Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3 Art 1-3 Ds C Kleyn - Sondag 2 Desember 2001 Lees: Tema: Die totale verdorwenheid van die mens.
Sing: SB 34:1; Ps 25:2,3; Ps 8:4-6; Ps 51:3,5,6; Ps 67:1.
Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,
In die derde en vierde hoofstuk van die Dordtse Leerreëls gaan dit oor die
verdorwenheid van die mens en sy bekering tot God. Van nature het ons moeite met
die leer van die verdorwenheid van die mens. Ons wil graag die erns daarvan
versag. Dit kan nie so erg wees nie. Ons is van nature tog nie so sleg nie? Om
die erns van die verdorwenheid te sien moet ons terug na die skepping. Hoe hoer
die mens geplaas is, des te dieper het hy geval. Die kontras tussen ons huidige
situasie en hoe dit voor die val was, laat ’n mens eers besef hoe ernstig die
situasie in feite is.
Die kontras word egter dikwels verdoesel. Is daar eintlik wel so ’n groot
verskil tussen voor en na die sondeval? So het die Remonstrante beweer dat die
mens in die paradys reeds in sy hart ’n neiging tot sonde gehad het. Na die
sondeval het dit daarin vererger dat ons ons vrye wil nie so maklik ten goede
kan gebruik nie. Die verskil tussen toe en nou is dus nie ’n verskil van alles
en niks nie, maar ’n verskil van meer en minder. In die paradys kon ons meer
en makliker God se wil doen, terwyl dit na die sondeval baie moeiliker geword
het.
Hoe praat die skrif hieroor? Dis belangrik dat ons dit duidelik in beeld kry.
Nie slegs om God die eer te kan gee wat Hy verdien nie, maar ook om te besef wat
ons verlossing inhou. ’n Mens kan mos slegs die grootheid van die verlossing
verstaan as jy weet waaruit jy verlos word. En die beeld wat ons van die verlore
paradys het, bepaal ook ons beeld van die nuwe paradys. Hoe dit was het dus
alles te make met hoe dit geword het en hoe dit in Christus weer sal wees.
Laat ons dan in volgorde nagaan wat die skrif sê oor hoe dit was, hoe dit
deur die sondeval geword het en hoe ons daaruit verlos kan word.
Hoe was dit in die begin? In Gen 1 lees ons die verhaal van ons oorsprong.
God het ons anders as die diere gemaak, meer as hulle gemaak. As kroon van sy
skepping. En God het gesê: laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis.
Wanneer het God dit gesê? Toe Hy gereed was met sy skepping van hemel en aarde,
die see en land, die bome en plante en alle diere. Die hele wêreld was gereed
vir die mens as sy woon en werkplek. Van Gen 1:27 weet ons dat God gedoen het
wat Hy gesê het. "En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld
van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape."
God het die mens ook goed geskep. Ons lees in Gen 1:31: "Toe sien God
alles wat Hy gemaak het, en die was baie goed." Die woord ‘goed’ wil sê
dat God alles, ook die mens, geskep het soos Hy dit bedoel het, doeltreffend.
Dit was baie goed. So is die mens dan goed geskep en na God se beeld, na sy
gelykenis. Die woord ‘beeld’ wys daarop dan ons ’n afbeelding van God is,
terwyl die woord ‘gelykenis’ daaraan toevoeg dat ons ’n gelykend beeld is.
Op watter manier lyk die mens dan op God? Nie in ons liggaamlike gestalte
nie. God is mos gees. Die gelykenis kom uit in die mens se deugde en in sy doen
en late. Die mens is God se verteenwoordiger. Die skepsels op aarde kan God nie
sien nie. Maar God wou wel hê dat die skepsels sou sien hoe God is. Daarvoor Hy
mense geskep. Om Hom af te beeld. Ons is geskep om so te handel soos God sou
handel. Daardeur sou die skepsels iets kan sien van God se natuur. Soos God
heilig is, so moet die mens heilig wees. Soos God regverdig is, liefdevol, wys
en goed ens, so sou die mense dit in mekaar moet herken.
In die nuwe testament word die eieskappe van die mens as God se beeld ook
uitdruklik genoem. Daar gaan dit oor ons vernuwing na die beeld van ons skepper.
Ons moet ons met die nuwe mens beklee wat tot kennis vernuwe word en na God
geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Col 3:10; Ef 4:24). Hieruit blyk
dus dat die beeld van God bestaan in kennis, geregtigheid en heiligheid. Ons DL
formuleer dit so: "Die mens is van die begin af na die beeld van God
geskep. Verstandelik was hy toegerus met ware en heilsame kennis van sy Skepper
en van geestelike sake. In sy wil en hart was hy met geregtigheid toegerus, en
sy hele gesindheid was suiwer. Hy was dus volkome heilig." Ons is geskep as
God se profeet, priester en koning.
As profeet kon ons God en geestelike sake reg ken. Ook die ander skepsels. So
kon Adam die diere volgens hulle soorte name gee.
As priester is ons geskep in toewyding aan God. Met hartlike liefde vir God.
Ons hele gesindheid was suiwer, op God gerig. Volkome heilig.
As koning het ons die taak gekry om namens God die skepping te regeer.
Wanneer God in Gen 1 praat van die mens as sy beeld dan verwys Hy juis na die
koningskap. "Laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van
die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde
kruip" (Gen 1:26). Ons is dus geskape om oor God se skepping te heers. Hoe
moet ons heers? Soos God dit sou doen. Ons moet God daarin afspieel, afbeeld.
Die skepsels op aarde is daar vir die mens, maar ook omgekeerd: die mens is
daar vir die skepsels, om oor hulle te regeer. Dit word duidelik geteken in Ps
8. Dawid kyk daar na die skepping. Dit tref hom hoe onbeduidend klein die mens
eintlik is. Daarom sê hy vir God: "As ek u hemel aanskou, die werk van u
vingers, die maan en die sterrre wat U toeberei het – wat is die mens dat U
aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?" In vergelyking met God se
geskape wêreld is die mens maar klein en nietig. Maar kyk hoe God die mens
gemaak het: "U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en
hom met eer en heerlikheid gekroon." God het die mens beduidend anders as
alle ander skepsels gemaak en hom in ’n katagorie naby God geplaas, ’n
weinig minder as ’n goddelike wese. Dawid gaan verder om die edele taak wat
God die mens gegee het te besing: "U laat hom heers oor die werke van u
hande; U het alles onder sy voete gestel: skape en beeste, die almal, en ook die
diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek
deur die paaie van die see. o Here, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die
ganse aarde!" (Ps 8:6-9). Ons is dus gemaak as kroon van die skepping om
oor God se skepsels te regeer op so ’n manier dat ons vir alle skepsels wys
hoe God is.
Ons begin was dus volkome goed, volmaak. Geen sonde of neiging tot sonde nie.
Volkome op God gerig as God se profeet, priester en koning. Volkome op God
afgestem. Geskape in ware geregtigheid en heiligheid. ’n Afspieeling en
verteenwoordiger van God.
Maar nou die sondeval. Wat het van die volmaakte staat geword? Ons lees in
ons DL: "Deur die ingewing van die duiwel en uit sy eie vrye wil het hy hom
van God losgeskeur en homself van die uitnemende gawes beroof."
In watter mate het die mens verdorwe geword? In Gen 6:5 lees ons dat die Here
sien "dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die
versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was." Let goed op
die sterke taal waarmee die boosheid beskryf word. Dit was groot. Dit het nie
slegs betrekking op die mens se dade, gedagtes en woorde nie, maar dit dring
selfs die diepste skuilplekke van die mens binne. Nie slegs sy hart nie, maar al
die versinsels wat hy in sy hart bedink was altyddeur net sleg. Dikwels word
gedink dat dit slegs sien op die mens in daardie fase van die geskiedenis, kort
voor die sondvloed. Maar die Here laat weet dat dit ook na die sondvloed so is.
In antwoord op Noag se offer na die sondvloed sê die Here in sy hart: "Ek
sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die
versinsels van die mens sy hart is sleg van sy jeug af" (Gen 8:21). Dis dus
nie iets wat vir die mens geld tydens ’n sekere fase van sy lewe nie, maar dit
tipeer die mens van die dag van sy geboorte tot sy dood toe. Die versinsels van
die mens se hart is sleg van sy jeug af. Die bron van al ons gedagtes, woorde en
dade is verdorwe.
Die woorde van Jer 17:9 is net so veroordelend: "Bedrieglik is die hart
bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?" Die ervaring van die
meeste christene stem hiermee saam. Selfs nadat ’n mens ’n christen geword
het en daarom beter weet, is dit onthutsend om te sien hoe huigelagtig,
bedrieglik en sleg sy hart kan wees.
Dawid laat weet dat die verdorwenheid selfs vir babas geld: "Kyk, in
ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang" (Ps
51:8). Vanaf ons ontvangenis en geboorte is ons verontreinig, sondig. Vanwee die
sondeval in paradys. Daarom bely ons in die DL 3/4.2: "Net soos die mens na
die val was, so was ook die kinders wat hy voortgebring het. As verdorwene het
hy verdorwe kinders voortgebring." Ons lees in Gen 5 vers 1-3 "Dit is
die stamboom van Adam. Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na
die gelykenis van God. Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseen en hulle
mens genoem, die dag toe hulle geskape is. Toe Adam honderd-en-dertig jaar oud
was, het hy ’n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set
genoem." God het Adam dus na die gelykenis van God gemaak. Set is egter na
Adam se gelykenis verwek. Met ander woorde: Adam het God afgebeeld.
Tussen Adam se skepping en Set se geboorte was daar egter die sondeval. Adam
het ’n seun verwek nadat hy sy vermoë om God af te beeld verwoes het. Adam
het sleg geword. So het Set, na die gelykenis van sy vader Adam gebore, die
slegtheid van sy vader weerspieel. As verdorwe vader het hy verdorwe kinders
voortgebring.
Dit is hoe dit verloop van een geslag na die volgende. Set se seun Enos is
gebore na die sondige ewebeeld van sy vader ensovoort. So dra ons ook ons
sondigheid aan ons kinders oor. Job het eens uitgeroep: "Ag, kon maar ’n
reine voortkom uit ’n onreine – nie een nie!" Job 14:4. Die mens is
sondig. So ook sy nageslag. Dit is die skaduwee wat oor elke kraambed hang.
Daarom het die Here in Lev 12 ook die reinigingsoffers bepaal vir na elke
geboorte, vir moeder en kind.
Ons is dus almal in sonde ontvang en gebore, verdorwe vanaf die begin van ons
lewe, verdorwe tot in die bron van ons bestaan. Daarom beskryf Paulus ons
natuurlike situasie in Ef 2:1-3 ook as dood wees. "En julle het Hy lewend
gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel
het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van
die lug, van die gees wat nou in die kinders van ongehoorsaamheid werk, onder
wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe
ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature
kinders van die toorn net soos ook die ander." Dis soos Paulus in Ef
4:17,18 oor die heidene skryf dat hulle wandel in die verdwaasheid van hulle
gemoed, mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van
God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart.
Wat ’n teenstelling met die volmaakte begin in paradys. Daar was ons
verstandelik toegerus met ware en heilsame kennis van ons Skepper en van
geestelike sake. In ons wil en hart was ons met geregtigheid toegerus, en ons
hele gesindheid was ons suiwer. Ons was dus volkome heilig. Maar nou as gevolg
van die sondeval: Ons het ons losgeskeur van God en onsself van die uitnemende
gawes beroof. In die plek daarvan het ons oor onsself gebring: blindheid,
verskriklike duisternis, ydelheid en verdorwenheid van verstandelike oordeel,
boosheid, rebellie en hardheid van ons wil en hart sowel as onsuiwerheid van ons
hele gesindheid.
Ons natuurlike verdorwenheid is nie ’n saak wat ons kan kleineer nie. Dis
’n huiweringwekkende werklikheid. Ons het die teendeel geword van wat ons was.
God se profeet wat God en sy wil reg kon ken het in sy verstand verduisterd
geword. God se priester wat heeltemal aan God toegewy was, suiwer in sy hele
gesindheid, het vervreemd van God geword en onsuiwer in sy hele gesindheid. God
se koning wat tot God se eer oor alle skepsels geheers het, het ’n slaaf van
satan en die sonde geword. Die kroon van die skepping het oor homself gebring
boosheid, rebellie en hardheid van sy wil en hart.
Die verskil tussen voor en na die sondeval is dus nie slegs ’n verskil van
meer en minder nie. Dis nie so dat die natuurlike mens nou slegs meer moeite het
om God te soek en te dien nie, dat hy nou meer moeite het om sy vrye wil ten
goede te gebruik nie. Na die sondeval is ons wil nie meer vry nie, maar deur die
sonde gebind, ’n slaaf van satan. Ons het nie slegs halfpad geval nie, maar
heeltemal geval. Dink maar aan wat Paulus skryf in Rom 3:10-12.
Dit wil nie sê dat die mens nou so verdorwe is as satan nie. Satan is die
slegtheid self. God het in sy goedheid en geduld nog ’n rem op ons slegtheid
geplaas, sodat ons nie al die verkeerde neigings, die versinsels van ons hart
uitvoer nie en dat ons nie almal die mees verskriklike sondes bedink nie. So kan
die natuurlike mens ook nog dinge doen wat ons in die samelewing goed noem. Hy
kan vriendelik en behulpsaam wees. So maak God die lewe op aarde nog moontlik.
Sou Hy sy beteueling van die natuurlike mens laat vaar dan sou dit werklik ’n
hel op aarde wees. Ons hoop na aanleiding van die volgende artikels van die DL
later meer hieroor te kan sê. Wat ons egter wel moet besef is dat die mens na
die sondeval onbekwaam is tot iets goeds wat sou kon salig maak. Die mens kan
wel sekere maatskaplike goeie dinge doen, maar dit is nie werklik goed in die oe
van God nie. Waarom nie? Omdat dit nie uit geloof en tot eer van God gebeur nie.
In alles wat die gevalle mens doen is daar die sonde. Die verdorwenheid raak dus
ons hele bestaan. Van nature is alles in ons verontreinig, besmet, verdorwe.
Is daar dan nog wel hoop vir die mens? Ons het gesien dat die verdorwenheid
van ouers op kinders oorgedra word. Elk kind word daarmee gebore. Dis ’n bose
kringloop waarin die mens homself vasgevang het. Is daar dan nog wel uitkoms uit
die bose kringloop? Ons belydenis wys in art 2 op die uitsondering Jesus
Christus. "Die verdorwenheid het van Adam af op al sy nakomelinge
oorgegaan. Net Christus is hierin ’n uitsondering." In sy genade het God
die bose kringloop deurbreek. Christus is nie uit die man gebore nie. Die engel
Gabriel sê vir Maria: "Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van
die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word,
Seun van God genoem word." Luk 1:35. Let op die titel die Heilige. Deur die
ingryping van die Heilige Gees, buite die normale orde van die voortplanting om,
is hierdie kind heel besonder. Heilig, die Seun van God. God en mens in een
persoon. Sonder sonde. God deurbreek die ketting van verdorwenheid deur ’n
volmaakte man te gee, wat vir die sondes kan betaal. Die engel herhaal hierdie
boodskap vir Josef, wat nie weet wat om te maak met die situasie. "Josef,
wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek
is, is uit die Heilige Gees; en sy sal ’n seun baar en jy moet Hom Jesus noem,
wat dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos." (Mt 1:20,21).
Hier sien ons in verwondeing die grootheid van God se genade. Ook die
grootheid van ons verlossing. Terwyl ons onsself vanuit die hoë posisie in die
paradys in die verderf gestort het en onsself vasgevang het in die bose
kringloop van die verderf, het God sy eie Seun gestuur en vir ons oorgegee in
die dood. Om ons te red. Een van ons. ’n Ware mens. Maar ook ’n volmaakte
mens. ’n Ongeskonde beeld van God. In Hom is daar weer uitkoms. In Hom kan u
en ek weer vernuwe word na die beeld van ons skepper. Uit onsself is daar geen
moontlikheid nie. Ons is mos totaal verdorwe. Ons kan en wil nie tot God
terugkeer nie. Ons kan ons verdorwe natuur nie verbeter of onderneem om dit te
verbeter nie. Dit kan slegs deur ’n ingryping van God gebeur. Jesus Christus,
ontvang van die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria. Ons wat glo, opnuut
gebore deur die Gees van Christus. Vernuwe na die beeld van God. Sien hier die
volmaakte begin, die totale verdorwenheid as gevolg van die sondeval en die
volmaakte herstel in Jesus Christus.
AMEN
Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.
(kyk in preek)