Maleagi vermaan God se volk vanweë hul ontrou aan die verbond met die Here.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-10-28
Teks: 
Maleági 2
Preek Inhoud: 

Maleági 2:10-16

Ds C Kleyn - Sondag 28 Oktober 2001

Lees: Deuternomium 7:1-11; 2 Korinthiërs 6:11-7:1; Maleági 2:10-16.
Sing: Ps 124:1,4; Ps 143:1,2; Ps 111:4,5; Ps 128:1-4; Ps 145:8,9.

Tema: Maleagi vermaan God se volk vanweë hul ontrou aan die verbond met die Here.

  1. Wat verbondsontrou inhou;
  2. Hoe dit blyk in die gemengde huwelike; en
  3. Hoe dit blyk uit die egskeidings.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In Maleagi se tyd was die geestelike toestand van God se volk sleg. Daar was min hartlike liefde vir God. Daar was min bekommernis en ywer vir geestelike dinge. Die vorige keer het ons stilgestaan by die onverskilligheid en sorgloosheid van die priesters. Hulle neem God se wette nie ernstig nie. Hulle akkommodeer die wense van die volk en aanvaar minderwaardige offers. So het die offerdiens in Jerusalem ’n eiewillige en waardelose saak geword. Aanleiding vir die Here om te sê: Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit. Liewer geen erediens nie as een sonder ware liefde en ontsag.

Maleagi rig vervolgens die aandag op die gewone kerkvolk. Die simptome van geestelike afval is ook onder hulle aanwesig. Wat anders kan ’n mens verwag! Waar jy ’n speletjie met die amptelike erediens speel, daar gaan ’n mens ook ’n speletjie speel met God se wette in die daaglikse lewe. Deformasie van die erediens gaan hand aan hand met die deformasie van die christelike lewe.

Dit lyk asof sommige mense by Maleagi gekom het en gesê het: Kyk, Maleagi, ons kan verstaan wat u oor ons verhouding met God skryf. Maar ook al doen ons ons bes en roep ons vurig God aan, Hy antwoord ons nie. Waarom is dit? Om dit in vandag se woorde te sê: "Ek besoek trou die eredienste. Ek doen my bes om daagliks my bybel te lees. Ek bid voortdurend tot God. Maar dit is asof God nie daar is nie. Dit lyk asof Hy my nie antwoord nie. My geestelike lewe is so dor. Dit lyk asof ek kontak met God verlore het. Waarom is dit so, Maleagi? Wat het verkeerd gegaan?

Geliefdes, dis ’n bekend verhaal: "Julle bedek die altaar van die HERE met trane, met geween en versugting, omdat Hy Hom nie meer wend na die offer nie en dit van julle hand nie aanneem as welgevallig nie. En julle vra: Waarom?" (verse 13,14). Waarom gee God geen aandag aan ons nie? In die woorde van die teks gee Maleagi sy antwoord.

Maleagi vermaan God se volk vanweë hul ontrou aan die verbond met die Here.

  1. wat verbondsontrou inhou
  2. hoe dit blyk in die gemengde huwelike
  3. hoe dit blyk uit die egskeidings

Gemeente, God weerhou sy seën nie omdat Hy grillig of nukkerig is nie. Wanneer dit lyk asof God nie meer luister nie, dan is dit vir ’n rede. Soms om ons te leer om geduldig te wees en om te volhard. Om ons ’n geleentheid te gee om te wys hoe vurig ons Hom en sy seën begeer. Dink aan Christus se gelykenis van die weduwee wat by die onregverdige regter aangehou het om vir haar reg te pleit (Lk 18:1-8). Dikwels lyk dit egter asof God nie luister nie omdat daar sonde in ons lewe is waarvan ons ons bewus is, maar waaraan ons niks wil doen nie.

Wil God ons gebede verhoor, dan hoef ons nie sondeloos te wees nie. Gelukkig nie. Anders sou God nooit na iemand luister nie. Want hier op aarde is niemand volmaak nie. Tog neem God dikwels wel in rekening hoe ernstig ons is in die bestryding van sonde in ons lewe. Dis dus nie die feit dat daar sonde in ons lewe is nie, maar die feit dat ons die sonde toelaat, tolereer wat dikwels die omgang met God versteur. Daarom sê die psalmis in Ps 66: "As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie. Waarlik God het gehoor; Hy het geluister na die stem van my gebed" (verse 18,19). Ek verwys ook na Jak 4:3-10.

Maar watter sonde het in Maleagi se dae die kommunikasie met God versteur? Wanneer Maleagi dit aanspreek, dan begin hy daarmee om die volk te herinner aan hul gemeenskaplike oorsprong.

"Het ons nie almal een Vader nie? Het een God ons nie geskape nie?" Die volk word herinner aan hul spesiale verbonds verhouding met God. In die verbond mag ons die kinders van ons hemelse Vader wees. Israel, die kerk het sy hele bestaan aan God te danke. Via sy verkiesing en sy verlossingsdade het God sy volk geskep. Ons is kinders van een Vader.

Wel, as ons almal een Vader en Skepper het, dan behoort ons ook almal by dieselfde gesin van God, dan is ons mekaar se broers en susters, dan behoort ons by mekaar. "Waarom handel ons dan troueloos met mekaar, vra Maleagi, deur die verbond van ons vaders te ontheilig?"

As ons almal tot die een gesin van God behoort, hoe kan ons dan op ’n bedrieglike manier met mekaar omgaan? Dit doen broers en susters tog nie vir mekaar nie? In ’n gewone gesin staan broers en susters mekaar by. Jy voel die band wat julle aan mekaar verbind. Dit geld des te meer vir die band wat die Here God tot stand gebring het: die verbond met ons vaders.

Deur ontrou te wees en valslik met mekaar te handel, word die eenheid van God se volk geskend en so ook die verbond met die Here. Deur teen mekaar te sondig, sondig ek teen die verbond en teen God self. Ek behandel die ander dan nie langer as broers en susters van dieselfde gesin nie. Daarom onteer ek ons een Skepper-Vader. Omdat God se volk uit Maleagi se dae hierdie sonde getolereer het, verhoor God nie langer hul gebede nie.

Geliefdes, die algemene beginsel wat Maleagi bevestig, is dat jy kontak met God verloor deur verraderlik met ander van God se volk om te gaan. Wanneer jy die eenheid van die kerk verbreek, mag jy verwag dat God sy seën sal weerhou. Deur die gemeenskap met jou broers en susters te verbreek, is jy ook besig om weg te dryf van ons gemeenskaplike Vader. Dit kan jou geestelik dor laat voel.

Dis soos die apostel Joh later skryf: "As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde." (1 Joh 1:6,7).

As ek nalaat om die sonde in my lewe op ’n goeie manier aan te spreek, dan kan ek daardeur die besef van die gemeenskap met God verloor, dan sal my christelike lewe dor word. Indien ek bepaalde sondes in my lewe tolereer en toedek, dan word my gebed magteloos en my erediens vrugteloos. Dit is die dure prys wat ’n mens betaal vir verharding in sondes.

Daarom waarsku Petrus ons: "Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei, as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is." (1 Petr 2:1-3). Om werklik iets uit die prediking en die lees van die bybel te kan kry, moet my hart reg wees: "lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery." Let daarop hoe al die dinge wat Petrus noem sondes teen ander mense is. As ek bedrog of afguns of wat ook al teen ander koester, dan sal ek verloor. Die Woord van God sal vir my opdroog.

Broeders en susters, laat ons Maleagi se waarskuwing teen ontrou ter harte neem. Indien ek dorheid in my geestelike lewe ervaar, dan kan dit hiermee saam hang. Onthou, as ek die eenheid van God se volk versteur, dan is ek besig om die verbond van God te versteur. Dit is dan nie slegs so dat my gemeenskap met my broers en susters in geding is nie, maar ook my gemeenskap met die Here. Dit kan vir God ’n rede wees om Hom te onttrek.

Gemeente, in die verse 11 en 12 pas Maleagi hierdie algemene beginsel toe op die konkrete sonde van gemengde huwelike. So kom ons by die tweede gedagte van die preek. Die verbondsontrou blyk uit die gemengde huwelike.

Op watter maniere sondig die Jode uit Maleagi se dae sodat God nie na hul gebede wil luister nie? Maleagi se antwoord is: deur die dogter van ’n uitlandse god te trou. Hierdie praktyk is blykbaar so gewoon dat Juda daarvan beskuldig word. "Juda het troueloos gehandel…en hy het die dogter van ’n uitlandse god getrou." (vers 11).

Let op die sterk taal waarmee God die kies van ’n ongelowige huweliksmaat beskryf. Dis ’n kwessie van mekaar troueloos behandel. Maar hoekom? Die persoon wat ek trou is tog my eie saak? Wat het dit te doen met ander christene? Ek benadeel hulle tog nie?

Tog wel! Om iemand buite God se volk te trou is om troueloos met jou broers en susters te handel. Hoekom? Wel, God het sy volk verkies en afgesonder om Hom te dien. God het hulle bevry van heidense praktyke en heidense gode. Maar wat doen ek as ek ’n persoon trou wat nog valse gode dien? Wat doen ek as ek ’n meisie of ou trou wat nie die Here God dien nie? Ek gun die vreemde gode ’n plek naas die enige ware God. Ek ontheilig die verbond tussen God en sy volk. Ek bedryf ’n gruwel onder God se volk. Ek plaas die bestaan van God se verbondsvolk op die spel. Daarom word hulle wat aan hierdie sonde skuldig is met ekskommunikasie bedreig. Mag die Here die man wat so iets doen uitroei uit die tente van Jakob, ook al bring hy ’n offer aan die Here van die leërskare.

Ja, broeders en susters, seuns en meisies, dis geen onverskillige saak met wie jy, jou seun of dogter, jou broer of suster, ’n permanente verhouding opbou nie. Dis nie slegs ’n persoonlike saak nie. Dis ook nie slegs ’n saak wat die verhouding met jou naaste raak nie. Nee, dit raak in die eerste plek jou verhouding met die Here God. Die keuse van ’n huweliksmaat is ’n saak van die verbond. Die Here het gesê: jy behoort aan My. Ek verlang dat jy My sal dien. Maar as jy ’n ongelowige trou, speel jy ’n speletjie met my verbond, met my liefde vir jou. Wanneer jy ’n ongelowige trou dan introduseer jy nie slegs ’n buitestaander in jou huis nie, maar ook ander gode. Ons praat mos oor hulle wat uitlandse gode dien. Jy plaas jou bestaan as christen op die spel. Die Here sê vir jou: Ek het jou gered sodat jy My sou dien. Gee nie jou hart aan iemand wat my nie liefhet nie. Gee nie jou hart aan ’n huweliksmaat wat geen agting vir my het nie. Maar jy doen dit wel.

Deur dit te doen stel jy nie slegs God se volk, tot wie jy jouself by jou belydenis verbind het, teleur nie. Ja, dit ook. Jy het belowe dat jy God as ’n lewende lid van sy kerk sou dien. Maar deur te wil trou buite die christelike gesin sê jy iets anders. Jou woorde sê een ding en jou dade die teendeel. Jy handel troueloos met God se volk. Jy sê dat jy verbind is om met God se volk tot sy eer te werk. Maar jy besef nie dat jou keuse van huweliksmaat dit versterk of verswak. Indien jy ’n christen trou dan kan julle saam jul kragte aan God se werk gee. Maar as jy ’n nie-christen trou, ook al bly jy kerk toe gaan, sal jy van twee kante getrek word, om vir God se koninkryk te werk of om jou huweliksmaat tevrede te stel.

Sal jy die Here trou bly dien terwyl jou huweliksmaat dit nie doen nie? Onthou Christus se gelykenis van die saaier. Hy praat van saad wat opkom en mooi lyk maar dan soos saad tussen die dorings verstik word. "Die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar (Mk 4:19). Moenie fout maak nie. Hoeveel mense, veral jong mense, het nie van die Here afgedwaal deur ’n verkeerde keuse van huweliksmaat nie. Hulle het in hul keuse teen die wil van God ingegaan. Uiteindelik het dit sover gekom dat hulle ook die ander gebooie van God nie meer ernstig geneem het nie.

Miskien dink iemand in sy jeugdige optimisme: Ek sal hom of haar trou en dan sal hy of sy wel ’n christen word. In God se groot genade gebeur dit somtyds. Maar die teenoorgestelde gebeur ook dikwels, naamlik dat jy afval. As dit vir ’n man soos koning Salomo kon gebeur, kan dit ook vir jou gebeur.

Bowendien, hoe kan jy jou huweliksmaat aanspoor om hom aan die Here Jesus te onderwerp, as jy self teen God se wil ingaan wat betref jou keuse van huweliksmaat? Jy vertel dan die ander persoon om iets te doen wat jy self nie eers doen nie.

Laat ons, broeders en susters, seuns en meisies, gewaarsku wees. Wanneer jy, jou seun of dogter, broer of suster, ’n huweliksmaat soek, dink eers aan die verbond met God. Onthou jou doop. Die keuse van jou huweliksmaat het alles te make met jou verhouding met jou hemelse Vader en met die verbondsgemeenskap. Hier geld die reël: eers die verbond met die Here, slegs dan die huweliksverbond. Eers die geestelike band met jou maat – eers een in die geloof - daarna een in die huwelik. Dan soek jy iemand wat by dieselfde Vader behoort, ’n broer of suster in die Here. Dit klink miskien oordrewe in ons postmoderne tyd. Maar dit is hoe God daaroor praat, ook in die Nuwe Testament. Dink aan die gedeelte wat ons uit 2 Korintiërs 6 gelees het bv "Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie." ens.

As jy jou nie onderwerp aan die woord van God nie, dan is jy besig om jou unieke posisie as kind van God op die spel te plaas. Jy is dan besig om die verbond van die heilige God te ontheilig. Jy is dan besig om jouself en jou gesin in gevaar te stel.

Want wat begeer God in jou huwelik? Onder ander begeer Hy ’n geslag van God, volgens vers 15. God wil nie slegs kinders sien nie. Hy wil godvresende kinders sien. Kinders wat aan Hom behoort en wat vir Hom lewe. Wat sal daarvan teregkom indien ek as huweliksmaat iemand kies wat die Here nie dien nie? Natuurlik is daar geen waarborg dat kinders van christelike ouers die geloof van hul ouers sal aanhang nie. Maar ons moet besef dat ons op hierdie terrein ’n struikelblok vir ons kinders kan wees. Gemengde huwelike is een van die groot struikelblokke.

Laat ons daarom die heiligheid van God se verbond ernstig neem. In geding is die toekoms van God se volk, ons eie toekoms en dit van ons kinders. Laat ons so ook ons huwelike beskerm. Want sonder die vaste basis van die verbond is die huwelik nie veilig nie. As die huweliksmaats nie saamstem oor die belangrikste saak in hul lewe – die diens aan die Here - dan vra hulle om moeilikheid. Wat verenig hulle dan? En waarom sou hulle dat saambly wanneer moeites ontstaan? Ter wille van beide partye, van die christen en die nie-christen is dit beter om dan nie te trou nie. Niemand soek tog ’n ongelukkige huwelik nie?

Geliefdes, toe God se volk die verbond nie ernstig geneem het nie, het dit sy gevolge gehad in die huwelikslewe. Dit het gelei tot egskeidings lees ons in die teks. So kom ons by die laaste punt: die verbondsontrou blyk ook uit die egskeidings.

Die Here tree op as aanklaer. Hy was ’n getuie by die huweliksbevestiging. Hy het gesien hoe die huweliksmaats hul beloftes gegee het. Voor Hom en sy gemeente. Daarom beskuldig die Here hulle, wat hulle vroue weggestuur het, van ontrou. God hoor hulle gebede nie omdat hulle ontrou is teenoor hul vroue. Waarskynlik het verskeie mans hul Joodse vroue weggestuur om heidense vroue te trou.

Die Here sê in feite vir hulle: weet jy nie dat die vrou wat jy weggestuur het ’n kind van dieselfde Vader is nie? Het een God julle nie gemaak nie, julle Skepper-Vader? Het Hy haar nie naas jou geplaas as jou suster en vrou nie?

As jy jou vrou ten volle wil waardeer, moet jy eers jou VerbondsGod erken, wat haar as suster aan jou gegee het. Indien jy haar posisie as suster vergeet, dan is haar plek in die huwelik nie meer veilig nie. Want die geloofsband is die basis waarop jou huwelik rus en standhou. Ook vandag, terwyl soveel huwelike stukkend gaan. Geloof in God is die sement wat die huwelik aan mekaar hou. Daarom wanneer julle as man en vrou die verbond heilig hou, dan ontvang julle waarborge aangaande jul huwelik. Want dan hou julle mekaar vas in die Here. Daar eer julle mekaar as mede-erfgename van die ewige lewe. Daar word julle liefde geheilig en gedra deur die band van die geloof. Daar kan die ware liefde nie afsterf nie. Dit word mos voortdurend aangevuur en vernuwe deur die onbegryplike liefde van Jesus Christus.

So ’n huwelik kan opnuut die doel dien wat God voor oë het: die opbou van sy kerk en koninkryk, waaronder ook ’n geslag van God. God wil sy groot gesin voor Hom sien, die skare wat niemand kan tel nie. Hy wil daarby elkeen met sy eie gawes inskakel.

Laat ons oppas om nie troueloos te wees nie. Laat ons die band van die huwelik eerbiedig, dit onderhou in die Here. Die keuse van huweliksmaat is waarlik ’n saak van die verbond. So ook julle trou in die huwelik. In die verbond is julle huwelik veilig, dit ontvang ’n vaste fondament. In die verbond kan die huwelik ook werklik vrugbaar wees. God ontvang die eer wat Hom toekom.

AMEN

 

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)