n lig genoem, ’n lig van God.

Ek verkondig vir u: Jesus Christus is God se lig

God wil daardeur

  1. Die volke verlig
  2. Israel verheerlik

Die Heiland Jesus Christus word ’n lig genoem. Lig is ’n beeld wat dikwels in die Bybel gebruik word as teenstelling tot duisternis. In die begin was die aarde woes en leeg, en duisternis was op die watervloed. Wat is dan die eerste woorde wat ons van God hoor? Hierdie woorde: Laat daar lig wees. Die lig vorm die basis van alle lewe. Maar wat doen die mens, vir wie God alle dinge so mooi en goed geskep het? Die mens gooi as t ware God se lampe stukkend. Sodat dit op aarde donker word. Die duisternis neem oor, die duisternis van die sonde en die dood. Daar moet weer lig kom, die lig van die herskepping, die lig van die nuwe lewe.

So word lig in die Bybel ’n beeld van die verlossing uit die nag van die sonde, ’n beeld van die vreugde van die nuwe dag. Dis beeldspraak wat ons aanspreek. Wanneer na ’n pikdonker nag die son weer opkom, die lig weer straal, dan is dit ’n vreugdevolle saak. Dis asof die lewe na die doodse stilte en duisternis van die nag weer terugkeer.

So word Christus in ons teks ’n lig genoem. Hy is die groot ligbron, wat lig en lewe na alle kante toe laat uitstraal, wat die nuwe lewe laat aanbreek.

By die skepping het God gesê: laat daar lig wees. Wanneer God kom om die wêreld te verlos, te herskep, sê Hy opnuut: laat daar lig wees. Dis veral die profeet Jesaja wat hiervan profeteer. Hy wil daarmee die volk in ballingskap vertroos. Die ellende van die ballingskap is immers niks anders as duisternis nie. Maar hoor, "Die volk wat in duisternis wandel, het ’n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ’n lig geskyn" (Jes 9:1). Lig in die duisternis, dis hoe ’n mens Jesaja se troosboek kan saamvat. Daarom roep Jesaja ook uit in hoofstuk 60:1: "Staan op, word verlig; want jou lig kom."

Gemeente, hierdie evangelie is by die geboorte van Christus vervul. Die woord het vlees geword, ook die woord van die komende lig. Die Woord wat vleesgeword het, is die lig van die mense (Joh 1). God het opnuut gesê: laat daar lig wees. En daar was lig in Jesus Christus. Sagaria mog reeds daarvan sing by die geboorte van sy seun Joh. Hy het gesing van die innige barmhartigheid van ons God waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het, om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit. Simeon sing daarvan in ons teks: "omdat my oë u heil gesien het, ’n lig tot verligting van die nasies en tot verheerliking van u volk Israel." Dit wat Jesaja verkondig het, het werklikheid geword. Hier is die kneg van die Here wat God tot ’n lig van die nasies gemaak het (Jes 49:6).

Wat is dan die doel van die lig? As eerste doel word genoem die verligting van die nasies. Vanweë die onderskeid met die volk Israel wat in die tweede helfte van die vers genoem word, moet ons hier dink aan heidenvolke, die volke van die aarde.

Maar wat beteken die verligting van die nasies? Die griekse woord wat gebruik word beteken letterlik: openbaring. Die lig is tot openbaring van die nasies. Let daarop die teks sê nie: openbaring vir die nasies nie, maar openbaring van die nasies. Die nasies ontvang nie slegs openbaring nie, maar hulle word ook self geopenbaar. Maar wat beteken dit?

Die woord openbaring beteken dat iets of iemand onthul word, aan die lig gebring word. In Rom 8:19 word die woord op ’n vergelykbare manier gebruik. Daar lees ons: "Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God." Alles wag vir die tyd waarop die kinders van God openbaargemaak sal word, dws dat die kinders van God nie langer onder die goddelose skuilgaan nie, maar dat hulle na vore tree, tevoorskyn kom as kinders en erfgename van God.

Op watter manier kan ons dan praat van die openbaring of verligting van die nasies? Luister maar na wat Jesaja 25:7 sê: "En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is." Vergelyk dit maar met wat Paulus later skryf mbt die ongelowige Jode in 2 Kor 3:14-16: "Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. Ja tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ’n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem." Met ander woorde: wanneer die ongelowige Jode die Skrifte lees, leef hulle nog onder ’n bedekking, hulle tas nog rond in die duister. En die bedekking word slegs in Christus weggeneem.

Wel, so het Jesaja reeds gepraat oor die heidenvolke. Hulle leef onder ’n bedekking. Die volke dwaal op hul eie weë, hulle tas rond in die duister. Maar Christus die lig van die wêreld, sal die sluier wegneem. Daarom sing Simeon van die lig tot verligting of openbaring van die nasies. Die doel van die lig is om die volke te onthul, om die sluier wat hulle bedek te vernietig en om hulle in die lig tevoorskyn te laat kom. Heidene word geroep uit die duisternis na God se wonderbare lig. Hulle wat vroeër geen volk was nie, word nou die volk van God; hulle aan wie geen barmhartigheid bewys is nie, aan hulle word nou barmhartigheid bewys. Die heidene tree na vore, deur die goddelike lig gelei.

Broeders en susters, so sing Simeon ook van u aantreding uit die duisternis na God se wonderbare lig. God het sy woord van herskepping laat haar: Laat daar lig wees. En daar was lig, ’n lig tot openbaring of verligting van die nasies. Ons voorgeslag het ook tot die heidenvolke behoort. Satan het eeue lank ook ons voorgeslag heeltemal in sy greep gehad. Ons voorouers het eeue lank in die duisternis rondgedwaal. Christus het ons onder die sluier vandaan gehaal. Ook ons kinders. So mag hulle ook die teken van die verbond ontvang, ’n teken van lig en lewe. God het ons uit die duisternis verlos en oorgebring in die ryk van die lig. Ons mag die vreugde van die nuwe dag deel.

Dikwels word gepraat oor ’n donker Afrika. Die volke van suidelik Afrika het inderdaad lank in duisternis geleef, sonder God en sonder hoop. Maar die lig het ook in Afrika opgegaan. Christus is besig om sy kerk in die Afrika lande te vergader en te vermeerder. Ons president Mbeki praat graag van ’n Afrika renaissance. Hy soek die herlewing egter in ’n verkeerde rigting. By die ou en nuwe afgode. Solank die mense hulle nie tot God bekeer nie, bly hulle in die duisternis, maak nie saak tot watter ras of volk hulle behoort nie. Daarom is dit so verskriklik dat juis baie blankes kies vir die duisternis.

Christus is die lig van die wêreld. Hy alleen kan ons reënboog nasie en die Afrika volke red, tevoorskyn laat tree in die lig, uitsig gee. Hy alleen kan ’n herlewing gee. Hy alleen kan hulle wat geestelik dood is lewend maak. Laat ons daarom Hom prys vir die werk wat Hy reeds in die sogenaamde donker Afrika doen, en laat ons doen wat ons kan om die voortgang van die evangelie te bevorder. Sodat baie wat nou nog in duisternis lewe tevoorskyn mag tree in die lig. As medeburgers van die heiliges en huisgenote van God. Dit sou ’n ware Afrika Renaissance beteken en ’n blywende toekoms bied.

Gemeente, Jesus Christus, die lig, het nie slegs verskyn tot openbaring van die nasies nie, maar ook tot heerlikheid van sy volk Israel. Die is die tweede gedagte van die preek: God wil deur sy lig Jesus Christus Israel verheerlik.

Terwyl die nasies nog in duisternis geleef het, het God Israel reeds in die lig tevoorskyn laat tree. God het Israel uitgekies, hulle uit die duisternis getrek, hulle tot sy volk gemaak. God het sy woorde aan hulle toevertrou, sy woorde van lig en lewe. Die heil was vir hulle bestem. Hulle het die wet en die beloftes. Hulle het God.

Daarom is die lig wat God in Jesus Christus gee nie soseer vir die openbaring van Israel nie. Vir Israel beteken die lig veral die herstel van hul heerlikheid. Ja, Israel was God se volk. Maar daar was nog baie wat ontbreek het. Wat kon ’n mens sien van Israel sy heerlikheid? Die sonde en die smaad van buitelandse oorheersing het die heerlikheid in die pad gestaan.

Daarom sal die lig van God tot heerlikheid van Israel wees. Jesaja het reeds daarvan geprofeteer. Oa in hoofstuk 60 wat ons gelees het. "Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jou sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word." In die 60ste hoofstuk gee Jesaja ’n tekening van Israel se skitterende heerlikheid, as gevolg van God se lig wat opgaan.

Daar kom ’n keer in die lot van Israel. Haar smaad word weggeneem. Kyk maar na vers 15: "in plaas dat jy verlate en gehaat is…, sal Ek jou maak tot ’n ewige heerlikheid, ’n vreugde van geslag tot geslag." Die vyande van God se volk sal haar bondgenote en dienaars wees, vers 10: "en uitlanders sal jou mure bou, en hulle konings sal jou dien". Vers 14: "En die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou noem: Stad van die Here, Sion van die Heilige van Israel."

Hierdie profesie word aanvanklik vervul by die terugkeer uit die ballingskap. Die Persiese konings dra by aan die herbou van Jerusalem, van die stad en tempel. Tog reik die profesie baie verder. Jesaja profeteer immers ook: "Jou son sal nie meer ondergaan nie, en jou maan nie kleiner word nie; want die Here sal vir jou wees ’n ewige lig, en die dae van jou treurigheid is verby." Vers 20.

Wat kan ’n mens daarvan sien onder die romeinse besetting tydens die geboorte van ons Here Jesus? Tog gryp Simeon hierdie belofte aan wanneer hy die kind Jesus in sy arms dra: ’n lig tot heerlikheid van u volk Israel.

Waarin bestaan volgens die profesie die heerlikheid van Israel? Dat die Here vir hulle ’n ewige lig sal wees en dat die vyande in aanbidders sal verander. Wel, word dit nie in Jesus Christus vervul nie? In Christus gaan God se lig ewig skyn. En die heidene gaan in Hom na vore tree. Vroeëre vyande word medeburgers van God se volk en huisgenote van God. Die seuns van jou verdrukkers sal inderdaad hulle voor jou neerbuig en jou noem: stad van die Here (vers 14). Is hierdie kind Jesus nie ’n lig tot verligting van die heidenvolke nie?

Die heidenvolke sal hul skatte na Israel toebring. Nou nou sal die wyse manne uit die Ooste kom om die gebore koning hulde te bring. Hulle bring vir hom geskenke: goud en wierook en mirre. Baie sal hulle by God se volk aansluit. Hulle sal ingelyf word by God se Israel. Beteken dit geen heerlikheid vir Israel nie? Die heil gaan uit van die Jode uit. En ter wille van die heil sluit die heidene hulleself by hulle aan. "Egipte, Babel, Filistyn en More, ook Tirus ken my Naam as hoogste skat. Hul almal noem jou nou die moederstad. Ek sien hul: die en die is daar gebore." En: "Hul almal, nou tot nuwe heil verkore, sal kom, selfs uit die allerverste land. Hul sien God hou die moederstad in stand en jubel: die en die is daar gebore!" (Ps 87: 3,4 ber).

So beteken die verligting van die volke die glorie van Israel. Die geskiedenis van God se volk bereik sy oudste doel wanneer alle volke met Abraham geseën word. In Abram sou mos al die geslagte van die aarde geseën word (Gen 12:3). Dit word werklikheid in Jesus Christus, die lig van die wêreld. Hy verskyn tot heerlikheid van sy volk Israel.

Maar geliefdes, kort daarna sê Simeon dat die kind Jesus bestemd is tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word. Let daarop dat hier gesê word dat hy eerstens tot ’n val van baie in Israel sal wees. Baie sal oor Hom struikel en val. Pas dit wel by die verheerliking van Israel? Heerlikheid van Israel en ’n val van baie in Israel, dit pas tog nie by mekaar nie?

Tog wel! In die vervolg laat Simeon sien langs watter pad die heerlikheid van Israel bereik sal word. Die heerlikheid word bereik lang die pad van skifting en oordeel. Wat het die heerlikheid van God se volk in die pad gestaan? Wat staan vandag die heerlikheid van God se volk in die pad? Tog die vuilheid van die sonde en van ongeloof? Juis deurdat Israel geskif word – die gedagtes uit baie harte sal openbaar word – kom daar weer ’n glorieuse kerk tevoorskyn. Die glorie van Israel sal nie langer deur ongeloof oorwoeker word nie. Israel sal dan gesuiwer wees. Wat nie-Israel is nie ook al word dit Israel genoem sal verwyder word. Christus die lig sal die onkruid aan die lig bring. Die kinders van die nag en van die duisternis sal uitgeken word, ook al noem hulle hulleself kinders van die lig. En in die gelowige oorblyfsel sal Israel verheerlik word, te midde van heidene wat toestroom.

Het die profete nie van die suiwering van God se volk geprofeteer nie. Die onreinheid van die dogters van Sion sal afgewas word en die bloedskulde van Jerusalem sal daaruit weggespoel word deur die Gees van strafgerig en die Gees van uitdelging (Jes 4:4). In Jes 60 sê hy ook: en jou volk sal almal regverdiges wees. Die gesuiwerde volk – Christus is bestemd tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel – die gesuiwerde volk sal die ware Israel wees. Die volk sal tot ongekende heerlikheid kom. In Christus sal God self hul ewige lig wees en hul ewige heerlikheid.

Broeders en susters, dit beteken ook u heerlikheid. Deur u inlywing by die volk van God, die heilige algemene christelike kerk, mag u ook deel in die heerlikheid, die heerlikheid van die nuwe Jerusalem. Ja ons gedagtes gaan uit na die nuwe Jerusalem van Openb 21. Daar bereik die profesie van Jesaja en die woorde van Simeon hul uiteindelike vervulling.

U moet by die huis Jes 60 en Openb 21 maar langs mekaar lees. U ontvang in beide hoofstukke dieselfde skitterende beelde. Wat in Jes 60 nog profesie is, is werklikheid in Openb 21. Joh sien die stad van God, die kerk, uit die hemel neerdaal met die heerlikheid van God. Die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. En die nasies sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin. En bedags – want nag sal daar nie meer wees nie – sal sy poorte nooit gesluit word nie; en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring. En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.

Die woorde van Simeon is besig om vervul te word. Christus die lig van die wêreld het geskyn tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van Israel. En die lig skyn nog steeds tot ewige heerlikheid van die hele volk van God, uit elke volk, ras en taal.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)