Aan Kanaän se suidelike grens bemoedig God Jakob om sy migrasie na Egipte voort te sit.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-08-05
Teks: 
Génesis 46
Preek Inhoud: 

Genesis 46:1-4

Ds C Kleyn - Sondag 5 Augustus 2001

Lees: Genesis 45:16-46:7.
Sing: Ps 33:1,2; Ps 61:1-3; Ps 23:1-3 (2de
beryming); Ps 139:1,2,12; Ps 33:11.

Tema: Aan Kanaän se suidelike grens bemoedig God Jakob om sy
migrasie na Egipte voort te sit.

  1. Jakob se vraag; en
  2. God se antwoord.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Josef se bekendmaking aan sy broers is ’n baie emosionele
aangeleentheid. So emosioneel dat die Egiptenare in die omgewing
Josef kan hoor huil. Farao verneem al gou wat die oorsaak daarvan
is.

Ons westerlinge is dikwels verleë met sulke emosionele
toestande, veral wanneer dit van ’n hoëpersoon kom. Die
vrye ekspressie van sulke emosies word dikwels beskou as ’n
teken van swakheid. Veral manne word veronderstel om sterk te
wees.

Dis gelukkig nie die geval in Egipte nie. Niemand is ontstel
of verleë met Josef se gehuil nie. Selfs nie Farao nie. Ookal is
Josef die man in beheer van die hele Egipteland. Wanneer Farao en
sy manne hoor waarom Josef so gehuil het, is hulle gelukkig vir
hom. Hulle is bly dat Josef se broers gekom het.

Dit wys hoe hulle Josef waardeer en eer. Dis verbasend wanneer
’n mens daaroor nadink. Josef is eintlik ’n vreemdeling
in Egipte. Hy is nie ’n Egiptenaar nie. Hy het Egipte
toegekom as ’n onbekende slaaf. Tog het hy opgeklim na die
hoogste posisie in Egipte, bo al die ander Egiptiese
hoogwaardigheidsbekleërs. Wanneer ’n mens dink aan die
magsstryd wat dikwels in die politiek plaasvind dan sou jy verwag
dat die prominente Egiptenare Josef as ’n indringer beskou
sou het, ’n indringer wat die posisie ontvang het wat hulle
moes gehad het en wat daarom verwyder moet word.

Wel, ons lees niks daaroor nie. Inteendeel, Farao en sy
dienaars is met Josef bly dat sy broers gekom het. Farao sê
selfs vir Josef: Laat jou broers julle vader en jul huisgesinne
haal om in Egipte te gaan woon. Dan sal ek julle die beste van
Egipteland gee. Ek sal die vervoer vir die emigrasie reël. Julle
hoef ook nie spyt te hê oor wat julle in Kanaän moet agterlaat
nie want die beste van die hele Egipteland is julle s’n. Dit
wys die groot guns wat God Josef in die oë van Farao en sy
dienaars gegee het. God maak hul harte goedgesind teenoor Josef
sodat sy familie, die kerk van daardie dae, na sy goddelike plan
in Egipte ’n plek ontvang. ’n Voorbeeld van wat ons
lees in Spreuke 21:1 "Die koning se hart is in die hand van
die HERE soos waterstrome; Hy lei dit waarheen Hy wil."

Belaai met geskenke gaan die broers terug na hul vader in Kanaän.
Josef laat hul gaan met die waarskuwing: moenie vir mekaar kwaad
word op die pad nie. So ’n waarskuwing is nie oorbodig nie.
Op hul pad huis toe sal hulle moet oorweeg hoe hulle hul pa alles
sal moet vertel, ook van hul eie misdaad en bedrog. Dis nie
’n maklike taak nie. Moontlik sou sommiges van hulle nog
verlei kan word om die opregte en pynlike belydenis te ontduik.
Of hulle kan die skuld op mekaar probeer afskuif sodat die een
die ander daarvan beskuldig dat hy die oorsaak van alles is. Dit
kan maklik daartoe lei dat hulle onderweg met mekaar rusie maak.
Daarom waarsku Josef: Moenie vir mekaar kwaad word op die pad nie.
Moenie die nuwe begin wat sopas gemaak is, versteur nie.

Wanneer die broers by hul vader in Kanaän kom, dan vertel
hulle vir hom die ongelooflike nuus: Josef lewe nog. Hy is selfs
regeerder in die hele Egipteland. Hoe reageer Jakob? Ek wil dit
nader belig wanneer ek vir u preek:

Aan Kanaän se suidelike grens bemoedig God Jakob om sy
migrasie na Egipte voort te sit.

  1. Jakob se vraag
  2. God se antwoord

Jakob is blykbaar nie heeltemal rustig oor sy besluit nie. Die
nuus dat Josef nog lewe het hom laat besluit om na Egipte te gaan.
Wanneer hy in Berseba, aankom, dan is Jakob egter onrustig. Wat
is dit wat hom onrustig maak? Is hy besig om sy besluit om na
Egipte te gaan te heroorweeg? Dis iets wat ons sou kan verstaan.
Ons het ja gesê, ons het besluit om iets te doen, maar wanneer
ons dit moet gaan uitvoer, dan kan ons tog gaan aarsel. Dan kan
vrae by ons opkom. Is dit reg? Mag ek dit doen? Kan ek dit doen?
Is my motief om dit te doen wel suiwer? Self ondersoek is nodig
om agter die werklike motiewe te kom. Jy kan die gevoel hê dat
jy heen en weer geslinger word tussen ja en nee. Is dit wat Jakob
hier belewe?

Aanvanklik kon Jakob die nuus dat Josef nog lewe gewoon nie
glo nie. Hy het vir 20 jare aangeneem dat Josef, sy liefling,
dood was. Hy het oor hom rou bedryf. Al sy seuns en dogters het
moeite gedoen om hom te troos. Maar hy het geweier om hom te laat
troos. Nou kom sy seuns met ’n totaal ander verhaal, naamlik
dat Josef leef. Kan hy hulle wel vertrou? Het hulle in die
verlede gelieg of lieg hulle nou? Ons kan verstaan dat Jakob nie
onmiddellik die berig van die seuns glo nie. Dis mos ongelooflike
nuus? Te mooi om waar te wees.

Maar Jakob moet dit wel glo. Sy seuns vertel die hele verhaal,
alles wat Josef vir hulle gesê het. Dit sal ook insluit die saak
van hul sondes en God se bedoelings. Hulle wys ook op die
geskenke en die vervoer wat vir hulle gereël is. Mense kan
verhale versin, maar die geskenke en die egiptiese waens is tog
volle werklikheid. Dis nie iets wat ’n mens uit sy duim kan
suig nie. Dis duidelike tekens dat Jakob se seuns hierdie keer
die waarheid spreek. Indien Josef nie so ’n hoë posisie in
Egipte het nie, dan sou daar nooit sulke dure waens beskikbaar
wees nie. Jakob is oortuig. Hy besluit om te gaan. Hy wil Josef
sien voordat hy sterwe. Wie sou teen die besluit beswaar maak?
Die leiding van die Here lyk so duidelik te wees, of nie soms? In
Kanaän is daar ’n ernstige en aanhoudende hongersnood. Vir
Jakob en sy gesin moet daar ’n oplossing kom. Anders kan
hulle heeltemal verarm of selfs deur hongerdood uitsterwe. En nou
kom daar skielik ’n oplossing vanuit Egipte. Josef lewe en
is deur die Here tot regeerder oor die hele Egipteland verhoog.
En nou lê daar die uitnodiging om na Egipte te gaan om daar te
gaan woon. Mag Jakob dit nie as die duidelike leiding van die
Here sien dat hulle na Egipte moet gaan?

Maar Jakob is blykbaar nie heeltemal rustig nie (sien vers 3).
Waarom nie? Sien hy teen die reis op? Speel sy ouderdom ’n
rol? Is hy bang van die land Egipte? Sy pa en sy oupa het nie
goeie herinnerings aan Egipte gehad nie.

Ons sal in ’n ander rigting moet dink. Jakob het van
Hebron afgekom. Hy het gewoon in die land wat God aan hom en sy
nakomelinge beloof het. Hy het nou by Berseba aangekom. Berseba lê
aan die suidelike grens van die beloofde land. Indien hy verder
suid reis dan verlaat hy Kanaän. Is dit reg van hom om vrywillig
die beloofde land te verlaat? Hy het veronderstel dat Josef se
uitnodiging om Egipte toe te kom deel van God se leiding vir hom
moet wees. Maar het hy nie teveel veronderstel nie? Het hy nie te
maklik God se goedkeuring daarvoor opgeëis nie?

Dis duidelik dat Jakob deur die krisis wat hy en sy gesin
meegemaak het, geleer het. Hy verstaan dat hy God se leiding moet
volg, dat hy sy toekoms aan God moet toevertrou. Hy verstaan dat
hy moet woon waar God wil hê dat hy sal woon. Daarom is Jakob
onrustig oor die verlating van die beloofde land om na Egipte te
gaan. Bowendien, sy vader Isak het ook ’n keer ’n
hongersnood in Kanaän belewe. Die Here het toe vir Isak
uitdruklik beveel om nie na Egipte af te trek nie, maar om te
woon in die land wat die Here vir hom sou aanwys (Gen 26:2).

Hier kom nog by dat telkens wanneer Jakob ’n belangrike
skuif gemaak het, God daaroor met hom gespreek het. Toe hy sy
ouers verlaat het om na Haran te gaan, het God vir hom verskyn te
Bethel (Gen 28:13-15). Toe Jakob reeds lange tyd by Laban was
gewees, het God vir hom gesê dat hy moes terugkeer na die
beloofde land en na sy familie (Gen 31:3). Selfs toe hy Sigem
verlaat het, het God vir hom verskyn (Gen 35). Ons kan verstaan
dat Jakob onrustig is om so ’n ingrypende skuif na Egipte te
maak sonder dat hy vir die Here geraadpleeg het. Die Here is mos
in staat om die hongersnood te beëindig en om hulle daar in Kanaän
te voorsien indien dit sy wil is. Hy het meermale op ’n
wonderbaarlike manier voorsien.

So sien ons dat Jakob te Berseba die aangesig van die Here
soek. Daartoe bring hy offerandes aan die God van sy vader Isak.
Dis ’n teken van die vrees van die Here. Wanneer ’n
mens die Here vrees dan is die belangrike vraag altyd: is die pad
wat ek nou volg werklik God se pad? Of kies ek slegs my eie pad?
Laat ek God voorop loop en volg ek Hom, of wil ek omgekeerd self
voorop loop, waarby ek dan verwag dat God my met sy seën volg?

Is dit, broeders en susters, ’n vraag waarmee u in u lewe
worstel? Of dink u dat dit kinderlik is of ’n teken van
swakheid om eers God te soek en vir Hom te vra wat Hy wil hê dat
u sal doen? Wel, dit is inderdaad kinderlik, maar dan in die
positiewe sin van: wat ’n kind van God betaam, die
kinderlike vrees van God. Dit kan gebeur dat ek gewoon my
besluite neem en my dinge doen sonder dat ek werklik oor God se
leiding nadink. Dan ag ek dit ook nog vanselfsprekend dat God met
my is. In my selfvertroue neem ek dit gewoon aan. Hierdie houding
word deur God afgewys. Jy kan nie eenvoudig God se goedkeuring
vir jou handelinge opeis nie. Dis nie ’n kwessie van: jy
besluit eers maar vir myself wat jy wil doen en daarna moet God
dit maar goedkeur nie.

Nee, God wil erken word en geraadpleeg word voordat ek my
keuses maak. En God se wil vir die persoonlike lewe is nie altyd
onmiddellik duidelik nie. God wil ons sien worstel in gebed, dat
ons ootmoedig sy leiding soek.

In Berseba bring Jakob offerandes. Jakob se onrus is nie slegs
negatief nie. Anders sou dit nie deel van die vrees van die Here
wees nie. Die vrees van die Here is nooit negatief nie. Nee,
Jakob soek positief die teenwoordigheid van die Here. Hy soek God
self. Dis selfs moontlik dat Jakob sy offerandes gebring het op
dieselfde altaar wat Isak sy vader in Berseba gebou het en waar
hy die Naam van die Here aangeroep het (Gen 16:25).

Jakob bring offerandes aan die God van sy vader Isak, lees ons.
Hy dien dieselfde God as sy vader, op dieselfde plek. Hy is bewus
van God as die God van die verbond, as die God van die
verbondsbeloftes. Sy God is die God van sy vaders, die God wat
aan sy vaders sulke ryke beloftes gegee het.

Geliefdes, waar ontdek ’n mens sy ware self? Voor die
Here, by sy altaar. In moderne terme: by die woord van die Here
en in gebed. Die Here beproef ons harte. Hy laat ons ook sien wat
in ons harte leef. Solank as ek Hom vermy, het ek blykbaar nog
iets om weg te steek. Dan probeer ek om my sondes en tekorte goed
te praat en soek ek verskonings. Hulle wat waarlik die Here soek,
word eerlik met hulleself. Hulle laat die Here oordeel.

Nou die 2e gedagte: God se antwoord.

Die Here gee Jakob ’n antwoord op sy vraag. Die Here
praat met hom in ’n naggesig. Dis lank gelede dat ons lees
van visioene in Jakob se lewe. Hy moes volstaan met die
verskynings uit die verlede (wat in Gen 28-35 beskryf is). Nou
maak die Here Homself opnuut aan Jakob bekend. Was die Here in
die tussentyd dan nie daar nie? Die Here was daar, maar op ’n
afstand so te sê. Die woord van God was skaars in daardie dae.
Dit het donker geword in Jakob se lewe en huisgesin. Die
geskiedenis wys dit uit. In Nuwe Testamentiese terme sou ons sê:
daar was nie die volheid van die Heilige Gees nie, hulle was nie
met die Gees van God vervul nie, hulle het nie die krag van die
geloof gewys nie.

God vernuwe die belofte.

Jakob, Jakob! ’n Herhaling waardeur God besondere aandag
vra vir wat Hy gaan sê. God roep Jakob in sy teenwoordigheid.

Jakob antwoord met ’n duidelike: Hier is ek. Hy durf om
God te ontmoet. Hy het geen pretensies nie. Hy sê eenvoudig:
Hier is ek, tot u diens Here. Spreek Here, u kneg luister.

Ek is God, die God van jou vader, sê die Here. Ek is die
bekende God van jou vader. Die getroue verbondsgod. Met hierdie
woorde herinner die Here Jakob opnuut aan die verlede. Wat die
Here gaan sê hou verband met die verbond wat God met Jakob se
vaders opgerig het. En God het vir die vaders en Jakob self
belowe dat Hy hulle en hul nakomelinge die land Kanaän sou gee.
Wel, daardie God praat nou met jou Jakob. As jy ’n antwoord
op jou vraag wil hê of jy Kanaän mag verlaat om na Egipte te
gaan, dan is jy op die juiste adres. Ek is die God wat die
beloftes gegee het.

Wel, Moenie bevrees wees om na Egipte af te trek nie. Vervolg
jou reis. Want Ek sal jou daar ’n groot nasie maak. Ek sal
saam met jou aftrek na Egipte, en Ek sal jou gewis ook weer laat
optrek; en Josef sal jou oë toedruk.

Met hierdie woorde maak die Here vir Jakob duidelik dat hy sy
reis na Egipte mag voortsit, sonder om daaroor onrustig te wees.
Wat toentertyd uitdruklik vir Isak verbied was, is nou God se wil
vir Jakob. Hy mag Egipte toe. Hy moet selfs sy familie na Egipte
lei. Hier sien ons dat God se leiding vir een persoon anders is
as sy leiding vir ’n ander persoon in ander omstandighede.
Jakob mag geniet van die hereniging met Josef. Hy hoef homself
nie skuldig te voel oor die feit dat hy die beloofde land verlaat
nie, asof hy daarmee die beloftes van God sou verag en asof dit
slegs gaan oor die persoonlike geluk van die hereniging met sy
seun. Ja, dit kan maklik ’n prominente rol by ons besluite
inneem. Ons soek dan die bevrediging van ons persoonlike
gevoelens en verlangens. Sulke verlangens is nie noodwendig
verkeerd nie. Alleen, hulle moet wel aan God se wil onderwerp
word. Dis wat Jakob gedoen het. Die Here maak dit duidelik dat
Jakob nie teen sy wil ingaan deur na Egipte te reis nie. Die
teendeel is waar. Dis hoe God die wil hê. God beloof daarom dat
Hy saam met Jakob na Egipte sal aftrek. Daarmee het die Here die
belofte van die land van Kanaän nie vergeet nie. Nee, God sal
gewis die gesin weer laat optrek terug na Kanaän. God sal sy
beloftes vervul beide mbt ’n groot nasie en die land Kanaän.

Jakob was bang om na Egipte te gaan. God se verskyning dryf
die vrees uit. God is met hom. Waarom sou hy dan vrees?

Hier herhaal God die bekende immanuël belofte. Dit laat ons
dink aan Golgota. Hoekom wou God met Jakob wees? Was dit omdat
Jakob hom nou bekeer het en hy nou waardig sou wees om in God se
nabyheid te kom? Gaan God met ons omdat ons sulke goeie keuses
maak of omdat ons so goed is? Die enigste grond vir die feit dat
God met ons is, is Golgota. Daar aan die kruis het God die Vader
sy Seun verlaat. Hy het oor Hom sy toorn oor ons sondes uitgegiet.
Ons Here Jesus is deur sy Vader verlaat sodat Jakob en alle
gelowiges dus ook u en ek nooit meer deur God verlaat sou word
nie.

Daarom hoor ons keer op keer: Moenie vrees nie. Ookal gaan jy
dalk deur ’n dal van doodskaduwee, jy hoef geen onheil te
vrees nie. Waarom nie? Want Ek is met jou, sê die Here.

Ons staan soms voor die vraag: wat wil die Here ? Is dit reg
vir my om dit of dat te doen? Volg ek dan wel die paaie van die
Here? Of beweeg ek van sy pad af om my eie paaie te volg? Dan kan
ons slegs een ding doen, of twee dinge. Soek die Here in gebed.
Bid vir die leiding van sy Gees. Want Hy het sy Gees vir ons
belowe. Tegelykertyd is daar ’n tweede ding wat ons moet
doen: worstel met die Skrifte om te verstaan hoe God se geskrewe
woord op die persoonlike keuse betrekking het. Ons het geen
uitdruklike beloftes betreffende volk en land soos die
aartsvaders nie. Maar God se Woord het wel betrekking op ons
keuses. God gee ons wel allerlei prinsipes en rigtingwyses. God
gee leiding deur sy Woord en Gees.

God sê twee dinge vir Jakob: Hy sal met hom gaan en Hy sal
vir sy nakomelinge sorg. Jakob volg God se pad. Dit sal ’n
lang ompad blyk te wees, selfs ’n lang pad van lyding. Die
Here het dit reeds vir Abraham genoem. Ons lees in Gen 15:13,14
dat die Here vir Abraham gesê het: "Weet vir seker dat jou
nageslag vreemdelinge sal wees in die land wat aan hulle nie
behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word 400
jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle
diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed."

Jakob se migrasie na Egipte pas daarom binne God se plan.
Daarom is dit aan die grens van Kanaän nie slegs ’n
persoonlike saak tussen God en Jakob nie. In geding is God se
plan van verlossing vir sy volk, en so ook vir u en my. Jakob
gaan nie na Egipte as ’n toeris nie. Hy sal daar selfs
sterwe. Die Here het daar vir sy volk ’n plek berei. Hy wil
hê dat hulle daar ongestoord tot ’n eie en talryke volk kan
ontplooi. Sodat hulle na 400 jaar as volk uit Egipte kan uittrek
om die beloofde land in te neem.

Is u, broeders en susters, seker dat u God se pad volg? Nee?
Dan is daar rede om te aarsel. Soek God se aangesig. Bid met die
Psalmis: Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my
gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart (of ek
nie op die verkeerde pad is nie) en lei my op die ewige weg (Ps
139:23, 24) Deur sy Gees wil die Here jou seker maak ook tav die
paaie wat jy moet volg. Hy wil dit doen in antwoord op die gebed.
Hy praat met hulle wat sy teenwoordigheid soek, hulle wat met
’n oop Bybel lewe. Hy verlig ons verstand sodat sy weg vir
ons duidelik word.

Wat dryf ons by ons keuses? Wat is ons werklike motiewe? Soms
lyk dit asof ons gedryf word deur verwarde motiewe. Laat ons
eerlik voor God wees. Is dit selfsug, die bevrediging van jou
persoonlike verlangens of wil jy met jou lewe aan die Here en sy
koninkryk diensbaar wees, in ootmoedige gehoorsaamheid. Jy hoef
nie tussen ja en nee te bly slinger nie. God wil ons lei deur sy
Woord en Gees, in antwoord op ons gebed.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)