Die tweërlei uitwerking van die prediking.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-08-05
Teks: 
Dordtse Leerreëls 1
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1 Art. 4

Ds C Kleyn - Sondag 5 Augustus 2001

Lees: Johannes 3:1-21,36; 1 Korinthiërs 1:17-31;
Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1 Art. 4.
Sing: SB 27; Ps 95:1,4; Ps 130:1-4 (1ste
beryming); Ps 85:3,4.

Tema: Die tweërlei uitwerking van die prediking.

  1. Hulle wat nie glo, bly onder die toorn van God; en
  2. Hulle wat wel glo, word van die toorn verlos.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wanneer die DL oor die goddelike verkiesing en verwerping gaan
praat, dan is dit opvallend dat dit nie by die uitverkiesing self
begin nie. Die DL begin baie konkreet by dit wat binne ons
menslike geskiedenis plaasgevind het en nog steeds plaasvind. Ons
gaan nie uit van die verborge dinge van die Here nie. Ons gaan
uit van die sigbare en tasbare dinge wat God vir ons bekend
gemaak het. So het ons reeds onder die eerste hoofstuk gesien dat
alle mense in Adam gesondig het. Hulle is almal voor God
doemwaardig (par 1). God wys egter sy liefde hierin dat Hy sy
eniggebore Seun tot redding gestuur het (par 2). God stuur
verkondigers van die verlossende evangelie na wie Hy wil en
wanneer Hy wil (par 3).

Nou kom ons by die vierde paragraaf. Die blye boodskap van
verlossing kom tot almal wat dit hoor. Met die bevel van geloof
en bekering. Hoe reageer mense op die evangelie? Daar is tweërlei
reaksie: geloof of ongeloof. Aanvaarding of verwerping van die
evangelie. So kom daar die skeiding tussen die mense. Die
skeiding tussen gelowiges en ongelowiges. Die bekende antitese.
’n Ernstige saak. ’n Pynlike saak. Ons wil liefs nie
daaroor nadink nie. Dit beteken mos skeiding en ons wil liefs van
vrede en eenheid praat. Tog is daar die teenstelling: geloof of
ongeloof. ’n Ernstige werklikheid wat ons nie kan en mag
wegdink nie. Wie dit probeer te doen besef nie die erns van die
saak nie. Want wat is die essensie van die teenstelling. En wat
is die gevolg daarvan?

Ek verkondig vir u: die tweërlei uitwerking van die prediking

  1. Hulle wat nie glo, bly onder die toorn van God
  2. Hulle wat wel glo, word van die toorn verlos.

Die manier waarop jy op die prediking van die evangelie
reageer is ’n hoogs ernstige saak. Geloof of ongeloof
beteken die verskil tussen lewe en dood, seën en vloek,
vryspraak en toorn. So hoor ons Joh die Doper sê: Hy wat in die
Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam
is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom
(Joh 3:36).

In Jesus Christus het ons met God se liefde vir die wêreld te
doen. Dink maar aan die bekende woorde. "Want so lief het
God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het."
Daarom is dit ook beslissend watter houding ’n mens teenoor
die Seun van God inneem. Om in Hom te glo is die enigste manier
om te geniet van die lewe wat nooit vergaan nie. Daarteenoor
staan dan die ongehoorsaamheid, die onwil om Hom as God se Seun
te aanvaar. Dis is ’n daad van verset teen God. Wie die Seun
ongehoorsaam is, op hom bly die toorn van God. God se toorn hang
bo die hoof van alle ongelowiges as ’n swaard van Damocles.

Vergelyk wat ons gelees het in Joh 3:18: "Hy wat in Hom (dws
die Seun) glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie,
is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die
eniggebore Seun van God nie." Let op die woorde: hy wat nie
glo nie, is alreeds veroordeel. Ongeloof beteken oordeel. Daarmee
veroordeel ek myself. Om in Jesus Christus te glo is alles, is
die ewige lewe. Daarom, as ek nie in Hom glo nie, dan het ek niks
nie. Dan is ek reeds veroordeel. Dan roep ek God se vonnis oor my.

Miskien dat ek nog wel godsdienstig wil wees, graag ’n
kerkmens wil wees, met oorgawe die christelike liedere oor Jesus
sing, maar as ek nie in Hom glo nie, dan is ek reeds veroordeel.
Sedert die geboorte van Jesus Christus moet ek die radikale woord
tot u, tot myself en tot die wêreld spreek. God het sy Seun
immers nie gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die
wêreld deur Hom gered kan word. Maar as hier dan iemand is wat
dit waag om soveel liefde af te wys en nie by Hom redding te wil
soek nie, dit sou vir hom of haar beter gewees het indien
Christus nooit gebore was nie. Want die gloed van Christus se
liefde is ’n gloed wat so ’n mens verteer.

Die toorn van God bly dus op hulle wat die evangelie van
Christus nie glo nie. Let daarop: dit bly op hulle. Dis nie iets
wat eers dan op hulle kom nie. Nee, reeds vanaf die sondeval in
paradys rus die toorn van God op die mense van ongehoorsaamheid.
So skryf Paulus ook in Ef 2 dat ons van nature kinders van die
toorn was, net soos die ander. Net soos hulle wat sonder God se
genade en sonder geloof in Christus lewe. So was ons van nature,
voordat ons tot geloof gekom het, kinders van die toorn, mense
wat onder die toorn van God lewe. By elke doopsbediening word ons
daaraan herinner dat ons met ons kinders in sondes ontvang en
gebore is en dat ons daarom aan die ewige oordeel onderworpe is.
Die toorn van God bly op hulle wat die evangelie van Jesus
Christus nie glo nie. Hulle kom daar nooit onderuit nie. Tensy
hulle hul asnog bekeer. Hulle gaan ewig daaraan te gronde. Soos
die duiwels en alle ongelowiges dit straks in die hel sal
ondervind. ’n Ewige ondergang.

Ja, die toorn van God is werklik verskriklik. Dit word
vergelyk met ’n verterende vuur, ’n brandende oond. Ons
kan die hewigheid van God se toorn met geen woorde beskryf nie.
Die profeet Nahum sê daarvan: "Wie sal standhou voor sy
grimmigheid? En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn?
Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend
geruk voor Hom" (Nahum 1:6).

Die Bybel praat meermale van die dag van God se toorn of
grimmigheid. By Christus se wederkoms sal God se toorn in sy
volle hewigheid openbaar word. Die Ou Testament praat reeds
daarvan. Paulus noem dit in Rom 2:5 "Maar ooreenkomstig jou
verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as
’n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die
regverdige oordeel van God." Veral die boek Openbaring praat
daar baie oor. Dan sal die ongelowiges hulle wegsteek in die
spelonke en in die rotse van die berge en vir die berge en rotse
sê: "Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat
op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot
dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?" (Openb 6:15-17).

Maar, gemeente, pas die toorn wel by God? Is dit nie in stryd
met sy liefde nie? Soek God nie juis die redding van mense nie?

Ons weet almal wel wat die toorn van ’n mens is. Ons kan
dit aan iemand sien wanneer hy hom vertoorn. ’n Mens ontlaai
dikwels sy toorn in heftige woorde of fisiese geweld. Ons lees
selfs van moorde uit padwoede. ’n Mens raak geprikkeld en
verloor beheer oor sy gevoelens. Wanneer die Bybel oor God se
toorn praat dan is daar geen enkele gedagte aan sondige en
onheilige toorn nie. Toorn is by God nie ’n gevoel wat Hom
oorrompel en meesleur nie, sodat Hy Homself nie meer kan beheers
nie. By God is daar geen willekeur of opvlieëndheid nie. God
word nie omgekrap nie. God is soos Augustinus dit gesê het
"toornig sonder ooit versteurd te wees". In sy toorn is
God heilig en regverdig. Die Here handel op grond van sy reg wat
gekrenk is. Sonde is nie slegs die oortreding van God se wet nie,
maar ook ’n verwerping van Godself, van sy soewereiniteit en
liefde.

God se toorn is sy reaksie op die verwerping van Hom deur
mense, op die weiering van mense om Hom te erken. Dit het reeds
in die paradys begin en dit het sy klimaks bereik in die
verwerping van sy Seun Jesus Christus. Almal is van nature
kinders van ongehoorsaamheid en so ook kinders van die toorn. God
neem sonde ernstig op.

God laat sy liefde nie vertrap word nie. Ja, God se skerp
reaksie teen sonde kan slegs vanuit die perspektief van sy liefde
verstaan word. Dit mag lyk asof God se toorn teenoor sy liefde
staan. Maar feitelik is sy toorn ’n uitdrukking van ware
liefde. In volkome liefde wou Hy Homself aan die mensheid gee,
maar mense het sy liefde bespot. God se toorn dwing ons om te
besef hoe ernstig en diep God se gekrenkte liefde is. God laat
nie met Hom speel nie. Hy is nie ’n speelmaat met wie ’n
mens kan maak wat hy wil nie. Hy is God. Hy kan Homself nie verloën
nie. Hy bly God ook in sy regverdige toorn.

Daar is egter ook die goeie nuus. Gestel dat God die
ongehoorsaamheid van die mens sou negeer. Dan sou ons te doen het
met ’n ewige kompromie tussen goed en kwaad. Maar God is God.
Hy wil vir die kwaad in die wêreld geen ruimte skep nie. Hy laat
nie toe dat sy liefde vir ewig vertrap word nie. Hy kom met sy
plan van verlossing. Want Hy kan sy liefde vir sy skepping en vir
sy kerk nie verloën nie. Die kruis openbaar die diepte van God
se toorn, toe Christus vir ons sondes gesterf het. Dit wys ook
die erns van God se liefde. Dis geen goedkoop en oppervlakkige
liefde nie. Dis ’n ernstige liefde van ’n heilige God.

Omdat God ’n heilige God is, haat Hy alle sonde en kwaad.
Sonde roep sy toorn op. Dit is vir Hom bittere erns. Daarmee word
die wese van God self geraak: sy majesteit, sy heerlikheid, sy
heiligheid. Daarom kan Hy sonde en onreg nie verdra nie. Hy het
daar ’n hartgrondig afkeer van. Hy is en bly God, heilig.
Daarom verlos God sy volk ook deur die kruis, deur sy oordeel en
sy genade. Dis geen goedkoop verlossing nie, maar ’n
verlossing van God wat groot en goed, heerlik en heilig is. So
lees ons in ons nagmaalsformulier by die onderdeel van die self
ondersoek: "Ten eerste: elkeen moet nadink oor sy sondes en
vervloeking en besef dat hy die toorn van God verdien. Vanweë
die sonde sal hy ’n afkeer kry van homself en hom voor God
verootmoedig; want God se toorn teen die sonde is so groot dat Hy
– eerder as om dit ongestraf te laat bly – sy geliefde
Seun Jesus Christus met die bittere en smadelike kruisdood
gestraf het."

Volgens die Skrifte moet ons dus bely: Die toorn van God bly
op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Ons mag die toorn van
God nie verswyg nie. Die toorn is volkome in ooreenstemming met
die evangelie. Dit is ’n wesenlike onderdeel daarvan. God se
toorn beklemtoon die erns van die evangelie en wys die ware
diepte van God se liefde. So word ons teruggewerp op die lewende
God.

Gemeente, toorn, straf, Golgota en die laaste oordeel hoort
volkome by die evangelie van verlossing wat gepreek moet word.
Tot redding van elkeen wat hom bekeer. Sodat u en ek steeds weer
God se genade sou soek in Jesus Christus. Want alleen in en deur
Hom is daar ontkoming van die toorn. Nou en vir ewig. Buiten Hom
bly ons werklik kinders van die toorn. God se toorn is egter nie
onverbiddelik nie. Dis nie so dat as God eenmaal toornig is, Hy
ewig op ons toornig sal wees nie. Wie sou dan salig word? Wanneer
ek in die sonde voortlewe, ja dan vertoorn God hom op my. Maar
wanneer ek my opreg bekeer dan is daar verlossing.

So kom ons by die tweede gedagte van die preek: Hulle wat glo
word van die toorn verlos.

Met ons DL bely ons: Die toorn van God bly op hulle wat
hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter
aanneem en die Verlosser, Jesus, met ’n ware en lewende
geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die
verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe.

Die Nuwe Testament noem die evangelie ’n krag van God tot
redding vir elkeen wat glo (Rom 1:16). Ons het iets dergeliks ook
in 1 Kor 1 gelees. "Want die woord van die kruis is wel
dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word
is dit die krag van God" en "Dit het God behaag om deur
die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red" (verse
18 en 21). Die evangelie is dus ’n krag van God tot redding.

Elke persoon moet gered word. Waarvan? Van die sonde, van die
dood, van die toorn. Na die sondeval is ons mos almal van nature
kinders van die toorn. Elkeen van ons moet dus van die toorn van
God en van die verderf verlos word. Daartoe het ons die evangelie
nodig, die krag van God tot redding.

Maar waarom is die evangelie die krag van God tot redding? Wel,
waaroor gaan die evangelie? Tog oor Jesus Christus, as
gekruisigde. So word Jesus Christus in 1 Kor 1 ook self die krag
en die wysheid van God genoem. "Ons verkondig Christus wat
gekruisig is, ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir
die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke:
Christus, die krag van God en die wysheid van God" (verse 23,24).

Maar, broeders en susters, vir wie is dan die evangelie ’n
krag tot redding? Vir elkeen wat glo. Ja, jy moet die evangelie
wel glo. Jy moet die Christus aanneem. Alleen deur die geloof kry
die kragtige evangelie sy heerlike effek. Dis soos met voedsame
kos wat vir ons aangebied word. As jy dit nie aanvaar nie, as jy
dit nie gebruik nie dan het dit geen positiewe effek nie. So moet
die redding wat in die evangelie aangedra word, toegeëien word.
Deur die geloof.

Maar wat is dit om te glo? Die geloof is die instrument
waarmee jy Christus jou Verlosser omhels. Jy vertrou jouself toe
aan Christus. Jy lewer jouself uit aan Hom. Ja, dis wat geloof is.
Om te glo is om jouself oor te gee, om jouself gewonne te gee.
Dat Christus die sentrum van jou lewe, van jou aandag en van jou
verwagting word. Daarom is die geloof die doodsteek vir alle
verbeelding en verwaandheid. Om te glo is om jou lewe buite
jouself in Jesus Christus te soek en te vind.

Sonder Hom is daar geen lewe nie. Dit lyk miskien wel so.
Ongelowiges kan eet, drink en vrolik wees. In materiële sin kan
hulle soms baie voorspoedig wees. Maar hulle het geen deel aan
die ware lewe nie. God se toorn hang mos as ’n swaard van
Damocles bo hul hoofde. Hulle lewe op ’n vulkaan op pad na
die ewige verderf.

Om in Christus te glo is om jouself aan Hom uit te lewer. In
Hom staan God self voor jou. En in Hom eis God jou hele lewe op.
Nie slegs ’n deel daarvan nie, maar jou hele lewe. God het
sy groot liefde in Christus gewys. Hy vra dan van ons niks minder
as liefde nie. Dis ’n saak van liefde en wederliefde. So
loop die pad van God se verlossingsplan: sodat elkeen wat in Hom
glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Die
lewe wat werklik lewe genoem kan word, die intense,
onvernietigbare lewe, wat in God is en waarvan ons saam met God
mag geniet.

Maar, hoekom is dit so dat hulle wat in Jesus glo van die
toorn van God en van die verderf verlos word en die ewige lewe
ontvang? Wel dit lê aan Jesus Christus. Wat is Hy vir ons? In 1
Kor 1:30 lees ons dat Christus vir ons geword het wysheid uit God
en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Wanneer ek deur
die geloof Christus omhels dan is ek een met Hom. Wat Hy is en
wat Hy gedoen het geld dan vir my. So is Hy vir my geregtigheid.
Hy het aan die eise van God se reg vir my voldaan. Hy het vir my
die skuld betaal. Hy het die straf vir my gedra. Daarom is daar
vir my verlossing van die toorn van God. Soos dit so mooi in ons
nagmaalsformulier verwoord word: Hy het die toorn van God,
waaronder ons ewig moes versink, van die begin van sy menswording
af, tot aan die einde van sy lewe op aarde vir ons gedra. So het
Hy in alle gehoorsaamheid aan die Goddelike wet die geregtigheid
vir ons volbring. Etc pagina 18,19. Christus vir ons. Hy in ons
plek. Alles is betaal. Dit is volbring. Ek hoef nie meer self te
betaal nie. Dit sou onmoontlik wees. Christus het vir my betaal
en my van die toorn van God en van die verderf verlos.

Ja, Christus het nie sleg vir ons geregtigheid geword nie,
maar ook heiligmaking. Hy waarborg ook die vernuwing van my lewe.
Hy het vir my sy lewendmakende Gees verwerf en uitgestort. Deur
die Gees kan ons in ware gemeenskap met Hom lewe en in al sy
rykdom, die ewige lewe, geregtigheid en heerlikheid deel. In
Christus bloed en Gees ontvang ek dus die volkome verlossing, die
herstelde lewe met God, die lewe wat nimmer eindig.

Sien daar, gemeente, die geweldig gewig van die evangelie. U
ontmoet daarin Christus self. Hom wat van God tot ons verlossing
gegee is. Die evangelie is dus allermins vryblywend. Jy word
gedwing om te kies. Dis ’n kwessie van geloof of ongeloof.
En as gevolg daarvan: lewe of dood, vryspraak of oordeel. Durf
iemand so ’n groot liefde van God nog af te wys? Die toorn
van God bly dan op jou rus. Wanneer jy egter die evangelie
aanneem en die Verlosser, Jesus, met ’n ware en lewende
geloof omhels, dan word jy deur Hom van die toorn van God en van
die verderf verlos, en Hy skenk jou die ewige lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)