Vir wie het Jesus Christus gesterf, oftewel: wie het Hy kom verlos?

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-11-18
Teks: 
Dordtse Leerreëls 2
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 2 Art. 8

Ds C Kleyn - Sondag 00 Maand 2001

Lees:

Johannes 6:37-40; Johannes 10:1-30; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 2 Art. 8.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 95:4; Ps 103:1,2; Ps 23 (2de beryming).

Tema: Vir wie het Jesus Christus gesterf, oftewel: wie het Hy kom verlos?

  1. ’n Uiteensetting van die Skriftuurlike leer;
  2. Die bestryding van die Skriftuurlike leer; en
  3. Die rykdom van die Skriftuurlike leer.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vir wie het Christus gesterf? Ons weet dat sy offer oorvloedig genoeg is om die sondes van die hele wêreld te versoen. Beteken dit dat Hy die sondes van alle mense versoen het? Christus het deur sy kruisdood die toorn van God tee die sondes gestil. Het Hy dan die toorn van God vir alle mense gestil? Hy het gekom om mense van die vloek van die wet te verlos. Wie het hy dan verlos?

Dis die sentrale vraag van die 2e hoofstuk van die DL. Daaroor wil ek ook vanaand preek as ek die vraag aanspreek: Vir wie het Jesus Christus gesterf, oftewel: wie het Hy kom verlos?

Ons gee eers ’n uiteensetting van die Skriftuurlike leer

Daarna let ons op die bestryding van die Skriftuurlike leer

Ten slotte sien ons die rykdom van die Skriftuurlike leer

Wie het Jesus Christus kom verlos? Kom ons kyk eers saam na wat die Skrif hieroor sê. Ons lees in Mt 1:21 dat die engel vir Josef sê: "En sy (Maria) sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos." Wie, sê die engel, sal Hy verlos? Vir wie kom Hy verlossing bewerk? Nie vir alle mense nie, maar vir sy volk. Dis ’n sekere groep mense. Mense wat die Vader aan sy Seun gegee het. Sy volk, sy eiendom. Christus sal hulle nie slegs die moontlikheid gee om van hul sondes verlos te word nie. Nee, Hy sal hulle van hulle sondes verlos.

Hierdie leer word duidelik bevestig in Joh 10:11 waar Jesus sê: "Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape." Vir wie lê Christus dan sy lewe af? Vir bokke? Nee, vir die skape. Maar wie is die skape waaroor Hy hier praat? Is dit mense wat die goeie keuse vir Christus gemaak het of sal maak? Kom ons kyk na die vervolg van die geskiedenis. Ons lees saam die verse 22 tot 26. Let op vers 26: Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie. Ons is geneig om te dink dat ’n mens nie van sy skape is nie omdat hy nie glo nie. Jesus sê egter: julle glo nie, want julle is nie van my skape nie. My skape luister na my stem. Hulle wat skape van Christus is, luister dus na sy stem.

Kom ons lees verder die verse 27 tot 30. Wat sê die Here Jesus in hierdie perikoop? Sommige mense glo nie. Waarom nie? Omdat hulle nie sy skape is nie. Ander mense luister wel na sy stem. Waarom? Omdat hulle sy skape is. Hy ken hulle en hulle volg Hom en Hy gee hulle die ewige lewe.

Hoe weet ’n mens wie ’n skaap is en wie nie? Die skape glo. Waarom is sommige mense skape en ander nie skape nie? Omdat die Vader sekere mense aan sy Seun gegee het (vers 29). Ja, sekere mense word aan die seun gegee. Hulle word skape genoem. Christus lê sy lewe af vir sy skape (verse 11,15). Hulle glo. Die ander glo nie omdat hulle nie skape is nie. As jy glo, dan is dit omdat jy een van sy skape is, omdat die Vader jou aan die Seun gegee het. As jy glo dan mag jy daarom seker weet dat Christus vir jou gesterf het, want Hy het vir sy skape gesterf.

Ons moet Joh 10 saamlees met Joh 6:37 ev. Kom ons lees opnuut Joh 6: 37-40. Waarom het die Here Jesus uit die wêreld neergedaal? Om die wil van die Vader te doen. Wat is dan die wil van die Vader? Dat Jesus van die wat die Vader aan Hom gegee het, nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. Elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo sal die ewige lewe hê. Dis dieselfde mense as wat die Vader aan Christus gegee het. Wat die Vader uitgekies het om verlos te word en wat Hy daarom aan sy Seun gegee het.

Vir wie het Christus kom red? Hulle wat die Vader vir Hom gegee het. Wat beteken dit dat Hy sy volk, sy skape van hulle sondes verlos? Hulle kry nie slegs die kans om gered te word nie, maar hulle sal ook werklik gered word. Heeltemal gered word. Christus sal hulle die ewige lewe gee en hulle opwek in die laaste dag.

In die Skrif sien ons steeds weer dat Christus ’n sekere groep persone op die oog het. Sy volk, sy skape. Sy kerk. In Hand 20:28 word van die gemeente van God gesê dat Hy dit deur sy eie bloed verkry het. Wie het Christus deur sy bloed gekoop? Die gemeente van God. Wie het Christus liefgehad en vir wie het Hy Homself oorgegee? Vir die gemeente, lees ons in Ef 5:25. Hy beoog die heiliging van sy gemeente sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks (vers 27).

Dan praat die Skrif ook van die uitverkorenes. Dink aan die woorde wat ons elke keer na die nagmaal aanhaal. "Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? (Rom 8:32). Wie is dan die ‘ons’ vir wie God sy Seun oorgegee het? Volgens die verband is dit duidelik dat die uitverkorenes bedoel word. In die volgende vers lees ons: "Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak."

As ons kyk na die verse wat aan die teks voorafgaan dan sien ons dat God vantevore verordineer het om sekere mense te verlos. Ons lees die verse 29,30: "Want die wat Hy vantevore geken het (in sy verkiesende liefde), die het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, die het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, die het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, die het Hy ook verheerlik." Watter mense gee God aan sy Seun om te verlos? Die mense wat God vantevore geken, in sy liefde gekies het. Christus het vir hulle gesterf en sal hulle ook werklik en heeltemal verlos en verheerlik.

Maar hoe sit dit dan met die gedeeltes uit die Skrif wat praat van die redding van ‘alle mense’ of van God se liefde vir en versoening van ‘die wêreld’? Ons lees bv in 1 Tim 2:1-4 dat ons moet bid vir alle mense, vir konings en almal wat hooggeplaas is. "Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom." Hier staan tog dat God wil hê dat alle mense gered word?

Broeders en susters, ons moet besef dat die Bybel dikwels die woorde "wêreld" en "alle mense" in ’n beperkte sin gebruik. Die woorde moet altyd in hul konteks en in die lig van die res van die Skrif verklaar word. Ons moet dit trouens by elke geskrif wat ons lees doen. As ek bv in ’n koerant lees dat ’n skip gesink het maar dat alle mense gered is, dan is dit duidelik dat dit beteken dat almal wat op die skip was gered is en nie dat alle mense in hierdie wêreld gered is nie. Dieselfde geld vir die Bybel. Wanneer Lukas vermeld dat keiser Augustus beveel het dat die hele wêreld ingeskryf moes word en dat almal gegaan het om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad (Lukas 2:1-3), dan is dit duidelik dat almal nie alle mense is nie. Die Japanese, Chinese en die Angel-Saksers het hulle bv nie ingeskryf nie.

Wanneer die Skrif dan praat van ‘alle mense’ of ‘die wêreld’ dan moet ons dit altyd mooi lees in die verband en in die lig van die hele Skrif om te sien wat God daarmee bedoel. God spreek Homself nie teen nie. Vanuit die tekste wat ons uit Mt 1, Joh 6 en 10 en Rom 8 reeds bekyk het, is dit onomstootlik duidelik dat Christus gekom het en gesterf het om hulle te red wat die Vader in sy verkiesende liefde vir Hom gegee het. Wat God dan in die ander gedeeltes skryf oor alle mense kan dit nie weerspreek nie.

So is dit dan volkome in harmonie met die konteks en met die hele Skrif as ons die woorde "alle mense" van 1 Tim 2 verklaar as alle soorte mense, mense van elke rang en stand. Daar staan mos dan ons voorbede moet doen vir alle mense. Dit kan onmoontlik sien op alle individuele mense van hierdie wêreld, hoof vir hoof. Hoe moet jy ooit voorbede doen vir elke individuele persoon op aarde? Nee, ons moet voorbede doen vir alle soorte mense, bv vir konings en almal wat hooggeplaas is. God wil hê dat alle soorte mense, Jode en Grieke, regeerders en onderdane, slawe en vrye gered word.

In 2 Kor 5:14 lees ons dat Christus as een vir almal gesterf het. Uit die verband is dit duidelik dat almal hier in beperkte sin bedoel word. Daar word mos gesê dat as een vir almal gesterf het, hulle almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is. Almal vir wie Christus gesterf het, het ook self gesterf. Ons weet egter dat nie elke individuele persoon vir die sonde gesterf het nie. Dis dus duidelik dat die almal hier in beperkte sin gebruik is vir almal wat by Christus behoort. Ja, wat beteken dit dat Christus vir iemand sterf? Dit beteken tog dat hy deur sy dood die persoon van die dood bevry sodat hy lewe? Wel, wie is van die dood bevry en het die lewe? Nie elke individue nie, maar hulle wat aan Christus gegee is.

’n Laaste voorbeeld in hierdie verband. Ons lees in 2 Pt 3:9: "Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom." Staan hier nie dat God wil hê dat almal tot bekering kom nie? Dit lyk in stryd met God se wil in Jesus Christus om hulle wat Hy in sy liefde aan die Seun gegee het te red. As ons egter mooi lees en uitgaan van die eenheid van die Skrif dan sien ons dat die Here hier praat van ‘ons’. Die Here is lankmoedig, geduldig oor ons. Hy wil nie hê dat sommige van ons moet vergaan nie, maar dat almal van ons tot bekering kom. Wie is hier die ons? Dit gaan oor God se uitverkore volk vir wie Petrus die brief skryf. Elkeen van God se uitverkorenes moet tot bekering kom. Eers dan sal Christus terugkom.

Wat die uitdrukking "wêreld" betref, dit dui nooit op die mensdom hoof vir hoof nie. God het sy geskape wêreld, sy meesterstuk lief en sal dit in die oorblyfsel van sy genade red. Soos Hy sy Ou Testamentiese volk uit die ballingskap gered het in die oorblyfsel wat teruggekeer het.

Gemeente, hierdie leer van die redding van slegs die uitverkorenes is vir ons mense moeilik om te aanvaar. Ons wil liewer hoor van die redding van alle individuele mense of in elke geval van gelyke kanse vir almal. So gebeur die maklik dat ons skeiding maak tussen die verwerwing (of verkryging, verdiening) van die heil en die toe-eiening van die heil. Soos die Remonstrante dit eeue gelede reeds gedoen het. Volgens die Remonstrante het Christus vir alle mense gesterwe. Dws deur sy dood het Christus vir alle mense die versoening en die vergewing van sondes verdien. So kry elkeen dan die kans om gered te word. Of die mens die verlossing ook werklik ontvang sou dan afhang van sy keuse vir of teen Christus. Met ander woorde, die verwerwing van die heil sou van Christus afhang en sou vir almal geld, terwyl die toe-eiening van die heil van die mens self sou afhang. Ons lees hiervan in die VvdDwalings 6.

Wat is verkeerd met hierdie gedagtes? Daar is twee sake wat ek wil noem. Om so die verwerwing en die toe-eiening van die verlossing te skei, beteken ’n onderwaardering van Christus se offer en ’n oorwaardering van die mens.

Eers dan die onderwaardering van Christus se offer. Wat het Christus met sy offer beoog en gedoen? Wou Hy sy Vader daarmee ’n nuwe kans gee om met die mens verder te gaan? Wou Hy die mens ’n nuwe kans gee om gered te word? Wanneer die Bybel die kruisdood van Christus noem dan praat dit nooit oor ’n moontlikheid wat Christus daarmee geskep het om gered te word nie. Christus het metterdaad die redding bewerk.

Dink aan die tekste wat ons in die eerste punt reeds genoem het. Hy verlos sy volk van hul sondes. Hy lê sy lewe af vir sy skape. Hy gee hulle die ewige lewe en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie. Nie een van hulle wat die Vader vir die Seun gegee het sal Hy verloor nie. Hy het ons met sy bloed versoen met God.

Dink ook aan die bekende woorde: "God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is." (Rom 5:8-10). Christus het ons nie slegs ’n kans gegee om gered of versoen te word nie. Hy het deur sy dood volkome verlossing bewerk. Beide die verwerwing van die heil en die toe-eiening daarvan is die werk van Christus. Hy is ’n volmaakte verlosser wat sy verlossingswerk nie halfpad verrig nie, maar dit voltooi tot die volkome heerlikheid.

Broeders en susters, die skeiding van die verwerwing en die toe-eiening van die verlossing beteken nie slegs ’n onderwaardering van Christus se offer nie, maar ook ’n oorwaardering van die mens. Volgens die opvatting sou Christus dan die heil vir ons verwerf, verdien. Ons sou dan self moet sorg dat dit ons ten goede kom. Ons sou dit kan aanneem of verwerp. Maar, gemeente, besef ons wel voldoende hoe ons posisie is na die sondeval. Paulus noem ons van nature dood deur ons misdade en sondes (Ef 2:1,5). Kan ’n dooie iets doen? Kan ’n geestelik dooie die heil wat Christus verwerf het, self aangryp, soos ’n pasiënt die medisyne op sy bedkassie neem en opdrink? Kan ek, van nature geestelik dood, uit myself die evangelie van verlossing aanneem? Nee tog. Om dit te kan doen moet ek eers lewend gemaak word. Deur die Gees van Christus, as vrug van sy versoenende dood.

So lees ons dat die Here Lidia haar hart geopen het om ag te gee op wat deur Paulus gesê is (Hand 16:14). So lees ons dat daar gelowig geword het almal wat verordineer was tot die ewige lewe (Hand 13:48). So lees ons dat dit genadiglik aan ons gegee is om in Christus te glo (Fil 1:29). Gelukkig is dit God wat in ons werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. Anders sou daar nooit iets van kom nie. Ons sou geestelik dood bly. Die verlossing is gelukkig nie afhanklik van die keuse van ons mense nie, ’n keuse wat ons sonder God se lewendmakende Gees nooit sou kan maak nie.

So kom ons by die laaste gedagte: die rykdom van die skriftuurlike leer van Christus se verlossingswerk.

Wat ’n liefde van God. Om dooie sondaars, vyande te wil red en ook metterdaad te red. Christus het nie slegs vir ’n onbekende groep mense gesterwe, in die hoop dat hulle eenmaal sy verlossing sou aangryp nie. Nee, Hy het my reeds vanaf die begin op die oog gehad. Die Vader het my aan Hom gegee. Christus het vir my gesterwe. My met God versoen. My die geloof gegee en my verlos.

Gee hierdie gedagte dat alles van God afhanklik is en ook van God kom geen rede tot vrees nie? Gestel dat ek nie tot die uitverkorenes behoort nie? Hoe weet ek of ek deur die Vader aan die Seun gegee is om gered te word? Kan dit nie lei tot vertwyfeling of selfs wanhoop nie? Die omgekeerde is waar. Om te dink dat dit afhanklik van my keuse en my toe-eiening sou wees, sou juis tot vertwyfeling kan bring. My geloofskeuse is mos nie altyd ewe sterk nie. Soms kan ek gaan twyfel aan my geloof. Wat dan, as dit van my geloof en werke afhang? Dis dan soos ’n anker wat in die ruim van die skip gewerp word. Dit gee geen vastigheid nie. Die skip word nog steeds heen en weer gedryf deur die golwe en die stroom. As dit van my keuse afhanklik sou wees, sou ek nooit ware blywende verankering van my lewe vind nie. Maar nou mag ek weet dat my lewe vas veranker is in Vader se keuse en Christus se dood. Ek hoor mos sy woorde van heil. Hy het my hart daarvoor geopen. En sy woorde is betroubaar. Hy het reeds ’n begin van sy verlossing in my lewe bewerk. Hy sal dit voltooi. Ook in my donkerste nag weet ek dat Hy sy beloftes vir my sal waarmaak. Ek is mos opgeneem in ’n ewige verbond, wat nie afhanklik is van my wisselende stemming en ervaring nie, maar van sy betroubare woorde.

Hierdie skriftuurlike leer gee ook bemoediging by die werk van evangelisasie of sending. Ek sal die geleenthede wat Hy vir my gee gebruik. Want daar kan skape wees waarvoor Christus sy lewe afgelê het. Wie die skape is weet ek nie, maar die skape sal na sy stem luister. Hulle sal tot geloof kom. Daarom hoef ek slegs getrou die stem van die goeie herder te laat hoor. Indien ek dit doen dan sal die skape die stem herken en luister. Hulle heil is nie afhanklik van my nie, maar van God. Daarom is daar hoop.

Ons kom dus nie met ’n swak en patetiese Jesus wat by die mense moet bedel: asseblief, sal julle my aanneem? Ons verkondig nie iemand wat jou verlosser kan wees nie, maar een wat ’n verlosser is. Ons verkondig nie iemand wat kan red nie, maar een wat metterdaad red. Christus is geen halwe Verlosser nie, maar Hy is ’n volkome verlosser. Van begin tot einde lê my verlossing vas in Hom wat voltooi wat hy begin het.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)