Maleagi fundeer sy dringende oproep tot bekering in die liefde van God.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-09-30
Teks: 
Maleági 1
Preek Inhoud: 

Maleági 1:1-5

Ds C Kleyn - Sondag 30 September 2001

Lees:

Obadja; Maleági 1:1-5.
Sing: Ps 11:1-3; Ps 11:4,5; Ps 137:1,7-9; Ps 106:1,2; Ps 65:1-3.

Tema:

Maleagi fundeer sy dringende oproep tot bekering in die liefde van
God.

  1. Die verklaring van God se liefde
  2. Die bewys van God se liefde
  3. Die loflied op God se liefde.

 

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Word die gemeentelewe nog deur groot verwondering beheers? Is julle nog nog
werklik verwonderd oor God se liefde in jul lewe? Verbaas dit julle ook dat God
nog steeds tot julle kom, dat Hy met julle wil omgaan? Ja, sien julle nog wel
God se onbegrypelike, verkiesende liefde? En dit vol verwondering?

Maar wat van die moeites in my lewe of in die kerklike lewe, die teenslae,
die teleurstelling, die spanning, die verdriet, die seerkry. Kan ek dan nog vol
verwondering wees? Ja, verwondering moet inderdaad die lewe van elke Christen
sier. Sonder verwondering kan jy nie ’n werklik christelik leef nie. Jy kry
dan die sleur, die doodse sleur. Daar sit geen lewe in nie.

Gemeente, as daar een kwaal is waarvoor ons as gevestigde gemeentes moet
waak, dan is dit wel hierdie kwaal van gewenning, sleur, vanselfsprekendheid. Jy
het daarin grootgeword. Dis so gewoon dat jy God ken, dat jy kerk toegaan ens.
Jy raak nie meer entoesiasties daaroor nie.

Maar is dit werklik so gewoon? Dit leer jy wel af as jy sien hoe anders dit
kan wees, hoe anders dit is by mense wat nie in God se liefde deel nie. As jy
besef dat jy self alle regte verbeur het en dat dit alles onverdiende saligheid
is, dan praat jy wel anders.

Luister maar na die laaste profeet van die Ou Verbond, die profeet Maleagi.
Let maar op die geweldige inset van sy profesie, die woorde van die teks. In sy
profetiese arbeid moet Maleagi die volk van die Ou Verbond oproep tot bekering.
Hy doen ’n dringende appel op hulle om God se genade gelowig en dankbaar vas
te hou. Die pad na die Messias moet mos oopgehou word. Alle struikelblokke moet
verwyder word. En dit is baie.

Op grond van die gegewens uit die boek lê dit die mees voor die hand om
Maleagi se profesie tussen die eerste en tweede reformasie van Nehemia te plaas.
Dit is dan ongeveer 100 jaar gelede dat die Jode uit die Babyloniese ballingskap
teruggekeer het. Die tempel is herbou, die offerdiens is herstel. Nehemia het
kort gelede sy eerste groot skoonmaak gehou. Maar dit is alweer verkeerd met God
se volk. Hulle val terug in dieselfde sonde. Die tempel en die hele kerklike
lewe kom weer in verval. Die tempeldiens moet opnuut herstel word. En die volk
moet weer na die Here teruggeroep word.

Wel, wanneer Maleagi ’n kragtige beroep op die volk doen om hom te bekeer,
dan wys hy eerstens op God se liefde. Die liefde van God is die uitgangspunt van
heel sy profetiese prediking. Die liefde behoort ook vandag die motief vir ons
gedrag as God se kinders te wees. In die lig van God se liefde val die
ondankbaarheid en ontrou van God se volk des te meer op en is dit des te meer
afkeurenswaardig, onhoudbaar.

Vannoggend wil ek vir u verkondig: Maleagi fundeer sy dringende oproep tot
bekering in die liefde van God.

  1. Die verklaring van God se liefde
  2. Die bewys van God se liefde
  3. Die loflied op God se liefde.

Die boek Maleagi is ’n baie lewendige geskrif. Dis omdat die profesie in
die vorm van ’n dialoog of tweegesprek na ons toekom. Dit is asof die Here met
sy volk in gesprek gaan. Hy haal hul vrae en teenwerpings aan en gaan daarop in,
ookal klink die teenwerpings soms baie brutaal. So buig die Here hom diep neer
na sy volk toe. Hy roep nie op ’n afstand sy woord uit nie. Hy dring deur tot
die vrae wat by hulle leef. Hy wil tot hul hart deurdring. So ontstaan daar ’n
lewendige gesprek tussen die Here en sy volk.

Die gesprek is egter geen gesprek tussen twee gelykwaardige partye nie. Dis
ook geen vryblywende diskussie nie. Nee, dis ’n verbondsgesprek. En in die
verbond is dit altyd die Here wat die inisiatiewe neem. Sonder Hom sou daar geen
verbond wees nie en sou daar ook geen verbondsgesprek kan wees nie. Hy is in die
verbond die eerste en die laaste. Hy spreek dan ook die laaste, beslissende
woord. Die waarheid is nie by beide partye te vinde nie, soos dit by die moderne
dialoë die geval is. God is die waarheid self en Hy spreek die waarheid. So wil
Hy in die tweegesprekke sy volk die waarheid voorhou.

Omdat daar in die verbondsverhouding baie stukkend blyk te wees, word die
dialoë van Maleagi twisgesprekke, waarin die Here sy volk betig en waarin Hy sy
oordeel aankondig oor almal wat nie vir Hom wil luister nie. Deur die
twisgesprekke wil God sy verbondskinders terugbring tot die wederliefde wat by
ware bondgenote pas.

Die dialoog begin dan met die verhewe uitspraak: "Ek het julle
liefgehad, sê die Here." Duidelike verbondstaal. Die liefde gaan ver
terug. God het sy liefde reeds vir die aardsvaders verklaar toe Hy sy verbond
met Abraham en sy nageslag opgerig het. God het Homself aan sy volk gegee. Sy
liefde vir hulle gewys. En die liefde het voortgeduur, tot in die dae van
Maleagi toe. Ondanks alle ontrou van die kant van die volk, het die Here by sy
liefde gebly.

Broeders en susters, wanneer die Here sê ‘Ek het julle liefgehad’ dan
wys Hy nie slegs na die verlede nie. Nee, Hy praat van liefde wat tot vandag toe
deurgaan. Met ander woorde: Ek het julle in die verlede liefgehad, en die liefde
het nie verdwyn nie. Ek het julle vandag nog lief.

Vir wie gee Maleagi hierdie liefdesverklaring deur? Vir die teruggekeerde
ballinge. In vers 1 word hulle met die naam Israel aangespreek. Hulle is slegs
min as jy dink aan almal wat in die land van ballingskap agtergebly het. En
hulle het baie tekortkomings en sondes. Tog verteenwoordig hierdie klein groep
teruggekeerde ballinge, God se verbondsvolk, aan wie die aanneming tot kinders
behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en
die beloftes (Rom 9:4). In die oorblyfsel word die hele bondsvolk aangespreek en
word die unieke posisie van God se volk gehandhaaf. Die klein groep
teruggekeerdes is en bly die volk van God. Daarom ook die liefdesverklaring: Ek
het julle liefgehad en ek het julle nog lief. Voorwaar, Ek die Here het nie
verander nie. Ek is nog dieselfde. En my woorde van liefde bly staan.

Gemeente, dit lyk asof God se volk sy liefde nie meer ervaar nie. Hulle sien
hul ellendige situasie – God hou sy seëninge terug sodat die sosiaal
ekonomiese situasie sleg is. Daarom glo die volk dat God ook ver weg is.

Dit blyk uit hul reaksie op God se liefdesverklaring: "Waarin het U ons
liefgehad?" Die mense sien die liefde en trou van hul Verbondsgod nie meer
nie. Hulle staar hulle blind op hul teenslae. Liefde en trou moet tog blyk? Mooi
woorde beteken niks nie. Ons wil dade sien. Hulle wat God se liefdesverklaring
hoor, is teleurgestel en verbitterd en so ook brutaal. Die evangelie klink mooi,
maar is dit nie in stryd met die werklikheid nie? Hoekom is daar dan die vloek
wat ons lewe teister? Die vloek van die slegte oes as gevolg van ’n groot
droogte en ’n sprinkaneplaag?

Maleagi moet duidelik maak dat as daar iets verander het, dit beslis nie die
Here is nie. God se liefde en trou bly. God se volk het verander. Hulle het die
verbondsafsprake nie nagekom nie. Hulle is nie die verongelykte party nie, maar
God.

Die protes van die volk is nie van pas nie. Dis ’n uiting van skandelike
ondankbaarheid. Hulle gee God die skuld vir wat hulle self deur hul onttrou
bewerk het. Vanweë hul misplaaste selfmedelyde, belemmer hulle hul sig op God
se liefde en guns. Hulle sien God se magtige dade van verlossing nie meer nie.
Met hul vrae verloën hulle hul heerlike oorsprong as God se bondsvolk. Hulle
misken God se verkiesende liefde. Hulle bevraagteken die verbondsverhouding
tussen God en sy volk.

Gemeente, teenoor hul ontstellende kortsigtigheid en ondankbaarheid stel God
nou die wonder van hul bestaan as volk van God. Ons sien dit in die 2de punt:
die bewys van God se liefde.

In antwoord op die twyfelvrae sê die Here: "Is Esau nie die broer van
Jakob nie? Tog het Ek Jakob liefgehad, maar Esau het Ek gehaat." Hulle was
tweelingbroers. Uiterlik het die een niks voor op die ander nie. As iemand op
natuurlike regte sou kan aanspraak maak, dan sou dit Esau, die eersgeborene,
wees. Tog het God Jakob liefgehad, en nie Esau nie. Volgens die teksverband gaan
dit hier nie slegs oor die stamvaders Jakob en Esau nie. Dit gaan oor die
huidige volk van God. God sê mos: ek het julle liefgehad. Waarna die volk sê:
Waarin het U ons liefgehad? Die naam Jakob dui dus op Jakob in sy nageslag. Die
stamvader Jakob en die volk Israel vorm een geheel. So ook Esau en die Edomiete.

Die twee stamvaders en die twee volke staan radikaal teenoor mekaar. Die een
is die voorwerp van God se liefde en die ander ’n voorwerp van God se haat.
Waaruit blyk nou God se liefde vir Israel? Let maar op sy haat teenoor Edom. Die
haat van die Here teenoor Esau-Edom is duidelik in die verwoesting van sy land.
God het sy gebergte ’n wildernis gemaak en sy erfdeel aan die jakkalse van die
woestyn prysgegee. Die woonplek van Edom het ’n plek geword waar geen mens
meer kan woon nie. Dis slegs geskik as blyplek vir jakkalse wat veral van die
aas van diere wat daar doodgaan lewe.

Die land Edom met sy verskrooide aarde, vertoon die troostelose verskrikking
van God se haat. Die teruggekeerde ballinge ontvang ’n tasbare bewys van God
se toorn en haat teenoor Esau. Die Israeliete hoef slegs aan resente
ontwikkelinge te dink om die teenstelling van God se liefde vir hulle en God se
haat teenoor Edom te sien.

En die haat teenoor Edom strek hom uit na die toekoms toe. Vers 4: "As
Edom sê: ons is wel verwoes, maar ons sal die puinhope weer opbou – dan sê
die Here van die leerskare dit: laat hulle bou, Ek breek dit tog af." God
kondig sy veto aan vir die geval dat Edom weer aan wederopbou sou dink. Dit sal
hulle nie luk nie. Edom bly vir altyd ’n voorwerp van God se toorn.

Wat ’n verskil met die situasie ttv die verwoesting van Jerusalem. Toe het
die Edomiete met leedvermaak Jerusalem se verdrukking gesien. Hulle het toe
gejuig en gespot. Nou sien die Israeliete Edom se val. Toe was Jerusalem ’n
wildernis, nou Edom. Die rolle is omgekeerd. En wat Edom tref is aanmerklik
swaarder. Want toe Israel bedreig was, het God altyd nog ’n glimp van hoop
gegee. God sou nie vir goed met sy volk afreken nie. Daar sou nog verlossing
kom. Maar Edom kan nou alle hoop laat vaar. Alle moontlikhede tot herstel word
by voorbaat afgesny deur die Here van die leerskare, deur die God wat alle mag
in hemel en op aarde het. Die verwoesting van Edom is permanent.

Maar geliefdes, is dit nie onregverdig van God nie? Die Here deel uit sy
regverdige straf. Let maar op die name waarmee die land en die volk word
aangedui. Mense sal hulle noem: Grondgebied van goddeloosheid, goddeloos gebied.
God se haat staan nie los van die skuld nie. God laat nie sommer sy gerig oor
hulle uitgaan nie. Hy doen dit oor sondes, goddeloosheid. Edom word regverdig
gestraf vir wat hulle teen die Here en sy volk gedoen het, veral by die
ondergang van Juda. Hulle het toe gejuig oor Israel se rampspoed. En hulle het
volop daaraan saamgewerk. Daarmee het hulle die Here in sy liefde vir sy volk
gekrenk. Ook al het Israel die ramp ten volle verdien, die Here kan dit nie
verdra dat hulle sy volk so behandel het. Dieselfde geld ook vandag. Die Here
vertoorn Hom wanneer mense oor die val van sy kinders die spot dryf en dit
toejuig. Die puinhope van Edom sal nou ’n blywende monument wees van die
regverdige toorn van God. Die volk sal genoem word: Die volk waarop die Here
vertoornd is tot in ewigheid.

Gemeente, wat skitter nou die grootheid van God se liefde vir Jakob. Die
beeld van God se haat moet Jakob God se liefde vir hulleself laat ontdek. Israel
is as ’n bedorwe kind wat binne die veilige mure van Vader se huis oor die
gebrek aan liefdevolle versorging kla. Vader neem dan die kind na die venster
toe. Vader open die venster na die suide toe, wys op die puinhope van Edom en sê:
so het Ek nie met julle gedoen nie.

Dikwels besef ’n mens eers goed wat lig is wanneer jy die duisternis
ervaar. So skitter die lig van God se liefde vir Israel teen die donker
agtergrond van God se toorn teen Edom. Vers 5 wys daarop dat dit die bedoeling
is. "En julle oë sal dit aanskou, en julle sal sê: Groot is die Here oor
die gebied van Israel. Wanneer jy God se toorn oor Edom sien, dan sal jy weer
groot oor jou God dink. Dan sal jy jubel: Groot is die Here oor sy volk.

Hoekom het God se volk uit die ballingskap teruggekeer en weer herstel? Hulle
het dit nie aan hulleself te danke nie. Hulle het eerder verdien om in
ballingskap heeltemal onder te gaan. Tog ontvang hulle nuwe ontferming, nuwe
lewenskanse. Dit in teenstelling tot Esau by wie God sy oordeel ten einde toe
uitvoer. Die liefde van God is soewerein en onvoorwaardelik. God het lief omdat
Hy liefhet. Vrymagtig bepaal God die plek waar Hy straf. Vrymagtig beperk Hy die
uitwerking van sy oordeel. Vrymagtig begrens Hy sy regverdige doodsvonnis deur
sy liefde vir Jakob. ’n Liefde wat nie deur Jakob se lieflike gedrag
gemotiveer is nie. Die volk het dit steeds weer bederf. So kort na die
reformasie van Nehemia gaan dit weer fout. Die volk het alle regte verbeur. Ook
God se volk het dit verdien om ewig onder te gaan onder die oordeel van God. Wat
hulle dus in teestelling tot Edom ontvang, is onverdiende genade. Wie sou by so
’n wonder van genade nie vol verwondering jubel: Groot is die Here oor Israel
nie? Sy liefde is onbegryplik, verbasingwekkend.

Gemeente, u leef nou in ’n hele ander tyd as Maleagi. Die God van die
verbond is egter nog steeds dieselfde. Sy onbegryplike liefde blink sedert die
tyd nog veel helderder. In die persoon en werk van Jesus Christus.

God spreek u nog steeds aan as sy geliefde volk. Hoe dikwels verklaar Hy nie
vir u sy liefde nie? Dink maar aan u doop. Dink aan die seengroet aan die begin
van elke erediens: genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here
Jesus Christus. En wat dink u van die aanhef van die wet: Ek is die Here jou God
wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het. God verklaar by
herhaling sy liefde.

Wat maak julle daarmee? Sien julle dit nog wel? Raak dit julle nog wel? Of
sit julle verstrik in jul eie lewe met sy teleurstellings en sorge? Ja, hoe
maklik gebeur dit nie dat ons ons blind staar op die uiterlike omstandighede en
so die sig op sy alles oortreffende liefde verloor nie.

Maar broeders en susters, wanneer julle die vreugde in die gemeenskap met God
moeilik kan vind, dan neem God julle as ‘t ware saam na die venster toe en sê:
Kyk maar na die openbaring van my toorn oor die goddeloosheid en ongeregtigheid
van mense. So het Ek met julle nie gedoen nie. Ek het julle nie oorgelaat aan
julself nie, aan die verwoestende magte van die sonde nie. Kyk maar na die
puinhope van lewens van mense wat oorgelewer is aan hul luste. Dink byvoorbeeld
aan misdadigers, ongelowiges – mense wat lewe sonder God en sonder hoop in
hierdie wêreld.

Seuns en meisies, miskien dink julle soms dat dit ongelukkig is dat julle in
’n christelike gesin grootgebring word. Maar let daarop, julle het wel ’n
vader en ’n moeder wat vir julle bid, terwyl baie ander jong mense dit nie het
nie. Julle het wel die Here God wat steeds na julle toekom, wat julle met sy
evangelie aanspreek, terwyl ander jong mense Hom nie hoor nie. Julle mag kinders
van God genoem word, terwyl ander die voorreg nie het nie. Die Here verklaar sy
liefde. Daar het julle die bewys van sy liefde.

Ja, so kry ons almal weer sig op die oorvloedige bewyse van God se liefde.
Wat ’n wonder van genade dat God ook ons nie werp in die poel van verderf nie.
Sy regverdige toorn word mos baie konkreet in hierdie wêreld geopenbaar. Kyk
maar na die mense wat staan aan die puinhoop van hul bestaan. Dink maar aan
mense wat hul lewens deur hul sonde geruineer het. Mense wat geen perspektief
het nie. Mense wat op pad is na die ewige verderf.

En ons het niks beter verdien nie. Wat ’n groot liefde van God dat Hy wel
na my toekom, dat Hy met my deur die lewe wil gaan en my ewige perspektiewe wil
gee, ’n lewe tot in ewigheid. Sou u, sou jy nie verwonderd wees nie?

Dink aan ’n huwelik waarin die man alles vir sy vrou oorhê. Hy doen alles
vir haar. Niks is teveel nie. Hy staan altyd klaar om te help. Hy omring haar
voortdurend met sy liefde en sorg. Gestel dat sy vrou op ’n sekere oomblik sou
sê: Het jy my werklik lief? Ek sien niks daarvan nie. Wat ’n belediging sou
dit wees vir hom wat juis in alles sy liefde wys.

Hoeveel temeer geld dit teenoor ons Maker en Man die Here onse God. Hy het
werklik alles vir ons oorgehad. Hy het sy eniggebore Seun juis vir ons oorgegee
sodat ons weer sou kan lewe. Jy kan die liefde nie mis nie. Jy kan dit nie
negeer nie. Dit roep om die loflied: Groot is die Here oor ons.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)