God het ’n sekere aantal mense uitverkies.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-09-09
Teks: 
Dordtse Leerreëls 1
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1 Art 7 & 8

Ds C Kleyn - Sondag 9 September 2001

Lees: Romeine 8:18-30; Dordtse Leerreëls
Hoofstuk 1 Art 7 & 8.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 89:1,6;
Ps 138:1,4; Ps 36:2,3.

Tema: God het ’n sekere aantal mense uitverkies.

Die uitverkiesing was:

  1. In Christus
  2. Tot die saligheid.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Na die inleidende paragrawe kom ons nou uit by die
uitverkiesing self. Wat verstaan ons onder die uitverkiesing? Par
7 gee vir ons ’n omskrywing daarvan. Ons kan dit as volg
saamvat: Die uitverkiesing is ’n onveranderlike voorneme van
God waarvolgens Hy ’n sekere aantal mense tot die saligheid
in Christus uitverkies.

Vanaand wil ek op twee kernpunte van die omskrywing let as ek
vir u verkondig: God het ’n sekere aantal mense uitverkies

Die uitverkiesing was:

  1. In Christus
  2. Tot die saligheid.

Na die sondeval was alle mense van nature kinders van die
toorn. Voordat God die mens gemaak het, het Hy reeds in sy raad
besluit om in Christus ’n sekere aantal mense te red. Wil u
oor God se uitverkiesing praat, dan moet u let op die twee woorde:
in Christus. God het in Christus uitverkies.

Wat beteken dit? Dit beteken dat toe God sy keuse gemaak het,
Hy nie slegs besluit het wie Hy sou red nie, maar ook hoe Hy
hulle sou red. Toe God mense uitverkies het, het Hy ook sy Seun
as Redder aangewys. En God die Seun het Homself daarvoor
aangebied: "Vader ek sal daarvoor sorg dat u besluit om die
mense te red uitgevoer kan word. Ek sal my lewe gee vir diegene
wat ons gekies het. Ek sal die prys wat nodig is om hulle tot die
lewe terug te bring betaal. En deur die Heilige Gees sal ek
daarvoor sorg dat die lewe hulle ook bereik." Dit het gebeur
op dieselfde oomblik as waarop God ’n sekere aantal mense
gekies het om hulle te red. God die Vader het besluit om sy
geliefde Seun vir die uitverkorenes oor te gee. En God die Seun
het homself aangebied om dit te doen.

Ons praat van God se ewige besluit, sy ewige raadsplan. God
het ’n plan. Vergelyk dit maar met die plan van iemand wat
’n huis wil gaan bou. Wanneer jy ’n huis wil bou, dan
maak jy ’n plan, dan maak jy ’n bestek op. Ten slotte
het jy alles klaar, en moet die plan uitgevoer word. Maar as daar
geen vergunning is nie, as daar geen geld is nie, dan kom daar
van die mooie plan niks tereg nie. So is dit by God nie. God sorg
nie slegs vir die plan van die uitverkiesing nie, maar ook vir
die uitvoering daarvan. Christus waarborg die uitvoering daarvan.
So kan ons Christus die fondament van ons saligheid noem. Sonder
Christus is daar geen sprake van uitverkiesing nie. God sou
niemand ooit kan red nie, as Hy nie Jesus Christus van ewigheid
af tot Middelaar en Hoof gestel het nie. En as Jesus Homself nie
daartoe bereid verklaar het nie.

Ons uitverkiesing staan dus nooit los van die verkiesing van
Jesus Christus nie. Die Bybel vertel ons ook oor die verkiesing
van Jesus Christus. In Ps 40 word Jesus sprekend ingevoer: "Kyk,
ek kom; in die boekrol is dit my voorgeskrywe. Ek het lus, o my
God, om u welbehae te doen." In die profesie van Jesaja word
die Here Jesus as kneg van die Here aan ons voorgestel. Daar lees
ons oa in hoofstuk 42 en 43: "Daar is my Kneg wat Ek
ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ’n welbehae het."(42:1)
En: "my kneg wat Ek uitverkies het" (43:10). In die
Nuwe Testament word hierdie woorde uitdruklik op die Christus
toegepas (bv Mt 12:17). Die apostel Petrus sê ook dat Christus
vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld (1 Petr 1:20).
Hy is die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar
by God uitverkore en kosbaar is (2:4). Christus is deur God die
Vader uitverkore om ons Verlosser en Hoof te wees.

Broeders en susters, wanneer u oor God se uitverkiesing praat,
vergeet dan nooit die woorde: "in Christus" nie. God
het nie slegs besluit wie Hy sou red nie. Hy het ook bepaal hoe
Hy die besluit sou uitvoer. Die weg sou wees: die oorgawe en dood
van sy eie Seun. Die leer van die uitverkiesing staan dus nooit
op homself nie. Dis altyd die boodskap van heil in Jesus Christus.
Indien ek die twee besluite van God van mekaar skei, dan loop ek
onherroeplik vas met die leer van die uitverkiesing. Wanneer ek
egter albei vashou dan besef ek: om oor God se uitverkiesing te
praat, is altyd ’n saak van groot verwondering. God het sy
eie Seun van die staanspoor af vir ons gegee. En Jesus Christus
het van die staanspoor af gekies om vir ons deur die hel te gaan.
Hy het die offer gebring vir mense wat niks verdien het nie.
Sodat hulle weer kan lewe.

Wanneer ek oor God se verkiesing praat, dan praat ek oor die
wonder van God se liefde. Dan praat ek van God se liefde soos dit
na my toekom in Jesus Christus. Want God se uitverkiesing en sy
liefde in Jesus Christus behoort by mekaar. Hulle is onskeibaar.

Gemeente, wanneer u dit in gedagte hou, dan weet u ook hoe u
van u verkiesing seker kan wees. Jy kry nooit die sekerheid deur
nuuskierig ’n ondersoek te wil instel in God se ewige
besluit nie. Want God gee geen insig in sy ewige raad nie. Hy sal
u nooit ’n lys van name gee van hulle wat Hy uitverkies het
nie. Wat Hy wel vir jou wys is die pad waarlangs Hy sy besluit
uitvoer. Hy maak vir jou Jesus Christus bekend. Hy sê vir jou:
Kyk na Jesus Christus. Glo in Hom. Wanneer jy Hom, ons Here Jesus
Christus, sien, dan sien jy die God van die uitverkiesing.
Wanneer jy Hom sien, dan sien jy God besig om sy ewige verkiesing
uit te voer.

Wil jy seker van jou verkiesing wees? Ja, kan jy wel te wete
kom of jy ’n uitverkorene is? Hoe dan? Wel, kyk na Jesus
Christus. Christus is die spieël van die verkiesing. Indien jy
wil weet hoe jy lyk, dan moet jy in die spieël kyk. Wil jy weet
of jy uitverkore is, dan moet jy by Christus wees. Slegs by Hom
kan jy dit agterkom. Daarom word jy ook so ernstig opgeroep om in
Christus te glo.

Glo in Hom en in sy werk. En onthou wat daar agter lê: God se
ewige verkiesing. Dan weet jy dat jy uitverkies is, elke keer as
jy die woord van Christus hoor en aanvaar. Dan weet jy verseker
dat God besig is om sy ewige raadsplan uit te voer, ook vir jou.
Dis hoe jy seker word oor jou eie uitverkiesing: slegs deur
geloof in Jesus Christus.

Dalk dink jy dat dit nie genoeg is nie. Jy wil eers weet of
jou naam ook werklik in die lys van God se uitverkorenes voorkom.
Tot daardie oomblik beteken die evangelie nie baie vir jou nie.
Baie mense het op daardie manier geredeneer. U sal nou wel
verstaan waarom dit fout is. As jy so redeneer, dan volg jy nie
die pad wat God vir jou wys nie. Hy wil jou sekerheid gee deur
jou te wys op Jesus Christus, die weg, die waarheid en die lewe.
Maar jy wil sekerheid verkry langs ’n ander pad. Dit is
ongehoorsaamheid. Dis ook nie nodig nie. Jy hoef nie meer
sekerheid te hê as wat God vir jou wil gee nie. Hy laat jou weet
dat jy by sy volk behoort. Hy kom na jou toe met die evangelie
van Jesus Christus. Hy beloof vir jou vergewing van sondes en
ewige lewe. Dit is voldoende. Aanvaar sy heil en troosryk woord.
Langs die weg gee Hy jou sekerheid van jou verkiesing. Deur
geloof in Jesus Christus. In Christus het Hy immers uitverkies.

Gemeente, God het nie slegs die syne in Christus uitverkies
nie, Hy het ook besluit om hulle tot Christus te bring en hulle
aan Christus te gee. Om salig te word moet ek tot Christus kom en
deur die Heilige Gees met Hom verenig word. So bely ons met par 7:
So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om
hulle salig te maak. Daarom praat die Here Jesus ook oor hulle
wat die Vader Hom gegee het (Joh 6, 17). In sy hoëpriesterlike
gebed van Joh 17 sê Hy bv: Hulle het aan U behoort, en U het
hulle aan My gegee, en Ek het hulle in u Naam bewaar (Joh 17:6-12).

Hoe gee die Vader die uitverkorenes aan sy Seun? Dit bely ons
verder in par 7: "Deur sy Woord en Gees roep en trek God die
uitverkorenes kragdadiglik tot gemeenskap met Christus." So
is God ook nou besig. Veral elke Sondag, onder die prediking en
elke dag as jy die Bybel lees. God roep, lok, trek. En die
geroepenes kom. Daar sorg God voor. God spreek en dit kom tot
stand. Hy gebied en dit staan. Hy sê: laat daar lig wees en daar
is lig. So kom sy uitverkorenes tot geloof, deur sy Woord en Gees.
Hulle word ook in die geloof bewaar tot die einde toe en ontvang
die ewige heerlikheid. So bereik God met hulle die doel van sy
verlossingswerk. Dat ons gelykvormig sal wees aan die beeld van
sy Seun. Dat ons saam met sy Seun volkome heerlikheid sal ontvang
tuis by die Vader. Van die uitverkorenes sal nie een verlore gaan
nie.

Die Remonstrante het iets heel anders oor die uitverkiesing
geleer. Ons lees daarvan in vvdd 1.1. Laat ons dit saam lees bls
562.

Op die standpunt van die Remonstrante is God afhanklik van die
mens. Hy moet immers eers sien of die mens die evangelie wel in
geloof aanneem en of hy in die geloof sal volhard. Om dan op
grond daarvan uit te kies tot saligheid. Dis dus uiteindelik die
mens wat beslis. Die Skrif leer ons egter dat alles uit God is.
Hy het uitgekies tot geloof, tot heiligmaking, tot volharding,
tot verheerliking. Dis almal deel van die verlossing waaroor Hy
van ewigheid besluit het.

Die Remonstrante en baie mense vandag kan en wil dit nie glo
nie. Waarom nie? Omdat hulle aan die mens ’n te groot plek
wil gee. Hulle meen dat God die mens die moontlikheid gee om
salig te word, maar nie die saligheid self nie. Die saligheid
self sou afhang van die manier waarop ’n mens van die
moontlikheid gebruik maak. Na die Skrif bely ons egter dat die
verkiesing en verlossing geen onsekere saak is nie, maar ’n
volkome sekere saak.

Wanneer God aan iets begin dan voltooi het dit, selfs deur
alle teëwerking heen. Hy verkies nie tot die moontlikheid om
salig te word nie, maar tot die saligheid self. Wie Hy uitverkies,
word salig. Daaraan is geen twyfel nie. God self sorg daarvoor.
God verkies sondaars tot die saligheid. Soos ons dit lees in Rom
8:29,30: "Want die wat Hy vantevore geken het, die het Hy
ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld
van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie
broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, die het Hy ook
geroep; en die wat Hy geroep het, die het Hy ook geregverdig; en
die wat Hy geregverdig het, die het Hy ook verheerlik." God
doen alles, van die begin tot die einde. Daarom sal elke
uitverkorene salig word. God doen geen halfwerk nie. Hy is die
Eerste en die Laaste. Hy voltooi sy werke.

Gemeente, in par 8 van die DL bely ons die uitverkiesing nie
veelvoudig is nie maar een en dieselfde vir almal wat salig word.
Volgens die een wil van God het Hy ons van ewigheid af uitverkies
tot die genade sowel as tot die heerlikheid, tot die saligheid
sowel as tot die weg van die saligheid. Ons vaders het die een
besluit benadruk omdat die Remonstrante in ’n veelvoudige
verkiesing geglo het. Ons lees daarvan in vvdd 1.2. bls 563.

Ook as dit gaan oor die besondere en bepaalde verkiesing van
persone, is daar nog nie enige sekerheid vir die gelowige nie.
Die verkiesing kan mos volkome of onvolkome wees. Die verkiesing
kan onherroeplik of herroeplik wees, beslissend of nie-beslissend,
volstrek of voorwaardelik. En dan is ons nog nie daar nie. Want
’n mens kan dalk tot die geloof uitverkies wees maar nie tot
die saligheid nie.

Sulke onderskeidings sou ’n mens wanhopig maak. Wat moet
die eenvoudige gelowige daarmee maak? Wat geld vir hom? Jy kan
nooit seker weet nie. Dalk glo jy, maar dit kan nog verkeerd gaan.
Op ’n mens en sy ervarings en keuses kan jy mos nie bou nie.
Die mens is altyd ’n onsekere faktor. Nee, die verwarrende
onderskeidings van die Remonstrante ontneem ’n mens alle
troos. Jy word op jouself teruggewerp. Daarom verwerp ons
hartgrondig die onskriftuurlike leer en bely ons met die DL vvdd
1.2: "Dit is ’n versinsel van die menslike verstand wat
buite die Skrif om uitgedink is. Dit vernietig die leer van die
uitverkiesing en verbreek hierdie goue ketting van ons saligheid:
Die wat Hy vantevore verordineer het, die het Hy ook geroep; en
die wat Hy geroep het, die het Hy ook geregverdig; en die wat Hy
geregverdig het, die het Hy ook verheerlik (Rom 8:30).

In daardie teks teken Paulus die lewensgang van God se kinders.
Paulus wil die vastheid van die heil laat sien: dit begin in die
ewigheid by God. Daar lê die ketting onwrikbaar vas. In Rom 8
sien ons ’n felle kontras. Aan die een kant is daar die
swakheid en aanvegting in die lewe van die gelowige. Paulus praat
van die lyding van die teenwoordige tyd. Die skepping is aan die
nietigheid onderworpe. Die hele skepping sug. Ook ons gelowiges
sug vanweë die sonde en gebrokenheid. Daarteenoor stel Paulus
nou wat God vir die gelowiges as belofte skenk.

Die menslike oog sien slegs lyding, siekte, dood, ondergang en
vloek. Die geloof sien egter daarbo uit. Kom kyk na die
lewensboek van die kinders van God. Hoofstuk een lui: "die
wat Hy vantevore verordineer het, die het Hy ook geroep."
Let op die woorde vantevore. Dws: voor die skepping van die wêreld.
In God se ewige raad. Voordat ek in die skoot van my moeder
ontvang is, het God my reeds geken. Soos ons daarvan lees in vers
29: "want die wat Hy vantevore geken het, die het Hy ook
verordineer." Soos ’n man sy vrou in liefde ken, so het
God ons voor die skepping geken. So het Hy ons tot ’n
voorwerp van sy liefde gemaak. God het ons liefgehad met ’n
ewige liefde. In sy liefde het Hy ons bestem, verordineer tot
’n heerlike doel: om gelykvormig te wees aan die beeld van
sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders.
Soos Christus die heerlikheid van die Vader vertoon, so sal ook
die gelowiges eenmaal God se heerlikheid uitstraal. Ons bestaan
sal dan deurtrek wees van die heerlikheid van God. Want Christus
mag nie alleen bly in sy heerlikheid in die huis van sy Vader nie.
Vader wil ons daar ook hê as sy kinders en erfgename, saam met
Christus. God verbind ons van ewigheid dus duidelik aan Christus.
Ons hoort by Hom en Hy hoort by ons. So is dit van ewigheid by
God. Wat ’n vas en onwrikbare fondament van ewige liefde lê
onder my lewe.

Die wat Hy vantevore verordineer het, die het Hy ook geroep.
Die ewige uitverkiesing word hier op aarde gevolg deur die
magtige dade van God. Die een verlossingsdaad volg op die ander.
Dit is een skitterende ontvouing van God se verkiesende liefde.
Vanuit die liefde roep God sy kinders. Hy laat hulle die
evangelie van Christus hoor en bring hulle tot geloof. Vanuit die
liefde regverdig die Here sy kinders ook. Hoe vreeslik my sonde
ook al is, Hy spreek my vry en maak dit reg tussen Hom en my.
Vanuit die liefde volg ten slotte ook die laaste van God se
verlossingsdade: ons verheerliking.

Dis opvallend dat die apostel skryf: die het Hy ook
verheerlik. Paulus skryf nie: die sal Hy ook verheerlik
nie. Die apostel maak asof die verheerliking reeds ’n feit
is. Hy doen dit om ons op die hart te bind dat ons ook van die
verheerliking seker mag wees. God voltooi die werke van sy hande.
Sy verkiesing loop uit op die verheerliking. God is mos getrou,
sy planne faal nooit nie. Wat Hy van ewigheid voorgeneem het om
te doen, dit gebeur. Dit gaan na die heerlike eindbestemming: die
gelykvormigheid aan die beeld van sy Seun.

In Christus besit ek reeds in beginsel die saligheid. Hy het
die hemel binnegegaan en ek in Hom. Ons menslike natuur is nou in
die hemel as ’n betroubare waarborg dat Hy as die Hoof ook
ons, sy lede na Hom toe sal neem, as ’n betroubare waarborg
van ons heerlikheid.

Vandag is daar nog die lyding, die pyn, die moeite. Miskien is
jy siek, ly jy aan ’n bepaalde kwaal. Daar is nog soveel
onbegrepe verdriet. Die skepsel sug.

Maar daar is uitsig. Daar is hoop. Want ons lewe lê vas aan
die ketting van God se verlossingsdade. Dit gaan na ons
verheerliking, wanneer ons heerlikheid as kinders van God vir
almal sigbaar sal word. Die doel van ons lewe sal bereik word.
Die wat Hy regverdig het, die het Hy ook verheerlik. Nou reeds in
Jesus Christus en straks in die nuwe hemel en aarde. Daar sal
niemand sê: ek is siek. Daar sal geen verdriet of trane wees nie.
Alle lyding en gebrokenheid sal vergoed verby wees. Ons liggame
sal dan funksioneer soos nooit tevore nie, sonder gebrek,
volmaakte instrumente in diens van God.

Wanneer jy die goue ketting van die verlossing opmerk, dan kan
jy getroos verder gaan. Want God gaan voort van skakel na skakel.
Hy sal sy werk deur niks laat keer nie. Hy sal die werk wat Hy
aan my begin het, voltooi. Hy is die alfa en die omega, die begin
en die einde. En Hy het my reeds voor die skepping in Christus
uitgekies, tot die saligheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)