Die saligheid van die vroeg gestorwe kindertjies van gelowiges.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-10-07
Teks: 
Dordtse Leerreëls 1
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1 Art 17

Ds C Kleyn - Sondag 7 Oktober 2001

Lees:

Genesis 17:1-8; Handelinge 2:37-40; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1 Art 17.
Sing: Ps 150:1-3; Ps 141:3-5; Ps 105:4,5; Ps 22:4,11,12; Ps 115:6,7.

Tema: die saligheid van die vroeg gestorwe kindertjies van gelowiges.

  1. Hoe dit was;
  2. Hoe dit geword het; en
  3. Hoe dit sal wees.

 

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

’n Kind word gebore. ’n Geweldige ervaring. So ’n klein wonder. Van God se hand. Maar wat is die posisie van so ’n kind? Hoe benader en behandel God so ’n kind? Ons het reeds gehoor oor God se verkiesing en verwerping. Is so ’n kind uitverkies tot saligheid? Ons kan dit nog nie weet nie. Eers as die kind tot die jare van onderskeid gekom het, kan ’n mens uit die vrugte sien dat hy of sy uitverkies is. Op latere leeftyd kan so ’n kind sy vertroue op die Here uitspreek, kan so ’n kind wys dat hy of sy God liefhet en dien. Dis altyd geweldig vir ouers om dit by hul opgroeiende kinders te sien. Om te sien dat jou kinders tot eer van die Here wil leef. Dis ’n sigbare bewys van God se vernuwende werk. Ja, dis ’n groot vreugde vir christen ouers. Die omgekeerde – naamlik dat kinders nie die Here wil dien nie - is dan ook vir gelowige ouers ’n groot verdriet. ’n Saak van voortdurende gebedsworsteling.

Dis dan die situasie van kinders wat kan wys dat hulle glo of nie, wat kan wys dat hulle uitverkies is of nie. Maar wat van kindertjies wat dit nog nie kan wys nie? Kinders wat nog nie bewus Christus kan aanvaar of verwerp nie? In die verlede het dit baie reëlmatiger gebeur dat kindertjies op ’n jonge leeftyd gesterf het, reeds in hul eerste jaar. Hoe moet ons dan oordeel oor hul ewige lot? Moet ons op grond van die leer van die verkiesing en verwerping met die Remonstrante konkludeer "dat baie onskuldige kinders van gelowiges van die moederbors weggeruk en op wreedaardige wyse in die hel gegooi word, sonder dat die bloed van Christus of hulle doop of die gebede van die kerk by hulle doop vir hulle tot voordeel kan wees? (Besluit DL). Ja, dis hoe die Remonstrante die gereformeerde leer van verkiesing en verwerping verteken het. Op grond daarvan sou ons dan leer dat God pasgebore verbondskinders wat sterf in die helse vuur sou werp? Dis egter ’n valse beskuldiging. Daarom het ons vaders daar ook ’n spesiale artikel aan gewy.

’n Mens sou kan redeneer: die vroeg gestorwe kindertjies het nog nie self kan glo nie. Hulle het ook nie self in ongeloof Christus kan afwys nie. Daarom geld die leer van die verkiesing en verwerping nie vir hulle nie. Daarom mag ons aanneem dat alle kindertjies wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem salig sal word. Dis die redenering van die Remonstrante. Hulle glo dat alle kindertjies wat sterwe sonder onderskeid gered sal word. Is dit hoe die Skrif daaroor praat?

Ek wil vir u verkondig: die saligheid van die vroeg gestorwe kindertjies van gelowiges.

  1. Hoe dit was
  2. Hoe dit geword het
  3. Hoe dit sal wees

Kan ons sê dat alle kindertjies sonder onderskeid en outomaties gered sal word? Wat is van nature die posisie van die kindertjies? Is hulle van nature heilig? Behoort hulle van nature by God?

’n Baba word deur sy ouers in die kerk gedra. Wat is die eerste wat met so ’n kindjie in die kerk gebeur? Hy word gedoop. Hy word met water besprinkel. Die kind moet blykbaar gewas word? Waarom? Ja, waarom word ’n mens gewas? Omdat hy vuil is. So kom die kindjie blykbaar vuil, onrein die kerk binne. Hy moet gewas word.

Kom ons luister na die verklaring van ons doopsformulier. Die leer van die heilige doop begin met die woorde: "Ten eerste: ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore. Daarom rus die toorn van God op ons, sodat ons nie in die ryk van God kan inkom nie, tensy ons opnuut gebore word. Dit word aan ons geleer deur die indompeling in en die besprinkeling met die water, waardeur die onreinheid van ons siele vir ons aangewys word. So word ons vermaan om ’n afkeer van onsself te hê, ons voor God te verootmoedig en ons reiniging en saligheid buite onsself te soek."

Die doop is dus in die eerste plek nie iets waarop ons trots kan wees nie. Dit leer ons juis om ootmoedig te wees. Ons is mos van nature vuil, onrein. In sonde ontvang en gebore. Sondig tot in die wortel van ons bestaan. Daarom is ’n totale wassing nodig, ’n wassing deur Christus se bloed en Gees, ’n wedergeboorte. Van nature is ons en ons kinders, kinders van die toorn. Aan die ewige oordeel van God onderworpe. Hoekom? Ons het dit herhaaldelik reeds genoem as uitgangspunt by die leer van die verkiesing en verwerping. Hoofstuk 1 par 1 "Alle mense het in Adam gesondig en hulle aan die vloek van die ewige dood skuldig gemaak." Alle mense. Ek. U. Ook ons kindertjies het in Adam gesondig. Daarom van nature vuil, skuldig, sondig. Aan die oordeel onderworpe.

Daar is mense wat dit nie kan aanvaar nie. Pelagius, die humaniste en die Remonstrante. Dit kan nie waar wees, dink hulle, dat die pragtige kindertjies kinders van God se toorn is nie. Hulle is nog onskuldige kindertjies. Daarom moet hulle almal deur God aanvaar word. Later as hulle self gaan sondig dan word hulle eers vuil, skuldig.

Die Skrif leer ons egter iets anders. Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore (Ps 51:7). Van nature kinders van die toorn (Ef 2:3). Uitgesluit uit God se koninkryk. Vanaf die begin van ons lewe is ’n wassing nodig. ’n Wassing deur Christus se bloed en Gees. Laat ons dit tog goed besef en ons verootmoedig voor God. Rondom die doop is daar geen plek vir trots nie. Inteendeel. God sou niemand verontreg as Hy alle mense, ook ons en ons kinders, in die sonde en vervloeking sou laat bly en vanweë die sonde sou veroordeel nie.

Wel, dis hoe die situasie was.

Laat ons nou kyk hoe dit geword het, die tweede punt.

Alle kinders is dus van nature kinders van die toorn. Daarom moet ons kinders onmiddellik gedoop, gewas word. En God wil dit ook vir hulle doen. Hy laat die gelowige ouers hul kinders die kerk indra om gedoop te word. Die doop wys nie slegs op ons natuurlike vuilheid nie. Gelukkig nie. Dit bevestig en verseël ook die afwassing van die sondes deur Jesus Christus.

God maak ’n onderskeid tussen die kinders. Hulle het almal verdien om verwerp te word. Maar God sonder sommige van hulle af. Die kinders van die gelowiges. Hulle word heilig genoem. Dink aan 1 Kor 7:14 waar Paulus skryf: "Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig." Die feit dat daardie kinders kinders van ’n gelowige pa of ma is, maak die kinders besonder vir die Here, heilig. Dis ook iets wat ons as ouers na die skrif bely in antwoord op die eerste doopvraag: "Bely u dat ons kinders, hoewel hulle in sondes ontvang en gebore is en daarom aan allerhande ellende, ja, selfs aan die ewige oordeel onderworpe is, nogtans in Christus geheilig is en daarom as lidmate van sy gemeente behoort gedoop te wees?"

Wat beteken dit om in Christus geheilig te wees? Die woord geheilig beteken apart geplaas, afgesonder. Onderskei van ander. U weet dat daar by die Ou Testamentiese tempeldiens allerlei heilige voorwerpe gebruik is. Heilige messe en heilige skale. Dit het niks te make met die sondes van die gereedskap nie, maar met hulle bestemming. Hulle is uitsluitend vir die diens van die Here gebruik. Dieselfde geld vir ons kinders. Die Here plaas hulle apart, sonder hulle af vir sy diens. Hoewel hulle self nog nie glo nie, tog behoort hulle by God se verbondsvolk. God eien hulle toe as die syne. Hy verbind Homself aan hulle. Hy wil met hulle deur die lewe. Hy haal mense na homself toe wat van nature vyande is. Hulle mag sy kinders en erfgename wees.

Net soos die volwassenes word die kindertjies ook heiliges genoem. Wanneer die Here volwassenes aanhaal, haal Hy ook die kinders aan. In 1 Kor 1:2 word die gemeente van Korinte geheiligdes in Christus Jesus genoem, die geroepe heiliges. Sewe hoofstukke verder noem Hy ook die kinders heilig. God lê beslag op die gesinne van gelowiges. Selfs as daar maar een ouer tot die geloof kom, tel die kinders mee. Hulle behoort by God se verbond en by die gemeente. Ook hulle is geroepe heiliges.

Wanneer mense tot geloof kom, dan word ook die kinders met hul ouers aangeneem. So lees ons van huisgesinne wat gedoop is. Die hoofman Cornelius kry die opdrag om Petrus te roep omdat hy woorde tot jou sal spreek waardeur jy en jou hele huis gered sal word. Lydia die purperverkoopster uit die stad Thiatire word saam met haar huisgesin gedoop lees ons in Hand 16. Dieselfde word gesê van die tronkbewaarder van Filippi. Paulus en Silas sê vir hom: "Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin." Ook die kindertjies behoort by die verbond. Is deel van die huisgesin van God. Hulle mag ook geniet van die weldade van die verbond, die vergewing van sondes en die vernuwing van die lewe, die wassing deur Christus se bloed en Gees. Hulle ontvang woorde van redding.

In sy pinksterpreek roep Petrus die mense op: "Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders" (Hand 2:38,39). Die beloofde Heilige Gees, die groot geskenk van die nuwe verbond, kom julle toe en julle kinders. Ook in hierdie Pinksterbedeling sien God gesinne in ontferming aan. God bly trou aan Homself. Trou aan sy skeppingsverbande. Hy wil die lewensverbande heilig. Almal wat in die gesinne van gelowiges ’n vaste plek het, word heilig genoem.

Dis was reeds so in die tente van Abraham. Abraham se gesin was heilig. Sy bloedeie kinders en sy slawe. God lê beslag op sy hele huis. En Hy sê vir Abraham: "Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag na jou" (Gen 17:7). Daarom moet al die seuns en manlike slawe die teken van die verbond ontvang. Hulle moet op die 10de dag besny word. God wil ook vir ons kindertjies ’n God wees. Hulle mag sy kinders wees. Kinders en erfgename van God. Medeburgers van die heiliges en huisgenote van God.

Dink aan wat ons bely met die doopsformulier. Want as ons in die Naam van die Vader gedoop word, verklaar en verseël die Vader ons dat Hy ’n ewige genadeverbond met ons oprig, ons tot sy kinders en erfgename aanneem en ons daarom met alle goeie dinge wil versorg. En as ons in die Naam van die Seun gedoop word, verseker die Seun aan ons dat Hy ons in sy bloed was en reinig van al ons sondes. Net so ook as ons in die Naam van die Heilige Gees gedoop word, verseker die Heilige Gees ons dat Hy in ons wil woon en ons tot lewende lidmate van Christus wil maak.

Hier sien ons dus die onderskeiding wat God aanbring tussen kinders wat almal van nature kinders van die toorn is. God ontferm hom oor die kinders van die gelowiges. Hy wil hul Vader wees. Hulle mag sy kinders wees. In sy huisgesin ’n plek ontvang. Hy wil hulle sondes vergewe en hul lewe vernuwe. Dit kan ons nie van die kinders van die ongelowiges sê nie. Hulle is nog sonder Christus, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld (Ef 2:11). Sien hier, broeders en susters, seuns en dogters, julle onderskeiding van die ongelowiges. Julle voorregte. Julle word heiliges genoem. Mense wat afgesonder is vir die Here en sy diens. Huisgenote van God. Terwyl die ongelowiges en hul kinders nog onrein genoem word, vreemdelinge.

So het dit dan geword vir die kindertjies van gelowiges, ons kindertjies. Hulle was onrein, kinders van die toorn. God het hulle in Christus geheilig.

Maar nou die derde punt: hoe dit sal wees.

Ek praat hier nou oor kinders wat God in hul kinderjare uit hierdie lewe wegneem. Dis ’n baie verdrietige ervaring vir ouers. Om te sien dat jou kindjie sterwe. Die kind wat jy as ma 9 maande gedra het. Of minder. Die kind waaraan jy baie geheg geraak het. Wat in jou gesin ’n liefdevolle plek ontvang het. Om dan so ’n kind te moet verloor. Gelukkig gebeur dit nie so dikwels as in die verlede nie. Maar tog elke keer as dit gebeur, is dit ’n pynlike ervaring. Iets wat ’n mens nie outomaties en onmiddellik verwerk nie. Dit vat tyd.

Maar hoe gaan dit wees vir hierdie kindertjies wat sterwe voordat hulle die jare van onderskeid bereik het? Hulle is wel in die verbond. Hulle deel in die ryke beloftes. Maar hulle kon die beloftes nog nie in geloof aanneem nie. Hulle kon nog nie wys dat hulle die Here liefhet en dien nie. Daarvoor was hulle nog te jonk.

Tog weet ons dat die ryke verbondsbeloftes nie outomaties vervul word nie. Die verbond bestaan mos uit twee dele, naamlik ’n belofte en ’n eis. Daarom word ons ook geroep en verplig tot ’n nuwe gehoorsaamheid, dat ons hierdie enige God, Vader, Seun en Heilige Gees aanhang, vertrou en liefhê met ons hele hart, siel, verstand en kragte. Langs die pad van geloof en bekering wil God sy beloftes vir ons vervul. Daarom kan ons en ons kinders nie sommer op ons doop vertrou nie en dink dat daarmee alles in orde is. "Ons is gedoop dus is ons gered" is ’n valse en gevaarlike stelling. Ons doop wys ons juis op ons drie-enige God. Ons moet op Hom vertrou en nie op ons doop nie. Maar so ’n jong kindjie kan nog nie op God vertrou nie. Hoe sal dit dan wees as hy of sy in sy of haar kinderjare sterwe?

Ons belydenis bied ryke troos vir sulke omstandighede. Eers is daar reeds die woorde: kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem. Dis geen noodlot nie. Dis God wat die kindjie weggeneem het. Volgens sy raadsplan. Met die psalmis kan ons sê: "Ek is stom, ek sal my mond nie oopmaak nie; want U het dit gedoen" (Ps 39:10). U het dit gedoen. Dit gee vir my perspektief in my groot verdriet.

Maar daar is nog meer. Ons bely met par 17: "Gelowige ouers moet daarom nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie." Ek as gelowige moet dus nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van my vroeg gestorwe kindjie nie.

Waarom nie? Nie omdat my kind beter as die ander kinders sou wees nie. Hy of sy is mos ook in sonde ontvang en gebore. Maar omdat God in die lewe van hierdie kind ingegryp het. God het hom of haar aangehaal. As sy kind aangeneem. Opgeneem in sy verbond en sy gemeente, in sy huisgesin. Kragtens die genadeverbond is hy of sy heilig.

God het my kind binne die verbond ook ryke beloftes gegee: die vergewing van sondes en die ewige lewe. Normaalweg sou die kind die beloftes vir homself deur geloof moet toe-eien. Om in die weg van die geloof die volle rykdom daarvan te geniet. Maar nou het die Here die kind weggeneem voordat hy tot geloof kon kom. Sou dan die beloftes skielik vir so ’n kind niks beteken nie? God het gesê: Ek wil jou God en Vader wees, jy mag deel van my gemeente, my gesin wees. Ek wil jou sondes vergewe. Ek wil jou lewe vernuwe.

Christus het aangaande die kindertjies gesê: "Laat die kindertjies na My kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk." Christus het toe sy arms om die kindertjies geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën. Met ander woorde: die kindertjies is ook kinders van die koninkryk en mag deel in die skatte van die koninkryk. Wel, as God dan sulke kindertjies uit die lewe wegneem voordat hulle dit in geloof hulleself kan toe-eien, sou die woorde dan skielik leeg wees, nie meer geld nie? Dis onmoontlik! God kan nie lieg nie. Sy beloftes bly staan. Die kindjie het van sy kant die verbond nie deur ongeloof kan verbreek nie. Hy het die beloftes nie kan afwys nie. Die enige wat in die situasie dan oorbly is God se vaste beloftes. God se trou.

So besluit ons op grond van God se onwankelbare trou tot die uitverkiesing en saligheid van die kindertjies. Op die roukaart van vroeg gestorwe kindertjies lees ’n mens dikwels: die verbondsbelofte is vir ons ’n groot troos. Dis ’n jubel op die trou van God, wat ingegryp het om die kind in sy gesin op te neem en wat opnuut ingegryp het om die kind by Hom tuis te haal.

So mag ons dan oordeel oor die kindertjies van die gelowiges. Maar hoe moet ons oordeel oor die kindertjies van die ongelowiges, wat vroeg sterf? Hulle het nie in God se verbond en gemeente ’n plek ontvang nie. Hulle het die beloftes ook nie ontvang nie. Ons kan dus nie spreek van hul saligheid nie. Is hulle dan verwerp? Dit weet ons ook nie. God is vrymagtig in wie Hy kies en wie Hy nie kies nie. Ons moet die oordeel oor sulke kindertjies aan die Here oorlaat. Dis nie vir ons om die wat buite is te oordeel nie. Die wat buite is, oordeel God, lees ons in 1 Kor 5:13.

Broeders en susters, sien tog die ryke troos wat God se woord ons bied oor ons kindertjies.
Hulle was van nature kinders van die toorn, onrein.
God het hulle in Christus geheilig, tot sy kinders aangeneem.
Indien hulle in hul kinderjare sterf, voordat hulle self kan glo, dan mag ons seker wees van hul uitverkiesing en saligheid. God is mos getrou. Hy doen wat Hy sê.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)