Die koms van die Here as die God van die reg.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-11-11
Teks: 
Maleági 2
Preek Inhoud: 

Maleági 2:17-3:5

Ds C Kleyn - Sondag 11 November 2001

Lees:

1 Petrus 1:3-9; 4:12-19; Maleági 2:17-3:5.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 116:1,7; Ps 116:9,10; Ps 79:5,9; SB 37:3; Ps 99:3-5.

Tema

: Die koms van die Here as die God van die reg.

  • Die verwagting van die koms van die Here;
  • Die erns van die koms van die Here; en
  • Die doel van die koms van die Here.
  •  

    Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

    Rondom die kersfees sing ons ons kersliedere. Die skoolkinders en die koorlede is reeds besig om hul liedere in te oefen. Ons wil die eerste koms van ons Here Jesus op aarde herdenk en besing.

    Maar nou die vraag: Hoe sien u die eerste koms van Christus? As ’n mens allerlei kersliedjies hoor, dan sou jy dink dat Christus se koms slegs geluk en vrede beteken. Het ons egter wel goed gelet op die engele wat sing van die vrede op aarde? Hulle verskyn as soldate, ’n leërmag. Die vrede kom nie sommer nie. Dit kom langs die pad van stryd, langs die pad van ’n suiwerend gerig. Die koms van die Here was nie slegs pragtig nie, maar ook pynlik. Pynlik vir sondaars. So ook pynlik vir u en my. Dit sny diep in ons sondige vlees. Maar nog pynliker vir die vyande van Christus. Dit beteken vir hulle ’n ewige ramp.

    Jesus Christus het nie slegs gekom om vrede te bring nie, maar ook die swaard. Simeon het daarvan gepraat toe Hy die kind Jesus in sy arms geneem het: Kyk, hierdie kind is bestemd tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel. Dus nie net tot ’n opstanding nie, maar ook tot ’n val. Christus se koms bring ’n krisis in die wêreld. Soos Christus later ook gesê het: "Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ’n man en sy vader, en tussen ’n dogter en haar moeder, en ’n skoondogter en haar skoonmoeder. En ’n mens se huisgenote sal sy vyande wees." (Mt 10:34-36). Broeders en susters, moenie dit vergeet wanneer u die eerste koms van Christus herdenk nie. Dit beteken werklik nie slegs vrede nie, maar ook stryd en oordeel.

    Moenie dit vergeet nie ook wanneer u uitsien na die tweede koms van Christus. Want die twee, Christus se eerste en tweede koms, volg op mekaar. Die krisis wat Christus kom bring het, gaan voort tot die dag van sy wederkoms. Dan verskyn Christus in heerlikheid as regter oor lewendes en dooies. God se reg sal dan vergoed seëvier tot seën en tot vloek, tot bevryding, maar ook tot veroordeling.

    Daarvan lees ons reeds in die teks van vanaand.

    Ek verkondig vir u: die koms van die Here as die God van die reg

    1. Die verwagting van die koms van die Here
    2. Die erns van die koms van die Here
    3. Die doel van die koms van die Here

    Die teks begin met ’n verwyt: "Julle vermoei die Here met julle woorde." Daarop reageer dan die volk: "Waarmee vermoei ons Hom?" Ons weet van niks nie.

    Maleagi lig sy verwyt nader toe. Hy lê hul gedagtes bloot. Julle vra: waarmee vermoei ons die Here? Wel, deurdat julle sê of dink: "Elkeen wat kwaad doen, is goed in die oë van die Here en in hulle het Hy ’n behae; of waar anders is die God van die reg?"

    Die mense is blykbaar teleurgestel in die Here. Hulle sien dat dit vir mense wat kwaad doen, goedgaan. Op grond daarvan konkludeer hulle dat kwaaddoeners goed in die oë van die Here is. Die Here bestuur mos alles? Hy is tog diegene wat dit vir hulle goed laat gaan?

    Dit lyk asof God verander het. Het Hy nie in sy wet herhaal: wie My vrees, sal geseën word, maar wie my verlaat sal baie smarte hê nie? Sou God nie die goeies beloon en die slegtes straf nie?

    Die omgekeerde gebeur egter: dit gaan goed met die goddeloses. Terwyl dit met die vromes sleg gaan. As die God van die reg aanwesig is, dan is Hy blykbaar aan die kant van die boosdoeners. Waar is anders die God van die reg?

    God se volk is in hulle toekomsverwagting teleurgestel. Hulle het met verlange uitgesien na die koms van die dag van die Here. Vol verwagting het hulle uit die ballingskap teruggekeer. Daar is egter nog steeds niks te sien van die beloofde messiaanse verlossing nie. Die terugkeer het nie tot die koms van die messiaanse ryk gelei nie. God se volk is nog steeds onderworpe aan vreemde magte en moet die vyandelikhede van hul buurvolke verdra. In plaas van ’n vrederyk is daar allerlei sosiale, ekonomiese en geestelike misstande. Is dit in so ’n situasie nog wel sinvol om God te dien? Die vraag het ’n verwyt geword: die Here het ’n behae in hulle wat kwaad doen. Hy laat dit vir hulle mos goedgaan?

    Hierdie woorde vermoei die Here. Hoekom? Die Here is tog baie geduldig met sy volk? Hy kan tog baie van sy kinders verdra? En watter kind van God het nooit moeite met die feit dat dit dikwels met die goddeloses goedgaan terwyl dit met hulle juis sleg gaan nie? Waarom word die Here hier dan moeg van? Omdat dit nie ’n gelowige worsteling met die reg van God is nie. Was dit maar so dat hulle hul vrae voor God sou neerlê. Maar dit is by hulle geen vraag meer nie, dit het ’n klag geword, ’n verwyt. Hulle het reeds hul antwoord geformuleer: "Elkeen wat kwaad doen, is goed in die oë van die Here, en in hulle het Hy ’n behae; of waar is anders die God van die reg?" Hulle dring God ’n dilemma op: Hy staan aan die kant van die slegtes of Hy is afwesig. Indien die Here nie sigbaar aan my kant staan, dan kies Hy blykbaar vir die kwaad. So skryf hulle ongerymde dinge aan God toe. Asof God die voorkeur aan die kwaad sou gee.

    Hulle gaan daarvan uit dat God hulle in elk geval die goeie moes gegee het. Hulle was tog goed, vroom? Die God van reg sou hulle outomaties reg moet doen. Dit is vir hulle vanselfsprekend. Daarom hulle verwyt aan God.

    Die Here aanvaar dit nie. Dit vermoei hom. Want dit is ’n klag sonder selfondersoek. Hulle kla maar steeds oor God se doen en late, sonder te let op hul eie doen en late. Hulle geestelike instelling deug nie. In die kerk is niks vanselfsprekend nie, gebeur niks outomaties nie. Dis nie soos by ’n outomaat waarin jy jou geldstuk in doen en waaruit jy dan outomaties die verlangde artikel ontvang nie. Die goeie word nie outomaties beloon nie.

    Geduld en vertroue is nodig. Maar by hulle is daar geen vertroue meer nie. Die God van die reg is afwesig of het verander. Hulle kla sonder vertroue dat God uiteindelik die kwaaddoeners sal straf en reg sal laat geskied. Hulle staar hulle blind op hul uiterlike omstandighede sonder dat hulle hulle afvra wat God daarmee sou bedoel. Hulle is met hulleself ingenome en dink dat hulle bo God se toorn verhef is. In hul blindheid en gebrek aan selfbeproewing het hulle geen sig op die Here en sy werk nie. Hulle is soos kinders wat bly seur om iets van hul ouers los te kry. So ’n dwingende geseur getuig meestal nie van vertroue nie. In groot ongeduld wil hulle God dwing om iets te doen. Laat Hy maar eers wys dat Hy die God van die reg is. Laat Hy maar eers wys dat Hy nie aan die kant van die kwaad staan nie. So word die Here hier uitgedaag.

    Gemeente, wanneer God nie onmiddellik iets doen nie, beteken dit dat God dit heeltemal nie wil of sal doen nie? God is in sy doen en late so vry dat Hy Hom die tyd nie laat voorskrywe nie. God laat Hom nie opjaag deur ons ongeduld nie. Op sy tyd vervul Hy sy beloftes. Van ons kant moet ons geduld en vertroue wys.

    Die mense van Maleagi se dae het nie die geduld en vertroue nie. Hulle is in hul verwagting van die koms van die Here teleurgestel.

    Hulle kry in Mal 3:1-5 ’n duidelike antwoord op hul verwyt. Die Here kom. Skielik sal na sy tempel kom die Here na wie julle soek. Julle roep om die koms van die Here. Kyk, Hy kom, sê die Here van die leërskare.

    Alleen sy koms kan weleens anders wees as wat jy verwag. Dit kan wel eens ’n groot ontnugtering wees.

    Ons sien dit in die tweede punt: die erns van die koms van die Here.

    As mense kla: waar is anders die God van die reg, dan antwoord die profeet: skielik sal na sy tempel kom die Here na wie julle soek. Plotseling staan Hy voor jou. Die Engel van die verbond, na wie julle ’n begeerte het. Die hoorders kan weet wie daarmee bedoel word. Op verskeie keerpunte in die geskiedenis het hierdie engel aan die volk verskyn. En Hy is daarby gelykgestel met die Here self. So word daar nou ook gepraat van ’n gaan na sy tempel. Hy is soseer die verteenwoordiger van die Here dat die tempel van die Here sy tempel genoem kan word. Dit sal vir u duidelik wees dat hierdie Engel die Here Jesus is.

    Hy sal kom na sy tempel. Baie opvallend, soos ook die vervolg. Daarmee wil God die verwagting van sy volk korrigeer. Daar word dikwels gedink dat die Messias toe Hy gekom het, totaal anders was as wat die Jode verwag het. Let daarop dat die Here reeds ongeveer 400 jare voor Christus besig was om die verkeerde persepsies oor die Messias te korrigeer. Waarom? Sodat Christus se koms vir hulle geen ontnugtering sou wees nie, maar ’n seën.

    Die Here sal na sy tempel kom. Hy gaan nie in die eerste plek na die heidene om hulle met sy oordele te tref nie. Dit is wat die Jode gehoop het. Hulle het gedink dat die Here sou kom om hul nasionale mag en heerlikheid onder die volke te herstel. Die glorie van Dawid en Salomo se tyd sou terugkeer. Vreemdes sou nie langer oor hulle heers nie. Inteendeel, hulle sou oor die heidense volke heers. Daarom het hulle verlang na die koms van die Here.

    Maar nou Maleagi se boodskap: Hy sal skielik na sy tempel kom. Is dit goeie nuus? ’n Berig van heil en vrede?

    Maleagi skok sy hoorders met die onverwagte en klemmende vraag: "Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn?" Die verskyning van die Here is blykbaar ’n baie ernstige saak. Dit beteken nie outomaties heil nie. Vanweë die sonde beteken dit allereers oordeel. Hy kom om sy tempel en sy volk deur oordeel heen te louter. Die oordeel begin by die tempel. Soos Petrus later ook skryf: want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God (1 Pt 4:17).

    Die gemeente word nie gespaar nie. Juis daar in die kerk wil die Here geen sonde sien nie. Daarom gaan die Here sy kerk suiwer, reinig. So begin Hy in sy tempel. Nie op ’n sagte manier nie, maar radikaal. Hy reinig dit nie met water nie, maar met vuur. Die vuur dien om goud en silwer van alle onsuiwerhede te suiwer. Die metaal word verhit sodat dit smelt. Dan rys alle onsuiwere bestanddele omhoog en kan dit verwyder word sodat daar slegs puur goud of silwer oorbly.

    Of om ’n ander beeld te gebruik: die Here sal soos die loog van die wassers wees. Loog word gebruik vir die reiniging van klere. Soos dit teenwoordig met chemiese middels gedoen word. Alle vuil en vlekke word daarmee verwyder.

    Die profeet gebruik hierdie twee beelde om duidelik te maak dat die koms van die Here ’n radikale suiweringsaksie sal wees. Alle onsuiwere elemente word verwyder. Die Here sal die kwaad en die kwaaddoeners uit sy volk uitsuiwer.

    Hy sal begin by die geestelike leiers, die seuns van Levi, die priesters. Hulle moes rein wees maar hulle was die toppunt van onreinheid. Lees maar Mal 1:6-2:9. Hulle het die tempeldiens verontreinig en die volk verlei. Hulle het nagelaat om God die verskuldigde eer en ontsag te gee. Daarom moet die suiweringsaksie by hulle begin.

    Maar dit stop nie daar nie. As regter laat die Here niemand met rus. "Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou" lees ons is vers 5. Ek sal ’n haastige getuie wees teen die towenaars dws teen hulle wat hul heil by geheimsinnige en duistere magte soek; teen die egbrekers, hulle wat die huwelik as ’n liefdesverbond vir die lewe nie in eer hou nie; teen die meinediges, hulle wat in hul woorde onbetroubaar is; teen die wat die dagloner is sy loon, die weduwee en die wees verdruk, hulle wat hulle werkers te min betaal en hul gesag en mag ten koste van die kwesbares in die samelewing misbruik. Daar is niks nuuts onder die son nie. U herken die kwaad tog in u eie samelewing?

    Kortom, die Here sal optree teen almal wat Hom nie vrees nie. Daaroor gaan dit in die lys van sondaars. Dit is nie mense wat in sonde val nie, maar mense wat in sonde lewe. Hulle weier om God en sy woorde in hul lewe ernstig te neem. Daarom sal God teen hulle optree om strafgerig te hou. Hulle sal nie standhou op die dag van Christus se verskyning nie.

    Dit wys ons, broeders en susters, die groot erns van Christus se koms. ’n Mens kan nie daarmee spot nie. Sondaars, goddeloses, kwaaddoeners sal die dag nie kan verdra nie.

    Maar, gemeente, is daar dan nog wel mense wat met reg na die dag van Christus se koms kan verlang? Het u vandag nog wel rede om met verlange uit te sien na Christus se wederkoms? Kan ons Christus wel verdra soos Hy vandag al besig is om na ons toe te kom in die prediking en in die wêreldgebeurtenisse bv?

    Gemeente, as u God ernstig neem in sy genade en oordeel, in sy liefde en toorn dan kan u Christus sonder verskrikking ontmoet. Dis waar, om Christus vandag te ontmoet sal nie sonder pyn wees nie. Onsuiwere elemente moet uit ons lewe verwyder word. Dit sny diep in ons eie vlees en lewe. Maar dit is genade. U mag bly wees. Soos Petrus dit skryf in 1 Pt 1: "Daarin verheug julle jul, al word julle nou – as dit nodig is – ’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus." Ons moet almal gelouter word. Onsuiwere, sondige elemente moet verwyder word sodat God steeds meer en beter gedien word. Dit is die uiteindelike doel van die Here se koms.

    Dit sien ons in die derde punt: die doel van die koms van die Here as die God van die reg.

    Wanneer die Here verskyn, dan gaan dit nie soseer om die gerig nie. Hy kom nie slegs om te straf nie. Ja, die gerig is wel deel daarvan. Maar die Here wil deur gerig heen louter. Die Here wil reinig en nie verteer nie. Hy wil op ’n suiwere manier gedien word. Hy wil troue dienaars hê.

    So lees ons in die teks: "Hy sal die seuns van Levi reinig … sodat hulle aan die Here in geregtigheid ’n offer sal bring." In sy suiweringsaksie soek die Here ware aanbidders wat Hom volgens sy woord aanbid. Dat dit die doel van die suiweringsaksie is, blyk ook uit die beelde wat die profeet gebruik. Waarom word die silwer of goud in ’n smeltoond opgehit? Tog sodat die suiwere metaal te voorskyn kan kom? So soek die Here ’n gesuiwerde volk wat Hom in Gees en in waarheid dien.

    Daarom vervolg Maleagi: "Dan sal die offer van Juda en Jerusalem vir die Here aangenaam wees soos in die ou dae en soos in die jare van die voortyd." Netnou het die profeet gesê: "Juda het troueloos gehandel, en ’n gruwel is in Israel en in Jerusalem gepleeg." Nou profeteer hy dat die volk van God en die kerksentrum gesuiwer sal word. Dit sal weer word soos in die verlede toe die diens van die Here ’n vreugde was en die Here ’n welgevalle aan sy kinders gehad het.

    Die reformasie van God se volk dmv die suiweringsaksie beteken ’n weerkeer tot die ou dae, ’n terugkeer na die ou maar nooit verouderde bepalings van die verbond.

    Maar, broeders en susters, wanneer is hierdie woorde vervul? U sal in die eerste plek moet dink aan die tyd van Christus sy bediening op aarde. Hy het gewerk aan die suiwering van die offerdiens. Dink maar aan sy reiniging van die tempel. Die dissipels het toe gedink aan die woorde: "die ywer vir u huis het my verteer" (Joh 2:17).

    Christus se koms op aarde het ’n suiweringsaksie onder Israel tot stand gebring. Dit het gelei tot die Nuwe Testamentiese gemeente wat Christus rondom die apostels vergader het, die ware Israel. Die gemeente is verbind aan die kerk uit die verlede. Hulle is geroep tot die redelike godsdiens waarvan die offers heilig en aan God welgevallig is.

    In die geskiedenis van die kerk het die Here voortgegaan met sy suiweringsaksie. So kon ons kort gelede die groot Hervorming uit die 16de eeu herdenk. God het meermale radikaal ingegryp om vir Homself ’n gemeente te bewaar wat Hom in Gees en in waarheid dien. Hy het die een reformasie na die ander bewerk. So is Hy ook vandag in Suid Afrika besig met sy suiweringsaksie, sy siftingsproses. Hy is nog steeds besig om te sorg vir ware aanbidders. Hy wil ’n heilige priesterdom hê. So word julle ook geroep om julle lewens as ’n lewende dankoffer aan die Here te wy. As ’n offer wat aan Hom welgevallig is.

    Ja, wat moet daar nog baie gereinig word. Ons moet daagliks nog stry teen ons sondes en swakhede. Daarom is Christus nog steeds besig om ons te louter deur sy Woord en Gees. Ons hele hart en lewe moet gesuiwer word. Dis ’n pynlike operasie. Dit beteken ’n verloëning van myself en om die sonde uit my lewe uit te sny. Tog is dit genade, ’n rede tot vreugde. Is dit nie geweldig dat die Here in ons lewens besig is nie? Om die sonde uit ons lewe weg te sny? Om ons na sy beeld te vernuwe? Is dit nie pragtig dat die Here besig is om ons voor te berei op sy definitiewe verskyning as die God van die reg nie? Wat ’n voorreg om deur die suiweringsproses te mag deurgaan.

    Broeders en susters, kan u dan uitsien na die groot dag van die Here se koms? Indien u uself vandag deur Hom laat louter, dan mag u sonder verskrikking die dag tegemoetgaan. Die komende Regter is mos u Here wat Hom eers voor God se regbank gestel het en alle vervloeking vir u gedra het. Dink aan die gebroke brood en die wyn as tekens van sy offer vir u.

    Gemeente, vier so die heerlike gedagtenis aan die eerste koms van Christus. In die blye verwagting van Jesus Christus se tweede koms as Regter oor lewendes en dooies. Berei u met mening voor op die groot dag. Reinig u harte en lewens. Maak u klaar vir die fees van God se reg. Verneder u vandag onder sy louterende hand sodat Hy u op die dag kan verhoog.

    AMEN

     

    Kopiereg word voorbehou.
    Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

    Liturgie: 

    (kyk in preek)