In die leer van die goddelike uitverkiesing en verwerping sien ons God se reg en liefde.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2001-07-15
Teks: 
Dordtse Leerreëls 1
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls, hoofstuk 1, art 1,2

Ds C Kleyn - Sondag 15 Julie 2001

Lees: Romeine 5; 1 Johannes 4:7-10; Dordtse
Leerreëls, hoofstuk 1, art 1,2.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; SB 33; Ps
116:1-5; Ps 116:6-10.

Tema: In die leer van die goddelike uitverkiesing en
verwerping sien ons God se reg en liefde.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die komende tyd hoop ons die DL onder u aandag te bring.
Die DL wat die Skrifte so mooi naspreek. Waaroor gaan dit in die
DL? Dit gaan veral oor die soewereiniteit van God, sy volkome
heerskappy, ook mbt ons verlossing. Alles is uit Hom en tot Hom.
Sy wil, sy besluite en sy dade bly beslissend. SB 35 het dit so
pragtig verwoord nav Rom 11: 33-36. (Lees SB 35)

Dis waaroor dit gaan in die DL. Die soewereiniteit van God ook
mbt ons verlossing. Waarom bely ons dit? Om God ooreenkomstig die
Skrifte te verheerlik en om self daardeur getroos te word.
Hierdie leer bied naamlik onuitputlike troos vir God se kinders.
As die Here ons dit vergun, sal ons in die komende tyd iets
daarvan proe. Mense beskou die DL dikwels as ’n moeilike en
dogmatiese geskrif. Wie nader met die geskrif kennis maak ontdek
egter hoe ryk en prakties dit is.

Vandag begin ons dan met die eerste hoofstuk van die DL. Die
eerste hoofstuk gaan oor die goddelike uitverkiesing en
verwerping. In hul bestryding van hierdie leer maak mense dikwels
’n verwronge voorstelling daarvan. ’n Bekende
Nederlandse outeur Maarten ‘t Hart dryf bv die spot met die
God van die verkiesing. Hy teken God as ’n tiran en sadis
wat volkome willekeurig en grillig die een mens na die hemel en
die ander mens na die hel verwys. So sou God Esau reeds voor sy
geboorte op die verdoemlys geplaas het. Sy konklusie is dat so
’n God ’n onregverdige God is, en dat ons die leer van
God se verkiesing en verwerping maar gou moet afsweer. Jy wil tog
nie in ’n onregverdige God glo nie?

Die DL stoot onmiddellik deur na die hart van hierdie
teenstand. Hoekom praat Maarten ‘t Hart so en stem baie mens
met hom saam? Hoekom het die Remonstrante, teen wie die DL in
eerste instansie opgestel is, reeds so geredeneer? Die wortel van
hul teenstand teen die leer van God se verkiesing is hul menslike
hoogmoed. Hulle weier om hul eie doemwaardigheid en onmag te
erken. Hulle ontken die diepte en erns van ons sondeval. Die mens
is na hul mening nog nie so sleg nie. Hy sou nog in staat wees om
homself te verbeter. Daarom is die leer van God se uitverkiesing
en verwerping vir hulle onaanvaarbaar. Daarmee sou God
onregverdig handel teenoor die mens wat tog nie so sleg is nie.

Gemeente, om die skriftuurlike leer van die uitverkiesing te
verstaan, moet u eers goed u doemwaardigheid verstaan. As ek nie
kan aanvaar dat alle mense voor God doemwaardig is nie, dan moet
ek wel uitkom by ’n verwronge voorstelling van God se
uitverkiesing. Dan moet die God van die verkiesing dit ontgeld.
Hy sou onregverdig wees.

Vanaand wil ek dan vir u verkondig: In die leer van die
goddelike uitverkiesing en verwerping sien ons God se reg en
liefde.

Die DL begin tereg met die sondeval in die paradys. "Alle
mense het in Adam gesondig en hulle aan die vloek van die ewige
dood skuldig gemaak." Sou God dan onreg doen wanneer Hy
mense wat Hy nie in Christus uitverkore het, verwerp? Dis absurd
om God van onreg te beskuldig. Die mens skuil graag agter ander
weg. Die skuldige word beskuldiger. Die ontroue man beskuldig sy
vrou en die ontroue vrou beskuldig haar man. Ons is daaraan
gewoond. Maar die gedagte dat God onreg doen, mag in ons hart
selfs nie opkom nie. Ons moet onsself aankla. Daarom begin die DL
psigologies so juis. Die oorsaak van al die ellende lê by die
mens self.

Die mens het moedswillig geval. Ja, ons praat van die sondeval.
Laat hierdie uitdrukking egter nie afbreuk doen aan ons
verantwoordelikheid en aanspreeklikheid nie. Hoewel die duiwel
die aanhitser was, was die mens ongehoorsaam. Niemand kan die
skuld afskuif of skuil agter woorde soos: die duiwel het my dit
laat doen nie. Ons is nie gepootjie sodat ons teen ons wil geval
het nie. Die mens is geen slagoffer nie, maar skuldige
verbondsbreker.

In Adam het God sy verbond met die hele mensheid opgerig. Adam
beteken ook mens. Hy verteenwoordig die hele mensheid. Dit was
met die mensheid dat God omgang wou hê. Ons hoof Adam se val
raak die hele menslike geslag. Ja, meer nog, dis ook die
verantwoordelikheid van die hele mensheid. Ons lees in Rom 5:12:
"Daarom soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom
het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense
deur gedring het, omdat almal gesondig het". Hier verwys
Paulus na Adam se sonde in paradys. Maar sê Paulus, Adam was nie
die enigste oortreder nie, almal het gesondig. Die hele mensheid
was aan God se kant, was opgeneem in God se verbond. Die hele
mensheid, alle mense het egter God die rug toegekeer en Satan se
kant gekies. In Adam het ons almal gesondig.

Daarom verdien ons almal die dood. "Die dag as jy daarvan
eet, sal sy sekerlik sterwe." Deur een mens is die sonde in
die wêreld ingekom, sê Paulus in Rom 5:12. En deur die sonde
ook die straf op die sonde, naamlik die dood. So lees ons ook
verder in Rom 5 dat die oordeel uit een tot veroordeling was (vers
16). En : ten gevolge van die misdaad van die een het die dood
geheers deur die een (vers 17). Terwyl vers 18 sê: deur een
misdaad het dit vir alle mense tot veroordeling gekom. Daarom is
dit so waar wat ons DL sê: Alle mense het in Adam gesondig en
hulle aan die vloek van die ewige dood skuldig gemaak.

Ons het onsself in die liggaamlike en geestelik dood gewerp (art
17). Ja, ook in die liggaamlike dood. Onmiddellik na die eet van
die verbode vrug was ons aan die dood onderworpe. Ons het dadelik
die kiem van die dood in ons gedra. Daardeur is die lewe volgens
ons doopsformulier niks anders as ’n voortdurende sterwe nie.
Dis iets wat elkeen kan sien en ervaar. Ons lewe word gekenmerk
deur opgaan, blink en versink. Niks is blywend nie. Ons lewe is
sterflik, verganklik. So word elkeen van ons in ons eie lyf
daaraan herinner dat ons ons aan die vloek van die ewige dood
skuldig gemaak het.

Maar, waarom so ’n swaar vloek en straf? Met sondag 4 van
die HK kan ons antwoord: God is regverdig. "Daarom eis sy
geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit
van God gedoen is, ook met die swaarste straf gestraf moet word
– dit is die ewige straf aan liggaam en siel." Elke
gedagte aan onreg by God moet wel op hierdie woorde stukkend
breek. Die hele wêreld is voor God doemwaardig (Rom 3:19).
Immers: vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in
die boek van die wet om dit te doen nie (Gal 3:10).

Daarom is dit so dwaas dat sommiges wel wil hoor van
verkiesing en nie van verwerping nie. Hulle dink dat dit
onregverdig is as baie verlore gaan. Dat iemand salig word, vind
hulle heel gewoon. Maar, broeders en susters, feitelik is die
verwerping heel gewoon. Daaroor hoef niemand verbaas te wees nie.
Dat mense verlore gaan, dis volkome regverdig en verdiend. Daarom
lees ons verder in ons eerste artikel: "Daarom sou God
niemand veronreg het as dit sy wil was om die hele menslike
geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die
sonde te veroordeel nie." Niemand kan aanspraak maak op die
uitverkiesing nie. Ons maak wel almal aanspraak op die verwerping.
As jy dit sien, dan sal jy nie durf om God van onreg te betig nie.
God is volkome regverdig, ook al sou Hy ons almal verdoem. Ons is
skuldig, ons is onregverdig. Daar is geen mens wat regverdig is
nie. Ons het almal afgewyk, ontaard. Lees maar verder by Rom 3.
Die hele wêreld is voor God doemwaardig. Almal het gesondig en
dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en: die loon van
die sonde is die dood.

In die leer van die goddelike uitverkiesing en verwerping sien
ons dus God se reg. Ons sien ook God se liefde. Dis die tweede
gedagte.

Ons het in Adam almal teen die Here gekies. Ons aan die vloek
van die ewige dood skuldig gemaak. Wel, hoe het God daarop
gereageer? Het Hy ons in ons ewige verderf wil laat lê? Nee, Hy
het sy liefde aan ons bekendgemaak. Het Hy by ons enige rede
gevind om dit te doen? Het ons Hom weer gesoek, weer na hom
verlang? Nee, wanneer God na die sondeval in die tuin verskyn,
dan verberg die mens en sy vrou hulle vir die aangesig van die
Here God tussen die bome van die tuin (Gen 3:8). Van die kant van
die mens is daar nie die begeerte om God weer te ontmoet nie.

Maar dan volg dat die Here die mens soek: "Toe roep die
Here God na die mens en sê vir hom: Waar is jy?" (vers 9).
Dis die eerste woord in die Bybel wat van ons verlossing spreek.
Die Here God roep: in oneindige liefde reik Hy uit na die gevalle
mens. Hy wil red. So bely ons met art 17 van die NGB dat "ons
goeie God in sy uitnemende wysheid en goedheid die mens weer
opgesoek het toe Hy gesien het dat die mens homself in die
liggaamlike en geestelike dood gewerp en geheel en al ellendig
gemaak en al bewende van Hom weggevlug het." Dis waaroor dit
gaan in art 2 van die DL. Ons het nie God gesoek nie, maar God
het ons in ons doemwaardigheid opgesoek. Dis die doodsteek vir
die remonstrantse dwaling.

Deur sy innige barmhartigheid het God ons opgesoek. En het Hy
die mens getroos, so lees ons verder in art 17 NGB, met die
belofte om aan hom sy Seun te gee en hom salig te maak. So wys
ons art op 1 Joh 4:9: "Hierin is die liefde van God tot ons
geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het,
sodat ons deur Hom kan lewe." Verlossing kom van God se kant.
Dis God se genadige gawe. Hy het ons liefgehad en sy eniggebore
Seun vir ons gestuur, sodat ons deur Hom sou lewe.

Joh vervolg: "Hierin is die liefde: nie dat ons God
liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun
gestuur het as ’n versoening vir ons sondes." Het u dit
goed gehoor? Nie dat ons God liefgehad nie, maar dat Hy ons
liefgehad het. God se liefde hang nie af van ons liefde vir Hom
nie. Dis nie so dat Hy eers eis dat ons Hom sou liefhê nie, of
dat ons eers ons houding en gedrag sou moet verander nie.
Gelukkig nie. Ons het in paradys teen Hom gekies. God het ons
liefgehad toe ons nog sy vyande was. Sou iemand God nog durf
beskuldig van liefdeloosheid en sadisme? God is liefde, sê Joh
tereg. God is die liefde self, die liefde is eie persoon. God kon
na die sondeval geen enkele liefde van ons verwag nie. God het
ons dus ook nie halfpad tegemoet gekom nie. Die inisiatief vir
ons verlossing het uitsluitend van God se kant gekom. Hy het
besluit om sy liefde te wys vir sondaars, vir vyande.

Dink maar wat ons gelees het in Rom 5. Christus het op die
regte tyd vir die goddelose gesterwe. "Want nouliks sal
iemand vir ’n regverdige sterwe – vir ’n goeie
mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe – maar
God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf
het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons
geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.
Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur
die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word
nou dat ons versoen is" (Rom 5:6-10).

Ons art wys ons ook op die bekende woorde van Joh 3:16: "Want
so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun
gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie,
maar die ewige lewe kan hê." Wat ’n liefde! God is
bereid om die grootste offer te bring. Want so lief het God die wêreld
gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het. Let op die benaming:
sy eniggebore Seun. Die teks praat nie van Jesus of Christus nie,
maar van sy eniggebore Seun. Daarmee beklemtoon Joh die intieme
verhouding tussen die Vader en die Seun. God die Vader was bereid
om sy enigste seun, sy mees dierbare en geliefde Seun vir ons te
gee. Wat ’n liefde van die Vader. Laat ons dit nooit
onderskat nie.

Die Vader het van die staanspoor af geweet wat sy Seun vir ons
redding sou moet ondergaan. Hy het geweet van die verskriklike
lyding, van die helse benoudheid en pyn wat sy Seun sou moet
deurstaan. Tog het die Vader geen oomblik geaarsel nie. Ook nie
tydens die mees verskriklike ure aan die kruis nie. Vader het nie
teruggekom op sy woorde nie, ook al moet dit baie swaar vir Hom
gewees het om al die verskrikkinge oor sy Seun te laat kom. Hoe
moeilik ervaar ons dit nie as ouers om te sien dat ons kinders
swaar ly? Ons kan dit nie verdra nie en sou alles daarvoor wil
doen om hul van die lyding te bevry. Maar hier sien die Vader nie
slegs die lyding van sy Seun nie. Hy inisieer selfs die lyding.
Hy giet sy toorn oor ons sondes oor sy eie Seun uit. Vrywillig.
Wat ’n liefde. Van die Vader en van die Seun. Onbegryplik.

Laat ons die liefde van die Vader nooit vergeet nie. Dis die
basis vir ons verlossing. Soms word maar steeds gepraat oor die
liewe Jesus. Mense aanbid Jesus ten koste van die Vader. Die
Vader word amper verswyg. Sy liefde word in elk geval nie genoem
nie. Die Vader word dan ook dikwels slegs met toorn verbind. Hy
sou die toornende God van die Ou Testament wees. Daarom is daar
mense wat met die Ou Testament geen raad weet nie en voortdurend
praat oor die liewe Jesus van die Nuwe Testament. Maar onthou,
sonder die liefde van die Vader sou u ook nie weet van ’n
liewe Jesus wat red nie. Die basis vir ons verlossing is die
liefde van die Vader.

"Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy
eniggebore Seun gegee het." Waarom het Hy Hom gegee? "Sodat
elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige
lewe kan hê." Vader het soveel vir ons oor ter wille van
ons redding. Dis ware liefde. Dat jy die beste vir die ander soek.
Ons het die dood verdien; dat ons verlore sou gaan. Dat ons ewig
sou vergaan onder God se toorn. Maar wat doen God? Hy verbrysel
ons nie in sy toorn nie. In liefde soek Hy ons redding, ons lewe,
ons geluk. Ons het groot skuld gemaak. Ons aan die vloek van die
ewige dood skuldig gemaak. Maar wat doen God? Hy gee ons nie die
straf wat ons verdien het nie. Hy aanvaar verantwoordelikheid vir
die skuld. Hy gee sy Seun om die skuld vir ons te betaal. Om ons
van sy toorn te red.

Vir wie geld dan die liefde wat red? Vir elkeen wat in Hom glo.
"Sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan mag gaan nie,
maar die ewige lewe kan hê." Maar praat die teks nie van
God se liefde vir die wêreld nie? Gaan God se liefde dan nie uit
na elke mens hoof vir hoof nie? Nee, so word die woord wêreld
hier nie bedoel nie. Met wêreld word hier bedoel God se geskape
wêreld, die kunswerk van sy hand. Hy wil dit nie prysgee aan
goddeloosheid en verderf nie. Hy wil die lewe wat Hy geskep het,
red. Daarom gee Hy sy Seun sodat daar iets mag oorbly van die
kunswerk van die begin. Sodat in die oorblyfsel van sy verkiesing
’n vernude skepping, ’n verloste mensheid voor hom mag
staan.

Gemeente, wanneer ons die eerste twee artikels van die DL so
op ons laat inwerk, dan kan ons nie anders as om God te aanbid
nie. Wat ’n pragtige en duidelike inleiding op die leer van
die goddelike verkiesing en verwerping. Ons het almal in Adam
gesondig en ons aan die vloek van die ewige dood skuldig gemaak.
Ons is almal skuldig, doemwaardig. Maar wat doen God? Hy gee
vrywillig sy eniggebore Seun vir mense soos u en ek. Ons was
verlore sondaars. In sy onbegryplike liefde berei God verlossing
vir u en my. Wat ’n verbasende liefde. Sou die skuldige mens
God dan durf beskuldig van onreg? Daar is absoluut geen onreg by
God nie. Inteendeel. Hy is volkome regverdig en barmhartig. Ons
staan verbaas oor die God van ons verlossing, oor ons verkiesende
God.

Uit Hom – die Bron van alle goed;
Deur Hom – wat alles dra en voed;
Tot Hom – die eind van al wat streef,
Wat is en word, wat roer en sweef,
Tot Hom is alle dinge wat
Hy met een wilsgreep gans omvat.
Aan Hom, die God wat ewig lewe,
Sy ewig lof en eer gegewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)