Die belofte van die evangelie moet geglo word.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-11-11
Teks: 
Dordtse Leerreëls 2
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 2 Art 5-7

Ds C Kleyn - Sondag 11 November 2001

Lees:

Johannes 3:13-21,36; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 2 Art 5-7; Johannes 5:24-29 (1ste tafel); Johannes 6:37-40 (2de tafel); Johannes 6:47-59 (3de tafel).
Sing: Ps 146:1,2; Ps 146;3,8; Ps 98:1,2; Ps 118:2; Ps 118:7; Ps 118:12; Ps 118:13; Ps 118:14.

Tema: Die belofte van die evangelie moet geglo word.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Waaroor gaan dit in die prediking en in die heilige Nagmaal? In beide prediking en Nagmaal word Jesus Christus aan u voorgestel en Hom as gekruisigde. Jesus Christus as gekruisigde is die hart van die evangelie. Dit gaan mos oor Christus se offer aan die kruis as die enigste grond van ons saligheid. Die Heilige Gees leer ons in die evangelie en verseker ons deur die sakramente dat ons volle saligheid op die enige offer van Christus rus, wat aan die kruis vir ons gebring is. Die prediking en die nagmaal rig dus ons aandag op die enige offer van Christus aan die kruis. Wil jy gered word, dan sal jy daar by Hom moet wees. Dis die enigste reddingsmiddel. En die volkome reddingsmiddel. Sy dood is mos van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen.

Hierdie evangelie in woord en sakrament moet nou sonder onderskeid aan alle volke en rasse verkondig word. Dis soos Christus vir sy apostels gesê het: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. En dan vervolg Christus: Hy wat glo en hom laat doop sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word. (Mk 16:15,16). Het u daardie belofte gehoor? Hy wat glo en hom laat doop sal gered word. Hy wat in die gekruisigde Christus glo (en hom as gevolg daarvan deur die doop aansluit by Christus se gemeente) sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê. Dis die belofte van die evangelie.

Die belofte praat van die gekruisigde Christus. Dink aan die gesprek van Jesus met Nicodemus: "en soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar ewige lewe kan hê." Vanweë hul sonde het God giftige slange onder sy volk gestuur wat baie gebyt het sodat hulle gesterf het. ’n Groot ramp onder God se volk wat hom steeds maar uitbrei. In antwoord op die voorbede van Moses gee God uitkoms. Moses moet ’n koperslang maak en dit op ’n paal sit. Dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe.

Let daarop, hierdie reddingsmiddel word wel voor elkeen verhoog. Maar nie elkeen word gered nie. Die plaag word slegs weggeneem daar waar geloof gevind word. Waar ’n mens God se woorde glo en na die koperslang kyk. Daar is redding. Wel, so moet ook Christus verhoog word sodat elkeen wat in geloof op Hom sien, gered word. Gered van die ewige verderf. Daarop volg dan die bekende woorde: Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Dis die heerlike belofte van die evangelie wat vir almal wat dit kan hoor verkondig word. As jy in die gekruisigde Christus glo dan sal jy nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê. En dit is nie slegs toekomsmusiek nie, iets wat eers na hierdie lewe werklikheid word nie. Dit tree in sodra jy glo. Soos Joh die Doper dit sê in Joh 3:36: "Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe." Of soos Jesus Christus dit later sê: "Voorwaar, voorwaar ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe".

Het u dit goed gehoor: as u glo dan het u die ewige lewe en het u oorgegaan uit die dood in die lewe. Dis ’n werklikheid hier en nou vir elkeen wat glo. Jy besit reeds die lewe sonder einde, die lewe in gemeenskap met die lewende God. Daarom kan Jesus later ook na aanleiding van die dood van Lasarus sê: "Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie." (Joh 11:25,26). ’n Pragtige werklikheid vir elkeen wat glo. Ek mag nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar.

Maar gemeente, die werklikheid is nie outomaties die deel van hulle wat die evangelie hoor nie of van hulle wat die Nagmaal vier nie. Die evangelie kom mos met die eis tot bekering en geloof. ’n Mens moet hom tot God en sy woord bekeer en glo. Elkeen moet dus diepe erns maak met die evangelie. Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Die evangelie stel ’n mens verantwoordelik. Deur geloof in mag ek die beloftes van die evangelie my toe-eien, ontvang ek die ewige lewe. Maar as ek weier dan gaan ek in ongeloof verlore.

Ja, daar is baie wat hulle nie bekeer nie, wat nie in Christus glo nie en sterf in ongeloof. Dit hoef ons nie te verbaas nie. Die Bybel spreek reeds daaroor. Dink maar aan Joh 3. Daar is mense wat glo en mense wat nie glo nie. Hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel, sê die Here, omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos (verse 18,19).

Oor watter mense praat Jesus wanneer Hy sê dat hulle die duisternis liewer as die lig gehad het? In eerste instansie praat Hy van die verbondsvolk. Soos Joh dit ook noem in hoofstuk 1:11: "Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie." ’n Ernstige waarskuwing ook vir ons as volk van God. Hier in die kerk, onder God se volk, kan daar ook mense wees wat hulle nie bekeer nie en dus nie werklik glo nie. Ja, dit kan selfs voorkom onder hulle wat aan die nagmaal aangaan. Ons kan die harte nie ken nie en ons weet nie alles van mekaar se lewe nie. Daar kan mense wees wat hul lewe nie wil verbeter nie, wat nie met sonde in hul lewe wil breek nie. Mense wat hulle dus nie bekeer nie en nie werklik glo nie. Hulle lei ’n dubbele lewe. Ons belydenis noem hulle huigelaars. Dis ’n hoogs ernstige saak. Luister maar na wat Joh die Doper ons sê in Joh 3:36: "Hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom." Daarom verkondig ons aan al die ongelowiges en huigelaars dat die toorn van God op hulle rus solank hulle hul nie bekeer nie. As julle vandag sy stem hoor, verhard julle harte nie.

Gemeente, ons moet besef dat mense van nature die duisternis liewer as die lig het. Hierdie negatiewe reaksie op die verkondiging is ontmoedigend, maar nie verbasend nie. Dis die mees natuurlike reaksie van die mens na die sondeval. Daarvoor is jy as mens ten volle verantwoordelik. Jy kan nie die evangelie die skuld gee, of God, of Christus offer nie. Die offer is mos oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen. Nee, die skuld lê by jouself. Jy wil nie glo nie. Jy het liewer die duisternis as die lig. Ons moet eerder verbaas wees as mense hulle bekeer en glo.

Ons bely: "almal wat egter waarlik glo en deur die dood van Christus van die sondes bevry en van die verderf gered word, ontvang hierdie weldaad slegs uit die genade van God." Wat ’n groot voorreg om te mag glo. Dis genade. Uit myself sou ek nie geglo het nie. Ek sou vir die duisternis gekies het. Maar nou het God in genade ingegryp in my lewe. My onwilligheid in gewilligheid verander. My ongehoorsaamheid in gehoorsaamheid verander. My lewe omgekeer, bekeer sodat ek glo. Wie wil roem, laat hy in die Here roem.

Broeders en susters, gee dan ook aan die nagmaal aan God die eer wat hom toekom. Roem in sy genade en Gees. Hy het my lewe verander. Vir my die geloof gee. En langs die pad van die geloof gee Hy my die lewe. Hier en nou. Wie glo het reeds oorgegaan uit die dood in die lewe. Ek mag dus reeds die ewige lewe besit. Aan die tafel word ek tot die ewige lewe gevoed en verkwik. Ek ontvang die lewende spys en die lewende drank. Heel nadruklik sê die Here Jesus vir ons: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Aan die tafel mag u simbolies sy vlees eet en sy bloed drink. Doen dit in geloof. En u sal lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)