Lukas 2:13, 14 Ds C Kleyn - Dinsdag 25 Desember 2001 Lees: Tema: Die lied van die engele.
Sing: Ps 98:1,2; Ps 98:3,4; SB 4:1-4; SB 4:5-8; Ps 103:10,11.
Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,
Die lied van die engele behoort by die kersfees. Ons kan Christus se geboorte
nie sonder die "ere aan God" indink nie.
Elke keer as ons kersfees vier, sing ons die lied wat ons van die engele
geleer het. Hulle het dit vir ons gesing. Hulle het ons geleer om dit te sing.
Dis op sigself opvallend. Meestal het God menslike digters en musikante gegee om
ons psalms en gesange voor te sing. Sy Gees het die menslike outeurs opgewek om
talryke liedere op ons lippe te lê. Maar wanneer die ewige Seun van God as mens
gebore word, stuur God sy engele om vir ons te sing. Mense weet nog nie wat
plaasgevind het of hulle verstaan dit nie. Tog is dit wêreld nuus. Dit moet wêreldkundig
gemaak word. ’n Jubellied moet gesing word. Engele sit vir ons in. Hulle sing
dit vir ons. Hulle het iets om vir ons te leer.
Ja geliefdes, dat hulle ons iets wil leer is duidelik as jy let op die plek
waar die engele verskyn en hul lied sing. Hulle gaan nie na die stal in
Betlehem, na die kind in die krip nie. Met die koms van ’n keiser, koning of
enige groot leier maak mense dikwels spesiale liedere om hulle toe te sing. Alle
aandag word op die koning gerig. Hy word met eer en entoesiasme toegesing.
Wanneer ons koning Jesus Christus arriveer, dan is daar niks van dit alles nie.
Daar is geen spesiale lied wat vir hom gemaak is en hom toegesing word nie. Die
engele sing hul lied vir die herders. Die lied is vir hulle bestem sodat hulle
dit kan deurgee, en wêreldkundig kan maak. Dit is ook wat hulle doen. Nadat
hulle die kind in Betlehem gesien het, het die herders teruggegaan en God
verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, lees ons in vers
20.
Vanoggend wil ek vir u die lied van die engele verkondig. Ons let op:
- wanneer hulle hul lied sing en
- wat hulle sing
Wanneer die engel die kersboodskap aan die herders deurgee staan ’n leer
engele gereed. Hulle wag op die regte oomblik om in te sit. Die eerste engel
bring die goeie tyding van groot blydskap: "dat vir julle vandag in die
stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is." ’n
Geweldige berig! Vir ons besef is dit die klimaks van wat die engel moet sê.
Wie sou nie deur sulke woorde bewoë wees nie. Die groot beloftes word nou, na
’n lang wagtyd, vervul! Wie sou nie wil uitbreek in gejubel nie? Die engele
bedwing hulleself egter. Hulle wag vir hul beurt. Die engel moet eers nog
byvoeg: "en dit is vir julle die teken: julle sal ’n Kindjie vind wat in
doeke toegedraai is en wat in die krip lê." Eers na hierdie woorde sit die
engele in met hul loflied.
Broeders en susters, is dit wel ’n passende oomblik om hul oorwinningslied
te begin sing? Kon hulle nie op ’n betere tydstip insit nie? Ja, kon die
eerste engel nie op ’n meer aantreklike manier sy boodskap afsluit nie. Dit
lyk asof hy met n antiklimaks afsluit. Die eerste engel het geweldige dinge gesê:
"vir julle is gebore die Saligmaker wat Christus, die Here, is." Maar
die woorde wat daarop volg beïndruk ons allermins. Ons hoor van ’n kindjie in
doeke toegedraai, wat in ’n krip lê. ’n Baba in ’n voerbak vir diere. Die
laaste woorde van die kersboodskap lyk so gewoon, banaal, onbeduidend.
Tog sluit die engele aan by die woorde. Die engele verstaan dat juis die
banale werklikheid hierdie kind so besonder maak. God se seun word ’n gewone
kind van vlees en bloed. Hy word soos ons, ons broer. Sy nederige begin op aarde
is nie bykomstig, iets wat ons kan negeer nie. Nee, die begin is tiperend vir
ons Koning. Hy is van alle luister beroof ter wille van ons verlossing. Juis in
sy vernedering is Hy die beloofde Messias is, die Kneg van die Here van Jes 53,
die Kneg wat ter wille van ons oortredinge deurboor sal word en wat die straf
wat vir ons die vrede aanbring sal dra. So hang die skaduwee van die kruis reeds
oor sy geboorte. Die Vader ontneem hom sy heerlikheid. Hy plaas hom op die pad
van lyding. Deur die pad te volg kan Hy ons koning wees, kan Hy ons laat deel in
die vryheid en vrede van die kinders van God.
Die engele begryp dit en breek spontaan in gejuig uit. Dit is vir hulle die
geskikte oomblik om in te sit.
Maar gemeente, as jy let op wat hulle sing, is hulle nie te vroeg daarmee
nie? Is hulle nie voorbarig nie? Ons sien slegs ’n klein begin, ’n kind in
’n krip. Wie sing nou so ’n oorwinningslied terwyl die kind net gebore is en
sy wieg in duisternis omhul is? Terwyl hy nog met sy verlossingswerk moet begin?
Die engele juig van vrede op aarde, in die mense ’n welbehae. Maar die vloek
is nog lank nie weg nie. Kon die engele nie beter gewag het totdat Christus sy
werk volbring het en hy die oorwinning behaal het nie?
En hoe kan die mense hierdie lied leer en sing terwyl hulle self nog deur die
duisternis omring word? ’n Mens hef tog sy oorwinningslied op wanneer die
oorwinning ’n werklikheid is en nie midde in die stryd nie? Jy gaan tog nie
juig oor vrede uit die diepte van ellende en lyding nie? Die herders en hul
tydgenote moet hulle nog steeds onderwerp aan die magtige romeinse wêreldryk
met sy vergoddelikte keiser. Kyk maar na die omstandighede van Christus se
geboorte. Die bevel van die keiser dwing Josef en Maria om na Betlehem te gaan.
Wat ’n kontras tussen die heerlikheid en mag van die Romeinse keiser en die
vernedering en armoede van die Saligmaker in ’n krip. Sit die engele nie te
vroeg hul lied in nie, onmiddellik na die berig van Jesus sy nederige geboorte?
Nee, geliefdes, hulle is nie te haastig nie. Want hier is die Here God besig
om ’n nuwe begin te maak. Die nederige begin in die stal te Betlehem is God se
werk. En wanneer God met iets begin, dan mag jy seker van die uitkoms wees.
Wanneer ons mense met iets begin, kan ons nooit seker daarvan wees of ons dit
sal kan voltooi nie. Maar God weet dit seker van al sy werke. Hy kom altyd
klaar. Hy is aan die begin seker van die einde. Die begin is ’n profesie van
die voltooiing. God die Vader is seker van die kind in die krip. Die kind sal
oorwin. Hy sal vrede op aarde bring. By die geboorte van Christus is daar niks
onseker nie. Jy mag daar oor die verlossing sing in die voltooide teenwoordige
tyd, as iets wat reeds werklikheid is. Dis hoe seker jy daarvan mag wees.
Die engele sing van die sekerheid. So gee hulle u en my nuwe moed om te glo.
Die geloof stel nooit teleur nie. Reeds by Jesus se geboorte mag jy weet dat die
duiwel oorwin sal word en dat die sondes versoen sal word. Omring deur die
duisternis van sonde en teenstand mag jy sing in die sekerheid van die geloof.
Dis die geloof wat die wêreld oorwin.
Broeders en susters, beskaam die engele ons nie met hul lied nie? Dikwels wil
ek eers dinge sien voordat ek glo. Ek wil dikwels alles ontvang voordat ek
dankie kan sê en kan juig. Maar kyk na die engele. Christus is netnou gebore en
hulle sing reeds hul loflied. By die nuwe nederige begin in Betlehem juig God se
knegte reeds. God se knegte wys God se kinders die pad. Die herders volg hulle
voorbeeld. Hulle glo. Hulle gaan na Betlehem en vind Maria en Josef en die
kindjie wat in die krip lê. Niks meer as dit nie. Maar hulle begin om God te
verheerlik en te prys. Wat hulle gesien het is mos ’n waarborg dat die paradys
herstel sal word.
Wat van julle, broeders en susters? Laat julle julleself onderrig deur die
engele, die herders en ander wat hul voorbeeld gevolg het? Voeg jy jou by hulle
wat hul oorwinningslied tot eer van God sing, ook al is God nog nie klaar met sy
verlossingswerk nie. Sing jy sy lof selfs in die nag, wanneer die daaglikse
werklikheid so anders lyk, wanneer jy maar moeilik die juiste stemming vir die
lied kan vind, wanneer jy deur liggaamlike, psigiese, finansiële of sosiale
probleme neergedruk word? Nooit kan die geloof te veel verwag nie. Leef in
geloof en vertroue, ook al sien en ervaar jy lang nog nie alles nie. Dan kan jy
jou by die herders aansluit in die lof op God, terwyl die volle heil nog ’n
saak van die toekoms is?
Ons verloor so maklik moed deur die moeites in die lewe, deur die mag van die
sonde en van satan. Deur die gebrokenheid van die lewe. Wat kan ons na soveel
eeue sien van Christus se oorwinning op aarde? Dit lyk eerder asof die wêreld
besig is om Christus meer en meer af te wys.
Maar wanneer die kind Jesus nog in die krip lê juig die engele reeds oor God
se oorwinning. En die herders volg hulle voorbeeld. Wel, as hulle dit reeds kon
doen op die kersnag, hoeveel te meer moet ons dit vandag kan doen. Dink aan die
groot dinge wat sedert die tyd gebeur het. Die kind in die krip het die pad van
lyding tot die bittere einde geloop, tot die dood aan die kruis. Hy het die
verbond van genade bevestig toe hy gesê het: dit is volbring. Hy het opgestaan
uit die dood, opgevaar na die hemel. Hy het sy Gees uitgestort.
In die loop van die Nuwe Testamentiese geskiedenis het hy voortgegaan met sy
offensief van vrede. Hoeveel mense het Hy nie op die knieë gebring nie, tot
geloof? Die kerk is nou rêrig wêreldwyd, uit alle volke en tale. Die feit dat
ook hier nog ’n kerk van Christus bestaan is ’n bewys van sy oorwinning. Hy
gaan van krag tot krag steeds voort. Sy begin is ’n waarborg van die
voltooiing.
Daarom: eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense
’n welbehae. Jy kan juig selfs in die nag. Soos Paulus dit gedoen het toe hy
in Rom 8 gesê het: "As God voor ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat
selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe
sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?" Vir Paulus is
dit ’n oorwinningslied, midde in die stryd: "in al hierdie dinge is ons
meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het." Is dit wat julle is,
meer as oorwinnaars in al hierdie dinge, in al die beproewinge van die lewe, by
al die liggaamlike, psigiese, finansiële en sosiale moeites: meer as
oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het?
Die groot blydskap is nie verniet aan die herders en aan u voorgehou nie: vir
julle is gebore die Saligmaker wat Christus, die Here, is. Sy geboorte beteken
die bevryding van die wêreld, oorwinning oor satan en sonde. Dis wat die engele
as amenlied op die verkondiging van die eerste engel sing. So kom ons by die 2de
punt van die preek: wat die engele sing.
Die engele sit in met die woorde: Eer aan God in die hoogste hemele. By die
geboorte van hierdie kind moet alle eer aan God gegee word. God het in die stad
van Dawid sy beloftes vervul. Hy het in aksie gekom. Ingegryp tot ons
verlossing. Hy het ’n nuwe begin gemaak. Laat elkeen dan aan Hom die eer gee,
Hom die soewereine en verhewe God in die hoogste hemele. Redding kon slegs van
bo verwag word. Daar kom dit dan ook vandaan. Van God in die hoogste hemele.
Daarom: eer aan God in die hoogste hemele.
Die engele verbind die eer aan God met die vrede op aarde. Deur die
Saligmaker te gee, is God besig om vrede op aarde te bring. God gaan die ou
beloftes van vrede vervul. Bv. Jes 2:4: "Hulle sal van hul swaarde pikke
smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard
ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie." Jes 11:6:
"Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die
kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie
sal hulle aanja."
Seker, daar moet nog baie gebeur voordat dit volle werklikheid is. Let op die
verskyning van die engele. Hulle verskyn nie in feesklere nie. Hulle vorm ’n
leër, ’n menigte van die hemelse leërskare. Hulle dra as ’t ware die
uniform van soldate. Buite die kring van die lig waarin hulle verskyn is die
vyand nog aktief. Daarom wys hul triomfantlike lied ook op die goddelike program
vir die nuwe bedeling. Met die geboorte van Jesus het immers die oomblik vir die
laaste en beslissende krisis aangebreek. Die laaste krisis wat al die ander
krisesse bepaal tot die dag van Christus se wederkoms. In hierdie laaste periode
moet die program van eer aan God en vrede op aarde uitgevoer en voltooi word.
Mense het die engele dikwels as lieflike en vreedsame figure geteken,
engeltjies wat slegs vreugde en liefde uitstraal. Ja, hulle kom wel met ’n
boodskap van vrede tydens die kersnag, maar hulle bring nog nie die vrede nie.
Hulle verskyn nog as soldate van God se leërmag. Hulle verskyning is nie
vreedsaam maar militêr. Hul lied is ’n soldate lied. Baie mense maak ’n
humanistiese, romantiese lied daarvan, ’n kerslied om by kerslig te sing.
Onthou egter, hulle wat dit voorgesing het was soldate.
Sulke opmerkings pas nie by die modernistiese kersfeesviering nie. Baie vier
kersfees in die roes van oppervlakkige, humanistiese vrede. Maar die vrede kom
slegs deur stryd. Die lied van die engele op die kersnag het die groot
bevrydingsoorlog ingelui. Die stryd is nou volle erns. Die wêreld wat teen God
opgestaan het, moet weer aan God onderwerp word. Hemel en aarde moet weer een
word in hul eer aan God. Dit kom nie vanself nie. Dit veroorsaak ’n groot
krisis op die aarde. Die wêreld gee homself nie sommerso gewonne aan God se
vrede nie. Mense wil nie die tipe vrede nie. Die prins van die wêreld, satan,
gaan tot die einde toe voort met sy teenstand. Hy en sy volgelinge intensiveer
dit selfs. Hy maak die geskiedenis tot ’n geskiedenis van stryd, van bloed en
trane.
Maar geliefdes, die werkprogram van Jesus Christus word nou afgewerk. Hy is
besig om die geskonde reg te herstel. Hy gaan uit as ’n oorwinnaar en om te
oorwin (Openb 6:2). Die hemelse leërmag sing reeds daarvan op die kersnag. Want
Hy wat die vrede op aarde bring is nou aanwesig. God se Seun kom die wêreld
binne as ons vrede.
Broeders en susters, wanneer julle die woord vrede hoor, waar dink julle dan
aan? Julle moet nie slegs aan innerlike vrede dink nie. Vrede wys op ’n
situasie waarin die normale en gesonde verhoudings herstel is. Alle mense en
dinge staan weer op hul regte plek en funksioneer weer optimaal. Die regte orde
in die wêreld, wat deur die sonde gruwelik versteur word, word herstel. Mense
kan weer wees wat hulle behoort te wees. Jy kan weer voluit mens wees, leef in
die volle sin van die woord. Elke vervreemding van God, van ander en van jouself
het verdwyn. Die volle harmonie keer terug. Die lewe kan weer floreer in die lig
van God se vriendelike aangesig, sodat dit met jou werklik goedgaan.
Gemeente, hoe kom God daartoe om die vrede weer in hierdie opstandige wêreld
te bring? Die laaste woorde van die engele gee die antwoord. God het in die
mense ’n welbehae. Die verleiding is daar om hierdie boodskap van vrede tot
die uitverkorenes te beperk en dan te vertaal: vir die mense in wie God ’n
welbehae het. Maar dis nie wat die engele sing nie. Seker, dis slegs die
uitverkorenes wat uiteindelik die vrede van Christus ontvang. Maar u moet nie
vergeet dat die lied van die engele onmiddellik volg op die aankondiging van
groot blydskap wat vir die hele volk sal wees. Die hele volk wys duidelik op God
se verbondsvolk. Dis verbondstaal. Die engele sluit daarby aan.
U moet ook onthou dat die vervulling van die beloftes vir Israel volgens die
profete die heil vir die wêreld beteken. So sal al die geslagte van die aarde
in Abram geseën word (Gen 12:3). In hul laaste woorde verwoord die engele die
rykdom van die nuwe verbond. God kom om sy wêreld te red, die mensheid, mense.
Die engele wil nie aangee wie van die mense wel en wie nie gered sal word nie.
Hulle spreek eerder in algemene terme en benadruk die motief van die redding.
Die enige motief is God se vrye welbehae. Dit het God behaag om mense te red,
kinders van Adam. Hy het behae daarin om verlore sondaars in sy liefde te soek.
Die enig motief daarvoor is sy soewereine welbehae.
Gemeente, die engele sing hierdie lied vir ons. Die herders glo en begin dit
self ook te sing. Hulle het dit vir ons deurgegee. So hoop ons dit ook self te
sing onmiddellik na hierdie diens. Besef egter goed wat u sing. Dis ’n
krygslied, ’n lied wat nie pas binne ’n wêreldse en humanistiese kersfees
viering nie.
As jy hierdie lied wil sing dan moet jy glo. Die lied begin met die woorde:
eer aan God in die hoogste hemele. Die Here God moet alle eer ontvang. Die lied
vervolg: vrede op aarde. Dis ongelooflik! Vrede op aarde, ons sing dit in ’n
sondige wêreld vol disharmonie, onrus en nood, onenigheid en stryd. Wat ons
sing lyk in stryd met die werklikheid te wees.
In mense ’n welbehae. Opnuut ongelooflike woorde!. Is dit wat ek sien en
ervaar in ons land en wêreld vol armoede, lyding en dood? ’n Mens kan hierdie
lied slegs in geloof sing. In geloof wat seker weet dat God se geweldige begin
die volmaakte einde waarborg. So kan ons selfs in die nag sing: Eer aan God in
die hoogste hemele, vrede op aarde, in die mense ’n welbehae. God is vandag
nog steeds besig om dit uit te werk. Ook in ons lewe en ons land. En eenmaal sal
dit volle werklikheid wees.
AMEN
Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.
(kyk in preek)