Die loflied op God se verkiesing.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-08-19
Teks: 
Dordtse Leerreëls 1
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1 Art 6

Ds C Kleyn - Sondag 19 Augustus 2001

Lees: Efésiërs 1:1-14; Dordtse Leerreëls
Hoofstuk 1 Art 6.
Sing: Ps 30:1-3; SB 22:1,5;11; Ps 135:1,2; Ps 65:1-3;
Ps 66:7,9.

Tema: Die loflied op God se verkiesing.

  1. die verkiesing het voor die skepping plaasgevind;
  2. volgens die raad van God se wil; en
  3. tot troos vir die gelowiges.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wanneer die apostel sy brief aan die Efesiërs skryf en die
gemeente voor hom sien, dan is hy vol verwondering. Hy roep
onmiddellik uit: "Geseënd is die God en Vader van onse Here
Jesus Christus." As jy die weldadige krag van God sien, dan
kan die lofprysing nie uitbly nie: aan God kom al die lof toe. So
word die eerste gedeelte van die brief aan die Efesiërs een
groot lofsang. ’n Jubellied op die heerlikheid van God se
verlossingswerk in Jesus Christus. Tot drie maal toe klink daarin
die refrein: tot lof van sy heerlikheid.

Die God van ons verlossing staan hier voor oë. Veral in die
hoedanigheid word Hy nou geprys. Daarom die nadere aanduiding:
die Vader van onse Here Jesus Christus. So kom God na ons toe. So
staan Hy bekend as die God van ons verlossing. Dit het nou die
aandag.

As die God van ons verlossing het Hy ons geseën met alle
geestelike seëninge in die hemele in Christus. Die gelowiges van
die nuwe bedeling, u en ek, kan daaroor meepraat. In Christus
– in gemeenskap met Hom deur die geloof – het ons deel
aan die hemelse skatte en gawes. Ons ontvang ’n volheid en
verskeidenheid van geestelike seëninge.

Maar hoekom is ons nou so ryk bevoorreg? Waaraan het ons dit
te danke? Aan ons verkiesing, sê Paulus. As God sy seën skenk,
werk Hy nie na willekeur nie, maar na ’n vaste reël. Hy
handel in ooreenstemming met sy soewereine en genadige verkiesing.
Die apostel steek hier af na die diepte. Hy wys op die laaste en
diepste grond waarop jou lewe as gelowige ewig rus. Wat ek as
gelowige hier en nou as seën ontvang, vind sy grond in God se
verkiesing van ewigheid. Die verkiesing is as ’n
onaantasbare fontein waaruit die lewe onder God se seën
ontspring.

So hoor ons in Ef 1 ’n loflied op God se verkiesing.
Wanneer die Nuwe Testament oor die uitverkiesing praat dan is die
dikwels met lofsange verbind. Wie die diepte van God se
barmhartigheid sien, moet wel uitroep soos Paulus dit in Rom 11
gedoen het: "O, diepte van rykdom en wysheid en kennis van
God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!
Want wie het die gedagtes van die Here geken, of wie was sy
raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom
vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle
dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen (Rom 11:33-36).

Ek wil dan vir u verkondig: die loflied op God se verkiesing

  1. die verkiesing het voor die skepping plaasgevind
  2. volgens die raad van God se wil
  3. tot troos vir die gelowiges

Paulus skryf tot die gelowiges te Efese: Hy – die Vader
van ons Here Jesus Christus - het ons in Hom uitverkies voor die
grondlegging van die wêreld. God het ons uitverkies. Ons huidige
posisie en voorregte is ’n gevolg van God se uitverkiesing.
Sy keuse het ’n skeiding tussen die mense gebring. Nie alle
mense is mos uitverkies nie. Anders sou die woord uitverkiesing
nie sin maak nie. Wie almal kies, kies nie uit nie. God kies uit
die hele sondige menslike geslag ’n bepaalde aantal mense
uit. Uitverkiesing wil sê dat Hy slegs ’n deel van die
geheel uitkies. Dit beteken dat God die ander deel verbygaan. Dit
is wat ons noem die goddelike verwerping. In sy genade kies God
’n deel van die mensheid uit om hulle te red. Na sy
regverdige oordeel laat Hy die res in die verdorwe staat waarin
alle mense hulleself uitgelewer het. So lees ons in ons DL par 6:
"Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe,
barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense,
wat almal ewe verlore is. Dit is die besluit van die
uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar
is."

Hoe heerlik is dit om te mag roem in God se verkiesing. Terwyl
ons almal in Adam gesondig het en God se vloek en die ewige dood
verdien het, haal God bepaalde mense, ja ook my, uit die ellende
uit en bevry Hy my van sonde en ondergang.

Van die verkiesing lees ons dat dit voor die grondlegging van
die wêreld plaasgevind het. Dws voor die skepping van die wêreld,
voor die begin van alle tyd, dus van ewigheid. Met ander woorde:
geen skepsel kan by God hom beroep op sy eie verdienste nie. God
kom ook nie agter die feite aan om na die debakel van die
sondeval ’n oplossing te soek nie. God is alles voor. Ons
was daar eenvoudig nog nie.

Gemeente, dis veral teen die uitverkiesing van ewigheid dat
baie mense protesteer. Mense vra dan: as die uitverkiesing reeds
plaasgevind het voor ons bestaan, ja voor die bestaan van die wêreld,
is dit dan nie gelyk aan ’n noodlot, is dit dan nie so dat
jou lewe deur ’n onafwendbare mag bepaal word nie? Die ewige
lot van mense is mos van ewigheid af bepaal? Mense het hiermee
die spot gedryf. Hulle het God geteken as ’n tiran of sadis
wat na willekeur mense vantevore, selfs voor hul geboorte, na die
hemel of hel verwys.

Die verleiding is groot om uit reaksie teen hierdie protes die
leer van die verkiesing en verwerping meer aanneemlik te probeer
maak deur te stel dat dit slegs in die tyd plaasvind. Die
uitverkiesing, en daarmee ook die verwerping, sou dan nie van
voor die skepping dateer nie, maar dit sou slegs ’n daad van
God in die tyd wees. Mense beroep hulle dan op tekste wat
inderdaad wys op God se verkiesende dade in die hede. Daarmee lyk
dit asof hulle God kan beskerm teen die beskuldiging van tirannie,
asof God na blinde willekeur mense uitverkies of verwerp. As die
verkiesing slegs in die tyd plaasvind, dan kan ’n mens mos
wys op die sondes wat die verworpenes metterdaad verrig het. As
iemand God dan van onreg wil beskuldig dan sou jy kan sê: God
verwerp ’n mens eers nadat die persoon God self verwerp het.
Dit sou dus afhang van die konkrete dade van mense in die tyd.

Maar, gemeente, ons moet oppas dat ons God nie gaan verdedig
op ’n manier wat in stryd met God se eie Woord is nie.
Daarmee sou ons God slegs beledig. God het ons verdediging nie
nodig nie. Hy kan wel vir Homself praat. Ons moet dan ook Hom aan
die woord laat en nie bepaalde woorde verswyg of verdraai om dit
meer aanneemlik te maak nie. In Ef 1:4 staan duidelik dat God ons
voor die skepping uitverkies het. In die verse 5 en 11 bevestig
Paulus dit deur daarop te wys dat God ons voorbeskik het om as sy
kinders aangeneem te word en dat ons vantevore verordineer is om
’n erfdeel te ontvang. Voorbeskik en vantevore verordineer.
Laat ons die dinge noem soos God dit noem. Voordat ons iets kon
dink of doen, ja selfs voor die skepping, het God ons uitverkies.
Ons kan ook dink aan Rom 9:16 ev "So hang dit dan nie af van
die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat
barmhartig is…. So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy
verhard wie Hy wil…" Dit is dus God se soewereine wil
wat alles bepaal.

So kom ons by die tweede gedagte van die preek: die verkiesing
het voor die skepping plaasgevind na die raad van God se wil.

Wie die ewige verkiesing verwerp tas God se soewereiniteit aan.
God is soewerein, geheel vry in wat Hy doen, nie afhanklik van
mense of ander magte nie. Die Bybel benadruk God se
soewereiniteit. In die reeks preke oor Josef het ons dit duidelik
gesien. Josef bely God se soewereiniteit teenoor sy broers
wanneer hy sê: "Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar
geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het
nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur."
(Gen 45:5). Josef weet dat sy broers hom in die put gewerp het en
hom aan die Midianiete verkoop het. Maar Josef sê dat dit God
was wat dit so laat gebeur het. In sy soewereiniteit bestuur God
alle dinge, selfs die handel op die slawemark.

Insgelyks sê God deur die profeet Jesaja aangaande Assur, die
wêreldmag van daardie dae: "Wee Assur! Die roede van my
toorn en ’n stok is hy – in hulle hand is my
grimmigheid! Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie, en Ek
sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te
maak en roof in te samel en om hulle tot ’n vertrapping te
maak soos modder van die strate. Maar hy bedoel dit nie so nie,
en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en
om nasies uit te roei, nie min nie." (Jesaja 10:5-7). Assur
was slegs ’n instrument in God se hande om te doen wat Hy
vir hulle bepaal het om te doen. Hoewel God se soewereiniteit nie
in die media van daardie dae genoem is nie, soos dit ook vandag
die geval is mbt die wêreldpolitiek, is alle leiers en nasies
van hierdie wêreld volgens die Skrif instrumente in die hande
van ’n soewereine God.

In Hand 2:23 sê Petrus mbt Jesus Christus dat Hy deur die
bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, terwyl die
Jode hom deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig
en omgebring is. God het bepaal dat die Jode Jesus sou kruisig.
Die Jode was instrumente in God se hande.

Indien God dan bepaal het wat op die slawemark, in die wêreld
politiek en rondom die kruis van Jesus gebeur, sou Hy dan nie
bepaal wie gered word nie? Die feit dat God soewerein is, beteken
dat dit God is wat bepaal wie gered sal word. As ek volhou dat my
redding van my afhang, dan ondermyn ek God se soewereiniteit.

Dat God soewerein bepaal het wie gered word, word duidelik
geleer in Ef 1. Alles gebeur na die raad van God se wil. In vers
4 lees ons dat God ons voorbeskik het om ons as sy kinders aan te
neem na die welbehae van sy wil. Die verkiesing en
voorbeskikking het gebeur omdat God dit so wou. Uit sy vrye,
soewereine wil. Dit word nie bepaal deur iets buiten hom nie. Die
oorsaak van die verkiesing lê dan ook nie buite God by die mens
nie. God het redes uit Homself geneem. Sy welbehae het Hom gedryf.

In Ef 1:11 lees ons dat God alles werk volgens die raad van sy
wil. God het ’n plan uitgedink, sy raad. Hy wil dit ten
uitvoer bring. Agter dit wat God doen, lê dus ’n goddelike
wilsbeslissing. God het sy raad oor alle dinge vasgestel. God
tree nie willekeurig op nie. Hy doen alle dinge volgens ’n
uitgewerkte patroon. God het, so te sê, eers by homself te rade
gegaan.

God werk alles volgens die raad van sy wil. Ja, alles. Niks
uitgesonderd nie. Ook nie die wel of nie gee van geloof nie.
Alles wat God in die tyd doen is gepredestineer, is tevore bepaal,
besluit.

As God alles na sy ewige raadsplan werk, sou dan die ewige wel
en wee van mense daarbuite val? Indien dit so sou wees, dan sou
God op hierdie punt nie meer God wees nie. Hy sou dan afhanklik
van die mens wees, van sy wil om wel of nie te glo nie. Die Skrif
spreek gelukkig ander taal. Niks word deur die Here aan die
willekeur van sondaars oorgelaat nie. God kom nie agter die feite
aan nie. Hy loop nie agter die keuses en dade van mense aan nie.
Hy is hulle ewig voor. Van ewigheid het Hy alles in sy hand. God
is die ewige Skepper wat planmatig te werk gaan, soos ’n
volmaakte argitek en Bouer. Hy laat niks aan gebeurlikhede oor
nie. Daarom lees ons in DL 1.6 van God se ewige besluit waaruit
volg dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof
skenk en aan ander dit nie skenk nie. Daarom lees ons ook in par
7 dat hierdie verkiesing ’n onveranderlike voorneme van God
is van voor die skepping. God is onveranderlik in sy planne. Hy
weet wat Hy wil. Sy kennis en sy wil is ewig, almagtig en volkome
wys. Hy weet wat Hy wil. Hy kan wat Hy wil. En Hy doen wat Hy wil.

Maar sal iemand sê: wat dan van ons eie verantwoordelikheid?
As alles van te vore deur God besluit is, is daar dan nog wel
’n plek vir ons eie wil en verantwoordelikheid? Die Skrif
handhaaf albei: God se ewige besluit en ons verantwoordelikheid.
Ons wil so graag die twee met mekaar rym. Ons wil dit vir ons
verstand graag aanneemlik maak. Hier moet ons egter oppas. Ons
verstand is verduister deur die sonde. Ons moet ons grense
eerbiedig. Soos ons dit bely met art 13 van die NGB: "Ons
wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek
instel na die dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike
verstand doen nie."

Een van die foute wat ons maklik begaan, is om Gods se raad
’n plek te gee langs aan of naas ons verantwoordelikheid.
Ons stel hulle dan op een lyn, asof hulle op dieselfde vlak lê.
Ons sien hulle dan teveel as twee gelykwaardige groothede wat
mekaar noodwendig uitsluit. Dit word dan of – of, óf God se
raad óf ons verantwoordelikheid. God se wil óf ons wil. Daarin
skuil die fout. Ons kan God en mens nie langs mekaar plaas nie.
God is God en die mens is skepsel. God die groot Koning, ons is
sy onderdane. God is so groot en magtig dat sy almag en raad ons
verantwoordelikheid nie ophef nie, maar ten volle handhaaf.
Daarvoor is Hy God en is ons sy skepsels. Daarvoor is sy wil
’n goddelike wil en ons wil ’n menslike wil.

Maar is ’n ewige besluit van verkiesing en verwerping wel
regverdig? Is dit nie onregverdig dat God na sy vrye welbehae
sommiges uitverkies en ander verbygaan nie? Ons moet ons plek ken.
Luister maar na Paulus in Rom 9:20 sê: "Maar tog, o mens,
wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die
maker sê: Waarom het jy my so gemaak nie?" Sou daar onreg
by God wees? Wie hier van onreg durf praat het ook vergeet dat
alle mense, sonder uitsondering, in Adam gesondig het en hulle
aan die vloek van die ewige dood skuldig gemaak het. Daarom sou
God niemand veronreg het as dit sy wil was om die hele menslike
geslag in die sonde en vervloeking te laat bly nie.

Volgens die ewige besluit van God sien ons egter dat God
genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik maak en
hulle buig tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie,
laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en
volharding bly. God is besig om sy ewige besluit uit te werk. Dat
sommiges tot geloof kom en ander nie is ’n bewys dat God aan
die werk is.

Die wete dat God besig is maak die predestinasie of
voorbeskikking ’n opwindende saak. Daarom sê ons belydenis
ook dat hierdie leer aan die heiliges en godvresendes ’n
onuitspreeklike troos gee. God is besig. Lank gelede het Hy
bepaal wie Hy sou red en hier en nou is Hy besig om sy ewige plan
uit te voer. Meer nog, so is God besig om my heil te bewerk. Dit
gee inderdaad ’n onuitspreeklike troos.

Waarom is daar dikwels moeite mbt die leer van die
uitverkiesing? Omdat hierdie leer sy skatte slegs ontsluit vir
verwonderde oë. Oë van hulle wat glo. Jy wat glo, kan sien en
sien ook God se pragtige werk in die gemeente maar ook in jou eie
lewe. Jy sien daaragter God se ewige verkiesing.

Met prof Trimp kan ons sê: Kyk in geloof na die kerk waarvan
jy lid is. Merk op hoe jy daar geloof in Christus en die vrees
van God ontvang het. Let op die dag van jou belydenis en van jou
doop. Sien daaragter God se verbond en die planting van sy kerk
in die verlede. Kyk steeds verder terug na die Pinksterfees en
Christus se kruis, totdat jy langs die een regte lyn van God se
gunsbewyse uiteindelik die God en Vader van jou Heiland mag sien,
die God van ewige verkiesing. En as jy dit mag weet: die laaste
grond van my kerklidmaatskap, die hele dryfveer van my lewe lê
in God, in hierdie God, wat ek in Christus ken, dan het jy die
laaste, onwankelbare grond ontdek waarop jou lewe ewig sal staan.

Die belydenis van die verkiesing bring die gelowiges dus nie
tot twyfel en wanhoop nie. Dit lei die gelowiges ook nie in die
duister van die verborge, onbekende dinge nie. Nee, jy ontdek
hier ewige sekerhede. Jy ontvang hier bekende sekerhede. Die
verborgenheid van die HERE is inderdaad vir die wat Hom vrees (Ps
25:14).

Verwondering laat ’n mens die loflied op God se ewige
verkiesing sing.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)