Wie in erediens voor die Here verskyn moet Hom loof

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-09-16
Teks: 
Psalms 100
Preek Inhoud: 

Psalm 100

Ds C Kleyn - Sondag 16 September 2001

Lees:

Psalm 95; Psalm 100.
Sing: Ps 122:1,2; Ps 6:1,2; Ps 95:1,4; Ps 100:1-4; Ps 97:1,7.

Tema: Wie in erediens voor die Here verskyn moet Hom loof.

  • die opwekking tot lof;
  • die grond vir die lof; en
  • die volharding in die lof.
  •  

    Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

    Ons het hier bymekaar gekom in ’n erediens. Wat verwag u van die erediens? Met watter houding is u hier? In watter stemming? Met die woorde van Ps 100 roep die Here ons op: dien die Here met blydskap. God wil hier blye mense hê. Mense wat wys dat hulle bly is om hier te wees. Mense wat dit wys in hul houding, in hul woorde en dade. Ja, dis waaroor dit gaan in die eredienste. Erediens moet deur danksegging en lof gekenmerk word. Ps 95 verwoord dit so pragtig:

    Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil! Laat ons sy aangesig tegemoet gaan met lof, met lofsange Hom toejuig.

    Ek wil vir u verkondig:

    Wie in erediens voor die Here verskyn moet Hom loof

    1. die opwekking tot lof
    2. die grond vir die lof
    3. die volharding in die lof

    Ps 100 is ’n lofpsalm. Die opskrif lui: ’n Psalm. By die lofoffer. Die Psalm is ’n loflied vir die HERE. ’n Psalm om God te loof en te dank. ’n Lied vol vreugde.

    By watter geleentheid het mense hierdie lied gesing? Toe hulle die tempelkompleks genader het. Dis duidelik uit die psalm. Dis ’n lied vir die feestelike intog in Jerusalem en in die heiligdom. God se volk het dit gesing toe hulle die poorte van die tempel ingekom het.

    Die tempel gangers roep mekaar toe om God te loof en te prys. Hulle sing vir mekaar: Dien die Here met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel. Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang.

    Dis opvallend hoe dikwels die oproep tot lofprysing herhaal word. Steeds in ander woorde. Ons lees daarvan in die verse 1,2 en 4. Al die verskillende woorde wys op iets wat jy uit. Dis nie slegs ’n innerlike gevoel of ervaring nie. Dis ’n uiterlike ekspressie van lof: juig, skree dit uit. Die oorspronklik woord dui op ’n blye gejuig, soos lojale onderdane ophef wanneer hul leier of koning onder hulle verskyn. Dien die HERE met blydskap, met vreugdebetoon. Kom voor sy aangesig met gejubel.

    So behoort jy voor die Here te verskyn: met lofprysing. Ons God wil deur ’n blye volk gedien word. God wil sy volk sien en hoor sing, loof en prys, dat hulle Hom met blydskap dien. Nie slegs uit gewoonte of omdat jy dit moet nie, maar van harte. As dit van harte is, dan is dit ook met vreugde. En dit sal nie verborge bly nie. Jy wil daaraan uiting gee.

    Hierdie oproep geld vir die gelowiges van die Ou Testament, wanneer hulle die Here in sy heiligdom ontmoet. Dit geld ook vir u vandag wanneer u die Here in die erediens ontmoet. Wys vreugde en lof. In Hebr 13:15 word ons as Nuwe Testamentiese gemeente opgeroep: Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.

    Die lof is nie vryblywend nie. Elkeen wat kan, moet saamsing. Let op die breedheid van die oproep van vers 1. Die ganse aarde word daartoe opgeroep: Juig voor die HERE, o ganse aarde. Alle bewoners van die aarde word aangespreek. Mense is geskep om te loof. Dink maar aan die skepping in die begin. Wat onderskei die mens van die diere? Ons mense is as kroon van die skepping gemaak, as God se verteenwoordigers, as verantwoordelike skepsels wat kan dink, praat en sing. Om die heerlikheid van ons Skepper te kan weerspieël. Om ons Skepper te verheerlik. Die voornaamste en hoogste doel van die lewe van ons mense is (volgens die Westminster Groot Kategismus): om God te verheerlik en ons ewig in Hom te verheug.

    Wel, God moet die lof van alle mense ontvang. Hoeveel te meer behoort u, broeders en susters, Hom dan die lof te bring. Indien u stil bly, wie sal dan spreek en ons Skepper verheerlik? U is geskep om te loof. Ja, u is herskep, deur die Gees vernuwe, om te loof. Dink maar aan wat die Here in Jes 43:21 oor sy volk sê. "Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig."

    Gemeente, laat dan die lof op die Here weerklink. Dien die HERE met blydskap, met gejubel. Sonder ware lof en danksegging is hierdie erediens waardeloos. Indien hier geen blye erediens is nie, vanuit die hart, dan word dit saai, dan neem ’n dodelike stilte oor, ’n stilte wat die dood verkondig. Wat ’n skande sou dit vir ons aanbidders wees. Laat ons daarom bewus die lof van God verkondig. Dis wat Hy van ons wil sien en hoor. Laat ons in hierdie verband waak teen slapheid. Oppas dat jy nie slegs uit gewoonte of omdat mense dit van jou verwag God dien nie. Pasop dat jy nie halfhartig saamsing en dien nie. Verhef julle harte en stemme en jubel. Sou ’n mens hier nie sing nie?

    Maar geliefdes, is dit wel realisties: om altyd met blydskap God te dien, om altyd die Here te loof? Is die diens van die Here altyd ’n blye aktiwiteit? Die diens van die Here eis veel van ’n mens. Dit eis van jou dat jy van die wêreld en sy begeerlikhede afsien. Dit beteken dat jy bepaalde dinge moet doen en ander moet nalaat om te doen. Dit vra van jou offers en die inset van jou hele persoon. Kan jy dan die Here met blydskap dien? Die vraag was vir God se Ou Testamentiese volk nog veel klemmender as vir ons. Hul godsdiens het baie van hulle geëis. Die apostel Petrus praat later van ’n juk wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie (Hand 15: 10). Tog is dit die Ou Testamentiese gelowiges wat mekaar oproep: Juig voor die Here, o ganse aarde! Dien die Here met blydskap.

    Hoe kan jy dan bly wees en God loof elke keer as jy Hom dien? Dit terwyl die diens van die Here nie slegs ’n saak van die publieke eredienste is nie, maar ook iets van elke uur en dag van die week? Dis waar ons teks verwys in die eerste plek na die eredienste. Die Psalm praat van ’n kom voor die aangesig van die Here in sy heiligdom. Maar dis opvallend dat die algemene woord ‘dien’ gebruik word. ‘Dien die Here met blydskap.’ Dit omvat meer as die amptelike erediens. ’n Mens kan sê dat die diens in God se huis ’n diens in gekonsentreerde vorm is, wat uitstraal na die hele lewe. Hier in God se huis is ons nie op ’n eiland nie, los van die verbindings wat ons tydens die week het nie. Die Sondag is nie ’n geïsoleerde dag nie. Dis ’n beginpunt van die hele week. Daarom moet die erediens by die lewe van elke dag betrokke wees. Sondags leef ons nie in ’n ander wêreld as op die volgende dae nie. Sondags word ons voorberei vir die volgende dae. As jy opgeroep word om God met blydskap te dien, dan moet dit hier begin en moet dit voortgeset word tydens die week wat voorlê. Die Here wil nie slegs geloof word in die kerkdienste nie. Die vreugde van die dien van Hom moet ook sigbaar wees wanneer ons die gebou verlaat. Die lof moet elke dag van die week weerklink. Dien die Here met blydskap.

    Maar hoe kan ons dit doen? Wat van die moeites in my lewe, die pyn en stryd, die frustrasies, die teleurstellings, die werkloosheid, siekte, eensaamheid. Kan jy dan God loof ondanks jou persoonlike gevoelens en omstandighede?

    Die Psalmis noem nie slegs die oproep tot lof. Hy wys ook op die grond van die lof. Dis die tweede gedagte.

    Hoe kan jy God loof en prys? Om dit te doen moet jy eers besef waaroor dit in die erediens gaan. Waarmee was die Israeliete besig toe hulle na die tempel gegaan het? Hulle was besig om die Here te ontmoet. En om die Here te ontmoet is geen kleinigheid nie. Dis ’n geweldige voorreg. Die tempel was die plek waar die Here Homself bekend wou maak. Alles het gespreek van sy genadige teenwoordigheid. Die altaar. Die bloed van versoening. En veral die ark, simbool van God se troon van genade.

    Wanneer jy dit sien, sou jy dan nie jou verbly nie? Iets dergeliks kan ook van hierdie Nuwe Testamentiese erediens gesê word. Nee, hierdie kerkgebou is nie ’n tempel met altare en bloed van versoening nie. Ons sit in ’n eenvoudige kerkgebou met ’n preekstoel voorin. Maar ook nou kan ons sê: God wil hier wees. Hy nooi jou uit om Hom te ontmoet en om met Hom omgang te hê. Dis was jou aanwesigheid in hierdie kerkdiens so geweldig maak. Dis waar God jou wil ontmoet. Hy is hier. Wanneer jy hier tydens die eredienste kom, dan het jy met God self te make. Daarom trek ons ook klere aan wat by so ’n ontmoeting pas. Ons kom mos in die teenwoordigheid van God self. Dis werklik ’n fees, ’n heel besondere geleentheid. Waar twee of drie in sy Naam vergader , daar is Hy in hul midde (Mt 18:20).

    Hier is geen ark, altaar of bloed meer nodig nie. God is aanwesig met sy Gees in woord en sakrament. In die woord van versoening. In die woord wat vir ons verkondig dat dit weer reg is tussen God en ons deur Christus se versoenende offer. In die sakrament wat die volkome versoening van al ons sondes deur Jesus Christus uitbeeld en verseël. As jy dit besef, sou jy dan nie bly wees nie?

    Hierdie vreugdevolle lof kom nie vanself by ons op nie. Sonder geloof in God en sonder die kragtige werking van die heilige Gees is dit onmoontlik. Ek kan God slegs loof in blye diens deur geloof, wanneer ek steeds opnuut leer om die fokus van myself af te trek na God toe. Dan kan ek Hom loof, selfs in die nag van lyding en verdriet. Dink maar aan die geestelike stryd verwoord in die Psalms 42 en 43. Die Psalmis kla dat hy neergebuig en onrustig is. Sy vyande maak sy lewe so moeilik dat dit lyk asof hy geen hoop of rede tot vreugde het nie. Maar in geloof vlug die Psalmis na God toe. Hy vind toevlug in God en sy woord. Daarom kan hy ook sing: "Maar die Here sal oordag sy goedertierenheid gebied, en in die nag sal sy lied by my wees, ’n gebed tot die God van my lewe." Ja, in die nag sal sy lied by my wees. Die lof op die Here hang nie af van die uiterlike omstandighede nie. Dit kom voort uit die geloof.

    Ja, geliefdes, dis ’n saak van geloof. En wat is geloof? Die Psalmis sê: "Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide."

    Wanneer jy God se huis met danksegging wil binnegaan, dan moet jy weet en in geloof erken: die Here is God. Hy is die enigste ware, lewende God. Hy is die almagtige Skepper en Verlosser. Om hier te wees herinner jou daaraan. Wat gee jou die reg om in God se teenwoordigheid te verkeer? Sonder om verslind te word? Ons is mos sondige mense? Die Psalmis verklaar dit vir ons: Hy het ons gemaak, en ons is syne. Waar dui dit op? Sien dit op ons skepping in die begin? Onthou dat God se volk hierdie Psalm sing. Mbt God se volk, het die woorde "Hy het ons gemaak," ’n ander waarde. God het inderdaad alle mense op aarde gemaak. Maar Hy het sy eie volk op ’n spesiale manier gemaak. Dan dink ons nie aan die skepping in die eerste plek nie, maar aan verkiesing en herskepping. God het ons as sy volk in aansyn geroep. Ons wat dood was deur ons sondes.

    Hoe kom jy daartoe om God te loof? Deur God se aksie. Hy het ons gemaak. Dink aan die teks wat ek reeds eerder aangehaal het uit Jes 43: Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig. God het ons vir homself geformeer. Om sy lof te verkondig. Hy het sy verbond met ons opgerig. Hy het ons tot geloof gebring. Hy het ons uit die slawerny van die sonde bevry. Hy het ons lewens vernuwe. Sodat ons nou glo. Hy het ons vir homself herskep. Ons is syne, sy volk en die skape van sy weide.

    Teen hierdie agtergrond kan ek nie anders as om God te loof nie. Wat ’n wonder van genade. Loof die Here, prys sy naam. Kan ’n mens in sy teenwoordigheid nog onverskillig bly? Kan die diens van die Here dan werklik saai wees of ’n las, ’n negatiewe ervaring? Nee, in die lig van God se genade kan ons niks anders as om God te loof nie. Ons is sy volk. Sy kosbare eiendom. Waarvoor Hy sy eniggebore Seun gegee het.

    Geliefdes, elke keer as ons in God se teenwoordigheid kom, word ons aan hierdie fundamentele waarheid herinner. Waarom was daar so veel vreugde en liefde in die christelike kerk onmiddellik na Pinkster? Omdat hulle bewus was van God se teenwoordigheid. Die eredienste bly ons herinner wie God is en wie ons is. Die eredienste maak ons ootmoedig en bly. Ootmoedig omdat ons besef dat ons alles aan God verskuldig is. Bly omdat ons God se groot werk van herskepping, wedergeboorte sien. Die eredienste laat ons opnuut groot van ons God dink. Die Here is God, Hy het ons gemaak. Daarom is ware erediens die doodsteek vir alle menslike hoogmoed. Wie is hier werklik groot, die belangrikste? Tog die Here ons Skepper en Verlosser.

    So leer die eredienste ons om die dinge weer in hul regte perspektiewe te plaas. Ons leer onsself weer ken. En wat belangriker is: ons leer God opnuut ken as ons Skepper en Verlosser. Sou ons Hom dan nie met blydskap dien nie?

    Nou die derde punt: die volharding in die lof.

    Hoe kan ons God bly dien met blydskap? Daar kan soveel belemmerende, verontrustende faktore wees. Mense, dinge, ervarings kan ons vreugde in die pad staan. Ons weet nie wat die toekoms sal bring nie. Watter versoekings en beproewings ons sal moet deurstaan.

    Gemeente, as ons op ons eie moontlikhede, op ons eie krag vertrou, dan sal ons toekomstige diens aan God ’n mislukking wees. Om die Here met blydskap te dien bly slegs moontlik indien ek my aan God se sorg toevertrou.

    Jy kan volharding van Hom verwag. Hy het dit belowe. Ons is sy volk, die skape van sy weide, die skape waarvoor Hy sorg. As ons sy eiendom is, sou Hy ons dan aan ons lot oorlaat? Nee, Hy is ’n Herder wat sorg. Hy bewaar. Hy gee die krag om te volhard. Jy kan volkome op Hom staat maak.

    Die Psalmis verwoord dit in die laaste vers: "Want die Here is goed, sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag." Hier het u die bekende woorde van lof wat voortdurend in die Ou Testamentiese erediens geuit is. Israel het God se goedheid en verbondstrou, ja God self, geloof. So is die Here ons God.

    Die Here is goed. Ons bly dit sing ook vandag. Hy is so goed dat Hy sy eie Seun vir ons almal oorgegee het. Hy is so goed dat Hy ons die woord van versoening laat hoor. Hy is so goed dat Hy ondanks ons sondes en tekortkomings nog vir ons bly omgee. Sy goedertierenheid is tot in ewigheid. Sy goedertierenheid, dit is sy verbondstrou. Hy doen wat Hy in die verbond belowe het. Hy vervul sy deel van die verbond. Sy trou is van geslag tot geslag. Dis ’n saak van verlede, hede en toekoms. Hy bly dieselfde, die troue verbondsgod, deur die eeue heen, met die opeenvolging van een generasie na die ander. Wat gee ons dan vertroue in die toekoms? Sy goedheid en trou. Dit is wat alle verhinderings wat ons verhouding met Hom in gevaar bring, oorwin. Hy bly daaraan werk dat Hy ’n volk het wat sy lof verkondig.

    Broeders en susters, vertrou uself toe aan Hom, vandag, more, elke dag. Laat u nie lei deur u natuurlike gevoelens nie, u tydelike, wisselende gevoelens. Fokus weg van uself op God. Besef steeds weer opnuut hoe groot en goed die Here u God is. Dan kan u God loof in goeie en slegte dae. Hom loof vanuit die hart. Ja, wat het ons tog ’n groot, genadige en troue God.

    AMEN

     

    Kopiereg word voorbehou.
    Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

    Liturgie: 

    (kyk in preek)