Die ontknoping van die geskiedenis van Josef en sy broers.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-07-29
Teks: 
Génesis 45
Preek Inhoud: 

Genesis 45:4-7

Ds C Kleyn - Sondag 29 Julie 2001

Lees: Genesis 44:14-45:15.
Sing: Ps 145:1-3; Ps 50:7,8,11; Ps 43:2-4; Ps 31:1,17-19;
Ps 145:10-12.

Tema: Die ontknoping van die geskiedenis van Josef en sy
broers

  1. Die broers se vrees
  2. Josef se liefde
  3. God se bedoelings

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat ’n verrassende afloop van die geskiedenis van Josef
en sy broers. Die spanning het aan albei kante opgeloop. Wat
Josef betref: vanaf die oomblik dat hy sy broers gesien het, het
hy hulle herken. Vir ’n tydjie het hy sy broer Simeon naby
gehad, in die Egiptiese tronk, terwyl die ander broers na sy
vader teruggegaan het. Eindelik kom die broers weer terug in
Egipte, saam met sy volle broer Benjamin.

Wat die broers betref: tot die laaste oomblik het hulle Josef
nie herken nie. Hulle word egter voortdurend aan hom herinner.
Die hardheid en wantroue van die goewerneur het hulle besorg
gemaak. Hul gewetens begin om hulle te pla. Tydens hulle eerste
besoek het hulle reeds gekonkludeer: Voorwaar, ons boet nou vanweë
ons broer (Gen 42:21). En by die tweede besoek het Juda vir die
goewerneur gesê: God het die ongeregtigheid van u dienaars
uitgevind (Gen 44:16).

Die spanning het dus aan albei kante opgeloop na ’n
klimaks toe. Eindelik kom dan die ontknoping. Die Here ontwar die
geskiedenis. Josef maak homself aan sy broers bekend. Hy maak God
se plan bekend. Let op die tydstip waarop dit plaasvind. Dit lyk
asof alles teen die broers gekeer het. Dit lyk asof hulle nou ten
volle moet boet vir hul sonde uit die verlede. Tegelykertyd blyk
dit dat hul houding verander het. Hulle vertoon nou die
gesindheid van Christus. Hulle sien nie slegs om na hul eie
belange nie, maar ook na die ander s’n. Ter wille van
Benjamin en hul vader is hulle bereid om hul eie vryheid op te
offer. Wel, juis op daardie oomblik maak Josef homself bekend.

Ek verkondig vir u:

Die ontknoping van die geskiedenis van Josef en sy broers

  1. Die broers se vrees
  2. Josef se liefde
  3. God se bedoelings

Josef maak homself aan sy broers bekend. Wat ’n skok vir
die broers wat hom as slaaf verkoop het! Toe die beker van die
Egiptiese goewerneur in Benjamin se sak gevind is, het hulle wêreld
inmekaargestort. Hulle kon maar min van die lewe verwag. Maar nou
dat hulle ontdek dat hulle met Josef self te doen het, breek hul
wêreld heeltemal stukkend. Hulle is verbyster, verskrik.

Dis nie moeilik om die verbystering te verstaan nie. Hulle was
daarop voorberei dat God hulle sou straf vir hul sonde. Hulle was
oortuig dat God hulle agterhaal het. Hulle was bereid om hulle
onder God se magtige hand te onderwerp. Maar, dan stuur die man,
wat hulle as God se roede sien, alle Egiptenare uit die kamer uit
en begin hy om hard te huil, so hard dat die Egiptenaars en die
huis van Farao dit kon hoor. Die broers staan perpleks. En dan sê
die huilende man vir hulle: Ek is Josef! Leef my vader nog?

Dis asof die broers deur weerlig getref word. Hulle was op die
ergste voorberei, maar nie vir dit nie. Miskien het hulle wel met
die moontlikheid gereken dat hulle Josef nog ’n keer as
’n slaaf in Egipte kon raakloop. Maar om Josef as goewerneur
van Egipte te ontmoet, dit het nooit in hul gedagtes opgekom nie.
Daarom staan hulle perpleks. Asof hulle deur weerlig getref is.
Hulle is stom van skrik. Hulle kan geen woord uit nie.

Hulle het nou nie slegs te doen met God se straffende hand nie,
maar met die wrekende hand van Josef. Dis wat hulle kan verwag.
So dink hulle tenminste. Hulle is nou volkome in Josef se mag. Hy
kan met hulle maak wat hy wil. Dink maar aan wat hulle hom
aangedoen het ongeveer 20 jare gelede. Hulle het geen uitweg nie.

Gemeente, Dawid het ’n keer gesê: dis beter om in die
hand van die Here te val as in die hand van mense. Van die Here
weet hy tenminste dat sy barmhartighede groot is (2 Sam 24:14).
Die gedagte moet ook deur die broers heengegaan het. Hulle was
voorberei op God se bestraffende hand. Maar wanneer hulle voor
Josef staan, wat met hulle kan maak wat hy wil, dan is hulle
verskrik.

Ons kan dit verstaan, of nie? Ons sê soms ook bv in die geval
van siekte: dis nie ’n mens wat my dit aandoen nie. Op een
of ander manier kan ons dit wat God, sonder die toedoen van mense,
vir ons beskik beter hanteer as wat mense ons aandoen. Wanneer
mense my lewe probeer verwoes, dan lyk dit asof vrees, wrok en
haat baie sterker opkom as wanneer ek slegs met God se hand te
doen het.

Die Egiptiese goewerneur wat so hard was, was vir die broers
aanvanklik slegs ’n instrument van God. Hy was vir hulle
’n anonieme persoon waardeur God ingegryp het. Maar skielik
is die man nie meer anoniem nie. Dit blyk ’n bekende persoon
te wees. Hul eie broer, wat goeie redes het om hulle terug te
betaal.

Dis geen wonder dat die broers verskrik is en geen woord kan
spreek nie. Hulle tonge is verlam van vrees. Soos ’n mens
tydens ’n nagmerrie dit kan belewe. Jy wil skree maar dit
luk nie. Jy kan geen woord uitspreek nie. Maar dis geen nagmerrie
vir die broers nie, dis volle werklikheid.

Die vrees van die broers is verstaanbaar, maar nie nodig nie.
Dit bring ons by die tweede gedagte: Josef se liefde.

Josef is nie daarop uit om homself te wreek nie. Is dit nie
vreemd nie? As christene ken ons almal wel Christus se instruksie
om ons vyande lief te hê. Ons weet dat Christus dit van ons
verwag. Maar in die praktyk negeer of vergeet ons dit maklik.
Jammer, sê ons dan, ek kan dit nie doen nie. Om iemand wat my
baie seergemaak het, lief te hê, is onmoontlik. Ek vind dit
moeilik genoeg om nie terug te slaan nie. Laat staan dat ek die
persoon moet liefhê. Nee, dit ’n onmoontlik eis.

Herken julle dit in jul lewe, broeders en susters? Is dit nie
hoe ons dikwels reageer nie? Terwyl ons almal so goed weet wat
Christus van ons verwag, naamlik dat ons selfs ons vyande moet
liefhê. Josef weet dit nie soos ons dit nou weet nie. Hy het nog
nie die Bybel nie en Jesus het sy instruksie nog nie gegee nie. Nêrens
lees Josef: julle moet jul vyande liefhê en moenie julle wreek
nie. Tog handel Josef volgens die evangeliese reël. Sy broers
het hom sleg behandel, baie sleg. Hulle het hom gehaat, beplan om
hom te vermoor en hom uiteindelik as ’n slaaf verkoop. Hulle
het belangrike jare van Josef se lewe as ‘t ware geruïneer.
Maar Josef het nie die begeerte om kwaad met kwaad te vergeld nie.
Hy het sy broers, wat hom soveel kwaad aangedoen het, lief.
Hierin vertoon hy die beeld van Christus, wat God besig is om in
hom op te rig.

Dis beskamend vir ons wat die hele bybel tot ons beskikking
het. Julle belewe almal wel ’n keer die situasie dat ander
jou seermaak, verneder of selfs probeer om jou lewe stukkend te
breek? Hoe reageer jy dan? Indien jy wrok en haatgevoelens bly
koester en jy nie bereid is om hulle lief te hê nie, dan
ignoreer jy in feite Christus se onderwys. Moenie hierin
onverskillig wees nie. Dit gebeur so maklik. Mense sê dan: Kyk
ek kan dit nie doen nie. In die lig van wat met my gebeur het, is
dit onmoontlik. Ons laat dit dan so, koester wrok en
haatgevoelens.

Maar, broeders en susters, dis ’n baie gevaarlike houding.
Christus waarsku ons dat ons deur so ’n houding die
vergewing van ons eie sondes op die spel sit. Christus sê in Mt
6:15 "as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie,
sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie." Die
oortredinge waarvan Christus hier praat is nie slegs oortredinge
in die algemeen nie. Maar oortredinge wat teen jou persoonlik
gedoen is. Ja, dis nie moeilik om sondes in die algemeen te
vergewe nie. Dit beteken nie baie nie. Dis belangriker dat jy
bereid is om die sondes wat mense teen jou persoonlik gedoen het,
te vergewe. Dis wat God doen. Hy vergeef nie slegs sondes in die
algemeen nie. Hy vergewe sondes wat teen Hom persoonlik gedoen is.
Hy wil dat ons dieselfde doen, dat ons die sondes wat ons
persoonlik so seermaak, vergewe.

Josef het dit deur God se genade en Gees gedoen. Hy sien hoe
verskrik sy broers is en sê: julle hoef nie bang te wees nie.
Kom tog nader na my. En wanneer hulle dit aarselend doen, sê hy:
Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het.
Waarom noem Josef dat hulle hom verkoop het? Kan hy nie beter die
gevoelige kwessie verswyg nie? Moontlik doen Josef dit om te
bevestig dat hy Josef is. Die verkoping is mos ’n geheim
waarvan niemand anders weet nie. Waarskynlik noem Josef dit ook
om hierdie saak uit die weg te ruim. Om met ’n skoon lei
verder te kan gaan, moet ’n mens durf om dit wat gebeur het
ook by name te noem. As jy dit nie doen nie dan kan dit die
verhouding bly pla.

Om die oortreding by name te noem, is dan nie om die skuldige
te pla nie, maar om die skuldige juis te help om met die
oortreding uit die verlede klaar te kom en dit te vergeet. Daarom
noem Josef die feit dat hulle hom verkoop het, maar voeg
onmiddellik daaraan toe: "Maar wees nou nie bedroef nie, en
laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen
verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle
uit gestuur."

Op geen enkele manier wil Josef sy broers verneder nie. Om
hulle te spaar het hy alle Egiptenare uit die kamer gestuur. Die
Egiptenare het niks te make met wat in die verlede tussen hulle
gebeur het nie. Dis iets wat niemand anders hoef te weet nie.

En wanneer Josef wel die oortreding noem, dan eis hy geen
verskoning nie, geen uitgebreide belydenis van skuld nie. Niks
daarvan nie. Josef ag dit nie nodig nie. Hy weet dat sy broers
hul oortreding teen hom as sonde sien. Hy het hulle oorhoor toe
hulle onder mekaar daaroor gepraat het. Sien Gen 42:21-23. Josef
het ook gesien dat hulle verander het. Hulle het hulle bekeer.
Hulle is nou bereid om hulleself vir mekaar op te offer. Dis
voldoende. Josef het geen begeerte om hulle nog ’n keer op
hul knieë te kry nie.

Die laaste gebeur jammer genoeg nog wel onder ons mense. Mense
kan weet dat die ander oor sy oortreding berou het en dat hy
verander het, maar hulle eis nog ’n offisiële verskoning en
versoek vir vergewing. Dit gebeur omdat mense nie werklik die
ander persoon liefhê nie. Mense dink dan nie aan die ander
persoon nie, maar aan hulleself. Daarom verneder hulle die
persoon opnuut. By Josef speel dit geen enkele rol nie. Hy is nie
daarop uit om iets terug te betaal nie. Hy het sy broers lief.
Wanneer hy sien dat sy broers deur vrees bevang word, kom hy nie
met ’n verwyt nie, maar troos hy hulle. "Wees nie
bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat
julle my hierheen verkoop het nie." Laat julle nie oorstelp
wees deur droefheid en kwaadheid teenoor julleself nie. Hulle wat
werklike berou wys, moet vertroos word. Jy moet hulle opbeur met
die evangelie van genade. Dis vergewing. Jy hoef nie oorstelp en
verlam te wees deur droefheid oor jou sonde nie. By God is daar
vergewing. Jy mag weer opstaan en ’n nuwe begin maak.
Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek
is (Ps 32:1).

Broeders en susters, hierdie geskiedenis herinner ons aan die
gelykenis van die verlore seun. Wanneer die jongste seun na sy
vader terugkeer, is hy bereid om homself te verneder. Hy wil
voorstel dat hy soos een van sy vader se huurlinge mag wees. Sy
vader gee hom egter geen kans om dit voor te stel nie. Dis genoeg
vir die pa om te sien dat sy seun verander het, dat hy as ‘t
ware uit die dood teruggekeer het. Op geen enkele manier wil die
pa sy seun verneder nie. Hy het hom immers lief. Hy hardloop na
hom toe, omhels hom en soen hom hartlik. So is die Here se liefde
vir ons, sondaars. Hy laat ons nie deur die stof kruip nie, maar
Hy verwelkom ons met oop arms.

Josef het dit gedoen. Hy praat nie eers oor vergewing nie. Hy
is veel te bly dat hy sy broers terug het as broers in die Here.
Hy sê nie eers: ek het julle vergewe vir wat julle my aangedoen
het nie. Dan sou hy die aandag van God af na homself gekeer het.
Dan sou hulle eerstens vir Josef hul dank moet wys. Terwyl in die
konkrete situasie alle dank en eer aan God toekom.

Aanvanklik kan die broers dit nie verwerk nie. Daarom sê
Josef in vers 12: Dis waar wat ek vir julle sê. Ek is werklik
Josef. Julle kan dit tog vir julleself sien en hoor dat ek julle
broer is? Daar is niemand anders in die kamer nie. Geen tolk nie.
Ek praat met julle in jul eie taal. Dan val hy sy broer Benjamin
om die hals en ween. En hy soen al sy broers en ween aan hulle
hals. Soos die vader van die gelykenis.

Eers dan durf die broers met hom te praat. Uit Josef se
optrede is dit vir hulle duidelik dat Josef hulle werklik vergewe
het en dat hy hulle liefhet. Liefde dryf die vrees uit. Liefde
oorwin die teenstand en wantroue en herstel die gemeenskap. Slegs
liefde kan dit doen. Ja, slegs God, wat liefde is, kan dit doen.

Hoe kan Josef, na die verskriklike dinge wat sy broers teen
hom gedoen het, op so ’n manier liefhê? Dikwels dink ons
dat slegte ervarings ’n slegte uitwerking op iemand het.
Maar dit is nie vanselfsprekend dat iemand wat slegte ervarings
het, ook slegter daarvan word nie. Die teendeel kan waar wees. Jy
kan daardeur selfs beter word. Dit hang daarvan af of jy in die
beproewings jou hulp en krag by God soek of nie. Dit hang daarvan
af of jy God vir wysheid vra, of jy jouself deur God laat lei of
deur jou eie gevoelens en verlangens. Josef laat homself sterk
maak en lei deur God. En dan kom alle dinge op hul plek te staan.
God ontwar die geskiedenis vir hom. Hy sien God aan die werk. Hy
sien God se bedoelings in alles wat met hom gebeur het. Daarmee
is ons by die derde gedagte: God se bedoelings.

"Wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming
by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om
lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur" (vers 5)
En: "God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n
oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te
hou tot ’n groot verlossing. Julle het my dan nou nie
hierheen gestuur nie, maar God." (vers 7,8).

Hier het u die sleutel vir die hele geskiedenis van Josef en
sy broers. Alles wat gebeur het, het volgens God se plan van
verlossing gebeur. God was daarop uit om vir homself ’n volk
in die lewe te hou. Die hele geskiedenis van Josef was feitelik
God se reddings-operasie. Aanvanklik het niemand dit verstaan nie.
Josef nie, sy broers nie, ook Jakob nie. Hulle kon God se plan
agter die gebeurtenisse nie sien nie. Nou word die sluier gelig
en kan hulle sien waarom alles nodig was.

Gemeente, vandag mag ons meer sien as wat Josef en sy broers
toe gesien het. Josef kon nog nie duidelik die direkte lyn sien
wat van hierdie reddings-operasie na die koms van die Messias en
na die redding van die wêreld loop nie. Josef het die redding
nog gesien as beperk tot sy familie en hul nageslag en eventueel
die Egiptenare. Ons mag nou sien dat dit baie belangriker was en
dat God toe reeds besig was vir ons verlossing. Om die pad van
die Christus voor te berei. Ondanks hul beperkte blik sien hulle
egter wel dat hulle ingeskakel is in God se reddings-operasie.
Josef praat daaroor in duidelike terme. Toe sy broers hom verkoop
het, toe hy as slaaf in Potifar se huis tereggekom het, en later
in die tronk gewerp is, was God besig om sy plan van verlossing
uit te werk.

Beteken dit dan dat God Josef in die put gegooi het en Josef
verkoop het? Beteken dit dat God verantwoordelik is vir die kwaad
wat die broers teen Josef gedoen het? ’n Mens sou dit amper
dink as jy Josef hoor praat: "Julle het my dan nou nie
hierheen gestuur nie, maar God." Dis egter nie wat Josef
bedoel nie. Dit sou in stryd met ander gedeeltes van die Skrif
wees. God is nie die outeur van sonde nie. Josef ontken ook nie
die broers hom verkoop het nie. Hulle is daarvoor verantwoordelik.
In hoofstuk 50:20 formuleer Josef dit meer uitdruklik wanneer hy
sê: "Want julle het wel kwaad teen my bedink, maar God het
dit ten goede gedink om te doen soos die vandag is, om ’n
groot volk in die lewe te hou."

Wat die broers vir Josef gedoen het is kwaad, sondig. Hulle
dra die volle verantwoordelikheid daarvoor. Maar God het die
sonde gebruik. Hy het dit ten goede gekeer. Dis wonderlik. Sonde
is op homself negatief, verwoestend, dit maak dinge stukkend. Dis
altyd die doel van sonde. Dit behoort by die aard van sonde om
die lewe en verhoudings stukkend te maak.

Maar nou sien ons dat God die negatiewe effek van die sonde
keer sodat dit wat uit homself verwoestend is, ’n positiewe
doel dien. Daarby bly die sonde sonde. Die sonde word daardeur
nie mooi nie. Sonde bly lelik en kwaad. Wat te Dotan gebeur het,
is allermins mooi. Maar wat daaruit voortgekom het is nie afbraak
nie, maar verlossing. Danksy God se ingryping. Dit was nie die
bedoeling van die broers nie. Hulle wou Josef verneder en
stukkend maak. Maar God keer die doel en vervul daarmee sy
positiewe verlossingsplan.

So is, broeders en susters, julle God. Goed, almagtig, trou en
wys. Hy is voortdurend besig met die oog op ons verlossing. Hy
kan en wil die kwaad wat mense ons aandoen ten goede keer. Soos
ons dit bely in art 13 van die NGB. "Ons glo dat die goeie
God … alle dinge … volgens sy heilige wil so bestuur en
regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur
nie. Tog is God nie die bewerker van die sondes nie, en dra Hy
nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en goedheid is immers so groot
en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en
uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense
onregverdig." God laat vir hulle wat hom liefhet alles ten
goede meewerk. Dit het Hy belowe. Dit het Hy bewys. Ons mag
daarop vertrou.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)