God laat sy evangelie van genade verkondig.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-07-22
Teks: 
Dordtse Leerreëls 1
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls, hoofstuk 1, art 3

Ds C Kleyn - Sondag 22 Julie 2001

Lees: Handelinge 16:1-15; Romeine 10:13-21;
Dordtse Leerreëls, hoofstuk 1, art 3.
Sing: Ps 19:1,2; Ps 22:11,12; Ps 19:4,5; Ps 98:1,2;
SB 50.

Tema: God laat sy evangelie van genade verkondig.

  1. Hy stuur verkondigers van die evangelie;
  2. Hy stuur verkondigers na wie Hy wil en wanneer Hy wil; en
  3. Hy stuur verkondigers om op te roep tot geloof en
    bekering

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons mag vandag God se woord weer hoor verkondig. Die meeste
van ons het die woord van jongs af gehoor. Wat beteken dit vir u
en vir jou? Hoekom het dit ons te beurt geval en val dit ons
vandag te beurt? Wat lê daar agter? Die woord van God het die
blankes in Europa bereik voordat dit die swartes in suidelik
Afrika bereik het. Waarom? Wat lê daar agter? En wat beteken dit
vir ons vandag?

Gemeente, die vorige keer het ons gewys op God se reg en
liefde. So het ons begin oor die leer van die goddelike
uitverkiesing en verwerping. Vanweë die doemwaardigheid van
elkeen van ons sou God niemand verontreg het as Hy almal in die
sonde en vervloeking laat bly het. God se liefde word egter
daarin bewys dat Hy sy eniggebore Seun gestuur het. Sodat elkeen
wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan
hê.

Om gered te word moet ’n mens dus in Christus glo. Maar
dan moet mense wel van Christus hoor. Immers: hoe kan hulle in
Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor
sonder een wat preek (Rom 10:14). Daarom lees ons in art 3 dat
God verkondigers van die evangelie uitstuur. Die Here laat die
hele menslike geslag nie in sonde en verderf lê nie. Hy kom tot
mense met die evangelie van verlossing in Jesus Christus. Hy self
sorg daarvoor dat die blye boodskap by die mense uitkom.

Ek verkondig vir u: God laat sy evangelie van genade verkondig

  1. Hy stuur verkondigers van die evangelie
  2. Hy stuur verkondigers na wie Hy wil en wanneer Hy wil
  3. Hy stuur verkondigers om op te roep tot geloof en
    bekering

Wanneer die DL oor die leer van die uitverkiesing wil praat,
dan begin dit heel konkreet vanuit wat God binne ons geskiedenis
doen. God stuur verkondigers van die evangelie uit. Wil mense
gered word, dan sal hulle die evangelie moet hoor en glo.
Daarvoor sorg dan die Here God self. Alle inisiatiewe tot ons
verlossing gaan van Hom uit. Alles lê in sy hand. Rom 10 wys vir
ons op ’n ketting met verskillende skakels: prediking, hoor,
glo, aanroep, redding. Wel, die hele ketting met al die skakels lê
in God se hand. Hy los nie een daarvan nie.

Daar kom ook nog iets by. Dit begin immers nie met die
prediking nie. "Hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur
word nie?" Die predikers moet dus eers gestuur word. Die
roeping kom dus eers. Sodat die predikers in sy naam en opdrag
uitgaan. En dus met goddelike gesag optree. Soos Paulus dit
verwoord in 2 Kor 5:20: "Ons tree dan op as gesante om
Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om
Christus wil: Laat julle met God versoen." By die
bevestiging van ’n predikant of sendeling word daarom die
vraag gestel: "Is u daarvan oortuig dat God self u deur sy
gemeente tot hierdie heilige diens geroep het?" Elke
verkondiger moet oortuig wees dat hy werklik deur God geroep is.
Slegs dan kan hy met goddelike gesag optree.

Elke hoorder moet dan ook besef dat hy in die troue prediker
met God self te doen het. Belangrik is nie in die eerste plek die
gesondene nie, maar die sender. Ons ontmoet in die troue prediker
diegene wat hom gestuur het, God self. Daarom wie die evangelie
wat gepredik word afwys, wys God self af. So sê Jesus vir die 70
dissipels wat Hy uitstuur: "Wie na julle luister, luister na
My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp
Hom wat My gestuur het" (Lk 10:16).

God stuur verkondigers van die evangelie uit. Hy wek die
begeerte om die werk te doen. Hy berei die pad van sy predikers.
Hy seën hul studie. Hy laat die gemeente hulle roep. So stuur
God self die predikers uit. Daarin bewys die Here sy goedheid. Hy
stuur immers verkondigers van die vreugdevolle boodskap. ’n
Boodskap by uitnemendheid. Dit gaan mos oor niks minder as oor
ons ewige redding nie. Daarom siteer Paulus in Rom 10 ook die
jubelende woorde van Jes 52: "Hoe lieflik is die voete van
die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die
evangelie van die goeie verkondig."

Die profeet Jesaja vertolk daar die vreugde wat die nuus van
die bevryding vir die ballinge gee. Die nuus is gewoon geweldig,
nie slegs omdat hulle nou na die beloofde land kan terugkeer nie.
Meer nog omdat dit vir hulle beteken dat hulle mag deel in God se
guns en dat nie een of ander aardse mag nie, maar hul God regeer.
Hoe lieflik is daarom die voete van die vreugdebode. Hoe lieflik
is hul koms. Vergelyk dit maar met ’n verpleegster wat uit
die kraamkamer kom om te vertel dat daar ’n gesonde baba
gebore is. Haar gang is lig. Haar blye boodskap maak haar gang
lieflik. Hoe anders is dit as iemand slegte nuus moet deurgee. As
iemand ’n ongelukstyding moet meld. Dan sink die moed jou in
die skoene. Dan is die gang swaar.

Paulus gebruik twee woorde wat die predikers van God tipeer.
Die eerste is die woord herout. Predikers is heroute. Die herout
word gekwalifiseer deur sy sender. Hy kom met ’n boodskap
van sy sender. Hy moet namens sy sender die heil waarop mense wag
proklameer. Dink maar aan die diens van Joh die Doper, die herout
van Jesus. So het die verkondiging ook vandag tot inhoud: die
koning kom, die heil is naby. Na sy opstanding het Christus vir
sy dissipels gesê: "So is dit geskrywe, en so moes die
Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering
en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die
nasies, van Jerusalem en verder" (Lk 24:46,47). Dis nie
genoeg dat Christus geleef en gely, gesterf en opgestaan het nie.
Die heilsfeite moet ook uitgeroep word. Om mense tot bekering te
bring en aan die heil deel te gee.

In die verkondiging word immers die heil aangereik. Dis
bediening van versoening. Die herout sou nie kom en spreek nie,
indien die koning hom nie gestuur het nie en indien die koning
hom nie sou volg nie. Wanneer die prediking gehoor word, dan
breek die heil ook baan in die wêreld. Die heil is daar, want
die koning is daar.

Die tweede uitdrukking wat Paulus vir die prediking gebruik is
verkondiging van goeie nuus. Die heroute wat God uitstuur is ook
vreugdebodes, soos ons nav die sitaat uit Jes 52 gesien het.
Hierdie uitdrukking benadruk nie soseer die sending soos by die
woord herout nie, maar meer die inhoud van die boodskap. Dis
’n blye boodskap, woorde van verlossing en heil.

Hoe goed is dan God wat sulke verkondigers in die wêreld laat
uitgaan. God is dit aan niemand verplig nie. Dis uit louter
goedheid dat Hy self na ons toekom met die goeie nuus van heil in
Christus.

Nou die tweede gedagte van die preek. God stuur verkondigers
na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Hierin sien ons opnuut die
vrymag en soewereiniteit van God. Alle inisiatiewe gaan van Hom
uit. Hy bepaal self tot wie sy woord uitgaan. Hy bepaal ook
wanneer ’n bepaalde volk of ras en bepaalde persone die
evangelie ontvang. Dit word duidelik geïllustreer in die
gedeelte van Hand 16 wat ons gelees het. Tot drie maal toe kom
God Paulus en Silas teen en stuur Hy hulle in ’n ander
rigting as wat hulle beplan het.

Na die besoek aan Derbe en Listre wil hulle weswaarts bly reis
na die belangrike stede in Asië, waaronder Efese. Maar die
Heilige Gees verhinder hulle om in Asië die woord te verkondig,
lees ons in vers 6. Hoe die Gees dit doen, weet ons nie. Maar die
boodskap is blykbaar duidelik. Paulus gehoorsaam. Hy buig vir die
leiding van die Gees, wat God se planne bewaak. Hy gaan meer na
die noorde toe.

Daarna ryp daar ’n nuwe plan by Paulus. Wat van Bithinië,
’n belangrike gebied by die Swarte See. By Misië aangekom
probeer Paulus om na Bithinië te gaan. Maar opnuut kom die Gees
hom teen. Die Gees laat hulle nie toe om die kant uit te gaan nie.
Dis nie Paulus se strategie wat die gang van die Woord bepaal nie,
maar die Gees van God. So het dit in die kerkgeskiedenis dikwels
duidelik geword dat nie ons sendingsstrategieë die deurslag gee
nie. Die gang van die evangelie het soms ’n hele ander
wending geneem as wat mense in gedagte gehad het. En agteraf
bewonder ons in die gang van die Gees die goddelike wysheid. God
is getrou, sy planne faal nooit nie. Hy kies die syne uit, Hy
roep hulle almal. Na sy vrye welbehae.

Te Troas dirigeer die Gees Paulus opnuut in die rigting wat Hy
hom wil laat gaan. Paulus sien in die nag ’n gesig. Paulus
sien aan die oorkant van die Egeise See ’n Macedoniër wat
hom smeek: Kom oor na Macedonië en help ons. Paulus trek die
konklusie dat hulle geroep is om die evangelie aan hulle te
verkondig. Hy probeer onmiddellik na Macedonië oor te vaar. God
stuur hom na Europa. En dan is die eerste wat tot bekering kom
nie ’n europese man nie, maar ’n Klein-asiatiese vrou,
Lidia, ’n purperverkoopster van die stad Thiatire. So begin
Paulus in Europa. Nie luisterryk nie. God kies nie die wyse en
die magtiges van die wêreld uit nie. Wat dwaas is by die wêreld
en wat verag is, kies God uit om die wyse te beskaam. Later sal
ook die tronkbewaarder tot geloof kom en gered word, saam met sy
huisgesin. So werk die Here. Hy sê vir sy dienaars gaan, en
hulle gaan. Kom en hulle kom. Doen dit en hulle doen dit.

Gemeente, dit gebeur dikwels langs heel gewone paaie. Na
allerlei beraadslaginge, opnames, studies, fondse werwing ens.
Dit kan selfs wees dat daar in die beroepingswerk sondige dinge
gebeur, maar God stuur verkondigers na wie Hy wil en wanneer Hy
wil. So het dit God behaag om ook verkondigers na ons voorouers
in Europa of Suid Afrika te stuur. So behaag dit God om vandag
die evangelie vir u te stuur. U mag nou onder die gehoor van die
evangelie sit. U mag die evangelie hoor en lees. Is dit slegs
toeval? ’n Gelukkige sameloop van omstandighede? Nee, God
stuur uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle
boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Dis dus God se
beskikking dat u, dat jy vandag die evangelie hoor. Dis ’n
bewys van God se goedheid vir u en my. In sy soewereine liefde
sorg Hy daarvoor dat sy evangelie van verlossing my bereik. Wat
’n voorreg!

Ja, want wat is die rede dat God sy evangelie wel na bepaalde
volke en persone stuur en nie na ander nie? Waarom het die
evangelie eerder by die wit Europeane gekom as by die swartes in
suidelik Afrika? Is dit omdat ons blankes beter as die swartes
was. Is dit omdat ons meer ontwikkeld was?

Die Remonstrante het iets dergeliks gesuggereer. Ons lees
daarvan in hoofstuk 1 van die DL, art 9 van die verwerping van
die dwalings (bls 566). Hulle het geleer dat dit nie enkel en
alleen die welbehae van God is wat die oorsaak is waarom Hy die
evangelie eerder na die een as na die ander volk stuur nie. Dit
gebeur omdat die een volk beter en waardiger is as die ander aan
wie die evangelie nie meegedeel word nie.

Ons vaders het hierdie gedagte op grond van die Skrif verwerp.
Die Skrif leer immers dat God uit louter genade kies om bepaalde
volke en persone met sy evangelie te soek. Dis nie op grond van
die verdienste van mense nie. Die DL verwys na Deut 10:14,15 waar
Moses vir die Israelitiese volk sê: "Kyk, aan die HERE jou
God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles
wat daarin is. Maar net aan jou vaders het die HERE ’n
welgevalle gehad om hulle lief te hê, en Hy het julle, hulle
nageslag na hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit vandag
is."

Israel het in die Ou Testament ’n bevoorregte posisie
gehad. Paulus som hul voorregte op wanneer hy sê: aan hulle
behoort die aanneming tot kinders en die heerlikheid en die
verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes (Rom 9:4).
Aan die slot van Ps 147 lees ons: "Hy (die HERE) maak aan
Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy
verordeninge. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy
verordeninge, die ken hulle nie."

Vanweë hierdie woorde van God ontvang Israel ’n groot
voorsprong op die ander volke. God se woorde bevorder immers die
ware ontwikkeling van ’n nasie, bring sy gawes tot hul reg.
Ons lees in Deut 4:6 dat die Israeliete die insettinge en
verordeninge van die Here moet onderhou en doen "want dit is
julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al
hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik hierdie groot nasie
is ’n wyse en verstandige volk."

Waarom ontvang Israel in die Ou Verbond sulke voorregte? Omdat
hulle beter of waardiger as ander volke is? Nee, uit God se vrye
welbehae. Omdat die Here ’n welgevalle gehad het om hulle
lief te hê. Deut 7:7 voeg daaraan toe: "Die HERE het ’n
welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle
meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste
van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed
gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle
met ’n sterk hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die
hand van Farao, die koning van Egipte, verlos."

Israel kan hom dus nie beroem op eie waardigheid nie. So kan
ons vandag ons ook nie beroem op eie voortreflikheid of op die
voortreflikheid van ons voorouers nie. Ons kan slegs roem in God
en sy genade. Ons was nie beter of waardiger as die ander rasse
of volke nie. Tog mog ons die genade te beurt val dat God
verkondigers van evangelie na ons gestuur het en ons harte
daarvoor oopgemaak het. Dit wat in ons ontwikkeling en lewensweg
goed is, is uiteindelik ’n gevolg van God se lewendmakende
woord. So het die Christelike geloof ’n groot impak gehad op
die ontwikkeling van die Westerse wêreld. Ons kan nie anders as
om God te loof vir sy groot goedheid en genade. En om te verlang
dat die evangelie ook hulle wat in hul geslagte nie so bevoorreg
was nie, mag bereik.

Wat is dit wat die ontwikkeling in Afrika lande dikwels
belemmer? Is dit nie die ou heidense godsdienste nie? Laat ons
daarom bid dat God verkondigers van die evangelie na die volke
bly stuur en dat Hy die harte daarvoor wil opmaak. Laat ons bid
vir die verbreiding van die evangelie in ons kontinent en vir
geloof en bekering. Langs die pad sal daar ’n toekoms vir
die Afrika lande wees. Ja, dan mag ons ’n ware renaissance
van Afrika verwag, ’n ware wedergeboorte van volke wat
dikwels in armoede en ellende lewe. Ter beskaming vir die
welvarende en gesekulariseerde Weste.

Gemeente, in die verwerping van die dwaling verwys die DL
verder na wat Christus in Mt 11:21 oor Gorasin en Betsaida sê:
"Wee jou Gorasin, wee jou, Betsaida! Want as in Tirus en
Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind
het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het." Gorasin
en Betsaida, twee Joodse stede waar Christus gepreek het, het sy
prediking verwerp. Terwyl Tirus en Sidon, twee heidense stede, so
te sê, waardiger en beter was. Tog het God soewerein bepaal dat
Christus nie na Tirus en Sidon sou gaan nie, maar na Gorasin en
Betsaida.

Gemeente, hierdie geskiedenis is ook vir ons, wat soveel
voorregte van God ontvang het, ’n waarskuwing. Christus
vervolg immers: "dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker
wees in die oordeelsdag as vir julle." Dit sal vir die
heidense stede verdraagliker wees as vir die ou verbondsvolk wat
al die voorregte van die aanneming tot kinders, van die verbonde
en van die beloftes ontvang het. Sal dit ook vir die heidense
volke verdraagliker wees as vir ons wat uit christelike nasies
voortgekom het?

Nou die laaste gedagte: God stuur verkondigers om op te roep
tot geloof en bekering.

Wat is die taak van die herout en die vreugdebode? Hulle moet
die gesaghebbende woord van hul sender uitroep. Hulle het ’n
boodskap van hul heer of koning. Hulle kondig die koms van die
koning, die koms van die heil aan. Die koning kom. Verlossing is
naby. Dit behels ’n oproep tot bekering. Maak u gereed om
die koning te ontvang. Vir sondige mense beteken dit: bekeer u.
En as mense reageer met die vraag: waarom moet ons ons bekeer? Is
ons dan so sleg? Dan lui die antwoord: Besef jy nie dat die
koninkryk van God naby is en dat die koning self daaraan kom nie?

Die koms van die koning beteken genade vir hulle wat hulle
bekeer en gerig vir hulle wat dit weier. Daarom lees ons ook van
die herout Joh die Doper dat hy gepreek het: Bekeer julle, want
die koninkryk van die hemele het naby gekom (Mt 3:1). Lukas
vermeld dat hy die doop van bekering tot vergifnis van sondes
verkondig het. Hulle wat hulle bekeer ontvang die heil wat die
koning bring. Jy dra dan ’n boetekleed en ’n erekroon.
Ook die laaste. Want die prediking is vol van genade. Die koning
kom immers om die beloofde heil te bring, die oorwinning oor
satan en sonde, die lewe tot in ewigheid. Wie die boodskap nie
glo nie, sal bemerk dat die verkondiging tog waar is en dat die
koning wat kom nie met hom laat spot nie.

Die prediking roep op tot geloof en bekering. Die twee hoort
by mekaar. Die regte prediking roep altyd op tot bekering van die
sonde, die afgode ens tot geloof in Jesus Christus. Op die
Pinksterdag hoor ons Petrus sê: Bekeer julle, en laat elkeen van
julle gedoop word in die naam van Jesus Christus tot vergewing
van sondes (Hand 2:38).

So werk die Here. Nie anders nie. Hy bring self mense tot die
geloof. Deur die krag van sy Woord en Gees. Maar daarby gebruik
Hy wel die diens van die verkondigers. Die prediking is ’n
genademiddel. Immers: Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle
nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie
gehoor het nie? Letterlik staan daar: hoe kan hulle in Hom glo
wie hulle nie gehoor het nie. Dis nie voldoende dat ons iets van
Christus of oor Hom hoor nie. Ons moet Christus self hoor. Sy
Stem. Die stem van die goeie Herder. Ons moet Christus self in
die prediking ontmoet. Daar gaan dit oor in die prediking. So
alleen kan die prediking ’n genademiddel wees om mense tot
geloof te bring. Sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag
gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

As jul vandag sy roepstem hoor,
verhard jul nie, maar neig jul oor,
merk op die roep van sy ontferming
(Ps 95:4, ber).

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)