Die vrug van die sekerheid van die verkiesing

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-09-16
Teks: 
Dordtse Leerreëls 1
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1 Art 13

Ds C Kleyn - Sondag 16 September 2001

Lees:

2 Petrus 1:1-11; Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1 Art 13.
Sing: SB 27; Ps 19:4,5; Ps 63:1,3,4; Ps 92:5-7.

Tema: Die vrug van die sekerheid van die verkiesing.

Die sekerheid

  1. lei tot ’n godvresende lewe; en
  2. nie tot onverskilligheid nie.
  3.  

    Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

    God se verkiesing is van ewigheid, onveranderlik, volkome. Hy verkies tot volkome verlossing. Hy voltooi die werk van sy hande. Hy is die alfa en omega, die begin en die einde. Ons hele verlossing lê in Hom vas. Wat ’n ryke troos vir ons as gelowiges. Die doel van my lewe sal bereik word. God sal my bewaar tot die einde toe. Hy sal my verheerlik. Ek mag nou reeds van die verheerliking seker wees. Daarom skryf Paulus ook in die verlede tyd: die wat Hy vantevore verordineer het, die het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, die het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, die het Hy ook verheerlik. Ja, die het Hy ook verheerlik. As ’n gelowige mag ek seker wees van my volkome verlossing. Dit gaan terug op God se ewige, onveranderlike verkiesing tot saligheid. ’n Geweldige bemoediging in die daaglikse stryd van die geloof, met sy hoogtes en dieptes.

    Pragtige woorde. Dit klink amper te mooi om waar te wees. Beteken dit dat ons almal sonder twyfel gered sal word? Ons is almal gedoop? Ons is almal deur God se woord en Gees geroep? En ons glo tog in Jesus Christus as ons verlosser? Alles is dus in orde. Niks kan met ons gebeur nie. Is dit so? Wat dan van die valse gerustheid waarteen die Here so skerp waarsku?

    Die Jode was ook verbondsvolk van die Here, geroep deur God se Gees en woord. Maar wat sê die Here vir hulle in Jer 7:3,4? "So sê die Here van die leërskare, die God van Israel: maak julle weë en julle handelinge goed, dat Ek julle kan laat woon in hierdie plek. Vertrou nie op bedrieglike woorde nie – wat sê: Die Here se tempel, die Here se tempel, die Here se tempel is dit!" Dink maar nie: Ons is die uitverkore volk van God, niks kan ons oorkom nie. Van die Ou Testamentiese volk van God lees ons dat God in ’n groot deel van hulle geen welgevalle gehad het nie. Dit is dus ’n wesenlike gevaar dat jy dink dat jy God se uitverkore kind is en tog verlore gaan. Vertrou daarom nooit ligvaardig op jou roeping en verkiesing nie, asof jy ongeag hoe jy leef nooit verlore sou kan gaan nie. Uitverkiesing en ’n heilige lewe het alles met mekaar te make.

    Wel in die volgorde, uitverkiesing en ’n heilige lewe, maar dan tog saam. God het mos uitverkies "om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees." (Ef 1:4). Ons is in Christus Jesus geskape tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel (Ef 2:10). Geloof en ’n heilige lewe in goeie werke is die vrug van God se uitverkiesing tot saligheid. Dis deel van die saligheid waartoe God ons uitverkies. Die uitverkiesing moet ook juis daarin blyk. Sien DL 1 par 12. Die gevolge van die uitverkiesing kan nie uitbly nie. Waar die gevolge ontbreek, daar kan ’n mens nie op die uitverkiesing roem nie.

    So kan ons as geroepenes van die Here nie passief bly nie, in die vertroue dat ons uitverkies is nie. Die uitverkiesing maak ’n mens nie passief nie, maar juis aktief. Die uitverkiesing kan nie verborge bly nie, maar sal hom wys in ’n heilige lewe. Daarom ook die oproep van die Here in die Skrifgedeelte wat ons gelees het: "Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak" (2 Petr 1:10).

    Ek wil vir u verkondig:

    Die vrug van die sekerheid van die verkiesing.

    Die sekerheid

  4. lei tot ’n godvresende lewe; en
  5. nie tot onverskilligheid nie.

Die oproep van Petrus: beywer julle om julle roeping en verkiesing vas te maak veronderstel die werklikheid van die roeping en verkiesing. ’n Mens kan mos slegs vas maak iets wat aanwesig is. Wat daar nie is nie, kan jy nie vas maak nie. Petrus veronderstel dus dat die gelowiges vir wie hy skryf geroep en uitverkies is.

Hoe weet Petrus dit? Uit God se geskiedenis met die mense. God het hulle deur sy woord uit die duisternis van die sonde tot die lig van sy genade geroep. Hulle het daaraan gehoor gegee. Hulle het hul geloof bely en hul lewe verbeter. Hulle het hul laat doop in die naam van die 3 enige God. So het hulle deel geword van die christelike kerk waarvan ons bely dat dit ’n heilige vergadering is van hulle wat verlos word. Hieruit mag ’n mens hul roeping en verkiesing veronderstel.

Petrus kan nie die harte ken nie. Hy kan nie weet of daar ook huigelaars is of nie. Hy kan slegs uitgaan van wat hy sien en hoor. En op grond daarvan praat Hy van God se roeping en verkiesing. God het hulle ryklik bevoorreg. Dink maar aan wat ons lees in vers 3: "Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug." God het verlossend ingegryp en kragte tot nuwe lewe gegee. Vers 4 voeg daaraan toe dat God hulle die grootste en kosbare beloftes geskenk het. In God se verbond en kerk ontvang hulle die beloftes van die vergewing van sondes en die ewige lewe. Die gelowiges vir wie Petrus sy brief skryf moet hul bevoorregte posisie goed besef en uitleef.

Dit geld ook vir julle, broeders en susters, soos julle in God se verbond en kerk leef. Deur God se genade het julle in die verbond gekom. Daaragter staan die verkiesende God. Die verbond is immers ’n liefdesverhouding. Binne die verbond word die skatte van die verkiesing geniet: God neem ons aan as sy kinders en erfgename. Hy wil ons sy grootste geskenk gee, sy Seun, tot ’n versoening van ons sondes. Hy beloof sy Gees wat ons wil heiligmaak, met as doel dat ons eendag volkome rein ’n plek ontvang in die gemeente van die uitverkorenes in die ewige lewe. Al die skatte van die verbond is skatte van die verkiesing omdat dit skatte van die liefde van God is.

2 Petr 1:10 roep ons egter op om ons roeping en verkiesing vas te maak. Is dit nie vreemd nie? Ons roeping en verkiesing lê tog reeds vas by God. Daar kan ons tog niks aan verander nie? Wanneer ons aan verkiesing dink en praat dan dink ons onmiddellik aan ewigheid en onveranderlikheid. Ons moet egter besef dat God van verkiesing ook in verbondsmatige sin praat. Israel was bv ook die uitverkore volk van God. Tog weet ons dat baie Jode die verbond verwerp het en verlore gegaan het. Slegs ’n deel daarvan blyk werklik tot die ewige lewe uitverkies te wees. So word in 2 Petr 1 van verkiesing gepraat soos dit in die daad van God se roeping openbaar word. Dit sien op die onderskeiding, die bevoorregting wat God tot stand gebring het.

Ons moet ons roeping en verkiesing vas maak. By God hoef niks vasgemaak te word nie. By die Here is alles vas en seker. Dit moet egter nou ook by ons die geval word. Ons kan nie sommerso sê dat ons roeping en uitverkiesing seker is nie. Laat ons nie fout maak nie. As die vrugte van die verkiesing in my lewe ontbreek, dan bring ek die verkiesing in gevaar, ja dan kan dit weleens blyk dat ek nie tot die saligheid uitverkies is nie. Daarom word ons opgeroep om ons roeping en verkiesing vas te maak. Die Here het met sy evangelie in ons lewe ingekom, met die ernstige roeping. Nou is dit ons verantwoordelikheid dat ons daaruit lewe. In die verbond word ’n beroep op ons gedoen, op ons wil en verantwoordelikheid. God roep ons op tot geloofsaktiwiteit. En in verband met ons roeping en verkiesing beteken dit: ons roeping en verkiesing vas maak. Ons moet die verkiesing blywende geldigheid in ons lewe gee. Deur as uitverkorenes te lewe.

Gemeente, wat dit beteken word duidelik as ons let op die teenoorgestelde van die vasmaak, naamlik dat ons ons roeping en verkiesing losmaak. Wat is dit: jou roeping en verkiesing losmaak? Dit is dat jy jouself van die Here en sy diens losmaak. Jy maak jou los van die verbond en van die kerk. Jy maak jou los van jou doop en van die beloftes van die Here. Jy keer jou af van alles wat God jou in die verbond gegee het. Deur ’n slordige, nie-christelike lewenswandel.

Ons lees daarvan in 2 Petrus 1: 9. Daar staan: "want hy by wie hierdie dinge (naamlik die vrugte van geloof en bekering) nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet." Sulke lidmate is blind. Hulle sien God nie, ook al sê hulle van wel. Hulle ken Christus en sy versoenende offer nie. Hulle ken ook hulleself nie werklik nie. As verlore sondaars wat deur Christus gered is. Hulle sien en erken nie die sondes waaruit hulle verlos moet word nie. Hulle sien ook nie die ewige saligheid wat vir hulle beloof is nie. Hulle is blind en kortsigtig.

Hulle leef by die dag, vir hier en nou. Hulle fokus op wat naby is, die aardse, tydelike dinge en nie op wat hierna kom, die ewige nie. Hulle verloor die doel uit die oog en raak gefikseer op wat voor oë is. Hul toekomsbeeld word steeds vaer en kan op die duur self heeltemal verdwyn. Ja, gemeente, om werklik christelik te kan lewe moet jy in sekere sin heldersiende wees. Jy moet daarvoor jou blik vooruit werp. Jou oog gevestig hou op die ewige koninkryk van Jesus Christus.

Vanwaar die kortsigtigheid wat Petrus noem? Dit is ’n gevolg van ’n kort geheue. Die mense vergeet die reiniging van hul vorige sondes, sê Petrus. Hulle vergeet die belydenis van hul geloof. Hulle vergeet hul doop tot vergewing van sondes. Hulle dink nie meer aan die groot voorreg wat vir hulle in die verbond en in die kerk gegee is nie. So val hulle terug in hul ou sondige lewe. Hulle raak onverskillig, sorgeloos, oppervlakkig. Hulle lei ’n slordige lewe. Hulle maak asof dit nie so nou let hoe ’n mens lewe nie. Dalk wil hulle nog wel christene genoem word. Dalk gaan hulle nog kerktoe en vier hulle die nagmaal. Maar hulle gaan hulle eie gang. Hulle christelikheid is nie iets wat hul lewe bestempel nie. Hulle is in feite ongelowig, wêrelds. Hul laaste situasie is erger as die eerste. Hul maak hul roeping en verkiesing van hul kant so te sê ongedaan. Hulle bedroef die Heilige Gees waarin hulle by hul doop verseël is. So raak hulle alles weer kwyt. Hulle verspeel hul heil in Christus. Ten slotte gaan hulle as verbondskinders verlore.

Juis met die voorbeelde voor oë dring Petrus daarop aan dat ons beywer om ons roeping en verkiesing vas te maak. "Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak." Laat die voorbeeld van onverskilligheid u waarsku om die verkiesing nie as vrybrief vir eiesinnigheid of losbandigheid te maak nie. Daar staan baie op die spel. Lê u daarom met krag daarop toe om u roeping en verkiesing te bevestig. Deur dit uit te leef. Deur dit te wys. Deur ’n heilige lewenswandel. Deur jouself aan die Here en sy diens te wy. Deur die liefde van God met jou liefde te beantwoord. Deur ’n lewe van dankbaarheid.

Wat dit verder inhoud maak Petrus duidelik in die verse 5-7. "Juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde."

In vers 10 sê Petrus vervolgens: "Want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie" (vers 10). Petrus sê: wie in ’n heilige lewenswandel sy roeping en verkiesing vas maak, sal nooit struikel nie. Dit beteken: jy sal nooit so in sonde val nie, dat jy nie weer tot ’n nuwe lewe kan opstaan nie. Jy sal nie so struikel en val dat jy die lewensdoel mis en te gronde gaan nie. Langs die pad van die tot gelding bring van jou roeping en verkiesing, ontvang jy die gawe van die volharding van die heiliges. Jy groei in geloof en liefde en bereik jou doel. Petrus skryf: want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus (vers 11).

Broeders en susters, wat maak ons dan met die kennis van ons verkiesing? Met par 13 van die DL bely ons dat die lewe van hulle wat van hul uitverkiesing seker is deur godsvrug gekenmerk word. Ons lees die eerste gedeelte daarvan. "Vir die kinders van God is die besef en die sekerheid van hierdie uitverkiesing daagliks steeds meer rede om hulle voor die aangesig van God te verootmoedig, om die diepte van sy barmhartigheid te aanbid, om hulleself te reinig en om Hom, wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het, ook van hulle kant vurig lief te hê."

Daar is geen sprake van dat die sekerheid van jou verkiesing tot onverskilligheid sou lei nie. Dat jy sou dink: ek is uitverkies, alles is OK, my kan niks oorkom nie. Ek kan nou rustig lewe soos ek lus is. Jesus het gesê dat ’n boom aan sy vrugte geken word. Indien jou hart as gevolg van God uitverkiesing vernuwe is, dan sal jy goeie vrugte voortbring. Die liefde van Hom wat jou eers so uitnemend liefgehad het, beweeg jou tot wederliefde. As ek seker van my verkiesing is, dan sal ek dit waardeer en as ’n skat bewaar en koester. Dit uitleef. Ek sal my dan des te meer beywer om my dank vir God te wys in ’n lewe tot sy eer. Jesus Christus, in wie ek uitverkore is, beweeg my tot ’n godvresende lewe deur die krag van sy Gees. Daarom is dit volgens ons belydenis ook onmoontlik dat ’n mens wat deur ’n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sou voortbring nie.

Die sekerheid van die verkiesing en die vrugte van geloof en bekering hoort by mekaar in die lewe van hulle wat God tot die ewige lewe uitverkies het. Soos ons bely ’n par 13: "Dit is dan ook geheel en al onmoontlik dat hierdie leer van die uitverkiesing en die besinning daaroor die kinders van God sal laat ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word deur ’n sondige lewe te lei."

Daar is egter altyd mense wat hierdie leer misbruik. Daar is in Christus se kerk ook huigelaars. Mense wat die genade van die uitverkiesing ligtelik vir hulleself toe-eien sonder dat hulle begeer om in die weë van die uitverkorenes te wandel. Hulle dink in selfversekerdheid: Ons is die uitverkore volk van God. Hulle is daarvan oortuig dat hulle uitverkore is. Hulle is mos lidmate van die kerk. Miskien het hulle selfs vir jare as ampsdraer gedien of dien hulle nog as ampsdraers. Miskien ontvang hulle baie waardering van die mense. Maar hierdie dinge is op homself nog nie ’n bewys van hul uitverkiesing nie. Die vrugte van die uitverkiesing soos dit in par 12 genoem word is beslissend. "Hierdie onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid ens." Sonder die vrugte het ’n mens geen reg om van die uitverkiesing uit te gaan nie, maak nie saak hoe lank en met wat ’n ywer hy of sy in die kerk gedien het nie.

Laat Christus se woorde teen valse gerustheid u waarsku. Luister maar na Mt 7:21-23. Elkeen moet dus kyk na die vrugte wat hy of sy dra. Dis vir my om na myself te kyk. Die sekerheid van my uitverkiesing lê nie in wat ander mense van my sê of dink nie. Dit is nog geen bewys van my verkiesing nie. Watter vrugte dra ek? Is ek selfvoldaan: alles is reg, my kan niks oorkom nie of is daar by my ware ootmoed en dankbaarheid, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors ’n die geregtigheid? Is ek verwonderd oor wat God vir my gedoen het en loof ek Hom daarvoor?

Gemeente, ek wil ook nog die aandag vestig op ’n ander misbruik van die leer van die uitverkiesing. Daar is mense wat redeneer: as ek uitverkies is, dan kom ek daar tog wel, en as ek nie uitverkies is nie, dan kom ek nooit daar nie. Dus moet ek maar passief bly afwag.

Dit is dwaas om so te praat. Ons weet mos nie wat God besluit het nie. Indien God vir ons persoonlik sou bekendmaak dat ons verworpenes is, dan sou ons inderdaad kan sê: ek kan daar niks aan verander nie. Maar so is die situasie nie. Die uitverkiesing tot saligheid is verborge. Ons moet na die geopenbaarde wil van God lewe. En wat is die geopenbaarde wil van God? Die God van die verkiesing kom na ons toe langs die weg van die verbond met sy beloftes, eise en dreigings. Ons mag nooit die kennis van die uitverkiesing van die twee dele van die verbond, God se beloftes en eise, losmaak nie. ’n Ware geloof in die verkiesende God sal gryp na alles wat God in die verbond geopenbaar het. Die verkiesende God kom mos juis in die pad van die verbond, met sy beloftes en eise, na ons toe.

Wie lydelik wag op besondere aanwysings van sy uitverkiesing, sal die uitverkiesing nooit sien nie. Hy negeer mos die weg van die verkiesende God. En die sorgelose, die onverskillige, wat wel in sy verkiesing durf roem, weet nie waaroor hy praat nie. Hy ken nie eers die verkiesende God nie. In die verbond roep God se liefde mos ons wederliefde op.

Gemeente, laat ons tog erns maak met die verkiesende God. Laat ons ons roeping en verkiesing vas maak deur verbondsgehoorsaamheid. Laat ons in verwondering God eer as diegene wat in sy verkiesende liefde ons lewenspad in die verbond bepaal het. Laat ons die vrugte van die verkiesing wys. En alle lydelikheid en onverskilligheid afsweer. So word ons lewenspad stuk vir stuk getuienisse van God se verkiesende liefde. So kan ons ryke troos put uit God se ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)