Geen redding deur die lig van die natuur.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-01-06
Teks: 
Dordtse Leerreëls 3
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3/4 Art 4-6

Ds C Kleyn - Sondag 6 Januarie 2002

Lees:

Romeine 2:11-16; 7:7-13; 8:1-9; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3/4 Art 4-6.
Sing: Ps 19:1,2; Ps 19:4,5; Ps 12:1,2,6,7; Ps 14:1-7; Ps 36:2.

Tema: Geen redding deur die lig van die natuur.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons bely die totale verdorwenheid van die mens. Met paragraaf 3 van die
Dordtse Leerreëls 3/4 konkludeer ons: "Alle mense word daarom in sonde
ontvang en as kinders van die toorn gebore, onbekwaam tot enigiets goeds wat sou
kon salig maak, geneig tot die kwaad, dood in die sonde en slawe van die
sonde." Paulus sê van die ongelowige mense dat hulle verduisterd is in
hulle verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle
is vanweë die verharding van hulle hart (Ef 4:17,18). Harde woorde, radikale
woorde.

Maar nou die werklikheid soos ons die ervaar. As kind speel jy met maatjies
uit jou buurt. Die kinders is nie christelik nie, tog kom jy goed met hulle oor
die pad. Die kinders kom ook uit goeie gesinne waar liefde en trou heers, waar
hulle leer om eerlik te wees en nie te vloek nie. Is die kinders onbekwaam tot
enigiets goeds en geneig tot alle kwaad?

By die skool ken jy ’n student wat nie ’n christen is nie. Tog is hy baie
oulik en lei hy ’n keurige lewe. Hy doen nie saam met die wilde partytjies
nie. Hy is ywerig en behulpsaam. Vir sy matriek behaal hy ’n groot aantal
onderskeidings. Durf jy vir so ’n student te sê: hy is verduisterd in sy
verstand, onbekwaam tot enige goed en geneig tot alle kwaad?

By die werk ken jy dalk ’n kollega wat niks met die kerk te make wil hê
nie, maar tog ’n voorbeeldige lewe lei. Waar hy ander kan help daar doen hy
dit. Hy gee baie van sy tyd en geld aan liefdadigheids organisasies, bv. vir die
bestryding van armoede en vigs. Hy is werklik lief vir sy vrou en behandel haar
met eer. Hy is ’n liewe en sorgsame vader vir sy kinders. Hy is eerlik en
betroubaar en sou nooit vloek nie. Pas dit wel om te sê dat hy onbekwaam is tot
enigiets goeds en geneig tot alle kwaad? Durf ons tav van die genoemde persone
volhou wat ons bely oor die totale verdorwenheid van die mens?

Uit die voorbeelde is dit duidelik dat totale verdorwenheid nie beteken die
totale afwesigheid van enigiets goeds in die burgerlike sin van die woord nie.
Ongelowiges kan burgerlik nog allerlei goeie dinge doen. Let ook op die
omskrywing van die 3rde paragraaf van die Dordtse Leerreëls: onbekwaam tot
enigiets goeds wat sou kon salig maak. Wat is werklik goed? Die Heidelbergse Kat
omskryf dit soos volg in Sondag 33: "Wat is goeie werke? Slegs die wat uit
’n ware geloof, volgens die wet van God tot sy eer gedoen word." Wil ’n
werk regtig ’n goeie werk in God se oë wees, dan moet die drie dinge aanwesig
wees: ’n ware geloof, ooreenstemming met God se wet en die motief om God te
eer.

Kan dit gesê word van die sogenaamde goeie dade van die student of kollega?
Hulle dade kom dalk uiterlik ooreen met God se wet, in elk geval met die tweede
tafel daarvan. Hulle is gehoorsame burgers, hulle pleeg geen moord nie, maar wys
juis liefde vir hul naaste, hulle maak hulle nie skuldig aan seksuele sondes
nie, hulle is trou in hul huwelik, hulle steel nie en hulle verdedig en bevorder
na vermoë hul naaste se eer en goeie naam. Hierdie dade kom egter nie voort uit
’n ware geloof nie en is nie gerig op die eer van God nie. Daarom kan ons dit
nie werklik goeie werke noem nie. Ook al is dit wat hulle doen relatief goed of
goed in burgerlike sin.

Ondanks die totale verdorwenheid is ongelowiges dus nog wel in staat om goed
te doen in relatiewe of burgerlike sin. Ons het daarvan gelees in Romeine 2.
Paulus skryf daar in vers 14 dat die heidene wat geen wet het nie, van nature
die dinge van die wet doen. Hulle ken die Here Jesus nie, hulle het nie die wet
van die Here nie en tog doen hulle dinge wat uiterlik met God se wet ooreenstem,
dinge wat in relatiewe sin goed is. Dit maak wel deeglik verskil of iemand moord
en steel of dat hy sy naaste help en red. In die eerste geval doen hy nie wat
die wet gebied nie, terwyl hy in die tweede geval wel die dinge van die wet
doen. Ook die mens wat God se geopenbaarde wet nie ken nie, is nie heeltemal
sonder wet nie: hy is vir homself ’n wet sê Paulus. Dit maak sy relatief
goeie dade tog tot sonde. Hy is vir homself ’n wet. Hy is besig om eie baas te
speel. Hy is nie gehoorsaam aan God nie. Hy soek nie God se eer nie. Hy is
gehoorsaam aan homself en kom so tot dade wat uiterlik met God se wet
ooreenstem. Aan die oppervlakte lyk dit asof die wêreld meeval. Maar God word
daarin nie geken en gehoorsaam nie. Daarom is dit sonde.

In Romeine 2:15 word nog genoem dat die heidene toon dat die werk van die wet
in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die
gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig. Mense het dikwels
hierdie woorde aangehaal om te bewys dat ons in onsself die begeerte en die
vermoë het om God se wil te doen. Let egter daarop dat daar nie staan dat die
wet in die hart van die heidene geskrywe is nie. Daar staan dat die werk van die
wet in hul harte geskrywe is. Hy doen nog dinge wat uiterlik ooreenkom met die
wet van God. Om die maatskappy leefbaar te hou, rig mense hulleself dikwels na
bepaalde reëls. Sonder reëls sou die samelewing ’n chaos wees en onmoontlik
word. Mense sonder God is nog nie gewetenlose mense nie. Deur die sondeval het
die mens sy voortreflike gawes verloor. Daardeur het die mens nie ’n dier
geword nie. Die mens het mens gebly. Met ’n verstand, ’n wil en ’n gevoel.
Dit het egter almal verdorwe geword. Die mens het niks anders van sy gawes
oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, wat egter genoegsaam is om hom alle
verontskuldiging te ontneem (NGB art 14). Kom ons lees ook die eerste gedeelte
van Dordtse Leerreëls 3/4.4

Die groot vraag is nou: kan die mens die lig van die natuur, die klein
oorblyfsels, so gebruik om weer tot die saligmakende kennis van God te kom en
hom tot God te bekeer? ’n Mens sou dit maklik kan konkludeer. Neem die
ongelowige buurman wat ’n voorbeeldig lewe lei. Sou hy nie self, in eie krag,
tot die kennis van God kan kom en vir God kan kies nie? Ons kan verstaan dat die
geharde rower of moordenaar uit homself nie sover kan kom nie. Hy moet so te sê
van ver kom en lyk nie ontvanklik vir die goeie dinge nie. Maar die voorbeeldig
ou? Sou dit tog nie binne sy vermoë wees om hom tot God te bekeer nie? Hy is
tog in staat om te kies tussen wat goed en wat sleg is? Kan hy dan nie met sy
eie wil vir God kies nie? Ook al sou hy daarby ’n bietjie hulp van God of van
ander mense ontvang? In die geskiedenis was daar altyd wel mense wat so gedink
het. Pelagius en die Remonstrante het dit amptelik geleer. Die gedagte is nog
springlewend en aanloklik. Kan ’n mens uit homself Jesus vra om hom te red,
dmv sy sogenaamde vrye wil?

Gemeente, teenoor die optimistiese visie op die vryheid en goedheid van die
menslike wil, kom ons nie met ’n eie pessimistiese visie nie. Teenoor die
pragtige verhale van die moed en deug van ongelowiges, kom ons nie met ’n
opsomming van al die vreeslike wandade wat in ons land en oor die wêreld
gepleeg word nie. Ons mag en moet in dankbaarheid konstateer dat God ook in ons
land nog ongelowiges gee wat baie moed en deug vertoon. Ons sien daarin God se
lankmoedigheid. Ons dank God daarvoor. Anders sou ons land reeds ’n hel wees,
onleefbaar. Ons wil egter nie met ons eie visie – optimisties of pessimisties
- kom nie. Ons wil die Skrif, ja, God self, laat spreek.

Die Skrif maak duidelik dat die natuurlike mens nie werklik goed kan doen
nie. In Johannes 15 noem Christus die geheim van die christelike lewe, naamlik
die inwoning van Christus. Hy gebruik die beeld van die wynstok en die lote. Oor
die onvermoë om uit onsself regtig goeie werke te doen, sê Christus: "Net
soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie,
so julle ook nie as julle in My nie bly nie....Wie in My bly, en Ek in hom, hy
dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie" (Joh 15:4-5). Dis
totale onvermoë. "Want sonder my kan julle niks doen nie."

So noem ook Paulus die onvermoë van ongelowiges om die goeie te doen wanneer
hy in Romeine 8:5-8 skryf: "Want die wat vleeslik is (onbekeerd), bedink
vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees
bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die
vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van
God nie, want dit kan ook nie. En dit wat in die vlees is, kan God nie behaag
nie." Let op die omskrywing van die totale verdorwenheid of onvermoë. Die
ongelowige bedink vyandskap teen God, kan hom nie aan die wet van God onderwerp
nie en kan God nie behaag nie.

Broeders en susters, die mens kan uit homself die goeie nie doen nie. Hy is
ook nie in staat om die goeie te verstaan nie. Lidia, die purperverkoopster van
Thiatire, het Paulus hoor preek. Slegs nadat die Here haar hart geopen het was
sy in staat om ag te gee op wat deur Paulus gesê is (Hand 16:14). Tot daardie
oomblik was haar verstand verduisterd en was daar ’n bedekking oor haar hart,
om ander uitdrukkings van Paulus te gebruik.

Tydens Jesus se bediening op aarde het Jode Hom afgewys. "Hy het na sy
eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie" (Joh 1:11). Die
probleem was nie Christus se verkondiging nie. Hy het dit bevestig met tekens en
wonders. Maar die Jode het hom afgewys. Waarom? Jesus het self die antwoord
daarop gegee: "Omdat julle nie na my woord kan luister nie" (Joh
8:43). Die Jode het Jesus met hul fisiese ore gehoor. Maar Jesus praat van hul
geestelike ore. Soos hy elders sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie
verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie." (Mt 13:14).
Dit verklaar waarom daar teoloë is wat hul hele lewe die Skrif ondersoek en tog
Jesus Christus as hul God en Heer verwerp. Die oorsaak daarvan lê nie aan die
duidelikheid van God se woord nie. Eerder lê dit in die blindheid, die
duisternis en hardheid van hul harte. Sonder bekering of wedergeboorte kan die
mens die evangelie nie verstaan nie.

Een van die duidelikste gedeeltes oor die onvermoë van die natuurlike mens
om die dinge van God te verstaan vind ons in 1 Korinthiërs 1,2. Die woord van
die kruis (die sentrale boodskap van die evangelie) is dwaasheid vir die
natuurlike mens. Deur hulle eie wysheid het die wêreld God nie geken nie.
Indien hulle deur hul natuurlike wysheid God kon leer ken, dan sou baie wyse
mense Christen geword het. Maar dit is juis nie die geval nie, sê Paulus.
Waarom aanvaar soveel briljante mense nie Christus nie? Omdat die natuurlike
menslike verstand verblind is, tensy dit deur die Gees van God bekeer is. Dis
soos Paulus in 2 Korinthiërs 2:14 skryf: "Maar die natuurlike mens neem
die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy
kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word." Kan ’n
mens met die sogenaamde lig van die natuur weer tot God terugkeer? Nee! Die
Skrif leer ons dat die dinge van die Gees van God dwaasheid bly vir die
natuurlike mens. Sonder die Heilige Gees kan niemand die dinge van God verstaan
nie.

Ja gemeente, ons natuurlike situasie is nog erger. Dis nie slegs ’n onvermoë
om die goeie te doen en om die goeie te verstaan nie, maar ook ’n onvermoë om
die goeie te begeer en te soek. ’n Mens kan ’n goeie doel voor oë hê maar
nie in staat wees om dit te bereik nie. Of jy kan die doel nie goed begryp nie.
Erger is as jy die goeie doel nie eers voor oë het nie. So is daar by die
natuurlike mens nie eers die vermoë om hom op God te wil rig nie. Die onvermoë
om die goeie, en veral Jesus Christus te begeer, word veral deur Jesus Christus
self gewys. In Joh 6 sê Jesus bv "niemand kan na My toe kom as die Vader
wat My gestuur het, hom nie trek nie" en "niemand kan na my toe kom as
dit hom nie deur my Vader gegee is nie" (verse 44,65). Mense kan Jesus nie
uit hulleself kies nie. Die mens kan selfs nie die eerste stap doen om na Jesus
te gaan nie, tensy die Vader hom trek.

Daarom gebruik die bybel die radikale beelde van wedergeboorte, ’n nuwe
skepping, ’n opwekking uit die dood, ’n lewendmaking. Dis beelde wat die
aanvanklike werk van die Heilige Gees benadruk. ’n Mens kan nie self begeer of
besluit om opnuut gebore te word of om opnuut geskep te word nie. In die proses
van konsepsie na geboorte is ons wat wedergebore word self volkome passief. Ons
kan geen enkele invloed daarop uitoefen nie. Dis iets wat met ons gebeur. Ons
moet deur die Gees voortgebring word. In die proses van herskepping of opwekking
kan ons ook niks bydra nie. Die natuurlike mens is geestelik dood. Daarom moet
hy opgewek word. Van ’n geestelik dooie kan ’n mens niks verwag nie. Die
nuwe lewe is volkome ’n daad van God. Soos ons dit lees in die bekende woorde
van Efésiërs 2:1 "en julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die
misdade en die sondes. Dit word herhaal in verse 4 & 5: Maar God ... het ons
deur sy groot liefde ... ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak
saam met Christus."

Daar is christene wat hierdie woorde so verklaar dat die mens gewond of siek
is, maar nie dood nie. Want hulle sê dat die mens nog die vermoë het om God se
hulp in te roep om hom te red. Die mens sou die vermoë hê om te glo of om nie
te glo nie. Hy is eintlik nie heeltemal dood nie, anders sou hy nie om hulp kan
vra nie. Hy is slegs siek. Ja, wel vol van sonde, siek met sonde, maar hy kan
nog die Heelmeester om hulp vra. Ons bly egter by die getuienis van die Skrif
self en bely: die natuurlike mens is geestelik dood. Hy kan selfs nie eers sy
mond oopmaak nie. Hy het nie eers die begeerte om die heelmeester om hulp te
roep nie. Hy is geestelik dood.

Kan die mens deur die lig van die natuur tot die saligmakende kennis van God
kom en hom tot God bekeer? Is dit makliker vir die voorbeeldige humanis om hom
te bekeer as vir die rower of moordenaar? Sowel vir die voorbeeldige student of
buurman as vir die rower of moordenaar is ’n radikale wedergeboorte nodig,
’n opwekking uit die dood. Iets wat God alleen kan doen. Sou dit vir God
moeiliker wees om die rower lewend te maak as om dit vir die wyse humanis te
doen? Vir beide geld dat ’n nuwe gees in hul binneste gegee moet word. Die
hart van klip moet lewend en ontvanklik gemaak word.

Die lig van die natuur kan die mens dus nie tot God bring nie. Ons sien
eerder dat die lig verduister word. Sien Romeine 1. God se deugde kan uit die
skepping deur die mens geken word. Maar wat doen die mens met die openbaring?
Gebruik die mens die lig van die natuur om nader tot God te kom? Nee, in
ongeregtigheid word die waarheid onderdruk. Die mens gebruik die lig van die
natuur om vir homself afgode te maak en die te dien.

Die mens kom dus nie nader tot God deur die lig van die natuur nie. Hoe is
dit dan gesteld met die Tien Gebooie? Kan ’n mens deur die gebooie tot God
klim? In die lig van wat ons reeds uit die Skrif gekonkludeer het, is dit ook
onmoontlik. Geen natuurlike mens kan die wet van God werklik naleef nie. Die
natuurlike mens kan dit nie en wil dit nie. Hy leef sonder God. Die
onwedergebore mens bedink slegs vleeslike dinge. En wat die vlees bedink is
vyandskap teen God; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit
kan ook nie. Die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie (Rom 8:5-8).

Die wet van die Here is op homself heilig, regverdig en goed. Maar wat doen
die sondige mens daarmee? Hy onderdruk ook die waarheid in ongeregtigheid. Hy
laat sy sondige begeertes deur die wet selfs aangewakker word. Die heilsame wet
roep by die sondige mens verset op. Ons wil juis doen wat God verbied. So kry
die wet wat die lewe moes wees, deur ons wangedrag ’n teenoorgesteld effek.
Dit lei die sondige mens na die dood. Die versnel juis die proses van die dood.
Die wet bied vir die sondige mens dus geen uitkoms nie.

So bely ons in die 5de paragraaf van die Dordtse Leerreëls. Kom ons lees ten
slotte paragrawe 5 en 6.

Ons eindig dus met soli Deo gloria. Aan God alleen die eer vir die nuwe
begin, vir ons geloof en vir ons volkome verlossing.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)