Paulus roep op tot troue ampsbediening.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-11-25
Teks: 
Handelinge 20
Preek Inhoud: 

Handelinge 20:28

Ds C Kleyn - Sondag 25 November 2001

Lees:

Handelinge 20:17-38.
Sing: Ps 100:1,2; Ps 100:3,4; Ps 80:1,10; Ps 135:1,2; Ps 134:4; Ps 23: 1 (2de beryming).

Tema: Paulus roep op tot troue ampsbediening.

  1. die voorwaarde van die ampsbediening;
  2. die inhoud van die ampsbediening; en
  3. die erns van die ampsbediening

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In hierdie diens ontvang ons weer vyf nuwe ampsdraers. By so ’n geleentheid is dit goed om ons te besin oor die posisie van ampsdraers. Hoe moet ons hulle beskou? Wat moet hulle doen? Wat mag ons van hulle verwag en wat mag hulle van ons verwag?

In ons teks spreek Paulus die ouderlinge van Efese aan. Paulus is op pad na Jerusalem. Bewus dat gevangenskap en verdrukking vir hom wag. Die Gees het dit vir hom bekendgemaak. Paulus het haas. Hy wil met Pinkster in Jerusalem wees. Daarom kan Hy Efese nie besoek nie. Pleks daarvan ontbied hy die ouderlinge van Efese na Milete. Paulus spoor die ouderlinge aan tot getroue ampsbediening. So spoor God ons vandag nog steeds aan tot troue uitoefening van ons amp.

Dis waar, die teks praat slegs van ouderlinge. Maar baie van wat vir ouderlinge geld, geld ook vir die diakens. Daarom het die teks ’n boodskap vir alle ampsdraers. Ja, God spreek ons almal aan sodat ons kan weet watter posisie die ampsdraers van God ontvang het en wat Hy van ons in die amp van alle gelowiges verwag.

Ek verkondig vir u: Paulus roep op tot troue ampsbediening

  1. die voorwaarde van die ampsbediening
  2. die inhoud van die ampsbediening
  3. die erns van die ampsbediening

Paulus herinner die ouderlinge aan sy werk in hul midde. Laat hulle nie vergeet hoe hy die Here in hul midde gedien het, met alle nederigheid en baie trane en beproewinge. Hy het hulle die volle evangelie gebring. Hy het nie geaarsel om te sê wat hy moes sê nie, in die openbaar en van huis tot huis. Daaruit konkludeer hy in vers 26: "Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal." Indien iemand sou afval, dan kan hy Paulus nie die skuld daarvan gee nie. Hy is rein van hulle bloed.

Maar, gemeente, nou is dit die taak van die ampsdraers om die werk voort te sit. Daarom wend Paulus hom nou tot die ampsdraers met die woorde: Gee dan ag op julleself en op die hele kudde. Let op die volgorde. Wanneer ’n mens ampsdraers aanspreek op hul roeping dan dink jy meestal eers aan hul roeping teenoor die gemeente. Tog noem Paulus hier as eerste: gee ag op julleself. Dit het voorrang. Jy leer om ag te gee op die gemeente soos jy ook ag gee op jouself. As ampsdraer moet jy eers aandag aan jouself gee. Jy moet eers jouself bewaak. Slegs dan sal jy in staat wees om goed ag te gee op die kudde.

Hierdie oproep van Paulus het te doen met wat Paulus in die voorgaande oor homself gesê het. Paulus het vir hulle ’n voorbeeld van troue ampsbediening nagelaat. Die ampsdraers moet sy voorbeeld volg. Daarom moet hulle eers ag gee op hulleself. Hulle is opsieners, voorgangers, wat die gemeente moet kan volg. Hulle moet ’n voorbeeld vir die gemeente wees. Daarom, gee ag op julleself. Dis ’n voorwaarde vir die ampsbediening. Pas julle self goed op.

Hierdie oppassendheid sien op jou leer en lewe, wat jy glo en wat jy doen. Paulus het die volle en suiwere evangelie verkondig. Wel, pasop dat julle die suiwere woord van God vashou en uitdra. Volhard in die waarheid. Dis die eerste vereiste. Wie dit nie doen nie, kan onmoontlik sy amp trou vervul. Dan is jy nie in staat om die gevare van binne en van buite die kerk te bestry nie. Dan is jy nie in staat om die skape te beskerm teen dwaalleer en valse leraars, wolwe in skaapsklere wat die kudde nie sal spaar nie. Dan sal jy nie in staat wees om die gemeente te beskerm teen manne wat uit julle eie midde opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.

Daarom moet julle waak, sê Paulus in vers 31. Hou wag by die verkondigde woord. Die opsiener moet vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sê Paulus in Titus 1:9, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê. Om aan die onvervalste evangelie vas te hou, is nodig om te kan vermaan en weerlê. By die woord vermaan moet u nie slegs dink aan teregwysing nie. Die oorspronklike woord is veel breër in sy betekenis en sien op allerlei maniere waarop jy die gelowige in sy konkrete situasie aanspreek. Na gelang van die pastorale situasie kan die woord beteken: waarsku (bv by sonde en afval), aanspoor, bemoedig, troos ens. Om iemand in sy persoonlike pastorale situasie te kan aanspreek is dit ’n voorwaarde dat jy self vashou aan die woord van God. Dieselfde geld vir die weerlê van teësprekers. Dit kan jy nie doen as jy nie self die woord goed vashou nie.

Ons voorouers het daarom ook gesê dat ampsdraers nie sonder geestelike oefeninge kan wees nie. Daarmee het hulle bedoel die lees en oordenking van die Skrif en die gebed. In ons bevestigingsformulier lees ons: "Om hierdie diens as herders oor die hele kudde van God getrou te kan uitoefen, is dit nodig dat ouderlinge die Woord van God deeglik ondersoek en hulle oefen in die diens van God." Deur self die woord van God te ondersoek en ons te oefen in die diens van God kan ons bruikbare instrumente van God wees. Slegs wanneer ons onsself geestelik bly verryk kan ons die rykdom met ander deel.

Geliefdes, in ons besige samelewing is die gevaar groot dat die geestelike oefening in gedrang kom. Waak dan dat u die tyd bly neem daarvoor. Dis geen verlore tyd nie. Dis ’n voorwaarde vir die ampsbediening. Wie getrou is in die verborge omgang met God, die sal die groot geheim van alle ampsbediening ontdek: jy kan ander troos met die troos waarmee jyself deur God vertroos word. God stel jou in staat om dinge te doen en te sê waartoe jy jouself onbekwaam geag het.

Die ag gee op jouself sien nie slegs op die leer nie, maar ook op die lewe. Ons lewe moet getuig van die vernuwende krag van die Gees. Paulus skryf later aan Timoteus: "Wees ’n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid." (1 Tim 4:12). As ek self nie die Here in alles wil dien nie, dan maak dit geen sin om ander mense daartoe aan te spoor nie. As ek myself nie ter wille van God kan verloën nie, hoe kan ek dan ander oproep om hulleself in navolging van Christus te verloën? Indien ek self nie bereid is om met sondige praktyke te breek nie, hoe kan ek ander oproep om hulleself te bevry van al die moderne afgode? Indien my lewe as ampsdraer aanstootlik is, dan verhinder ek die opbou van die gemeente. Dis dus van groot belang dat die ampsdraers noulettend ag gee op hulleself. Pas julle self op. Wees in leer en lewe voorbeelde vir die gemeente, voorgangers wat die skape kan volg.

Gemeente, die besondere amp is geen ereposisie nie. Dis om te dien. Daarom is daar geen plek vir self handhawing nie. Laat God se woord geld en nie die joune nie. Soek geen beloning of waardering nie. Doen alles vir Christus en sy gemeente. Laat 1 Kor 13 u gids wees in u omgang met die lidmate. Kom ons lees saam die verse 4-7. Dit geld natuurlik vir ons almal, ook in die amp van alle gelowiges.

Maar wie is in staat om so te dien? Ons bly tog sondige en swak mensekinders? Onthou egter, dis nie u sukses wat u in die amp gebring het nie. Dis God se roeping. En dis nie u prestasie wat u in staat stel om te dien nie. Dis God se werk in u. Laat u mislukkinge u nie ontmoedig nie. Leer daarvan en laat dit u aanspoor tot groter trou. Bely u foute en neem u voor om dit te verbeter. Gaan aan met u werk in die krag en wysheid van u Sender. Laat die lewende en kragte woord van God u gids en metgesel wees.

Nou die tweede gedagte: die inhoud van die diens. Na die oproep "Gee ag op julleself" vervolg Paulus, "en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg." Hier het u die inhoud van die ampsbediening.

Om ag te gee op die kudde word nader omskryf met woorde wat wys op die werk van ’n herder. Die ouderlinge is opsieners om as herders te versorg. Hulle moet toesien op die hele kudde, maar nie soos opsigters of inspekteurs nie. Die woord ‘opsiener’ het in die Bybel altyd ’n warme, pastorale klank. ’n Opsiener is iemand wat omsien na die kudde, iemand wat vir die skape omgee en hom vir hulle wil inspan. Ons sou miskien beter van ‘omsieners’ kan praat. Ampsdraers sien om na die gemeentelede. Die woord is tipies ’n pastorale woord. Die verband bevestig dit. Daar word gepraat van die kudde wat julle as herders moet versorg. Dis ’n bekende beeld vanuit die Bybel. In Joh 10 noem Jesus Christus Homself die goeie herder. Hierdie beeldende taal vat die diens van die ouderlinge saam. Hulle is onderherders van Christus wat die skape moet wei.

Die kinders kan ons wel vertel wat die taak van ’n herder is. Wat moet ’n herder doen? ’n Herder moet vir die skape sorg. Hy moet daarvoor sorg dat die skape voldoende voedsel en water het. Hy moet aandag gee aan die verdwaalde, die gewonde en die sieke skaap. So moet die ampsdraer in naam van Christus aandag gee aan die node van die gemeentelede. Die individuele lidmaat kry by die herderswerk ’n sekere aksent. Die verlorene word opgesoek, die verdwaalde teruggebring, die gewonde verbind, die sieke gesterk. Paulus verwys na hierdie werk in 1 Thess 5:14 wanneer hy skryf (en let daarop dat hy dit vir die hele gemeente sê) "vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal."

Geen enkele skaap mag aan ons aandag ontglip nie. Paulus praat uitdruklik van die hele kudde: "gee ag op die hele kudde." In die gemeente is mense verskillend. Die een kan plesierig wees, die ander moeilik. Die een gewillig, die ander koppig. Maar al die lidmate het aandag en sorg nodig. Ons mag ons nooit laat lei deur ons persoonlike voorkeure en simpatie nie. Ons moet sonder aansien van die persoon werk. Dis geen maklik taak nie. Maar daarvoor is ons herders. Nie een van die skape mag verwaarloos word nie. Miskien moet selfs die minder simpatieke lidmaat juis ekstra aandag ontvang. Sulke lidmate stel ons trou op die proef. Gee ons werklik om vir die skape, of gee ons meer om vir onsself?

Broeders en susters, hierdie pastorale sorg blyk ook daarin dat ons die lidmate opsoek in hul huise. Daar word die lidmate opgesoek en aangespreek in hul konkrete lewenssituasie. Daar word gewerk aan gepaste voeding. God se woord word daar konkreet bedien, toegespits op die konkrete situasie en node.

Dis nie eenvoudig nie. Wie is in staat om die juiste woord op die juiste oomblik te spreek, om altyd met die toepaslike woord van God te kom? Ons skatting van die situasie en van die nood is dikwels gebrekkig, soms selfs gewoon fout. So is ook ons kennis van God se woord en wil dikwels gebrekkig. Wie is dan in staat om so ’n pastorale taak te vervul? Ons besef des te meer hoe belangrik Paulus se eerste woord is: gee dan ag op julleself. Hou vas aan God se woord. Lees, oordink en bestudeer dit. Bid daaroor. Vra God vir wysheid en insig. Want inderdaad is ons uit onsself nooit in staat om so ’n taak te vervul nie. Maar onthou: Hy wat julle roep is getrou; Hy sal dit ook doen. Gaan by Hom te rade en gaan met Hom.

So kom ons by die derde gedagte: die erns van die ampsbediening.

Paulus skryf: gee ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het. Ons het nie vir die amp gesollisiteer nie. Ons het nie onsself aangestel nie. Christus het die amp ingestel. Christus het die ampsdraers aan sy gemeente gegee deur sy Gees. Dis waar, daarby het die Gees wel van ons mense gebruik gemaak. Die gemeente het gestem en op grond van die uitslag van die stemming het die kerkraad benoem. Tog is dit in prinsipe nie die gemeente nie, maar Christus wat ampsdraers aan sy gemeente gee. Daarom sê Paulus vir die ouderlinge van Efese, wat hy waarskynlik self benoem het, dat die Heilige Gees hulle aangestel het.

Daarom is die kerk ook geen demokrasie nie. Dis nie so dat die ampsdraers die wense van die lidmate moet opvolg nie. Nie die lidmate, maar Christus regeer in die kerk. As die ampsdraers eenmaal deur die Gees, via die gemeente, aangestel is, dan moet hulle die instruksies van die Gees opvolg. Ons moet die wense van die goeie Herder Jesus Christus vertolk. Ons staan in die eerste plek in sy diens. Ook al is dit ten dienste, dws tot heil van die gemeente.

Dit is, broeders, die erns van u amp. U is deur God self geroep. U kom namens u goddelike sender. U mag in sy naam die herderlike sorg oor die gemeente uitoefen. Dit stel aan die een kant hoë eise aan u ampsbediening. U moet u hemelse opdraggewer opvolg en verteenwoordig. Aan die ander kant mag dit u ook rus en vertroue gee. God self het u daartoe geroep. Hy sal dan ook, as u Hom daarin ken, die nodige kragte en wysheid gee.

Nee, dit wil nie sê dat u dit altyd maklik sal doen en goed sal doen nie. Ons bly sondige en swak mense. Ons hemelse opdraggewer weet dit beter as enigiemand. Tog wil Hy ons gebruik. Hy sal dan ons onvolmaakte dade, wat in getrouheid gedoen word, bevestig. Hy sal krag gee aan ons nederige woorde en dade sodat dit sy doel bereik. Hy sal as ‘t ware sy handtekening plaas onder ons troue ampsbediening. Hy sal dit aanvaar as sy werk. En dan sal dit wees: wie hierdie manne wat in my naam kom, nie aanvaar nie, aanvaar nie my nie. En wie My nie aanvaar nie, sal nie deur my Vader aanvaar word nie. Sien hier die hoogheid en erns van u ampsbediening.

Dis ook vir u as gemeente van groot belang. As u ampsdraers op besoek kry, dan is dit geen burgerlike amptenare nie, maar dienaars van Christus, mense deur wie Christus sy herderlike sorg wil uitoefen. Hulle kom om die individuele toegespitste herderlike sorg te gee. Broeders en susters, werk dan saam dat hulle die gepaste sorg ook kan gee. Sluit die deur van julle hart nie vir hulle toe nie. Dit sou die herderlike sorg onmoontlik maak.

Bowendien, laat ons nie te kieskeurig wees in wat ons ontvang nie. Natuurlik as iets duidelik teen God se woord ingaan, dan moet u dit verwerp. Maar as julle dit doen, negeer dan nie die ander dinge wat wel ooreenkomstig God se woord is nie. Gestel dat die skape niks sou eet nie, omdat hulle onkruid tussen die gras gevind het. Sulke skape sou kies vir hongersnood en dood. Dieselfde geld vir my wanneer ek so onwys is om alles wat die ampsdraers sê te weier, omdat daarby dinge is wat minder prettig is of self onverteerbaar. Hoe dwaas om die hele maaltyd te weier vanweë ’n paar tekortkomings. Dan vra jy vir verarming. Nee, julle sal nooit ’n volmaakte weide of volmaakte herders vind nie. Onkruid sal altyd aanwesig wees. Laat ons eerlik wees, uiteindelik is jyself onvolmaak. Daarom het ons mekaar nodig. Onthou dit het God behaag om die swak, sondige instrumente in sy diens te gebruik. Wees oop vir wat hulle sê en doen. Aanvaar dankbaar die goeie dinge wat God dmv hulle gee. En het geduld met hulle gebreke omdat God ons deur hulle wil regeer. Dan sal jy ook daarby baat vind.

Gemeente, die erns van die amp word ook benadruk in die laaste woorde van die teks: om die gemeente te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Dink daaroor na waarmee u as ampsdraer besig is: Christus se kosbare besit. Die gemeente wat Hy deur sy bloed gekoop het. Die gemeente waarvoor Hy so ’n groot prys betaal het, naamlik sy eie lewe. Wat ’n eer om vir so ’n skat van Christus te mag sorg. Wat ’n verantwoordelikheid. Iets wat ’n mens met groot sorg hanteer. Gestel dat een van die dure skape sou afval as gevolg van my nalatigheid. Geen sorg is te groot vir die kosbare besit van Christus nie.

Broeders en susters, sien u uself as die kosbare besit van Christus waarvoor Hy sy lewe gegee het en aan wie Hy nou sy onderherders gee? Broeders ampsdraers is u bereid om herders te wees van so ’n skat van Christus? Gee dan ag op julleself en op die hele gemeente. Hy wat julle roep is getrou, Hy sal dit ook doen. Volg Hom in getroue ampsbediening.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)