God herstel die eenheid van Jakob se huis.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-07-15
Teks: 
Génesis 43
Preek Inhoud: 

Genesis 43:13,14; 44:16,33,34

Ds C Kleyn - Sondag 15 Julie 2001

Lees: Genesis 43,44.
Sing: Ps 135:1,2; Ps 135:3,11; Ps 121:1,4; Ps 62:4,5;
Ps 131.

Tema: God herstel die eenheid van Jakob se huis.

Hy doen dit door middel van

  1. Jakob se oorgawe; en
  2. die oorgawe van Jakob se seuns.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

God het Jakob en sy seuns teen die muur laat vasloop. Waarom?
Om hulle na Homself en na mekaar te trek. God het Josef gebruik
om die 10 broers op die proef te stel. Dmv die proef het God die
onbelede sonde van ongeveer 20 jare gelede bo gebring. As jy die
verhoudings herstel wil hê, dan moet die sonde uit die weg
geruim word. In die krisis situasie begin die gewetens van die
broers hulle te pla. Hulle herinner hul sonde uit die verlede.
Hulle erken dat God besig is om hulle vir die sonde teen Josef te
straf.

In die twee hoofstukke wat ons vanoggend gelees het, sien ons
hoe God voortgaan met die vorming van Jakob en sy seuns. Die
eenheid van Jakob se huis moet herstel word. Haat en naywer moet
oorwin word. God bring versoening en herstel tot stand. Hy doen
dit via die persoonlike offer van Jakob en die offer van Jakob se
seuns. Jakob gee homself en sy gesin oor aan God, die Almagtige.
Juda, namens sy broers, offer homself op vir Benjamin.

So verkondig ek vir u: God herstel die eenheid van Jakob se
huis

Hy doen dit door middel van

  1. Jakob se oorgawe; en
  2. die oorgawe van Jakob se seuns.

Dit kos nogal wat moeite om Jakob op sy knieë te kry. Jakob
wil krampagtig Benjamin by hom hou. Hy wil geen risiko’s met
hom loop nie. Benjamin is alles vir hom. Jakob laat heel sy
bestaan van Benjamin afhang. Daarom weier hy om Benjamin na
Egipte te laat gaan.

Jakob het nog nie sy les geleer nie, die les naamlik dat dit
sleg vir die gesinslewe is om een seun bo die ander voor te trek.
In die huidige situasie verhinder dit die herstel van Jakob se
gesin. Daarom, indien Jakob wil hê dat sy gesin herstel, dan sal
hy sy houding moet verander.

Aan die ander kant gebruik God Jakob se weiering om Benjamin
te laat gaan, om te wys op die verandering van Jakob se seuns.
Hulle weier om sonder Benjamin na Egipte te gaan. Dit is: of alle
broers, inklusief Benjamin, na Egipte of almal bly tuis in Kanaän.
Daar is geen ander opsie nie. Om met Benjamin na Egipte te gaan
behels ’n risiko. Maar die tweede opsie is nie beter nie.
Dit beteken die hongerdood in Kanaän.

Jakob besef dat die aanhoudende hongersnood in Kanaän dit
amper onmoontlik vir hom maak om Benjamin nie te laat gaan nie.
Hy bemerk dat hy besig is om die beheer oor die situasie te
verloor. Hy sien sy wêreld in mekaar stort. Hy word gedwing om
te doen wat hy nie wil doen nie. Dan begin hy om sy seuns te
verwyt. Hy word onbillik: "Waarom het julle so verkeerd teen
my gehandel deur die man te vertel dat julle nog ’n broer
het?"

Dis ’n bekende reaksie. Wanneer ons sien dat ons besig is
om die stryd te verloor, dan haal ons maklik uit op ander, dan
word ons onbillik na ander toe. Dis nie maklik om ons oor te gee
nie. Dit kan op sy beurt weer lei tot ’n nuwe konflik en
nuwe skade in die verhoudings.

Die gevaar is seker aanwesig in die situasie van Jakob en sy
seuns. Eerstens omdat Jakob Benjamin bly voortrek bo sy ander
seuns. Tweedens omdat Jakob sy ander seuns op ’n onbillike
manier verwyt. Hierdie twee dinge kan maklik tot ’n breuk
tussen ouers en kinders lei. Indien Jakob se seuns nie verander
het nie, dan sou dit tot ’n ernstige eksplosie gelei kan het.

Maar Jakob se seuns het verander. Danksy God se ingryping. Dit
blyk uit Juda se reaksie. Hy bied homself aan as borg vir
Benjamin. Hy wys eers op die belang daarvan dat Benjamin saam
’n Egipte gaan. Indien Jakob wil hê dat sy kinders en
kleinkinders in lewe bly, dan moet Benjamin saamgaan. Terwille
van sy eie lewe en die lewe van sy gesin moet Jakob die offer
bring.

Jakob wil Benjamin by hom hou. Hy durf Benjamin nie aan die
sorg van die Here toe te vertrou nie. Dis ’n stryd wat ons
kan herken. Watter ouer sou in sulke gevaarlike omstandighede nie
daarmee worstel om die lewe van sy of haar kind in God se hande
toe te vertrou nie?

God vra van Jakob ’n offer. Dis die enige manier waarop
Jakob van sy voortrekkery van Benjamin en van sy wantroue teenoor
die ander seuns bevry kan word. Dis die enige manier waarop die
verhoudings in die gesin herstel kan word.

Juda dring by sy pa daarop aan om die offer te bring. Daarby
gee hy self ’n goeie voorbeeld. "Ek sal vir hom borg
wees; van my hand kan u hom eis." Juda is bereid om sy eie
lewe vir die lewe van Benjamin en vir die oorlewing van die hele
gesin op te offer. Dit laat ons dink aan Juda se groot Seun ons
Here Jesus Christus. Hy was bereid om Homself op te offer om ons
lewens te red.

Juda se bereidheid om die offer te bring, breek Jakob se
weerstand. Dit maak ook hom bereid om die offer wat van hom gevra
word te bring. Gestel dat Juda kwaad op sy pa geword het. Dit sou
die sake slegs erger gemaak het. Maar nou maak sy liefde deure
oop. Dis hoe God die liefde onder ons mense wil laat werk. Die
een offer nooi uit tot ’n ander offer. Juda se liefde
deurbreek Jakob se krampagtige vrees. Dit bewerk dat Jakob
eindelik homself aan die Here oorgee.

Ja, dit is die kern van hierdie geskiedenis: Jakob gee hom oor
aan God. Jakob weet nie hoe dit sal afloop nie. Hy weet nie of hy
Benjamin ooit weer sal sien nie. Jakob laat dit egter in die
hande van die Here. Jakob het intens geworstel en oorwin. Hy het
in God weer vrede gevind. Hy plaas die afloop in God se hande. Hy
doen ’n beroep op God se barmhartigheid: "Mag God, die
Almagtige, julle barmhartigheid verleen by die man sodat hy julle
ander broer en Benjamin saam met julle kan laat trek."

Mag God, die Almagtige. Dis opvallend dat Jakob weer van God
as die Almagtige praat. Dis geweldig. Sou u in sulke
omstandighede God as die Almagtige bely? God het belowe dat Hy
Jakob sou seën. Maar nou is daar die ernstige hongersnood in
Kanaän. Jakob het sy liefste seun Josef verloor. Jakob se gesin
verkeer in ’n krisis. Sou jy in sulke omstandighede nie aan
God en aan sy almag twyfel nie? Waar is dan sy mag? Maar nee,
Jakob stel weer sy vertroue op God, as die Almagtige.

Jakob het voortdurend die dinge in sy eie hande wil neem. Hy
wou self in beheer wees. Dink aan die tyd waarin hy nog in sy
ouerlike huis was of by Laban in huis. Hy sou ’n toekoms vir
homself waarborg. Wel, dieselfde Jakob gee homself nou aan God
oor. Hy plaas sy toekoms en die toekoms van sy gesin in die hande
van God, die Almagtige. Hy dink nie meer slegs aan Benjamin nie.
Hy dink nou ook aan Simeon wat nog in Egipte gevange sit. Hy stel
nou belang in die welstand van al sy seuns.

Jakob skei hom nie langer van sy ander seuns af vanweë sy
verdriet oor die een seun van Ragel nie. Jakob laat sy hart weer
uitgaan na sy hele gesin en gee homself saam met sy gesin oor aan
God die Almagtige. So word Jakob opnuut Israel, diegene wat met
God geworstel en oorwin het. Jakob het in God vrede gevind. In
gebed plaas hy alles in God se hande.

Jakob besef dat die harte van mense, ook van magtige leiers,
in God se hande is. Dis iets wat ons maklik vergeet. Dikwels sien
ons God nie as diegene wat die gedagtes van mense beheers nie.
Maak nie saak hoe hard mense is nie, God kan hul harte keer in
watter rigting Hy ook wil. Hy kan harde harte sag maak en sagte
harte hard maak, so dikwels as Hy wil. Ons vriende en vyande is
in sy hande. Laat ons daarom bid vir hulle vir wie ons lief is en
vir hulle wat ons seermaak. Dra hulle aan God op. Hy sal sorg as
die Almagtige en getroue God.

Nee, dit beteken nie dat alle probleme verdwyn nie. Jakob
reken met die moontlikheid dat die probleme nog erger word. Hy is
bereid om dit te aanvaar in die Here. Hy en sy gesin is in God se
hande.

Dis, broeders en susters, waaroor geloof gaan: jy vertrou
jouself toe aan God. Soms kan ons groot probleme in die gesig
staar, sonder dat ons ’n uitweg sien. Wanneer ons die
probleme self probeer aanpak en dink dat ons dit self moet red,
dan word ons rusteloos en onbillik. Daar is slegs een uitweg:
oorgawe aan God die Almagtige. Dit neem die probleme nie weg nie.
Dalk word hulle erger. Maar ek vind dan wel rus en vrede. Ek vind
weer my balans en houvas by God. Ek weet dat ek in goeie en
bekwame hande is.

Wel, daar gaan die broers dan na Egipte toe, saam met Benjamin.
Hulle weet nie wat om te verwag nie. En Jakob bly agter, sonder
sy seuns. Ook sonder om te weet wat gaan gebeur. Maar daar skyn
weer lig. Daar is weer liefde in Jakob se gesin, liefde vir God
en vir mekaar.

In Egipte staan die broers vir een verrassing na die ander.
Verassings wat hulle aanvanklik nie vertrou nie. Wat vreemd dat
hulle as rondreisende skaapherders na die goewerneur se huis
gebring word. Hul gewetens pla hulle. Miskien wil die goewerneur
hulle oorval en hulle tot slawe maak. Maar nee, hulle word na
’n feesmaal uitgenooi. Die Egiptiese opsigter praat selfs
tot hulle oor julle God en die God van julle vader. En die
Egiptiese goewerneur is baie vriendelik vir hulle. Sy bede vir
Benjamin hul jongste broer "Mag God jou genadig wees, my
seun" verbyster hulle ook. Dan is daar die feesmaal. Elkeen
word sy plek gewys in volgorde van hul leeftye. Hoe kan dit?
Benjamin ontvang ’n porsie vyf maal groter as die ander.
Waarom? Raaiselagtige ervarings. Tog kan hulle feesvier en saam
met die goewerneur drink en vrolik wees.

Ontspanne en bly gaan hulle die volgende oggend weer huis toe.
Maar wat ’n skok, wanneer kort daarna die opsigter hul
inhaal en hulle daarvan beskuldig dat hulle die beker van die
goewerneur gesteel het. Via Josef stel God hulle opnuut op die
proef. Eers wys hulle met oortuiging die beskuldiging af. Maar
wanneer die beker in Benjamin se sak gevind word, is hulle
stukkend. Verslae skeur hulle hul klere.

Hulle is ook verwar. Wat gebeur nou? Hoe kan dit? Die broers
dink opnuut aan God se hand. God se straffende hand. In hoofstuk
42 het hulle reeds God se hand in hul ervarings gesien. In
hoofstuk 44:16 sien hulle dit opnuut. Hulle het gedink dat die
gevaar gewyk het. Daarom dit des te harder.

Dis opvallend dat die broers geen gebruik maak van die
moontlikheid wat die opsigter hulle bied nie. Hy het gesê dat
slegs die persoon by wie die beker gevind is, sy slaaf sal wees.
Die ander mag in vrede wegtrek. Hulle kan dus die straf ontgaan.
Die feit dat hulle dit nie doen nie, wys dat hulle verander het.
Teenoor Josef toentertyd was daar ’n gees van selfsug, haat
en wedywer. Dis nou weg.

Hulle sou vir Benjamin gesê kon het: Jammer, ons kan hier
niks aan doen nie. Die beker is in jou sak gevind. Jy sal
daarvoor moet boet. Dis beter dat een slaaf word en nie elkeen
van ons nie.

Dis hoe hulle gereageer sou het indien hulle nog steeds eie
belange voorop gestel sou het. Maar hulle reageer anders. Hulle
laai elkeen hul esel en gaan na die stad terug, saam met Benjamin.
Hulle is nie bereid om Benjamin in die steek te laat nie. Hulle
staan hom by. ’n Duidelike bewys dat hulle nie meer hul eie
belange voorop stel nie.

In die taal van die Nuwe Testament: hulle vertoon die
gesindheid van Christus. Paulus skryf in Fil 2:4 "Julle moet
nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die
ander s’n." Dis wat Christus gedoen het. Hy het die
gestalte van ’n dienskneg aangeneem. Hy het Homself verneder
deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die
kruis. Christus het na u en my belange omgesien. So het Hy
Homself vir ons opgeoffer. Dis die houding wat Christus reeds in
die Ou Testament vir die broers leer en deur sy Gees vir hulle
gee.

Die 10 broers dink nie eers aan hulleself en aan hul eie
veiligheid nie. Hulle dink aan Benjamin. Hulle het nie baie tyd
nodig om te besluit wat om te doen nie. Onmiddellik skeur hulle
hul klere en keer hulle terug met Benjamin. Hul hele houding het
verander.

In Egipte is Juda die woordvoerder. Daar is geen hoop op
’n positiewe uitkoms meer nie. Juda doen geen poging om
homself te verdedig of om te verklaar dat daar van ’n fout
sprake moet wees nie. Is dit nie vreemd nie? Sou jy in sulke
omstandighede nie duidelik wil maak dat jy onskuldig is nie?
Gestel dat jy gearresteer word omdat jy verdink word van handel
in dwelms, terwyl jy niks daarmee te doen het nie. Natuurlik sou
jy doen wat jy kan om jou onskuld te bewys. Waarom doen Josef se
broers dit nie? Waarom verdedig hulle hulself nie? Is dit nie
vreemd nie?

Wel, geliefdes, dis nie vreemd wanneer u goed luister na wat
Juda sê. Josef se harde optrede bereik sy doel. Hulle ervaar dat
God besig is om hul skuld bloot te lê. Hulle weet dat hulle
skuldig is. Nie omdat hulle die beker gesteel het nie. Hulle
staan skuldig teenoor God vanweë hul sonde uit die verlede.
Hulle is oortuig dat God nou besig is om hulle vir hul sonde uit
die verlede te straf. Daarom bied Juda geen weerstand nie of
probeer hy nie om homself te verdedig nie. Hoe kan hulle vir God
vlug? Dis sinloos om te probeer om God se oordeel te ontvlug. God
se oordeel is regverdig. Ookal is die spesifieke aanklag van die
oomblik nie juis nie. Hulle het dit verdien. En hulle wil die tug
van die Here nie weerstaan nie. Jy onderwerp jou eerder daaronder.

Gemeente, dis iets om te onthou wanneer ons deur God beproef
word. Miskien tugtig God ons om ons bewus van ons sondes en
tekortkomings te maak en om ons te verootmoedig. Vergelyk die
reaksie van ’n student wat die onderwyser straf omdat hy hom
verdink van bedrog, terwyl hy dit hierdie keer nie gedoen het nie.
Hoe reageer jy in so ’n situasie? Jy kan as student ontstel
en boos wees. "Ek het dit nie gedoen nie? Dis nie reg nie."
Ookal het jy verskillende ander kere wel bedrog gepleeg, sonder
dat die onderwyser dit ontdek het. Dalk is dit die rede waarom
die onderwyser jou verdink. Maar jy vergeet gemakshalwe die
oortredinge uit die verlede en jy stry dat jy geen bedrog gepleeg
het nie. Sou dit nie beter en eerliker wees om te erken dat jy
die straf tog wel verdien het nie, ook al is die onderwyser op
hierdie oomblik wel fout in sy oordeel.

As volwassenes kan ek soms ook die gevoel hê dat ek
onregverdig behandel word. Sou God daarin miskien iets vir my wil
sê? Het ek myself wel voldoende verneder voor Hom vanweë my
sondes en tekortkomings?

Josef se broers verstaan hul situasie goed. Ookal is die
spesifieke aanklag nie reg nie, hulle besef dat hulle skuldig is.
Hulle verneder hulle onder die magtige hand van God. Weerstand
teen God se tug beteken dat jy weier om jou skuld voor Hom te
erken. Wanneer ek my skuld erken, dan verneder ek myself voor Hom
en dan onderwerp ek my onder sy tugende hand. Daarom sê Juda:
ons is my heer se slawe.

Josef aanvaar dit egter nie: "die man by wie die beker
gevind is, die sal my slaaf wees. Maar trek julle in vrede op na
julle vader." In vrede? Hoe kan hulle in vrede na hulle
vader optrek, indien hulle Benjamin agterlaat? Hulle sou geen
vrede met God en met mekaar hê nie. Dan spreek Juda op daardie
beslissende oomblik. Die uur van die waarheid het gekom.

Juda vertel hoe dinge by die huis verloop het. Hy vertel hoe
moeilik dit was om Benjamin saam te kry. En hoe verskriklik dit
vir Jakob sou wees as Benjamin nie sou terugkeer nie. Dan bied
Juda homself aan as slaaf in die plek van Benjamin.

Hier het u opnuut die gesindheid van Christus. Juda soek nie
eers sy eie belange nie, maar die belange van sy vader en van
Benjamin. Juda is bereid om ’n slaaf te wees ter wille van
Benjamin. Hierin wys Juda dat hy hom opreg van sy sonde teen
Josef bekeer het. Dis ’n sprekende voorbeeld van die
verandering wat God in ’n persoon kan aanbring, selfs in
’n persoon so aards as Juda. Ons kan nie anders as om God te
loof vir sy werk van vernuwing in die gesin van Jakob. En dit ter
wille van u en my, om die pad voor te berei vir die koms van ons
Verlosser Jesus Christus.

Juda het iets gewys tav die pad waarlangs ons verlos moet word.
Juda het sy offer nie hoef bring nie. Die aanbieding was reeds
voldoende. Christus moes wel die offer bring. Hy was gehoorsaam
tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis. Dis hoe ver Hy
gegaan het in sy omsien na ons belange. Hy het Homself daarvoor
opgeoffer. Om ons te bevry. Hy het die volle straf vir ons gedra.
Daarom was Sy offer uniek en onnavolgbaar. Tot versoening van al
ons sondes.

Laat gemeente die gesindheid ook in u wees, die gesindheid van
Jesus Christus. Soos dit deur God se genade en Gees reeds in die
seuns van Jakob sigbaar geword het. God herstel die eenheid van
Jakob se huis deur Jakob se oorgawe en deur die oorgawe van sy
seuns. En dit almal ter wille van ons verlossing deur Jesus
Christus.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)