Die oorsaak van geloof en ongeloof.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-08-12
Teks: 
Dordtse Leerreëls 1
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1 Art 5

Ds C Kleyn - Sondag 12 Augustus 2001

Lees: Romeine 10:9-21; Efésiërs 2:1-10;
Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1 Art 5.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 106:1,2;
Ps 106:20; Ps 111:4,5; Ps 32:5,6; Ps 31:17,19.

Tema: Die oorsaak van geloof en ongeloof.

  1. die oorsaak van ongeloof lê by die mens; en
  2. die geloof is ’n gawe van God.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons mog vandag die HN vier. Ons het die dood van Christus
verkondig as ons lewe. Ons het ons geloof bely. ’n Mens kan
sê dat die aangaan aan die tafel reeds ’n geloofsbelydenis
is. Jy gee daarmee te kenne dat jy jou saligheid buite jouself
soek in Christus Jesus. ’n Ryke en vreugdevolle
aangeleentheid. Dis nie verniet dat ons in die formulier opgeroep
word om bly te wees, ons vreugde te wys en aan God die eer te gee
nie. Ons geniet mos aan die tafel ’n voorsmaak van die
oorvloedige vreugde wat God ons belowe het. Deur geloof mag ons
geniet van die weldade van Christus, waaronder die vergewing van
sonde en die ewige lewe. Ons is van die toorn van God en van die
verderf verlos. Ons mag geniet van die vrede met God. Ons mag met
die lewende God omgang hê nou en tot in ewigheid. Wie sou dan
nie bly wees nie?

Daar is egter ook die verdriet oor hulle wat nie met ons die
nagmaal kon saamvier nie, omdat hulle nie glo nie. Dis ’n
seer pynlike saak. Dit kan geliefdes van ons wees, ons bure, ons
kollegas, ons skoolmaats. Hulle glo die evangelie nie. En soos
ons die vorige Sondag gesien het: die toorn van God bly op hulle
wat hierdie evangelie nie glo nie. ’n Ernstige saak en
daarom ook so pynlik. Ons kan dit nie aansien dat die toorn van
God op hulle bly rus nie. Ons wil so graag sien dat hulle ook van
die toorn verlos word. Dat hulle glo.

Maar gemeente, hoekom is dit so dat die een persoon glo en die
ander nie glo nie? Wat is die oorsaak van geloof en ongeloof? Dis
die vraag wat ons in hierdie preek nav DL 1.5 hoop aan te spreek.
Ek verkondig vir u: die oorsaak van geloof en ongeloof.

  1. die oorsaak van ongeloof lê by die mens
  2. die geloof is ’n gawe van God.

Voorop word gestel dat die oorsaak of skuld van die ongeloof
nie by God lê nie. Dit geld ook vir die ander sondes. God is nie
die outeur of bewerker van die sonde nie. Hy is tog die heilige
en regverdige God wat alles volmaak geskep het? Ongeloof beteken
dat jy God nie op sy woord glo nie. Dit beteken dat jy Hom minag
en verwerp. Uit louter goedheid laat God sy blye boodskap van
redding in Christus verkondig. Hy openbaar daarin sy groot liefde.
Daarom is dit so vreeslik om dit in ongeloof te verag.

Daar is mense wat sê: Ek wil wel glo, maak ek kan nie. Die
geloof wil maar nie kom nie. Kan dit so gebeur? Is dit reg? Is
dit waar dat iemand wel wil maar nie kan glo nie? Hoewel hy die
evangelie wel hoor? Nee. Niemand kan hom verskuil agter sy onmag
nie. Ongeloof is onwil. As ek die woord nie aanneem dan wil ek
nie glo nie. By die prediking word die vyandskap openbaar.
Miskien wil ek wel salig word, maar dan op my eie manier. Ek wil
nie van genade lewe, ek wil nie deur Jesus gered word nie. Van
nature staan dit my teen, verset ek my. Die oorsaak van die
ongeloof lê dus by die mens.

Bowendien, besef u wel, gemeente, wat dit impliseer as ek sê
dat ek wel wil glo maar nie kan glo nie? Daarmee gee ek in feite
God die skuld vir my ongeloof. Hy sou die oorsaak van die
ongeloof wees. Hy wil maar geen geloof gee nie.

Die Bybel wys duidelik die onwil van die mens aan as die
oorsaak van ongeloof. Die geskiedenis van die Ou Testamentiese
volk van God is vir ons ’n waarskuwende voorbeeld. Ons lees
in Jes 30:9 dat die Here van die ongelowige Israeliete sê:
"Dit is ’n wederstrewige volk, leuenagtige kinders,
kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie." Ongeloof
is niks anders as onwilligheid om te luister nie. Jesaja sê
verder in vers 15: "In terugkeer en rus lê julle heil, in
stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie."
Opnuut is sprake van onwilligheid.

In die Nuwe Testament kla Jesus heel bewoë oor Jerusalem se
onwil: "Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en
die wat na jou gestuur is, stenig, hoe dikwels wou Ek jou kinders
bymekaar maak, soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke, en
julle wou nie." Lk 13:34. Christus het dus alles daarvoor
gedoen om hulle te beskerm en te versorg. Hy het vir hulle sy
profete gestuur met die boodskap van redding. Maar wat het hulle
gedoen? Hulle het die profete gedood. Uiteindelik wou hulle nie
deur Christus gered word nie. Opnuut word ongeloof beskryf as
onwilligheid. Ongeloof kan nie aan God toegeskryf word nie, of
aan die evangelie nie asof dit so onduidelik sou wees. Ook nie
aan die politieke situasie of aan huislike omstandighede nie. Nee
die mens bly self verantwoordelik.

Ons sien dit duidelik in Rom 10, die gedeelte wat ons gelees
het. Onthou dit gaan hier oor God se volk wat al die voorregte
van die verbond ontvang het. So is dit ook ’n skerp
waarskuwende woord vir ons as kerk van Christus. Immers, wie deur
die Here baie ontvang het, kan ook deur ongeloof en
ongehoorsaamheid baie verloor. Dit het geblyk uit die geskiedenis
van die volk Israel. Hulle was nie almal aan die evangelie
gehoorsaam nie. Hulle het nie almal geglo nie. Die Ou
Testamentiese profeet Jesaja het dit reeds verwoord met die
woorde: Here wie het ons prediking geglo?

Maar hoe kan dit nou? Hoekom het die merendeel nie geglo nie?
Het hulle die evangelie dan nie goed gehoor nie? Ja, seker sê
Paulus. Oor die hele aarde het die stem van God se boodskappers
uitgegaan. Die Jode is oor die hele wêreld verstrooi, maar die
blye boodskap is ook tot die eindes van die wêreld gehoor. Dit
geld veral vir die Jode, want hulle het God se boodskap van die
Ou Testament saamgeneem. En daaruit kon hulle die evangelie hoor
en ken. Die Ou Testament getuig mos van die Christus? Hulle kon
verneem dat die woord van die Ou Verbond in Jesus Christus vervul
is. Op die Pinksterdag is dit in allerlei landstale verkondig.
Hulle het dit dus gehoor.

Maar nou die volgende vraag: Het Israel dit miskien nie
verstaan nie? Om iets te hoor is nie dieselfde as om iets te
verstaan nie. So kan daar ook vandag mense wees wat sê: Ek hoor
dit wel maar ek verstaan niks daarvan nie. Gestel dat die
boodskap inderdaad te moeilik sou wees om te begryp. Dan het die
hoorders ’n verskoning. Dan lê dit nie aan hulle nie, maar
aan die boodskap self wat te ingewikkeld en onbegryplik is.
’n Soort geheimtaal, vir ingewydes of intellektuele. Dan lê
die skuld by God wat die boodskap so moeilik verstaanbaar maak en
nie by die mens wat dit nie glo nie.

Paulus gee ’n merkwaardige antwoord. Hy haal eers ’n
uitspraak van Moses aan: "Ek sal julle jaloers maak op die
wat geen volk is nie, en Ek sal julle toorn opwek teen ’n
onverstandige volk."

Israel het sy ontstaan te danke aan die verkiesende liefde van
God. Maar wat gebeur nou? Israel gaan die saak omkeer. Hulle glo
dat hulle die volk van God is omdat hulle die Here dien en omdat
hulle so hul bes doen om God se wet te volbring. Daarmee dink
hulle verdien hulle God se liefde en heil. God is wel verplig om
goed vir hulle te wees. Hulle beywer hulle mos vir die Here. Dit
doen die ander volke, die heidene nie. Geen wonder dat die Here
die heidene links laat lê nie. Die Jode is die enigste volk op
aarde wat God dien.

Ondertussen maak hulle presies soos die heidene. Die heidene
glo mos ook: jy moet ywerig jou bes doen en probeer om goed te
lewe, dan moet die godheid jou wel gunstig gesind wees. Maar as
Israel die heidense styl by die diens van die Here vertoon, dan
dien hulle in feite nie meer die enige ware God nie, maar ’n
afgod. Dit aanvaar die Here nie. Daarom wend die Here Hom tot die
wat geen volk is nie. Dws tot ’n volk wat nie soos Israel
verbondsvolk is nie. Die Here wend hom tot ’n onverstandige
volk dws ’n volk wat geen verstand van die diens van die
Here het nie. Hulle het nooit ’n Moses gehad nie. Hulle moet
alles nog leer.

En kyk so ’n onverstandige volk, blinde heidene, gaan die
Here dien. Hulle hoor die evangelie van Christus en begryp dit.
Hul leer verstaan dat God nie van hulle afhanklik is nie, maar
dat hulle van God afhanklik is. Hulle besef dat hulle deur hulle
vrome werke niks by God kan verdien nie, maar dat God hulle uit
genade die verdienste van Jesus Christus toereken. Maar dit sal
Israel jaloers en toornig maak, sê Moses en Paulus. Wat dink die
heidene wel van hulself. Wat weet hulle van die woord en wet van
die Here? Hulle is dom heidene. Ondertussen blyk hieruit Israel
se ongelowigheid. Het hulle die evangelie miskien nie verstaan
nie? Indien selfs heidene, wat die verbond en die woorde van God
nie geken het nie, die boodskap van verlossing in Christus begryp,
dan moet Israel dit seker kan begryp. Maar hulle wil nie. Hulle
weier om Jesus Christus as hul Redder te aanvaar. Hulle wil
hulleself red.

Die skuld van Israel se verharding en ongeloof lê dus nie by
die Here nie. Dit lê by hulleself. En dit is belangrik, broeders
en susters, dat ons dit goed onthou want wat met God se Ou
Testamentiese volk gebeur het, kan ook met ons gebeur. Die
evangelie van verlossing in Christus alleen is duidelik genoeg.
’n Kind kan dit verstaan. Maar ek kan dit moeilik aanvaar.
Ek redeneer al gou: as ek maar netjies leef en geen gekke dinge
doen nie; as ek maar lief vir die naaste is en begaan is met die
lot van armes en ellendiges in die wêreld, dit is eers ware
godsdiens. Ons is dan sover as Israel was: Ons red onsself wel.
En ons verwag, as daar ’n hemel is, dan moet ons daar wel
’n plek hê, ons doen mos niemand enige kwaad nie.

Maar, gemeente, met al die mooie woorde kom ons in stryd met
’n evangelie van Christus. Ons wil nie van die genade in
Christus lewe nie. Die evangelie is vir ons onaanvaarbaar. Ons
ongeloof is dus onwil. ’n Weiering om ons aan Christus en sy
woord gewonne te gee.

Indien dit nog nie duidelik is, verwys Paulus ons vervolgens
op Jes 65: 1: "Ek het My laat vind deur die wat My nie
gesoek het nie; Ek het verskyn aan die wat na My nie gevra het
nie." God se volk het in hoogmoed gedink: ons het God gesoek,
ons het God gedien, daarom het Hy hom deur ons laat vind, daarom
het Hy aan ons verskyn. Opnuut eie geregtigheid. Maar die Here
laat weet dat dit juis omgekeerd is: ek het My laat vind deur die
wat My nie gesoek het nie; Ek het verskyn aan die wat na My nie
gevra het nie.

Dat Israel nie glo nie is louter onwilligheid. Daarom vervolg
Paulus: "maar van Israel sê Hy; Die hele dag het Ek my
hande uitgebrei na ’n ongehoorsame en teësprekende volk."

Is dit so dat Israel wel wou glo, maar nie kon nie? Let maar
op wat die Here gedoen het en nog steeds doen: sy hand uitsteek
na sy kinders om hulle te red en na Hom toe te trek. Hy laat vir
hulle sy evangelie verkondig. Hy stel Jesus Christus voor hulle
as ons enige en volkome Verlosser. Die Here word nie moeg om te sê
dat ons moet ophou om te dink dat ons deur eie inspanning gered
kan word. Dis onbegonne werk. Die Here word nie moeg om te
verkondig dat Hyself vir ons redding gesorg het deur sy eie Seun
te gee. Hy is ons geregtigheid voor God.

Dit was God se blye boodskap deur die eeue heen en is nog
steeds sy goeie nuus. Hy verlos. Hy steek sy hande uit om te red.
Maar God se hande het by Israel ’n ongehoorsame volk getref.
Hulle wou nie luister nie. Ja, hulle het God selfs teëgespreek.
Hulle het met ’n teen-evangelie gekom. God het sy hande
uitgestrek na ’n ongehoorsame en teësprekende volk. Laat
ons gewaarsku wees. Sluit nie jou ore vir die evangelie van
Christus nie. Dink maar nie dat jy dit beter as God weet nie.
Spreek Hom nie teen nie. Maar sien sy uitgestrekte hande. En gee
jouself aan die hande gewonne.

Nou nog iets oor die tweede punt: die oorsaak van geloof. Na
die preek van vanoggend oor Ef 2:8a kan ons kort wees.

Die oorsaak van die ongeloof lê by die mens self. Maar waar lê
dan die oorsaak van die geloof? Lê dit dan ook by die mens? Dis
wel hoe baie mense dit sien. Indien ons self verantwoordelik is
as ons nie glo nie, dan sou ons ook self verantwoordelik moet
wees as ons wel glo.

Wat sê die Skrif hieroor? Die DL verwys na Ef 2:8: "Uit
genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself
nie: dit is die gawe van God." Hier word die geloof ’n
gawe van God genoem. Geloof is dus nie ’n eie prestasie
waarop ons ons kan beroem nie. Wanneer ek glo, dan kan ek nie vir
God sê: ‘Here, ek het geglo, gee vir my nou my loon, die
ewige lewe’ nie. Die apostel sê nadruklik dat ons geloof
nie uit onsself is nie, dit is ’n gawe van God. Wie wil roem,
laat hom in die Here roem. Wat ek as gelowige doen, dit het God
my laat doen. Dit is van a tot z die werk van God self.

Hoe kan dit? Wel onthou wat ons vanoggend nav van Ef 2:8a gesê
het. Hoe was ons voor God se ingryping in ons lewe, voordat Hy
ons tot geloof gebring het? Dood deur ons sondes. Geestelik dood.
Mense wat nie die wil en nie die vermoëns het om uit die dood
uit na God toe te klim nie. Maar God, wat ryk is in
barmhartigheid het ons lewend gemaak saam met Christus – uit
genade is julle gered. Dis grondelose ontferming, dis genade ryk
en vry. God skenk redding en bevryding, skenk dit aan sondaars,
skenk dit ook aan my.

Wie durf na so ’n loflied op God se soewereine liefde en
genade nog roem in eie prestasies? Die geloof is slegs die hand
waarmee ek die hele oorweldigende pakket van my verlossing
aanneem. En selfs dit is ’n genade gawe van God. Soos Paulus
dit in Fil 1:29 verwoord: aan julle is genadiglik gegee om in
Christus te glo. Dis genadiglik gegee. God vra geloof en God gee
geloof. Deur sy woord en Gees werk Hy dit in ons harte. Gelukkig
maar, wat van nature wil ons nie glo nie. Van nature is ons
ongehoorsaam en teësprekend.

Daarom, broeders en susters, wanneer die Here die evangelie
vir julle laat verkondig, merk op die roep van sy ontferming. En
wanneer jy tot geloof kom, dank God vir die groot gawe. Hy vra
geloof. Hy gee geloof. Daarop mag jy vertrou. Die oorsaak van
ongeloof lê by myself. By my onwil. By my natuurlike weerstand.
Maar die oorsaak my geloof lê by God. "Uit genade is julle
gered, deur die geloof en dit nie uit julleself nie: dit is
’n gawe van God." Sou ons nie op ons knieë gaan en God
roem en prys nie.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)