Verskillende reaksies op die leer van die verwerping

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-09-23
Teks: 
Dordtse Leerreëls 1
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1 Art 16

Ds C Kleyn - Sondag 23 September 2001

Lees:

Romeine 7:14-26; Filippense 1:1-11; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1 Art 16.
Sing: Ps 135:1,2; Ps 135:11; Ps 130:1,2; Ps 138:1,4; Ps 97:6,7.

Tema:

Verskillende reaksies op die leer van die verwerping.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Met par 12 het ons bely: "Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker." Ek kan dus seker wees van my uitverkiesing. Hoe dan? Deur in myself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing met geestelik blydskap en heilige vreugde waar te neem. Wat is dan die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing? Par 12 noem: ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde, die honger en dors na die geregtigheid. Wanneer ek daardie vrugte waarneem, dan mag ek van my uitverkiesing verseker wees.

Hierdie sekerheid van die uitverkiesing het ook weer ’n duidelike uitwerking op ons lewe. Vorige week het ons daarby stilgestaan nav par 13. Die sekerheid lei tot ’n godvresende lewe en nie tot onverskilligheid nie.

In par 14 word daarop gewys dat die leer van die uitverkiesing nog steeds verkondig moet word tot eer van die heilige Naam van God en tot ’n lewende troos vir sy volk.

In par 15 kom vervolgens die leer van die verwerping te sprake. God het nie alle mense uitverkies nie, maar sommige in die ewige verkiesing verbygegaan. God het besluit om hulle in die gemeenskaplike ellende te laat bly. Watter plek neem hierdie art in? Dis jammer dan ons vertaling van die par op hierdie gebied nie duidelik is nie. Die vertaling van dr C van der Waal van hierdie par is duideliker. Luister maar na die eerste sin van dr van der Waal se vertaling: "Die Heilige Skrif stel hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik in die lig en prys dit nadruklik by ons aan deur verder te getuig dat nie alle mense uitverkies is nie." Let daarop: die leer van die verwerping dien om die leer van die verkiesing des te duideliker in die lig te stel en aan te prys.

Die verkiesing en verwerping staan nie op een lyn nie. Hulle staan nie as twee gelykwaardige groothede naas mekaar nie. Dis nie waar dat God op dieselfde manier die redding en die ondergang van sondaars wil nie. Hy het geen behae in die dood van die goddelose nie (Es 18:23). In God se raadsbesluit gaan dit veral oor se wil tot verlossing van ’n sekere aantal mense. Die verwerping is daaraan ondergeskik. God kies nie almal uit nie. Indien God almal uitverkore sou hê, dan sou die verkiesing nie so sterk in die lig tree as nou nie, waar nie almal uitverkies is nie. Teen die donker agtergrond van die verwerping kom die lig van die genade van ons verkiesing des te skerper uit. Baie mense ontvang mos nie die geloof en die saligheid nie. Maar ek wel! Terwyl ek uit myself niks beter is nie. Wat ’n wonder van genade! Hier pas dan ook niks anders as lof en dank aan God vir sy verkiesende liefde nie.

Gemeente, die leer van die verwerping bly egter ’n aanstoot vir baie mense. Die Remonstrante het heftig daarteen uitgevaar. Ook vandag is mense verontwaardig as hulle daarvan hoor. Kan jy voorstel dat God van ewigheid besluit het om bepaalde mense te verwerp en hulle uit te sluit van die ewige saligheid? Wat kan dan die arme mense daaraan doen as hulle nie glo en die Here nie dien nie? Dan lê die skuld van hul ongeloof en ongehoorsaamheid by God. Dan is God die bewerker van die sonde. Daarvan word die gereformeerdes dan ook dikwels beskuldig.

Van daardie redenering deug egter niks nie, hoe logies dit ook mag lyk. Wat is naamlik die geval? Hier word veronderstel dat die mense wat God besluit het om te verwerp arm, onskuldige mense is. Hierdie veronderstelling staan haaks op wat die Skrif daarvan sê. Die uitgangspunt van die Skrif word duidelik bely in DL 1.1. Kom ons lees dit saam. (Lees DL 1.1). Wie dit negeer moet wel vasskop teen die leer van die verwerping. God sou dan onskuldige mense voor hul geboorte reeds veroordeel. Die waarheid is egter dat niemand onskuldig is nie en dat almal van nature voor God doemwaardig is. Daarom bely ons in par 15b: (lees vanaf ‘God het besluit’ tot die einde).

As ek uit die verderf en van die toorn van God verlos word, dan het ek dit slegs aan God se sy soewereine liefde in Jesus Christus te danke. Kan ek dan God van onregverdigheid beskuldig wanneer Hy sommiges nie uitverkies het nie? Dit is tog sy goddelike reg. Die mense verdien hierdie ellende en straf ten volle. Soos almal dit sou verdien. God verwerp hulle nie omdat Hy hulle in sy verkiesing verby gaan nie, maar vanweë hul ongeregtigheid, vanweë hul erfsonde en al hul ander sondes. Laat ons dit tog nooit vergeet nie.

Wel gemeente, ons het gesien wat die besluit van verwerping inhou. God het in sy uitverkiesing sommige mense verbygegaan en besluit om hulle in die gemeenskaplike ellende te laat bly. Hoe reageer ’n mens op so ’n leer? Is hierdie leer van die verwerping nie iets wat ’n mens onrustig kan maak? Gestel dat ek tot die verworpenes behoort. Dit kan soms ’n groot worsteling vir God se kinders wees. Ja, ’n groot worsteling vir U en vir my. In par 16 word daarop ingegaan ’n baie pastorale en praktiese manier. Drie verskillende reaksies op die leer van die verwerping word uitgewerk en aangespreek.

Eers is daar hulle wat die lewende geloof in Christus, die vaste vertroue, die gewetensrus, die beoefening van kinderlike gehoorsaamheid en die roem in God deur Christus nog nie ten volle ervaar nie - ondanks die feit dat hulle die middele van genade gebruik. Jy gaan kerktoe, jy lees die Bybel, jy bid, maar jy ervaar nog nie ten volle die geloof, die liefde en die blydskap in die Here nie. Jy herken nog nie by jouself ’n lewende geloof in Christus nie. Jou geloof is maar swak en wispelturig. Een dag dink jy dat jy glo en ’n dag later twyfel jy weer daaraan. Een oomblik raak die evangelie jou, ’n ander oomblik lyk dit jou nie te raak nie. Jy ervaar daar min van. Jy is nie seker van jou saligheid nie. Jy herken nog maar min by jouself dat jy van harte en met vreugde die Here dien en dat jy Hom wil loof en prys.

Daarom kan twyfel in jou gedagtes opkom. Is ek uitverkies? Of behoort ek dalk by die verworpenes. Jy is onseker en onrustig, terwyl jy soek na bewyse dat jy inderdaad ’n uitverkorene is. Ons herken hierdie worsteling. Of nie? Veral ons verbondsjeug, ons tieners sal dit kan herken. Daar is baie mense wat jonk is, in leeftyd of in geloof, wat nie werklik kan sê dat die diens van die Here vir hulle ’n genot is nie. Nee, jy keer God nie die rug toe nie. Jy bly kerk toegaan en jy lees en bestudeer die Bybel. Maar jy worstel nog met allerlei vrae.

Met groot fyngevoeligheid reik die DL uit na sulke kleingelowiges. Die DL spreek hulle nie hard aan nie. Dit benader hulle nie vanuit die hoogte nie. Nee, jy word bemoedig om aan te gaan. Jy ontvang die advies: Jy moet nie mismoedig word wanneer jy van die verwerping hoor nie. Jy moet jou ook nie onder die verworpenes reken nie, maar ywerig voortgaan om die middele te gebruik, vurig verlang na die tyd van oorvloedige genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag. Met ander woorde: Verloor nie die moed nie, gooi nie die tou op nie. Beskou jouself nie as ’n verworpene nie. Bly kerk toegaan, die bybel lees en bestudeer en bid. In die vertroue dat die Here langs die pad groei sal gee.

Broeders en susters, die feit dat jy nog nie duidelik die vrugte van die verkiesing in jou lewe kan herken nie, beteken nie dat jy ’n verworpene is nie. Neem die beeld van ’n boom. ’n Jong boom produseer nog geen vrugte nie. Maak dit die boom dan ’n slegte boom? Nee, dit het slegs tyd nodig om te volgroei. So moet ook julle wat jong in geloof of jong in jare is julleself nie as verworpenes beskou omdat die vrugte nog nie so sigbaar is nie. Niemand wat tot geloof kom dra onmiddellik volwasse vrugte nie.

Ja, die groei van die geloof is ’n proses. Die geloof is soos die boom. Dit moet gevoed en versorg word. Wat het die geloof dan nodig? God se Woord en Gees. Daarom die advies : gaan ywerig voort met die gebruik van die middele. Lees, bestudeer en oordink die Bybel, bly kerktoe gaan, dis mos die werkplek van die Gees. Die Heilige Gees wil die middele gebruik om die geloof in ons harte te werk en te versterk. Soos ons ook bely met die DL 5.14: "Dit het God behaag om hierdie Goddelike genadewerk deur middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit , sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie, deur die aansporing, vermanings en beloftes daarin en ook deur die gebruik van die heilige sakramente."

In sy Woord verseker God ons van die vrugte wat Hy op sy tyd deur die woord sal werk. In Filippense 1:6 skryf Paulus vir die heiliges te Filippi dat Hy hierop vertrou, dat Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus. Hierdie gelowiges was mense soos u en ek.. Mense wat daagliks worstel met die onvolkomenheid van hul geloof. Paulus bid ook vir hulle dat hulle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word. Hulle moet nog daagliks groei in geloof, hoop en liefde. Soos ons vandag. Hoe bemoedig Paulus dan hulle en ons? Deur te wys op die trou van God. Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, sal dit voleindig tot op die dag van Jesus Christus. God los jou nie halfpad nie. God het ’n begin van geloof en liefde gewerk. Hy sal dit voltooi.

Daarom, gaan ywerig voort om die middele te gebruik, verlang vurig na die tyd van oorvloediger genade en verwag dit met eerbied en ootmoed. Die Here wys ons mos op die reël: die geloof is uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God (Rom 10:17). Hy het ook belowe "Elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word." (Mt 7:8). Die Here maak sy woorde waar. Hy is getrou. Dan sal die leer van die verwerping vir jou ’n aansporing wees om die komende toorn te ontvlug en jou toevlug tot die Here Jesus te neem. Hy het mos gesê dat Hy niemand wat tot Hom kom sal afwys nie. "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele" (Mt 11:28,29). Dan bly jy geduldig aanhou totdat jy die rus ontvang. En jy sal lewe.

So kom ons dan by die tweede reaksie op die leer van die verwerping. Die eerste reaksie was die van die kleingelowige wat die lewende geloof en liefde nog nie ten volle ervaar nie. Die tweede reaksie wat die DL noem is dit van hulle wat worstel met hul heiligmaking. Jy begeer om jou tot God te bekeer, dws om jou sondes agter jou te laat en jou aan God te wei. Jy begeer om God alleen gehoorsaam te wees en van die liggaam van die dood verlos te word. Maar jy het op die pad van die vroomheid en die geloof nog nie so ver gekom as wat jy wel wou nie.

Wie ken nie hierdie stryd nie? Jy worstel met die sondes in jou lewe. Jy wil jou tong bedwing, maar voordat jy dit besef, het jy weer te veel gesê, ’n ongevoelige of kwetsende woord, skinder of laster. Jy wil die sondige begeertes uit jou kop uitwis, maar hulle kom steeds weer terug. Jy wil jou gevoelens onder beheer hou, maar skielik reageer jy weer op ’n onbeheerste manier. Tot my verdriet ontdek ek dat ek keer op keer in dieselfde sondes val. Die sondes wat my nog aankleef pla my. Ek kry ’n afkeer van die gedeelte van myself. Waar blyk die oorwinning oor die sonde? Die vraag kan jou bekruip: behoort ek werklik tot die uitverkorenes of is ek dalk ’n verworpene?

In Rom 7 beskryf Paulus sy eie geestelike worsteling. Paulus is op ’n wonderlike manier deur die Here bekeer, tot geloof in Christus gebring. Tog sê hy van homself: "ek is vleeslik, verkoop onder die sonde" (vers 14). Ek kan die versoeking tot sonde maar nie van my afskud nie. "Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek" (vers 15). "Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek" (verse 18,19). Ons proe die frustrasie, die teleurstelling: "Maar ek sien ’n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is" (vers 23). Daarom roep hy uit: "Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? (vers 24). Wie sal my verlos van die bose en dodelike mag van die sonde, wat juis in hierdie liggaam my kwel? Daar is slegs een antwoord: daar is verlossing in Jesus Christus! Daarom: Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! Hy vergeef my my sondes. Hy vernuwe my steeds weer en meer deur sy Heilige Gees.

Paulus, ’n uitverkorene van die Here, beskryf homself as ’n sondige mens wat die goeie wil doen, maar wat steeds weer die sonde doen. Ons is nie anders nie. Beteken ons sondes dat ons verworpenes is? Nee. Die wat tot God bekeer is, kan die gebooie van God nie volmaak gehoorsaam nie. Selfs die allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar ’n geringe begin van hierdie gehoorsaamheid (Sondag 44, HK). Ek probeer miskien baie hard om die sonde te weerstaan. Tog bly ek in gebreke. Behoort dit my te pla? Ja, seker. Is dit iets wat my verbaas? Nee. Die Here het my hart verander. Maar Hy het my nog nie volmaak nie. Intussen moet ek bly stry. Ek hoef oor die sonde nie verbaas te wees nie, maar wel bedroef. Tog moet ek nie daardeur konkludeer dat ek nie by God behoort nie.

Op ’n pastorale manier sê die DL vir ons: as dit vir jou geld, dan behoort jy die leer van die verwerping nie te vrees nie. Die barmhartige God het immers beloof dat Hy die dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal verbreek nie. Die laaste is ’n verwysing na Jes 42:3. Daar word gepraat oor wat die Kneg van die Here, Jesus Christus sal doen.

Hy sal die dowwe lamppit nie uitblus nie. Deur die moeite en stryd kan ek as ’n dowwe lamppit wees. Die vlam van my geloof begin om te flikker. Ek kan onrustig word as ek sien dat die lig met onderbrekings straal. Christus beloof dat hy die dowwe lamppit nie sal uitblus nie. Hy sal sorg dat die lamp bly brand. Die profeet gebruik ook die beeld van ’n geknakte riet. Die riet is geknak maar nog nie gebreek nie. Dit kan wees dat jy gewond en neergeboë is. Jy vertoon min krag. Maar die Here beloof dat Hy die geknakte riet nie sal verbreek nie. Hy sal daarvoor sorg dat jy nie heeltemal gebreek word nie, maar dat jy geestelik lewend bly en herstel. Wat ’n ryke bemoediging in ons daaglikse stryd teen die sonde. Ons hoef nooit moed te verloor nie. Hoe klein die begin van die nuwe gehoorsaamheid ookal mag wees, God verag die begin nie. Dit is sy begin en Hy sal dit bewaar en voltooi.

Nou die derde reaksie op die leer van die verwerping. Daar is ook hulle wat sorgeloos en onverskillig is. Daarvan sê die DL: "Maar hierdie leer is tereg verskriklik vir almal wat God en die Verlosser, Jesus Christus, verag en hulle geheel en al aan die wêreldse sorge en sondige begeertes oorgegee het. Dit sal so bly solank hulle hulle nie met erns tot God bekeer nie."

Hierdie mense is nie slegs buite die kerk nie. Hulle kan ook in die kerk wees, huigelaars. Jy bely dat jy ’n christen is, maar jy steur jou nie werklik aan die Heer Jesus Christus nie. Jy leef vir vandag met sy wêreldse sorge en belange. Jy gee jou oor aan jou sondige begeertes. ’n Bewys dat jy buite die genade lewe. Vir sulke persone is die leer van die verwerping inderdaad verskriklik. Jy sou wens dat hul gewete deur die leer geprikkel sou word, dat hulle daardeur verskrik sou word. Die taktiek van satan is mos om hulle wat in sy mag is, rustig en sorgeloos te laat wees. Maar as ek die sonde dien, dan is ek ’n slaaf van die sonde. As ek my dan nie bekeer nie, gaan ek onherroeplik verlore. "Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God" (Hebr 10:31). Daarom sou jy wens dat sulke mense deur die leer van die verwerping geraak sou word. Dat hulle daardeur ’n skuldige gewete sou kry. Dit is ’n waarskuwing om hulle te bekeer terwyl God nog die geleentheid gee.

Ja, vir hulle is daar nog die geleentheid om hulle te bekeer. Ons mag nooit van sulke mense sê dat hulle tot die verworpenes behoort nie. Dit is vir ons onbekend. God het slegs bekendgemaak dat Hy so ’n besluit tot verwerping het, nie wie Hy verwerp het nie. Die Here is magtig om hulle nog ter elfde ure te red. Wanneer hulle egter in hul onverskilligheid voortgaan, dan sal hulle verlore gaan en dan sal ook blyk dat hulle tot die verworpenes behoort.

Broeders en susters, laat die leer van die verwerping ons tog almal uitdaag tot groter trou. Laat dit julle stimuleer om met des te meer ywer die middele van genade te gebruik, die woord en die sakramente. Sodat julle kan groei in geloof, hoop en liefde. Hoewel my sondes nog baie is, hoef ek nie te wanhoop nie. God is getrou, Hy sal die werk wat Hy begin het, ook voltooi.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)