Christus se dood is die enigste en volmaakte offer vir die sondes.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-10-28
Teks: 
Dordtse Leerreëls 2
Preek Inhoud: 

Dordtse Leereëls Hoofstuk 2 Art 3,4

Ds C Kleyn - Sondag 28 Oktober 2001

Lees:

Hebreërs 10:1-18; 1 Johannes 1:8-2:2; Dordtse Leereëls Hoofstuk 2 Art 3,4.
Sing: SB 27; Ps 40:3,4; Ps 40:5,8; Ps 89:6,7.

Tema:

Christus se dood is die enigste en volmaakte offer vir die sondes.
Dit is:

  1. Genoegsaam om die sondes van die hele wêreld te versoen; en
  2. Vanweë Christus se Persoon en lyding.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

God is nie alleen in die hoogste mate barmhartig nie, maar ook in die hoogste
mate regverdig. Daaroor het dit die vorige keer gegaan. Die doop het dit ook vir
ons gewys. Die water van die doop wys op oordeel en ontferming. Oordeel oor
Jesus Christus en ontferming oor ons en ons kinders. Oordeel vir hulle wat nie
glo nie. Redding vir hulle wat glo. Christus neem die plek in vir elkeen wat
glo. Sy dood is die versoening van ons sondes.

Vanaand gaan ons verder dink oor die dood van ons Here Jesus Christus. Ek
verkondig vir u: Christus se dood is die enigste en volmaakte offer vir die
sondes.

  1. Genoegsaam om die sondes van die hele wêreld te versoen
  2. Vanweë Christus se Persoon en lyding

Is Christus se dood die enigste offer en voldoening vir die sondes? Kan ons
dit volhou in hierdie multikulturele en multi godsdienstige samelewing? Is daar
slegs versoening met God deur die offer van Jesus Christus? Wat van mense wat
Jesus Christus nie glo nie? Wat van Moslems, Boeddhiste, mense wat die
tradisionele swart godsdienste aanhang? Moet ons konkludeer dat hulle nie met
God versoen is nie?

Ja, ons kry steeds meer met mense van ander kulture en godsdienste te make.
By die werk, by die universiteite en ander onderwys instellings. Hulle is
medestudente, kollegas, werknemers. Mense vir wie ons simpatie kan opbou. Moet
ons konkludeer dat hulle almal verlore gaan, tensy hulle hulle tot Christus
bekeer? Om so te dink val uit die toon in ons samelewing. Dit gaan ook teen ons
natuur in. Elke godsdiens moet vandag mos gelyke regte en waardering ontvang.
Maar wat is die belangrikste: wat die maatskappy, wat ek dink en voel of wat God
dink? Uiteindelik gaan dit oor wat God, ons Skepper en Verlosser, sê en dink.
En dan moet ons teen die stroom van die veelgodsdienstigheid instroom.

God self gebruik absolute taal. In Joh 14:6 sê die Here Jesus vir Thomas:
"Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader
behalwe deur My nie." Daar is geen Moslem, Boeddhis of wie ook al wat na
God die Vader kan kom buite Jesus Christus nie, maak nie saak hoe godsdienstig
hy of sy is. En as die persoon Jesus Christus as Verlosser aanvaar, dan is hy of
sy nie meer ’n Moslem of Boeddhis nie, maar ’n christen.

Die apostel Petrus gebruik dieselfde absolute taal wanneer hy in Hand 4:12 sê:
"En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander
naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word
nie." Let op die woorde: daar is geen ander naam onder die hemel waardeur
ons gered moet word nie. Almal onder die hemel, alle mensekinders, moet gered
word. Maar daar is geen ander Redder as Jesus Christus nie.

Dis absolute taal. Taal wat ons nie mag verswyg nie. Om hierdie waarheid te
verswyg, lyk miskien vriendelik teenoor die mense wat ander godsdienste aanhang.
Ons wil hulle nie graag beledig nie. Maar dis onbarmhartig. U wil tog nie hê
dat hulle verlore gaan nie? Sonder Christus gaan hulle onherroeplik verlore. Dis
nie ek wat dit sê nie, maar God self. Laat ek nog twee tekste noem. Ons lees in
1 Tim 2:5: "Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense,
die mens Christus Jesus." En in 1 Joh 5:12 lees ons: "Hy wat die Seun
het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie."
Ernstige woorde. Absolute woorde. Om dit na te spreek is ’n kwessie van
geloof, van gelowige aanvaarding van wat God self sê en doen. Laat u nie wys
maak deur die moderne veelgodsdienstigheid nie. Die God van die Moslems is nie
die God van die Bybel nie. Dis ’n verbastering van Hom. Daarom aanvaar die
Moslems ook nie die Christus as hul verlosser nie. Terwyl hulle slegs deur Jesus
Christus kan gered word. Sien daar ons groot verantwoordelikheid om die Christus
bekend te maak, waar ons dit ook al kan doen.

God gee nog ’n tyd van genade. Indien hulle hulle tot Jesus Christus
bekeer, dan is daar vir hulle hoop, dan is daar ook vir hulle die lewe, nou en
ewig. Christus se offer is mos voldoende vir almal. Soos ons dit bely met art 3
van die DL: "Sy dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om
die sondes van die hele wêreld te versoen." Christus se offer is nie slegs
goed genoeg vir die redding van Jode, Europeane, Nederlanders en Afrikaners nie.
Dis oorvloedig genoeg om almal wat glo te red, ja vir die hele wêreld.

In 1 Joh 2:2 lees ons: "Hy is ’n versoening vir ons sondes, en nie
alleen vir ons s’n nie, maar ook vir die van die hele wêreld." Vir
versoening word hier ’n woord gebruik wat wys op die middel van versoening.
Christus se offer is die middel waardeur die versoening tussen God en die mens
tot stand gebring word. Die hele wêreld is op hierdie middel aangewese. Almal
moet by Christus wees, na Hom vlug. Sy offer is die enigste reddingsmiddel. Dit
beteken egter nie dat alle mense die middel aangryp nie.

Gemeente, let daarop hoe die woord "wêreld" steeds weer gebruik
word as oor Christus se verlossingswerk gepraat word. Hy is ’n versoening nie
alleen vir ons sondes nie, maar ook vir die van die hele wêreld (1 Joh 2:2).
"Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee
het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan
hê." (Joh 3:16). "Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld
wegneem" (Joh 1:29). "God het in Christus die wêreld met Homself
versoen" (2 Kor 5:19). Telkens weer lees ons van die wêreld.

Die wêreld sien op ’n organiese, samehangende geheel. Dis die pragtige
geheel van God se skepping. Met die mens as kroon. Toe die mens geval het, het
die wêreld saam met hom geval. Daarom het nie slegs die mens nie, maar ook die
hele wêreld versoening nodig, sodat die hele wêreld in sy heerlikheid herstel
kan word. God sal sy pragtige werkstuk, die wêreld, met as kroon daarvan, die
mensheid, red. Dit sluit nie uit dat baie skepsele, mense en duiwels, vir ewig
te gronde gaan nie. In die oorblyfsel van sy genade gaan God met die mensheid en
skepping voort.

Oor Joh 2:2 het die Dordtse Sinode opgemerk: "dat die dood en lyding van
Christus van so ’n groot waarde, krag en prys is, dat dit oorvloedig
genoegsaam is, om die sondes van almal en elkeen, wat ooit geleef het, leef en
sal leef te betaal, ook al was daar meer as duisend wêrelde. Dit beteken egter
nie, dat vir alle mense metterdaad die verlossing, versoening, vergewing van
sondes en die ewige lewe verkry en verwerf is nie."

Die Remonstrante beroep hulle op Joh 2:2 om hul leer van algemene versoening
te verdedig. Die leer naamlik dat Christus vir alle mense gesterf het. Christus
sou dan vir alle mense hoof vir hoof gesterf het en nou sou dit van die mens
afhang of dit hom ten goede kom of nie. In die volgende artikels sal dieper
hierop ingegaan word.

Maar dan bly daar tog die vraag: Hoe kan ons Christus die Lam van God noem
wat die sonde van die wêreld wegneem? Het Christus nie die toorn van God teen
die sonde van die hele menslike geslag gedra nie? HK 15. Het Hy dan tog nie vir
almal betaal nie?

Die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag is ’n
organiese geheel. Om een sondaar te verlos moes Christus dieselfde dra as om
alle mense te verlos. Christus moes die skuld dra wat die mensheid in Adam
gemaak het. Ons moet nie op ’n wiskundige manier oor die skuld praat nie,
sodat ons alle sondes van alle mense by mekaar optel nie. Ons moet die skuld as
’n organiese geheel sien. Adam was ons hoof en verteenwoordiger. In hom het
ons teen God gerebelleer en skuld op ons gelaai. God gee ons nou sy Seun as ’n
nuwe verteenwoordiger, as verbondsmiddelaar. Wat is dan die prys wat Christus
moet betaal? Dis die prys wat Adam, en in hom die mensheid, moes betaal. Om
mense met God te versoen moes Christus die toorn van God teen die sonde van die
hele menslike geslag dra. Om een sondaar of om tallose sondaars te red, moes Hy
dieselfde ly. Ook om alleen die uitverkorenes te red.

So kan ons sê dat sy offer oorvloedig genoeg is om die sondes van die hele wêreld
te versoen. As almal uitverkies sou wees, en almal sou glo dan sou almal deur
die een offer gered word. Wanneer nie alle mense salig word, dan lê dit nie aan
die offer van Christus nie, asof dit nie toereikend sou wees nie. Dit is vir
almal genoeg. Maar, en dit is ’n belangrike onderskeid wat u moet vashou, die
offer is wel genoeg vir almal, maar nie vir almal bestem nie. Dis alleen vir die
uitverkorenes bestem. Dit kom slegs hulle ten goede. Om daaraan deel te kry,
moet ’n mens ook werklik by Christus behoort. En hoe behoort ek by Christus?
Dis deur geloof. So word ek in Christus ingelyf en geld die offer van Christus
vir my.

Broeders en susters, die feit dat Christus se offer van oneindige krag en
waarde is, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen, is
’n ryke bemoediging vir elkeen wat glo. As ons soms uit swakheid in sondes
val, moet ons nie aan die genade van God twyfel nie. Maak nie saak hoe groot en
sleg my sondes is nie. Geen sonde is so groot en geen sondaar kan so diep val
nie of Christus offer is voldoende. Christus het genoeg gely selfs vir my ergste
sondes, die sondes waaraan ek steeds weer herinner word, die sondes waarvan ek
my lewe lank die littekens dra.

Die Here sê in Jes 1:18: "Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die
Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was
dit rooi soos purper, dit sal word soos wol." Daar is versoening met God
deur die geloof in die enige offer van Jesus Christus; ook al kla my gewete my
aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig en nie een daarvan gehou
het nie en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is (Sondag 23 HK).

Hierdie leer van die genoegsaamheid van Christus se offer is ook ’n groot
bemoediging vir die werk van evangelisasie. Die offer is genoeg vir die grootste
sondaar ook vir die grootste misdadiger en moordenaar. Ook al moet hulle hul
straf uitdien, tog mag ek die evangelie vir hulle verkondig. Tog is daar ook vir
hulle hoop indien hulle hulle bekeer tot Jesus Christus, die weg, die waarheid
en die lewe. Ons weet nie wie uitverkies is nie. Maar ons weet wel dat die Here
wil hê dat sy evangelie verkondig word, met die eis van geloof en bekering. Ek
weet ook dat God sy volk uit alle volke, tale, rasse en stande wil vergader. Sy
offer en sy opdrag gee my moed om voort te gaan met die verbreiding van die
goeie nuus van verlossing in Christus alleen.

Nou die tweede gedagte van die preek: Christus se dood is die enigste en
volmaakte offer vir die sondes vanweë sy Persoon en lyding.

Die DL wys daarop dat die Jesus Christus nie alleen ’n ware en volkome
heilige mens is nie, maar ook die eniggebore Seun van God. Die mens het
gesondig. Die mens moet betaal. ’n Mens wat egter self ’n sondaar is kan nie
vir ander betaal nie. Daarom moet Hy ’n regverdige mens wees, sonder sonde. Hy
moet egter ook God wees. Die DL benadruk dat Hy saam met die Vader en die
Heilige Gees een en dieselfde ewige en oneindige Wese is. So moes ons verlosser
wees. Die Kat gee vir ons ’n duidelike antwoord op die vraag waarom Hy
terselfdertyd ware God moet wees. Dit is "om deur die krag van sy Godheid
die las van die toorn van God aan sy mensheid te kan dra en vir ons die
geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee."

Die verlossing moet van bo kom, van God. Van benede uit kan die mens homself
nooit red nie. In die heidendom moet mense self die vrede met hul gode herstel.
Hul godsdiens word ’n vorm van handel of selfs omkopery. Hulle sal van alles
doen om hul god of gode aan hul kant te kry. So gaan dit in prinsipe ook by die
Moslem geloof. In die Christelike godsdiens is dit egter God self wat Hom met
die mense versoen. Hy self sorg daarvoor dat sy toorn gestil word. Hy het sy
Seun gegee as ’n versoening vir ons sondes.

Geliefdes, dis nie so dat die mense wat God se toorn oor hulleself uitgeroep
het, die inisiatief geneem het om God se vriendskap weer te wen nie. Dis ook nie
so dat Jesus Christus die inisiatief geneem het om sy Vader se toorn in liefde
te verander nie. Die idee dat die liewe Seun die gedagtes van sy kwaaie Vader
verander het deur homself in die plaas van die sondige mense op te offer is nie
evangelie nie. Dit is ’n anti-christelike idee. Want daarmee word die
volmaakte eenheid van die Vader en die Seun verloën. Dit kom neer op politeïsme,
die geloof in twee verskillende gode. Die Bybel wys dit absoluut af deur te
benadruk dat dit God die Vader self was wat die inisiatief geneem het om sy
toorn te stil. God het die voorwerpe van sy toorn, u en my, so liefgehad dat Hy
sy eniggebore Seun gegee het om sy toorn te dra.

Geen gewone mens kon die las dra nie. Ook geen sondelose mens nie. ’n Mens
sou ewig daaronder beswyk. Hy sou nooit kan uitroep: dit is volbring nie.
Daarvoor was goddelike kragte nodig. As Christus slegs mens was gewees, dan sou
Hy nooit daarmee klaar gekom het nie. Maar nou Hy tegelykertyd ware God is, nou
kan Hy die ewige las ten volle dra. Hy kom daarmee klaar en roep uit: dit is
volbring. Hy kan so die geregtigheid en die lewe vir die syne verwerf. Hy sterf.
Hy staan weer op uit die dood. Hy leef om die geregtigheid en die lewe ook aan
die syne te kan teruggee. Dis gelyk aan skeppingswerk. Dis ’n herskepping.
Slegs God kan skep en herskep. Daarom moet die Verlosser ook God wees.

Gemeente, so is sy offer nie slegs die enigste nie, maar ook die volmaakte
offer en voldoening vir die sondes. In die Ou Testament was daar baie
plaasvervangende offers. Die hele offerdiens het gewys op verteenwoordigende
plaasvervanging. Die onskuldige neem die plek in van die skuldige. Op verskeie
offerdiere moes die sondaar sy hande lê en hom met die dier identifiseer.
Daarna is die dier geoffer as plaasvervanging van die offeraar. Sonder bloed was
daar geen versoening nie.

Die diere kon egter nie in werklikheid die toorn van God stil nie en
versoening bewerk nie. Hulle het gewys na die volmaakte offer van Jesus
Christus. So haal die skrywer van Hebreërs die Psalmis aan wanneer hy skryf:
"Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ’n liggaam
berei. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek gesê: Kyk, Ek
kom – in die boekrol is dit van My geskrywe – om u wil te doen, o God."
Die bloed van stiere en bokke kon onmoontlik die sonde wegneem nie. Dit het
slegs herinner aan die sonde en gewys op die volmaakte Plaasvervanger wat moes
kom. Nou het Hy eenmaal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur
sy offer weg te neem (Hebr 9:26). Die diere offers kon nooit die wat toetree tot
volmaaktheid lei nie. Maar Jesus Christus het deur een offer vir altyd volmaak
die wat geheilig word (Hebr 10:1,14).

Die dood van hierdie Seun van God is dus die enigste en volmaakte offer en
voldoening vir die sondes. Vanweë sy Persoon en sy lyding. Hy het werklik die
toorn van God en die vloed vir ons gedra. Weggedra.

Wie sou dan ’n ander Verlosser soek? Daar is slegs een Middelaar tussen God
en die mense, die mens Christus Jesus. In Hom ontvang ons werklik alles wat tot
ons heil nodig is. Daar hoef werklik niks aan toegevoeg te word nie. God het ons
met homself versoen. So lief het Hy die wêreld, het Hy u en my, gehad. Dan gaan
’n mens nie met God handel om Hom aan jou kant te kry nie. Nee, in Christus
staan God reeds aan my kant. Dan gaan ek eerder myself as ’n lewende dankoffer
aan Hom toewy.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)