God is in die hoogste mate regverdig en barmhartig.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-10-21
Teks: 
Dordtse Leerreëls 2
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 2 Art. 1,2

Ds C Kleyn - Sondag 21 Oktober 2001

Lees:

Romeine 3:21-31; Galásiërs 3:8,14; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 2 Art. 1,2.
Sing: Ps 93:1,2; Ps 93:3,4; Ps 105:5; Ps 117:1; Ps 94:5,6,7; Ps 94:8,12.

Tema: God is in die hoogste mate regverdig en barmhartig.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die twee kernwoorde waaroor dit vanoggend gaan is God se geregtigheid en barmhartigheid. Soos dit staan in die eerste par van DL hoofstuk 2: God is nie alleen in die hoogste mate barmhartig nie, maar ook in die hoogste mate regverdig. God se geregtigheid en barmhartigheid, daaroor gaan dit vanoggend.

Daaroor gaan dit ook by die water van die doop. Dink maar aan die verwysing na die sondvloed in die gebed voor die doop. "O almagtige, ewige God, U het volgens u regverdige oordeel die ongelowige en onboetvaardige wêreld met die sondvloed gestraf. Maar U het die gelowige Noag met sy gesin, slegs agt mense, deur u groot barmhartigheid gered en bewaar." Let op die dubbele funksie van die water in hierdie voorbeeld. God gebruik die water om sy oordeel oor die wêreld te bring. Hy gebruik dieselfde water om Noag en sy ark drywende te hou. Dieselfde water wat oordeel bring oor die onboetvaardige wêreld, draag die ark na veiligheid. Dit hef die ark uit bo die massagraf wat die vloed aanrig. Die apostel Petrus verbind dit direk aan die doop (1 Petr 3:20,21). Hy noem die doop wat ons nou red die teëbeeld daarvan. Die doop het ’n dubbele betekenis. Of jy verdrink daarin. Of jy word daardeur gered.

Die doopsformulier noem ook nog ’n tweede voorbeeld, die Rooisee : "U het die hardnekkige Farao met al sy manne in die Rooisee laat verdrink, maar u volk Israel op droë grond daardeur gelei – waardeur U toe reeds die doop afgebeeld het". Die water bring skeiding tussen God se volk en die Egiptenare. Dieselfde water wat God se volk red, bring God se oordeel oor die Egiptenare. God se oordeel en God se verlossing is heel nou aan mekaar verbind. Dis een en dieselfde saak of daad van God na twee kante. Dieselfde evangelie, dieselfde doop preek oordeel en verlossing. Vir die gelowiges is dit verlossing, vir die ongelowiges oordeel. So spreek die doop van ondergang en redding, van God se oordeel oor die sonde en van sy verlossing uit genade. Van God se geregtigheid en van sy barmhartigheid.

Die doop leer ons ook dat daar geen redding sonder oordeel is nie. God kan die sonde nie sommer deur die vingers sien nie. Ook nie die sonde van sy eie volk nie. In sy geduld kan God dit ’n lange tyd laat gaan. Maar moenie sy geduld met toegeeflikheid of slapheid verwar nie. Sonde is sonde. En elke sonde kom onder die oordeel.

Die Here hou die mens, hou u en my verantwoordelik vir alles wat ons doen of nalaat om te doen. Daar kom ’n oordeel oor die wêreld vanweë die sonde. Tensy u u veiligheid in Jesus Christus vind, sal die oordeel u vernietig, ewig vernietig.

Ja, die bestaan van die hel waarin God sy ewige straf oor die sonde en die sondaars sal uitvoer, is ’n werklikheid wat ons nie kan en mag verswyg nie. Die Here hou nie op om ons in sy woord te waarsku: jy kan nie van die ewige verdoemenis gered word sonder Jesus Christus nie.

Dit het alles te doen met God se geregtigheid. Ons lees in die DL: "Sy geregtigheid – soos Hy Hom in sy Woord geopenbaar het – eis dat ons sondes, wat teen sy oneindige majesteit begaan is, nie alleen met tydelike nie, maar ook met ewige strawwe na siel en liggaam gestraf moet word."

Baie mense wil nie van God se geregtigheid weet nie. Hulle wil slegs praat van God se liefde en barmhartigheid. Hulle speel die twee eienskappe van God teen mekaar uit en kies vir sy barmhartigheid ten koste van sy geregtigheid. As ek dit doen dan vergeet ek egter wie God is en wat Hy gedoen het. God en sy deugde is een. God is volmaak regverdig en volmaak barmhartig. God sou nie barmhartig wees as Hy nie tegelykertyd regverdig was nie. Dit sien ons juis in Jesus Christus. Sion moet en sal deur reg verlos word.

Is dit regverdig van God om die mense tydelik en ewig te straf? Wel, wat het God gedoen? God het die paradys, ja, die hele aarde vir die mens gereedgemaak. Hy het die mens as kroon van die skepping gemaak. Hom begiftig met uitnemende gawes. Ons na sy beeld geskep. Ons in verhouding met Homself, die almagtige en soewereine God, gemaak. Hy het vanaf die staanspoor ’n liefdesverhouding met ons wil aangaan. Terwyl Hy ons nie nodig gehad het nie. Hy het in die paradys op ’n direkte manier met die mens omgang gehad. Ons was werklik soos kinders van Hom, bevoorreg selfs bo die engele wat Hy as dienende geeste geskep het, sy dienaars ten gunste van die mens. Ons mog in die paradys vrylik eet van die boom van die lewe. ’n Teken en seel van die belofte van die ewige lewe met God. Indien ons trou gebly het, dan sou ons saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.

’n Onvoorstelbare hoë en bevoorregte posisie, as kinders en onderkonings van die soewereine God. Probeer om dit voor te stel. Aan die voorreg het God ook eise gestel. Die eis van die verbond was in feite niks anders as die eis wat vandag nog geld nie: "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." Om die mens in sy liefde en gehoorsaamheid te toets, gee God ook nog die proefgebod: "Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie." Met dan die dreiging: "want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe." Van die staanspoor af mog ons dus in die verbond met die Here God lewe. Met die belofte van die ewige lewe, met die eis van die liefde en met die dreiging van die dood by oortreding van die gebod.

Wat het die mens Adam, en in hom ons almal, gedoen? Ons, wat so hoog bevoorreg was, het teen God gerebelleer. Die verbond oortree. Gekies vir God se teenstander, gekies vir die sonde en die dood. Daarmee het ons verander, het ons sondig en skuldig geword. En nou wil ons hê dat God ook verander. Ons wil hê dat Hy die dreiging maar vergeet en ons weer aanvaar sonder te praat oor die skuld. Ons wil God neerhaal na ons vlak toe, sodat Hy voortaan na ons maatstawwe sou handel. Daarom wil ons slegs van sy liefde en barmhartigheid hoor. Maar dit is onmoontlik. God wil wel neerbuig na ons toe. Maar God wil nie soos ons word nie. Dan sou Hy nie meer God wees nie. Dan sou Hy Homself verloën.

Soos ons lees in Numeri 23:19: "God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ’n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?" Of 2 Tim 2:13: "As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie." In die paradys het ons ontrou geword. Wil ons dan hê dat God ook ontrou word? Vergeet dit maar. Gelukkig maar. God is God en Hy bly God, getrouheid en waarheid in eie persoon. Ons kan tenminste op Hom bly staatmaak. Hy doen wat Hy sê. Hy verlaag Homself nie na die vlak van die gevalle mens nie, maar Hy wil ons juis weer na sy vlak terugbring. Gelukkig, anders was daar geen toekoms vir ons mense nie.

Maar goed, dit beteken wel dat die sonde gestraf moet word. Dit eis God se waarheid en geregtigheid. "Die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe." Die mens het gekies teen God, wat die lewe self is. Nou moet die mens die gevolge daarvan dra, die dood, om sonder God en sonder hoop te lewe, die godverlatenheid. Na die sondeval het dit begin by die geestelike dood. Daarna sou daar die liggaamlik dood wees, die terugkeer tot stof en dan die ewige dood. Indien Christus nie onmiddellik as Middelaar van die genadeverbond opgetree het nie, dan sou die mens onmiddellik die ewige dood gesterf het. Maar nou het God die dood in fases laat intree. Waardeur Hy nog ’n tyd van genade gegee het, ’n tyd van bekering en redding.

Ons sondes, wat teen God se oneindige majesteit begaan is, moet nie alleen met tydelike nie, maar ook met ewige strawwe gestraf word. Ja ook tydelike strawwe. Sonde bly sonde, ’n belediging van God se majesteit, ’n kwetsing van God se liefde. Hoe durf ons om die liefde van sy hoë majesteit met minagting en haat te beantwoord. Daarmee roep ons die oordeel van sy koninklike hoogheid oor ons uit. Nou reeds. Siekte, oorlog, armoede, geweld, droogte en oorstromings ens. So dink ons ook aan die sondvloed en aan die dood van die Egiptenare in die Rooisee. Straf op sonde teen die hoe majesteit van God. Voor die sondvloed was die boosheid van die mens op die aarde groot. En ons weet almal van die verharding van Farao se hart teen die Here God.

God straf tydelik en ewig. Wat by die sondvloed en by die Rooisee gebeur het, is ’n voorbode van die ewige straf van God. ’n Waarskuwing om die soewereine God nie in sy liefde en grootheid te beledig nie. Ons kan vandag ook dink aan die terreurramp in Amerika en aan die armoede en oorlog in Afghanistan. God diskrimineer nie in sy oordele nie. In beide gevalle bepaal God ons by sy heilige toorn teen die sonde. Slegs vir die gelowiges is daar ontkoming. Deur Jesus Christus. Ook al sou die rampe die gelowiges tref, dit is dan geen straf van God meer nie, maar ’n beproewing, ’n loutering ter voorbereiding op die ontmoeting met Hom.

Wat die ewige straf betref, dis die ergste wat iemand kan tref, onherroeplik. Definitief. Die totale vereensaming. Deur God en mense verlate. Die passende loon vir die veragting van God se liefde, vir die belediging van sy hoë majesteit.

Ons kan aan hierdie strawwe nie ontkom nie, tensy aan die geregtigheid van God voldoen word. Betaling moet geskied. Dis betaling of die dood. Versoening kan slegs deur voldoening plaasvind.

Gemeente, ons sien God se geregtigheid as vreeslik, verskriklik, donker en dit is ook so. Maar God se geregtigheid gee ook troos en hoop vir hulle wat hulle bekeer. God sê mos: "Sion sal deur strafgerig verlos word en die van hom wat terugkeer, deur geregtigheid" (Jes 1:27). God verbind sy geregtigheid aan die verlossing van sy volk. Dank God dat Hy die reg handhaaf. Deur sy Seun sorg Hy vir voldoening. Hy vra wat ons sondaars nie kan betaal nie. En Hy gee dit ook. Wat by die mense onmoontlik is, is moontlik by God. So kom ons by die tweede par van die DL. God se barmhartigheid.

"Ons self kan geen voldoening gee om ons van die toorn van God te bevry nie. Daarom het God uit oneindige barmhartigheid sy eniggebore Seun as borg aan ons gegee. Die Seun het vir ons of in ons plek sonde en vervloeking aan die kruis geword om vir ons te voldoen."

Ons het gesondig. Ons verdien die dood. Ons is dus verantwoordelik. Ons moet betaal. Maar hoe sou ons betaal? Die ewige dood is mos die ewige dood. Die dood waaruit ons nooit onsself kan bevry nie. Ook al is daar baie mense wat hierdie waarheid nie wil aanvaar nie. Waarom sou die mens nie kan betaal, of in elk geval ’n bydrae daaraan kan lewer nie? Hulle dink te goed van die mens en te sleg van God. Hulle vergeet die afsprake in die paradys. Met hul sondige harte en verduisterde verstand gaan hulle self die prys bepaal wat volgens hulle betaal moet word. So sien ons deur die eeue heen die pogings van mense om hulleself te red, bv, deur offers, deur voorvader-verering, gebede, vroomheid, goeie werke ens. Maar dis nie die prys wat die regverdige en heilige God afgespreek het en verdien nie. Hy vra volmaakte liefde en gehoorsaamheid.. "Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie." Gal 3:10. Geen sondige mens kan die volmaakte gehoorsaamheid opbring nie. Daarom skryf Paulus onmiddellik voorafgaande aan die woorde: "Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek." Wil jy self betaal, vergeet dit maar, dit beteken jou ondergang, jy bly dan onder die vloek. Want slegs volmaakte gehoorsaamheid is voldoende en dit kan jy, ’n sondaar, nie bereik nie. Bowendien, na die sondeval is die prys wat die mens moet betaal die ewige straf aan liggaam en siel. Watter sondige sterweling kan dit betaal?

Maar wat sien ons God nou doen. Hy gee sy eie Seun as borg, as plaasvervanger. Ons was skuldig en verantwoordelik. Maar God se Seun staan vir ons in. Hy betaal die prys. Wat ’n genade, barmhartigheid. "Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word- want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang." Hy is deur God verlate sodat ons nooit meer deur Hom verlaat sou word nie. Sion is inderdaad deur reg verlos.

Laat ons terugkeer na die simboliek van die doop. Die water van die doop het ’n dubbele betekenis. Of jy verdrink daarin. Of jy word daardeur gered. Die water praat van oordeel en verlossing. Oordeel, God kan sonde en ongehoorsaamheid nie ongestraf laat bly nie. Sondaar roep God se oordeel oor hulle. Die ongelowige wêreld in die tyd van Noag het dit geweet. Die Egiptenare in die tyd van Moses het dit geweet. Daar was vir hulle geen ontkoming aan die regverdige toorn van God nie. God het juis die water as instrument van sy toorn gebruik. Ons het gesien dat God oordeel en redding nou aan mekaar verbind het. Wat vir die een oordeel beteken het, het vir die ander redding beteken. Noag en sy gesin, die Israeliete is deur die oordeel heen of onder die oordeel uit gered. Ons het ook gesien dat daar geen redding sonder oordeel is nie. Hoe kon Noag en sy gesin, hoe kon die Israeliete by die Rooisee dan onder die oordeel uit gered word, deur die water heen gered word?

Omdat hulle uit hulleself skoon was, regverdig? Nee, dit kon slegs plaasvind op grond van wat Christus Jesus later sou doen, sy verlossingswerk. Hulle het aan die oordeel ontkom omdat die oordeel oor Jesus Christus sou kom. Dis soos Paulus skryf in Rom 3:25: "Hom (dit is: Jesus Christus) het God voorgestel as ’n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God – om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof is Jesus is."

Wel, Noag was uit die geloof. Hy is uit die geloof geregverdig. Van die Israeliete by die Rooisee sê Paulus dat hulle almal "deur die see deurgegaan het, en almal in Moses (die middelaar van die Ou Verbond) gedoop is en in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus." (1 Kor 10:1-4). Vir die Israeliete was daar slegs ontkoming van die oordeel deur Jesus Christus wat sou kom.

Wel, uiteindelik het die ware Middelaar van die verbond Jesus Christus verskyn. Vir Hom was daar geen genade nie. Hy is nie onder die oordeel uit gered nie. Hy moes daar onderdeur. Ons sou dit so kan sê: die Here Jesus is onder die vloedgolf van God se toorn vernietig. Op Golgota het God die vloed van sy toorn oor Hom uitgegiet. Hy is in die ewige dood gestort. As ons Middelaar en Redder.

Broeders en susters, hierdie wonderlike waarheid word nou pragtig in die doop uitgebeeld. Die water van die doop is ’n teken van oordeel, van verdrinking, van dood. Maar tegelyk is dit ’n teken van redding deur die water heen. Soos Noag en die Israeliete onder die oordeel uit gered is, so word ons vandag deur die bloed van Jesus Christus onder die oordeel uit gered. Christus het vir ons die verdiende oordeel gedra.

Sien hier God se regverdigheid en barmhartigheid. Daar is geen redding sonder oordeel nie. Christus het die oordeel vir ons ondergaan. God self het vir voldoening gesorg. So bly Hy God wat tegelykertyd barmhartig en regverdig is. Deur reg is ons gered. Let op die doop van Lourens Ros. Die water wys op die oordeel wat oor Jesus Christus uitgegiet is in ons plek. In Hom is daar ontkoming. Glo hierdie evangelie. Aanvaar julle doop en julle sal gered word.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)