God laat Simeon sy Seun in die tempel verwelkom.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-12-30
Teks: 
Lukas 2
Preek Inhoud: 

Lukas 2:25-30

Ds C Kleyn - Sondag 30 Desember 2001

Lees:

Lukas 2:25-40.
Sing: Ps 62:1,4; Ps 62:5,7,8; SB 22:1-5; SB 3; Ps 130:3,4 (1ste beryming).

Tema:

God laat Simeon sy Seun in die tempel verwelkom

Ons let op die geloof wat die Here vir Simeon gee

  1. in lewe; en
  2. in sterwe.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wanneer Jesus Christus vir die eerste keer van sy lewe in die tempel ingedra
word, ontvang hy ’n spesiale verwelkoming. Sy Vader berei dit vir Hom. God die
Vader stuur ’n wag om na Hom uit te sien. Die wag ontvang ’n berig van die
Heilige Gees dat hy nie sal sterf nie voordat Hy die beloofde Messias gesien
het. Sodra Josef en Maria na die tempel gaan, stuur die Heilige Gees die wag
soontoe.

Die verwelkoming kom nie van die tempelwag nie. Ook nie van die diensdoende
priesters nie. Alles in die tempel wys op die Christus wat gaan kom: die offers,
die priesters, die ark, die voorhangsel, alles wys op Hom wat gaan kom. Behoort
die koms van Christus in die tempel dan nie begroet te word met die woorde:
"Geseënd is Hy wat kom in die naam van die Here" nie? Alles wag op
daardie oomblik. Die oomblik waarop God in sy Seun verskyn. Maar wanneer Hy
verskyn word Hy deur hulle wat daar diens doen nie gesien nie. Hulle herken nie
die Messias nie. Vir hulle is alles soos gewoonlik. Die kind wat deur Josef en
Maria voorgestel word, is vir hulle niks anders as enige ander kind wat volgens
die wet voorgestel word nie. Uiterlik ontdek ’n mens niks besonders nie. Want
die Heiland kom in vernedering. Incognito. En wie herken ’n koning wat
incognito kom? Die tempel personeel sien slegs ’n kind. Die dienaars in Vader
se huis herken nie Vader se Seun nie.

Maar Vader se Seun ontvang wel ’n verwelkoming in Vader se huis. God wys
Simeon daarvoor aan. Hy berei hom daarvoor en stuur hom soontoe. Die gelowiges
van die Ou Testament, konings, profete het daarna verlang om God se beloofde
Messias te sien. Maar dit het nie gebeur nie. Hulle kon hom slegs vanuit die
verte begroet. Maar nou mag Simeon Hom met sy eie oë sien. Hy mag hom selfs in
sy arms vashou.

Ek verkondig vir u: God laat Simeon sy Seun in die tempel verwelkom

Ons let op die geloof wat die Here vir Simeon gee

  1. in lewe en
  2. in sterwe

Simeon is ’n man in Jerusalem. Nie ’n opvallende persoon nie. Geen
priester, selfs nie ’n profeet nie. ’n Heel gewone man. Tog vestig God ons
aandag op hierdie gewone man. God betrek hom by sy groot plan van verlossing.

Was Simeon ’n bejaarde man soos dikwels veronderstel word? Dit word nie
uitdruklik genoem nie, terwyl dit later wel van Anna die profetes gesê word.
Aangesien Simeon uitdruklik praat oor sy naderende dood, kan dit wees dat hy oud
is. Vergelyk sy woorde maar met die woorde van Jakob toe hy weer met sy seun
Josef verenig was. By daardie geleentheid het Jakob gesê: Nou kan ek sterwe
nadat ek jou aangesig gesien het, dat jy nog leef (Gen 46:30). Jakob was ’n
bejaarde man. Gewoonlik sou ’n mens nie so praat nie terwyl hy nog jonk is
nie. Tensy die persoon siek of swak is. Daarom mag ons aanneem dat Simeon of oud
of siek was toe hy Jesus in Vader se huis verwelkom het.

Die Skrif sê wel uitdruklik vir ons dat Simeon regverdig en vroom is. Dis
iets wat opval. Sy leer en lewe is een. Hy leef sy geloof uit. Hy wys in sy
daaglikse lewe wat dit is om die Here lief te hê en te dien. Dis soos Johannes
later skryf: Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar. So word van
Simeon gesê dat hy regverdig en vroom is, hy doen die wil van die Here en leef
naby die Here.

Van Simeon word ook gesê dat hy die vertroosting van Israel verwag. By hom
is daar nie slegs geloof en liefde nie, maar ook hoop. Geloof, hoop en liefde
hoort by mekaar in die lewe van elke christen. As jy werklik glo, dan leef jy
ook in verwagting. Jy glo mos God se beloftes. Dan is daar die christelike hoop.
Soos Paulus vir die Thessalonicense skryf: Julle het jul van die afgode bekeer
tot God, om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te
verwag (1 Thess 1:9,10). Geloof en hoop tipeer die ware christen.

Wat is vir Simeon die oorsprong van sy verwagting? Is dit die spesiale
openbaring wat hy deur die Heilige Gees ontvang het? Nee, Hy het die
vertroosting van Israel verwag voordat hy die spesiale openbaring ontvang het.
Die oorsprong van Simeon se verwagting is die Ou Testamentiese geskrifte. Hy glo
God se beloftes. Hy leef as t ware met ’n oop Bybel. Hy ken sy Bybel en leef
daaruit. Dit hou sy hoop lewendig.

Wat sien ons gebeur? Hy wat die vertroosting van Israel verwag, word getroos.
Hy ontvang ’n spesiale openbaring dat hy die beloofde Christus tydens sy lewe
sal sien. Om te wag kan lank duur, maar dit is nie eindeloos, ewig nie. Daar sal
’n tyd kom dat die verwagting vervul word. God bemoedig hulle wat op Hom wag.

Het Simeon dan vertroosting nodig? Waaroor treur hy dan? Is dit dalk vanweë
siekte of swakheid of vanweë sy naderende dood? Ons verbind die woord troos
meestal met siekte, teenslag of dood. Job wat alles verloor het en toe ernstig
siek geword het, moet deur sy vriende getroos word. In ons land is daar baie
siekte, lyding en dood, baie slagoffers van misbruik, geweld en van die
dodelike, aansteeklike siekte vigs. Ons dink aan alle betrokkenes, die
slagoffers en hul familie en vriende. Hulle moet vertroos word. Ja, in feite
moet ons hele land vertroos word.

Simeon verwag die vertroosting van Israel. Hy moet vertroos word. Nie slegs
vanweë persoonlike nood nie, maar vanweë die nood van God se volk. Wat is dan
die nood? Siekte en dood? Dit ook, maar veral die sonde. Die vertroosting van
Israel laat ons dink aan Jes 40. Daar lees ons in die verse 1,2 die bekende
woorde: "Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van
Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is,
dat sy uit die hand van die Here dubbel ontvang het vir al haar sondes."

Hierdie woorde was bestem vir God se volk in ballingskap. Hulle verkeer in
die ellende van die ballingskap. God vertroos hulle met woorde van heil. Let
daarop dat Hy dan praat van skuld wat betaal is en sondes wat versoen is. Waarom
het die ellende van die ballingskap oor God se volk gekom? Tog vanweë hul sonde
en skuld? Simeon se hoop is gerig op die vervulling van oa die profesie: Israel
sal getroos word deurdat die skuld betaal word en die lewe herstel word.

Israel het na die belofte teruggekeer uit ballingskap. Maar hoe is die
situasie so ’n 500 jaar na die terugkeer? Israel is nog steeds onderworpe
onder ’n heidense wêreldmag. Dawid se huis beteken niks nie. En die kerk is
in verval. Baie uitwendige godsdienstigheid. Massas, waaronder die geestelike
leiers van die dae, dien God met hul lippe maar hul harte was ver van Hom. Vir
die getroues in Israel is dit ’n voortdurende hartseer. Dit is vir hulle ’n
rede des te meer om uit te sien na die vertroosting van Israel.

Die woord wat Lukas vir vertroosting gebruik kom van die woord parakleet wat
Trooster beteken, helper, advokaat. Beide die Heilige Gees en Christus het
hierdie titel ontvang.

Bowendien, dieselfde woord gebruik Christus later mbt hulle wat ryk en
selfvoldaan is. Van hulle word in Luk 6:24 gesê dat hulle hul troos reeds weg
het. Hulle het hul houvas, vastigheid, sekuriteit reeds in aardse dinge gevind.
Hulle het reeds alles wat hulle dink nodig te hê en ken geen behoefte nie.
Hulle het geen vertroosting nodig nie. Hulle het reeds alles. Hulle is
selfvoldoen. Dis wat gebeur as jy vertrou op jou eie wysheid, goedheid, rykdom
of mag. Dis wat gebeur as jy gefokus is op eer en heerlikheid hier en nou. As
jou werk en lewe in die hede alles vir jou is.. Dan het jy niks meer om te
verwag nie. Jy het reeds jou vertroosting. Maar wat ’n arm, kortstondige en
oppervlakkige vertroosting. Jy loop die enige troos in lewe en in sterwe mis.

Simeon sit sy hoop op die vertroosting van Israel. Hy besef die wesenlike
nood van homself en van sy volk. Hy besef dat hy nie homself kan red nie. Hy
besef sy skuld by God. Daarom sien hy uit na God se Trooster en Helper. Hy weet
dat hy met leë hande voor God staan, as ’n smekeling. Ja, slegs as jy bewus
is van jou eie skuld en onmag, sal jy as smekeling tot God gaan. En God sal jou
leë hande dan vul met sy genadebewyse. Hy sal jou vertroos met ’n ewige
troos, met die enigste troos in lewe en in sterwe. Hy sal vir jou in Christus
Jesus gee die vergewing van sondes en die vernuwing van jou lewe.

Simeon wag in spannende verwagting op die vertroosting van Israel. Dit word
nog versterk deur die spesiale openbaring dat hy nie sal sterwe voordat hy die
Christus gesien het nie. God verwaardig hom om die Christus te sien. Om hom
namens ons almal te sien.

Die vaders van weleer het almal gesterf sonder om die beloofde Messias te
sien. Hulle moes eers sterf voordat hulle Christus die lewe kon sien. Simeon mag
Christus, die lewe, sien voordat hy sterf. Vandag weet ons nie wanneer Christus
sal terugkeer nie. Ons het daaroor geen spesiale openbaring van God ontvang nie.
Vir ons is daar twee moontlikhede. Of ons sterf eers om daarna die Here te
ontmoet, of Christus kom terug tydens ons lewe op aarde sodat ons nie hoef te
sterf nie. Ons weet nie wat die Here vir ons in gedagte het nie. Die Here bly
ons egter wel aanspoor om Hom te bly verwag. Leef in spannende verwagting van
die Here se wederkoms.

Is dit wat u lewe in die afgelope jaar gekenmerk het? Sal dit u lewe in die
jaar 2002 kenmerk: die lewendige verwagting van Christus se wederkoms? Jy kan
met allerlei dinge besig wees, jy kan allerlei planne en verwagtings hê. Maar
is jy werklik gefokus op Christus se koms? Netnou het ons die geboorte van ons
Here Jesus Christus herdenk, sy eerste koms in die vlees. Wat beteken die
Christusfees vir jou sonder die verwagting van Christus se wederkoms?

Simeon se Christusfees is baie besonder. Hy sou nie sterwe voordat hy die
Christus gesien het nie. Sy dood word aan Christus se geboorte gekoppel. Terwyl
hy die Christusfees vier staar Simeon die dood in die oë. Hy weet: hy gaan
sterwe. Dis opvallend as jy dit verbind met die vertroosting van Israel. As jy
die vertroosting van Israel ontvang, dan mag jy die volkome herstel van die lewe
verwag, ook die oorwinning van die dood. Jy sou kan verwag dat Simeon dan nie
meer hoef te sterf nadat hy die Christus gesien het nie. Tog sê die Heilige
Gees vir hom dat hy sal sterwe nadat hy die Christus gesien het.

Dit maak duidelik dat die verskyning van die Christus die dood nie
onmiddellik sal wegneem nie. Ook dat dit nie onmiddellik volkome heil beteken
nie. Christus moet eers nog ly, sterf, opstaan en vanuit die hemel sy ryk stig.
So sien ons vandag nog nie die volkome vervulling van die vertroosting van God
se volk nie. Die volkome herstel is nog ’n saak van die toekoms. Ons moet nog
sterwe, tensy Christus tydens ons lewe terugkom. Siekte en dood is nou nog deel
van ons lewe.

Gemeente, wanneer Simeon die kind Jesus in sy arms neem dan loof Hy God en sê:
Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede, volgens u woord, omdat my oë u
heil gesien het." Hier sien ons Simeon se geloof nie slegs in lewe nie,
maar ook in sterwe. Dit bring ons by die 2de punt.

Nou laat U u dienskneg gaan in vrede. Is Simeon moeg van die lewe? Verlang hy
na die dood? Terwille van homself? As ’n oplossing van al sy probleme? Simeon
is vol verwagting. Sy verwagting is nie gefokus op die einde van sy lewe nie,
maar op die vertroosting van Israel, op die Christus. Deur persoonlike
openbaring het die Heilige Gees hom aangewys as diegene wat Christus in sy
tempel moet verwelkom. Dit is die groot oomblik van sy lewe, sy groot taak. En
die Gees het ook gepraat oor sy dood daarna. Wel, die grootste belewenis waarna
hy uitgesien het, die hoogtepunt, het nou plaasgevind. Hy het volgens afspraak
die Christus gesien, deur wie die Here die vertroosting sal gaan bewerk. Nou sal
alles regkom. Simeon het sy taak as wagter vervul. Sy dienstyd is verby. Hy is
nou gereed om te sterf. Dis goed so. Indien die Here hom wil roep dan is hy
gereed om in vrede te kom. Alles is wel. Simeon is nie moeg van die lewe nie,
ook nie so gebind aan die lewe dat hy dit nie los kan laat nie. As ’n nederige
dienskneg onderwerp hy homself aan God se plan met hom.

Simeon wys in sy lied dat hy die dood nie vrees nie. Niemand kan Simeon se
woorde letterlik op homself toepas nie. Niemand het mos dieselfde persoonlik
openbaring van God ontvang nie. Niemand het die plek en taak van God ontvang
nie.

Tog kan elkeen wat glo dinge sê wat op Simeon se woorde lyk. Ons kan ook sê:
"Here, laat u dienskneg, op die tyd wat u bepaal, gaan in vrede volgens u
woord. Want my oë het u heil gesien."

Indien ek werklik Christus in geloof ken, dan kan ek in vrede sterf. Daarvoor
hoef ek nie oud te wees nie. Daarvoor is ook nie nodig dan ek ’n suksesvolle
of produktiewe lewe agter die rug het nie. Om in vrede te sterf is dieselfde as
om in die Here Jesus te ontslaap, om in geloof te sterf. Daarom is dit selfs nie
nodig om ’n rustige, vreedsame dood te hê nie. Om in vrede te sterf is nie
dieselfde as om ’n vreedsame dood te hê nie. ’n Mens kan in vrede sterf
selfs by ’n ernstige ongeluk of ’n wreedaardige moord. Dink maar aan die
dood van Stefanus wat in Hand 7 beskryf word. Terwyl die mense hom stenig roep
hy die Here aan en gee hy sy gees aan die Here oor. So het die martelaars van
die kerk wat voor die leeus gewerp is, wat opgehang is of op die brandstapels
gesterf het, in vrede gesterf. Hulle het die enigste troos in lewe en in sterwe
geken. Daarom kon hulle in vrede sterf. Alles was wel met hulle.

Maar, gemeente, was dit nie baie makliker vir Simeon of vir Stefanus om dit
te sê nie. Simeon het die kind Jesus in sy arms gedra. En Stefanus het die
hemele geopend gesien en Christus aan die regterhand van God sien staan. Ons
moet daarenteen volstaan met die Bybel. Hoe kan ons dan soos Simeon sê: want my
oë het u heil gesien. Was dit vir hom nie baie makliker nie?

Sou dit waar wees gemeente? Wat het Simeon gesien? Uiterlik het hy niks
besonders gesien. Die priester het gewoon met sy werk aangegaan, soos alle ander
dae. Josef en Maria het ’n kind in die tempel gebring soos baie ander ouers.
Hulle het selfs die offer van die armes gebring. Wat is so besonder met daardie
arme egpaar en hul kind? Uiterlik is daar niks besonders nie. Dis slegs deur
geloof dat Simeon kan sê: Nou laat U u dienskneg gaan in vrede omdat my oë u
heil gesien het. Deur geloof sien jy deur die dinge wat heel normaal lyk heen.
Om die bybel te lees, om kerktoe te gaan, om na ’n preek te luister, om saam
geestelike liedere te sing, wat is so besonder daaraan? Dis slegs deur geloof
dat jy kan sê: in daardie gewone dinge is God se genade en gees sigbaar, ja, is
God se heil sigbaar.

Let daarop hoe Simeon dit formuleer. "Omdat my oë u heil gesien
het." Hy sing nie: omdat my oë Jesus of Christus gesien het nie. Met Jesus
in sy arms sing hy van God se heil. Dit maak dit makliker vir ons om dit na te
sing. Dis nie beslissend dat jy persoonlik en fisies die Heiland kan sien en
vashou nie. Dis slegs ’n voorreg wat God aan Simeon voorbehou het. Beslissend
is dat jy God se heil sien.

Hierin is dit vandag makliker vir u as dit vir Simeon toe was. Jy mag in
feite baie meer van die heil sien as wat Simeon kon sien. Die heil wat Simeon
gesien het was slegs ’n nederige begin. Die enigste wat hy kon sien was: Josef
en Maria in die tempel om met hul kind te handel volgens die gebruik van die
wet. Simeon het gesien hoe die Seun van God hom aan die serimoniële wette van
sy Vader onderwerp het. Daarin herken Simeon God se heil. Ons het die vervolg
gesien. Dit wat na Simeon se dood gebeur het. Christus se dood aan die kruis tot
versoening van ons sondes. Ons ken Christus as die opgestane en opgevare Vors
wat nou aan God se regterhand sit. Ons kan werklik in vrede leef en sterf. Ons
het God se heil gesien. Die geloof gee ons oë om dit te sien.

Gemeente, as u oor God se heil praat waar dink u dan aan? Dikwels word gedink
aan die salige situasie na hierdie lewe. Simeon sien die heil egter nie slegs as
iets van die toekoms nie. Vir hom is dit nie: eers die dood en dan die heil sien
nie. Nee, hy sien eers die heil daarna kan hy in vrede sterf. Dis die geheim van
’n sterwe in vrede. Die heil word reeds gesien en ervaar. Indien ek Christus
in sy verlossingswerk sien en ervaar, dan sien ek die heil. Simeon kon daarvan
sing onmiddellik by die begin terwyl hy die kind Jesus in sy arms vashou. U kan
daarvan sing terwyl u terugkyk na Christus se werk op aarde wat op die kruisdood
en opstanding uitgeloop het. U kan daarvan sing terwyl u die werk sien wat
Christus daarna gedoen het in die vergadering, beskerming en onderhouding van sy
kerk. Christus het homself duidelik bewys as die lig tot verligting van die
nasies en tot heerlikheid van sy volk.

Broeders en susters, u kan sing van heil wat reeds voltooi is en van heil wat
nog moet kom. Daarom sien ons uit na die tweede koms van Christus. Dit lyk dalk
’n lang wagtyd. Maar dis die moeite werd. Kyk hoe wonderlik die heil reeds is
wat ons in ons eie lewe en in die lewe van ander sien en ervaar. Hoeveel
wonderliker sal dan die voltooiing van die heil wees. En die dag sal kom. Want
God voltooi altyd wat Hy begin. Hy het dit belowe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)