Keer terug na die woord van die lewende God.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-12-23
Teks: 
Maleági 4
Preek Inhoud: 

Maleági 4:4-6

Ds C Kleyn - Sondag 23 Desember 2001

Lees:

Lukas 1:5-17; Maleági 4.
Sing: Ps 100:1,2; Ps 100:3,4; SB 2:4,5; Ps 78:1-4; Ps 110:3,4.

Tema: Keer terug na die woord van die lewende God.

God bind

  1. aan die geskrewe woord; en
  2. aan die gepredikte woord.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die boek Maleági is duidelik gerig op die Advent, die naderende koms van Christus. Die Here wil sy volk daarop voorberei. Alle hindernisse moet verwyder word. Die volk moet baie gewillig wees op die dag van God se krygsmag. Daarom vorm die boek ’n kragtige oproep om metterdaad as volk van God te lewe, verwagtende die koms van die Here.

Die woord van Maleági moet lank bly klink. Maleági is mos die laaste Ou Testamentiese profeet. Na sy optrede kom daar 4 eeue van stilte. ’n Stilte wat eers deurbreek word deur die engel Gabriël, wat in Lukas 1 beskryf word. Maleági se profetiese woord moet dus eeue bly klink. As laaste profesie moet dit in die harte gegrif word.

Vanweë die plek aan die slot van die profete, is dit nie toevallig dat in Mal 4 teruggegryp word op Moses, die man van die wet, en op Elia, die groot profeet. Maleági staan as ’t ware op die skouers van die wet en die profete. Beide wet en profete sien uit na die groot dag van die vervulling van alle beloftes. Alles is gerig op die koms van die dag van die Here.

Ek verkondig vir u: Keer terug na die woord van die lewende God.

God bind

  1. Aan die geskrewe woord; en
  2. Aan die gepredikte woord.

Die boek Maleági eindig met ’n gesinssituasie. Vaders en kinders word genoem. Vaders en kinders wat een van hart is. Dit gaan hier egter nie slegs oor ’n bepaalde huisgesin nie. Maleági praat ruimer van die vaders en die kinders. En van die beloofde land. Dit gaan hier dus oor die huis van Israel, die kerkgesin.

In die kerkgesin kan daar tussen die geslagte verwydering ontstaan. Ons praat van ’n generasie konflik of ’n generasiekloof. Die geslagte groei uit mekaar uit. Hulle raak van mekaar vervreemd. Hulle kom selfs teenoor mekaar te staan. Ons ken dit ook in ons eie tyd. In die nuwe Suid Afrika groei ’n generasie op wat anders is as die vorige. Die jong generasie dink nie slegs anders oor baie dinge nie, maar leef ook anders. En nou praat ons oor generasies wat in dieselfde tyd lewe. As jy vergelyk met generasies wat eeue gelede geleef het, dan is die teenstelling nog groter. So word die vraag gestel: is die huidige geslag besig om hulle te vervreemd van hulle kerklike voorvaders? Sit ons nog wel op dieselfde spoor?

Gemeente, dit is vrae wat in Maleági se tyd aktueel was. Daar was jongeres wat gepleit het vir aanpassing aan die moderne lewensbeskouing. Maleági het die deurbraak in sy tyd reeds gesien. ’n Deurbraak in die gesinne, mense het mos gemengde huwelike en egskeiding bepleit. ’n Deurbraak ook in die erediens: daar moes ruimte wees vir magie en vir ander offers as wat die wet voorgeskryf het. ’n Deurbraak ook in die omgang en die lewensstyl. Pleks van die antitese (die teenstelling tussen geloof en ongeloof) wil hulle die solidariteit. Daar moet ’n samewerking wees met die samaritane en mense moet nie daarvan terugskrik om ’n vreemde kultuur oor te neem nie. Waar sal dit op uitloop as straks na die val van die Persiese ryk Alexander die Grote aan die groot sintese van die godsdienste gaan werk? Indien God nie aan die deurbraak ’n halt toeroep nie, sal Israel ondergaan.

Daarom roep Maleági Israel terug na die wet van Moses. "Dink aan die wet van Moses, my kneg, wat Ek hom beveel het op Horeb vir die hele Israel – insettinge en verordeninge."

Met die wet van Moses word meer as net die tien gebooie bedoel. Dit sien op die eerste 5 bybelboeke, die tora, die vasgestelde leer van die Here. Waarom die verwysing na die wet? Die wet van Moses vorm die fondament van Israel se bestaan. ’n Mens sou dit Israel se geboortebewys of Israel se huweliksakte kan noem. Horeb herinner aan die verbondssluiting. Op grond van die woorde het die Here Israel tot sy volk uitgeroep. Israel moet terug na die grondslag.

Die wet van Moses is immers vir die hele Israel bestem. Dit geld vir jong en oud, vir vaders en kinders. Niemand kan sê: die verbond is met die vaders gesluit, maar nie met my nie. Die nuwe generasie kan nie sê: die woorde geld vir die verlede en nie vir die hede nie. Nee, God het sy wet op Horeb gegee vir die hele Israel, vir Israel in al hul geslagte. Dit is die grondslag van God se volk van verlede en hede. Het God toe nie gesê: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie. En het Hy nie daarby bepaal: julle moet nou uit dankbaarheid die Here liefhê bo alles en jul naaste as julleself? Die wet bestaan uit insettinge en verordeninge. Hier word die verbondsomgang gereël, die regsbeginsels vasgelê.

Dink daarom aan die wet van Moses. Gaan terug na julle geboortebewys, na die grondslag van julle bestaan as verbondsvolk. Haal die huweliksakte, die huweliksregelement weer tevoorskyn. En leef daarna.

Op Horeb het God se volk eenparig gesê: Al die woorde wat die Here gespreek het, sal ons doen (Ex 24:3). Om aan die wet van Moses te dink is om die verbintenis te vernuwe, om die verbondswoorde van die Here opnuut te aanvaar. Dit beteken dat jy terugkeer na die woord van die lewende God. ’n Terugkeer na die oortuiging van die vaders. So ontstaan daar ’n eenheid tussen die vaders uit die verlede en die kinders van nou, eensgesindheid, een van hart en siel in die diens van die Here.

Dink aan die wet van Moses, is by Maleági ’n dringende oproep om terug te keer tot die Here en sy woord. Dis ’n ernstige vermaan om te breek met al die aanpassings aan die moderne lewensbeskouing. Om te breek met die skynheilige, gedeformeerde erediens. Om te breek met die heidense lewensstyl. En die antitese opnuut te aanvaar.

As jy nie na die basis terugkeer, het jy geen toekoms nie. Dit is ’n appel wat steeds weer geklink het om die volk voor te berei op die koms van die Here. Dis ’n appel wat vandag nog deurklink om ons voor te berei op die tweede koms van die Here.

Maar geliefdes, geld dit wel vir ons vandag? Het Christus die wet nie vervul en gedeeltelik afgeskaf nie? Jaseker: maar het daarmee die wet self afgedaan? Die wet as grondslag van God se volk? Het Christus self die wet nie saamgevat met die woorde: "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en my jou hele siel en met jou hele verstand." En : "jy moet jou naaste liefhê soos jouself"? Verskeie mosaiese insettinge mag met Christus afgeskaf wees, die grondreël bly bestaan.

En het die grondslag van die kerk nou nie baie ryker geword nie. Die leer van dit tora het ’n vervolg gekry. Ons het nou die hele Bybel. Die kerk is gebou op die fondament van die leer van die apostels en profete. Die Gees bind u aan die hele geskrewe woord. Die op skrif gestelde woord vol beloftes en eise. Wat in Deut 4:1,2 genoem word tav die wet van Moses word in Openb 22:18,19 toegepas op die boek Openbaring en op die hele Bybel: Julle mag daarby niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie. Anders word julle deel weggeneem uit die boek van die lewe. Vir wie nie luister na die woorde is daar geen daeraad nie.

So kom die dringende oproep na u toe: keer steeds weer terug na die woord van die lewende God. Keer terug na die een fondament van die kerk. Hou die hele Bybel vas. Leef daarna. Wat oor die jare ook al verander het, die woord van God bly tot in ewigheid. Dink maar nie dat die Bybel uit die tyd is nie. Dat die woorde van die lewende God vir mense van daardie dae gegeld het, maar nie vir ons vandag nie. God het sy woord vir die hele Israel gegee, vir die kerk van alle plekke en tye.

Dit is opvallend hoe daar steeds weer sware aanvalle op God se woord gedoen word. Aanvalle vanuit die moderne lewensgevoel. Moet jy jou nie aanpas aan die tyd waarin jy leef en aan die gedagtes wat heers in jou omgewing nie? Dis tog dwaas om met die ou woorde aan te kom in hierdie moderne tyd?

Wat dit betref, is daar niks nuuts onder die son nie. Wat hom as modern aandien is in feite verskriklik ouderwets. Moses, die profete het reeds daarmee te make gehad. Mense het altyd graag wil heers oor die woord van God. Hulle wil graag die woord aanpas aan hul gedagtes en gedrag Pleks dat hulle hul gedagtes en dade deur God se woord laat beheers. Pleks dat hulle hulleself aanpas aan die woord. Indien die woord nie meer vasstaan nie, dan kom alles op los skroewe te staan. Dan is daar geen daeraad nie.

Wanneer jy egter vashou aan die woord van God, dan bou jy aan jou toekoms. Dan is jy een met die aloue kerk, op pad na die groot dag van Christus se wederkoms.

Maleági roep nie slegs terug na die wet van Moses nie, hy wys ook op die groot profeet wat gaan kom. Dit wil ons sien in die tweede punt: God bind nie slegs aan die geskrewe woord nie, maar ook aan die gepredikte woord.

Die Here weet hoe swak ons is. Daarom gee Hy in sy genade naas die geskrewe woord ook die gepredikte woord: Kyk, ek stuur julle die profeet Elia. Soos Moses ’n samevatting van die geskrewe woord is, so is Elia ’n samevatting van die gepredikte woord. Die Here het profete gegee om sy geskrewe woord in te skerp. Om die wag by die woord te betrek. Om Israel steeds weer voor die keuse te stel.

Ons hoor die belofte: Kyk, "Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek."

Dis duidelik dat met hierdie Elia Joh die doper bedoel word. Jesus Christus het Joh die doper ook aangewys as die Elia wat sou kom.

As ons let op die taakomskrywing van die Elia, dan sien ons dat die engel Gabriël die woorde ook aanhaal by die geboorteaankondiging van Joh die doper. Die engel sê mos vir Sagaria: "Hy sal voor Hom uit gaan in die gees en krag van Elia, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ’n toegeruste volk te berei" (Lk 1:17).

Dis duidelik dat die Here nie bedoel wat die Jode daarvan gemaak het nie, naamlik dat die ou profeet Elia onder hulle sou terugkeer. Dit gaan daaroor dat ’n profeet soos Elia sal verskyn. ’n Beskamende profesie. Elia se optrede is immers verbind aan die tyd van die ernstige afval onder Agab en Isebel. Die teruggekeerde Jode het so ’n profeet nodig om hulle terug te roep tot die woord van die Here. So ’n herout het hulle nodig om op die dag van die Here nie verteer te word nie. "Sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie." (Mal 4:6).

Joh die doper moet die generasies saambind. Die godvresende vaders van weleer het geen vreugde in hul afvallige nageslag nie. Die nakomelinge wys hulleself as kinders van die duiwel. Hulle sê wel dat hulle Abraham as vader het, maar hulle het in werklikheid die duiwel as vader, sê die Here Jesus in Joh 8. Joh moet daaraan werk dat die afvallige kinders hulle tot God bekeer. Daarmee wen die kinders ook opnuut die hart van hulle voorouers. Die nuwe geslag word weer geestelik een met die geslagte uit die verlede. Die godvresende vaders sal asnog met blydskap hul nageslag herken en begroet. Hulle gesindheid sal in die harte van die kinders ingang vind.

En omgekeerd: die kinders sal nie meer verleë wees met hul sogenoemde ouderwetse vaders nie. Die kinders sal hulle ouers met vreugde begroet, in die eenheid van die geloof. Hulle sal hul voorgangers in geloof gedenk, hulle in ere hou, trots op hulle wees. Generasie probleme sal verdwyn. Die volk sal, by alle verskille in generasies, een in die Here wees, een in leer en diens. So word die kontinuïteit van die kerk deur alle geslagte heen gewaarborg.

Gemeente, ons teks word egter nie volledig in Joh die doper vervul nie. Joh het slegs in beperkte mate die bekering bewerk. Wie sy woorde aangeneem het, het ontkoming van die gerig ontvang. Maar vir die volk as geheel het die dreiging van gerig ("sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie") werklikheid geword in die verwoesting van Jerusalem. Joh se prediking het skiftend gewerk. Daar is nog geen sprake van ’n volkome eenheid van die generasies nie.

Die voorbereiding op die dag van die Here het met Joh se werk nie opgehou nie. Dit gaan aan in alle prediking in opdrag van Christus. Die prediking moet verder gaan. Ook in die aankondiging van die oordeel: "sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie." Sodat Ek nie alles en almal deur my gerig hoef te vernietig nie.

Want daar is ’n tweërlei koms van die Here. Nog steeds moet vir die Here ’n toegeruste volk berei word. ’n Volk wat baie gewillig is op die dag van sy krygsmag. Nog steeds moet die generasies aan mekaar verbind word, deur die een woord van die lewende God. Daarvoor wil die Here gebruik maak van die diens van die predikers. Die prediking moet terugroep tot die een diens aan God. Dit moet terugroep na die een woord wat die generasies saamsmee.

Ons leef in ’n tyd waarin vervreemding tussen die generasies dreig op te tree. Daar groei ’n generasie op wat anders dink as vroeër. ’n Generasie wat nie slegs anders dink nie, maar ook anders is in leer en lewe. Let maar op die manier waarop die moderne christendom oor kerk en wêreld praat, ook gesag en samelewing, huwelik en seksuele omgang. En hierdie moderne lewensgevoel gaan ons kerke nie verby nie. Met die gevaar dat behoudende ouers teenoor progressiewe jongeres kom te staan.

Sit ons nog saam op dieselfde ou spoor? Of mag dit nie meer in hierdie moderne tyd nie? Moet ons ons aanpas aan die moderne lewensgevoel? Baie jong mense is verwar. Die ou spoor lyk vir hulle ’n ouderwetse spoor te wees, onbruikbaar in ons moderne tyd.

En laat ons nie slegs kyk na die jongeres nie. Baie ouere mense is ook verwar in ons nuwe Suid Afrika. Hulle worstel ook met dieselfde vrae, ook al laat hulle dit dalk nie blyk nie. Sou die verlating van die ou paaie deur jongeres nie dikwels ’n gevolg kan wees van die verlating van die paaie deur die oueres nie. Die kinders trek dikwels die gevolge van die nuwe gesindheid van die ouers. Indien die woord van God nie werklik by die ouers leef nie, is dit dan vreemd dat jongeres die woord loslaat?

Dink maar aan die situasie in die dae van Maleági. Uiterlik was die mense bes vroom. Hulle het hul godsdienstige handelinge nagekom. Maar die profeet moet sê: julle hou nie werklik die wet van Moses nie. So het die volg van die ou spoor niks te make met sleur of uitwendinge ere nie. Deur blindelings aan die ou vorme en gewoontes vas te hou bewys ons die jongeres ’n slegte diens. Die jong generasie sien dan niks van die krag van die geloof nie. Hulle merk niks van die krag van die woord in die daaglikse lewe nie. Is dit dan vreemd as hulle die woord as ouderwets en onbruikbaar afdoen. Hulle ouers het reeds van die ou spoor afgewyk.

Laat elkeen van ons, jong en oud, die woorde van Maleági ter harte neem. Terug na die grondslag. Leef werklik uit en na die geskrewe woord. Laat jou deur die gepredikte woord terugroep na die basis. Om ’n bepaalde tradisie in stand te hou is nog nie geloof in die Skrif nie. Ons oueres is nie getrou as ons die jong generasie met n kluitjie in die riet stuur nie. Ons sal moet bly studeer om antwoord te kan gee op die vrae waarmee die jongeres bestorm word.

Aan die ander kant laat die jeug oor die skriftuurlike norme nie smalend praat nie asof dit ouderwets en onbruikbaar is nie. Die ou fondament van die Skrif verander nie. As jy daaraan gaan torring, dan graaf jy jou eie graf en die van die kerk. Ons moet dus almal terug na die woord van die lewende God. Dis nie so dat jy moet gee en neem nie, soos mense dit vandag graag wil sien. God wil vir Homself ’n toegeruste volk berei. Daarom gaan die prediker uit in die gees en krag van Elia. Ons soek nie die bevrediging van menslike gevoelens nie. Ons soek bekering tot die lewende God. Daarin vind ons ook vandag nog die ware eenheid: eenheid in die gesindheid van die regverdiges. So is ons verbind aan die kerk van alle plekke en tye. Op pad na die groot dag van ons Here Jesus Christus. Wat ons dan sonder verskrikking mag verwag.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)