Die Here roep die priesters op tot ware erediens.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-10-14
Teks: 
Maleági 1
Preek Inhoud: 

Maleági 1:6-14

Ds C Kleyn - Sondag 14 Oktober 2001

Lees:

Levitikus 22:17-33; Maleági 1:6-2:9.
Sing: Ps 29:1,5; Ps 50:1,2 (of Ps 106:1,20); Ps 40:4; Ps 50:7,8,11; Ps 43;3,4.

Tema: Die Here roep die priesters op tot ware erediens.

  1. die Here het reg op hul erediens;
  2. die Here ontvang nie hul erediens nie; en
  3. die Here het hul erediens nie nodig nie.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Soos gewoonlik het ons weer bymekaargekom. Wat het ons gekom om te doen?
Selfs die kinders sal verstaan dat ons nie slegs hier gekom het om mekaar te
ontmoet nie. Daarvoor het ons geen eredienste nodig nie. Ons kan daarvoor ander
geleenthede gebruik soos die verenigings ens. Wat is dan so spesiaal van hierdie
samekoms? Dit, dit is ’n ontmoeting tussen God en sy volk. Julle ontmoet nou
julle groot en heilige God. Besef julle dit wel? Het julle dit in rekening
gebring toe julle kerk toegekom het? Julle mag nou die Here God hoor praat en
julle mag dit beantwoord in julle liedere, gebede en gawes. Julle mag nou
deelneem aan die verbondsgesprek tussen God en sy volk. Ja, dis waaroor dit gaan
in hierdie diens. ’n Wonderlike ervaring. Iets wat groot sorgvuldigheid
vereis. Dis immers geen kleinigheid om julle heilige God te ontmoet nie. Dit
vereis gepaste eerbied en aanbidding. Opregte harte en toegewyde lewens. Is dit
by julle aanwesig?

Maleagi, die laaste Ou Testamentiese profeet, het die verkeerde houding en
praktyke in die Ou testamentiese erediens skerp aangespreek. Hy het veral die
priesters betig. Nie dat die gewone volk onskuldig is nie. Die mense is soos hul
leiers. Tog spreek Maleagi veral die priesters aan. Dis veral hulle wat vir die
Ou Testamentiese erediens verantwoordelik is. Dmv hierdie woorde spreek God ook
u en my aan.

Ek vat die teks as volg saam: Die Here roep die priesters op tot ware
erediens.

  1. die Here het reg op hul erediens
  2. die Here ontvang nie hul erediens nie
  3. die Here het hul erediens nie nodig nie.

In die vorm van ’n lewendige dialoog tref die Here onmiddellik die aandag
van sy hoorders. Hy begin met ’n stelling waarmee al die kerklike vaders en
here van harte sal saamstem: "’n Seun eer die vader, en ’n kneg sy
heer."

’n Seun eer sy vader. Natuurlik. Elkeen sal saamstem. Dis ’n natuurlike
wet. Wat deur God se wet, die 10 gebooie, bevestig word. Dit was altyd ’n
algemeen aanvaarde reël in die samelewing. Ook al steur baie hulle vandag nie
meer aan die reël nie. Dit neem nie weg dat jy van ’n seun mag verwag dat hy
sy vader eer. Wat beteken dit om jou vader te eer? Wel, God het jou pa ’n
sekere gewig, waarde, gesag gegee. As kind moet jy dit erken, eerbiedig. Dit
beteken ook dat jy jou met die verskuldigde gehoorsaamheid aan hom onderwerp.
Natuurlik, geen blinde gehoorsaamheid nie. Indien hy iets van jou sou eis wat
teen God se wil ingaan, dan mag jy nie gehoorsaam nie. Ons praat van die
gehoorsaamheid wat verskuldig is. Hierdie houding van eerbied en ontsag hoort by
die vader-kind verhouding.

’n Kneg eer sy heer. Opnuut ’n aanvaarde reël. Die heer het ook ’n
posisie van gesag tav sy kneg. Hy mag gepaste eer en gehoorsaamheid verwag.

Die priesters sal heelhartig met hierdie twee stellings saamstem. Miskien
dink hulle: ja, dis ’n probleem onder God se volk. Daar moes meer respek wees
vir hulle wat gesag ontvang het. Maar deur saam te stem met die twee stellings
is die leiers besig om hul eie vonnis te vel. Die aandag word skielik op
hulleself gerig.

"As Ek dan ’n Vader is, waar is my eer? En as Ek ’n Heer is, waar is
die vrees vir My? sê die Here van die leërskare aan julle, o priesters, wat my
Naam verag!" Die Here pas die algemeen aanvaarde reëls toe op die
verhouding tussen Hom en sy volk. As Ek ’n Vader is, waar is my eer? Dis
belangrik om mense in gesag te eer. Maar is dit nie veel belangriker om God self
te eer nie? God die Vader soek ware eerbied vir Homself. Op watter manier wys
julle dat julle My as Vader en Heer eer? Is ek minder belangrik as daardie
aardse vaders en aardse here?

Die Here kan met reg Homself beroep op die titel Vader. Hy is diegene wat sy
volk tot stand gebring het. Deur sy magtige dade van skepping en verlossing.
Dink aan die wonderbaarlike geboorte van Isak uit die onvrugbare en bejaarde
Sarah. Dink ook aan die wonderbaarlike uittog uit Egipte. Israel het sy bestaan
aan die Here te danke. God is Israel se Vader so te sê. Daarom het God meermale
sy volk ook sy seun genoem, selfs sy eersgebore seun.

Wel as Ek dan julle Vader is, waar is my eer? Waar is die erkenning van my
verhewenheid, van my heerlikheid en mag?

En as Ek ’n Heer is, waar is die vrees vir My? Die verhouding Vader-seun
impliseer vir God reeds die verhouding heer-kneg. Hy is die wettige eienaar van
sy volk. Hy is hul Heer en Meester. Hulle is sy eiendom. Waar is dan die eerbied
en ontsag vir My?

Die eer en vrees sou gepas wees as reaksie op God se liefde. Daarin sou die
kerkleiers ’n voorbeeld moet gee. Is hulle nie op ’n spesiale manier
dienaars van die Here nie? Daarom fokus die Here op die kerkleiers: "sê
die Here van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag!" Die
Here wys aan wie veral aanspreeklik is. Ja, dit geld in die eerste plek julle, o
priesters, julle wat vir die erediens verantwoordelik is.

In die reël is dit maklik om leiers te kritiseer, om onsself te
verontskuldig en om die leiers die skuld te gee vir ons geestelike sorgloosheid
en slapheid. Maar in hierdie geval is daar in die klag ’n element van
waarheid. Elkeen is verantwoordelik vir die gebrek aan lewenskrag in die
verhouding met God. Maar een groep is veral verantwoordelik, naamlik die
priesters.

Die priesters was ’n groep wat God spesiaal vir sy diens afgesonder het.
Hulle het voor die Here gestaan, in sy heiligdom. Hulle was aangestel om die
offers te bring. Hulle was die Ou Testamentiese middelaars tussen die Here en sy
volk. Net hulle mog voor die Here verskyn en die volk met die Here versoen. Saam
met die Leviete word hulle selfs die besondere eiendom van die Here genoem. Dit
was hulle voorreg. Maar hulle moet ook besef: adeldom verplig. Om vir ’n
besondere diens afgesonder te word, impliseer ’n groot verantwoordelikheid.

Broeders en susters, op ’n manier is alle christene vandag priesters. In 1
Petr 2:9 sê God vir sy Nuwe Testamentiese gemeente: "Maar julle is ’n
uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as
eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis
geroep het tot sy wonderbare lig." Elkeen van julle word priesters van God
genoem, God se besondere eiendom. Julle is tog duur gekoop met Christus se
kosbare bloed? Julle het tog die teken van afsondering ontvang in julle doop?
Afgesonder van die wêreld staan julle in die diens van God. Maar onthou:
adeldom verplig. Julle groot voorreg is ook ’n groot verantwoordelikheid.
Julle diens aan die Here vereis groot sorgvuldigheid. God vra julle hele hart en
lewe. Stel jul liggame as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer
– dit is julle redelike godsdiens (Rom 12:1). As jy ’n kind van die hemelse
Vader is, bewys Hom dan alle eer, liefde en trou. As jy ’n kneg van die
hemelse Heer is, bewys Hom dan die gepaste eerbied en ontsag. Om vir die Here
afgesonder te word stel hoë eise en plaas jou vir ’n groot
verantwoordelikheid. Onthou dit, ook wanneer julle weekliks voor die Here
verskyn in erediens.

Dit geld des te meer vir die ampsdraers van die gemeente, die onderwysers,
die jeugleiers, die pa’s en ma’s, hulle wat op ’n heel besondere manier
priesters is. Laat al die geestelike leiers wys wat dit is om die Here God te
eer en te vrees.

Want dit is wat so verskriklik is in die dae van Maleagi: die priesters, die
leiers, bewys nie langer die ware eerbied en ontsag vir God nie. So kom ons by
die tweede gedagte van die preek: Die Here ontvang nie die erediens van die
priesters nie.

Toe die Here die vrae gestel het: As Ek dan ’n Vader is, waar is my eer? En
as Ek ’n Heer is, waar is die vrees vir My? toe het dit reeds geïmpliseer dat
dit ontbreek het. Die kerkvolk en veral die leiers het God nie die verskuldigde
eerbied en ontsag gewys nie.

Die Here noem dit uitdruklik in die woorde: "sê die Here van die leërskare
aan julle, o priesters, wat my Naam verag!" Die aanklag is dat die
priesters God se Naam, ja God self verag. God se Naam is mos God soos Hy Homself
bekendgemaak het. Hulle het die teenoorgestelde van wat van hulle verwag mag
word gedoen. Nie slegs een of twee keer nie. Nee, voortdurend. Dit het hul
optrede gaan kenmerk. Hulle word veragters van God se naam genoem.

Broeders en susters, probeer om voor te stel wat dit beteken. Dit word nou
nie van die heidene en goddeloses gesê nie. Ook nie van die mense wat in die
kerk aan die kant staan nie. Dit word van die priesters gesê, die voorgangers
in die kerk. Die leiers word veragters van God genoem. Juis die mense wat God se
naam onder die volk moes hooghou en die volk daarin moes onderrig en voorgaan,
word nou veragters van God se naam genoem. Gestel dat dit vir die predikant en
die ouderlinge gesê sou word: julle is veragters van my Naam.

Gemeente, een van julle take as God se uitverkore volk is om te getuig van
die waarheid en grootheid van God. Om die woorde van 1 Petr 2 te gebruik: om te
verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy
wonderbare lig. Deur ’n heilige lewe moet ons mense se aandag na ons groot God
trek. Maar wat as ons nalaat om heilige lewens te lei? Wat as ons nalaat om ware
eer en ontsag vir God te wys? Hoe sal dan die mense rondom ons tot ware
aanbidding van God gebring word?

Die priesters beskou hulleself onskuldig. Hulle antwoord: waardeur het ons U
naam verag? Daarop reageer die Here: deur onrein spys op my altaar te bring. Die
priesters maak nog asof hulle nie weet waaroor die Here praat nie. Hulle vra:
"waardeur het ons U verontreinig?" Ons het tog nooit ’n onrein dier
geoffer nie?

Hul redenering word gou ontsenu. ’n Offerdier moet nie slegs rein wees nie.
Dit moet ook sonder gebrek wees. Indien dit nie die geval is nie, dan is die
offer onrein en onaanvaarbaar vir die heilige God. Het die Here nie in sy wet
bepaal dat dit wat blind, vermink, lam of siek is nie aan Hom geoffer mag word
nie (Lev 22)? God is slegs tevrede met die beste uit die trop of kudde. Dit as
’n voorafskaduwing van die volmaakte lam Jesus Christus. Die offer moet
volmaak wees.

Op hierdie punt minag die priesters die diens van die Here. Hulle is tevrede
met enigiets wat die volk aanbied om te offer. Hulle dink: ’n mens moet dit
nie te nou neem in die diens van die Here nie, jy moet die eise nie te hoog stel
nie. Jy kan tog nie die gawes wat die mense as offers vir die Here aanbied weier
nie, ook al sou daar ’n seker gebrek wees. So ’n dier is in elk geval beter
as niks nie. In vandag se terme: jy kan tog nie ’n christen afwys nie, ook al
wil hy nie met ’n sondige gedrag breek nie. ’n Mens moet tog bly wees as so
’n persoon hom by die kerk aanmeld? Sy godsdiens is tog in elk geval beter as
niks nie.

Die Here wys die redenering af: "As julle ’n blinde dier bring om te
offer, is dit geen kwaad nie! En as julle ’n lam of ’n siek dier bring, is
dit geen kwaad nie." Die priesters moet sulke offers weier. Om ’n offer
te bring is om iets van groot waarde vir die Here op te offer. Maar mense gee
God as ‘t ware slegs ’n fooitjie, n minderwaardige gawe. Hier het ons die
houding van: "alles is goed genoeg vir die Here. Hy mag dankbaar wees dat
ek Hom iets gegee het." Die houding van: "my loopbaan kom eers, daarna
my ontspanning, daarna my huis en ten slotte kan God kry wat oor is (as daar
tenminste iets oor is)."

Die Here haat hierdie soort offer, wat nie werklik ’n offer is nie. Die
priesters moet dit weier. Hulle moet die mense wat met sulke offers durf kom,
terugstuur. Hulle moet vir die mense sê: as dit alles is wat julle vir God wil
gee, hou dit maar. Die Here is nie tevrede met ’n fooitjie of oorskietkos nie.
Slegs die beste is goed genoeg vir Hom.

Gemeente, deur sulke goedkoop en pynlose offers te aanvaar maak die priesters
hulleself skuldig aan die veragting van die altaar van die Here, ja aan die
minagting van God self. Hulle weier self om die woord van God ernstig te neem.
Hulle ignoreer God se duidelike voorskrifte mbt die erediens. Waar blyk die
eerbied vir die Here in wie se diens hulle staan?

Die Here vervolg: "bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy ’n
welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees?" Natuurlik nie! Dit sou jy
nie waag nie. Die goewerneur sou dit as ’n ernstige belediging opvat. Durf jy
dit dan wel aan die Here van die leërskare aanbied? Aan die Almagtige,
soewereine God? Verwag jy dat God wel tevrede daarmee sal wees?

Vergelyk dit met die situasie: as jy nie durf om te knoei met jou
belastingsvorm nie, durf jy dan wel om te knoei met jou gawes aan die Here? Het
jy dan minder ontsag vir die Koning van die konings as vir die owerheid wat deur
God aangestel is?

Spottend sê die Here: smeek dan nou tog die aangesig van God, dat Hy ons
genadig kan wees. Dink julle dat Hy om julle ontwil goedgesind sal wees nou
julle so optree? Vergeet dit maar.

Die priesters wys ’n onverskillige houding. Hulle trek selfs vir die Here
hulle neus op. Ons lees in vers 13: "En julle sê: Kyk wat ’n moeite! En
julle verag dit sê die Here van die leërskare." Of soos die NV die
formuleer: "En dan sê julle nog dis ’n klomp moeite en julle trek die
neus daarvoor op." Hier het jy die ampsdraer wat nie meer sy taak wil doen
nie. Dis teveel moeite vir hom. Hier het jy die christelike ouer wat nie lus is
om sy kinders op te voed nie. Of die christen wat by homself dink: hoe vervelig
en moeisaam is dit om die Sondae aan die Here te wy en om op te staan om tydig
met God se volk te vergader. Hier het ons leiers wat nie slegs moeg in
die werk is nie (dit kan soms verklaarbaar wees), maar wat ook moeg vir die
werk is. Hierdie verveelde en veragtelike houding verontreinig die erediens. God
kan dit nie verdra nie.

Daarom vervolg die Here: Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure
wou sluit, sodat julle nie tevergeefs vuur op my altaar kan aansteek nie!

So kom ons by die derde gedagte: God het die erediens van die priesters nie
nodig nie.

Dis ’n voorreg om tot erediens geroep te word. Maar as mense God nie in
gees en in waarheid dien nie, dan sê die Here: liewer geen aanbidding nie, as
aanbidding sonder hart, sonder ware eerbetoon. ’n Geslote tempel, hoe
verskriklik dit ook is, is nog beter as ’n waardelose tempel diens. Ek het
liewer dat julle die kerk toesluit as dat julle aangaan met onopregte en
oneerbiedige erediens. Gestel dat dit vir u gesê sou word. Dat God sou sê:
Sluit die gebou maar toe. Dis beter as huigelagtige aanbidding.

Die Here tolereer die minagting van sy naam en die ontheiliging van sy altaar
nie langer nie. Hy het die priesters nie nodig nie. Hy is nie afhanklik van hul
erediens nie. Hy sal ’n ander volk opwek wat Hom wel op ’n gepaste wyse sal
diens. Luister maar na vers 11: "Want van die opgang van die son tot sy
ondergang toe is my Naam groot onder die heidene; en in elke plek word tot eer
van my Naam reukwerk gebring en ’n rein offer; want my Naam is groot onder die
heidene, sê die Here van die leërskare."

Die Here self sal vir mense sorg wat Hom in gees en in waarheid sal dien, oor
die hele wêreld. Dis presies wat God gedoen het na die uitstorting van sy Gees
in hierdie Nuwe Testamentiese bedeling. God het die huigelagtige diens van die
Fariseërs verlaat om na die heidene te gaan.

Broeders en susters, neem hierdie waarskuwing ter harte. God sou dieselfde
met kerke vandag kan doen. God is nie aan ’n bepaalde kerkverband gebind nie.
Hy is so te sê nie Vrye gereformeerd nie. Dink maar nie dat omdat ons die
gereformeerde leer aanhang, God sy seën wel moet bly gee. Die leer is baie
belangrik, maar sonder ware liefde vir God beteken dit niks nie. God is groot.
Hy laat nie toe dat mense met Hom ’n speletjie speel nie.

Let daarop hoe God se grootheid in die teks benadruk word. God word steeds
die Here van die leërskare genoem. Hy is die God van alle magte in hemel en op
aarde. Hy is die Almagtige. God benadruk dat sy naam onder die heidene groot is
en groot sal wees. Hy is die groot Koning.

Wel, om die Here te dien, moet jy in die eerste plek sy grootheid erken en
aanbid met eerbied en ontsag. Dis die kern van alle ware erediens. As jy die
grootheid van God vergeet, dan sal al jou geestelike aktiwiteit gou ’n leë
godsdiens word. Dis wat in Maleagi se tyd gebeur het. Mense het hul voorreg om
tot die ware godsdiens geroep te word vergeet. So het hulle aanbidding goedkoop
en aaklig geword. En God het ’n tydgrens gestel. God kan nie toelaat dat die
leë erediens onbepaald voortgaan nie. Die leë aanbidding onheilig mos sy
heerlike en heilige Naam.

Die teks roep ons op om onsself te ondersoek, om ons te besin oor ons diens
aan God. Wat beteken die diens van die Here vir julle? Hoe ervaar julle dit? Is
dit waarlik ’n saak van julle harte en lewens?

Laat ons onsself nie fop nie. Ons kan dink dat alles in orde is. Dit het die
priesters ook gedink. Maar as ons hart nie daarin is nie, en as ons nie deur ons
woorde en dade ons ontsag vir God wys nie, dan is ons erediens waardeloos. Dit
sou dan beter wees om die kerkdeure te sluit, pleks om voort te gaan met die
belediging van God. En God sal daarvoor sorg dat Hy ware aanbidders oor die hele
wêreld het. God is nie afhanklik van ons aanbidding nie.

Geliefdes, laat ons dan ons diens aan God ernstig bly neem. Erken God se
grootheid. Gee vir Hom die beste. Gee vir Hom julle hart. Laat julle soos
lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om
geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. Wys
vir die Here die verskuldigde eerbied en ontsag. Aanbid Hom in gees en in
waarheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)